Ek was keel- en enkele ander plekke vol vir al die Engelse gesegdes en foto's en spreuke en geite wat op Facebook gedeel word. Toe begin ek, uit verset, om iets in Afrikaans te wil doen. Toe val ek weg met Langenhoven, en toe steek ek vas.
Ja, ek weet ek is 'n sot - ek moet eerder die oulike goedjies wat klaar versprei word net bloot vertaal. Dit sal baie groter aftrek kry.
Maar ek hou van Langenhoven. Baie het ek al vergeet. En baie ken hom nie. So gun my maar my Langenhoven.
Ek het een gedeel en twee mense het genoem dat ek hulle afgeskrik het met die woorde dat jy van kosmaak moet hou as jy dit maak.
Maar dis oor die uitrol van pasta klaar ‘n missie is, en dan nou die vleisballetjies en dan die sous. En dis baie skottelgoed. En tyd.
Ag die woorde eerder as inspirasie en aanmoediging, nie as afskrik nie.
Die tweede resep het ek by ‘n vriendin gaan plak toe ek sien sy begin ‘n kosmaakblad – toe kom dit nie hier nie.
Die derde resep se oorskiet het ek ons vanaand viskoekies van geëet.
En wat die vierde was weet ek nie.
Sien, ons het vakansie gehou. En uitgerafel, soos dit hoort.
Ek moes vanaand soek na die selfoon se laaier om die ding gelaai te kry voor more.
Met Judy in ‘n houtkissie – geen ouetehuis sal my weer oor haar hoef te bel nie – en my vrou en kind 24/7 by my, het ek nie enige nodigheid om telefonies in die hande gekry te word nie, so hy is voor die vakansie laas gelaai. Daar kom nou boodskappe en missed calls in, maar die foontjie kan maar mal gaan; nie een sal klink soos die noodberigte van ouds oor RSG nie:“Hans Mooman word versoek onmiddellik met sus-of-so in verbinding te tree – hierdie oproep is in verband met sy moeder/vrou/dogter nie.”
En terwyl ek nou by die Afrikaanse diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie is, laat ek die tweede resep, mosterd na die maal, plaas. Want dis hoeka waar die gesels verlede week begin het:
Die Afrikaanse diens van die SAUK, hulle staan al jare bekend as Radio Sonder Grense, maar vir my sal dit altyd Die Afrikaanse diens van die SAUK wees, gesels nou een middag oor eiervrug.
Ek hoor iets wat heerlik klink, maar hoor verkeerd, en toe ek die Italiaanse naam wat ek onthou, google vir ‘n resep, toe kom ek by minisalami’s (volgens die een spelling), en iets anders (wat ek nie hier waar kinders ook lees, kan noem nie) volgens die ander spelling uit.
Toe google ek die ingrediënte wat ek onthou: eggplant/aubergine, potato, sweet peppers, red peppers, baby marrow/zuchinni, noem maar op, maar verdomp of ek iets kry aan dit wat die luisteraar oor die radio gedeel het.
Toe klim ek onder my kookboeke in en stel op die ou einde iets saam uit ‘n Griekse kookboek op die rak.
Dit vra vir bietjie meer as ‘n kilogram se eiervrug. Maar dit noem dat jy die resep met murgpampoen ook sou kon saamstel. En iewers vertel hulle ook, as die eiervrug nie hoogseisoen, wanneer dit op hul soetste is, gepluk is nie, kan jy die smaak en geur aanjaag met rooi soetrissie.
Toe sorg ek dat ek in die omgewing van 2.2 kilogram van al drie groentesoorte het, meer eiervrug en murgpampoentjies, een groot soetrissie.
Dan wil my Griekse boek hê ek moet die eiervrug (in my geval eiervrug en murgpampoentjies) in 1 cm skywe sny. Ek het myne met ‘n snyer, seker so 4 mm diktes gesny, en die eindresultaat was net so lekker.
Hierdie goedjies braai jy nou, enkellaag, in ‘n pan – tot elke kant mooi bruin is en jy alles oor die pan se geoliede boom het.
Dit pak jy nou in lae in ‘n bak en geur ruimskoots met sout en peper. Ek het my dun velletjies gefrummel en gevou in die bak gepak.
Bo oor gooi hulle ‘n tamatiesous van twee 400 gram blikke tamaties. En ek het besluit om ‘n sous wat aan Spaghetti & Meat Balls se sous herinner, te maak:
2 400 g blikke tamaties 2 eetlepels Worcestershire-sous 1 eetlepel tamatiepasta 2 of 3 knoffelhuisies sout en peper genoeg suiker om die tamatie te temper 1 lourierlaar 1 teelepel oreganum 1 teelepels basilie ‘n Skeut witwyn (ek het verskoning gesoek om ‘n bottel wyn oop te maak)
Hierdie sous word nou afgekook tot dit fluweelagtig voorkom (of tot jy dit fluweelagtig genoeg na jou sin verklaar)
Dan gooi jy die sous oor die groente en strooi sowat halwe koppie gerasperde parmesaankaas (bly weg van klaar gerasperde poeierkaas, dis snert, dan eerder enige kaas in die yskas) oor dit alles.
In die oond vir 30 minute. En dan eet jy dit.
Ons het ‘n vleislose aandete gehad, maar dit sal ‘n voortreflike, onoortreflike, bykosby gebraaide skaaptjops oor die kole ook wees.
