Pages

24.7.12

Happy days


“Happy days are here again, da-dadda-da-dada, da-da... are here again.”
Ek ken regtig nie woorde nie, net die wysie en gelukkige gevoel.
En dis daardie gelukkige gevoel wat na vier jaar terug is.
En noudat dit terug is, weet ek regtig nie hoekom dit nie twee jaar gelede al terug gekom het nie.
Ek het tot ander insig gekom – gegroei.
En die hond is ook darem ouer.
Ons het vier jaar gelede ‘n derde hond gekry, en dit was die einde van honde in ons huis.
‘n Lang en hartseer storie, wat ter wille van die gebrek aan woorde om alles te vertel, ook ek wat nie derms wil uitryg nie, bloot opgesom kan word met:  Ons het vir vier jaar nie honde in die huis gehad nie.
Dis nou nádat ons vyf jaar honde in die huis gehad het. En dan het ons moeite gedoen om hulle in die huis te hê. Ek het ‘n gat in die kombuisdeur gesaag (met ‘n deurtjie wat kan toeknip) dat hulle kan in en uit. Ek het selfs die slaapkamerdeur ‘n gat in gemaak – dat ons die deur kan toemaak sonder om ons twee brakke uit te sluit.
In die kamer was twee hondemandjies, maar was dit net ek in die bed, kon die honde maar op en het ek ‘n blinde oog in hul rigting gedraai. En was Annieka alleen in die bed, is dit ook of sy nooit bewus geword het van ‘n Boeta of Sussa wat so saggies-saggies, by haar, op my plek kom lê het nie.
En is ek en Annieka eers waar saam in die bed en die honde af mandjies toe, het dit steeds gebeur dat ons soggens wakker word en dan het daar jou wraggies een, partykeer selfs twee, honde deur die loop van die nag by ons voete aangesluit.
Maar belangriker as dit, en wat ek vier jaar meer gemis het, was om saans (soms snags) te werk, en een van my honde iewers by my voete te hê. Of dit nou in die studeerkamer, eetkamer of televisiekamer is.
TT Cloete het in ‘n stadium ‘n gedig geskryf en gemeld van die gerusstellende geluide as die huis se dakbalke snags kraak. Ek het dieselfde gerusstelling gekry van die honde se toonnaels, snags af in die gang – the tiny pitter patter of twee patryshonde op en af in die gang oor die teelvloer.
Die mooiste geluid van alles egter Sussa – sy het nooit veel erg aan die hondemandjie gehad nie – onder die bed, aan my kant, en haar stert wat onbeheersd aan die klap-klap gaan as ek inkom om te kom slaap, of as ek snags haar naam noem en my hand afstuur om met haar kontak te maak.
Maar die honde is nie net geluide nie. Hulle is ook ‘n fees vir die oog – patryshonde, enige patryshonde, alle patryshonde, is immers die sjokoladeboksste van alle sjokoladebokshonde.
En dan daag hulle ook die reukorgane uit, naweekaande voor die televisie, stel hulle selfs ook uitdagings aan jou smaakkliere as die laaste soutproppie, die een waarna jy so uitgesien het, van die tafel nie na jou mond beweeg nie, maar met liefde rigting na hul bekke vind.
En toe raak hierdie huis stil. En leeg.
(Dis nou met die jongste telg – maar die stories wat ek nie gaan vertel nie.)
Ek was klein seuntjie en het met Happies by my voete grootgeword.
Annieka was klein dogtertjie en het met Ogies by haar voete groot geword.
En hier sit ons met Klaradyn, en ons kan nie eers die honde (waarmee sy amper 4 geword het) meer by ons dieper as die kombuis in die huis hê nie.
Vir vier jaar berou ek die aankoop van die derde hond.
Met reeds drie honde op die erf, is ek nie bereid om nog ‘n hond op hierdie erf te onderhou nie. Daar is ook nie ‘n manier dat ek drie honde buite het, en Klaradyn kan een hond by haar in die huis neem nie. Ek sal dit nie toelaat nie. En die jongste, derde, hond sal dit ook nie toelaat nie.
Elkeen vir wie ons van die komplekse jongste hond vertel, maak dit duidelik – die hond moet weg, dierebeskermingsvereniging toe, asgate toe, solank die hond net weg.
Ek oorweeg dit nie.
Ek wil die dier nie eers in die koerant adverteer nie – ons emigreer Australië toe en kan die dierbare hondjie nie saamneem nie – of die een of ander liegstorie wat die een of ander sucker met ‘n slap riem sal vang.
En toe iewers in die vakansie het ek net mooi genoeg gehad, en Annieka het net mooi genoeg gehad.
Lank genoeg dat die stert die hond geswaai het (bedoelende die jongste disfunksionele troeteldier wat die lot van die ouer twee, en ons as gesin,  bepaal het.)
Lank genoeg, reeds vier jaar te lank, dat ons nie ons troeteldiere kon troetel op die wyse wat ons gewoond was en wou nie.
Anders as katte het ons en die honde  net één lewe, en kan ons die wonderlike geleentheid en voorreg om dit met mekaar te deel, nie verspeel en versmaai nie. Klaradyn is eersdaags groot en dan het sy in haar grootwordjare nie die vreugde en verryking van honde gehad wat sy as peuter en kleuter geken het nie.
Die jongste sal ons nooit kan verander nie, sy sal nooit verander nie, maar die feit dat sy in alle opsigte geremd is, beteken nie ons moet ons deur haar laat rem nie.
En ons gooi die hekkie tussen die kombuis en die res van die huis oop.
En daar is dit Kersfees! Vier maande voor die tyd. Mense-Kersfees én Honde-Kersfees.
Dis asof daar nie vier lang en hartseer maer jare tussen vandag en gister lê nie... alles is binne tien minute in dieselfde ou roetine van destyds.
Daar is nie verwyt, aanpassing of enige iets van die aard nie.
Ouer geslagte het vertel van God wat die lei met een veeg van Sy hand skoon vee, alles is vergewe. En presies so is dit met die honde. Dis asof die vier jaar in ‘n oogwink weggeval het, dit wás nie, en dit het nie gebeur nie.
Werk ek, is daar ‘n hond by my voete, saans klap en flap en klop en flip-flop sterte die mooiste toccata gaan ons bed toe.
Ons slaap deur. En die bure! Die honde het snags op hul eie vir die maan en verbeelde inbrekers geblaf – soms vir wat soos ure gevoel het.
Nou sal hulle steeds aan die blaf gaan, maar met rede en net totdat hulle die rede afgeskrik het – dis nie ‘n doellose gekef en geblaf al oor en om die erf nie.
Die eerste draaitjie wat ek soggens loop, sal ook nooit weer so rustig wees soos die afgelope vier jaar was nie – it’s difficult, when a man’s got to do what a man’s got to do, to do all you have to do, met drie honde wat op jou, en om jou, en oor jou, en tussen jou deur, met wapperende tong en stert kompeteer om jou liefde en vry en vryf en aandag nie.
Maar dis soos van ouds, die wonderlike van ouds. En soos dit hoort.
Happy days are inderdaad here again.
Soos ek nou hier tik, is Klaradyn met die jongste in haar arms op die bank langs my. Soos ek nou hier tik, is dit op die maat en ritme van Sussa se stert. En te oordeel aan Boeta wat nou net opgespring en uitbeweeg het, is Annieka seker nou ook hier – hulle hoor altyd die motors voor ons. Ja, ek is reg – daar hoor ek nou die hek oopgaan.
Happy, oh, such happy days.

