Pages

12.2.12

Op my eie Sunday morning sidewalk

Die staaltjie rondom my ma wat ek gister gedeel het, het my in ‘n stadium by ‘n ander insident gehad waaroor sy net so lekker, maar ook met net soveel verontwaardiging, gelag het.
My ma was haar leeftyd lank Dié Koningín van Eufemísmes, maar ons het haar so leer ken en sy het ons so groot gemaak. Dis egter ons, haar seuns, en nie die liggaamlik en verstandelik gestremde kleinkind van een van haar vriendinne nie.
Nou hoe en waar dit gebeur het dat my ma ruk lank alleen saam met kind in die tuin was, sal ek nie meer weet nie – ek was al uit die huis en op universiteit toe die insident afgespeel het. Dit gebeur egter toe dat die ouma in die huis is en my ma saam met die kind by die swaai is. En daar mis ‘n voël toe sy witte blerts al oor my ma se hare en voorkom.
Getrou aan Judy se aard, en in ‘n poging seker ook maar om die kind te vermaak, trek sy ewe oordrewe los met iets soos: “O, alla, mapstieks, my alla makieriekat – die voëltjie het op my kop getjorts!”
Maar daar weet die kind nie wat “getjorts” beteken nie, en sy vra.
Judy beweeg deur haar hele repertorium van eufemismes – gebollie, ge-nommer twee, geblerts, ge-tjorrel, ge-a-a, ge-akka, gepoefies, maar die kind bly in die duister. Judy noem die ding selfs by die naam en sê dat die voëltjie op haar gemis het – maar dit is vir die kind ‘n nog vreemder woord.
My ma word genoop om die sneesdoekie wat sy oomblikke gelede gebruik het om haarself skoon te kry, voor die kind oop te vou, en daar trek die dogtertjie, laggend en met volle begrip los en roep uit:  “O, tannie bedoel die voël het op tannie se kop gekak!”
Ai, en dan het Judy altyd so begin ruk van die lag as sy haar vertelling afsluit.
Egter een van die baie boeke wat ek myself voorgeneem het om te lees, maar nog nie by uitgekom het nie – en in my leeftyd beslis ook nooit gaan uitkom nie, wat my vanoggend rekenaar toe gestuur het:  Jean Jacques Rousseau se Die Sosiale Kontrak van 1762.
Wanneer het ons in Geskiedenis op skool by die beëindiging van slawerny stilgestaan? Ek kan my nie voorstel dat ‘n laerskoolmeneer of –juffrou my aan Jean Jacques Rousseau bekend sou gestel het nie... dit moes iewers in standerd 6 of 7 gewees het.
Hierdie man en sy werk het destyds so ‘n indruk op my gemaak dat hy en sy boek gisteraand in ‘n gesprek rondom die etenstafel weer deur my agterkop geflits het.
Ek onthou dat ek ensiklopedie toe gegaan het – dit was die dae voor internet en elke ordentlike huis het ‘n ensiklopedie gehad – om meer oor die man en sy boek te wete te kom.
Hoe meer ek daaroor nadink besef ek dat ek ‘n wonderlike kind moes gewees het om voor skool te hou! (Of ‘n baie groot pyn in die agterwêreld.)
Ek onthou egter ook dat waarop ek ook al afgekom het totaal bo my vuurmaakplek was en ek my toe maar voorgeneem het om dan maar eendag as ek groot is, die boek te lees.
Watter paragrafie dit was wat so ‘n indruk op my gemaak het, kan ek vandag nie meer woordeliks aanhaal nie, dit het weggeval met “’n mens wat in slawerny gebore is...” en dan aangegaan om my by die gedagte uit te bring dat ‘n mens wat in slawerny gebore is, homself maar net toelaat om slaaf te bly omdat hy niks anders gewoond is nie.
Ek het nou vanoggend, na seker 34 jaar, weer deur die boek gaan blaai; die ensiklopedie is in die motorhuis gepak, maar daar is internettoegang. Die naaste daaraan waaraan ek kon kom is egter:  To assert that the son of a slave is born a slave is to assert that he is not born a man.
Om te beweer dat die seun van 'n slaaf, 'n gebore slaaf is, is om te beweer dat hy nie 'n méns gebore is nie?
Maar wag, miskien haal ek te selektief aan, ons moet die breer konteks sien:  “Every man having been born free and master of himself, no one else may under any pretext whatever subject him without his consent. To assert that the son of a slave is born a slave is to assert that he is not born a man.”
Maar ag, dit maak ook nie saak nie – dis immers nie slawerny, Jean Jacques Rousseau of sosiale kontrakte wat my agter die rekenaar het nie (allermins ook nie wat voëls van tyd tot tyd op tannies se koppe doen nie) maar allergieë of allergiese reaksies.
