Pages

19.4.12

Ek laat sak my kop met trots in skaamte


Dis 'n lang storie, 'n baie lang storie. En dan ook nie noodwendig 'n vleiende storie nie.

En ek gaan die storie nie vertel nie; Klaradyn se prentjie moet maar die praatwerk doen.

Dis oor Klaradyn se prentjie wat ek wil praat.

Ek wens ek kon op 7 'n kwartel so mooi uit my kop teken, soos sy hier. Kyk die detail.

En dan verstom ek my aan die simboliese wyse waarop sy die kwartel se slagting uitbeeld. Ek weet nie of dit 'n lem is, of wat dit is nie, maar dis duidelik dat sy die boodskap van finaliteit wil tuisbring.


Die wrede treurspel het voor haar afgespeel - haar eerste kennismaking, op hierdie manier, met dood.

Die trane is nie aardskuddend nie, maar die ontstelde mond (lippies wat bewe) is vir my skerp uitgedink. 
En wat is dit wat gemaak het dat sy "agter die hoek wegekruip" gaan verander het na "na agter die huis wegekruip"? Het sy op 7 gesnap dis ongrammaties?



Toe sy vir Annieka die gebeure aan die hand van haar skets vertel, kon jy dadelik die betekenis van die twee keer se "doot" snap. Die eerste was sag, die tweede harder en meer ontsteld, haar oë het gerek en sy het die slot-d beslis as 'n ekspressiewe -t uitgespreek. Nie sommer net "dood" nie, maar "DOOT!"

Ek was besig om die voëls en hase kos te gee, toe Sussa die geleentheid aangryp. Toe ek die een kant keer, toe ontsnap die kwartel ander kant, en hol in Snuffels se bek in.


Ai, en dan Pa se skaamte - 'n grote man wat buite homself van woede is omdat 'n patryshond hom soos 'n patryshond gedra en, weliswaar nie 'n patrys nie, maar 'n kwartel doodbyt...



Ek het dit aanvanklik uitgevee - die hele insident het 'n maand gelede afgespeel.

Maar ek kan dit regtig nie net uitvee nie. Dit moet my dan nou maar aankla en skuldig laat staan.

Ek is verbysterd oor die uitgerekte idee van die woorde skryf - dis soos in 'n regte comic strip. En dit terwyl die kind van comic strips en die tegnieke wat daar ingespan word, geensins ken nie.

En dan het ek dit lank en diep en uitgerek en stadig geskree, terwyl ek die gevaar geloop het dat ek 'n aar in my kop bars, en my kind het dit ook oorgedra.

Dis lekker as jou kind se vaardigheid jou by tye verstom.





17.4.12

Geboorte- en ander dae

April was my lewe lank nog altyd ‘n maand met blye vierdae. Ek en Annieka het op 7 April getrou; Annieka is op 10 April gebore.
Dan is daar ‘n hele rits ander verjaarsdae:  Annieka se boetie, Erik, en saam met hom, Leanie.
Ook, uit my kinderdae: Tannie Susan (my ma se beste vriendin), Tannie Hazel (my broer se skoonma), Tannie Marthie (my beste skoolvriend, Riaan, se ma).
Natuurlik onthou ek nie meer die datums nie – dit was almal in een week, iets soos 9, 12 en 14. Maar Tannie Marthie, een van my baie ander mammas, (dis na haar huis wat ek gehardloop het die oggend toe ek hoor my ouers gaan skei) is in 1988 begrawe toe ek in die weermag en duisende kilometers ver weg was. Kanker het Tannie Susan (dis by hulle in die buitekamer wat ons ruk lank gebly het na ons uit die huis is) se lewe geneem. En Tannie Hazel (dis sy wat my aan Enid Blyton bekend gestel het – en so my hele lewe lewenslank verander en verryk het) is nou die ander dag, seker so vyf of ses of sewe jaar gelede, oorlede.
En dan 21 April, die belangrikste van hulle almal, Judy.
Wat dan nou ook vanjaar, vir die eerste keer, ‘n stil verjaarsdag gaan wees.
Ek is nog al die pad van 1 April af ‘n April-gek wat kort-kort vir elke bakatel aan het grens gaan.
Soos Vrydag, toe ek ‘n groot bottel Vanilla-essens koop om my leë bottel vanilla-essens mee op te vul.
Ek het mos so ‘n das van my pa, sy troudas. Die ding val letterlik al gate in, maar dis vir my heerlik om hierdie ding uit die jare veertig of vyftig van die vorige eeu uit die kas te ruk en skool toe te dra. Vreemd hoe die modes daardie jare was – die ding is so kort, maak nie saak hoe ek dit knoop nie; dit kom nie eens naby my naeltjie uit nie.
En soos my pa se das, het die vanilla-essens se bottel geword.
Ek het hom uit hulle kas geneem, ses of sewe of agt jaar gelede toe hulle uit die huis, ouetehuis se versorgingseenheid toe is.
Hoe vergeet enige kind die eerste keer wat hy, op sy knieë op die koskas of werksblad, vir die soveelste keer sy ma vra of hy dan maar tog aan die vanilla-essens wat so lekker ruik en die kos so lekker laat smaak, kan proe nie, en sy ma hom, wel wetend wat wag, laat proe?
Ek onthou dit soos gister. Dit moes voor 1970 gewees het.
Klaradyn onthou dit soos gister. Ons praat daarvan elke keer as ons met vanilla-essens werk.
En toe is ons vanilla-essens, Judy se vanilla-essens, so ‘n jaar of wat gelede op.
Maar ons het nog in die huis een van hierdie klein botteltjies, uit die dae voor ons Judy se bottel gekry het, en ek maak dit leeg in Judy se bottel.
Op hierdie bottel word nog Afrikaans gepraat.
Dit verbaas my dat die goed nie verslaan het nie; die prys op die bottel is net meer as R1-00.
En elke keer, wat nie te gereeld is nie, gebruik ek en Klaradyn vanilla-essens, dan loop my gedagtes ver en lekker en mooi paaie.
Maar toe is die laaste druppeltjie van ons eie essens in die groot bottel ook op, en ek bêre die bottel met sy hele lewe van herinneringe liefderyk heel agter in die kas. Ek bêre hom nie, ek steek hom weg; ek wil kyk of daar nog sulke groot bottels in die handel beskikbaar is, om Judy se bottel te vul. Dan is dit Judy se vanilla-essens-bottel, Ouma van Wyk se kaneelsuikerstrooier, Ouma Moolman se slaai- en mengbakke en Hans se biltongkerwer. (En Hans se das, maar ons kuier nou in die kombuis saam met die voorgeslagte.)
Annieka het huis vol mense vir haar verjaarsdag en ek weet haar poeding vra om ‘n halwe teelepel vanilla-essens.
En ek is gelukkig – teen meer as 30 maal die vorige een se prys, en nou slegs in Engels, kry ek ‘n hervul vir ons vanilla-essens-bottel van Judy.
Na ek my dood uit- en aandra van die pakkies – ‘n enkele verjaarsdagete (en geensins overdadig nie) se aankope is deesdae twee keer die prys as die eerste maand se groceries wat ek en Annieka in 2000 gekoop het – los ek alles net so op die rak en kry die dure bottel vanilla-essens uit.
Maar ek het die leë bottel nie goed genoeg weggesteek nie – dis ‘n week gelede, toe ledige niksdoen-vakansiehande en –vingers deur die kas gegaan het, weggegooi.
Dis meer as 40 jaar dat ek nie met vanilla-essens kan werk sonder dat ek nie elke keer opnuut weer in die gedagtes pens en pootjies op die werksoppervlakte langs die klitser sit nie, presies soos ek Klaradyn dit nou nog steeds sien doen.
En vir die volgende 40 jaar (mog ek so lank vasbyt) sal daar nou ook ‘n ruk deur my gemoed trek as ek sommer nog net lees dat die resep vanilla-essens vra.
Ai, en toe gaan ek gister kitsbank toe om myself nog dieper in die rooi te kry ten einde kos op die tafel te hê – en daar is my saldo oornag, skielik sestien maal meer batig as wat dit die vorige dag oortrokke was!
Dat 83 jaar, sy sou Vrydag 84 wees, se spaarsamig leef, 83 jaar se sente omdraai en jouself indoen ter wille van jou kinders, ten koste van jouself, ‘n mens by dít moet uitbring! Dat ‘n leeftyd jou moet reduseer tot ‘n bankbalans ‘n week voor jou 84’ste verjaarsdag.
Ek moes myself, doelloos op en af tussen die rye en gange kruideniersware, daaraan herinner dat ons ouers se nalatenskap veel meer is as ‘n batige saldo.
Maar dit was nie maklik of lekker nie.
En die kassiere, met wie ek altyd so lekker gesels, het sommer gesien om nie eers te poog om ‘n geselsie met die oom aan te knoop nie.