Verdomp op ek die vierde resep kan onthou.
Die derde was eenvoudige vis wat baie lekker is:Bo oor jou vissie in die oondpan gooi jy ‘n molshoop vars broodkrummels (van nie so vars brood) waarby pietersielie ingetjop is. En dan bedruip jy met jou botter/olyfolie/sout/peper/knoffel-sousie wat jy aangemaak het. In ‘n warm oond tot die krummels goudbruin is. As die vis gaar is voor die broodkrummels lekker bros is, moet jy dit maar onder grill rooster – pasop net vir brand.
(Ek het toe sommer die sampioene ook van krummels voorsien. Hulle is voete na bo in ‘n oondpannetjie staangemaak. Ek het parmesaankaas en vars tiemie met die vooraf gegeurde vars krummels gemeng, dit oorgegooi en toe aangeklam met olyfolie. Heerlik. Maar moenie krummelvis en krummelsampioene saam voorsit nie, dit word seker nie so gedoen nie, maar ons was in bui vir oefen en eksperimenteer en kan Tannie Emsie Schoeman en haar etiket maar maan toe stuur.
Maar die vierde?
Nee, ek weet nie.
Ons het lekker steak en tjips en gebraaide uieringe gehad. (Dun uieringe in melk gedoop, toe in gegeurde meel en toe in baie warm olie vir 2 minute). Maar dit was nie dit nie – dit was sommer net lekker.
Ek en Annieka en Klaradyn het die lekkerste kuieraande in die kombuis gehad.
Vanaand weer. En dis wat my agter die rekenaar het:
Ek hét Mammas dit hierdie week hoor sê:“Ek kan nie wag vir die skool om weer te begin nie!”
Wat nog erger is, dit was mammas wat nie werk nie.
Ek en Annieka is op punt knak omdat ons nog drie weke saam met ons kind vakansie sou wou hou.
Ons het vanaand vir Klaars dankie gesê vir die lekker vakansie, en haar daaraan herinner dat nie alle mammas en pappas bly is die verbode s-woord begin more weer nie.
Maar dis seker nie ons kind wat so spesiaal is nie, dis seker ons omstandighede.
Werkende Mammas sal in party opsigte bly wees die skool begin weer – daar hoef nie dagsorg vir die kinders in plek gekry word nie, die bekommernisse is minder.
Mammas wat nie werk nie, wil seker die kinders onder hul voete uitkry en weer gaan tee drink by die verskillende uithangplekke.
Maar as jy, soos Hans en Annieka, beide in die onderwys is en bevoorreg genoeg is om saam met jou kind vakansie te kan hou, dan is en bly vakansie die wonderlikste van alle gesinstye saam – by die huis, in die Kaap, op Mauritius of in Milaan.
Ek dink onwillekeurig aan twee Langenhoven se sê-goed, en is nog nie eers seker presies hoe om die kloutjie by die oor te bring nie. Maar dit het nou in my gedagtes gespring, so laat ek dit deel:
Dis van te veel sonskyn dat die woestyn ‘n woestyn is.
Van die ander een het ek al ‘n foto gemaak, maar nog nie op FB geplaas nie. Miskien moet ek sport, vir die doel van vanaand se gesprek,net na vakansie verander.
Soos gewoonlik weet ek nie watter een die beste werk nie.
‘n Vriendin van ons, een wat baie lief is vir boeke en vir lees, kry dit nie oor haar hart om voor in ‘n boek verjaarsdag- of Kersfeeswense te skryf nie – die boek is vir haar te spesiaal.
Ek, aan die ander kant, is van daardie mense wat in boeke skryf, ook nie net voor nie, maar waar ek ook al nodig ag om iets aan te teken, of te onderstreep.
My resepteboeke is dan ook vol aantekeninge. Dan ook nie noodwendig suiwer om iets soos ‘n verdubbeling van die knoffel of suiker aan te toon nie, nee – ek sal iets hê soos “Vir Ankie se 40’ste verjaarsdag,” of “Kersfees 2004.”
In ‘n resepteboek wat ‘n oudleerling my jare gelede gegee het, is ‘n gunsteling resep waarby staan:“Nooit ‘n sukses nie, die kaas kook uit, maar divine.” In ‘n ander pen, op ‘n ander geleentheid aangebring, ook:“2 x tamatie”.
Dis nou al hoeveel jaar later, en ek het die resep nog nie so suksesvol soos op die prentjie nie. Die volgende keer wat ek die resep probeer gaan ek dit in die prutpot maak; ek het immers al die oond, ‘n stoofplaat én ‘n elektriese braaipan probeer. Ek weet die Duitsers doen dit in kookwater – as my prutpot ook nie werk nie, sal ek straks dan maar ‘n groot pot kookwater in die gereedheid kry.
Ons had vriende oor vir ete en met net soveel kinders as volwassenes om die tafel het ek maar afgesien van die wildsvleispastei (ons het dit in elk geval ‘n vorige jaar dieselfde tyd gehad) en vir iets meer kindervriendelik gegaan.
Dit was weer nie ‘n sukses nie, maar lekker soos altyd, indien nie die lekkerste ooit nie.
En ek is eintlik bang om hiervan te vertel – ander vriende wat ook van tyd tot hierlees, sal sommer hoogs die duiwel in wees – dis altyd op hul wenslysie, dit wat jy gemaak het toe ons die eerste keer kom kuier het, en op ‘n manier het ek nog nooit so ver gekom om dit weer vir hulle te maak nie.
