Pages

18.3.12

Dinsdag se gesels, Sondag

As dit nie was dat haar brein haar grotendeels vooruitgegaan en voortydig ontval het nie, sou my ma tot ‘n week voor haar afsterwe nog van my kon sê:  “As sekere dinge nie aan jou lyf vas was nie, het jy dít ook al lankal iewers vergeet of verlê.”
Die eerste keer toe sy dit kwyt geraak het, was ek nog so klein dat ek geensins die speelse strekking van haar woorde gesnap nie – ek was nog hopeloos te jonk.
Nie dat dit vandag, hier, enigsins oor enige een  van “daardie dínge” (of goeterstes) gaan nie – hierdie is immers ‘n openbare platform – eerder die vergeet en verlê en die verloor.
Sien, ek het dit vandag weer gedoen:
Dis meer as ‘n halfuur se ry, deur ‘n poort tot anderkant die Magaliesberg om Klaradyn by haar drama-speelgroep uit te kry.
En dan is ek nou nie iemand wat stil in ‘n kar in die son kan sit en wag nie.
Vanmiddag gaan koop ek toe haaskos en kokketielsaad oor ek Saterdag te lekker in die bed gelê het toe ek op moes gespring het en deurgeskiet het Boeremark toe.
En vandaar moet ek deur Sinnoville-slaghuis toe, ook nie “moet” nie, maar “wil”:  hulle beestonge is altyd lekker klein en kook lieflik sag uit om koue tong vir ete te kan geniet. En dan soek ek twee skaapnekkies wat ek oornag murgsag in die prutpot gaar wil kry – na so ‘n nag “skil” jy die vleis van die been af soos jy ‘n turksvy se skil van die vrug afskil.
Ek en die dame agter die vleis gesels heerlik en ruil resepte uit – ek loer bykans weekliks daar in, juis omdat dit vir my so lekker is om by die betrokke slaghuis en sy dames in te loer – dis die naaste wat ek ooit in SA aan een van die gemoedelike klein Duitse metzgerei gaan kom.
En toe moet ek gaan kos kop vir vanaand – die nek moet immers oornag in en die tong is vir koud saam met slaai.
Ek het nie die wêreld se tyd meer oor nie, maar ek is Pick & Pay se gange kruis en dwars op en af sonder om iets te kry wat ek my kan voorstel lekker vir aandete gaan wees.
Op die ou einde is ek terug slaghuis toe – kouevleis en slaai sal dit dan wees.
Ek betaal vir die paar Pick & Pay-goedjies en gaan groet vir ‘n tweede keer die dames in die slaghuis.
Ons praat die praatjie rondom Annieka se gordelroos en Klaradyn se waterpokkies klaar – ronde 1 het die telefoon gelui en ek kon nie wag nie, ek is toe maar uit.
Hierdie slaghuis maak nog sy eie kouevleise soos ek kleintyd op die plaas leer ken het, so ek is in my noppies toe ek met my pakkies uitstap.
Gelukkig is ek nie berede nie, anders was dit ‘n dagreis te perd oor die berg en huis toe, maar vyf en veertig minute later dra ek en Klaradyn die pakkies in kombuis toe.
En toe ek die tong en die nek (eerste inkopies van drie betaalpunte) wil bêre, toe is dit net mooi nêrens nie:  nie reeds in die yskas nie, nie steeds in die motor nie, nie in die kombuis nie en ook nie in enige een van die drie honde se pense nie.
Ek maak ‘n hooflynoproep na ‘n vriend anderkant die berg om te kyk of hy die slaghuis se nommer vir my het. En dis nie 10 minute later nie, toe bel ek hulle.
En dit is toe ook so – ja, my twee sakkies vleis wag vir my. Nee, ek het dit nie by hulle vergeet nie, maar in die Pick & Pay-trollie. (Ek was haastig.)
‘n Dagreis te perd terug? Geensins. Die een dame bly hierdie kant van die berg (ook net ‘n Pretorianer wat van die Magaliesberge se voetheuwels wat hier deur die Moot loop, as ‘n berg sal praat) ‘n katspoegie van my af – ek kan dit sommer by haar kom optel as sy na werk tuis kom.
So gesê, so gedaan.
Toe vertel ek haar van die keer, so vyf jaar gelede, toe ek, ook anderkant die berg by Kollonade, vir my ‘n nuwe rekenaar gaan koop het. Maar ook nie net ‘n nuwe rekenaar nie (kas en skerm en sleutelbord en luidsprekers), ook ‘n drukker en ‘n aftaster.
Dit was donker toe ek na ses uit die winkel stap; my motor was eenkant en alleen.
En toe ek ounag die drukker wil koppel, toe kyk ek selfs onder die motor se karmatjies, maar kry niks nie.
Ek bel toe die volgende oggend die winkelbestuur se kantore.
Hulle sit my deur na veiligheid en sekuriteit.
En ja, so waaragtig, ‘n motorwag het op die trollie afgekom, en daar onder, waar ‘n mens gewoonlik die sak lemoene of groot sak hondekos bêre, daar het hy my aftaster opgespoor en gaan ingee, soos dit hoort.
Bid jou dit aan!
En as iemand ooit gewonder het hoekom ek en Annieka net een kind het... moenie vra nie, dis ‘n lang storie. Oor goeterstes wat kan afskroef, en laat lê en vergeet word, en so voort, miskien ook.
Maar darem nie regtig nie.
Stel jou voor.
Dit sóú met my kon gebeur het.

14.3.12

'n Niksseggende veelseggendheid (of miskien andersom)


Hier in my beginjare van onderwys het ek skoolgehou vir ‘n kind wat in sy matriekrekordeksamen uitgevind het dat sy sussie eintlik sy ma is en sy ma toe al die jare sy ouma was.

‘n Mens moenie opsien na jou kind se matriekjaar en -eksamens nie, en dit sal vir my ‘n wonderlike voorreg wees as ek en Annieka en Klaradyn eendag vir mekaar gespaar kan bly om elkander deur die kind se matriekjaar te sien, maar ek sidder nou al by die blote gedagte daaraan.