Ai, en dan kry ek nou al lag vir myself: Ek en Klaradyn verjaar 5 dae uit mekaar, en iewers tussen daardie vyf dae het Judy haar laaste asem roggelend uitgeblaas. Gelukkig kan ek nie onthou wanneer nie, weet ek nie wanneer nie, en stel ek ook nie belang om uit te vind wanneer nie.
Ek weet nie wie gaan vanjaar Klaradyn se cup cakes bak nie, want dit sal nie ek wees nie, en Pa se das gaan ek einde Augustus / begin September beslis ook nie dra nie.

15.4.12

10 Vrae; 20, nee 30, antwoorde

‘n Skoolleerder konfronteer my toe ‘n week of wat gelede met die volgende vrae – dis kamma-kamma vir ‘n skoolkoerantjie (maar net kamma-kamma, want dis eintlik vir ‘n skooltaak wat die vorm van ‘n kamma-kamma-skooltydskrif aanneem):

1.    Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?
2.    Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?
3.    Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel teëgekom het?
4.    Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.
5.    As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?
6.    Wat is Meneer se gunsteling gereg?
7.    Waar wil Meneer eendag aftree?
8.    Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?
9.    Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?
10.  Wie is Meneer se rolmodel?

Die dag toe ek haar antwoorde stuur, was dit ongelukkig vir my belangriker om ‘n poging aan te wend om haar iets te probeer leer, as wat dit vir my was om haar te vermaak met oulike antwoorde; toe laat weet ek soos volg:

1.    Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?
Hoe ek daaroor voel, is nie belangrik nie. Wat belangrik is, is hoe ander daaroor voel. Ek wonder of daar nie baie ander onderwysers is wat sal voel die eer moes hulle eerder te beurt geval het nie.

2.    Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?
Dit was, saam met Geskiedenis, my gunsteling vak op skool.

3.    Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel tee gekom het?
Die kind wat die teenoorgestelde geslag van 'n Tom cat as Jerry cat gesien het - dit moes 'n tabby cat wees.

4.    Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.
Dis in my aard, omdat ek altyd opgewonde oor enige iets met potensiaal is, om oor die jeug ook opgewonde te wees. Hulle gaan nie dieselfde pas as ons loop nie, maar langs ander paaie en op ander maniere as waaraan ons gewoond is, nog baie bereik.

5.    As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?
Die rekenaarnetwerk!

6.    Wat is Meneer se gunsteling gereg?
Ek het elke uur van die dag 'n ander gunsteling. En dan hang dit ook af van watter tyd van die jaar dit is. Nou, op hierdie oomblik, is lamsosaties my gunsteling. Vanaand is dit dalk iets anders.

7.    Waar wil Meneer eendag aftree?
Naby my vrou en my kind.

8.    Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?
Om meer te wete te kom van goed, van ander en van myself.

9.    Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?
Balule in die NKW

10.  Wie is Meneer se rolmodel?
Hoe ouer 'n mens word, hoe minder belangrik word rolmodelle vir jou. Ek kan vandag nie eers meer onthou wie 30 jaar gelede my rolmodelle was nie, en of ek enigsins sulke goed gehad het nie. Beide my ouers was en is steeds belangrike rolmodelle.

