Pages

14.5.12

Kinderdag, Seundag


Dit was dan nou my eerste Moedersdag as weeskind.
My eie kind en haar moeder het my dag so vol lekkerte en liefde gehad, dat ek nie tyd en geleentheid had om enige krane en trane oop te wil draai nie.
Ek het in aanloop tot ons gesinnetjie se Moedersdag in elk geval geweet, wat ek al die jare weet: Moedersdag is net nog ‘n geldmaakdag, ek gaan nie Sondag vir Judy liewer wees as wat ek die vorige Maandag was nie. Onse ouers is onse ouers en ons is vir hulle lief, dwars deur die jaar, die hele jaar deur, elke dag.
En tog het ‘n tikkie weemoedigheid my wel ‘n rukkie gelede oorval toe ek, sommer van lawwigheid en nie van koue nie, vir Klaradyn ‘n warmwatersak vir die nag voorberei.
Sy het gekla haar voete kry kwansuis snags koud – my voete sou ook as ek myself alnag en heelnag oopgeskop het. Maar dit daargelaat. Feit bly staan, ek het myself teen slapenstyd betrap dat ek soos Judy al die jare, vir ‘n ketel wag om te kook sodat ek die rubbersak met groot omsigtigheid gereed vir die bed te kry.
Hoeveel keer het ek nie in my lewe vir my mammie kookwater in haar warmwatersak gegooi nie! Hoeveel meer kere het ek haar dit nie self sien doen nie!
“As jou voete warm is, is jou hele lyf warm.” Hoeveel keer het ek haar dit nie hoor sê nie!
En toe ek vanaand ongeduldig wag vir Klaradyn se water om te kook, toe sien ek weer my ma geduldig voor die ketel wag dat sy haar bottel kan vol maak. Ek beleef in my geestesoog die sorg en presisie waarmee sy die water ingooi en seker maak die prop is dig gesluit. (Eintlik met ‘n tikkie trots dat ek dit doen, oor ek haar dit nadoen, en oor haar goeie voorbeeld en sy so ‘n goeie leermeester was.)
Haar stiltetyd het sy saans in die sitkamer gehou, soms by kerslig. Maar Bybel het sy nie gelees nie – die Bybel was vir haar te moeilik om te verstaan, het sy altyd graag gesê. Al wat sy had, was haar geloof en gebed. Al wat sy nodig had, was geloof en gebed.
Ek het, toe die vryer vertaling van die Bybel, Die Boodskap, op die mark gekom het, vir haar een jaar vir haar verjaarsdag – dalk selfs ‘n Moedersdag vir al wat ek weet – ‘n kopie gekoop. Sy het ‘n besoek of wat verder steeds ge-oe en ge-aa, maar toe ook stil geraak en Die Boodskap het stil op die kassie langs haar bed bly staan.
Die Bybel en baie van wat sy daarin lees, het haar geloof net om- en deurmekaar gekrap, sy kon en het daarsonder klaargekom. (Miskien oor sy die Liefde had, en dit opsigselwers klaar genoegsaam was.)
Sy het nie haar gebede in haar gedagtes gedink nie, nee, sy het dit saggies gepraat, elke woord en sin met haar asem en artikulasieorgane gevorm. As ons, hier later jare en laaste jare voor hulle ouetehuis toe is, saans by hulle aan huis oornag het, kon ons altyd hóór sy bid.
Wat sy te sê had, kon ons natuurlik nie hoor nie; dit was ‘n dowwe geprewel, soos toegeweide nonne met stringe gebedskrale doen.
Nie dat ons ooit nodig had om te hoor wat sy vir die Here te sê had nie, ek weet eintlik van ek aan my verstand gekom het, wat sy aand na aand op haar hart had:  dank oor haar kinders en die afbid van die Here se beskerming oor hulle. Het sy iets vir haarself gevra, sou dit net een ding wees en dit is dat die Here haar moet behoed en bewaar sodat sy na haar kinders kan omsien en daar kan wees om vir hulle iets te beteken.
En dan, wintermaande, as sy klaar gebid en die kers uitgeblaas het, het sy die kombuislig aangesit en haar warmwatersak vir die bed voorberei.
Aand na aand.
Het sy hier by ons aan huis kom kuier, het ek haar bederf met die maak van die sak.
Want het sy gereis, dan was dit met die warmwatersak.
‘n Elektriese kombers hét sy gehad, hier teen die einde, die laaste vyftien jaar of so, voor sy ouetehuis toe is. Maar sy het nooit vat gekry aan die ding nie. Miskien oor sy bang was vir die ding. Miskien oor sy gedink het dis te luuks en spandabelrig, ek weet nie.
Toe ek op hoërskool was, had sy wel so ‘n elektriese velletjie, die grootte van ‘n kleinerige kussingslopie, waarmee sy haar voete, soos met ‘n warmwatersak, verwarm het. En dit was vir haar genoeg – as jou voete warm is, is jou hele lyf warm.
Maar niks kon naby haar warmwatersak kom nie.
En daar kry Klaradyn toe ‘n week of wat gelede een present.
En dis eers toe ek hom vanaand vir haar vol maak, en ek staan daar voor die ketel, soos my oorlede mammie, dat ek besef hoe baie ek my ma mis, hoe baie daar van, en rondom, en omtrent, my ma is, wat ek mis, en nooit weer gaan hê nie.
My broer ook. Ons het vandag gepraat en oor en weer gepraat oor hoe dit gaan. Maar Moedersdag nie aangeroer nie, selfs al het dit in stilte kliphard en luid tussen ons gesprek gelê.
As ek net ‘n agste van die ouer wat my ma vir my was, vir Klaradyn kan wees... Dán sal ek weet dat daar op hierdie aardbol nie nóg ‘n kind met so ‘n goeie ouer soos my en Annieka se kind, ons kind is nie.
Dit maak my en my broer natuurlik die gelukkigste twee seuns wat nog ooit met hul voete op die aarde getrap het.
Wat ons gedoen het, om dit te verdien, sal ek nooit weet nie, maar ek weet dat dit ons met ‘n moerse verantwoordelikheid los: om die voorbeeld wat aan ons gestel is, na te volg.
En maklik is dit nie. My broer probeer al jare; ek die laaste sowat agt.
Maar wat ‘n voorreg.
Dankie Ma, Mamma, Moeksie, Juds, Judy, Judsy, Joerie, Mammie, Ou Vrou, Ou Lady, en (as Klaradyn nie naby is om te hoor nie) ander Enigste-Dierbaarste-Engelhart-Skat.
Ek het dit al baie gedink, maar nog nooit hardop bely nie:
Partykeer wens ek regtig daar is ‘n hemel presies soos ek my dit as kind voorgestel het: jy staan daar, iewers op ‘n wolkie, langs Pa, en julle hou ons wat tydelik hier op aarde agtergebly het, dop, julle luister ons af en hou ons elke beweging dop.
Dan sou ek goed gevoel het, want dan sou ek geweet het, jy weet hoe ons voel, hoe ons jou mis en hoe ons jou eer.
En al is jy nie hier om ‘n gelukkige Moedersdag met ons te kon deel nie, het jou twee seuns steeds ‘n baie gelukkige Kinderdag, Seunsdag gehad, en dit alles danksy jou.
Gelukkige Moedersgag Ou Vrou, ons is lief vir jou.