Onthou ek die gesprek reg, het die dokter waar die ma haar kind oor sy talle allergiese reaksies had, haar gevra of die kind ooit oor sy toestand kla. Die ma se reaksie was om enige so iets ten sterkste te ontken. Waarop die Doktor toe lostrek en sê dat dit dan beslis die geval is, bloot omdat die stomme kind niks anders ken of aan beter gewoond is nie.
En op daardie punt spring my gedagtes toe standerd 6 of 7 toe, na mnr. Rousseau en sy slawe toe: ja, dis omdat die kind as “slaaf” van sy allergiese reaksies in “slawerny” in gebore is, dat hy vrede daarmee het – wat anders of beter ken hy immers.
En dit is presies wat met Klaradyn die geval is. (En met my die geval was.) Jy raak so gewoond om met ‘n kop vol mukus rond te loop dat jy begin dink dat dit nou maar een maal is soos dit is – almal is so, dit kan nie anders nie; dis hoe die lewe is.
Ek wys Annieka daarop dat ons Klaradyn vier jaar gelede by tye elke twee weke by dokter had – dit was omdat haar mangels nog nie uitgehaal was nie en hulle semipermanent ontsteek was van al die gagga goeterstes wat in die nollies wat daar rondom en aan hulle ankerplek gekry het, gaan nesskop het.
Dit was toe dat Doktor Smit een mooi dag sy voet neersit en sê:  “Mevrou, hierdie kind se mangels móét nou uit – besef u dat u die kind deesdae op tweeweeklikse basis by my het – en dit telkens vir dieselfde ding!”
En toe haal ons die mangels uit. Dit het aan die kind se permanente slymkop en –kanale onder die son niks gedoen nie – al wat nou gebeur het, is dat die siektes (ek weet nooit of dit virusse of bakterieë, of sommer altwee is nie) nie meer so maklik vastrapplek kry nie.
En intussen loop my kind dag in en dag uit met ‘n chroniese, akute, snotkop rond.
Ja, oorle’ Judy se jare-voor-haar-oorle’ vriendin se kleinkind, wat vandag ‘n dogter van diep in die dertig moet wees – ás sý nog leef, sou my lankal in die rede geval het en gevra het wat mukus en slymkanale en al daardie ander dinge waarvan ek praat, is. Maar ons is ons ouers se kinders – ons word soos ons ouers.
En dis nóg iets wat Klaradyn presies is: sy is, wat haar nolliekop betref, haar pa se kind uitgeknip! Dis maar eers toe ek in ‘n huwelik met Annieka begin saamleef het, dat ek agter gekom het daar is mense wat nie aldag en heeldag met hulle slymkliere sukkel nie. En al hoe ek dit agtergekom het, is toe ek besef dat my vrou die vaagste benul het waarvan ek praat as sy my begin aanpraat oor my alewige gesukkel met my keel en neus nie.
Ek het besef dat ek lewenslank nie van anders of beter geweet het nie – ek is ‘n slaaf in slawerny in gebore, so gemaak en so gelaatstaan.
En in daardie stadium was ek al so gewoond daaraan, dat ek niks gedoen het om dit te verander nie, dit is, vir mense soos ons, dan nou maar een maal hoe dit is, en basta met die alternatiewe.
Maar my arme kind!
Ek gaan vandag na die homeopatiese goeterstes op die rakke begin kyk – ek kan en wil my kind nie permanent op geskeduleerde (?) medisyne hê nie – maar soos dit aangaan, kan en mag dit nie sommer goedmoeds en siende blind aangaan nie.
Toe ek nagelees het oor die katte, het ek daarop afgekom dat hulle kan help om jou van jou allergiese reaksies te desensitiseer. Miskien moet ek dit oorweeg.
En dan is dit of die allergiese reaktor in haar, ‘n wil van sy eie het. Eers het hy jaar lank floreer op die kat. Toe raak ons van die kat ontslae. En toe gaan dit goed.
Maar ook net vir ‘n jaar – die jaar wat dit hierdie ingeboude reaktor geneem het om stilweg en op sy eie te muteer in een wat nou nie meer histeries in volle swang spring by die aanskoue van ‘n kat nie, maar ‘n veer, enige veer, veral die veer in my kussing.
Dis regtig asof die kind die afgelope ruk erger reaksies op goed toon as van te vore.
Maar wat as ons nou elke veer uit die huis, en elke voël uit sy hok of kou het – soos ons elke kat van die werf en elke hond uit die huis het, en die monster in haar besluit om homself weer van vooraf aan te herbedraad en voortaan in hoogste versnelling te spring by die aanskoue van iets anders!
As dit nie jou lewenskwaliteit aantas nie, kan ‘n mens seker maar bloot leer om daarmee saam te leef. Maar vir ‘n dogtertjie van 7 om elke nag en dag van haar lewe te moet sukkel met storms wat hulself in haar kop se kanale uitwoed, is nie normaal nie.
Ek is oop vir voorstelle. Die lyne is oop, enige iemand wat wil inbel (of inskryf) is welkom.