22.7.12

Fietsry-Furnace

Waar ek toe FUNRACE moet lees, lees ek toe FURNACE. Iets wat natuurlik nie sou gebeur het as die kind dit net reg gespel het nie: FUN RACE.
En natuurlik weet ek ‘n FURNACE is ‘n smeltkroes of hoogoond, maar ek word dan nou uitgenooi na die skool se Fietsryklub se heel eerste FURNACE. So in fietsry is dit tog sekerlik nie ‘n oond nie, maar iets wat lekker en opwindend is.
Nou was die kind vier jaar gelede ‘n baie getroue ondersteuner van die filmklub wat ek en ‘n kollega van die grond af probeer kry het. Hoe kan ek die seun dan nie nou wil help nie – as hy ‘n fietsry-furnace wil hou, dan is ek in.
As hulpgraadvoog sien ek dit ook as ‘n geleentheid om die graad 9’s te inspireer om in hul massas in te skryf vir hierdie fietsry-furnace. Dit maak ook dat ek nie alleen hoef te ry nie – ek kommandeer die dame wat leiding neem by die graad 9’s op om saam met my te kom ry.
En dit maak nie saak dat sy nie ‘n fiets het nie – ek het mos nou ‘n bakkie:  ek gooi my én Annieka se fietse agter op en die saak is reg.
Die kleredrag het my aanvanklik bekommerd – ek kan nie hierdie tradisionele fietsryklere dra wat so vreeslik revealing is dra nie. Ek is natuurlik lankal nie meer gepla oor wat die broekie kan reveal nie, dis die balie om my maag wat deur ‘n T-hemp afgeëts word, wat my bron tot kommer is.
Maar toe onthou ek iets van ‘n “Geel trui vir ‘n wenner” uit die dae van Boontjies Bezuidenhout en die Rapport-fietstoer. Ek het ‘n borrie/kanarie/gifappeltjie/goudgeel sweetpak wat al oud en opgedra was toe ek Annieka in 1994 ontmoet het. Ek kan dit aantrek. En ek wonder of daar nog steeds ‘n ding soos ‘n geel trui in fietsry is – dalk snap die leerders nie my verwysing nie.
Maar so is ek toe Donderdagoggend in die donker met die fietse gelaai, skool toe. Klaradyn hou haar pa dop wat in die donker sukkel om die fietse op die bak te kry. Sy hê vir haar ma te vertelle:  “Ag, siestog, Mamma, arme Pappa hoef nie vandag te wen nie, hy moet dit net geniet!”
Dis ‘n gesukkel. Op die ou einde het ek die twee fietse se voorwiele af – ja, fietse word nie meer gemaak soos toe ek kind was nie, die wiele kom nou tjoef-tjaf af. Ek moet net onthou watter wiel is wie se wiel en ‘n aantekening in my gedagte maak van hoe om die remme weer gekoppel te kry. Em vir my fiets is die remme nogal belangrik – ek het nie wafferse agterbrieke nie, ek het trouens geen agterste brieke nie en is op die voorremme aangewese.
Ek en my kollega hou langs mekaar skool, so die fietse wat ons voor die klas vasgesluit het, maak nogal ‘n indrukwekkende vertoning.
As sy tog net vroeër op die fiets geklim het, sou ons vroeër agtergekom het Annieka se voorwiel is pap. Eintlik het ons dit vermoed, maar dis eerste die laaste periode dat sy toe ‘n fietspomp geleen kry en agterkom die wiel is nie net pap nie, die ding het iewers ‘n spyker of doring deur.
Gelukkig het ek die laaste periode ‘n vry periode en ek hop met die wiel in die pad om ‘n binneband te vervang. Daar is nie tyd om met patch & solution te sukkel nie, dis al na 13:30 en ons furnace skop 14:30 af. Seker ‘n verkeerde metafoor daardie – ons furnace val dan maar eerder maar 14:30 in die pad. Of so iets.
Bruce Reyneke, wat ek aldag wil Bruce Fordyce, moes ‘n fietsryer gewees het. Hy het ‘n fietswinkel ‘n katspoegie van die skool af. Maar ek het al baie daar verby gery en besef sy fietswinkel is nie soos die Blou Meul op Alberton waar al Alberton se seuntjies hulle fietse gekry het nie. Bruce Reyneke se winkel is vir swaargewig fietsers, en ek hou verby na die tweede een, ‘n entjie verder af in die straat.
Maar o, wee, dit is toe ook soos ‘n boetiekhotel vir fietse. Om ‘n fiets te was kos R150-00! Die goedkoopste fiets is duurder as my Venter-sleepwaentjie, en die duurste fietse is almal duurder as Annieka se motor.
Ek sien selfs fietse met skokbrekers.
Maar nie ‘n enkele dikwielfiets wat jy moet back pedal as jy wil briek nie.
Die binneband kos toe nie ‘n plaas se prys nie. Hulle wou natuurlik  eers dat ek die ding voor 17:00 moet kom optel, maar tyd vir was en kennel fees opbou, is daar nie – my furnace begin oor minder as 25 minute.
Gelukkig het ek teen skoolmuur my fout agtergekom, daar was ‘n plakkaat van die geleentheid op en ek het gesien dis toe al die tyd ‘n fun race (weliswaar funrace gespel). Netnou het ek in die fietswinkel gepraat van die furnace waaraan ek gaan deelneem. En die mense het my klaar so aangestaar.