As ek gruwelik veralgemeen het in my taksering van leerders wat middel van die jaar van vreemde skole inkom, gaan die volgende twee stellings dalk ook soos veralgemenings klink, maar dit is nie, glo my vry – dis feite soos koeie en kan deur jare se ondervinding konstateer word:

‘n Kind, seun of dogter, wat in elf en ‘n half jaar van onderwys en opleiding nooit eers malvalekker- ligte pienk rooskleurige hakskeentjies gehad het nie, ‘n kind wat in al die jare nie eers van ‘n onderdeur bewus was om oor te loer nie, slaan in ‘n matriekjaar sulke bloedrooi, vuurrooi hakskene uit dat al die water in die see dit nie kan blus nie – en dan spring hulle nie net oor die onderdeur nie, hulle torpedo sommer dwars deur die deur, en as daar nie ‘n deur is nie, gaan hulle sommer nog deur die muur ook en skep hul eie deur.

Nie wanneer nie, slegs op een van hoogstens twee geleenthede in hul matriekjaar:  voor of in die rekordeksamen, en knap duskant of midde die eindeksamen.

As jy ‘n ouer is, is die kanse 49% dat jy sal beaam. En as jy nog nie ‘n matriekouer is nie, is die kanse 100% dat jy deel van die 49% gaan wees wat wel teen daardie tyd beaam.

Die teendeel is ook waar – nie alle kinders is immers dieselfde nie: as jou kind deel van die ander 49% is wat al op laerskool oorle’ ouma se voetstoeltjie nadergesleep het om voortydig bo die onderdeur uit te toring, as jou kind se rooier as rooi hakskene al hier teen standerd 6 uithang, op die grond sleep en vir die hele dorp (nie net vir jou en jou gesin en jou ganske voorgeslag nie) ‘n verleentheid is, kan jy maar weet – teen die einde matriek is dit oor en verby, asof dit nooit was nie en as jy wil keer dat jou ysblokkies smelt, gee jy dit net vir jou kind om vas te hou.

Natuurlik ook nie wanneer nie, maar in of rondom die rekord- of eindeksamens. Dit kan mos nou nie anders nie.

En of jou kind dan nou tydens daardie eksamen in rat skop, of uitskop, maak nie saak watter kant toe nie – dit gaan vir hom of haar uitklop, so uitklop dat die hele eksamen een van die onaangenaamste ervarings van julle hele skoolloopbaan is.

En dan het ek nog nie die moeite gedoen om die statistiek uit te werk nie, maar soos ek dit het, oorval die liefde (of val dit nie óór nie, maar onherstelbaar úit) die stomme kinders klokslag, altyd, net voor die belangrikste vraestel van die belangrikste vak – daardie vak waarvan die universiteitstoelating afhang. Dis nooit iets soos Engelse opstelle nie, maar Wiskunde se derde vraestel of Skeinat se Fisika (behalwe nou as dit die Chemie is wat hy of sy tot in die rekordeksamen nog gedruip het).

En dis nag.

My ouma het graag gesê dat die liefde jou soos ‘n groot poef oorval.

Dis natuurlik wat my ouma gesê het nie, maar dis die woorde wat ek veiligheidshalwe gebruik as ek met die leerders werk.

Ons kan dit ook Bybels stel:  “Die liefde oorval jou soos ‘n dief in die nag en daar is niks wat jy kan doen om dit te keer nie.”

Self weet ek nie watter een van die twee die ergste is nie: die hallo of die tatta nie, beide is immers ewe ontwrigtend en maak dat jou tiener se kamer en gemoed amptelik tot rampgebied verklaar word.

49% en 49% is 98%; wat het van die ander 2% geword?

Nee, daar is uitsonderings en hierdie uitsonderings is meer bekend – die uitsonderings is immer so dankbaar oor hul uitsonderings dat hulle hul uitsonderlikhede aan die groot klok hang.

En ek het so tussen twee skole heen eers vir drie van ‘n gesin se vyf by die een skool skoolgehou, en toe die jongste twee by die ander skool so twee jaar uit mekaar in my klas gehad.

Nie die oudste drie nie, maar die oudste vier is ongeskonde deur de leste matriekeksamen, ongedeerd van die grootste vraestel tot die kleinste, ligste toets, die hele matriekjaar lank. En toe word hulle teen die grond geklap met die jongste telg. Maar so geklap dat ek nie hier daarvan kan vertel nie.

Maar daar is 2% wat nie deel van die ander 98% deel vorm nie. Die helfte van hulle trou nooit nie (of bly nie saam nie) en die ander helfte is daai outjies wat op skool al kys en uitgaan en iewers na skool in die huweliksbootjie klim en die lewensreis voortsit...

Maar dit was basies ook maar al – ek het net ‘n uur agter die rekenaar gehad terwyl ek vir Klaradyn in die motor gewag het. Dié stukkie gesels was eintlik maar net om die tyd om te kry – dit sou in ‘n oorvol legger van onvoltooide bloginskrywings op my rekenaar beland het. Soos iemand anders toonlere sit en oefen, het ek vingeroefening agter die rekenaar gedoen.

Twee het verby my gestap, ek was nie seker of dit ma en dogter, of sussie en ousus is nie.

Toe onthou ek die kind uit my beginnerjare in  die onderwys en die skok rondom sy ma en sussie wat toe nie sy ma of sussie was nie.

En toe is dit nie lank nie, of ek is by my eie lappie groen koring op die land, en ek sien daai koring op pad na geel toe in ‘n matriekjaar.

Maar met die klim die einste korreltjie koring toe nou ‘n rukkie later terug in my kar.

Sy het die naweek ‘n  CD van Laurika Rauch gesoek en oor ek weet hy is in die motor, het ek hom vir haar in die gereedheidshouding gekry. Maar toe wil my kind nie die Bobbejaanliedjie waarvan sy die naweek gepraat het, hoor nie, nee, sy soek die een van die twee wat nie by mekaar uitgekom het nie.