Maar laat ek tog die resep deel – dit het die potensiaal om elders ook ‘n familiegunsteling te word.
Ek volg lankal nie meer die resep nie, so ek kan dit met vrymoedigheid sommer enige iets noem: Willem se Spaghetti & Meat balls (omdat hy al ses of sewe jaar daarna vra), Jeanette se Spaghetti & Meat balls (oor dit van haar is wat ek die resepteboek het) of Spaghetti & Vleisballetjies met kaas.
Spaghetti & Vleisballetjies met kaas omdat dit nie sommer jou alledaagse, derderangse meat balls & spaghetti is nie, maar spaghetti met vleisballetjies én kaas – en dan is die kaas nie in die sous of bo oor gestrooi nie... dis binne in die vleisballetjie self, in sy maag, by wyse van spreke.
Dis dan nou ook waarom die resep nooit ‘n sukses is nie – die kaas bak of braai plek-plek uit. Gelukkig is die flops altyd in die minderheid, so dit maak nie saak nie.
Jy het nodig, vir agt volwassenes, die volgende (of vir 4 volwassenes die helfte van die volgende):
Vir die vleisballetjies
1 kg maalvleis 2 koppies broodkrummels 2 eiers 2 gekapte uie (lekker fyn) heelwat gekapte pietersielie (4 deeglik opgehoopte eetlepels) 2 of 3 knoffelhuisies 150 gram mozzarella kaas sout en peper as jy het wat in die huis rondstaan: 4 eetlepels pesto gerasperde parmesaankaas (die poeierkaas is egter tydmors)
Vir die sous
1 gekapte ui gebraai 1 rooi soetrissie gebraai (gaan helfte-helfte van elk as jy die resep vir 4 maak, of kies ‘n volle van die een – ek sal die soetrissie kies – die balletjies het immers reeds ui in) 4 400 g blikke tamaties 4 eetlepels Worcestershire-sous 2 of meer eetlepels tamatiepasta (noudat dit in klein sakkies kom, gooi ek ‘n hele klein sakkie by) 2 of 3 knoffelhuisies sout en peper genoeg suiker om die tamatie te temper 2 lourierlare 2 teelepels oreganum 2 teelepels basilieas jy het wat in die huis rondstaan:2 of 3 glase van die vorige aand se witwyn
Wat die vleisballetjies betref:
Sny die kaas in 32 blokkies (of stukkies). Verdeel die vleismengsel in 32 balletjies. Moenie die balletjies mog het troffe vorm nie – verdeel die bal vleis in hompe, dan in 4 en 8 porsies, en laastens in 16 en 32 balletjies. Kry dan ‘n kasie in elke balletjie. As jou uie en pietersielie nie fyn gekap is nie, gaan jy baie se kaas in die gaarmaak afskryf. Die kaas is ook waarom ek maar by broodkrummels bly en nie iets soos hawermout sal gebruik nie.
Wat die sous betref:
Die sous spreek vanself, maak hom net deur weg te trek met die gebraaide ui en soetrissie. As jy nie met ‘n halwe blikkie tamatiepasta of tamatiesmeer wil sit nie omdat jy weet dit gaan sleg word – vries die res wat oorbly of gooi olyfolie bo op die res om suurstof af te sny en te keer dat die goed in die yskas sleg word.
Wat die twee goed saam betref:
Daar is een van vier moontlikhede, want jy moet die balletjies en die sous nou gaar kry. In drie van die gevalle moet jy die balletjies eers in ‘n pan (‘n groot pan op die stoof, of elektriese braaipan) seël en buite om bruin kry (en kyk hoe die kaas uitbraai) of jy doen dit in die oond (en kyk hoe die kaas uitgebraai het). Vervang die mozarella met haloumi na so 7 keer wat jy die resep gemaak het en vertel jouself dit proe dieselfde.
Sodra die balletjies bruin en geseël genoeg na jou sin is (of jou geduld opraak, jy nie verder wil kyk hoe die kaas uitloop, of jy die vorige aand se wyn begin drink het, in plaas daarvan om dit by die souste gooi) dan kry jy die sous (wat jy op die vuur gekry het toe jy die balletjies begin vorm het) by die balletjies in die braai-, elektriese braai-, of bak- of oondpan. (As jy die tyd het en jy het die prutpot van vroeër af warm gekry het, en jy plaas die warm balletjies en warm sous daarin, werk dit net so goed.)
Nou moet die twee mekaar uitsorteer, of in die oond, of in die pan, of in die prutpot.
Of jy nie van die vorige aand witwyn gehad het nie en ‘n hele bottel oopgemaak het, drink jy nou die res terwyl jy die spaghetti gaar kry.
(Ek het die laaste week of wat van ‘n rugsak-en-tent-toer deur Europa baie swaar gedra aan my eie pasta-rol-en-sny-masjien, so ek maak my eie vars pasta.)
Nou kry jy die pasta onder in ‘n groot en mooi opdienbord. Jy pak die balletjies bo op. As die sous nog te nat is, (en jy die wyn bygegooi het, in plaas daarvan om op van dit te geniet ook) kook jy af tot jy daarvan hou en die regte samestelling gekry het. Jy kan selfs met ‘n lem daarin vaar en dit verpulp. Skep dan die sous oor dit alles en rond af met vars gekapte basilie en pietersielie (jy kon dit in die begin by die sous ingewerk het, maar dan is die geur van die basilie nie so sterk nie, en lyk dit nie so mooi nie.)
