Pages

6.7.12

‘n Groot teleurstelling en nog groter verblyding/verheugenis en dit in een aand

Eintlik voel ek skaam of skuldig dat ek so opreg en so diep teleurgestel is.
Teleurgestel is dalk nie eers die regte woord nie, dis erger; dis eerder ontnugter, volslae en volkome ontnugter.
Ek het die volgende baie spesiale fabel van Esopus, baie spesiaal omdat dit die oudste fabel is wat ons vandag het (circa 800 v.C.) in Afrikaans oorvertel:
Die valk en die nagtegaal
Hier is hoe die valk die nagtegaal wat hy styf in sy kloue vasgeknyp het aangespreek het toe hy hoog met haar die wolke ingevlieg het. Terwyl die nagtegaal jammerlik en skril geskree het van die skerp naels wat haar sagte lyfie deurklief het, het die valk magsbehep gesê: “O, jou ellendige skepsel, vir wat babbel jy so klaend? Jy is in die magsgreep van een wat veel sterker as jy is – jy sal gaan waarheen ek ook al met jou wil gaan, selfs al sing jy ook hóé mooi. Jy eindig bes moontlik binnekort my volgende maaltyd op, ás ek dit so wil hê en die gedagte my behaag. Straks besluit ek nog om jou te laat gaan.”
Dis ‘n swaap wat reken hy kan te staan kom teen een wat veel sterker as hy is – hy sal verslaan word, en nie net veel pyn nie, maar ook vernedering lei.
Hesiodus, wat die fabel aangeteken het, is baie spesifiek oor presies watter nagtegaal hier sprake van is, die spikkelkeelnagtegaal.
So wonder ek toe nou hoe lyk ‘n spikkelkeelnagtegaal. Ek, wat nie eers weet hoe lyk ‘n doodgewone nagtegaal nie.
Om die waarheid te sê, van ek my verstand gekry het, weet ek van ‘n nagtegaal eintlik net een ding:  daar word gesê dat hy van alle voëls die voël met die mooiste sang is.
Hans Christian Andersen se sprokie rondom die nagtegaal is danksy Klaradyn aan my bekend; ek het dit eers as volwassene leer ken, toe ek sy versamelde sprokies vir haar gekoop het.
Tog weet ek dis in die volksmond die voël met die mooiste sang denkbaar.
Toe besef ek, nie net weet ek nie hoe ‘n nagtegaal lyk nie – ek het nog nooit eers een hoor sing nie!
En dit terwyl ek met ‘n hele paar baie sterk vooropgestelde, hoogsgeromantiseerde, idees rondom ‘n nagtegaal sit:  hulle sing in die nag, daarom is hulle nagtegale (wat ‘n gaal dan nou ook al mag wees, hierdie voëls is nié dagtegale nie; daar is nie ‘n ander voëlsang wat by hulle kan kers vashou nie; omdat hulle so mooi sing, moet hulle vreeslik mooi wees; hulle is geheimsinnig en moeilik om op te spoor; hulle is groter as ‘n duif, maar kleiner as ‘n kraai.
Waar ek ook 47 jaar hieraan kom weet ek nie, maar dit, en dan die sprokie van Hans Christian Andersen en, ek verbeel my dit is Keats of Wordsworth se Ode to a Nightingale, is al wat ek van die magiese voëls weet.
Hoekom magies? Nee, ek sal nie weet nie, maar daar sal en moet iets magies wees aan voëls wat oor sulke wonderlike kwaliteite beskik.
En toe maak ek die fout om van die internetbiblioteek gebruik te maak, en ek bodder nie eers met ‘n fotosoektog nie, ek val sommer dadelik weg met videogrepe.
Daar kom ek dadelik agter dat my beeld voete van vreeslike nat klei het, ek het my ore my hele lewe lank aan ‘n ouvroustorie uitgeleen – niks, maar niks, wat ek al hierdie jare geglo het, is enigsins waar nie.
Die minste wat ek verwag het, is ‘n videospan wat in die nag werksaam moes wees, iewers in ‘n Europese donker woud. Fout nommer een: die goed sing helderoordag, elkeen van die goedjies wat ek digitaal opgespoor het.
En dan sê ek ook nou goedjies met ‘n rede, want die goedjies is niks anders as goedjies nie – die naaste aan ‘n LBJ/KVV (little brown job/kleinerige vaal voëltjie) wat ek in jare gekom het.
As die maan dalk op een moet val, is die kol moontlik so groot soos ‘n duif, maar sonder  die maan is hierdie voëltjie niks groter as ‘n gemiddelde mossie nie.
En dan nou die dierasietjie se sang:  dis mooi, dis baie mooi, maar dis hopeloos oorgeromantiseer. Ek kan aan tientalle Suid-Afrikaanse inheemse voëltjies of somerbesoekers dink, wat enige dag net so mooi, indien nie mooier nie, as hierdie goedjies sing.
Dis duidelik dat die sprokies rondom die geveerde vriendjies in Europa, waar die rykdom aan voëllewe nie naastenby so groot as die skat van Suider-Afrika is nie, ontstaan het.
Verstaan my mooi – dit ís mooi, dit ís lieflik, maar nét so mooi, en nie eers mooier nie, as wat ons in ons eie land het.
Kersvader se klere in die kas, was kleintyd nie so ‘n groot ontnugtering nie.
Ek het die vrouens, pas uit die bad en gereed om bedwaarts te beweeg, nader geroep om te kom luister, en om te kom kyk.
Annieka het reageer, presies soos ek – en dit sonder dat ek haar voorgesê het.
Klaradyn, wat nog nie met meer as 40 jaar se disinformasie en propaganda sit nie, het dit beleef soos sy enige ander soortgelyke voëltjie sou beleef het:  dis lieflik en baie spesiaal.
Maar feit bly staan:  Oom Paul Kruger of Koning Shaka sou gelag het as ‘n buitelandse gasheer enige een van hierdie voëltjies op ‘n Europese besoek onder hul aandag gebring het as sou dit kwansuis die voëltjie met die mooiste sang ter wêreld wees. Dis nou maar wors.
Na die teleurstelling, toe die verblyding – en ek weet nie wie is die blyste, ek of Klaradyn, nie. Miskien is dit vir een van ons ‘n verblyding; vir die ander ‘n verheugenis. Maar wie, watter woord gaan kies, weet ek ook nie.
Na ons toe verskillende nagtegale uitgekyk en –geluister het, is Mamma, koud en vaak, bed toe. Klaradyn had egter nog speel in haar oor en ons twee sit om die tafel aan vir ‘n potjie UNO Rummy.
Ek en sy het vroeër die middag ook gespeel, en daar, vir die heel eerste keer in haar lewe, op sewe jaar 10 maande, wen sy toe ‘n speletjie van hierdie aard. En dit sonder dat ek haar enigsins doelbewus laat wen het, of agteloos en slorderig van my kant gespeel het.
En daar gaan staan en doen sy dit na besoek aan die internet se nagetgale waaragtig weer ‘n keer! Sy kon trouens, as sy net wakkerder was, ‘n ronde vroeër al uitgespeel het.
Ek het so lank daarna uitgesien om hierdie klas van ding saam met haar te kan speel. Verlede jaar het ons Rummy Cup begin speel en dit het goed gegaan.
Eergister het ek die soortgelyke UNO Rummy uitgekry. Dit verg darem meer strategie en beplanning as gewone Rummy Cup.
Dis nou nie meer lank nie, dan sal die handjies vaardig genoeg wees dat ons nie met teeltjies hoef te speel nie, maar dat sy ‘n gedeelde hand kaarte in haar hande vas kan hou, en, o boetie, dán gaan ons lekker begin speel!
Die kersie op die koek was om met ‘n glasie yskoue melk en ‘n klein ronde sjokoladetjie elkeen na sy eie bed te stap. Ook haar nagtegaalgekwetter daar rondom:  “Pappa, daar is darem niks lekkerder as om met ‘n glasie yskoue melk bed toe te kan gaan nie, en dit nog met ‘n sjokoladetjie daarby nie! Lekker slaap en dankie vir die lekker dag. Lief Pappa. Ek wonder wat Liezel more gaan sê as ek haar vertel ek kan nie net UNO speel nie, ek wen al selfs my pa.”
Hier sit ek al die tyd met ‘n  nagtegaal onder my eie dak, maar ek weet nie, ek moet dit eers besef na ek dit in die vreemde gaan opsoek het.