Naskrif: 
Kyk net die lieflike paar aanhalings van die Rousseau-man wat ek vanoggend in my soeke na die boek opgespoor het. Enkeles is bekend; ander, vir my, nuut:
  • “People who know little are usually great talkers, while men who know much say little.”
  • “The world of reality has its limits; the world of imagination is boundless.”
  • “I would rather be a man of paradoxes than a man of prejudices.”
  • “Love, known to the person by whom it is inspired, becomes more bearable.”
  • “Civilization is a hopeless race to discover remedies for the evils it produces.”
  • “We must powder our wigs; that is why so many poor people have no bread.”
  • “All my misfortunes come of having thought too well of my fellows.”
  • “Why should we build our happiness on the opinons of others, when we can find it in our own hearts?”
  • “Man was born free, and he is everywhere in chains. Those who think themselves the masters of others are indeed greater slaves than they.”
  • “Man's freedom consists, not in being able to do whatever he wills, but that he should not, by any human power, be forced to do what is against his will.”
  • “Freedom is the power to choose our own chains”
Daar is hopeloos te veel op te spoeg en te plak. Loer gerus hier.

11.2.12

Valentynsdag 2012

My ma en haar suster het jare lank hul eie rokkewinkel besit. Eendag in die laat sewentigs stap daar ‘n aster in op soek na ‘n inklimrok. Nou kyk, rokke was my ma se lewe, letterlik haar figuurlike brood en botter – daar was nie snit of ‘n styl of ‘n tendens, modegier of –neiging nie, of my ma het dit geken nie. Maar van ‘n inklimrok het my ma in haar dag des lewens nog nooit gehoor nie.
Maar hierdie kliënt praat van ‘n inklimrok asof dit ‘n alledaagse ding soos ‘n halternek, empire line, body suit of body skirt (dit wás die sewentigs!) is.
Toe die derde of vierde pakkie wat my ma uithaal en wys, steeds nie eers naastenby aan die regte ding herinner nie, vra sy toe ten einde laas wat vir ‘n rok ‘n inklimrok dan nou is.
 “Dis ‘n rok waar úit my boyfriend my vinnig kan laat klim, maar ek nog vinniger weer ín kan klim, as ons by die drive in vry, tannie.”
Met waarvan ek egter wil vertel, behalwe nou vir die feit dat dit oor die aankoop van klere gaan, hou hierdie herinnering geensins verband nie, ek weet trouens nie eers wanneer en hoekom en op watter punt dit nou vanmiddag skielik weer uit my verlede en onderbewussyn vorentoe gespring het nie. En dan nog só sterk aangemeld het, dat ek daarmee wegval nie.
Annieka hét genoem dat sy en Klaradyn na skool die Valentynsdag-ding gaan doen. Al waarby dít my egter by uitgebring het, is die gedagte dat my kind darem nou groot word – vir vier of vyf jaar het ons van Liefiedag gepraat, maar vandat sy grootskool toe is, het dit sommer oornag Valentynsdag geword.
Toe ek op skool was, was Valentynsdag die minste van al hierdie baie dae in die greep van die geldmag vasgewurg gewees. Al wat ons op laerskool gedoen het, was om kaartjies, wat ons self geteken of saamgeslaan het, te onderteken met woorde soos van jou geheime bewonderaar. Om jou identiteit bekend te maak, is nie oorweeg nie – Valentynsdag gaan dan juis oor daardie meisies waarop jy in die geheim ‘n ogie het, maar daar onder die son niks van sal kom nie omdat hulle tien teen een elkeen vyftien sulke kaartjies uit ‘n klas met sewentien seuns gaan kry.
Later kom CNA toe met gekoopte kaartjies. En toe begin daar Cardies-takke soos kosmos of opslag sonneblomme langs die pad, dwars oor die land en in elke dorp opskiet. En van toe af is dit verby – van die opwinding van ‘n kaartjie maak en skryf in ‘n handskrif wat jy doelbewus wil hê sy moet herken (of een wat jy doelbewus nie wil hê sy moet herken nie), van ‘n kaartjie wat jy onderteken met ‘n ondeursigtige skuilnaam, of een wat die voorletters as jou eie naam en van gebruik, of selfs die letters van jou naam geskommel uitspel, het niks oorgebly nie.
En is ons dan nou vandag waar ons vandag is – tussen einde Desember, begin Januarie se Terug Skool Toe-aanbiedings en promosies, is einde Desember, begin Januarie al skelrooi rakke en uitstallings met Valentine’s Day-crap. Dis om van siek te word.
Ek en Klaradyn is hier in die eerste week van skool winkel toe om brood te koop – en daar sien sy toe iets op die plaaslike Valentynsrak wat sy dan nou so graag vir Mamma wil koop. Eintlik is dit iets wat sy vreeslik graag eerder vir haarself sal wil hê, maar weet daar nie ‘n manier is dat ek dit nou, op daardie punt, vir haar sal koop nie. Toe vry sy maar daarna onder die voorwendsel dat dit vir Mamma is, maar in die hoop dat Mamma dit teen die einde van die veertiende na haar kant toe sal laat val. Nou dít was so lank terug dat ek letterlik nou al van verlede week af nie ‘n idee het waar in hierdie kleine huisie van ons ek en sy daardie aand Mamma se Liefiedag-pakkietjie weg kom steek het nie.
Verlede jaar, in graad 1, het daar prefekte omgekom en allerhande beertjies en ander kitch poef onder die kinders bemark – lankal nie meer bestellings vir rose wat by hulle geplaas word nie. En die heel kleintjies bestel dan mos die goeters vir hulself. Maar Klaradyn het geslaap, en toe sy uiteindelik haar geldjie uit ons het, toe is dit te laat – die prefekte is klaar met hul bestellings. Ons is toe inderdaad Cardies toe en ek het ten duurste ‘n onooglike rooi en wit ding wat iewers in Sjina bedink (gepleeg?) is, moes aankoop.
So toe ek, naïewe Pappa wat ek is, die oggend hoor dat die girls die middag die Valentynsdag-ding gaan doen, dag ek hulle gaan Cardies toe om ‘n geldjie op iets sinneloos te mors. Ek aanvaar toe net voor 14:00 die uitnodiging om saam met hulle winkels toe te gaan.
Maar ek het die pot mis gesit, ek het die pot ver mis gesit. Ek het vergeet dis nie net die klein-, medium- en groothandel wat goue ponde uit Valentynsdag maak nie – dis die skool self ook. Ja, dis lankal nie meer net op Lentedag dat jy ‘n geldjie betaal om in gewone klere skool toe te kan kom nie – die skoolfonds kan nie wag tot September nie; middel Februarie nou al gee die kinders se ouers ‘n arm en ‘n been prys om die kinders tog net in gewone klere by die skool te kry.