Ek het natuurlik nie ‘n idee waarvan sy praat nie, (twee wat nie by mekaar uitkom nie, Skat, wat vir ‘n lirdjie is dit?”) en spring rond van snit tot snit.

En toe die regte akkoorde inskop en die eerste note opklink, toe sê sy dis die liedjie wat sy soek en sy begin summier saamsing.

O, ma swak hart, my korreltjie koring, skaars nog ontkiem...

Jasper onthou jy ons belofte gemaak

Dat ons mekaar sou liefhê – ons was agt

Ek in my groen skooljurk

En jy smart in krieketgoed

Met die duiwe as ons dom’nee

Ons getuie was ‘n hoed



Jasper onthou jy ek het eenkeer verdwaal

In daai bangmaak populierbos – ons was tien

Ek het stil gaan sit en sag gebid

Geweet jy sou my kry

Jy sou soek en soek want niemand

Was al ooit so lief vir my gewees nie



Refrein:

Maar ons stofpad saam het teer geword

Jou spoor kon ek nie sny nie

Ek het weer verdwaal en verdwaal gebly

En gehoop jy sou kom soek na my

Maar jou seunskind hart het aanbeweeg

Jy’t nou die oë van ‘n man

Jasper onthou ons kleintyd saam

Onthou my gou weer – as jy kan



Jasper onthou jy ek was nerf-af geval

Toe daai lang ou my gestamp het -

Ons was twaalf

Jy’t my opgetel en weggedra

Die pleister self geplak

En daai boelie sommer vreesloos

In die fietsloods kaalvuis aan gaan vat

Jasper onthou jy toe jy weg moes gaan

Na daai ver dorp innie vreemde

Ons was groot -

Groot genoeg om seer te kry

Te jonk om te kan keer

Better loved and lost than never loved

Dit sou die tyd ons hard-hard leer



Refrein



Brug:

Ek bly nou op ‘n anner plek

Het nie lank na jou daar weggetrek

Het jou nommer nou die dag by navrae opgesproor

As ek jou sou bel en sou vertel

Dat ek steeds van ons twee droom

Sou jy sê jy droom ook steeds van my

Of is ek lankal reeds verloën


Refrein
 

(Woorde en musiek: Mariki de Villiers-Knop - Uitgewer: Ms Samro)

Ag, en toe (my kind is 7 op pad na 8, die stem in die liriek was 8) op daardie punt zirr dit toe in my kop van lyne en verbande en aanknopingspunte en groot word en liefde.

En ek weet dit maak nie sin nie.

Maar tog ook so bietjie.

So toe kom maak ek dit maar klaar.

En die begin en die einde is nie aaneenskakelend nie, ek weet. Dis beslis darem ook nie teenstellend nie. Eerder verbandhoudend, dan.

Op ‘n Maandagmiddag na Voortrekkers was dit vir ‘n ruk lank egter so verbandhoudend dat dit vir my direk aaneenskakelend was en ek daarom nie anders kon as om dit aan te teken nie. Miskien weet ek eendag hoekom ek dit moes doen.

Laat daardie eendag asseblief tog net nie in my kind se matriekjaar wees nie.

10.3.12

Afsaal Uitspan



 




Dan sal daar na die oopgooi van my wortels in die foto’s hier bo, seker, ten spyte van die duidelike uitspel daarvan, steeds diegene wees wat nie kan verstaan dat ek beslis nie langs die pad by ‘n Golden Egg, Steers, Wimpy, One Stop, Ultra City of selfs ‘n plattelandse dorpie se handelshuis of tuisnywerheid wil aftrek nie.

En dan is dit nie dat ek ‘n probleem het met die vernuftige vermenging van gemaalde hart, long, poephol en tong wat hierdie plekke jou olierig gaargemaak en in cholesterol deurdrenk as hamburger-pattie  aanbied nie – daar is immers niks wat die talle giftig en verbode middels in die allerhande souse wat elkeen van hierdie plekke bied, nie kan verdoesel nie.

My enigste probleem met die meeste van hierdie kitskosplekke is die negatiewe effekte wat hul bereidings- en enkele ander ongesiene prosesse op die behoud van die groen gordel reënwoude om die aarde en die osoonlaag het. Maar dit gooi ek, ook maar net ‘n mens, maklik ‘n blinde oog as ek weg byt in een van hul broodjies of burgers wat met niks anders nie as ewe menslike spoeg aanmekaar geplak is nie.

Ek is, soos die meeste van ons, deeglik bewus van die samewerkingsooreenkoms tussen motorwerktuigkundiges en die kistkosbedryf rondom die herwinning van duidende liter afgetapte motorolie vir die gaar maak van ertappelskyfies, maar omdat beide partye dit aan die ontvanger van inkomste verklaar is daar seker niks onwettigs in hierdie verband nie.

So na sommige landsburgers ‘n jaar of wat gelede so ontstel was oor die toevoeging en inspuiting van allerhande vloeistowwe om die land se hoenders so uitgedy te kry, verwonder ek my nie meer hoe die outjies wat so goed daarin slaag om die land se stedelike hadeda-plaag onder beheer te kry, dit regkry om die pluim- en ander geveerde vee wat hulle aanbied, so lekker sappig te kry nie – ek eet lustig saam.

Maar nie op die lang pad nie, op geen lang pad nie. (En dan is lang pad, enige iets verder as die afstand tussen Pretoria en Johannesburg.) Vir die lang pad, enige lang pad, sorg jy dat alles laat agtermiddag reeds gepak en die motor as het ware in die gereedshouding staan vir die volgende oggend se vertrek. En dan maak jy die aand voor die tyd jou padkos vir die volgende dag se reis.