Met heelparty van hierdie vrae is ek nog nooit gekonfronteer nie; met ander in geen jare nie. Aan een die vrae word ek sedert ek haar geantwoord het gereeld herinner – so sterk draai dit in my kop, dat ek nou al van Vrydag dreig om weer hierna terug te keer.

Maar my rekenaar was stukkend, my skoolwerk het opgehoop, en ek moes wag tot vanaand voor ek weer my dinkwerk op datum kon kry.

Kom ek kyk weer daarna:

Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?

Kyk, as daar nou een ding is wat lelik kan skeefloop, dan is dit so ‘n Onnie-vannie-kwartaal-ding. Beheerliggame en goed bedoelende ouers het al male sonder tal met so ‘n inisiatief begin, en elke keer (waarvan ek weet) loop dit op onenigheid uit. “Skofbaas van die maand” en “Werker van die week” kan dalk elders ‘n lieflike aansporing wees, maar NIE in die onderwys NIE. Daarom dat ek haar so aweregs beantwoord het.

Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?

Die ander skoolvakke wat ek (op papier) bevoeg is om te gee, is Drama en Engels. Engels het saam met Drama, Spraak en Vertolkingskunde en Toneelkunde, destyds baie meer sin gemaak. In daardie kombinasie sal ek dit steeds kies. Maar dit sal vir my net so lekker gewees het om ‘n Geskiedenis-onderwyser te kon wees.

Ek het al baie gewens ek beland by ‘n skool waar die nood druk en ek by Geskiedenis moet inspring – dan word ek die tweede helfte van my onderwysloopbaan ‘n Geskiedenis-onnie.

Engels het ek laas in 1987 en 1988 gegee. Ek het dit so drie jaar gelede amper weer moes doen en ek het nogal daarna uitgesien. Ek is egter bly dinge het toe anders uitgedraai, want ek dink dit sou ‘n baie goeie vriendskap (met my Engelse eweknie) in die wiele kon gery het.

Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel tee gekom het?

My antwoord was ‘n jok – ek het vreemdste ook met snaaksste verwar. Ek wou vertel van die kind wat die ontbrekende woord moes invul:  Die mens wik, maar God _______.
Toe antwoord die kind nie “beskik” nie, maar “weeg.” Ek is egter van mening dat vandag se kinders nie eers weet van “wik en weeg” nie; wat nog te sê van  “Die mens wik, maar God beskik.”

Hierdie antwoord, noudat ek mooi daaroor nadink, sou ook ‘n jok gewees het – ‘n kind het dit nooit vir my geskryf nie – ‘n universiteitsvriendin het dit iewers op skool op ‘n antwoordstel kwytgeraak.
Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.

Siestog, die arme kind – ek sien nou eers ek het ‘n tikfout gemaak – ek het vertel van die kinders wat nie dieselfde “pas” as ons gaan loop nie, en dit terwyl ek eintlik “pad” bedoel het.

Wat ek eintlik met my antwoord bedoel het is:  Hulle gaan groot mense wees wat nie kan lees of skryf of spel of somme doen nie – party van hulle sit vandag al met onderwysers wat nie kan lees of skryf of spel of somme doen nie. Maar dan is dit vir my en my generasie belangrik om te kan lees en skryf en spel en somme doen. Die jeug van vandag gaan, as hulle (heel geyk) “more se leiers” is, waarskynlik steun op gans ander vaardighede as die wat vandag vir my belangrik is – vaardighede waaroor ek geensins beskik nie. So ek moenie veroordeel nie – dis strakkies ek en my manier van doen wat dan uitgedien gaan wees.

Ek dink natuurlik nie sy sou hierdie antwoord tussen die lyne kon lees nie.

As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?

Die rekenaarnetwerk!

Ek het maar by ‘n twee-woord-antwoord gebly. Ek sou “my salaris” wou byvoeg. En miskien ‘n paar ander dinge. Straks ‘n hele paar ander dinge.

Kom ons volstaan by die “rekenaarnetwerk.”

En moenie my woorde en gedagtes inkleur soos jy wil nie.
Jare gelede het ek die antwoorde op elke vraag en probleem geken, vandag verstaan ek nie eens meer die vrae nie –onthou die meeste van die vrae waarop ek antwoorde gereed had nie eers meer nie, en is ek vir al wat ek weet deesdae eerder deel van die probleem homself, as deel van die oplossing.

Wat is Meneer se gunsteling gereg?

Ek het “sosaties” genoem omdat ek die oggend die lekkerste lamsosaties by die Hazelwood kosmark gekoop het, ek verbeel my by ‘n man wie se blog ek ruk lank gevolg het, ek is nie seker nie, maar ek gaan hom vra as ek weer daar kom.

Is dit moontlik dat “Zak die Priester”/Izak du Plessis nou sosaties op ‘n kosmark verkoop?

Lyk my nooit anders nie – ek het “Izak du Plessis” en”sosaties” ge-google en gesien iemand met dié naam het in 2010 vir nie Nuwe Hervormers/NHN’ers lamsosaties gebraai.

Miskien ook nie. My sosaties het April 2012 R20-00 stuk gekos, en hierdie Izak se sosaties het in 2010 al R20-00 een gekos. As dit dieselfde man was, sou ek vandag al R30-00 vir my sosaties betaal het.

Waar wil Meneer eendag aftree?

Dit moes seker wees “Naby my kind en in die geselskap van my vrou.” Ek sou ook wou byvoeg dat ek liefs nie wil aftree nie, maar lank na aftreeouderdom iewers “in die tuig” (een of ander “tuig” al is dit nie die onderwys nie) die emmer wil skop terwyl ek die lepel in die dak steek.

Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?

Hier wou ek so veel as mootlik in so min as moontlik sê, en ek dink ek het dit reggekry:  Om meer te wete te kom van goed, van ander en van myself.

Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?

Balule in die NKW. Hulle kan my kampopsigter maak, dan gaan tree ek daar af voor ek my Apostelteelepel, die goue een waarmee ek in die mond gebore is, in een van die rondawels se grasdakke steek.

Wie is Meneer se rolmodel?

Dis hierdie laaste vraag waarheen ek die hele week terugkeer – dat dinge toe so heel anders uitgedraai het as wat ek 30 jaar gelede gereken het.