Daar het kort klere vergeet. En dis warm. My geel trui vir ‘n wenner sal ek seremonieel om my my middel bind, maar aan sal ek hom beslis nie trek nie. Ek kry toe ‘n T-hemp wat my soos ‘n te groot, oorryp piesang in ‘n te klein skil laat lyk by iemand present en ons kom by die wegspring byeen.
Daar is heelwat kinders. Ek hoor ons spanlede moet mekaar aflos – daar is sewe rondes. Ons span is toe nou al klaar drie sterk (in plaas van twee) en ons sit ons voete neer:  ons ry saam vir die lekker. En doen ons net twee of drie of vier of vyf rondes, is dit ook goed so. Ek moet in elk geval nog dramaklas toe met Klaradyn, Annieka het vroegaand koor, Klaradyn moet by Ouma-hulle slaap, ek gaan Jannie du Toit luister (op uitnodiging) – so ons moet gou maak.
Hulle begin toe praat van ‘n roete wat uitgespan is met rooi chevron plastieklinte.
Ek dog nog die heel tyd, meer nog na ek gehoor het dis ‘n fun race, dat ons al om die skool in die pad gaan ry, soos ‘n pretloop om geld in te samel vir ‘n kind se nieroorplanting, of ‘n kerk wat in Malawi gebou moet word.
Maar nou is daar ‘n roete – die verkenners en bespieders sê dis ‘n baie tawwe 2.4 km – uitgewerk, al aan die binnekant teen die grense van die skool af. Daar teen die walle op en af, onder die bome deur. En so aan. En so voorts.
En toe klap daar ‘n skoot en ek dog alle hel is nou los, maar dis toe inderdaad die afsitter.
Ons drie het die agterlangs gestaan, en die wat nog agter ons was, het ons binne die eerste 70 m verby geskiet.
Iemand het in ‘n stadium reëls oor ‘n megafoon uitgespoeg, maar ons het nie geluister nie – ons was soos resiesperde in die wegspringhokke. Al wat ek weet is dat jy uit die pad moet trek as iemand van agter kom en “Trek!” skree.
Ag, siestog, maar daar het ons nie mooi geluister nie, die idee is dat jy net na links, of net na regs moet aftrek – ek weet nou nog nie watter kant nie. En so gebeur dit toe dat ons omtrent die kinders van agter begin afskryf omdat ons voor hulle inTREK! as hulle agter ons verbyTREK!
Woorde om die roete te beskryf, het ek nie. Ek het die woorde, maar dis te veel en ek het nie tyd om so baie en lank te tik nie.
Laat ons net sê dit sou gehelp het as ek agterste remme gehad het. My groottoon se nael sou byvoorbeeld dan nie nou gelig en blou gewees het nie – ek het op een afdraande met my voete probeer keer dat ek gat oor kop val.
Ons kon nog die swaeldampe van daardie duiwelse afsitterspistool ruik, toe haal die outjies ons al van agter af in, toe is hulle al besig met die tweede ronde.
My hare het in ‘n stadium in die takke vasgesit.
Ek is blou op plekke waar ek nog nooit blou was nie, en ek nie eers die vrymoedigheid sal hê om vir my eie vrou te wys waar dit orals is nie.
En my longe! O, my longe! Dis of ek nie meer as twee jaar reeds nie meer rook nie, dis of ek die laaste 40 jaar al elke dag 40 Lexington-sigarette rook.
Ek weet nie of dit van die skud oor die rowwe terrein was nie, of wat nie, maar dis of ek by die fisioterapeut was – daar het dinge op my bors losgekom wat ek nie gedink het los kan kom nie – my asemhalingskanale was in geen jare so oop soos van Donderdag af nie. En dit van uitasem en niks meer nie.
Oral langs die pad was klaskaptein en prefekte met vlaggies. Dis om seker te maak jy sny nie hoeke of dele van die baan nie. In ‘n stadium spring hier enetjie voor ons in om te sê dat ons nie daardie kortpad, daardie gelykpad-kortpad kan vat nie. Mense, dit was die naaste wat ‘n voetganger nog ooit aan doodgery deur ‘n fietsryer gekom het.
In sy geheel was die enkele ronde wat ons drie gery het, ook die naaste wat ek in my lewe aan extreme-sport sal kom.
Maar dit was heerlik. As ek nie so moeg was nie, as ek nie so lekker gelag het nie, as ek nie my gate so uit geniet het nie, sou ek ‘n tweede ronde wou doen. Maar ek was op. Ek het so gebewe van die uitputting dat ek skaars die Energade kon drink wat iemand vir my aangedra het.
Wat van die noodhulpmannetjie geword het, weet ek nie. Hy is aangesê om saam met ons te ry met sy rooi tassie. En hy het. Maar ook net tot op ‘n punt, toe is ons waaragtig te stadig vir sy energievlakke, toe roep hy ons vaarwel.
Ek het in ‘n stadium gehoop daar spring ‘n spyker of kameeldoringboomdoring onder my bande in – maar verniet – die bloody wiele hou.
Maar dit was lekker en alles die moeite werd – daar was duidelik die meeste graad 9-spanne van almal.
En toe my hart en longe net eers weer bedaar het, toe stoot ons die fietse op bakkie toe. Maar ons stop net eers by die adjunkhoof met die boodskap dat hy maar Vrydag se toesigrooster kan uitwerk – ons fietsryspan gaan beslis nie daar opdaag vir skool nie.