Ek bel selfs vir Annieka en sê sy moet vir ons ‘n wegneemete van die naaste Golden Egg, Steers, Wimpy, Chicken Licken of KFC bring – ek het nie nog tyd en krag vir aandete maak óók nie; my krag en tyd en energie as gefokus afgestem op die lekkerste van alle lekkerstes:  padkos!

En moenie vir my sê jy het ‘n probleem met die geur van afgedopte hardgekookte eiers in ‘n motor nie. Ek het in my lewe al meer hardgekookte eiers in die binneruim van ‘n motor geniet, as daar buite, en ek kan in alle eerlikheid nie noem dat die reuk van die eiers, in welke hoedanigheid aangebied, my al ooit opgeval het nie.

Koue wors is eintlik ook ononderhandelbaar, maar noudat wors ook nie meer is wat dit was nie, gebeur dit helaas al hoe meer en meer gereeld dat ek nie die aand voor die tyd ‘n parmantige spiraal boerewors in die gereedheid bring nie.

‘n Lekker koue hoenderboudjie of twee dan.

Maar dan moet ek bieg, dis ook al jare sedert ek laas die lekkerte van ‘n hoendertjie van my vingers afgelek het.

En miskien het ek sleg geword; hopelik net gemaksugtig, maar ek het al bekendheid verwerf vir my eersteklas toebroodjies. My toebroodjies kry party mosterd, ander peperwortelsous, nog ander kruisementjellie, en die laastes óf swartbessiejellie óf appeljellie op. Dan is daar nog die sonder souse ook. En jy kan nie sonder ‘n konfytbroodjie op die pad gaan nie – my gunsteling is skyfies groenvyekonfyt saam met Duitse Swartwoudham, brie en ‘n groenerige blaartjie met ‘n sterk geur – iets soos rocket.

Ek sal nog kussings (Annieka het dit tog so oor haar eie spul kussings) en storieboeke (Mamma s’n, Pappa s’n en Klaradyn s’n) en selfs ‘n driewiel of groot en belangrike speelding tuis los, maar die etlike kubieke meter tupperbakke en warmflesse, koue flesse, jammerlappies en tafelkleedjie (wat ook kan instaan vir ‘n piekniekkombers as dit moet) moet saam.

En dan is dit nie vir ontbyt of middagete nie, dis vir heeldag se eet – ons is uit Pretoria nog nie eers die tweede keer oor die Jukskei-rivier nie, dis nog ‘n goeie uur voor die son opkom, die motor se enjin moet nog begin warm word, dan het ek al my eerste broodjie(s) agter die blad.

En, te oordeel ook aan – trouens duidelik bewys deur – die foto’s, is dit nie ek nie – dis my ouers se skuld. Dis hulle wat my so geleer het. Enige ander man neem foto’s van die kinders op die strand, of met die visstokke in die hand; nie Hans Moolman nie. Ja, dit ook, die strandballe, babers of leeus (hou ons vakansie in die NKW) maar heel eerste neem hy ook die vyfgangmaaltyd wat hy en my ma vir langs die pad beplan het, af.

Partykeer het daardie vyfgangmaal egter oornag in ‘n viergangmaal verander.

My pa het mos nog die hebbelikheid gehad om in die middel van die nag wakker te word, op te staan, en onder die kerriefrikkadelle, wat my ma met soveel sorg voorberei en gepak het, in te spring.

Haai, en dan kon niemand hom dit verkwalik of blameer nie – enige iemand wat my ma se kos geken het, sou – uit vrees dat hulle nie in die middel van die nag wakker word nie – die wekker stel en iewers knap na middernag inspring en skelm begin eet.

Ek weet (en toe is my pa al jare dood en ek op universiteit – en pas daarna) van meer as een jaar dat ons met twee (een jaar selfs met drie) motors af is Kaap toe – en dan ry ons via Judy-hulle se huis op Alberton, want sy het onderneem om vir ons te sorg vir padkos.

O, en dan het Judy dit in styl gedoen – nie in Tupper nie – sy het na die Griek van die bakhuis gegaan en vir elkeen ‘n wit kartonboksie gekry. Dis soos vir ’n kinderpartytjie – elke kind kry sy eie pakkie. Net nie elke kind nie, maar elke reisiger – ‘n keurige pakkie waarvan jy nie weet presies wat dit is wat die meeste in die oortreffende trap is nie:  die verpakking, die voorsit, die smaak, die verskeidenheid geure en teksture, of die meesterlike kombinasie van bestanddele nie.

Hoe sy dit reg gekry het, sal ek nooit weet of haar dit kan nadoen nie – sy is met daardie vaardigheid en kennis in haar graf in, maar Judy Moolman kon Donderdagaand in Alberton ‘n tamatietoebroodjie voorberei, en stop jy Vrydagagtermiddag by die Hendrik Verwoerd dam (‘n dagreis was destyds nie so ver soos vandag se dae nie – die paaie en die motors en die spoed wat ons daardie jare gehandhaaf het, was anders) dan is Judy se tamatietoebroodjies nog steeds die soggy nie (pap en deurdrenk sou seker net so goed gewerk het, maar soggy klínk net so pap en deurdrenk dat ek nie ander kan as om dié Engelse woord eerder in te span nie.)

Nie dat jy agtermiddag nodigheid had vir ‘n tamatietoebroodjie nie – my ouers het geweet, kom jy doodmoeg van heeldag se ry en eet eers daar anderkant aan, het jy nie krag en lus vir kosmaak nie – en wie eet nou oorskiet van die padkos – nee, hulle het gesorg vir ‘n klaar bereide ietsie vir aandete.

En ons doen dit vandag nog – dis so ietsie spesiaals, so ongekende luuksheid, om in die vreemde, of die vertroudheid van jou tent, steeds iets van die huis by jou te hê op aand een.

En nou is die komende Aprilvakansie vanjaar net een week lank. Ek het selfs my bespreking by die see prysgegee vir dierbare en jarelange vriende. Wie doen nou moeite om al die pad af te ry see toe, en dit vir net ‘n week? Nee, as iets die moeite werd is te doen, dan is dit die moeite werd om dit goed en deeglik te doen. Geen mens kan goed of deeglik vakansie hou in ‘n week nie. Dan gaan ek eerder daar sonder.