6.5.12

Vrydagaand se sop




‘n Mens maak nogal ‘n lekker ertjiesop (en as dit nie vir jou lekker is nie, sal jy ten minste met my moet saamstem dat dit ‘n lekker dik ertjiesop is) van 18 kleinerige blikkies ingelegde ertjies, gemeng met so 4 blikkies melk, ‘n blokkie of wat ekstrak en heelwat snippers spekvleis.

Ons het sowat ‘n week gelede heerlike ertjiesop aan huis by vriende geniet en hierdie gasvrou se heerlike ertjiesop het my by die gedagte gebring  om my ertjiesop, nie van gedroogde groen erte nie, maar van blikkies ingelegde ertjies te maak.

Saam met haar, eintlik ook seker C. Louis Leipoldt wat moet pa staan vir die lekker dik sop waarvan ek seker nog genoeg vir ‘n weermag in die yskas het.

En dan het dit niks met sy Kos vir die kenner  of Polfyntjies vir die proe, of enige van die drie ander Leipoldt-kookboeke wat ek op die rak het, te doen nie; dis die man se empatie met die Boerevolk en die veel nader kennismaking met die Anglo-Boereoorlog as wat ek en my generasie ooit sal kan hê, wat die sop vandag in die Moolmans  se yskas het.

Hy gaan skryf toe mos nou destyds  Die ou blikkie, een van die baie gedigte wat hedendaagse lesers lankal nie meer lees nie, nie net omdat hulle twee en drie en meer geslagte, en meer as 110 jaar, van die Anglo-Boereoorlog verwyder is nie, maar ook omdat dit daarom so ouderwets, so oudmodies uit de oude doos, en so sielswroegend en so lank is:

Die ou Blikkie.

Wat is die ding, wat jy daar hou?
Wat droom jy oor 'n blikkie, vrou?
'n Armsalige ou blikkie?
Wat is die ding tog nou vir jou?

"Ek wil hom skoonmaak, dat hy blink
Soos silwer in die sonskyn: dink,
Die armsalige ou blikkie,
Daaruit het Gert en Griet gedrink.

"Ek wil hom met die grond hier vul,
Hier, waar die suring bloei so gul,
Die armsalige ou blikkie:
Miskien kan ek my droefnis kul.

“Ek wil daarin 'n plantjie plant,
Wat groei aan Griet haar graf se kant:
Die armsalige ou blikkie,
Was vasgeklem in Griet haar hand.