As jy lui is om kos te maak, is hierdie beslis nie ‘n resep vir jou nie. Hou jy egter van kosmaak, en kuier saam met jou gade (selfs die gaste) in die kombuis, is die voorberei en gaar maak, net so lekker soos die eet.
Hierdie is die beste geneem van drie resepte. Elkeen vra vir slegs een blik tamatie op 500 gram vleis (nie net die een wat vir 150 ml witwyn ook vra nie). Ek het een blik op 500 gram in 1995 toe ek hierdie die eerste keer gemak het, gebruik – en nog nooit weer nie, ek verdubbel dit elke keer.
Ek het agtergekom dis ‘n Boere-ding – ons hou van baie sous by pasta (soos baie sous by reis, vleis en ertappels, soos ‘n hele vleisdis, in plaas van slegs maar ‘n vleissousie – vir geur – by spaghetti & mince.)
Ja, jy kan die kaas uitlaat – dis nie essensieel nie, maar, o, so lekker ietsie spesiaal, as jy die balletjie sny.
Geniet asseblief.
Die foto's is natuurlik kierang - ek het hierdie op flickr gekry. My resep, wat nou ons resep is, lyk veel mooier.
Dat ek nou moet waggel soos ‘n eend toe ons gisteraand bed toe gaan!
En vannag toe ek opstaan – ja, ek het amptelik nou oud begin word: as ek snags opstaan is dit nie om huis toe te gaan nie.
En toe vergeet ek van die waggel toe ek vanoggend so wakker as is dat ek onmoontlik nie weer sal kan slaap nie, en opspring om te kom peuter en totter met die rekenaarsleutelbord se toetse.
Sien, ek het gister ‘n eerlike, harde, drie uur se werk ingesit.
Al die jare, vra maar my vriende – daar is baie wat daarvan kan getuig – het ek in my onfiksheid ‘n natuurlike, ingebore stapfiksheid gehad, wat gemaak het dat ek nooit op enige staptoer, hoe straf ook al, met stywe kuitspiere gesit het nie.
Wanneer die ander van my kaliber lankal waggel en spierverslappers drink, dan huppel ek nog soos ‘n wildsbokkie. Maak dit dan maar ‘n oorgewig boerbokram.
Maar nou het ek voor my en Annieka se troue laas ‘n ordentlike staptoer gedoen. En die laaste 12 jaar het die tyd ook nie stil gestaan nie.
Ook nou al meer as ‘n jaar, as dit nie twee jaar is nie, dat ons nie meer tuindienste het nie. Hulle het die tuinvullis weggery, maar Amos en Patrick (dit moet daarom heelwat langer as ‘n jaar wees – my vrou het ons al by ‘n tweede tuinier na die span van tuindienste die trekpas gekry het) bou ‘n tuinvullis hoop.
En hierdie tuinvullishoop, wat ‘n jaar of wat gelede letterlik ‘n molshoop was, is maande nou al ‘n Arrarat. En hierdie Arrarat gaan nie met my doen wat die berg met Mohammed gedoen het nie. Ék sal by hóm móét uitkom.
Ek moes trouens lankal al – dit was Desember-vakansie al duidelik, maar toe rinkink ons in die Kaap rond en toe ons terugkom, toe is die geld op. April is toe net ‘n week vakansie, en toe ons klaar ons oë uitgevee het en weer sien, toe is ons terug by die werk.
Ons kan egter nie langer uitstel nie – die honde kan al letterlik met Everest opklim, en as hulle nie so bang was nie, oor die vyf voet hoë voorafvervaardigde sementmuur tot in die bure se erf parachute.
My skoonma het rondom Oktober verlede jaar, goed twee maande op haar eie tyd, as ons by die werk is, met Patrick in die tuin deurgebring. Hulle het gesnoei en ontbos teen ‘n tempo wat my bekommerd had ek het Natuurbewaring op my voorstoep om te kom kla oor wat ek aan die ekologie doen. En Skoonma was maar net bewus van Patrick wat iewers heen verdwyn met wat sy sê hy alles van ontslae moet raak. Maar waarnatoe hy is, en presies wat hy met die goed het, weet sy nie. So dra sy toe nie kennis van die monster waaraan Patrick tussen die buitegebou en die grensmuur geboorte skenk nie. En ons raak self, met ‘n skok wat die gemiddelde mens grys hare sal gee, eers daarvan bewus toe ons die honde hoor blaf, en hulle op kruin aantref waar hulle oor die muur afkyk in die bure se tuin om stertswaaiend vir die gewelddadige goed wat die bure aanhou, te blaf.
So, met die vakansie wat einde se kant toe staan en ek wat nog nie aan ‘n rooi pen geraak het nie, was gister die perfekte dag om die landskap agter in die tuin te verander en die berg weg te werk en te ry.
Teen vier jaar terug se goedkoopste pryse (toe Petrus nog hier was, voor tuindienste) sou dit my R1 400-00 gekos het aan twee groot vragte van dit wat die tuinvullisverwyderaars groot vragte noem. Hoeveel daardie R1 400-00 vandag is, weet ek nie, en ek stel nie belang nie, want selfs al was dieselfde, het ek nie die tipe geld om op tuinvullisverwydering te spandeer nie.
So ons doen dit self.