Hoeveel keer is ek nie al met hierdie vraag konfronteer nie! Hoe lekker het ek nie al, sedert skooldae, daarop en daaroor uitgewei nie!

En toe ek in seker 20 jaar weer skielik met die vraag konfronteer word, toe het al my studentikoosvermakerige antwoorde in die niet verdwyn – toe is daar net een, NET EEN, antwoord:  my ma en my pa.

Ek sou in my lewe al Jesus Christus geantwoord het. Dis nou net soos wat die Bybel die een boek is wat jy as kind verplig voel om te noem as die boek wat jy by jou sal wil hê as jy alleen op ‘n eiland gestrand is. Later van tyd het my gewete my vir jare toegelaat om NP Van Wyk Louw se Versamelde Werke te noem. Vandag is my keuse iets in die lyn van:  How to survive in the woods on your own.

Ek sou ook dalk  ‘n onnie of twee genoem het, ‘n kollega of twee genoem het, na ‘n celebrity of twee drie verwys het.

Maar dit was lank gelede.

Noudat alles wat pronk en sieraad was, weggeval het, noudat ek in party opsigte klaar het met sommige dinge van ‘n kind, en net die drie belangrikstes oorbly, met die grootste daarvan die liefde, nou is dit duidelik dat net my ma en my pa, ten goede goede of ten kwade, vir my ‘n rolmodel was.

En is en bly en sal bly.

Ek kan nie meer by een van hulle iets leer nie – beide is in die graf, tog poog ek elke dag om te doen soos hulle my geleer het, en dan nie geleer het deur “voorskrif en vermaning” nie, maar geleer het aan die hand van die voorbeeld wat hulle gestel het.

Ek het nooit nodig om in die donker te tas of rond te val nie – wat dinge wat regtig saak maak, betref nie: ek het my ouers om op terug te val.

As kind sou ek dit nie glo nie, sou ek dit nie wou hoor of daarvoor val nie; vandag is dit onteenseglik: jou ouers is jou enigste ware en blywende rolmodelle, dit maak nie saak waar jy staan of in watter posisie jy jou bevind nie.

Ek dink dis omdat, in ‘n stadium, van alles, tereg, net die liefde oorbly, en as alles wat belangrik was weggeval het sodat net die liefde bly, kan dit nie anders nie – al rolmodelle wat bly staan, is die van die liefde – jou ouers.

Ás jy so gelukkig is soos ek was, bygesê natuurlik.

Al wat ek wil wees, al wat ek ooit vir Klaradyn wil wees, al wat ek hoop om ooit vir Klaradyn te kan wees, is eenvoudig:  “soos my ouers, in liefde en met liefde, hul gebreke ten spyt, soos Judy en Hans Moolman.”

Dis nie maklik nie, maar wat ‘n voorreg – ‘n voorreg wat min beskore is.