"As ek so in die sonskyn sit,
So blou die hemel bo, so wit
Die armsalige ou blikkie,
Dan droom ek weer oor dat en dit:

"Ons konsentrasiekamp is daar;
Die oorlog word ek weer gewaar—
Ag, armsalige ou blikkie,
Waarom het God ons nie gespaar?

"Was Gert en Griet nie heel my hart?
Die plaas is afgebrand en swart—
En jy, armsalige ou blikkie,
Herinner my nog aan my smart.

"Ons kan die plaas weer opbou: ja,
Jan het al geld op leen gevra;
Maar, armsalige ou blikkie,
Kan Gert en Griet my ooit weer pla?

"Daar in die konsentrasiekamp,
Daar in ons aaklig oorlogsdamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Daar is hul lewe uitgestamp!"

Vergeet, wat jy gely het, vrou:
Ons is weer vredevrinde nou!
Die armsalige ou blikkie,
Wat is die ding tog nog vir jou?

"Dit laat my dink aan Gert en Griet:
Al is dit 'n gebroke riet,
Die armsalige ou blikkie
Is anker teen my sielsverdriet.

"Die plantjie, wat hierin sal groei,
Sal elke jaar opnuut weer bloei,
Ag, armsalige ou blikkie,
Al is my trane opgeskroei;

"Want ek het nog 'n traan gespaar,
Nog 'n paar sugte opgegaar,
Om, armsalige ou blikkie,
Jou plantjie veilig te bewaar.

"As ek vanaand my kers uitblaas,
Dan werp die maan 'n silwerwaas
Oor jou, armsalige ou blikkie,
En oor ons afgebrande plaas.

"Ek luister; en dit skyn vir my,
Klein Gert is weer hier aan my sy,
By jou, armsalige ou blikkie,
Om weer 'n slukkie melk te kry;

"En Grietjie staan daar by die deur—
Ja, kyk, haar voorskoot is verskeur!
Ag, armsalige ou blikkie,
Hoe kan ek eensaam wees en treur?

"Die dood het albei weggehaal;
Ons plaas is afgebrand en vaal;
Maar, armsalige ou blikkie,
My hart is nog nie net so kaal.

"Solank jy op die vensterbank
Hier by my staan, so skoon en blank,
Kan ek, armsalige ou blikkie,
Nog stil wees en vir God nog dank,

"Dat Hy, toe daardie oorlogsdamp
My kinders al twee in die kamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Die lewe so het uitgestamp,

"Nog in my hart het hoop gegee,
Dat ek bedaard was in my wee,
Ag, armsalige ou blikkie,
Te dink, ek sien hul weer, al twee!

"Met jou het Griet en Gert gespeel,
En ek het nog in jou 'n deel;
Ag, armsalige ou blikkie,
Laat ek my maar nog iets verbeel!

"Verbeelding — dit is alles nou,
Wat ek nog het: laat my dit hou!
Ag, armsalige ou blikkie,
Jy is my anker teen die rou!"

Maar kom ons so ver om wel deur die gedig te lees, en verby die styl en manier van doen, die digterlike vryhede, argaïsmes en rymdwang, wat ons lankal nie meer in gedigte ken nie, kyk, dan is daar beswaarlik ‘n leser wat nie aan die hart gegryp word deur die storie en gebeure wat in die gedig afspeel en opgeroep word nie.

En alhoewel Klaradyn gaan tafel dek en  roereiers maak het om haar Junior Kok-kenteken te verwerf, was daar ‘n ander Voortrekkers-graadgroep wat ‘n eerste kennismaking met die Anglo-Boereoorlog moes hê en ek is toe gevra om rondom die poësie wat die oorlog opgelewer het, ‘n inset te lewer.

Ek het nog op skool kennis gemaak met Leipoldt se Aan ‘n seepkissie, Dis al deur Jan F. E. Cilliers, en Totius se Vergewe en vergeet. Maar nadat ek ‘n jaar of wat gelede al met onderwysowerheidsweë langs aangespreek is omdat ek nog gestruktureerd en geroetineerd een maal ‘n week met my graad 8’s en 9’s ‘n poësieperiode op die rooster het, ‘n poësieperiode waarin ek hulle gedigte en van gedigte leer, het ek vermoed my graad 4’s gaan nie een van die gedigte ken nie en ek kan hulle aan al vier bekend stel.

Ek was reg. Maar onderwys Suid-Afrika het my stoutste verwagtinge oortref:  ons is nou amper soos Engeland wat lankal reeds die ganske Anglo-Boeroorlog uit hul skoolkinders se geskiedenishandboeke uitgeskryf het, die kinders leer nie juis meer van die ABO nie, hulle leer op laerskool trouens niks meer van die ABO nie.

Maar dit daar gelaat.

Ons het vandag die internet wat die geskiedenis soveel makliker toegankliker maak. Ek het op skool nie geweet hoe lyk so ‘n seepkissie waarmee Leipoldt destyds in gesprek getree het nie:


Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier in ons land as 'n doodkis te dien;
Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.

Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Het hier in die kamp met sy sussie gekom—
En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,
Daar oorkant in England, as doodkis vir hom!

Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;
Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,
Was hy maar drie weke, en toe—was hy dood!

Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,
Hy het in sy speletjies met jou gespeel;
Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,
So blink as sy strale, as goud so geel.

Op die Vrydagmôre, onthou jy, kissie?
Het Tannie gesê: "Ag, klein Jannie die hoes!"
En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,
Was Jannie se lewe al half verwoes.

Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,
Gedra na sy tent as 'n doodkis daar!
Die wit gesiggie—jy weet, seepkissie,
Die handjies gevou en gekruis oormekaar.

Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier vir ons kinders as doodkis te dien:
Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.

Nou se dae kan 'n mens sommer ‘n stuk of agt of nege van die goed vir die kinders wys.


Twee van die meeloper-mammas of spankapteins het my na die tyd kom geluk wens en dankie sê vir die feit dat hulle Dis al nou vir die eerste keer, sedert skooldae kan insien en verstaan. En dan is daar so min om in te sien of te verstaan. En hierdie min is al wat daar is.

Ek het so gesoek na ‘n afbeelding van die bekende skets wat ek in 1989 by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkunde Navorsingsmuseum?) op Bloemfontein gekoop het. Dit beeld die banneling by sy vrou se graf uit, iewers in die agtergrond die murasie van die afgebrande plaasopstal en ook die voël iewers bo in vlug. Maar hoofsaaklik net veld en lug, die blond en die blou. Ek kon dit nêrens opspoor nie.


Dis al

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en 'n voël draai bowe in eensame vlug -
dis al

Dis ‘n balling gekom
oor die oseaan,
dis ‘n graf in die gras,
dis ‘n vallende traan -
dis al

Ek is oortuig daarvan dat Vergewe en vergeet my eerste blootstelling aan beeldspraak en allegorie was, ons sou seker net die woord simbolies gebruik het om die verwysing na die doringboompie en die ossewa te ontsluit:



Vergewe en vergeet

Daar het 'n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.


En eendag kom daarlanges
'n osseswa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.


"Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap."


Die ossewa verdwyn weer
agter 'n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.


Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.


Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.


Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.


Ook het die loop van jare
die wonde weggewis-
net een plek bly 'n teken
wat onuitwisbaar is.


Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.


Daar was drie ander mede-aanbieders van die dag se program. In die ou dae kon ek glo is so ‘n program miskien aangewend om haat teen die Engelse aan te blaas, die hele Voortrekkersbeweging is immers in die opbloei van Afrikaner nasionalisme gebore, die ABO het die beweging name soos penkoppe en verkenners gegee om na van die lede te verwys. Maar ek het niks hiervan in die 10 ure wat ons die kinders besig gehou het, by enige een van hulle opgetel nie.

Toe ek in 1989 begin skoolhou het, kon ek dit dadelik sien, vandag, in 2012 kan ek dit steeds duidelik op skool sien: die leerders wat Voortrekkers is het ‘n iets positiefs, ‘n iets sterks, ‘n tikkie selfvertroue en anderse leierskapsontwikkeling wat hulle van die res onderskei.

En dis hoekom ek Klaradyn daar het – dit doen die kinders goed. Miskien was dit jare terug ‘n propagandamasjien; ek kry beslis nie die idee dit is vandag meer so nie.

Ek het hoendervleis gekry, gister, by die aanskoue van die ontwikkelingsgeleenthede wat die kinders geniet het, en hoe hulle dit aangegryp het. Daardie outjies het geleenthede geoes terwyl ander kinders, dieselfde ouderdom en saam met hulle op skool, se lande nog braak lê.

Klaradyn se kenteken het aangehou tot 14:00, ons het deurgedruk tot 18:00. Ek dink ek was gisteraand voor haar aan die slaap. Toe Mamma terugkom van die koor, het ek nie eers wakker geword nie.

En vandag kan ek ook maar ontspan: die middagete, aandete en Maandagoggend se ontbyt staan immers klaar gemaak in die yskas - heerlike ertjiesop.

2.5.12

Oor Tiddalik, die rooiborsduif, 'n reier en my kind wat soos 'n blommekind lyk







Dis geen wat wafferse foto’s nie, maar dit was die wat wafferste van wat wafferste naweke ooit gewees.
Ons het by die huis gebly en die lekkerste Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies denkbaar gehad.
Annieka het ons in ‘n stadium, sommer so op die bank onderbreek, miskien het sy haarself in die rede geval, maar sy het ons stil gemaak en ons aandag gekry om te kan sê, iets soos: “Ek is so bang ek gaan skielik dood van die een of ander iets en dan weet julle dit nie, en julle moet dit weet – die Pappa-Mamma-en-Klaars-tye wat ons so saam het, is die lekkerste tye in my hele lewe.”
Ek en Klaradyn het ge-knoop-en-doop (soos julle kan sien): 6 langmou frokkies en 6 langonderbroeke.
Ons het dit seker so drie of vier jaar gelede ook gedoen – maar daarin sal sy nooit weer kan pas nie. Sy dra dit vir pajamas en huis-speel-sleg-wees-pakkies. In die wildtuin ry ons daarin rond.
Nou sit ons met drie pienk en pers stelletjies, en drie geel en oranje stelle.
Ek het haar soggens, nes ek haar uiteindelik soorts van wakker gewikkel en gesukkel het, irriteer met Breytenbach, en in in stadium selfs die hele gedig in die bed vir die twee dames met gevoel voorgehou:


Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so bruin op jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos 'n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos 'n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van die vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
Maar eintlik was dit net om die kind wakker te speel en genoegsaam te irriteer dat sy aan die beweeg kan kom. En toe raak dit ‘n speletjie wat elke oggend herhaal het.
Ek het die fabels wat ek vertaal het, voorgelees en verduidelik. Toevallig kon ek die volgende eenvoudige enetjie, twee keer hierdie naweek inspan om iets vir Klaradyn te illustreer:

Die kat en die reier

Ons moet almal poog om soos die reier te wees wat met ‘n paling in haar bek oppad was om haar kuikens te gaan voed.

ʼn Kat het hierdie reier met haar prooi opgemerk. Dan weet ons almal ‘n kat het ‘n besonderse voorliefde vir vis, maar hou net mooi niks daarvan om selfs net sy voete nat te kry nie. So toe sê die kat vir die reier: “O, jou skoonste van skone beeldskones, het jy nie mooiste van mooi snawel en fynste van fyn vere nie. Kan dit wees dat jou snawel van binne net so mooi is soos van buite?” Maar, gedagtig aan die vis in haar bek, het die reier net geweier om op die vleitaal te reageer. Dit het die muis- en rottevanger opgeklits en hy het begin om die reier te beledig: “Maar is jy dan doof of net sommer dof en onnosel! Want vir wat antwoord jy my nie! Jy wat partykeer slange moet vreet, slange wat liederlik en vieslik vreeslik giftig is. Ordentlike diere vreet ordentlike goed, maar nie jy nie, jy hou jou op met onrein diere. Dit maak jou die onreinste van onrein diere in die ganske skepping!” Maar die reier het niks gesê nie – sy het aangehou stap met die paling in haar bek.

Dan is daar nog iets wat ek wil aanhaal wat ons elke dag hierdie naweek besig gehou het. As dit egter vir joute lank is, spring tot die einde waar die allermooiste van die naweek se allermooiste aangeteken is.

Sien, ons het die naweek ook ‘n stukkie prosa vir die kunswedstryd geleer. Ons weet nog nie eers of dit geskik is of nie... maar nou ken sy dit al. En dit is soos Langenhoven gesê het:  Die mooiweer sal jou nie beskadig omdat jy jou reënjas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