Naskrif:



Hierdie tweede video het my herinner aan die keiser se nagtegaal in die Andersen-sprokie.


Om hierdie een se keel dop te hou is 'n voorreg.

Vir my die interessantste egter die verwysing, weliswaar op Wikipedia, dat die woord nightingale al vir 1 000 haar uit Angel-Saksies met ons is.

3.7.12

Eureka


Dit was vanoggend vir my op ‘n ander manier as gewoonlik lekker om wakker te word, aan te trek en vir opleiding in die stad te gaan. ‘n Maatjie van Klaradyn, en die maatjie se twee sussies, die een jonger as Klaars; die ander ouer, se Pappa het die vorige oggend nie wakker geword nie.
My ingesteldheid, dankbaarheid en waardering was daarom anders as die vorige oggend toe ek moes op en aantrek en infoeter stad toe.
My graad 2-kind het my voorts twee keer ge-SMS terwyl ek met die kursus besig was. Sy het maar hierdie vakansie eers begin BBM en SMS en foto’s aanstuur na mense toe – op Ma se telefoon, natuurlik. Em vandag toe kommunikeer sy oor ‘n afstand heen met haar pa.
Sy weet nie hoe gelukkig sy is nie – ek kan aan drie dogtertjies dink wat wát sal wil gee om net nog een keer vir hul pappa ‘n SMS te kan stuur, maar daardie geleentheid sal hom nooit weer voordoen nie.
Met dieselfde ekstra en anderste gevoel van blydskap en geluk waarmee ek my dag begin het, sluit ek hom dan nou vanaand ook af – maar oor iets anders hierdie keer, as die blote dank en waardering vir die feit dat ek nog in die lewe is.
Die inherente goedheid van die mens, die ekstra spesiale goedheid van party ander mense, is wat die bloed vanaand soos vonkelwyn deur my are stuur.
Dit, en dan nou ook Driesie, A.G. Visser se Driesie, die strandlopertjie, die een  van die binneland wat in Maartmaand na die strand kom:
Die strandlopertjie
Driesie van die binneland
Kom in Maartmaand na die strand -
O die koele heerlikheid,
O die koninklike tyd!
Hy was daar geen week gewees nie
Of hy had g'n watervrees nie.

Denkend aan sy water-reg,
Raak hy soos 'n groot speld weg.
Mammie wis nie beter as
Dat hy in die huis nog was;
"Maar die stilte is nooit pluis nie:
Dries is nooit meer by die huis nie."

Hier gesoek en daar gesoek,
Elke draai en elke hoek -
Van die soek kom niks tereg:
Dries was sommer baie weg!
Skrik sy haar nie byna grys nie?
Wat maak angs 'n mens nie wys nie!

Byna buite haar verstand
Snel sy na die waterkant -
"Klaar verdrink en koud soos ys,"
Maak die duiwel haar al wys;
Onderwyl speel hy met sandjies -
Witte seesand in sy handjies.