Ja, daardie arm en been lê nie in die vyf randjie wat jy skool toe stuur opgesluit nie, dit word opgeslurp in die uitgee van dit wat oor is na die water-en-ligte en versekering af is, en dit vir ‘n piksplinternuwe rooi of pienk uitrustinkie.
Dit voel soos gister dat ons ‘n jaar gelede inkopiesentrum toe is vir ‘n dolle gejaag agter ‘n rokkie aan. Ek verbeel my ons is daar weg met twee pakkies – vir ingeval dit, soos met elke lentedag die geval is, skielik koud of winderig of nat is as die son die oggend van die veertiende Februarie opkom. En hier is dit al weer sulke tyd.
Ek het natuurlik ‘n lewensgroot lewensbeswaarlikheid teen hierdie klas van klere aankoop – ek kry die kind se stomme man van eendag by voorbaat so jammer. Nou word sy opgevoed en grootgemaak met die nosie dat daar vir elke bakatel spesiaal ‘n nuwe rok voor gekoop moet word.
Ons sit hoeka met drie of vier rooi of pienk pakkies wat Desembermaand aangekoop is. Sy het nog nie een van hulle skool toe aangehad nie, maar nee – dis ou klere, ons moet iets nuuts vir Valentynsdag koop. Arme man! Hy gaan ook, soos ek, maar eers later moet uitvind dat hy nie ‘n idee had waarvoor hy hom ingelaat het nie.
Die Valentynsdag-ding waarna Mamma so eufemisties verwys het, word toe die Valentynsdag-draak en –monster wat Pappa soos ‘n wafferse hoofse minnaar van ouds moet onthoof om te bewys dat sy liefde die damsel in distress waardig is.
Ek het genoem dat ek die uitnodiging voor 14:00 aanvaar het – 13:30 toe die skool uitgekom het, om presies te wees? Laat ek dan meld dat ons na 17:30, nader aan 18:00, die parkeergeld by die outomaat betaal het.
Met die uitsondering van Fochini’s, Truworths en Miladies was ons by elke denkbare winkel en kettinggroep wat enige vorm van kleding verkoop. Ek het nie geweet dat ‘n sentrum so baie winkels kan hê wat kinderklere verkoop nie – trouens in kinderklere spesialiseer en suiwer op kinderklere afgestem is nie.
Ons was in net een van hulle nie in nie – dis die een waarvan Mamma gesê het dat dit nie help ons gaan daar in nie – “dis die een waarin jy jou verlede jaar so vererg en sleg gedra het oor die goed se belaglike pryse.”
En ek het my middag hoeka begin om vir ‘n winkelassistente te sê dat haar 50% afslag op ‘n klein boksie kersversierings wat na naeltjies en kaneel ruik steeds belaglik is en dat ek kan verstaan waarom, en geensins verbaas is nie dat hulle Februarie steeds met Desember se Kersfeesvoorraad sit nie. Die boksie goedjies (dennebolletjies en so) wat Desember ‘n belaglike R860-00 gekos het, is twee maande later steeds ‘n ewe belaglike R430-00. Ek sou Desembermaand al hoogstens R50-00 daarvoor betaal het, en dan suiwer ook net omdat ek deur die gees van Kersfees weggevoer is.
Maar dit daar gelaat. Mamma kry by die eerste winkel iets wat volgens haar perfek sal werk, maar die kind nie welgeval nie. Mamma kry in die tweede winkel iets wat net so goed kan werk, maar die kind ruk uit met iets wat gevaarlik baie klink soos “over my dead body”. (Waar sy daaraan kom weet ek nie.)
Iewers, Mamma was missing in action, stuur ek haar agter die gordyne in met ‘n lieflike gestroopte slooprokkie en die opdrag dat sy móét uitkom om my te wys hoe dit lyk. En al wat uitkom is Klaradyn. Net toe ek op die punt is om ‘n vreemde vrou in te stuur om na haar te gaan roep, kom Klaradyn uit – in haar gewone klere. Ek wil sommer raas, maar Klaradyn vertel onderlangs:  “Daar is nie ‘n manier dat ek in daardie rokkie kon uitkom nie, my tieties het uitgesteek toe ek hom aan het.” Ag siestog, die arme kind – ek het haar toe al die tyd op 7 met ‘n 14-jarige se bloes ingestuur, denkende dat wat sy in haar hand het ‘n lieflike gestroopte understatement van ‘n slooprokkie is!
Teen die twaalfde winkel kry nie een van ons iets waarvan een van ons kan hou nie. Die kind is in ‘n stadium amper in ‘n swart spanbroek in wat soos ‘n tweede vel pas, maar daarvan kon ek hulle gelukkig laat afsien. Op pad uit hierdie winkel uit, en dit was ses dagreise te perd na die uitgang toe, tref die oog iets wat ons nog nie aangepas het nie. Ek het gehoop dis iets wat ‘n rok is, maar toe die prinses uit die aanpashokkie kom, is dit duidelik, hierdie is nie ‘n mini nie, dis ‘n bloesie – ons sal iets vir die onderste helfte moet kry. Maar, soos Mamma tereg opgemerk het, “dit help nie eers ons kyk hier nie, hier is nie, ons sal elders moet gaan krap.”
Toe sien ek die prys! Ek betaal nie eers soveel ‘n hele uitrusting (skoene, hoed en handsak ingesluit) nie – nou wil hulle dít vir ‘n lap bloesie hê, daar is nie ‘n manier nie! En al wat Ma sê is dat ons nie nou kleinkoppie kan trek, noudat ons die kind se hart op die ding gesit het  nie.
Ons val in die tou, betaal en gaan soek ‘n onderste helfte.
So stap hulle toe verby ‘n eksklusiewe winkeltjie waar ek my in die verbygaan verbeel ek ‘n iets sien wat lyk of dit miskien net sal kan werk. Ek roep hulle terug – in hierdie stadium is Mamma al vir twee ure bereid om tog net more of oormore terug te kom solank sy net nie nóg verder moet soek nie – en ek was reg, daar ís iets.
Terwyl hulle aanpas, val my oog egter op die pienkste perfekste ander pakkie wat ek deur die deur aangee. En toe is dit verby – die kind raak verlief daarop, Pappa dink klaar dis die mooiste wat daar is, en Mamma moet bieg dat sy saamstem.
Om ‘n baie lang storie kort te maak – Klaradyn gaan Valentynsdag die mooiste dogtertjie in die ganske skool wees.
Dis so ‘n pikante pienk John-Boy-Walton-pretpakkie, soos ‘n Dirndl van bo met lederhosen van onder maar alles in een gesny – te lieflik.
Toe sy dit aanpas sê sy glo vir haar ma:  “Ek hou daarvan Mamma, want dit is so plaserig.”
Nou kyk, ek stuur my kind honderdmaal eerder soos ‘n onopgesmukte plaasmeisie skool toe, as opgetert in ‘n stadspakkie. En ek weet sy gaan lekkerder speel, want dis ‘n broekerigheid en ‘n rokkie nie.
Die bloesie is natuurlik nou nog steeds sonder ‘n onderstel, maar dit maak nie saak nie, almal is gelukkig – die bankbestuurder natuurlik die meeste van ons almal; nou kan hy nóg meer rente uit die Moolmans verdien.