Nuwe lewe op die werf

Miskien het dit met die ligging van ons erf te doen, die vloei van die spruit hier anderkant verby, die belyning van die planete, of dalk die onbekende gru-dood van ‘n ewe onbekende met die een of ander meer onbekende vloek op dié lappie aarde, maar feit bly staan:  ons is nie ‘n vreeslik teelkragtige spulletjie op een werf versamel nie.
‘n Boetie of sussie vir Klaradyn het ek en Annieka toe nooit die lig kon laat sien nie.
Óf Boeta, óf Snuffels (of soos ek die saak uitkyk – hulle al twee) is gus. Dis nou al vier jaar dat Snuffels al om die ses maande stomme Boeta se hormone net so deurmekaar krap, maar helaas, al wat ons ooit hiervan kry is die iesegrimmige aanloop tot die gebeure van Snuffels se kant af, en dan Boeta wat week lank  vir ons almal ‘n irritasie is.
Toe is my geld op die konyne, maar konyne vreet voortaan uit my mond soos konyne. Ek sal nooit weer sê iets of iemand teel aan soos konyne nie, want al sit ons met twee mannetjies (wat 24 uur ‘n dag, 7 dae ‘n week, 12 maande ‘n jaar met mekaar in stryd gewikkel is om die dominante mannetjie te wees) het daar in al hierdie tyd ook nog niks van gekom nie.
Tussen Snuffels en ‘n rot sit ons met twee van dieselfde geslag kwartels op die grond.
Die vinke lê eiers – tot groot opwinding van my en Klaradyn, maar dis waar dit stop.
En dan het dit seker iets met die ligging van die erf, die spruit hier naby, of die stand van die planete te doen, maar die duiwe lê nie eers eiers nie – nóg die diamantduifies, nóg die kaneelduifies.
Maar toe, seker ook al meer as ‘n maand gelede, begin die Indiese Ringnekparkiete saans die wittebroodsuite wat ek vir hulle aangelê en met saagsels uitgevoer het, betree.
Ek, wat nou al geruime rukkie vermoed ons almal is getoor, raak natuurlik nie opgewonde nie – dit is tien teen een maar net die koue wat hulle binnetoe jaag. Ek kan my nie indink dat hierdie voëls se biologiese klokke so ingestel is dat hulle wanneer die koue op sy strafste is, met kuikens, moet sit nie.
Maar toe, inderdaad, seker so vier of vyf weke gelede, kom ons een agtermiddag by die huis aan, en daar is net een parkiet op die stokkie.
En van toe af hoor ons soggens net een, en kom net dié een ooit uit die hout broeinessie uit.
Maar ek lig nie die deksel om te kyk presies wat aangaan nie – netnou wip die broeipaar hulle vir ons en verwerp die eiers in die nes.
So hou ons die broeiproses met verwondering dop. Ons raak van talle vreemde dinge bewus en daar is talle vrae wat ons kenners sou wou vra oor die betrokkeb voëls se ongewone parings- en broeigedrag.
So val dit my dadelik op hoeveel morsiger die mannetjie word – dis net groente en vrugte wat halfpad geëet rondlê waar jy kyk. Ek lei toe ook af hy moet sy wyfie voer deur die kos weer op te bring want sy kom nooit uit om water te drink of kos te eet of te iets nie.
Intussen wil moeder daar binne ook nie so draai dat ons haar binne die houtnessie, deur die ronde gat, kan sien nie.
Een keer die vakansie verbeel ek my darem ek hoor haar daar binne rondskuif – groot opwinding.
Sy gedra haar vir alle praktiese redes presies soos ‘n toegemesselde neushoringvoëlwyfie – met die een verskil net: sy is nie toegemessel nie.
Maar drie weke, het vier weke geword, en nog ‘n vyfde week het gekom en gegaan sonder enige taal of tyding hoegenaamd of van watter aard ook al uit die nes.
Ek begin oor die wyfie bekommerd raak, want dis duidelik, die hok is so morsig omdat hulle nie meer al hulle kos eet nie – daar bly elke dag groente en vrugte oor, dit terwyl hulle voor die groot broei aangebreek het, elke dag selfs meer geëet het as wat ek die laaste week of wat vir hulle uitsit.
Teen Vrydag begin ek al gesigte sien van die stomme wyfie wat haarself uitteer op drie of vier windeiers, of eiers wat lankal van die koue verkluim het. Maar hulle instink kry hulle nie so ver om die eiers te los nie.
Saterdagoggend ruik ek selfs of ek nie verrotte vleis begin ruik nie – maar straks, as sy in die proses van toewyding aan haar eiers, die tydelike met ewige verwissel en stertveer in die dak gesteek het, is sy teen hierdie tyd van die koue eerder al biltong.
En teen Saterdag, toe ek weer terug by die huis kom, en ons is nou al verby amper ses weke, verbouereer ek maar die pappa-to-be en haal die tentpen wat die hokkie se knip op sluit hou, uit, en skuif die nes nader.
En wat sal ek ontdek toe ek die hok se deurpaneel oopskuif – niks, net mooi niks. Niks, soos in daardie niks wat jy met ‘n –f spel en in die ou dae soos ‘n hoë, skril bliep- of beeep-geluid oor die radio geklink het: nie ‘n eier nie, nie twee of drie eiers nie, om die waarheid te sê, nie eers ‘n donderse ongehude moedertjie van ‘n dag oud nie.
Ek vroetel selfs met my vingers tussen die saagsels rond op soek na biltong of beentjies van ‘n kannibalistiese ritueel, maar niks – ons sit al die tyd, nie met ‘n broeipaar in die hok nie, nie met ‘n wewenaar in die hok nie, maar met ‘n graswewenaar of geskeide man – want sy vrou het hom verlaat, ses weke gelede al!
Hulle twee wat saam haar ontsnapping beplan het, kan dit nie wees nie. Daardie tentpen is goed 15 cm lank. Vir twee parkiete om hom 16 cm gelig te kry, van buite, met hulle binne, deur ysterdraadgaatjies van 1 cm by 1 cm, is vir die vernuftigste geveerde vriende ‘n saak van onmoontlikheid.
Dit laat ons met een van agt ander moontlike skuldiges:  die drie spanjoele, ek, Annieka, Klaradyn, Martha of Amos.
Die drie spanjoele kan dit nie wees nie. Behalwe as hulle skelm afgeloer het toe ons Madagascar gekyk het en gesien het wat die pikkewyne alles kan uitrig as hulle op mekaar staan. Want, behalwe as hulle soos die stadsmusikante van Bremen die een op die ander se rug staan, kan hulle onmoontlik nie by die tentpen uitkom nie. En dan moet ons nog ‘n diere-afrigter uit Hollywood invlieg om die boonste een van die trio te leer om die tentpen op en uit te lig. En as hulle dit bemeester het, moet die hefboom en knip gelig en omgedop word – daar is nie ‘n manier nie.
Dit laat ons met myself, my vrou, my kind, die huiswerkster en die tuinwerker.
Ek het Klaradyn dopgehou toe ek die ontdekking gemaak het – daar is nie ‘n geringe kans dat dit sy kon gewees het nie. Sy waag dit nie naby die deurtjie nie, wat nog te sê met haar hande binne die hok. En as sy die moed bymekaar sou geskraap het, en sy het die een laat uitvlieg, sou sy histeries en in trane gewees het. As sy dit probeer wegsteek het, sou sy lankal nagmerries en versteurde slaappatrone daarvan ontwikkel het.
Meer nog – sy sou op haar eie by die skool moes wegsluip, huis toe kom, die ding doen, terug gaan skool toe, opgetel word en die middag saam met ons hier instap toe ons sien die een parkiet is in die broeines.
Annieka, wat geen maar geen belangstelling toon in die kyk van die agtermiddagsepies nie – ons het trouens nie eers televisieopvangs op ons erf nie – toon daagliks groter belangstelling in die agtermiddagsepies op TV 2 as in die parkiete. Dit sal my vrou nie wees nie. En dan is sy hoogsbegaafd daarby – sy sal nie so onnosel wees om te wil redeneer dat daar niks van sal kom as sy net daaroor stilbly nie. Kom ek rep geen woord nie, dalk kom niemand agter die een voël is weg nie, en dan gebeur daar niks.
Ek kan nie onthou of dit ‘n Donderdag was toe ons van die “broeigedrag” bewus geword het nie – Donderdae is Amos hier.
Maar ek weet nou al wat ek sal hoor as ek een van die twee werkers uitvra. En buitendien sou hulle my tog sekerlik gesê het.
So wat van die een ringnek geword het, weet ek nie.
Ek vermoed dit hou tien teen een verband met die Higgs boson en deeltjie-krag te doen, want met die ligging van die erf, die spruit hier naby, of die stand van die planete, kan dit onder hierdie son beslis nie verband hou nie.
Is daar straks iemand wat help met die bou, hier ter plaatse, van nog ‘n Groot Hadron-deeltjieverdeler soos die een van die Atlas-projek in Genève. Ek vermoed Martha (en, o, ek kan baie stories, en mooi stories ook, van hierdie liewe bemoeisame mens vertel) sal maandeliks ook ‘n rand of wat wil bydra om haar onskuld te bewys – al vat dit soos met die goddeeltjie ook nou 40 jaar om dit te verklaar.