"Dries, jou liefste kleine bees,
Waar was jy so lank gewees?"
Vra sy met ontroerde stem.
"Mammie, ek het gou gaan swem."
"Tog nie met jou broek en baadjie?
Tog nie met geen enk'le draadjie?

Jy alleen? In vredesnaam!"
"Nee, met ander kinders saam."
"Watter ander kinders, Dries?
Was dit seuns of meisietjies?"
"Mammie, ek weet self nie wat nie:
Hul't nie kleertjies aangehad nie!"

Dis meer as twaalf jaar dat ek na die gedig hunker, seker agtien jaar, as dit nie meer is nie.
Hy het my pad, een keer, in ongeveer 2003, weer gekruis – maar ek het hom laat gaan, en dit was nie lank nie, toe hunker ek weer na hom.
Ek het die gedig die laaste drie jaar of so by herhaling ge-google, maar die sterkste verwysings na die gedig was waar internetgebruikers navraag doen na die woorde van die gedig. En ek het besef ek is nie al een wat na die gedig se bekoring verlang nie.
Ek het die gedig iewers op laerskool memoriseer, dit was nie vir ‘n kunswedstryd of spreekkoor of so iets nie; dit moes suiwer vir die lekker of ter wille van die beoefening  van memorisering gewees het.
42 jaar later het ek ongelukkig heelwat grepe vergeet, meer as wat ek aanvanklik vermoed het.
My “hunker na” het toe verlede week omgesit in ‘n “soek na”, ‘n “soek redelik naarstiglik en dringend na.”
Ek wil dat Klaradyn vir die kunswedstryd vertolk – ja, ‘n mens kan deesdae kies watter gedig op prosateks jy vir die kunswedstryd wil doen.
Ek het my “parafrase” van die gedig al so baie met Klaradyn gedeel, dat sy glad nie ongeneë is met die gedagte om hom voor te berei nie.
Maar Pappa het nie die gedig nie. Die plaaslike biblioteek ook nie. En hoe kom  ek by die universiteitsbiblioteek in? En waar en hoe spoor ek die gedig op as ek eers daar in is. Ek was nie eers 100% seker of dit wel A.G. Visser is wat die gedig geskryf het nie.
Nadat ek my telefoonkontrak voor die vierde van die maand bykans uitgeput het, het ek oorgeskakel na SMS’e toe.
Ek het voelers uitgesteek op FB.
Ek is twee keer bure toe dat hulle by hulle ouers kan uitvind. Ek en ‘n oom van in die tahtig het ons grepe vir mekaar oor die foon opgesê, maar ons het altwee geweet dat tyd aan ons onthou gekalwe het, ons ken maar net ten dele.
Ek het universiteitsdosente, die een het ek in 1986 laas gesien, die ander slegs een keer na 1986, opgesoek. Maar tevergeefs.
Toe raak ek desperaat en ek gaan soek onder my vriende se vriende of ek nie daar name van bekendes opspoor wat ek meen strakkies dalk net sal kan help met die woorde van die gedig nie.
Dis voorbarig, dis vermetel, maar die doel heilig die middel.
My geloof in die Afrikaner, maar veel meer as net die taal- en kultuurgroep – eerder my geloof in die ganse mensdom, berus nie meer op geloof nie, my geloof is is vervang met ‘n helder en duidelike seker wete:  die mens is goed, die mens is in sy diepste wese veel beter as wat ons ooit kan vermoed.
Dit was nie ‘n uur nie, toe het ek, na al my oproepe en e-posse en SMS’e, vanuit twee oorde die woorde van die gedig wat my so lank nou al ontduik.
En ek wil die mense wat my van geen kant af ken nie by die naam noem – my getuigskrif rondom die goedheid van die mensdom, is immers getuigskrifskrywing wat hulle moontlik gemaak het. Nie een van die twee sal omgee as ek hulle by die naam noem nie. Maar ek sal nie – netnou maak ‘n leser van hierdie blog van hul goedheid misbruik wanneer die betrokke leser geld soek om oorsee te gaan vakansie hou.
Stel jou voor, ‘n wildvreemdeling teister jou via FB met die volgende onaf, kortaf boodskap:
Ek is desperaat. Het hierdie versiemaker nie dalk toegang tot die woorde van die volgende gedig waarna ek 'n geruime tydjie al soek nie:

Klein Driesie van die binneland
kom in Maartmaand na die strand,
o die koele heerlikheid,
o, die koninklike tyd.
Hy was daar geen week gewees,
of hy raak soos 'n groot speld weg.
Hier gesoek en daar gesoek,
elke draai en elke hoek,
maar Dries is sommer baie weg. ????
?????
Klaar verdrink en koud soos ys,
maak sy moeder haar al wys.
Denkend aan die water???
snel sy na die waterkant.
Onderwyl speel hy met sandjies,
sagte seesand in sy handjies.
Dries jou liefste stotste bees,
waar was jy so lank gewees!?????
Was Hulle seuntjies of dogtertjies?????
Ek weet nie, hulle het nie kleertjies aangehad nie.
MAAR DIS WAT EK VAN 1971 AF ONTHOU!
Is dit nie vreeslik nie! Ek kry sommer skaam. Maar ek was heeldag weg vir opleiding, ons het vier oorslaapgaste wat kom kuier en ek moet nog kos maak en beddens regskuif. Én dan moet ek nog my kind se kunswedstrydgedig in die hande probeer kry.
So ek stuur die boodskap wat die slegste advertensie denkbaar van myself is.
En dis nie ‘n uur nie, toe het ek dit – ek glimlag van oor tot oor, my kind glimlag van oor tot oor.
Dis eintlik ongelooflik.
Ek is trots daarop om ‘n mens genoem te kan word, ek is nie skaam om mens te wees nie.
My vertroue in ons mense, én my vertroue in onse mense, hierdie dam se eende, is herstel.
Ek het summier weer my google-pad gaan opsoek en die gedig gaan aflaai, daar waar mense na die gedig gevra het, maar dit gaan, in die een geval, so ver terug as 5 jaar gelede.
Baie dankie julle wonderlike mense. Baie dankie ook namens die mense wat ek ook nie ken nie en vanaand die antwoord op baie ou vrae gekry het.
Rk vertrou ek het eendag die voorreg of geleentheid om iets soortgelyks vir iemand anders te beteken as ek deur ‘n wildvreemdeling op FB, of elders, geteister word.
En ek hoop dat elkeen wat hier lees deur my weldoeners inspireer sal wees om hom- of haarself soortgelyk te gedra.