Naskrif:  Daar onthou ek ook nou waar ek aan die inklimrok-herinnering kom. Ek het gewonder wat my kind gaan doen as sy wil gaan kamerverlaat. Gaan sy uit en weer in hierdie eenstukpakkie kom.

8.2.12

Pappa en dogtertjie stap

Nee, daar was geen stap ter sprake nie; wel amper, maar op die ou einde het ons dit nie nodig gehad nie – Oupa het tot sy aangetroude skoonseun en sy kleinkind se redding gekom.
Die matrieks het egter jare gelede ‘n gedig met die titel “Pappa en seuntjie stap” voorgeskryf gehad. Ek onthou ek was nie liries oor die gedig nie, maar ek verbeel my die stem in die gedig was ‘n pa waarvan die hart oorgeloop het nie.
Noudat ek self ‘n pa is, want destyds was ek nog lank nie, kyk ek dalk met ander oë na die gedig. My hart loop ook mos nou van tyd tot oor. Soos gisteraand.
Ons is 17:00 Voortrekkers toe. Voortrekkers is heerlik – ek kan vir ‘n volle uur in die motor sit en wag! Ek gaan maak my toe tuis in die passasiersitplek en slaan die toetse van die skootrekenaar dat hulle so sing. (Ek het dit al vanuit die bestuurdersitplek probeer, maar dan sing die toeter, waarteen die rekenaar leun, meer as die toetse.)
Ons dierbare jongste en oudste en daarom enigste telg, het egter steeds die onhebbelike hebbelikheid om na afloop van haar persoonlike Deborah Retief-speeluur, nie motor toe te hol nie, maar op die skool se grensmuur te gaan klouter.
Ek sien dit nie, ek tik – om die waarheid te sê, ek het nie gedink sy sal dit vanjaar weer doen nie... sy is mos nou in graad 2 en al mooi groot.
Maar ek had dit verkeerd. Ek raak bewus van die spanoffisier wat al na haar motor toe beweeg, ek lei af Klaradyn speel elders, en ek klim uit om die vrou ‘n goeie jaar toe te wens. Maar toe ek op en uit en langs my eie motor is, sien ek my bobbejaan-kind op die muur rond klouter. My aandag is vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde verdeel tussen die offisier en die primaat, en dis mooi in presies daardie breukdeel van ‘n sekonde die motordeur ingedagte toemaak. En nanosekondes later besef, weet, registreer, pynlik daarvan bewus word, dat ek sopas my motorsleutels in die motor toegesluit het.
Nee, die vensters was nie oop nie – die lugversorging was aan terwyl ons gery het, en ek het met ‘n oop deur gesit en werk, had selfs my voete in ‘n stadium in die reën toe daar ‘n kort en vinnige katspoegie uitsak.
Ek doen myself onbeholpe voor, maar is net so onbeholpe soos die twee Mc Guyver’s wat my te hulp snel. Ek leen ‘n selfoon en skakel Oupa. (As jy ‘n televisie-animasieprogram met die naam van “Ouma kom help” kan onthou, is jy middeljarig, of jy dit nou wil erken of nie.)
En daar help die bejaarde oupa toe die middeljarige skoonseun binne twee minute uit die verknorsing uit. (En ook net digitaal en met die kuberruim tussen ons dat hierdie man bejaard sal noem; sê ek dit vir hom in sy gesig, gee hy my so ‘n opstopper dat ek my oorle’ ma as ‘n eenvoël aansien.)
Toe ry Pappa en Dogtertjie, in plaas daarvan om voet in die wind te slaan en te stap.
En die eerste wat Dogtertjie vra is wanneer dit weer Boeremark is? Dat ons vir Oupa ‘n presentjie kan koop om dankie te sê.
Só kan ‘n kind se hart mos maar aangeskroef wees!
En ons gaan nie huis toe nie, ons gaan kuier by tannie Marieta. Ma is by die skool vir ‘n vergadering en vir wat sal ons nou so ‘n vervelige en geroetineerde stap neem soos om huis toe te wil ry.
So much to do, so little time!
Pappa geniet ‘n sondondertjie terwyl Klaarsie haar sundowner uit ‘n vrugtesapverpakking geniet.
Dit grens aan onverantwoordelik laat as ons Marieta groet, maar ons aandete is vanmiddag al gemaak – dis nou net eet en bad en dan bid en bed.
Die badroetine word bykans outonoom en met ongekende samwerking en verantwoordelikheid deur Klaradyn haarself afgehandel en na 'n inspeksie van die voetsole (wat sy met vliegende vaandels slaag) sit ons aan vir ete – die allerlekkerste krummelpap (van growwe meel berei) wat tannie Martha agtermiddag sommer vir die lekker vir ons aanmekaargeslaan het. Ek eet myne met kruie, speserye en gerasperde parmesaankaas, Klaradyn hou by suiker met ‘n lekseltjie botter in die plek van melk.
Maar dis voor ons aansit, dat my hart vermurwe en ek ‘n faset van my kind ontdek wat ek nog nooit van te vore so duidelik uitgespel raakgelees het nie.
Dis voor ons aansit dat ek my verwonder aan hoe my kind se hart aanmekaargeskroef is.
Sy was etlike maande oud, toe kry sy ‘n lieflike vlooimark-handwerkrokkie present waarop vrolik staan:  Hanslammetjie.
‘n Verbeeldingryke vriendin besef dadelik dat so ‘n rokkie ‘n lieflike en emosionele dubbelsinnigheid in die Moolman-gesin se lewens kan geniet en koop dit dadelik aan.
Ons wag so jaar of wat en as Pappa en Dogtertjie ‘n hele ruk lank alleen gaan stap (shop, of fliek, of Boeremark,  of uiteet, of diertjies kyk en voer) dan is dit Hans en sy Lammetjie uitgevat in haar blou rokkie wat dit so mooi uitspel.
Maar dis vanjaar ook al drie of vier jaar gelede, die rok is al selfs te klein om as Empire-line bloes te dra.
Waar die kind pajamas gaan uitkrap het, weet ek nie, maar toe ek die pap warm maak. Kom staan sy agter my met die woorde:  “Kyk net hier, Pappa! Onthou jy?”
En daar skiet haar oë vol trane – en dan praat ek nie van ‘n enkele Tretchikof-traantjie wat eensaam en effekberekend oor haar wang biggel nie; die sagte warmte en mooi herinneringe wat die rokkie omgewe, oorval haar so, dat sy heel ontroer oorloop van emosie.
Toe Mamma teen ons laaste happie van haar vergadering opdaag is dit vir haar dadelik duidelik dat ons ‘n lieflike aandjie geniet het – die kind borrel oor van jeudige lekkerte en en energie.
Maar nee, Pappa moet haar in die bed sit.
En wat kies daardie kind om te lees? Twee kleuterboekies wat ons kleutertyd gereeld saamgelees het, maar in drie jaar seker nog nie een keer nie.
Té lekker!
Gisteraand toe maak ons weer so, maar hierdie keer klim ons in die bed met Opperman se Kleuterverseboek en sing bykans elkeen van die dans- en piekniekliedjies wat hy daarin opgeneem het.
Te goed, in die woorde van Sheila Cussons, is hierdie aande om net aan my te gee.