My voorstel was dat ons Tiddalik se storie vertel. Ons het twee Afrikaanse vertellings in die huis (iewers is ‘n derde, maar ek kon dit nie opspoor nie), en toe ons nie kon besluit watter een om te neem nie, toe kombineer ons die twee.
Klaradyn sal nou moet wegval met iets soos: Ek doen vir u die storie van die sandpadda soos oorvertel deur myself, my pa, Piet Grobler en nog iemand wie se naam ek nie nou onthou nie.
Dis oorspronklik ‘n Australiese storie uit die Aborigéne-kultuur wat van mededeelsaamheid en samewerking en omgewingsbewaring vertel. Ons, en Piet Grobler en ander, het die storie Afrika toe gebring:
Sandpadda is dors. Hy gaan toe na ‘n watergat om sy dors te les. Hy gloek-gloek en hy gloek-gloek en hy gloek-gloek. En hoe meer hy gloek-gloek, hoe groter word hy. Hy gloek-gloek so baie, dat hy die hele watergat leeg gloek-gloek.
Rooikat, Renoster en Ratel kla. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Hy kom toe af op ‘n rivierpoel. Hy shloep-shloep en hy shloep-shloep en hy shloep-shloep. En hoe meer hy shloep-shloep, hoe groter word hy. Hy shloep-shloep so baie, dat hy die hele klein vlei leeg shloep-shloep.
Die paddas, platannas en waterskilpaaie kla. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Hy kom toe af op ‘n meer. En jy kan raai wat toe gebeur? Hy shloep-gloek en hy shloep-gloek en hy shloep-gloek. En hoe meer hy shloep-gloek, hoe groter word hy. Hy shloep-gloek so baie, dat hy die hele meer leeg shloep-gloek.
Die tiervisse, palings en babers bons op die klipperige bodem rond. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig! Nie vir dors nie, maar om van te leef!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Riviere en mere en stroompies:  shloes-shloes, gorrel-gorrel, shlap-shlap.
Moerasse, damme en spruitjies:  shloes-shloes, gorrel-gorrel, shlap-shlap.
Sandpadda drink al die water op – totdat daar nêrens meer water oor is nie. Teen daardie tyd is hy so geweldig groot, dat die enigste plek waar hy kan gaan sit , op die kruin van ‘n groot berg is.
Die ander diere is baie kwaad.
“Ek sal hom krap met my naels,” sê Leeu, “as hy kwaak van die pyn, sal al die water uitstroom.”
Maar dit gebeur nie, al is Sandpadda nou enorm, is hy nog steeds rats, en hy duik met ‘n boog uit die pad van Leeu se krapperige kloue.
Verkleurmannetjie het ‘n vriendeliker plan: “Ek en Sandpadda is albei lief vir ‘n sappige vliegie te ete. Ek sal enetjie vang en voor sy bek rondswaai. As hy hap van die honger, sal die water uitstroom.”
Maar Sandpadda is knuppeldik. Hy is glad nie lus vir die kleinste ou happie nie, en Verkleurmannetjie moet die vliegie maar self opeet.
Krokodil se plan is slinks. “Ek sal ‘n verhaal vertel van duisende klein paddatjies wat deur ‘n kwaai krokodil opgevreet is. As hy huil van die hartseer, sal die water uitstroom.”
Maar dit alles help niks. Padda hoor niks. Hy kyk nie eers na krokodil nie.
“Ek sal hom regsien,” sê Kraai. “Ek sal hom beledig en verneder en sy naam beswadder. En as hy sy bek oopmaak om terug te skel, sal die water uitstroom.”
Kraai swets en laster, maar Sandpadda vind dit gewoon vervelig. Hy raak selfs aan die slaap.
Die palingsusters raak bekommerd. “As die modder heeltemal opdroog, sal ons doodgaan,” sê hulle. “Sandpadda kom drink gereeld by ons poele water – ons sal sy sake vir hom werk.”
Heen en weer seil die glibberige susters oor sy dikke lyf. Hulle glip en gly by sy maag op , om en om sy nek en woerts weer af by sy rug.
En dit is só kielierig. Eers rittel en wikkel hy, toe giggel en snork en proes hy – en toe hy dit glad nie meer kan hou nie, toe KWAAAAAK hy van die lag.
Die water spuit en stroom en spoel en skuim by sy keelgat uit.
So hard lag Sandpadda, en so sterk is die stroom water, dat hy sy bek nie weer toe kan kry nie voordat die laaste druppel nie ook uitgeloop het nie.
Die meer loop vol, die damme en riviere en spruite en strome loop weer vol. Daar is selfs ‘n paar druppels oor vir Sandpadda en die palingsusters se gunstelingpoel.
Die res van die diere is almal weer gelukkig en tevrede.
Net Sandpadda hop effe hartseer huis toe. Hy is weer klein en eintlik skaam dat hy so gulsig was. Hy waag dit nie weer om sy gesig voor die ander te wys nie.
En dit is hoekom, tot vandag toe nog, sandpaddas die hele dag in die sand wegkruip, en net snags in die water gaan speel en rinkink.

Die storie waarmee ons wegval, eindig met die padda wat met spiese raakgegooi word en dan hop hy seer weg huis toe. Daarvoor het ek nie kan gesien nie.
Die storie waarop die tweede helfte grotendeels berus, is meer getrou aan die oorspronklike waar die palings die padda laat lag. Sy begin was egter nie so patroonmatig (en gevolglik maklik om te memoriseer) nie.
Nou volg ons die een met dieselfde gedagte wat drie keer vertel word en het ons die uitdaging dat dit elke keer dieselfde moet klink. (Dis nou as die tannie sê die storie is reg.)
Na so ‘n literêre naweek is dit te verstane dat die kind ook literêr sal wil raak. En toe ek in ‘n stadium in die kamer kom, toe kry ek die volgende, wat my seker nog eendag in trane sal hê, op my bed aan:



Waar die Protea vandaan kom, weet ek nie. Annieka sê dis die oggend geteken. En toe vind sy dit die aand goed genoeg om ons woorde van die naweek te deel.

En toe gaan sy aan en skep haar eie gedig, uit my mond, aan haar. Dis haar eie vergelykings en gedagtes:



27.4.12

Tandarts toe en terug

Op wie, of waarop, ek die trotsste is, weet ek nie:  my kind, my oordeelsvermoë, of die oudleerling van 1991.
Van die drie het George seker die meeste bekendstelling nodig. Dis my tandarts nie, maar nie sommer net my tandarts nie – een van die oulikste, slimste en kreatiefste kinders vir wie ek nog ooit skool gehou het.
So oulik, slim en kreatief, dat toe die jong man homself klaar as tandarts bekwaam het, ek die vrymoedigheid en volslae vertroue gehad het om by sy spreekkamer in te stap en my bek wyd oop te rek.
Ek kan my vir al die geld in die wêreld nie indink dat ‘n onderwyser na ‘n oudleerling van hom sal gaan dat dié in sy smoel loer nie, maar met my is dit anders, of met George.
Annieka was ook al daar, maar toe sy een jaar krisis had, was George se stoel beset en sy moes en sy moes noodgedwonge op die vennoot se stoel plaas neem – en daar kliek sy en dié man so goed dat sy skoon spyt was toe haar behandeling wat oor etlike afsprake gestrek het, ten einde loop. Sindsdien was sy nog nooit weer by George nie, maar elke keer by dieselfde praktyk.
Klaradyn het ek vroeg-vroeg al saam met my geneem, net sodat sy kan agterkom dat omie-tandartse eintlik nie sulke slegte ervarings gaan wees soos sy later op skool gaan leer nie.
Klaradyn se melktande is baie jonger as enige van haar portuur s’n. Ek wou laterhand plate van die kind se mond laat neem om te kyk of daar wel enigsins melktande op pad is, so lank moes ons wag vir die eerste een om te sny.
Waarom die wit jong mieliepitjies so lank op hulle laat wag het, sal ek nie weet nie, maar so traag soos wat hulle was, so voor-op-die-wa en haastig is die permanente stel. En nou is daar botsende belange – want die melktandjies is nog stewig in hul setels, dan is daar klaar nuwe aanspraakmakers op hul staanplek en troontjies.
Haasbek, was my kind dan ook eintlik omtrent nog nooit – want waar ‘n tand uiteindelik loskom en uitval, is die ander een lankal reeds in plek.
So toe die woord monster deur ‘n pa se gedagtes begin flits, elke keer as hy in sy kind se mond kyk, toe is dit ek wat saam met haar saamsleep tandarts toe.
En sy ken Oom George, en sy is hoogstens skrikkerig oor die nuwe ervaring van self in die stoel sit, maar geensins bang nie. Sy is natuurlik toe ook al in graad R en in kontak met talle bangmaakstories gewees.
Vriendelike, kindervriendelike, dierbare Oom George se uitgangspunt was dat ons een van twee dinge kan doen – ons kan inspring en tande trek en haar in die proses lewenslank van tandartse vervreem, of ons kan dat haar mond sy eie gang gaan en ingryp wanneer dit noodsaaklik is, maar sy ook effe ouer. As ortodonsie nodig gaan wees, gaan dit nodig wees, of hy nou trek, of later, of nooit nie. Van die permanente tande wat van koers af opgeskiet het oor die melktande in hul plek was, sal in plek beweeg, maar nie noodwendig 100% nie.
So vat ons haar ‘n tweede keer, Mamma gaan natuurlik elke keer saam, Oom George werk lieflik met haar en Klaradyn werk nog liefliker saam. Maar Oom George hou voet by stuk – geen aktiewe bemoeienis is in daardie stadium nodig nie, ons moet 6 maande wag en weer kom kuier.
En toe gebeur twee goed, ek leer die graad 11’s wat nie verlede jaar by my in graad 10 was nie, hoe ek wil hê dat hulle ‘n opstel moet benader, en Klaradyn sit met ‘n tand wat voortydig wil sny waar daar onder die son geen maar geen plek vir hom is nie – waar hy moet uit, kan hy nie – daar sit ‘n melktand in sy plek en dié klou vir die lewe; na links of regs kan hy ook nie, want links en regs sit hulle klaar twee-twee agter mekaar in gelid. (Ek oordryf ‘n bietjie, dis net na links, maar oor die tand op ‘n draai in die mond wil uit is daar eintlik nergens plek vir hom om deur te druk nie.)
Alle kinders vind baat daarby om nie stories uit hul duim te suig nie, maar te vertel van iets wat van binne kom, iets wat hulle self beleef het. Sodoende is hul opstelle oortuigend en geloofwaardiger, en is hul beskrywing en inkleur van die gebeure ook soveel raker – juis omdat hulle van dit wat hulle aan eie bas gevoel en beleef het, vertel.
Hoogsverbeeldingryke en hoogskreatiewe kinders kan nog waag om uit die duim te suig, hulle doen goed met of sonder my raad; maar die gemiddelde en ondergemiddelde skrywers presteer deur die bank almal beter, as wat die geval sou wees as hulle hul verbeelding, in plaas van hul ervaring, ingespan het om hul stories te skryf.
George homself is een van die top-vyf skrywers wat in 25 jaar my pad gekruis het. Ek onthou hoe spyt ek destyds was dat die kind so sterk in die eksakte vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Biologie was, want ek het geweet hy gaan sy aanvoeling vir taal (sy sesde vak was Latyn) laat taan die oomblik as hy nie meer verplig word om te skryf nie. In daardie stadium het hy nie net geskryf en aangedra wat ek hom in die klas verplig het om te skryf nie, ek het enkele stories wat hy vir die lekker geskryf het, ook gekry om te lees.