27.3.12

Gesondheid dan, Dok Bet


Vergeet 'n oomblik van die Joodse bruidjie:
Ek kyk na die foto van Dok Bet wat Peet op die Dep se FB-blad gelaai het – so onthou die departement haar – en ek herken ‘n jonger Bet Botha as die een wat ek in 1983 leer ken het.
Ek maak my oë toe om mý Bet Botha te onthou – en dis ‘n gans ander beeld as daardie een wat tien teen een deur Oom Piet Photies  geneem is, wat by opkom.
Dis Oktober 1991, ek is al 6 jaar nie meer deel van die Dep nie, en ek sien Dok Bet kaalvoet om ‘n kampvuur in die Kruger Wildtuin sit. Nie waar nie – in die Olifantsrivier-wildernisstaproete se lapa.
Dis kort voor sy sestig geword het en sy het die geleentheid om saam met ons te kom stap aangegryp – die oomblik toe ek dit gerig het. En daar stap ons twee dae – die jongste in die geselskap is Jurie Herbst, daardie jaar die skool se eerstespan losskakel; die oudste Dok Bet – knap voor sestig.
Die stort daardie aand was warm water uit ‘n groot sink asblik wat op vier pote staan gemaak is.
O, dit was lekker. En dit was lekker saam met Dok Bet. Ons het baba leeuwelpies aan ons voete gehad, olifante gesien – naby – en seker goed sestig krokodille op ‘n sandbank in die Krokodilrivier verras.
En dit was Dok Bet – sy het die lewe aangegryp met ‘n joie de vivre wat skrik vir niks.
Die ander beeld wat by my opkom is jare later, die laaste keer wat ek haar gesien het en geweet het dis die laaste keer. Ons het, soos die gebruik was, by die De la Reys oorgeslaap op pad Kaap toe of terug. Oom Danie het baie agteruit gegaan en dit was duidelik dat haar lewe gereduseer is tot liefdevolle (maar ook effe ongeduldige) baba-oppasser. Ek sien die kort krom figuur in die lang japon staan. Het sy fisies gekrimp, of het die inkrimp van haar bestaan – die huis toe ook al lank in die mark – haar net kleiner laat voorkom?
Maar snaaks, voor ek haar sien, hoor ek haar; nie suiwer haar gunsteling sê-ding (dit was nou so goor soos die dood) nie, haar weifel en aarsel, haar metataal en tussenwerpsels. Dan hoor ek haar lag, grinnik en snork – by gebrek aan beter woorde vir die ryke omvang van haar lag-repertoire. Die lag wat ek as sinies sou beskryf, kom nou die sterkste by my op.
Ek wonder of daar nog mense is wat destyds saam met daarvan bewus was dat Dok Bet ‘n baie mooi halslyn gehad het: melkwit, seepglad met hier en daar die buitelyne van ‘n blou aartjie. En rondom die sleutelbeen was die mooiste kuile. En ek ontboesem nie hier ‘n onwelvoeglikheid in my aangetrokkenheid tot Dok Bet nie – soos wat party vrouens se voete of nekke ‘n man opnuut bewus maak van hoe mooi ‘n vrou se voete of nek kan wees, het Dok Bet ‘n man net bewus kon maak van hoe mooi ‘n vrou se hals kan wees.
Ek het seker so vir twee jaar van my lewe smiddaes middagete saam met Dok Bet genuttig. Ek het haar seker met intervalle van 6 jaar op drie geleenthede gebel om te vra hoe party van haar gunstelingresepte werk. O, ons was lief vir gekookte eiers in ‘n wit sous met broodkrummels oor. En dan kon Letia (die dierbare huishoudster van daardie jare wat toe oornag weggeraak het) ook iets lekkers met visvingers in ‘n soortgelyke dis gemaak.
En so lekker soos wat ons saam geëet het, so lekker soos wat sy geëet het, het Dok Bet mos nie sommer juis iets kon proe nie – glo oor sy nie kon ruik nie. Iets moes soorts van waaragtig waar baie lekker wees, voor Dok Bet dit as lekker kon ervaar.
O, en dan het ek en sy die platteland deurkruis om ATKV-skooltonele te beoordeel! Dit was lekker tye gewees. Dok Bet is een van die min mense van wie ek net positiewe en aangename herinneringe het – nie oor drie of vier jaar se studies heen nie, oor ‘n vriendskap wat jare sou duur.
Ek en sy hou toe mos nou weer saam skool – ek in Pretoria; sy op Middelburg. Ons ruil tekste uit, spoor vir mekaar tekste op en dikteer poësie vir mekaar oor die foon.
Ek dink dit nie, ek weet dit – ek het baie by Dok Bet geleer in die drie jaar dat ek by haar klas gekry het, maar ek het onskatbaar meer by haar geleer in die jare nadat, eers ek, en toe later sy, weg is op Potch.
Van Wyk Louw, wat sy hande saamslaan in haar studeerkamer, sal my tot my dood bybly.  Die allermooiste wat Dok Bet ooit met my gedeel het, en sy het dit by herhaling met gedeel, oor meer as net ‘n jaar of wat heen, kom uit Tristia (en sy het die woorde nooit opgesê nie, maar gepraat, die gedagtes gepraat): 
Wie naand gesê het, moet goéd wees
vir die vir wie daar naand gesê is;
want die aand is daar om in lief te wees,
en die dag is hard, en die môre is droewig,
meestal:  ons is nie aarde wat suiwer is nie.
Ons arbeid die maak nie ons harte bly nie:
ons is nog onvoltooide wêreld.
En kon sy stories vertel! Nie Brink se lekkerlag-stories of De Maupassant s’n met die kinkel in die kabel aan die einde nie, haar eie stories! Van die plaas en van Belie en van Saar, haar ouers, haar skooldae, haar vakansies, die mense af in die straat, Rivierstraat se stories.
Die divan in die sitkamer het ‘n karos op gehad, op Potch en op Middelburg (aanvanklik). Ek het ‘n dubbelbed karos loop, jare later.
Ek het Tisha Ballot verlede jaar gekontak om te hoor of sy nog so ‘n Oos-Vrystaat-ankerpaal het soos die een in Bet se sitkamer nie. Tisha onthou hom goed, maar nee. Ek onthou hoe ek deur die Oos-Vrystaat gery het, plek-plek afgetrek het en met ‘n mik-en-druk die veld in is om die goed af te neem. Ek het dit in ‘n stadium selfs laat skilder.
Ek het twee Elwin Buchel’s in my huis. skapens en beestens; nie hieroor of daaroor nie, maar oor dit die naaste is wat ek ooit kon kom aan die weiveld in Bet se slaapkamer, en later sitkamer.
Het nog iemand Bet ooit hoor praat oor Die Joodse bruidjie van Renbrandt? Sy kon die bruidegom se mees intieme gebaar oor sy vrou se borste só mooi verwoord.
Ek het myne gaan koop, in 1994, waar Bet hare gekoop het en al die pad in my rugsak terug gedra Suid-Afrika toe.
Ek het selfs in Wenen vir my ‘n afdruk van Breughel se jagters deur die sneeu gekoop.

Die mooiste woord wat sy my geleer het, is “reikhalsend” – wat wat sy met soveel oorgawe kon gebruik, dat jy jou verbeel dit beteken halsreikend! (En dan ken ek nie iemand wat Bophutatswana  - en vergeef die spelling - so mooi kon uitspreek soos sy nie - ek het altyd gewonder wat sy met Phutaditjaba sou uitrig).
Hierdie vrou het my help vorm, sonder hierdie vrou was ek ‘n ander mens vandag, en nie beter daaraan toe nie, maar swakker en slegter, minder geslyp en minder afgerond
Daarom dat ek haar nie mis nie, nie sal mis nie en nie kan mis nie; sy leef in my en om my, fisies in en om die huis, maar ook figuurlik in my ganske wese en gedagtes.
Dok Bet sal my gevolglik eers ontval die dag as ek myself ontval.
Mag sy nog lank, vele lewens lank, voortleef.
Dit was lekker om hartseer te wees, en goed hartseer te wees soos net ek goed hartseer kan wees – maar daar is so ontelbaar meer om geensins hartseer oor te raak nie, om oor bly te wees, dat dit amper ‘n vermorsing van krag en energie is om op die hartseer te fokus. Drink eerder saam met my ‘n heildronk op ‘n wonderlik uitsonderlike mens.