31.1.12

Oor die brode, maar darem nog nie om den brode nie

Dit is van kleintyd al duidelik dat ek van kosmaak hou. Inaggenome die gesins- en breër familieband waarbinne ek gestalte aangeneem het, is dit te verstane.
Ek maak nie kos om bloot net kos in my maag te kry nie – ja, die hedonis in my vra om bevrediging, maar kosmaak voed meer as net my maag, dit voed my siel ook.
Ek kommunikeer dat wat ek nie sommer in woorde kan omsit nie, met die kos wat ek voorsit, met die aandag en tyd en moeite en liefde wat ek insit.
Ek praat met jou, ek sê ek is lief vir jou, jy maak vir my saak.
As ek die botter Maandag in sy papier op die tafel sit, maar Woensdag in ‘n bakkie voorsit en Vrydag in bolletjies gerol aanbied, het ek drie verskillende boodskappe by jou tuis probeer bring.
‘n Vriendin vertel dat sy nooit juis van kosmaak gehou het nie, maar dit tog geniet het toe een van die kleinseuns op nege eendag uitroep:  “Oe, Ouma, ek wéns my maag was groter!”
En vir my sal so ‘n opmerking ook die adrenalien en melatonien en elke goed-voel-ensiem en ding in my liggaam in die hoogste versnelling en rat plaas.
Ek weet trouens nie wat die lekkerste rondom kosmaak is nie – my eie stiltetyd en liefdesdiens in die kombuis om die kospotte, of die sakrament om die etenstafel en sy borde nie.
En dan het ek in hierdie verband die afgelope ruk bewus geword van dimensies in my liefde vir kosmaak en voed waarvan ek nie die vaagste benul had nie:
As ek smiddags vier die twee Indiese ringnekparakiete hulle vruggie vat, dan gaan loer ek hulle af vanuit die kombuisvenster om te sien hoe hulle die vruggie geniet – eintlik deel ek so in hul genot.
Ek betrap myself dat ek hul vier kosbakkies (drie vir kos en een vir water) volmaak met die ook op kleur en variasie. Ek sit ook nie byvoorbeeld die saad- of vrugtebakkie elke dag op dieselfde plek nie – ter wille van afwisseling, en om verveling te probeer voorkom, wissel ek dit ook af.
En dan praat ek nog nie van die hase nie. Ek pak hul aandbord met ‘n verskeidenheid groete partykeer suiwer met die oog op ‘n aantreklike aanbieding. Die spatsels beet word effekberekend tussen die ligter skyfies patat en koolblare ingewerk. Ek maak daarmee soos een wat sy Griekse slaai finaal afrond met die wit blokkies fetakaas en donker korrels olywe.
My kop raas. Maar dis met lekkerte dat ek die bord dan in my kelner, Klaradyn, se hand prop en haar die haashok instuur.
Dan is daar nog die bedelaar in Colbyn waar Psalm 23 in Kerkstraat doodloop.
Psalm 23 is ‘n stukie pad waar enige outjie uit Pretoria-Moot ware waters waar daar waarlik rus is en die groenste van groen weivelde kon geniet. Maar toe bou hulle gholf-oefenbof op die stukkie vleiland en niks was daarna ooit weer dieselfde nie.
Ek boikot nie die tolpad skool toe suiwer op grond van suinigheid nie, ek verkies bloot die rustigheid wat Psalm 23 my bied.
En as jy aan die einde van die Psalm kon, knap na jy nou net gery en die oorloop van jou olie- en lewensbekers bedink het, staan daar ‘n ou man by die T-aansluiting met Kerkstraat.
En in die baie van die bietjie wat ek het, is daar oorgenoeg om hom soggens van ‘n toebroodjie te voorsien. Ek maak vir Klaradyn ‘n skoolbroodjie. Baie keer maak ek vir my en Annieka ‘n broodjie. Dit vat niks van my om vir die man ook ‘n ietsie te maak nie.
Ek het agting vir sy ouderdom en sy growwe hande, ek respekteer sy sout-en-peperbaard. Ek weet hy is wyser as wat ek slim is – en dis vir my heerlik om vir hom ‘n toebroodjie te maak.
Ek het hom nog nooit bakhand sien staan nie. Hy staan bakhand sonder om bakhand te staan, want ek weet werk gaan hy nergens kry nie, nie op sy ouderdom nie.
Sê maar vir my dis mense soos ek wat mense soos hy op straat hou. Dit maak nie saak nie. Ek weet die Lotto-geld en die staat gaan nie ‘n broodjie in sy hand stop nie, verhinder my nie om dit te doen nie.
Haai, en selfs vir die ou man kan ek nie maar net twee snye brood aanmekaar plak met grondboontjiebotter of iets nie. Dit moet keurig wees en iets om na uit te sien, iets om te mis as ek die oggend nie daar verby kom nie.
Party oggende is daar nie tyd nie, of, soos vanoggend, bloot nie nog brood of ‘n vruggie nie – dan ry ek maar ‘n ander pad. Maar eintlik weet hy – as ek het, dan gee ek; die dag as ek nie het nie, dan hou ek verby.
Om hom te sien eet, of bloot net afloer en die papier oopskuif om te sien wat op vandag se broodjie is, gee vir my onberekenbare genoegdoening.
So, ja, dit ís soos ek gesê het:  ek weet nie wat die lekkerste is nie, die bak van die brood, of die uitdeel van, en deel in, daardie symste brood nie.