Maar nou is ek lus en pak die kar en ry al die pad Noordkaap of Weskaap toe net om langs die pad te kan uitspan. Hier by ons in Gauteng is jare al nie meer bankies en tafeltjies langs die pad om by uit te span nie – en as daar is, is daar struikrowers en verkragters, sluipmoordenaars en sakkerollers om enige vorm van afsaal onmoontlik te maak.

Miskien moet ek dit doen.

Ja, af in Teewaterskloof, of miskien die halte in die lieflike Seweweekspoort, en ek hoop die tafeltjie en bankies is nog daar, is waar ek met Annieka en Klaradyn rusplek vir ons gees wil gaan vind.

As my bankbalans, of ‘n dierbare bankbestuurder, so iets tog net moontlik kon maak.

7.3.12

Een vir almal en almal vir een


Ek onthou dit soos gister, Desember 1987, ek was op pad terug Caprivi toe na my pasafgelope 7-dag-pas. Ons het natuurlik beslis nie van iets soos ‘n 7-dag-pas gepraat nie – dit was sommer jou langverwagte Seven Days.

En langverwagte in my geval, as ons in ag neem ek praat van Desember 1987, dan nou duidelik bykans 12 maande lank verwag.

Toe die Flossie my die vorige week terug in die states had, is ek dadelik na my broer-hulle toe. Daar was twee tieners aan huis wat in die laat herstelfase van waterpokkies was, en ek het gehoop... ek het so gehoop. Ek meen enige iets is moontlik en die hoop beskaam nie.

Die storie wat die ronde gedoen het, was dat jy staatseiendom geword het die dag toe die SAW & Seuns jou op die bus of trein gelaai het – in my geval Sturrock Park anderkant die SAUK en die destydse Onderwyskollege.

En as jy, word jy siek, jouself nie summier aan ‘n distriksgeneesheer uitlewer nie, kan jy aangekla word van beskadiging van staatseiendom.

Ek het presies geweet waar om so ‘n man op te spoor en het my lyf as tiener en op skool nie so verken soos daardie daaropvolgende week nie. Maar helaas, alles verniet – my lyf is so glad en egaal soos ‘n pappe baba se boudjies nie kan wees nie.

En hy bly so glad en egaal soos daardie symste pappe baba se boudjies sewe dae later nie kan wees nie.

Dis natuurlik nou net tot ons bykans 2000 kilometer verder gereed maak om in kort duskant 40 grade Celius op Rundu-vliegveld uit te klim: dis mos al asof ek bewus word van ‘n jeukerige krapperigheid hier regs van my naeltjie en ek vroetel tussen die harde lappe van my browns op soek na die oorsprong van hierdie jollie jeuk.

En natuurlik is dit toe nooit anders nie – pokke, bloedfamilie van daai herpes wat jy opdoen van hopeloos te veel onverantwoordelike lekkertes.

En oor ek staatseiendom is, het die staat mooi na my gekyk en my vir twee weke gehospitaliseer:  ‘n saal met agt of so beddens. Geen ruite of vensters – dis te warm, selfs in die winter – dis gaas.

Die een ander pasiënt, vir daardie twee weke, was ‘n man met die naam Cavallo – hy het óf aan bomskok gelei, óf hy was verstandelik gedepriveerd. Moontlik was dit ‘n baie ongesonde gesonde kombinasie van die twee. En dan was daar nog hallusinasies en psigoses en ‘n hele paar ander mediese terme ook by betrokke.

Maar ‘n liewe mens, was hy gewees – almal het van hom gehou, dis net dat hy tydig en ontydig die allervreeslikste keel opgesit het. Dis hoeveel jaar later, en sy stem eggo nou weer herkenbaar deur my kop – die man het op my gegroei, daardie twee weke.

Maar behalwe om na Cavallo te luister en te wag vir pos, kon regtig net twee dinge doen – sweet en krap.

Ek het vir myself stukkend gekrap, dat die bloed loop en ek vandag nog met kraters oor my ganske gesig sit.

Dis ook hoekom ek my haarlyn so oppas en allerhande aanvullings en goeterstes gebruik – ek weet, wat daar blootgelê gaan word, verloor ek die dag my yl haardos: ‘n pankop wat lyk of die pan met hamers vol gate getimmer is.

Wat eintlik maar net ‘n omslagtige manier is om uit te kom by die hartseer feit dat ons nou by die huis met twee vrouens sit wat elk die een of ander vorm van herpes het:  Annieka met gordelroos (oppad uit) en Klaradyn met waterpokkies (oppad in).

Ons is Sondag met vyf spikkeltjies op Klaradyn se lyf Doktor toe:  een kon ‘n stukkende blasie gewees het, een het gelyk soos daai dingetjie wat ek tussen my browns se hemp deur neffens my naeltjie opgespoor het, en die ander drie kon netsowel muskietbyte gewees het.

Die doktor, gelukkig ‘n oudleerling wat ons daar raakloop (toevallig seker die slimste, skranderste, intelligentste kind wat in amper 25 jaar my pad gekruis het), wil toe nie sou oudmeneer teleurstel nie en ons is daar weg met R1 800 se antibiotika en ‘n stropie vir koors.

Ek dink ek is in my dae behandel vir die simptomatiese verligting van wat ook al waterpokkies oor jou pad bring – ek dink die mediese wetenskap het vandag ‘n moordmasjien ontwikkel wat die virus nie net verontrief nie, maar hom in die kiem smoor. (Kiem?!)

Ons het met 5 merkies begin en dit het oor een nag effe aangegroei, maar daarna nie weer nie.

Waar ons hoor het almal nou waterpokkies: ses onmiddellike kennisse, en dan vertel die tannie by die skool dat daar ‘n verwoestende vlaag deur die kinders trek.