25.3.12

Saterdag 24 Maart 2012

Pa en Dogter het gister, vanuit Pa se perspektief, ‘n lieflike dag saam gehad. Vanuit Dogter se perspektief was dit nie lekker nie, maar soos sy dit stel:  “lekkerder as lekker.”
Dit was vroeg in die week al duidelik dat ek en sy Saterdagoggend vir onsself gaan hê, terwyl Ma takies en dingetjies (wat eintlik nie takies en dingetjies nie maar TAKE en DINGE is) by die skool aan het. Ons het gelukkig eers 15:45 nodig om by haar aansluit.
Die Boeremark, vroegoggend, sal lekker wees – en vandaar af beweeg ons na die Hazelwood kosmark, ‘n katspoegie van die skool af.
Maar dit sal net vir Pa lekker wees – watse plesier sal dit nou vir ‘n sewejarige inhou.
Hugo, sal dit dan wees. Na ons die eerste keer al die voorprent gesien het, het ek geweet dit sal nie ‘n Pappa-Mamma-en-Klaars fliek kan wees nie – Pappa wil dit kyk; vir Mamma lyk dit donker.
Toe lees ek iewers langs die pad dat die ding het pryse en Oscars en toekennings gekry het, die akkolades het glo ingestroom. Selfs Ma noem haar haarkapster het te vertelle dat dit ‘n lieflike fliek is. My barometer wie se oordeel ek te alle tye vertoue is ‘n vriend met drie kinders, die jongste so bietjie jonger as Klaradyn, die oudste se bietjie ouer.
Hy oortuig my net verder.
Maar toe ek Vrydagaand wil kyk hoe laat en waar die fliek orals wys, is die teleurstelling baie groot:  aldus Ster Kinekor en NuMetro se webwerwe wys die fliek, wat Gauteng betref, nog net in Johannesburg, in Sandton en Rosebank.
Nou, kyk, daar is nie ‘n manier nie – as jong verliefdes en selfs as pasgetroudes het ek en Annieka gereeld deurgeskiet Johannesburg toe vir ‘n fliek, selfs op weeksaande in die middel van die skooltermyn, maar dit was baie jare gelede.
Dis egter ook net tot ek tot die besef kom dat ék nie noodwendig hoef te ry nie, die masjinis (of deesdae seker bloot die operateur) van die Gautrein kan mos die bestuurwerk doen.
Klaradyn, klein snip wat sy is, wil nog haar ma se woorde wat dié haar twee maande gelede voorgepraat het, die van die fliek wat kwansuis “donker” is, eggo (sy wil-wil nie net nie; sy doen dit trouens) maar toe sy eers die moontlikheid van ‘n treinrit hoor, is dit so goed soos ek proe klaar die volgende oggend se springmielies in my mond.
En toe is dit vroegoggend (vroegoggend want ek wil 07:30 reeds op die trein wees) duidelik dat Klaradyn hiervan uit en uit ‘n Pappa-en-Dogtertjie-dag gaan maak. Ek het my Mad Dogs-hemp aan, en skielik dring sy daarop aan om ook een van haar twee Mad Dogs-hempies (wat sy, tot my en Annieka se spyt) nóóit wil dra nie, aan te trek. Maar ons sukkel met ‘n gepaste broek en daar is selfs trane in die verband.
Ma is self nou lank nie meer haar sprankelende selwers nie – ons dag weeg darem nou aansienlik lekkerder op teen haar oggend wat soos ‘n berg voor haar uitgestrek lê.
Ek oorweeg dit selfs in ‘n stadium om die hele oggend te kelder, maar gelukkig het my Engelse skoonsus my toe, ek sommer nog baie klein was, bekend gestel aan die Engelse spreekwoord wat lui don’t cut off your nose to spite your face.
Ons is inderdaad betyds vir die O7:00-trein en toe Annieka knap na O8:00 bel om te hoor of ons darem al op ‘n trein is, stap ek en Sussie al in Sandton City rond. Ons is trouens pas verby die Häagen Dazs-roomyswinkel en ek wat vir haar sê dat ons vandag net één ding móét doen. Maar voor ek nog kan uitbrei en sê dat ons voor huistoegaantyd daar ‘n roomys móét koop, trek sy, immer aan my hand as ons vreemde waters betree, los met: “Ja, Pappa, ons móét net een ding doen, en dis om die hele dag lank alles te geniet.”
Ons kon ‘n uur of ‘n halfuur voor die aanvang van die fliek op die stasie wees; ek het doelbewus gekies om dit veiligheidhalwe maar ‘n uur te maak – netnou “verdwaal” ons, of is daar iewers ‘n iets in die drinkwater en is ons nie betyds nie.
Toe gaan ontbyt ons maar en beland in ‘n plek wat buffet-ontbyt aanbied. Nou dis die ander baie spesiale Pa-en-Dogter-lekkerte:  Ma sal altyd iets a’la carte bestel, terwyl ek en sussie die avontuur beleef van by herhaling opstaan en buffet toe stap om ons daar aan talle klein porsies van die interessantste goedjies te help.
Ek het geweet my kind het ‘n lekker ervaring toe sy halfpad deur die ete opmerk: “Pappa, wanneer ek eendag trou, wil ek hê dit moet hier wees – alles is só mooi.”
Nou, Hugo draai al langer as ‘n maand, dis Sandton City, 09:00 op ‘n Saterdag-oggend:  diegene wat nog nie die fliek gekyk het nie maar wel wil kom, slaap almal nog – dis net ek en Klaradyn en een ander man in die grootste fliek waarin ek en Klaradyn nog ooit saam was.