21.6.12

Wednesdays with Klarie

Dis wraggies ook darem maar nie maklik om 'n pa te wil wees nie.
Maar ai, dis so lekker!
Neem nou maar vanmiddag.
Ek was op die punt om te begin lees aan al die geykte uitlatings wat daar al rondom die belangrikheid en/of lekkerte van die klein dingetjies gemaak is. toe drie dinge gelyk gebeur:
(1)  Ek kyk hoe mooi my dogter lyk in die klere wat sy na ons huiswerk gedoen het,
      gaan aantrek het.
(2)  Sy sê:  “Dis Woensdag. Ek het kuns. Drieuur.”
(3)  Die koekoek koek luidkeels dat dit sopas drieuur is.
En hier sit ek, my skoene nog onder die tafel waar ons gewerk het, in my kouse, gedas en geserp voor die kunsklas in die motor en tik.
Kunsdag was twee jaar my dag, en daar was nooit probleme nie, maar vanjaar is dit Annieka se dag, meer as die helfte van die jaar nou al.
Maar vroulief is toe onder die werk en ek is nie net die gelukkige wenner van kunsdag nie, ek het elke dag hierdie week pasella gekry.
Nie dat ek omgee nie.
Dis net dat ek glad nie sal omgee as dinge soos kunsklas ons net so klein knertsie vroeër kan byval.
Maar dan moet ek seker ook nie kla nie – gelukkig het dit ons bygeval. Die een ander Woensdag hierdie jaar wat ek Klaradyn buite die gewone roetine op ‘n kunsdag onder my vlerk had, het die twee van ons eers 17:30 die agtermiddag onthou, en dit eers toe Mamma huis toe kom en vra hoe kunsklas was.
So ek kla nie – die adrenalien en hol op soek na motorsleutels was trouens net nog ‘n ekstra lekkerte van ons middag saam.
Ja, ek weet die meeste ouers ontwikkel gou ‘n probleem daarmee, maar ek is een van die ouers (daar is beslis nog ouers in dieselfde situasie as ek en Annieka) wat ‘n probleem daarmee het dat my kind vir die eerste sewe skooljare, nooit, nooit-ooit, nie eers een elke skooldagoggend, in ons huis, aan die tafel wat ek vir haar gedek het, ontbyt wat ek vir haar voorberei het, sal eet nie.
Waar sommige ouers teen middel graad 2 al effe keelvol is vir roereiers maak, krapperig raak oor kinders wat hul neus optrek vir ‘n sekere soort ontbytpap, of nie meer kan wag dat die kinders groot genoeg word om hul eie ontbyt te maak nie, is ek die teenmoorgestelde:  daardie wonderlike voorreg om ‘n beker melk oor die tafel vir jou kind aan te gee, om agter haar te staan en ‘n perfekte eier in haar bord te skep, was my nog nooit beskore nie.
En ek voorsien ook nie dat dit sommer voor graad 8 die geval sal wees nie.
By die skool het ek haar nog net twee keer gaan aflaai.
En die kere wat ek haar in drie jaar na skool by die klas gaan optel, tel ek steeds op een hand.
En dis hoekom ek op soek was na die verskillende maniere waarop ons mense al die gedagte kwyt geraak het dat die grootste lekkerte in die kleinste van klein dingetjies lê.
Iewers het iemand besluit dat die skool vandag en more (knap voor die skool vir die wintervakansie sluit) nie 13:00, soos in eksamen die geval is, uitkom nie, maar 12:00.
En tradisioneel  ek nou nie ‘n arbeider wat opgewonde raak oor ‘n uurtjie hierdie kant of daardie kant toe nie.
Die meeste mense was vanmiddag teen 12:10 al in die motors en weg, toe ek teen 12:30 skielik een en een bymekaar sit en besef:  Dis my middag om Klaradyn te neem, dis 12:30 en ek kan betyds wees om haar by die skool op te tel.
Ek bel Ouma summier en sê haar om tog asseblief nie gestamp te voel omdat sy nie vanmiddag haar kleinkind kan gaan optel nie, maar haar skoonseun gaan vandag sy eie kind by die skool op tel. En basta met die res.
En toe wag ek saam met die ander oumas, oupas, mammas en pappas van 12:40 af vir die skool se sekuriteitswag om die tennishek (waar ons ingaan) oop te sluit.
Die vorige, en ook maar net derde keer in twee jaar, wat ek haar gaan optel het, was twee weke gelede. Maar dit was nie so lekker soos vandag nie – ek het aan die gesels raak met verlede jaar se juffrou toe sien my kind my sonder dat ek haar sien; vandag het ek haar dopgehou toe sy en haar maatjie by die klas uitkom, kon ek die  verrassing en blydskap oor haar gedig sien sprei toe sy my gewaar – en was ek beter daarop voorberei toe sy haar tas neergooi, op my afstorm en in my arms spring!
(Dis hoekom ek niks na Vadersdag geskryf het nie – ek het elke dag Vadersdag!)
Geen keiser kon so goed gevoel het om in ‘n straat af te ry, soos ek vanmiddag met Klaradyn saam met my in die kar nie.