My oorlede mammie het nou haar intrek in ons motorhuis gedoen, in die gedaante en vorm van ‘n bakkie, so ek gaan huur die grootste, hoogste sleepwa waarop ek my oog kan lê.
07:00 toe hulle oopmaak, toe wag ek al vir hulle by die deur.
Teen 08:00 wil ek strate toe om stukarebeiders langs die pad te gaan optel – want toe is Amos, en die vriend wat ek hom gevra het om saam te bring, nog nie hier nie.
Teen 08:30 dra Annieka rooibostee met homopatiese druppels Rescue Remedy daarby ingevoeg, agter my aan.
09:03 stap die span toe hier in.
En ek moet merk.
Maar ons is 2 ure agter en hulle gaan nie sonder my klaar kry nie.
So toe werk ek tot 12:00 saam met Amos-hulle om die voetheuwels van die berg weg te werk.
En dit was regtig nie swaar of harde werk nie – die voetheuwels is letterlik agt maande se gras en die herfs se Witstinkhoutblare wat in swart sakke en op die wa moet kom.
Maar na 30 minute toe jaag en blaas my longe so dat ek van alles wat nou weke op en om my bors aangepak het, ontslae is. Saam met die droë gras en blare, waarteen ek ‘n ingebore en natuurlike allergiese reaksie het, sit ek toe 30 minute later toegeswolle oë, maar sinusse wat so oop is soos wat hulle in geen maande was nie.
Te heerlik – ek sweet selfs in die middel van die winter.
Ek moes toe natuurlik weer agterkom presies hoe pateties Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is. Toe ons 15:43, oormoeg en oorwerk, met die laaste vrag by die tuinvullisdepot (eintlik seker tuinvullis-oorplaas-stasie) kom, die plek wat volgens alle denkbare vorm van bemarking en disinformasie om 17:45 eers moet sluit, toe is hulle reeds toe.
Die plek se tuinvullisdromme, seker so 15 houers so groot soos die bergingshouers wat vir spoorvragvervoer gebruik word, is de leste een vol.
En ek kan verstaan dat hulle nie tuinvullis kan ontvang as hulle nie die dromme daarvoor het nie, wat ek nie kan verstaan nie, is wat van die vragmotor geword het wat die hele oggend die dromme wat vol is, op kom te het nie.
So nou kan hulle niks anders as om die hekke te sluit nie.
Maar daar sit ons toe nou – ‘n gehuurde sleepwa wat moet terug, twee arbeiders wat na ‘n volgende provinsie moet ry net om by die huis te kom, en dit met ‘n vol vrag tuinvullis.
Alle ander stortingsterreine is kilometers van waar ons in Menlopark staan. En dis spitsverkeer, en 15:44.
Maar wat kan ons doen – ons wil dit net daar afgooi, maar ek is te veel van ‘n sissie – meer bek as binnegoed.
So daar sit die drie van ons toe af na die naaste stortingsterrein toe, maar “die naaste” is eintlik ‘n baie swak woordkeuse – dit klink soos naby, en ons het nie meer ‘n enkele stortingsterrein naby aan ons nie; ons ry bloot na die een wat die minste ver van ons is.
En ja, daar is ‘n ongeluk iewers voor gewees, dit neem ons 40 minute en ‘n halwe tenk petrol om daar te kom.
Ek laai Amos en sy vriend 18:00 by die busstop af, kom huis toe, bad, maak kos, en kyk DVD saam met Annieka en Klaradyn.
En toe ek slapenstyd van onder die Springbokvelkaros bed toe stap, toe waggel ek soos ‘n eend.
En vanoggend toe waggel ek meer.
En toe kon ek een van twee dinge doen:ek kon onder die vraestelle inspring en begin merk; of ek kon agter die rekenaar inskuif.
Ek sal darem binne oomblikke weet hoeveel van die melksuur ek intussen afgewerk het. Ek moet net eers gou hierdie in die digitale ruimte pos.
Eintlik voel ek skaam of skuldig dat ek so opreg en so diep teleurgestel is.
Teleurgestel is dalk nie eers die regte woord nie, dis erger; dis eerder ontnugter, volslae en volkome ontnugter.
Ek het die volgende baie spesiale fabel van Esopus, baie spesiaal omdat dit die oudste fabel is wat ons vandag het (circa 800 v.C.) in Afrikaans oorvertel:
Die valk en die nagtegaal
Hier is hoe die valk die nagtegaal wat hy styf in sy kloue vasgeknyp het aangespreek het toe hy hoog met haar die wolke ingevlieg het. Terwyl die nagtegaal jammerlik en skril geskree het van die skerp naels wat haar sagte lyfie deurklief het, het die valk magsbehep gesê: “O, jou ellendige skepsel, vir wat babbel jy so klaend? Jy is in die magsgreep van een wat veel sterker as jy is – jy sal gaan waarheen ek ook al met jou wil gaan, selfs al sing jy ook hóé mooi. Jy eindig bes moontlik binnekort my volgende maaltyd op, ás ek dit so wil hê en die gedagte my behaag. Straks besluit ek nog om jou te laat gaan.”
Dis ‘n swaap wat reken hy kan te staan kom teen een wat veel sterker as hy is – hy sal verslaan word, en nie net veel pyn nie, maar ook vernedering lei.
Hesiodus, wat die fabel aangeteken het, is baie spesifiek oor presies watter nagtegaal hier sprake van is, die spikkelkeelnagtegaal.