16.7.12

Langenhoven (vir die outjies wat dit nie op Facebook leer ken nie)

Ek was keel- en enkele ander plekke vol vir al die Engelse gesegdes en foto's en spreuke en geite wat op Facebook gedeel word. Toe begin ek, uit verset, om iets in Afrikaans te wil doen. Toe val ek weg met Langenhoven, en toe steek ek vas.


Ja, ek weet ek is 'n sot - ek moet eerder die oulike goedjies wat klaar versprei word net bloot vertaal. Dit sal baie groter aftrek kry.


Maar ek hou van Langenhoven. Baie het ek al vergeet. En baie ken hom nie. So gun my maar my Langenhoven.


Hier dan 'n paar van die goed:










15.7.12

2 tot 4 van die kwansuise 4 vakansieresepte (en nog meer)

Ek verbeel my ek wou vier resepte deel.
Ek het een gedeel en twee mense het genoem dat ek hulle afgeskrik het met die woorde dat jy van kosmaak moet hou as jy dit maak.
Maar dis oor die uitrol van pasta klaar ‘n missie is, en dan nou die vleisballetjies en dan die sous. En dis baie skottelgoed. En tyd.
Ag die woorde eerder as inspirasie en aanmoediging, nie as afskrik nie.
Die tweede resep het ek by ‘n vriendin gaan plak toe ek sien sy begin ‘n kosmaakblad – toe kom dit nie hier nie.
Die derde resep se oorskiet het ek ons vanaand viskoekies van geëet.
En wat die vierde was weet ek nie.
Sien, ons het vakansie gehou. En uitgerafel, soos dit hoort.
Ek moes vanaand soek na die selfoon se laaier om die ding gelaai te kry voor more.
Met Judy in ‘n houtkissie – geen ouetehuis sal my weer oor haar hoef te bel nie – en my vrou en kind 24/7 by my, het ek nie enige nodigheid om telefonies in die hande gekry te word nie, so hy is voor die vakansie laas gelaai. Daar kom nou boodskappe en missed calls in, maar die foontjie kan maar mal gaan; nie een sal klink soos die noodberigte van ouds oor RSG nie:  “Hans Mooman word versoek onmiddellik met sus-of-so in verbinding te tree – hierdie oproep is in verband met sy moeder/vrou/dogter nie.”
En terwyl ek nou by die Afrikaanse diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie is, laat ek die tweede resep, mosterd na die maal, plaas. Want dis hoeka waar die gesels verlede week begin het:
Die Afrikaanse diens van die SAUK, hulle staan al jare bekend as Radio Sonder Grense, maar vir my sal dit altyd Die Afrikaanse diens van die SAUK wees, gesels nou een middag oor eiervrug.
Ek hoor iets wat heerlik klink, maar hoor verkeerd, en toe ek die Italiaanse naam wat ek onthou, google vir ‘n resep, toe kom ek by minisalami’s (volgens die een spelling), en iets anders (wat ek nie hier waar kinders ook lees, kan noem nie) volgens die ander spelling uit.
Toe google ek die ingrediënte wat ek onthou: eggplant/aubergine, potato, sweet peppers, red peppers, baby marrow/zuchinni, noem maar op, maar verdomp of ek iets kry aan dit wat die luisteraar oor die radio gedeel het.
Toe klim ek onder my kookboeke in en stel op die ou einde iets saam uit ‘n Griekse kookboek op die rak.
Dit vra vir bietjie meer as ‘n kilogram se eiervrug. Maar dit noem dat jy die resep met murgpampoen ook sou kon saamstel. En iewers vertel hulle ook, as die eiervrug nie hoogseisoen, wanneer dit op hul soetste is, gepluk is nie, kan jy die smaak en geur aanjaag met rooi soetrissie.
Toe sorg ek dat ek in die omgewing van 2.2 kilogram van al drie groentesoorte het, meer eiervrug en murgpampoentjies, een groot soetrissie.
Dan wil my Griekse boek hê ek moet die eiervrug (in my geval eiervrug en murgpampoentjies) in 1 cm skywe sny. Ek het myne met ‘n snyer, seker so 4 mm diktes gesny, en die eindresultaat was net so lekker.
Hierdie goedjies braai jy nou, enkellaag, in ‘n pan – tot elke kant mooi bruin is en jy alles oor die pan se geoliede boom het.
Dit pak jy nou in lae in ‘n bak en geur ruimskoots met sout en peper. Ek het my dun velletjies gefrummel en gevou in die bak gepak.
Bo oor gooi hulle ‘n tamatiesous van twee 400 gram blikke tamaties. En ek het besluit om ‘n sous wat aan Spaghetti & Meat Balls se sous herinner, te maak:
2 400 g blikke tamaties
2 eetlepels Worcestershire-sous
1 eetlepel tamatiepasta
2 of 3 knoffelhuisies
sout en peper
genoeg suiker om die tamatie te temper
1 lourierlaar
1 teelepel oreganum
1 teelepels basilie
‘n Skeut witwyn (ek het verskoning gesoek om ‘n bottel wyn oop te maak)
Hierdie sous word nou afgekook tot dit fluweelagtig voorkom (of tot jy dit fluweelagtig genoeg na jou sin verklaar)
Dan gooi jy die sous oor die groente en strooi sowat halwe koppie gerasperde parmesaankaas (bly weg van klaar gerasperde poeierkaas, dis snert, dan eerder enige kaas in die yskas) oor dit alles.
In die oond vir 30 minute. En dan eet jy dit.
Ons het ‘n vleislose aandete gehad, maar dit sal ‘n voortreflike, onoortreflike, bykos  by gebraaide skaaptjops oor die kole ook wees.
Verdomp op ek die vierde resep kan onthou.
Die derde was eenvoudige vis wat baie lekker is:  Bo oor jou vissie in die oondpan gooi jy ‘n molshoop vars broodkrummels (van nie so vars brood) waarby pietersielie ingetjop is. En dan bedruip jy met jou botter/olyfolie/sout/peper/knoffel-sousie wat jy aangemaak het. In ‘n warm oond tot die krummels goudbruin is. As die vis gaar is voor die broodkrummels lekker bros is, moet jy dit maar onder grill rooster – pasop net vir brand.
(Ek het toe sommer die sampioene ook van krummels voorsien. Hulle is voete na bo in ‘n oondpannetjie staangemaak. Ek het parmesaankaas en vars tiemie met die vooraf gegeurde vars krummels gemeng, dit oorgegooi en toe aangeklam met olyfolie. Heerlik. Maar moenie krummelvis en krummelsampioene saam voorsit nie, dit word seker nie so gedoen nie, maar ons was in bui vir oefen en eksperimenteer en kan Tannie Emsie Schoeman en haar etiket maar maan toe stuur.
Maar die vierde?
Nee, ek weet nie.
Ons het lekker steak en tjips en gebraaide uieringe gehad. (Dun uieringe in melk gedoop, toe in gegeurde meel en toe in baie warm olie vir 2 minute). Maar dit was nie dit nie – dit was sommer net lekker.
Ek en Annieka en Klaradyn het die lekkerste kuieraande in die kombuis gehad.
Vanaand weer. En dis wat my agter die rekenaar het:
Ek hét Mammas dit hierdie week hoor sê:  “Ek kan nie wag vir die skool om weer te begin nie!”
Wat nog erger is, dit was mammas wat nie werk nie.
Ek en Annieka is op punt knak omdat ons nog drie weke saam met ons kind vakansie sou wou hou.
Ons het vanaand vir Klaars dankie gesê vir die lekker vakansie, en haar daaraan herinner dat nie alle mammas en pappas bly is die verbode s-woord begin more weer nie.
Maar dis seker nie ons kind wat so spesiaal is nie, dis seker ons omstandighede.
Werkende Mammas sal in party opsigte bly wees die skool begin weer – daar hoef nie dagsorg vir die kinders in plek gekry word nie, die bekommernisse is minder.
Mammas wat nie werk nie, wil seker die kinders onder hul voete uitkry en weer gaan tee drink by die verskillende uithangplekke.
Maar as jy, soos Hans en Annieka, beide in die onderwys is en bevoorreg genoeg is om saam met jou kind vakansie te kan hou, dan is en bly vakansie die wonderlikste van alle gesinstye saam – by die huis, in die Kaap, op Mauritius of in Milaan.
Ek dink onwillekeurig aan twee Langenhoven se sê-goed, en is nog nie eers seker presies hoe om die kloutjie by die oor te bring nie. Maar dit het nou in my gedagtes gespring, so laat ek dit deel:
Dis van te veel sonskyn dat die woestyn ‘n woestyn is.
Van die ander een het ek al ‘n foto gemaak, maar nog nie op FB geplaas nie. Miskien moet ek sport, vir die doel van vanaand se gesprek, net na vakansie verander.