Onthou – ek sien nie eers my kind skoolklere nie. Ons laai haar soggens in pajamas by ouma af; vanmiddag is sy in speelklere as ek haar weer sien. So selfs om my dogter in haar winterskooldrag te sien, is ‘n belewenis wat hom slegs met hoogste uitsondering voordoen.
En daar beweeg ons deur die middag in perfekte sinchronisasie, asof ons op dieselfde golflengte ingestel is. In ‘n stadium, toe iets uitsonderliks vir ‘n oomblik in die apteek voor ons afspeel, het ek, toe ons eers weer buite is, net nodig om te vra,
“het jy...” en sy antwoord, “ja, ek het.” En ons altwee kry lag by die besef van hoe ons kommunikasie verloop.
My magtig – dis soos om verlief te wees: ons hoef nie eers in volsinne te praat nie, ons ken mekaar se gedagtes!
Ek voel ‘n rukkie later weliswaar soos ‘n propperse Dragon Daddy as ek 100 somme in Excel vir haar voorberei, maar swel darem as sy 97% uitmerk. Mamma sal trots op ons wees.
En so vergeet ons amper van die kuns en ek begin hierdie skrywe in die motor sonder skoene aan my gekouse voete.
Selfs die terugry, na kuns, is spesiaal. Die kunsjuffrou deel propperse borrelgom aan die einde van bykans elke les uit. Dis iets wat Klaradyn nooit by my of Annieka kry nie; daarom koester sy dit des te meer.
En daar raak ek op 47 na afloop van die les skoon jaloers op my 7-jarige dogter:  die kind blaas so waar as waaragtig groter en stewiger borrelgomborrels as wat haar pa in sy ganse lewe ooit gedroom het om te kon geblaas het!
Maar ek dink nie die fout lê by my nie – tegnologie en voedselwetenskap het so vooruitgegaan sedert ek so oud soos sy was, dat ek seker is vandag se borrelgom is net soveel meer elasties as die goed wat ons destyds geken het.
Intussen, na die silwer randjie van die agtermiddag ‘n reuse donker wolk rondom aandete gekry het en ek besluit het dat haar ouma haar maar more kan optel – ek gaan fliek, kom ek agter dat ek dit wat ek wou oordra, al in die verlede by herhaling aansienlik korter tuis gebring is.
En ek wou vertaal, maar daai wolk is so donker dat die lus nou uitgedoof is.
As we become curators of our own contentment on the Simple Abundance path... we learn to savor the small with a grateful heart.
Breathnach, Sarah Ban
Once I planned to write a book of poems entirely about the things in my pocket. But I found it would be too long; and the age of the great epics is past.
Chesterton, Gilbert
The happiness of life is made up of minute fractions -- the little soon forgotten charities of a kiss or smile, a kind look, a heartfelt compliment, and the countless infinitesimal of pleasurable and genial feeling.
Samuel Taylor
It has long been an axiom of mine that the little things are infinitely the most important.
Doyle, Sir Arthur Conan
For the person for whom small things do not exist, the great is not great.
Gasset, Jose Ortega Y
Life is made up of small pleasures. Happiness is made up of those tiny successes. The big ones come too infrequently. And if you don't collect all these tiny successes, the big ones don't really mean anything.
Lear, Norman
We can not do great things. We can only do little things with great love.
Mother Teresa
The thing that goes the farthest towards making life worth while, That costs the least, and does the most, is just a pleasant smile.
Nesbit, Wilbur D.
It isn't the big pleasures that count the most; it's making a great deal out of the little ones.
Webster, Jean
In plaas van vertaal, moet ek eerder aanhalings gaan soek wat klippe kan word om daai donderwolk rondom die aandete mee te bestook.
Hulle sê moes van ‘n huweliksverhouding:  Love is blind, but marriage soon restores the sight.
Nou van die liefde tussen ‘n ouer en sy kind wil en kan ek uit ervaring sê:  Ouerliefde mag blind wees, maar gelukkig is aandete gewaarborg om die gebrek aan sig baie gou, 100%, te genees.
Wat genadiglik darem daarby ook waar is, is:  aandete vat straks die blindheid weg, maar los darem gelukkig die liefde heeltemal uit, dit bly net so sterk staan.
Lief jou my skat. En jou ook, Mamma
Lekker slaap, girls.

PS: Toe ons haar vanoggend wakker sing met "more sluit die skole, Juffrou word gebore, in 'n blikkie bonde, sonder kop en tone, onder die peisangbome," toe vermurme my hart en verdwyn al wat wolk nog is of was natuurlik soos mis voor die son en ek herinner haar daaraan om vanmiddag op die uitkyk te wees vir my.