Ek is bly ons het met so ‘n skrale kennisgewing tot aksie oorgegaan, en ek is bly die dokter het besluit om eerder aggressief as akkommoderend te behandel – van die ander outjies is lelik siek; ons is besig om lig daarvan af te kom.

Ouma wat nou week lank ‘n siekerige aan huis het, verdien die meeste simpatie.

En ek wat spekvet en gesond so uit voeling met die res van die siekes in die huisgesin is, is sommer lus en kry masels of pampoentjies.

Of verbeel my dan maar ter wille van groepsdruk ten minste net met ongekende oortuigingskrag dat ek siek is.

4.3.12

Twee of drie klein goedjies in my binneste wat wil uit



Sommer twee foto’s van my ma en pa op die strand, as ek moet raai (op grond van my broer op ander foto’s hierdie dag geneem) so agt jaar voor my geboorte.

Nee, wag, hier is my broer (die onderste een):

Nou daardie seun was 16 toe ek gebore is.

Ons kan seker die model van die motor agter my broer-hulle in die pad gebruik om met redelike sekerheid uit te werk min of meer wanneer hierdie drie foto's geneem is.

Nie dat dit nodig is nie, die presiese ouderdom is nie ter sprake nie – dit gaan om daardie rooi vierkantige blikkie regs van my pa in die sand. (Regs van my pa, maar links van die mandjie.)



Kom ons veronderstel dat die foto’s in 1956 geneem is (8 jaar voor my geboorte) dan is daardie blik vanjaar, minstens 55 jaar reeds in Moolman-hande.

Ja, ek bêre Klaradyn se speelklei  daarin, seker 6 jaar nou al.

Ek het een keer die blik uit die asblik moes haal, sewe jaar gelede.

Alleen maar geluk of deur die genade dat ek daarop afgekom het toe ek kos of iets in dier voege gaan uitkrap het.

Maar so iets sal nie sommer weer gebeur  nie.

Nie met daardie blikkie of enige ander soortgelyke blikkie nie.

Ek vermoed soortgelyke dinge gebeur van tyd tot tyd nog met sommige van my klere. Maar daaraan is ek al jare gewoond - my ma moes op skool al, en daarna, van my klere laat verdwyn, bloot omdat ek nie van gunsteling klere ontslae raak nie.

Wie kan byvoorbeeld spog dat hy steeds die T-hemde en sweaters waarmee hy in 1994 oorsee was, in sy kas het, EN dit steeds dra?

Maar ek dwaal af; el was by die blikkie wat ek gelukkig genoeg was om vir Klaradyn se kleinkinders te red (Klaradyn is ongelukkig, wat dit betref, haar pa uitgeknip.)

Oor hoe die blikkie in die asblik beland het, en wie hom daar gegooi het, gaan ek nie nou uitwei nie. Dis 'n lang storie, en nie sommer vir die openbare oor in die publieke domein nie.

Die punt wat ek wil illustreer is egter hopelik duidelik tuisgebring:  ek raak nie sommer van iets ontslae nie, veral nie as ek sentimentele waarde daaraan heg nie.

En dan is ek twee maande seker nou al bewus van twee goed wat onherstelbaar, onvervangbaar, onmisbaar, op pad uit is.

Ek kan daar niks aan doen nie. En dit maak my hartseer.

Ek kan dit ook nie probeer red soos ons met Ouma van Wyk se donskomberse gedoen het nie:

Die oomblik toe lakens en komberse uit gaan (iewers rondom standerd 5 of 6) en duvets die in-ding word, toe word Ouma van Wyk se donskombers my duvet. En hy het my duvet gebly tot ek die dag getrou het. (Wintermaande het ek sommer onder twee van hulle geslaap.)

Toe soek ons, seker so 5 jaar in die huwelik in,  vir maklik 3 jaar na iemand wat Ouma van Wyk se twee donskomberse en al 8 Ouma Moolman se dons-kussings (op die familieplaas gepluk) in een mega-donskombers kan stop.

Die down-proofing materiaal het van jare se gebruik sommer begin stukkend val.

Ons kry toe iemand, iewers ‘n dagreis uit Pretoria uit. Ons maak daarvan ‘n uitstappie en drie weke later lewer hulle die donskombers by ons by die huis af.

Die goeie nuus, wat ons slegte nuus is, is dat hulle 90% van die dons verby hul tyd geag het – hulle het sowat 10% behou en die res is piksplinternuwe gansdons van hul plaas. Ek skuld hulle 'n aardige bedraggie, KBA asseblief.

Dis nie wat ons wou gehad het nie – daar was selfs dons uit Annieka se familieverlede – ons wou ‘n hartskombers met jare se opgegaarde herinneringe hê, en nou sit ons met ‘n volksvreemde donskombers wat almal skielik hooikoors gee.

Nou is dit twee kampeerstoele – die raamwerk is nog so stewig soos die dag toe ons hulle in 1997 gekoop het. En dit sal oor 14 jaar nog net so stewig wees. Maar die lap, die seil, is lank verby hul fleur, trouens aan flarde en hoogstens Klaradyn wat miskien nog daarop sal kan sit.

Ek en Annieka het nog op die grond geslaap – geen opblaasmatras of kampbedjie nie – toe het ons al die twee kampstoele. Ons het nie by kerslig opgesit nie, ek en my vrou nie, ons het by sterlig opgesit, die twee van ons. Kruger Wildtuin. Pilanesberg. Nie een keer ‘n jaar wilduin toe nie, twee keer. Jy moet die veld nie net asvaal in die winter sien nie, maar grasgroen hoogsomer ook.

Vir minstens 14 jaar pak ek hierdie twee stoele elke keer in as ons gaan kamp.

Ons was een keer dislojaal en het twee ander stoele saamgevat. Dag vier toe sit ek die eerste een stukkend. Die tweede een het ook stukkend agtergebly toe ons opgepak het.