30.1.12

Sjoe, dankie julle, dit was 'n lekker dag!

Ons het Saterdag in die geselskap van die skool se Verteenwoordigende Leerlingraad deurgebring. Die VLR is niks anders nie as die twee klaskapteins van ouds wat in elke klas tot leier verkies word. Ons span ook nog ‘n prefekkorps wat uit die matrieks verkies word, in om sekere leierskapspligte wat nie binne die jurisdiksie van die VLR val nie, te hanteer, en die prefekte is ook saam.
Klaradyn gaan nog elke jaar van haar lewe saam op hierdie jaarlikse uitstappie – maar waar my of Annieka se bydrae nog altyd vir die middag geskeduleer was en ons tradisioneel eers na middagete aangemeld het, was Annieka se spreekbeurt vanjaar voor ontbyt, terwyl ek eers na 16:00 aan die woord moes kom.
So Sussie is knap voor 06:00 in haar slaapklere in die motor gelaai en ons het die uur en ‘n half kampterrein toe aangepak. In ‘n stadium fokus ons so op Annieka se aanbieding, dat ons by die afdraai van die snelweg af, verby ry. Die 90 minute op die pad word toe 120.
Daar aangekom, hol Mamma om haar aanbieding te gaan maak, en Sussie kry haarself uit haar pajamas in speelklere in – sommer in die kar. En toe begin die pret.
Ek was gerat met nie minder nie as ses pakke speelkaarte, Rummy Cup, tekengoed, drie speletjies wat die brein uitdaag; selfs ‘n storieboek ingeval van reën en ons uitgekuier raak met die res van die goed.
Maar nee, o, aarde, toe ons in ons speelpakkie uit die motor klim, toe begin, soos ek gesê het, die pret, en op die ou einde het ons vir 20 minute geteken (toe die leerders met een van hulle lesings besig was en ons reeds die swembad vir langer as ‘n uur en ‘n half tot ons privaat beskikking had) en vir tien minute om die aandete se kamp- en braaivleisvuur kaart gespeel.
Die res van die dag was ons, óf in die water, óf op ‘n hindernisbaan se hindernis, óf besig om een van die literiabaan se uitdagings op ‘n graad 2-vlak op te los.



By die hindernisbaan het ons eers my graad die 17 minute wat dit hulle van die begin tot die einde en afsluiting met hul spankreet geneem het, aangemoedig. Toe het ons hier en daar aangespoor en toegejuig. Maar die oomblik toe die laaste groep so drie hindernisse in die roete in was, toe het ons gesinnetjie, met Klaradyn as ystervrou-atleet, eweneens op graad 2-vlak, die hindernisbaan kafgedraf. Dis nou met uitsondering van die laaste “putjie” wat luiperdkruip in ‘n moddersloot en onder deur ‘n trekker-buiteband in ‘n watergat/modderpoel ingesluit het.


Agtermiddag, na ons boerbokkies met ‘n sterk Europese verlede (sulke kleinerige bruin en swart boerbokkerige bokke wat beslis nie regte egte uitgevrete Suid-Afrikaanse op-die-soom-van-die-pad boerbokke is nie) met die hand gevoer het, dis nou toe die groot kinders se dinkwerk op die literiabaan ons verveel het, is ons af plaasdam toe.
By die dam het die leerders vlotte moes bou, maar in al die tyd wat hulle vlot gebou en hul vlotte uitmekaar gebreek het, het ek en Klaradyn met ‘n boereplaasweergawe van ‘n glybaan die dam ingeplons.
Toe elke graad se vlot natuurlik eers finaal afgeskryf is en die groepe die foefie-slide, glybaan en ander pretgoed wat in die dam ingebou is, begin beset, het Pappa en Klaars die glybaan aan hulle afgestaan.
Dis toe ook op daardie punt Klaradyn my amper afgeskryf het. Sy wil toe mos na Mamma, daar doer, aan die oorkant van die dam (ja, daardie spikkeltjie daar oorkant kan miskien Mamma wees) gaan. En nee, sy wil nie stap nie, sy wil swem.
Ek is onmiddellik trots op die afstand wat my dogter wil afbyt en wil haar nie ontmoedig nie. Ons pak ons eie Midmar-myl toe aan. Die myl word toe 25 meter en toe kan Sussie nie meer nie, toe moet Pappa haar verder uitswem.
En Pappa was op skool reeds nie ‘n wafferse swemmer nie – en van toe af het dit vir 29 jaar nog net verder agteruitgegaan.
Ons kom met Pappa se kloppende hart en fluitende longe by die spikkeltjie aan wat halfpad darem gelukkig Mamma se gestalte begin aanneem het.
Die maklike ding sou wees om nou die langpad terug na my bril en ons handdoeke grondlangs aan te pak. Maar met my dikke kale bolyf gaan ek nie die kinders ‘n skrik op die lyf wil jaag nie, en ek besef ons sal tot daar anderkant moet swem.
Ek groet my vrou met die woorde dat hulle ‘n ogie op ons moet hou, verdwyn ek halfpad onder die water en kom nie weer op nie, moet hulle iemand instuur om Klaradyn te gaan red.
Op die retoer was ons nie 10 meter in nie, toe maak Klaradyn haar op my maag tuis en ek moet die res van afstand op my rug agteruit probeer spat en plas en watertrap.
Ons het dit gemaak en ek het 10 minute gevat om te herstel, nie waar nie, op ‘n snotglad slymbedekte onderwater sementtrap.