19.6.12

In liefdevolle herinnering aan Stanislavski en Tannie Joe se kombuis

Gisteraand was toe nou, wat die aandete betref, ‘n perfekte 50/50:  daar was my gunsteling sop vir hoofgereg, Portugese hoendersop, en Annieka kon vir poeding in haar gunsteling, melkkos, weglê. Klaradyn was egter al een wat hierdie vreemde trefferkombinasie van ‘n ete 50/50, al om die helfte, geëet het.
Ek en Annieka het dit in die verhouding 70:30 baasgeraak. Selfs 80:20.
Die versoeking was groot om amptelik aan te kondig dat elkeen aan die tafel ‘n maaltyd van sy keuse kan saamstel. Maar toe weet ek, wat Klaradyn  betref, sal dit wees soos om ‘n eerstespanrugbyspeler te laat kies tussen rugby en koor. Daar is mos nie ‘n manier nie, nie ‘n geringe kans, dat sy nie haar gunsteling sop sal prysgee vir melkkos nie!
En ons het immers gaste gehad – Sondagaand én Maandagaand, oorslaapgaste.
En dis waar die vreemde kombinasie van sop en melkkos vandaan kom – van ons gaste af; die sop was beplan vir Sondagaand, die melkkos in die pyplyn vir Maandagaand.
En terwyl ek Sondagmiddag met liefdevolle ywer en toewyding my hele self in die maak van die sop gooi, oorval ‘n ongekende nostalgie my.
Dan natuurlik ook nie die nostalgie opsigself wat ongekend is nie, maar die onberekenbare diepte, omvang en reikwydte daarvan.
‘n Vriendskap wat 30 jaar gelede sy oorsprong had, is immers wat ons huis in die gereedheidshouding vir gaste gehad het. (En ja, dis nie heeltemal 30 jaar nie, 29 om presies en meer as net polities korrek te wees, maar 30 klink net soveel langer as iets so beuselagtig soos 29.)
So terwyl ek ‘n opgekookte hoender se vleis en bene in twee duidelike hopies kry, loop my gedagtes ver en lieflike paaie terug. Te veel, te ver, en die spore te diep om hier te noem.
Maar elke keer, alle paaie lei mos maar Rome toe, eindig ek op in ‘n kombuis in Potjiesdorp. Tannie Joe se kombuis. Louise se ma se kombuis.
Dis ‘n studiegroepbyeenkoms, ‘n baie ernstige studiegroep se baie ernstiger studiebyeenkoms.
Daar word more Toneelkunde geskryf. Of Drama.
Party van ons is voor die boeke aan opsommings maak. Iewers sal ook ‘n tikmasjien wees, tien teen een ‘n eietydse Olympus, of so iets; beslis nie ‘n romantiese Underwood Portable nie. Dit was die dae voor persoonlike rekenaars, maar die Bib is oop tot laat en wat ons nie vanaand fotostateer nie, kan nog altyd more gedoen word.
Want eintlik skryf ons eers more aand.
En die dag is nog lank.
Sien, eintlik is ons hier vir Louise se plaatkoekies. Plaatkoekies met stroop en kaas, Marmite, konfyt, noem maar op.
Dit was beslis nie ‘n geheime, geslagte lange resep nie.
Tien teen een die tradisionele Kook en Geniet.
Dit was ook nie ‘n spesiale pan, gasstoof of iets soortgelyks nie.
Ek dink dit was suiwer Louise wat een aand voorgestel het om by hulle huis te gaan plaatkoekies bak.
En toe is dit ‘n lekker aand.
En toe doen ons dit weer.
En weer.
En nog ‘n keer.
Toe raak dit soorts van ‘n tradisie, ‘n ritueel. ‘n Lieflike, heerlike slegte gewoonte.
En nou kan ek 30 jaar later steeds nie aan Konstantin Stanislavski, Laban, of enige groot gees van die verhoog of syverhoog dink, sonder om nie aan Louise se plaatkoekies, die stemme, die musiek, die gemeensaamheid, die algemene white noise in die kombuis en om die tafel te dink nie.
Ook toe nou mooi op daardie punt toe ek myself so oor die hoender staan en verbeel ek ruik nie net die plaatkoekies nie, ek hoor en sien selfs vir Spyker, Lettie, Ian, Antoinette en wie ook al saam kom leer het, dat ek die pot sop amptelik moerland toe stuur en wonder of ons alles het vir ‘n ordentlike baksel plaatkoekies.
Ek het ‘n pan wat my ma seker 60 jaar gelede spesiaal deur ‘n ystersmid vir haar laat maak het – spesiaal vir plaatkoekies. In my ganse lewe het ek my ma niks anders op daardie plaat sien maak nie.
Tussen my pan, Louise se know how en Annieka en Klaradyn se voorliefde vir enige iets met stroop, kan dit mos net ‘n genoeglike aandjie uitdraai.
Daar wil ek toe sommer ‘n traan pik toe ek Louise vra of sy dan nie vir ons plaatkoekies wil bak nie.
Stomme vrou – sy het nou net amper 4 ure gery om hier te kom, sy wat net rustige plattelandse kronkelpaaie deur lowergroen woude ken, en hier steek ek haar, knap na sy met Gauteng se verkeersnetwerke en ander roekelose opeenhopings gekonfronteer is, in die werk om vir ons plaatkoekies te maak.
Ons moet natuurlik ook eers weer uit om die “kondimente” uit te brei:  Bovril, appelkooskonfyt, kaas, stroop, regte botter. (As ek die Engelse no way sopas hier bo kon nie ‘n manier nie kan ek seker maar iets soos kondimente ook skep.)
Maar Louise het in geen jare plaatkoekies gebak nie. Dis al ‘n hele klompie jare dat sy vra of die kinders dan nie lus is vir plaatkoekies nie. En as hulle “ja” sê, dan stuur sy een van hulle om te gaan bak.
Maar, ai, mense, daar bak die vrou vir ons die allerkoninklikste van koninklike plaatkoekies. Elkeen ‘n kunswerk op sy eie, ‘n meesterstuk, nie net wat kleur en geur betref nie, maar ook tekstuur, en vorm, en elke denkbare kullinêre kwaliteit betref.
En daar stel die vrou ons toe bekend aan iets wat nooit in my lewe sou oorweeg het nie – ‘n ongewone, trefferkombinasie van Bovril en Appelkooskonfyt. Ek het die kaas-en-heuning-goedjies ingeryg asof dit uit die mode gaan gaan. En toe ek net mooi knuppel-trommel-dik is, toe dog ek laat ek dan maar een van die vrou se lawwe konkoksies probeer, net sodat sy nie in die gesig gevat voel nie. Ai, en daar vreet ek my ‘n tweede keer, trommel-knuppel-dikker nog as ronde een.
Louise is hier weg met ‘n laaste herinnering dat ons tog nie moet vergeet die kombinasie is van plaatkoekies afhanklik nie; dit werk glo net so goed op roosterbrood.
En roosterbrood is hoeka net ‘n kortkoppie agter plaatkoekies.
Danksy on trip down memory lane en die verbreding van my verwysingsraamwerk om nou ‘n nuwe soet-en-sout-kombinasie in te sluit, is ek nou eintlik spyt ons is straks nie eerskomende Sondag by die huis nie, want hier in Petoorsdorp sit drie Moolmantjies slaggereed om ‘n nuwe Sondagaand-plaatkoekie-tradisie van stapel te stuur.