Moenie vir my sê ek moet afsit Jeka toe, of Tentatoria toe (die twee plekke in Pretoria wat my sal kan help) nie – dit sal tweede beste wees, nie meer dieselfde wees nie.

Ai,  en dan is daar my bruin gordel – ek het op 36 getrou met my matriekafskeid-gordel om my middel – wat ek en Annieka gekies het, en my ma teen haar sin betaal het.

My gordel van destyds was aan flarde – soos die kampstoele se seil deesdae.

Judy het haar voet neergesit, wat moet die kinders van my dink.

Net so moeilik soos dit vir my is om van ou klere ontslae te raak, net so haat ek dit om nuwe klere te koop.

Maar my ma was sommer propperlie omgekrap toe sy in Pretoria kom en sien hoe slordig ek skool toe gaan. Dit was nog voor ek en Annieka getroud was en sy na die beste van haar vermoë na my probeer begin omsien het. En ons het afgesit dorp toe en vir my (Oubaas) die mooiste gordel denkbaar uitgekies.

My ma was haar lewe lank spaarsamig, nooit suinig nie, maar ek het geweet, destyds, dat ‘n buitensporige R80-00 (miskien was dit ‘n meer buitensporige R120-00) buite haar verwysingsraamwerk (maar gelukkig en soos altyd steeds binne haar liefdesreikwydte) is.

Maar daar, om die gespe, waar geen leerwerker of skoenmaker iets aan sal kan doen nie, skeur die leer los. Ek weet dit al 'n hele rukkie.

Die gespe doktor ek lankal reg. Waar die leer om die gespe gerek het en maak dat die hakie losskiet, het ek ‘n 2”-bout in om alles om my lyf te hou waar dit moet wees.

Maar aan dit wat, op grond van ouderdom, nou besig is om te gebeur, kan ek niks doen nie.

En soos met die seilstoele, en die donskombers, is en bly dit nie aangenaam nie, weet ek dat ek eintlik lank en uitgerek afskeid neem.

Grootword, so lyk dit my, op 47 , is steeds nie lekker en iets waaraan ‘n mens gewoond raak nie.

Maar eendag, as ek eers die dag groot is, sal dit makliker gaan, ek weet.

Dan gaan ons nie meer kampeer nie maar in gastehuise en hotelle tuisgaan. (Pa se skip het ingekom!)

En teen daardie tyd het ek nog ‘n verdere 15 kilogram afgeskud en het ek in elk geval ‘n nuwe gordel nodig.

Tot dan moet ek miskien maar die geskeurde seil  van die stoele met die leer van die geskeurde gordel lap.

Dink net hoe trots my vrou nie op my sal wees nie!

Voor ek vergeet

Waarom ek blog het ek laas in 2009 kwyt geraak. Ek sal kyk of ek dit kan opspoor en dit weer pos.

Een van die saadjies lê egter in my skoonma (maar saam met haar dan dadelik, net nie in soveel woorde uitgespreek soos deur my skoonma nie, ook in my eie ma, my pa, my ooms en tannies, grootouers en selfs my broer, Jac).

My skoonma het al by herhaling te kenne gegee dat sy die stories en stukkies onthou wat sy in haar saamdra gaan neerskryf, opteken, bewaar vir die kinders en kleinkinders, voor dit te laat is en in die vergetelheid versink.

Ek het ander mense dit ook al baie hoor sê.

Baie.

Baie maal én baie mense.

Maar soos met al die baie ander, is dit 17 jaar later en my skoonma het nog nie begin nie.

Elke storie wat ek van my pa het en onthou is vaagweg, halfpad en ten dele:  hoe hy gemaak het of hy speel in die blaasorkes en toe uitgevang is...  die turksvye... die perde wat bang is vir skilpaaie...

Met my ma gaan dit nie veel anders nie.

Toe ek wou begin het om die stories uit haar te kry, sou ek haar moes begin wurg het, want toe was dit al te laat – haar onthou het vroeg die gees gegee.

As ek nie reeds het nie, sal ek die een wat my helder voor die oog staan, die een van die arm gesin in die Knysna bos waarby jy net te perd of te voet kon uitkom, vertel. Maar dis ook al storie wat dan sal oorbly, al een van die baie...

Haar suster, Tannie Anne, het altyd makliker en meer stories vertel – maar hulle is ook almal verlore en saam met haar in haar graf in.

Daar is die een waar sy en my oupa my ma die Sondag uit die kerk gaan roep het. Daar is nog meer, baie meer, ‘n leeftyd se onthou, en ook vergeet, meer – maar hulle is almal flentertjies en eintlik net stukkies bewys dat daar eendag jare gelede meer was.

Ek dink nie my broer se kinders, en hulle is al groot en in hul dertigs, weet dat hy histeries van opgewondenheid ge-jakka-jysa het nie. Miskien was dit eerder jaka-jysa, met een –k gespel, omdat die –a lank en nie kort uitgespreek word nie.  Maar hy is nie nou hier nie (my ma nog minder) om dit uit te spreek – en sal hy dit nog enigsins onthou?  Ewenwel, ‘n jakka-jysa vind my ma-hulle toe na ‘n ruk uit, is die risckshaw iewers op Durban se goue myl tydens sy eerste besoek aan die see.

Van hom het ek darem ook nog die hele aanloop tot daardie seevakansie – hoe hy nie vooraf sy see-kleertjies wou dra nie, en in die middel van die somer met ‘n duffel-coat kleuterskool toe is – sodat die ander nie sy see-kleertjies sien nie.

En toe hy eers by die see is, toe mog sy swembroek nie nat word nie. Die ander mense dink hy skree histeries van vrees vir die branders; hy en my ma weet egter dis suiwer oor hy nie sy swembroek, die spesiaalste van spesiale see-broekies, wil nat hê nie.