So wonder ek toe nou hoe lyk ‘n spikkelkeelnagtegaal. Ek, wat nie eers weet hoe lyk ‘n doodgewone nagtegaal nie.
Om die waarheid te sê, van ek my verstand gekry het, weet ek van ‘n nagtegaal eintlik net een ding:daar word gesê dat hy van alle voëls die voël met die mooiste sang is.
Hans Christian Andersen se sprokie rondom die nagtegaal is danksy Klaradyn aan my bekend; ek het dit eers as volwassene leer ken, toe ek sy versamelde sprokies vir haar gekoop het.
Tog weet ek dis in die volksmond die voël met die mooiste sang denkbaar.
Toe besef ek, nie net weet ek nie hoe ‘n nagtegaal lyk nie – ek het nog nooit eers een hoor sing nie!
En dit terwyl ek met ‘n hele paar baie sterk vooropgestelde, hoogsgeromantiseerde, idees rondom ‘n nagtegaal sit:hulle sing in die nag, daarom is hulle nagtegale (wat ‘n gaal dan nou ook al mag wees, hierdie voëls is niédagtegale nie; daar is nie ‘n ander voëlsang wat by hulle kan kers vashou nie; omdat hulle so mooi sing, moet hulle vreeslik mooi wees; hulle is geheimsinnig en moeilik om op te spoor; hulle is groter as ‘n duif, maar kleiner as ‘n kraai.
Waar ek ook 47 jaar hieraan kom weet ek nie, maar dit, en dan die sprokie van Hans Christian Andersen en, ek verbeel my dit is Keats of Wordsworth se Ode to a Nightingale, is al wat ek van die magiese voëls weet.
Hoekom magies? Nee, ek sal nie weet nie, maar daar sal en moet iets magies wees aan voëls wat oor sulke wonderlike kwaliteite beskik.
En toe maak ek die fout om van die internetbiblioteek gebruik te maak, en ek bodder nie eers met ‘n fotosoektog nie, ek val sommer dadelik weg met videogrepe.
Daar kom ek dadelik agter dat my beeld voete van vreeslike nat klei het, ek het my ore my hele lewe lank aan ‘n ouvroustorie uitgeleen – niks, maar niks, wat ek al hierdie jare geglo het, is enigsins waar nie.
Die minste wat ek verwag het, is ‘n videospan wat in die nag werksaam moes wees, iewers in ‘n Europese donker woud. Fout nommer een: die goed sing helderoordag, elkeen van die goedjies wat ek digitaal opgespoor het.
En dan sê ek ook nou goedjies met ‘n rede, want die goedjies is niks anders as goedjies nie – die naaste aan ‘n LBJ/KVV (little brown job/kleinerige vaal voëltjie) wat ek in jare gekom het.
As die maan dalk op een moet val, is die kol moontlik so groot soos ‘n duif, maar sonderdie maan is hierdie voëltjie niks groter as ‘n gemiddelde mossie nie.
En dan nou die dierasietjie se sang:dis mooi, dis baie mooi, maar dis hopeloos oorgeromantiseer. Ek kan aan tientalle Suid-Afrikaanse inheemse voëltjies of somerbesoekers dink, wat enige dag net so mooi, indien nie mooier nie, as hierdie goedjies sing.
Dis duidelik dat die sprokies rondom die geveerde vriendjies in Europa, waar die rykdom aan voëllewe nie naastenby so groot as die skat van Suider-Afrika is nie, ontstaan het.
Verstaan my mooi – dit ís mooi, dit ís lieflik, maar nét so mooi, en nie eers mooier nie, as wat ons in ons eie land het.
Kersvader se klere in die kas, was kleintyd nie so ‘n groot ontnugtering nie.
Ek het die vrouens, pas uit die bad en gereed om bedwaarts te beweeg, nader geroep om te kom luister, en om te kom kyk.
Annieka het reageer, presies soos ek – en dit sonder dat ek haar voorgesê het.
Klaradyn, wat nog nie met meer as 40 jaar se disinformasie en propaganda sit nie, het dit beleef soos sy enige ander soortgelyke voëltjie sou beleef het:dis lieflik en baie spesiaal.
Maar feit bly staan:Oom Paul Kruger of Koning Shaka sou gelag het as ‘n buitelandse gasheer enige een van hierdie voëltjies op ‘n Europese besoek onder hul aandag gebring het as sou dit kwansuis die voëltjie met die mooiste sang ter wêreld wees. Dis nou maar wors.
Na die teleurstelling, toe die verblyding – en ek weet nie wie is die blyste, ek of Klaradyn, nie. Miskien is dit vir een van ons ‘n verblyding; vir die ander ‘n verheugenis. Maar wie, watter woord gaan kies, weet ek ook nie.
Na ons toe verskillende nagtegale uitgekyk en –geluister het, is Mamma, koud en vaak, bed toe. Klaradyn had egter nog speel in haar oor en ons twee sit om die tafel aan vir ‘n potjie UNO Rummy.
Ek en sy het vroeër die middag ook gespeel, en daar, vir die heel eerste keer in haar lewe, op sewe jaar 10 maande, wen sy toe ‘n speletjie van hierdie aard. En dit sonder dat ek haar enigsins doelbewus laat wen het, of agteloos en slorderig van my kant gespeel het.