7.6.12

Obsessiewe kompulsiewe neuroses

Iemand kom waar ek in die skool se ops-kamer sit en werk in en sing met oorgawe, daardie liedjie waarmee twee geslagte Afrikaanse kinders grootgeword het:

Iemand het 'n lappop op 'n ashoop weggegooi,
Sy was gedaan en stukkend, verbleik en nie meer mooi nie.

Op die ashoop hoor sy stemme praat
en die verwelkom haar,
maar o, ellende, toe sy kyk, wat sien die lappop daar:

net 'n vrot pampoen en 'n stukkende skoen,
'n grammefoonplaat en 'n kous sonder maat,
net 'n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier,
'n gelapte binneband en 'n ou koerant.

Ag, hoe droewig voel die lappop, toe sy alleen daar lê,
want sy weet dat niemand ooit vir haar, vir lappop, meer wil hê nie.
'n Traan loop oor haar lappopwang, want dit begin te reën,
en daar lê sy, sy ou lappoppie, op die ashoop so alleen.

Net 'n vrot pampoen en 'n stukkend skoen,
'n grammefoonplaat en 'n kous sonder maat,
net 'n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier,
'n gelapte binneband en 'n ou koerant.

“Ag, nee wat,” sê die lappop, “ek soek 'n ander oord.
Wat sal die wêreld van my dink, want soort jy weet, soek soort.”
Ag, wil, almal wil vir lappop troos en soebat sy moet bly,
hulle sê dis die mooiste ashoop die, wat 'n mens nog ooit kan kry —

Net 'n vrot pampoen en 'n stukkend skoen,
'n grammefoonplaat en 'n kous sonder maat,
net 'n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier,
'n gelapte binneband en 'n ou koerant.

Al die goeters op die ashoop hou gou vergadering
en besluit om lappop te bekroon as die ashoop koningin.
Van toe af bly die lappoppie so trots tevrede daar
en al haar onderdane bedien getrou vir haar...

Ja,  'n vrot pampoen en 'n stukkend skoen,
'n grammefoonplaat en 'n kous sonder maat,
net 'n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier,
'n gelapte binneband en 'n ou koerant.

Ai, mense, en vat dit my nie jare der jare terug nie.



Ja, daar is die tweede, jonger, geslag wat dink dat Die Lappop een van Tannie Carike se liedjies is. En dan praat ek nie van die outjies Klaradyn se ouderdom nie, daar is selfs youngster kollegas wat nie weet van wie ek praat as ek van Doris Brasch en Dawie Couzyn praat nie.

Vir ons was dit Tannie Doris Brasch. Sy het maar eers jare later sommer net Doris Brasch geword. En dit maak verder sin, toe ek eers ontdek hierdie vrou is net ‘n jaar na my ma gebore, 1929. En almal jou ma se ouderdom was daardie jare ‘n tannie, of hulle dit nou so wou hê of nie.

Ja, Doris Brasch is op 19 September 1929 gebore. Ek sal weet, want ek het gaan soek en uitvind. Sy is vroeg vanjaar op 82 oorlede.


Want dis mos nou maar hoe dit is, na die kollega eers die saadjie van die liedjie in my kop geplant het, toe skiet hy wortel. Dis nie drie minute later nie, toe sing ek van die vrot pampoen en die stukkende skoen, en twee van die mense wat rondom my werk, laat val ook dat daardie liedjie nou in hulle koppe draai.

Die liedjie draai in my kop, terwyl my kop ‘n draai gaan maak iewers in die baie vroeë 70’s van die vorige eeu. Ek was in graad 1 of 2 en Tannie Doris Brasch het in ons skoolsaal ‘n konsert kom hou – haar kinderliedjies. Ek onthou, wat daardie aand betref, nie van die mier wat besig is, die olifant of die eskimo nie – ek onthou net my gunsteling – Die Lappop.

So daar is ek toe nou weer op laerskool. Wat ‘n onskuldige, liewe naiewe kindertyd! Op ‘n Woensdag het Pa saans van die werk gekom en vir jou ‘n Groovy-koeldrank (die eerste koeldrank ooit in Suid-Afrika om in ‘n blikkie bemark te word) huis toe gebring.

En op ‘n ander aand is ons skool toe en het ons Lappop gaan luister.