Ek en sy sit in/op een van die vrybankies waarvan ek nog net gehoor het – dis twee sitplekke langs mekaar, maar die armleuning tussen die twee is verwyder en die skerm waar jy bespreek, verduidelik dit is intended for couples.
En omdat ons regtig net een ander mens in die fliek het – ons het trouens eers aan die einde toe die ligte aan gaan en ons uitstap, van hom bewus geword – doen Klaradyn toe iets wat enige kind altyd in 3D-fliek wil doen, maar nie kan doen nie omdat daar te veel mense is en Ma sal raas: sy probeer die balletjies en brokkies en wat-ook-al die regisseur van verskillende 3D-advertensies op die kyker laat afpyl, vang. En ook nie lank nie, toe is dit twee kinders wat onbevange sit en goeterstes in die donker sitplek sit en vang. Te lekker. En as ons nie vang nie, dan koes ons met net soveel oorgawe.
As ons nie vandag (Sondag) ‘n maatjie se verjaarsdagpartytjie aan gehad het nie, het ek en Klaradyn én Mamma vandag weer deurgeskiet Johannesburg toe om die fliek te gaan kyk – hierdie keer sodat Mamma dit ook kan sien en geniet soos dit geniet moet word. Ek weet Annieka sal dit geniet, baie geniet en dis ‘n jammerte dat sy nou vir die video-ervaring in die sitkamer, in plaas van3D op ‘n regtige egtige baie groot grootskerm, sal moet wag.
Die voorprent kan misleidend wees en by sommige mense die indruk wek dat die fliek “donker” kan wees, maar dit is glad nie die geval nie. Die tema word duidelik op nie minder nie as vier maniere aan kinders uitgespel: Dit is nie, soos ons almal so lief is om te sê, net  flieks wat gekenmerk word aan gelukkige eindes nie; in die werklike lewe leer ken ons ook gelukkige eindes, baie, gelukkige eindes (meer as een) én baie gelukkige eindes (geluk in oormaat).
O, en Martin Scorsese speel lekker met sy gehoor: in ‘n stadium neem hy ons deur ‘n toneel wat dan gelukkig net ‘n droom blyk te wees; die hoofkarakter skrik natgesweet wakker. Maar dan skrik hy nie wakker nie, dis net ‘n droom – hy droom in sy droom hy skrik wakker, maar droom verder; dis eers as hy die tweede keer, hierdie keer regtig, uit sy droom wakker skrik, dat ons besef hy het netnou net gedroom hy word wakker uit ‘n droom.
En dan is elke raampie ‘n skildery, ‘n visuele meesterstuk, op sy eie en in eie reg. Die fliek is mooi, nie mooi nie, lieflik, maar elke toneel, elke skoot, bykans letterlik elke raam, is esteties, vir die oog, mooi, trouens mooi verby.
En Klaradyn het dit ook geniet. Dis sy wat my toe weer vang, toe ons uitstap, met: “Nee, Pappa, ek het nie van die fliek gehou nie... ek het sommer báie van die fliek gehou.” Te wyte aan haar daarom dat ek die leser nou al twee keer met iets soortgelyks konfronteer het.
Toe ons twee uur later uitstap, toe lééf daardie sentrum, dis ‘n miernes. Ons kry ons Häagen Dazs (ek het letterlik laas in 1994 iewers in Europa regte egte Häagen Dazs geëet) en gaan geniet dit soos twee wafferse toeriste op die trappe langs die voormalige staatspresident se bronsbeeld op die plein.
En so amper is my kind toe kind-alleen gestrand in die vreemde. Want toe ek vir die 6 bolletjietjies roomys betaal, toe slaan die man my toe R165-00 vir die twee kleine bakkietjies met drie skeppietjietjies elk in, aan. Maar ek slaan nie op die plek morsdood nie, ek bly staande en gee baie subtiel met my lyftaal te kenne dat dit tog sekerlik nie die prys van 6 bolletjies roomys in twee palmgrootte bakkies kan wees nie. Maar nou is dit Sandton, nou is dit Häagen Dazs. Die man kom toe gelukkig sy fout agter en in plaas daarvan dat die ses skeppies roomys my R165-00 uit die sak jaag, kos dit my, ‘n tweede herberekening op die kasregister later, net R120-00 rand.
Dis hoekom ons nie regtig soos wafferse toeriste op die trappe langs Meneer Mandela gaan sit het nie – ek het eintlik daar neergeval, uitgepaas soos die kinders dit in hul opstelle spel.
Na ek my lewenskrag herwin het (my beursie was daarna nog nooit weer dieselfde nie) is ons seker vir twee ure boekwinkels toe – eers na die een Exclucive Books op die plein, en toe die ander een in die sentrum self.
Daar was baie waarvoor ek sou kon en sou wou swig, maar bly daar dan nou vir jou oor as jy die dag alles wat jy jou oë op lê kan koop?
Ons is betyds terug by ma gewees, het lekker hokkie gekyk, en heerlik vroeg gaan slaap.
Soos Sheila Cussons dit so mooi in een van haar gedigte stel: “te goed is hierdie dag om net aan my te gee”
Daarom dat ek ook nie anders kan as om dit te deel nie.