En daar gaan staan en doen sy dit na besoek aan die internet se nagetgale waaragtig weer ‘n keer! Sy kon trouens, as sy net wakkerder was, ‘n ronde vroeër al uitgespeel het.
Ek het so lank daarna uitgesien om hierdie klas van ding saam met haar te kan speel. Verlede jaar het ons Rummy Cup begin speel en dit het goed gegaan.
Eergister het ek die soortgelyke UNO Rummy uitgekry. Dit verg darem meer strategie en beplanning as gewone Rummy Cup.
Dis nou nie meer lank nie, dan sal die handjies vaardig genoeg wees dat ons nie met teeltjies hoef te speel nie, maar dat sy ‘n gedeelde hand kaarte in haar hande vas kan hou, en, o boetie, dán gaan ons lekker begin speel!
Die kersie op die koek was om met ‘n glasie yskoue melk en ‘n klein ronde sjokoladetjie elkeen na sy eie bed te stap. Ook haar nagtegaalgekwetter daar rondom:“Pappa, daar is darem niks lekkerder as om met ‘n glasie yskoue melk bed toe te kan gaan nie, en dit nog met ‘n sjokoladetjie daarby nie! Lekker slaap en dankie vir die lekker dag. Lief Pappa. Ek wonder wat Liezel more gaan sê as ek haar vertel ek kan nie net UNO speel nie, ek wen al selfs my pa.”
Hier sit ek al die tyd met ‘nnagtegaal onder my eie dak, maar ek weet nie, ek moet dit eers besef na ek dit in die vreemde gaan opsoek het.
Naskrif:
Hierdie tweede video het my herinner aan die keiser se nagtegaal in die Andersen-sprokie.
Om hierdie een se keel dop te hou is 'n voorreg.
Vir my die interessantste egter die verwysing, weliswaar op Wikipedia, dat die woord nightingale al vir 1 000 haar uit Angel-Saksies met ons is.
Dit was vanoggend vir my op ‘n ander manier as gewoonlik lekker om wakker te word, aan te trek en vir opleiding in die stad te gaan. ‘n Maatjie van Klaradyn, en die maatjie se twee sussies, die een jonger as Klaars; die ander ouer, se Pappa het die vorige oggend nie wakker geword nie.
My ingesteldheid, dankbaarheid en waardering was daarom anders as die vorige oggend toe ek moes op en aantrek en infoeter stad toe.
My graad 2-kind het my voorts twee keer ge-SMS terwyl ek met die kursus besig was. Sy het maar hierdie vakansie eers begin BBM en SMS en foto’s aanstuur na mense toe – op Ma se telefoon, natuurlik. Em vandag toe kommunikeer sy oor ‘n afstand heen met haar pa.
Sy weet nie hoe gelukkig sy is nie – ek kan aan drie dogtertjies dink wat wát sal wil gee om net nog een keer vir hul pappa ‘n SMS te kan stuur, maar daardie geleentheid sal hom nooit weer voordoen nie.
Met dieselfde ekstra en anderste gevoel van blydskap en geluk waarmee ek my dag begin het, sluit ek hom dan nou vanaand ook af – maar oor iets anders hierdie keer, as die blote dank en waardering vir die feit dat ek nog in die lewe is.
Die inherente goedheid van die mens, die ekstra spesiale goedheid van party ander mense, is wat die bloed vanaand soos vonkelwyn deur my are stuur.
Dit, en dan nou ook Driesie, A.G. Visser se Driesie, die strandlopertjie, die een van die binneland wat in Maartmaand na die strand kom:
Die strandlopertjie Driesie van die binneland Kom in Maartmaand na die strand - O die koele heerlikheid, O die koninklike tyd! Hy was daar geen week gewees nie Of hy had g'n watervrees nie.
Denkend aan sy water-reg, Raak hy soos 'n groot speld weg. Mammie wis nie beter as Dat hy in die huis nog was; "Maar die stilte is nooit pluis nie: Dries is nooit meer by die huis nie."
Hier gesoek en daar gesoek, Elke draai en elke hoek - Van die soek kom niks tereg: Dries was sommer baie weg! Skrik sy haar nie byna grys nie? Wat maak angs 'n mens nie wys nie!
Byna buite haar verstand Snel sy na die waterkant - "Klaar verdrink en koud soos ys," Maak die duiwel haar al wys; Onderwyl speel hy met sandjies - Witte seesand in sy handjies.
"Dries, jou liefste kleine bees, Waar was jy so lank gewees?" Vra sy met ontroerde stem. "Mammie, ek het gou gaan swem." "Tog nie met jou broek en baadjie? Tog nie met geen enk'le draadjie?
Jy alleen? In vredesnaam!" "Nee, met ander kinders saam." "Watter ander kinders, Dries? Was dit seuns of meisietjies?" "Mammie, ek weet self nie wat nie: Hul't nie kleertjies aangehad nie!" Dis meer as twaalf jaar dat ek na die gedig hunker, seker agtien jaar, as dit nie meer is nie.
Hy het my pad, een keer, in ongeveer 2003, weer gekruis – maar ek het hom laat gaan, en dit was nie lank nie, toe hunker ek weer na hom.
Ek het die gedig die laaste drie jaar of so by herhaling ge-google, maar die sterkste verwysings na die gedig was waar internetgebruikers navraag doen na die woorde van die gedig. En ek het besef ek is nie al een wat na die gedig se bekoring verlang nie.