Maar miskien was dit in die dag. Want saam met Doris Brasch kom ‘n ander naam by my op:  André Boje. Hy was ‘n kragman, ‘n baie sterk man. En ons is in die donker uit die saal uit en daar het hy, in die steen vierkant langs die saal, ‘n motor met sy bobene opgelig. Of miskien het sy vrou dit gedoen... En hy het die ding met sy tande, of sy nek, getrek. Ek kan nie onthou nie, ek praat van ‘n goeie 40 jaar gelede. Maar die naam “Andre Boje” onthou ek soos gister.

Ek het een van my André-maatjies (André Krogh) toe voortaan André Boje genoem.

Dis seker 30 jaar dat die naam nie deur my kop gegaan het nie. Maar op die maat van die has been pop wat nie die ingrypende veranderinge in haar lewe kan verwerk nie, word ek toe nou weer aan Andre Boje en sy vrou ook blootgestel. (Daar is inderdaad ‘n Andre Boje in Suid-Afrika, maar ek gaan nie die moeite doen om hom te teister en te vra of sy pa die Suid-Afrikaanse kragman van die jare sewemntig was nie.)

En so vat die Lappop my ook standerd 1 toe:  ek en Riaan en Hannelie het vir dae aaneen koerante in klein snippers geskeur, sakke en sakke vol, ek verbeel my selfs ‘n hele kamer vol. Ons het ‘n ogiesdraad-skoen gehad waarin Hannelie kon pas, en hierdie ogiesdraad-skoen, en nog etlike ander rekwisiete en stukke ogiesdraaddekor, is toe met papierpap toe ge-paper-maché. Ons het die skoen bloedrooi geverf en Hannelie was daardie jaar die bloedrooi stukkende skoen in haar jaargroep se item op daardie jaar se laerskoolkonsert. O, dit was mooi! Die grammefoonplaat was nie baie suksesvol nie – ‘n stomme kind moes homself staan maak tussen twee reuse swart geverfde Mariebeskuitjies, aan die een kant het die twee skywe ontmoet, maar aan die ander kant het dit oopgegaap sodat die kind hom- of haarself daarin kon wig..

Hannelie was toe in graad 2 en ek wou vreeslik graag ook in graad 2 wees, al was ek toe al in standerd 1, nét om iets op die ashoop te kan wees.

Ek was ongelukkig klaar 'n jaar ouer en 'n simpel boom in ons standerd 1-item.


My standerd 1-klasjuffrou was my beste maatjies, Riaan en Hannelie, se mamma. By hulle aan huis was dit ure en ure se papierpap aanplak en nog langer se verf – en in die stam was ‘n oop ogiesdraad stukkie sirkel waardeur ek met beperkte ogiesdraad-visie na buite kon loer. Maar niemand kon my sien nie, hulle kon net my stem hoor.

Ek verbeel my darem ek kon vir die amptelike foto agter die boom uitbeweeg en langs die bloody ding kom staan.

Ek sou “Veldsman” wou wees –‘n ander André-maatjie (André Taljaard) was “Veldsman” en ek was vreeslik jaloers op sy rol. Hy het oor die verhoog beweeg en mooi plaasboer-klere gehad om aan te trek, ook ‘n hoed en ‘n kierie! (Naas ‘n rolstoel, is daar vir ‘n kind niks lekkerder as ‘n kierie om op ‘n verhoog mee te speel nie.)

Ek en André het mekaar verlede jaar weer op FB raakgeloop. Miskien moet ek die feit dat ek destyds groen van jaloesie was na al hierdie jare aan hom loop bely.

En my kind? Nee, sy is ‘n sensitiewe een. Amper soos die meisietjie in een van PG du Plessis se Ko-operasie-stories, die een wat een mooi dag kan hóór hoe die boom wat die munisipaliteit in die pad afkap, huil met elke hou van ‘n byl wat hom tref.

Sy hou nie van die liedjie nie, en sy luister nie die liedjie. Ek dink nie eers haar nek was al mooi styf of haar fontanel heeltemal toegegroei nie, toe kom ons eendag in Ouma-hulle se televisiekamer op haar in die bank voor Tannie Carike se DVD af – en die trane stroom in stilte oor haar wange af, van al die baie opgehoopte hope  hartseer in hierdie liedjie van die lappop.


Fotobron op Wikimedia Commons

Ek wonder hoe sal sy eendag reageer op daardie ander lappop wat ons in Afrikaans het, Ingrid se lappop, in 1956 opgeneem in haar bundel Ontvlugting:

Lied van die lappop

Ek is die lappop wat nie praat
en maak net op jou liefde staat

Saans lê ek blind en stil en doof
en lig nie meer my semel-hoof

My hande roer nie en my lyf
word met jou weggaan koud en styf

Sonder jou hulp kan ek nie loop:
jy het my sommerso gekoop

en sal my nog een Guy Fawkes-nag
goedmoeds verbrand en daaroor lag.

Ek is die lappop sonder gees
My pyn jou luid gevierde fees.

Status update

Pappa kom naas sy brood en botter, wat gelukkig vir hom ook lekker is, nie uit by die ander dinge, soos Pappa-Mamma-en-Klaars, wat vir hom net so lekker is nie. Selfs die fabels wat hy pos, is al van lankal af in die gereedheidshouding, hy moet net onthou en so ver kom om die publish-knoppie te druk.  
En moenie vir een oomblik dink ek hou my koppie laag en my neus in vraestelle nie – dit moet wag vir die vakansie. Ek’s besig met verrykingsmateriaal vir onnies en ander buitekurrikulêre goedjies (wat eintlik monsteragtige goeterstes is).
Klaars, aan die ander kant, het gelukkig nog die luukse om by ander goedjies behalwe skoolwerk uit te kom. En is haar pa nie trots op haar nie!