Soos gewoonlik weet ek nie watter een die beste werk nie.


11.7.12

Een van vier vakansieresepte

‘n Vriendin van ons, een wat baie lief is vir boeke en vir lees, kry dit nie oor haar hart om voor in ‘n boek verjaarsdag- of Kersfeeswense te skryf nie – die boek is vir haar te spesiaal.
Ek, aan die ander kant, is van daardie mense wat in boeke skryf, ook nie net voor nie, maar waar ek ook al nodig ag om iets aan te teken, of te onderstreep.
My resepteboeke is dan ook vol aantekeninge. Dan ook nie noodwendig suiwer om iets soos ‘n verdubbeling van die knoffel of suiker aan te toon nie, nee – ek sal iets hê soos “Vir Ankie se 40’ste verjaarsdag,” of “Kersfees 2004.”
In ‘n resepteboek wat ‘n oudleerling my jare gelede gegee het, is ‘n gunsteling resep waarby staan:  “Nooit ‘n sukses nie, die kaas kook uit, maar divine.” In ‘n ander pen, op ‘n ander geleentheid aangebring, ook:  “2 x tamatie”.
Dis nou al hoeveel jaar later, en ek het die resep nog nie so suksesvol soos op die prentjie nie. Die volgende keer wat ek die resep probeer gaan ek dit in die prutpot maak; ek het immers al die oond, ‘n stoofplaat én ‘n elektriese braaipan probeer. Ek weet die Duitsers doen dit in kookwater – as my prutpot ook nie werk nie, sal ek straks dan maar ‘n groot pot kookwater in die gereedheid kry.
Ons had vriende oor vir ete en met net soveel kinders as volwassenes om die tafel het ek maar afgesien van die wildsvleispastei (ons het dit in elk geval ‘n vorige jaar dieselfde tyd gehad) en vir iets meer kindervriendelik gegaan.
Dit was weer nie ‘n sukses nie, maar lekker soos altyd, indien nie die lekkerste ooit nie.
En ek is eintlik bang om hiervan te vertel – ander vriende wat ook van tyd tot hier  lees, sal sommer hoogs die duiwel in wees – dis altyd op hul wenslysie, dit wat jy gemaak het toe ons die eerste keer kom kuier het, en op ‘n manier het ek nog nooit so ver gekom om dit weer vir hulle te maak nie.
Maar laat ek tog die resep deel – dit het die potensiaal om elders ook ‘n familiegunsteling te word.
Ek volg lankal nie meer die resep nie, so ek kan dit met vrymoedigheid sommer enige iets noem: Willem se Spaghetti & Meat balls (omdat hy al ses of sewe jaar daarna vra), Jeanette se Spaghetti & Meat balls (oor dit van haar is wat ek die resepteboek het) of Spaghetti & Vleisballetjies met kaas.
Spaghetti & Vleisballetjies met kaas omdat dit nie sommer jou alledaagse, derderangse meat balls & spaghetti is nie, maar spaghetti met vleisballetjies én kaas – en dan is die kaas nie in die sous of bo oor gestrooi nie... dis binne in die vleisballetjie self, in sy maag, by wyse van spreke.
Dis dan nou ook waarom die resep nooit ‘n sukses is nie – die kaas bak of braai plek-plek uit. Gelukkig is die flops altyd in die minderheid, so dit maak nie saak nie.
Jy het nodig, vir agt volwassenes, die volgende (of vir 4 volwassenes die helfte van die volgende):
Vir die vleisballetjies