Ek het die gedig iewers op laerskool memoriseer, dit was nie vir ‘n kunswedstryd of spreekkoor of so iets nie; dit moes suiwer vir die lekker of ter wille van die beoefening van memorisering gewees het.
42 jaar later het ek ongelukkig heelwat grepe vergeet, meer as wat ek aanvanklik vermoed het.
My “hunker na” het toe verlede week omgesit in ‘n “soek na”, ‘n “soek redelik naarstiglik en dringend na.”
Ek wil dat Klaradyn vir die kunswedstryd vertolk – ja, ‘n mens kan deesdae kies watter gedig op prosateks jy vir die kunswedstryd wil doen.
Ek het my “parafrase” van die gedig al so baie met Klaradyn gedeel, dat sy glad nie ongeneë is met die gedagte om hom voor te berei nie.
Maar Pappa het nie die gedig nie. Die plaaslike biblioteek ook nie. En hoe komek by die universiteitsbiblioteek in? En waar en hoe spoor ek die gedig op as ek eers daar in is. Ek was nie eers 100% seker of dit wel A.G. Visser is wat die gedig geskryf het nie.
Nadat ek my telefoonkontrak voor die vierde van die maand bykans uitgeput het, het ek oorgeskakel na SMS’e toe.
Ek het voelers uitgesteek op FB.
Ek is twee keer bure toe dat hulle by hulle ouers kan uitvind. Ek en ‘n oom van in die tahtig het ons grepe vir mekaar oor die foon opgesê, maar ons het altwee geweet dat tyd aan ons onthou gekalwe het, ons ken maar net ten dele.
Ek het universiteitsdosente, die een het ek in 1986 laas gesien, die ander slegs een keer na 1986, opgesoek. Maar tevergeefs.
Toe raak ek desperaat en ek gaan soek onder my vriende se vriende of ek nie daar name van bekendes opspoor wat ek meen strakkies dalk net sal kan help met die woorde van die gedig nie.
Dis voorbarig, dis vermetel, maar die doel heilig die middel.
My geloof in die Afrikaner, maar veel meer as net die taal- en kultuurgroep – eerder my geloof in die ganse mensdom, berus nie meer op geloof nie, my geloof is is vervang met ‘n helder en duidelike seker wete:die mens is goed, die mens is in sy diepste wese veel beter as wat ons ooit kan vermoed.
Dit was nie ‘n uur nie, toe het ek, na al my oproepe en e-posse en SMS’e, vanuit twee oorde die woorde van die gedig wat my so lank nou al ontduik.
En ek wil die mense wat my van geen kant af ken nie by die naam noem – my getuigskrif rondom die goedheid van die mensdom, is immers getuigskrifskrywing wat hulle moontlik gemaak het. Nie een van die twee sal omgee as ek hulle by die naam noem nie. Maar ek sal nie – netnou maak ‘n leser van hierdie blog van hul goedheid misbruik wanneer die betrokke leser geld soek om oorsee te gaan vakansie hou.
Stel jou voor, ‘n wildvreemdeling teister jou via FB met die volgende onaf, kortaf boodskap:
Ek is desperaat. Het hierdie versiemaker nie dalk toegang tot die woorde van die volgende gedig waarna ek 'n geruime tydjie al soek nie:
Klein Driesie van die binneland kom in Maartmaand na die strand, o die koele heerlikheid, o, die koninklike tyd. Hy was daar geen week gewees, of hy raak soos 'n groot speld weg. Hier gesoek en daar gesoek, elke draai en elke hoek, maar Dries is sommer baie weg. ???? ????? Klaar verdrink en koud soos ys, maak sy moeder haar al wys. Denkend aan die water??? snel sy na die waterkant. Onderwyl speel hy met sandjies, sagte seesand in sy handjies. Dries jou liefste stotste bees, waar was jy so lank gewees!????? Was Hulle seuntjies of dogtertjies????? Ek weet nie, hulle het nie kleertjies aangehad nie.
MAAR DIS WAT EK VAN 1971 AF ONTHOU!
Is dit nie vreeslik nie! Ek kry sommer skaam. Maar ek was heeldag weg vir opleiding, ons het vier oorslaapgaste wat kom kuier en ek moet nog kos maak en beddens regskuif. Én dan moet ek nog my kind se kunswedstrydgedig in die hande probeer kry.
So ek stuur die boodskap wat die slegste advertensie denkbaar van myself is.
En dis nie ‘n uur nie, toe het ek dit – ek glimlag van oor tot oor, my kind glimlag van oor tot oor.
Dis eintlik ongelooflik.
Ek is trots daarop om ‘n mens genoem te kan word, ek is nie skaam om mens te wees nie.
My vertroue in ons mense, én my vertroue in onse mense, hierdie dam se eende, is herstel.
Ek het summier weer my google-pad gaan opsoek en die gedig gaan aflaai, daar waar mense na die gedig gevra het, maar dit gaan, in die een geval, so ver terug as 5 jaar gelede.
Baie dankie julle wonderlike mense. Baie dankie ook namens die mense wat ek ook nie ken nie en vanaand die antwoord op baie ou vrae gekry het.
Rk vertrou ek het eendag die voorreg of geleentheid om iets soortgelyks vir iemand anders te beteken as ek deur ‘n wildvreemdeling op FB, of elders, geteister word.
En ek hoop dat elkeen wat hier lees deur my weldoeners inspireer sal wees om hom- of haarself soortgelyk te gedra.