19.3.12

En die stilte dan

Met die Afri-fabels skop ek 23 April 2011 af, daar is reeds 244 bloginskrywings en ek is baie opgewonde oor die 3 116 bladlese wat ek afgelope 11 maande gehad het.
Pappa-Mamma-en-Klaars is darem ‘n maand ouer; hy sien 16 Maart van dieselfde jaar die lig. Daar is nie soveel bloginskrywings nie, slegs 153, maar uit die aard van die blog se inhoud, en omdat die mense wat in die een-en-twintigste-eeu nog oor Esopus se fabels opgewonde raak, yl gesaai is, geniet hy sowat 1000 meer bladlese:  4 085.
Ag, siestog, en dan is daar is die stiefkind, Tweedepouse, my hart se punt. Hy het net 80 inskrywings sedert 19 Mei, en dan ‘n skrale 641 bladlese. Hy het dieselfde leserspubliek as Pappa-Mamma-en-Klaars, my Facebook-kennisse en –vriende, dis die selfde aard en styl, maar bloot die feit dat dit nie vars uit die oond is nie, maak dat hy nie gelees word nie. Dit, terwyl bitter min van die huidige lesers, destyds, toe dit nog Kortpouse was, die geselsies gevolg het waar ek dit tóé gepos het.
Die suksesvolste, gemeet aan bladlese, is daarom Pappa-Mamma-en-Klaars; dit het gemiddeld 26, 7  lesers per inskrywing. Dan volg die fabels met 16,9. Heel laaste aan die kortste speen trek Tweedepouse met 7,6 lese per inskrywing.
Maar nie by Pappa-Mamma-en-Klaars nie, nie by die fabels nie, en ook nie eers by die maklike spoeg-en-plak van die Kortpouse-goedjies waarby ek so van tyd tot tyd onder Tweedepouse probeer uitkom, het ek hierdie week juis by stilgestaan nie.
En tog het enige beginner-blogger se wildste drome Dinsdag en Woensdag vir my waar geword. Ek het Dinsdagoggend ‘n nuwe blog begin, en twee ure later had hy reeds meer bladlese as die ganske Tweedepouse in 10 maande. Na slegs 10 inskrywings, in minder as ‘n week wat die blog aan die groot klok gehang is, het dit reeds 1 702 bladlese geniet – ‘n gemiddeld van 170 bladlese per inskrywing!
Ek het as blogger nog nooit so goed gevoel nie, en sal as blogger ook nooit so goed voel nie.
Die bleddie ding het darem ‘n voorsprong bo die ander drietjies wat ek so koester – elke ouer in die skool het dit Dinsdag in sy e-pos-inmandjie ontvang. Donderdag ek die skool se alumni wat funksionerende e-posadresse op die alumnikantoor se databasis het, dit ook ontvang.
Ek het geweet dis kroek, maar dit maak nie saak nie, dit was lekker.
Hierdie blog het reeds 47 lesers wat ingeteken het om van elke bloginskrywing verwittig te word. Pappa-Mamma-en-Klaars het slegs 13, Tweedepouse het 4 en die fabels, 1.
En dis hierdie nuwe blog wat my weg van die ander had hierdie week, maar ek gee nie om nie – dit was een vet lekkerte.
Hier waar ek werk is ons volgende jaar 50 jaar oud en ek het die blog vir die oudleerlinge begin. Ek gaan ook verantwoordelik wees vir ‘n been van die halfeeufeesvierings se administrasie. En omdat ons skool se e-pos-stelsel meer wisselvallig as Eskom se kragvoorsiening is, het ek besluit om alles aan die hand van die blog te kommunikeer.
En wanneer daar geen werk is om verslag van te lewer of kennis van te gee nie, krap ek maar in die skool se verlede en deel dit met die oudleerders.
En verder gaan daar in ons lewens nie veel aan nie. Ek geniet steeds elke oomblik wat ek voor ‘n klas staan en werk, en met die dat ek nou so lekker in die skool se geskiedenis kan krap, geniet ek selfs heelwat van die oomblikke by die skool waar ek nie voor ‘n klas staan nie.
Klaradyn is steeds een vet vreugde. Sy vertel toe mos iewers hierdie week dat sy en haar maatjies ook maar redelik vlugtig vir hul juffrou is. Ons lei maar af sy het lugtig met daardie vlugtig bedoel.
En Annieka gaan week 5 van die 6 weke wat rondom haar siekte voorspel is, in. As alles goed gaan, is sy binnekort weer 100% klopdisselboom.
Het ek by Pappa-Mamma-en-Klaars uitgekom hierdie week, sou ek tien teen een van die lekker kos vertel het – heel skaapnek, murgsag. En toe draai die weer en die koue tong wat ek beplan het, om net nog een keer darem nog lekker koue tong te kan eet, word toe warm tong.
En dan moet julle weet, ek het nog nooit my eie warm tong gemaak nie. Ek hou mos nie eintlik van tong nie – suiwer ter wille van my skoonpa dat ek dit Kersfees op die spyskaart gesit het.
Maar toe kom kry ons reën en ek weet met die koue tong is dit nou neusie verby.
Ek krap in my kookboeke, op soek na “skoonma se tong” wat my ma altyd gemaak het. Ek kry niks onder daardie naam nie, baie soortgelyke resepte, maar niks onder daardie naam nie.
En ek soek “skoonma se tong,” niks anders nie.
Ek is selfs op die internet op soek na die resep.
Judy het dertig jaar terug en later te vertelle gehad dat die resep skoonma se tong heet, omdat dit so ‘n skerp smaak het. Maar ek dink dis apokrief, sy het tien-teen-een gaan leen by die plant met die naam “skoonma-se-tong” – dit het mos sulke lekker skerp tweesnydende swaard-tongvormige blare.
Want, nie waar nie, maar aan huis van my eie skoonma, dat ek toe nou die “skoonma se tong”-tongresep waarna ek so op soek was, by die naam opspoor. In die eerste Huisgenoot-Wenresepte van 1982.
En toe ek die resep so lees, toe besef ek dat ek enige van die ander mosterdtong-resepte wat ek opgespoor het, kon gebruik het, hulle is almal eintlik maar ligte variasies op een en dieselfde resep.
Maar vir my sou dit nie dieselfde gewees het nie, en ek sou nie gerus het voor ek nie regtige egtige “skoonma se tong” opgespoor het nie.
En die vrou wat die resep destyds Huisgenoot toe gestuur het, verklap toe waar die naam vandaan kom – dis die naam wat haar skoondogter die resep gegee het.
Dit beteken natuurlik nie dat Judy destyds en oor jare heen gejok het oor waar die resep aan sy naam kom nie – sy had die eerste Wenresepte beslis nie, dis maar eers hier van die tweede een af dat sy dit begin koop het; sy sou die resep met die hand geskryf iewers by ‘n vriendin of damestee of vrouevereniging-vergadering gekry het.
Dis duidelik ‘n laat sewentigs, vroeg tagtigs resep – dit kry ‘n volle koppie mayonnaise in.
Maar dit het goed afgegaan en as ‘n nostalgie my weer oorval, sal ek dit beslis weer maak.
Ek wens my broer was hier om saam met my ons ou mammie se hartskos te kon geniet.
Ai, en toe braai ek gisteraand die lekkerste boerewors wat ek in ‘n lang tyd by die Boeremark gekoop het. En ek maak pap, nie soos die aangetroude en aangebore familie daarvan hou nie – dis nou Annieka en Klaradyn, maar soos ek daarvan hou.
Daar waar ek smiddaes na skool gebly het, terwyl my ma gewerk het, kon ons kinders altyd op die laaste dag van die kwartaal kies wat ons vir middagete wil geniet. En ons keuse was kwartaal vir kwartaal, jaar na jaar, presies dieselfde:  pap en wors en sous.
Maar nie krummelpap nie (dit het my skoonfamilie my jare later voor lief gemaak), nie stywe pap nie, maar iets so tussen stywe en slap pap.
En daar eet ons Saterdagaand toe so lekker pap en sous en wors, dat ons Sondag weer pap en sous en wors eet. Woolies se wors hierdie keer, maar dit was net so lekker.
Tot later dan.
En hopelik hou die skoolblog my nie so besig dat ek nie sommer gou weer by Pappa, Mamma en Klaars se Pappa-Mamma-en-Klaars kan uitkom nie.