1 kg maalvleis
2 koppies broodkrummels
2 eiers
2 gekapte uie (lekker fyn)
heelwat gekapte pietersielie (4 deeglik opgehoopte eetlepels)
2 of 3 knoffelhuisies
150 gram mozzarella kaas
sout en peper
as jy het wat in die huis rondstaan:
4 eetlepels pesto
gerasperde parmesaankaas (die poeierkaas is egter tydmors)

Vir die sous

1 gekapte ui gebraai
1 rooi soetrissie gebraai
(gaan helfte-helfte van elk as jy die resep vir 4 maak, of kies ‘n volle van die een – ek sal die soetrissie kies – die balletjies het immers reeds ui in)
4 400 g blikke tamaties
4 eetlepels Worcestershire-sous
2 of meer eetlepels tamatiepasta (noudat dit in klein sakkies kom, gooi ek ‘n hele klein sakkie by)
2 of 3 knoffelhuisies
sout en peper
genoeg suiker om die tamatie te temper
2 lourierlare
2 teelepels oreganum
2 teelepels basilie
as jy het wat in die huis rondstaan:2 of 3 glase van die vorige aand se witwyn

Wat die vleisballetjies betref:
Sny die kaas in 32 blokkies (of stukkies).
Verdeel die vleismengsel in 32 balletjies.
Moenie die balletjies mog het troffe vorm nie – verdeel die bal vleis in hompe, dan in 4 en 8 porsies, en laastens in 16 en 32 balletjies.
Kry dan ‘n kasie in elke balletjie.
As jou uie en pietersielie nie fyn gekap is nie, gaan jy baie se kaas in die gaarmaak afskryf.
Die kaas is ook waarom ek maar by broodkrummels bly en nie iets soos hawermout sal gebruik nie.
Wat die sous betref:
Die sous spreek vanself, maak hom net deur weg te trek met die gebraaide ui en soetrissie.
As jy nie met ‘n halwe blikkie tamatiepasta of tamatiesmeer wil sit nie omdat jy weet dit gaan sleg word – vries die res wat oorbly of gooi olyfolie bo op die res om suurstof af te sny en te keer dat die goed in die yskas sleg word.
Wat die twee goed saam betref:
Daar is een van vier moontlikhede, want jy moet die balletjies en die sous nou gaar kry.
In drie van die gevalle moet jy die balletjies eers in ‘n pan (‘n groot pan op die stoof, of elektriese braaipan) seël en buite om bruin kry (en kyk hoe die kaas uitbraai)
of jy doen dit in die oond (en kyk hoe die kaas uitgebraai het).
Vervang die mozarella met haloumi na so 7 keer wat jy die resep gemaak het en vertel jouself dit proe dieselfde.
Sodra die balletjies bruin en geseël genoeg na jou sin is (of jou geduld opraak, jy nie verder wil kyk hoe die kaas uitloop, of jy die vorige aand se wyn begin drink het, in plaas daarvan om dit by die sous  te gooi) dan kry jy die sous (wat jy op die vuur gekry het toe jy die balletjies begin vorm het) by die balletjies in die braai-, elektriese braai-, of bak- of oondpan. (As jy die tyd het en jy het die prutpot van vroeër af warm gekry het, en jy plaas die warm balletjies en warm sous daarin, werk dit net so goed.)
Nou moet die twee mekaar uitsorteer, of in die oond, of in die pan, of in die prutpot.
Of jy nie van die vorige aand witwyn gehad het nie en ‘n hele bottel oopgemaak het, drink jy nou die res terwyl jy die spaghetti gaar kry.
(Ek het die laaste week of wat van ‘n rugsak-en-tent-toer deur Europa baie swaar gedra aan my eie pasta-rol-en-sny-masjien, so ek maak my eie vars pasta.)
Nou kry jy die pasta onder in ‘n groot en mooi opdienbord.
Jy pak die balletjies bo op.
As die sous nog te nat is, (en jy die wyn bygegooi het, in plaas daarvan om op van dit te geniet ook) kook jy af tot jy daarvan hou en die regte samestelling gekry het. Jy kan selfs met ‘n lem daarin vaar en dit verpulp.
Skep dan die sous oor dit alles en rond af met vars gekapte basilie en pietersielie (jy kon dit in die begin by die sous ingewerk het, maar dan is die geur van die basilie nie so sterk nie, en lyk dit nie so mooi nie.)
As jy lui is om kos te maak, is hierdie beslis nie ‘n resep vir jou nie. Hou jy egter van kosmaak, en kuier saam met jou gade (selfs die gaste) in die kombuis, is die voorberei en gaar maak, net so lekker soos die eet.
Hierdie is die beste geneem van drie resepte. Elkeen vra vir slegs een blik tamatie op 500 gram vleis (nie net die een wat vir 150 ml witwyn ook vra nie). Ek het een blik op 500 gram in 1995 toe ek hierdie die eerste keer gemak het, gebruik – en nog nooit weer nie, ek verdubbel dit elke keer.
Ek het agtergekom dis ‘n Boere-ding – ons hou van baie sous by pasta (soos baie sous by reis, vleis en ertappels, soos ‘n hele vleisdis, in plaas van slegs maar ‘n vleissousie – vir geur – by spaghetti & mince.)
Ja, jy kan die kaas uitlaat – dis nie essensieel nie, maar, o, so lekker ietsie spesiaal, as jy die balletjie sny.
Geniet asseblief.

Die foto's is natuurlik kierang - ek het hierdie op flickr gekry. My resep, wat nou ons resep is, lyk veel mooier.