En dan weet elke taalonderwyser dit, kinders wat oorhoops is met woorde skryf versies en gedigte, hulle span nie sommer hul aanvoeling en vaardigheid in prosa in nie. George het.
Ewenwel, ek merk toe einde verlede kwartaal of iewers in die vakansie die graad 11’s se opstelle. Een van die onderwerpe was Eendag nié so lank gelede nie. Ek het nie die opdrag uitgedink nie, ‘n kollega het, maar vir my outjies wat ek geleer het om in hul binneste te gaan krap, was so ‘n onderwerp manna uit die hemel.
En daar lees ek hierdie lieflike vertelling van ‘n kind se eerste kinderervaring met haar tandarts en die lieflike pad wat sy die laaste tien of wat jaar met die man gestap het.
Nou kyk, die ervaring moet regtig vir jou positief wees as jy dít in graad 11, onder die onderwerp Eendag nié so lank gelede nie, kies om oor te skryf.
En die kind, juis oor sy dit beleef het, skryf en vertel lieflik, en in die laaste paragraaf noem sy die man by die naam, en ek lees dis ‘n Doktor George. En ek weet toe sommer dadelik, uit dit wat ek lees en dit wat ek rondom Klaradyn saam met die man beleef het, dat dit my oudleerling van 1991 en tandarts van die laaste hele aantal jare is.
Annieka lees die opstel en geniet dit net soveel.
Terug in die klas gekom, was ek reg, dis einste George, by wie Klaradyn die daaropvolgende week (die kind toevallig ook) ‘n afspraak het.
Daar aangekom, is Klaradyn, soos laas, opgewonde om weer by Oom George uit te kom. Ek laat val dat “Oom George sal weet om te doen as iets gedoen moet word” (waarmee ek eintlik toestemming probeer gee dat die mannetjie moet trek as hy reken ons moet trek – ons is nie hier om onverrigtersake huis toe te gaan nie.)
Dit help met vandag se kinders en televisie ook van baie vroeër af nie meer om oor te wil skakel Engels toe nie – die kinders is op 6 vaardiger in Engels as wat ons op 10 was, maar ek laat val ook die woorde “desperate measures”.
George gee die bekkie ook net so een kyk (eintlik die bekkie se x-straal om te sien wat onder die bodem aan die gang is) net so een kyk, en laat val iets van ‘n tand se “vervaldatum wat nou aangebreek het.” En ons verstaan mekaar.
Met ‘n tand wat skoon gespoel moet word, kaboutersalf wat straks ‘n bietjie sleg voel, kry hy haar ingespuit en praat ons tjol om die rukkie wat dit neem vir die verdowing om in te skop om te kry.
Ons leer dat dit nie die ergste is, as jy iewers ‘n wisseltandjie langs die pad verloor nie – Klaradyn het moes ‘n tand in die water op ‘n binneband by U’Shaka Marine World afgeskryf – jy het net ‘n verduidelikende briefie met twee, nie net een handtekening nie, nodig, en jy kry jou geldjie terwyl die muise weet waar om te gaan soek.
Mamma, wat laat van die werk daar aankom, stap etlike minute voor Oom George die krombektang moet vasklem om die tand uit te pluk.
Klaradyn, behalwe vir die lip wat ‘n vreemde gevoel kry, weet van geen sout of water nie, en verdink ook niks nie.
Dis eers toe oom George haar, met ‘n knipoog in ons rigting, vertel dat hy hierdie tandjie van haar, wat al drie jaar terug vanself moes uit, vandag moes uittrek, dat sy besef die man het ‘n tand getrek.
Hy prys haar ook dat sy die beste pasiënt is wat tot op daardie stadium vandag gehad het.
En daar kan sy dit nie glo nie, want dit was geensins, geheel en al, glad nie, maar soos in glad nie, soos sy haar dit voorgestel, en gehoor het, nie.
Ons is daar weg met sy wat die man ‘n drukkie om sy bene gee.
By die motor gekom, wil sy weet wanneer ons kom om die gaatjie waarvan Oom George vertel het, toe te maak.
Ons kon maar netsowel dadelik die afspraak gemaak het – Annieka dog ons sal meer eers die trauma-barometer toets en lees, voor ons bel en afspraak maak.
Dit was nie nodig nie – Klaradyn is sonder enige trauma daar uit en weg.
Ag, en het sy nie die skoen mooi versier nie – as ek ‘n tandemuis was, sou dit vir my heerlik wees om daardie tandjie op te kon spoor waar hy hom opgespoor het.
Klaradyn het selfs ‘n blokkie kaas uitgesit. Annieka het die kaas gevat (ek verbeel my ek het die vorige rondte daarvan vergeet en die kind was diep teleurgesteld oordat die muis nie haar kaas geneem het nie) en ek terug gekom en drie kaaskrummeltjies gestrooi wat ons toe ook ter bevestiging van die feit dat die muis dit wel geëet het, dienooreenkomstig opgespoor.
Ja, ons kan seker gekritiseer word, maar én ek én Annieka is van mening dat nie eens van ons permanente skade opgedoen het omdat ons ‘n ruk lank, nie so nie so lank gelede nie, in dinge soos tandemuise, paashase, feetjies, kabouters en Kersfeesvaders geglo het nie.