Van my oupas het ek niks, net mooi niks – hulle is beide al dood gewees nog voor my geboorte. By my pa se broer het ek so tien jaar gelede, die laaste keer toe ek hom gaan opsoek het, op die stoep waar ons gesit het, toe wel die storie van Oupa as Kaapse rebel gehoor. Maar dit was die eerste en laaste keer sedert laerskool dat ek my oom gesien het – hy is vandag ook al meer as agt jaar oorlede.

Hoeveel stories is daar nie wat verby, verlore gegaan het nie!

Dit sal almal nie pla nie.

Maar vir my pla dit – ek is lief vir stories, meer nog vir gister en voorste jare se stories.

En dis hoekom ek toe begin blog het – die stories en onthou waarna my kind my eendag miskien sal vra, sal opgeteken en nie in die vergetelheid versink wees nie.

Ek sê ook miskien sal uitvra – want dis geen uitgemaakte saak dat sy soos haar pa, met ‘n voorliefde vir die klein geskiedenis, gaan uitdraai nie.

Maar dis hoekom ek blog, en dit onder die naam Pappa-Mamma-en-Klaars, met die onderskrif lest Pappa forget daarby.

Ek kan daarom nie my vrou en kind van my blog afhou nie – Klaradyn is die begin en die einde van die blog, sonder haar, sonder haar op die blog, was daar geen inskrywing, aantekening of optekening nie.

En as ons drie, soos gisteraand weer, een van die allerheerlikste, allerspesiaalste, allergesinste Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies om die die braaivleisvuur het, dan onthou ek dikwels iets wat ek en Annieka en Klaradyn gevaar loop om te vergeet, en dan wil ek dit in die logboek kom aanteken.

‘n Logboek is immers waar die woord blog sy naam aan te danke het, maar nie enige logboek nie – ‘n web log. Maar omdat web log so moeilik op die tong val, is van prokopee gebruik gemaak om dit te verkort tot blog.

So onthou ek gisteraand toe weer van skollelade/skottelade en glô-die-da-foo, en ek weet ek gaan dit vergeet, ek moet dit op skrif kry.

En toe die swembad se pomp my vanoggend net na 01:00 in net my onderbroek in die buitelug langs hom het, weet ek, toe ek eers weer terug in die huis is, dat alle slaap nou eers vir ‘n rukkie iets van die verlede is – ek kan skollelade/skottelade en glô-die-da-foo netsowel nou kom vasmaak.

Al twee dateer uit min of meer dieselfde tyd – rondom 3 verbeel ek my. Miskien later; miskien vroeër.

Ons is met Klaradyn wildtuin toe, Pilanesberg toe.

En daar, vanuit die agterste sitplek, begin sy sing en vertel van glô-die-da-foo. Die –gl van die glô is nie sterk glutteraal soos die Afrikaanse glo nie, dis eerder soos die Engelse globe – nie [xlɔ:] nie, maar [glɔ:].

En sy is adamant, daar is so liedjie, ons het die video by die huis ons het hom al gekyk, ons het hom al baie gekyk. Maar, die kind is sekerlik nog nie drie nie, sy ken nie die naam van die fliek nie.

En sy sê nie net die woorde nie – sy sing dit vir ons.

Vir vyf dae in die Pilanesberg. En ons weet nie wat of waarvan sy sing nie.

Ons was al by die huis, meer as ‘n week lank, voor ons agter die kap van die byl gekom het –  glô-die-da-foo is niks anders as glorious food nie. Dit kom uit ‘n toneeltjie in Ice Age waar die aasvoëls in afwagting sit vir die trekkende diere om te vrek en solank begin sing van al die glorious food wat op hulle wag.

Ons is seker by aasvoëls verby, of wat ook al, iets moes Klaradyn, waar sy op die agtersitplek in haar karstoeltjie gesit het, by daardie woorde en beelde uitgebring het, en dís hoe sy dit in daardie baie vroeë stadium van haar lewe onthou het.

Skollelade en skottelade is ‘n ander een, wat ‘n skrale vyf jaar later al ‘n traan in my oog bring. Seker vier jaar nou al dat ek wat saal gee, dat ek sal betaal, om te hoor hoe my kind die woorde sê, nie soos sy dit op ses sê nie, maar soos sy destyds geklink het, toe sy net begin praat het.

Die uitspraak van die woord sjokolade was vir haar te kompleks en het oor maande heen verskillende vorme aangeneem:  skollelade, skollolade, skottelade, skottolade (en dan nog ‘n paar ander wisselvorme wat ek elkeen ook al klaar vergeet het).

Ai siestog, grootword is ook nie maklik nie – noudat sy lankal darem al die uitspraak onder die knie het, lê die spelling nog voor. Sjokolade is een van daardie woorde wat skoolkinders op hoërskool nog op dertien verskillende maniere verkeerd spel.

En nou het uitgekom by glô-die-da-foo en skollolade/skottolade maar gisteraand, en so baie aande soos gisteraand, Pappa, Mamma en Klaars, eers in die kombuis aan het kosmaak, toe onder die lapa langs die braaivleisvuur, loop steeds gevaar om in die vergetelheid te versink.

Die wortelslaai het seker 30 minute geneem. Jy het al vyf wortels self geskil, meer behendig as ‘n maand of wat vantevore, elke keer meer behendig. Toe het jy dit gerasper – ma wou help en ek wou oorneem. Maar ons het nie. Dit het 30 minute gevat. Jy het in die proses amper die helfte van die wortels self opgeëet, net deur die genade alleen nie jou vingers in die bord gerasper nie en daar was op die ou einde darem iets om met ‘n bietjie lemoensap oor, uit te dra.

Toe jy vir Mamma ‘n nat lappie moes kom haal om die tafel af te vee, spoor ek jou pens en pootjies op die kombuiskas op – op soek na ‘n bakkie:  want ‘n mens vat ‘n nat waslap in ‘n bakkie tafel toe. Uit jou eie.

Jy het langs my gestaan en gesê jy wil die vleis omdraai “want ek wil eendag kos kan maak soos Pappa.”

Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

My beker loop ook oor.