10.7.12

Maandagverslag

Dat ek nou moet waggel soos ‘n eend toe ons gisteraand bed toe gaan!
En vannag toe ek opstaan – ja, ek het amptelik nou oud begin word: as ek snags opstaan is dit nie om huis toe te gaan nie.
En toe vergeet ek van die waggel toe ek vanoggend so wakker as is dat ek onmoontlik nie weer sal kan slaap nie, en opspring om te kom peuter en totter met die rekenaarsleutelbord se toetse.
Sien, ek het gister ‘n eerlike, harde, drie uur se werk ingesit.
Al die jare, vra maar my vriende – daar is baie wat daarvan kan getuig – het ek in my onfiksheid ‘n natuurlike, ingebore stapfiksheid gehad, wat gemaak het dat ek nooit op enige staptoer, hoe straf ook al, met stywe kuitspiere gesit het nie.
Wanneer die ander van my kaliber lankal waggel en spierverslappers drink, dan huppel ek nog soos ‘n wildsbokkie. Maak dit dan maar ‘n oorgewig boerbokram.
Maar nou het ek voor my en Annieka se troue laas ‘n ordentlike staptoer gedoen. En die laaste 12 jaar het die tyd ook nie stil gestaan nie.
Ook nou al meer as ‘n jaar, as dit nie twee jaar is nie, dat ons nie meer tuindienste het nie. Hulle het die tuinvullis weggery, maar Amos en Patrick (dit moet daarom heelwat langer as ‘n jaar wees – my vrou het ons al by ‘n tweede tuinier na die span van tuindienste die trekpas gekry het) bou ‘n tuinvullis hoop.
En hierdie tuinvullishoop, wat ‘n jaar of wat gelede letterlik ‘n molshoop was, is maande nou al ‘n Arrarat. En hierdie Arrarat gaan nie met my doen wat die berg met Mohammed gedoen het nie. Ék sal by hóm móét uitkom.
Ek moes trouens lankal al – dit was Desember-vakansie al duidelik, maar toe rinkink ons in die Kaap rond en toe ons terugkom, toe is die geld op. April is toe net ‘n week vakansie, en toe ons klaar ons oë uitgevee het en weer sien, toe is ons terug by die werk.
Ons kan egter nie langer uitstel nie – die honde kan al letterlik met Everest opklim, en as hulle nie so bang was nie, oor die vyf voet hoë voorafvervaardigde sementmuur tot in die bure se erf parachute.
My skoonma het rondom Oktober verlede jaar, goed twee maande op haar eie tyd, as ons by die werk is, met Patrick in die tuin deurgebring. Hulle het gesnoei en ontbos teen ‘n tempo wat my bekommerd had ek het Natuurbewaring op my voorstoep om te kom kla oor wat ek aan die ekologie doen. En Skoonma was maar net bewus van Patrick wat iewers heen verdwyn met wat sy sê hy alles van ontslae moet raak. Maar waarnatoe hy is, en presies wat hy met die goed het, weet sy nie. So dra sy toe nie kennis van die monster waaraan Patrick tussen die buitegebou en die grensmuur geboorte skenk nie. En ons raak self, met ‘n skok wat die gemiddelde mens grys hare sal gee, eers daarvan bewus toe ons die honde hoor blaf, en hulle op kruin aantref waar hulle oor die muur afkyk in die bure se tuin om stertswaaiend vir die gewelddadige goed wat die bure aanhou, te blaf.
So, met die vakansie wat einde se kant toe staan en ek wat nog nie aan ‘n rooi pen geraak het nie, was gister die perfekte dag om die landskap agter in die tuin te verander en die berg weg te werk en te ry.
Teen vier jaar terug se goedkoopste pryse (toe Petrus nog hier was, voor tuindienste) sou dit my R1 400-00 gekos het aan twee groot vragte van dit wat die tuinvullisverwyderaars groot vragte noem. Hoeveel daardie R1 400-00 vandag is, weet ek nie, en ek stel nie belang nie, want selfs al was dieselfde, het ek nie die tipe geld om op tuinvullisverwydering te spandeer nie.
So ons doen dit self.
My oorlede mammie het nou haar intrek in ons motorhuis gedoen, in die gedaante en vorm van ‘n bakkie, so ek gaan huur die grootste, hoogste sleepwa waarop ek my oog kan lê.
07:00 toe hulle oopmaak, toe wag ek al vir hulle by die deur.
Teen 08:00 wil ek strate toe om stukarebeiders langs die pad te gaan optel – want toe is Amos, en die vriend wat ek hom gevra het om saam te bring, nog nie hier nie.
Teen 08:30 dra Annieka rooibostee met homopatiese druppels Rescue Remedy daarby ingevoeg, agter my aan.
09:03 stap die span toe hier in.
En ek moet merk.
Maar ons is 2 ure agter en hulle gaan nie sonder my klaar kry nie.
So toe werk ek tot 12:00 saam met Amos-hulle om die voetheuwels van die berg weg te werk.
En dit was regtig nie swaar of harde werk nie – die voetheuwels is letterlik agt maande se gras en die herfs se Witstinkhoutblare wat in swart sakke en op die wa moet kom.
Maar na 30 minute toe jaag en blaas my longe so dat ek van alles wat nou weke op en om my bors aangepak het, ontslae is. Saam met die droë gras en blare, waarteen ek ‘n ingebore en natuurlike allergiese reaksie het, sit ek toe 30 minute later toegeswolle oë, maar sinusse wat so oop is soos wat hulle in geen maande was nie.
Te heerlik – ek sweet selfs in die middel van die winter.
Ek moes toe natuurlik weer agterkom presies hoe pateties Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is. Toe ons 15:43, oormoeg en oorwerk, met die laaste vrag by die tuinvullisdepot (eintlik seker tuinvullis-oorplaas-stasie) kom, die plek wat volgens alle denkbare vorm van bemarking en disinformasie om 17:45 eers moet sluit, toe is hulle reeds toe.
Die plek se tuinvullisdromme, seker so 15 houers so groot soos die bergingshouers wat vir spoorvragvervoer gebruik word, is de leste een vol.
En ek kan verstaan dat hulle nie tuinvullis kan ontvang as hulle nie die dromme daarvoor het nie, wat ek nie kan verstaan nie, is wat van die vragmotor geword het wat die hele oggend die dromme wat vol is, op kom te het nie.
So nou kan hulle niks anders as om die hekke te sluit nie.
Maar daar sit ons toe nou – ‘n gehuurde sleepwa wat moet terug, twee arbeiders wat na ‘n volgende provinsie moet ry net om by die huis te kom, en dit met ‘n vol vrag tuinvullis.
Alle ander stortingsterreine is kilometers van waar ons in Menlopark staan. En dis spitsverkeer, en 15:44.
Maar wat kan ons doen – ons wil dit net daar afgooi, maar ek is te veel van ‘n sissie – meer bek as binnegoed.
So daar sit die drie van ons toe af na die naaste stortingsterrein toe, maar “die naaste” is eintlik ‘n baie swak woordkeuse – dit klink soos naby, en ons het nie meer ‘n enkele stortingsterrein naby aan ons nie; ons ry bloot na die een wat die minste ver van ons is.
En ja, daar is ‘n ongeluk iewers voor gewees, dit neem ons 40 minute en ‘n halwe tenk petrol om daar te kom.
Ek laai Amos en sy vriend 18:00 by die busstop af, kom huis toe, bad, maak kos, en kyk DVD saam met Annieka en Klaradyn.
En toe ek slapenstyd van onder die Springbokvelkaros bed toe stap, toe waggel ek soos ‘n eend.
En vanoggend toe waggel ek meer.
En toe kon ek een van twee dinge doen:  ek kon onder die vraestelle inspring en begin merk; of ek kon agter die rekenaar inskuif.
Ek sal darem binne oomblikke weet hoeveel van die melksuur ek intussen afgewerk het. Ek moet net eers gou hierdie in die digitale ruimte pos.