Toe ons net na 20:00 in die motor klim om die slaggat-pad terug aan te pak, sê Klaradyn, lief en dierbaar wat sy is:  “Sjoe, dankie julle, dit was ‘n baie lekker dag.”

En toe Annieka 30 meter verder, dis nou dertig meter verder in ‘n motor op ‘n grondpad, vra of sy darem vanoggend die klompie buffels gesien het, toe word ons met stilte beantwoord.
Sussie het letterlik dankie gesê vir die lekker dag, haar kop neergesit en dadelik, onmiddellik, aan die slaap geval.
Maar dit het my oortuig, nie dat ek oortuiging nodig had nie, Sussie het nie net ‘n lekker dag gehad nie, sy het ‘n heerlike dag gehad.

26.1.12

Oor brille (maar darem nog nie oor pille)

Ek verbeel my ek het in die laaste jaar al vertel van my Ouma van Wyk wat in haar sewentigs een van die eerstes geword het om kontaklense te kry toe dié Suid-Afrika eers tref.
Ouma was ‘n groot vrou, ‘n Boervrou met breë betroubare hande (soos die een of ander Afrikaanse digter uit my kinderdae haar oorlede ouma se hand allitererend beskryf het). G’n katarak of groeisel kon op enige enige oogbal van hierdie vrou vatplek kry solank sy van soggens vroeg tot sawens laat daar gefroetel en gevryf het om dié verlengstukkie van haar oog, in, of uit, of op sy plek, of gerieflik, of minder krapperig, of meer sawwerig te kry nie.
Dis nou so lank die goed in haar oë was, wat nie al te gereeld was nie. Daar is meer na die lense gesoek as wat daar met hulle gekyk is; daar is meer in die oogkaste en agter die oogballe gekrap om te kyk of die lense iewers in Ouma se kop sit, as wat daar gekrap is om die lense in of uit te kry. Dis seker 40 jaar later en ek gril steeds as ek in my gedagtes oproep wat Ouma se vingers aan haar ooglede aangerig het – sy het dit heen en weer soos ‘n konsertina se voue heen en weer omgedop soos geen stout seun wat die meisies die grillings met sy ooglede wou gee, haar dit kon nadoen nie.
Wat natuurlik nie in Ouma se guns getel het nie, was haar mat – heavy floral en heavily embossed.En dan was dit nie ‘n effekleurige blommetjie wat die mat plek-plek van ‘n spatseltjie kleur voorsien het nie – dit was ‘n malse ruiker van ‘n bonte roesemoes kleur en vorm. En tekstuur.
As Ouma dan nou klaar haar harsings deurmekaar gekrap en sommer haar ore van binnekant haar kop skoongekrap het, en sy steeds een of beide lense gesoek het, is die buurvrou (Ou Buur, soos Ouma haar genoem het), die kerk se orrelis in nommer 3 en die vrou van bo se hulp en knieë ingeroep om te kom help soek na Ouma se ogies. (En omdat ek eers groot en op Universiteit moes kom voor ek ingelaat is op presies watter toonhoogtes die Dominee so knaend by die dranksugtige orreliste kom soek het, was dit ook nie vreemd, teen die tyd wat ons daar aankom om te kom help soek, om Dominee ook op sy knieë, kruipend deur Ouma se huis , partykeer ook net sy netjiese pak se broek wat gat in die lug iewers onder ‘n bed uitsteek, op te spoor nie.
Die kere wat ons nie self die ding in Ouma se oog, of hare (verstrengel in ‘n haarnetjie van ouds) opgespoor het nie, het ons die ding óf nooit, óf stukkend en aan skerwe opgespoor.
Iemand het met die raad gekom dat ons die mat moet stofsuig en dan net deur die binnewerkinge van die ding se sak moet gaan om die verlore oog op te spoor – en dit het nogal gewerk.
Daarom seker ook dat haar dogter, my ma, nooit kontaklense gekry het nie. (Selfs ek, tot in die derde geslag, oorweeg nie kontaklense nie – wat ek kleintyd opgedoen het, is wonde met letsels wat nooit genees nie.)
Maar Ma se bril (en ons het soos die meeste Afrikaanssprekendes van brille gepraat) Ma se brille was aldag en heeldag soek. Veral in die jare voor sy multi focals gekry het, want dan het sy die ding afgehaal as sy hom nie nodig had nie nie. En kry sy hom weer nodig, kon sy nie onthou waar sy hom neergesit het nie. En sonder hom op haar oë, kon sy ook nie sien waar sy hom neergesit het nie. So dit was byna daagliks ‘n nagmerrie.
Soos wat ek sleutels soek, het Judy haar bril gesoek – nie een maal ‘n dag nie, ook nie twee maal nie, maar die héle dag.
Ek het hom meesal gekry waar Ma hom nie kon sien nie – in die hangkas tussen haar panties. Daar was ‘n spieël teen die hangkas se binnekant, en op die rakkie net bo (of net onder – hoe sal ek nou weet) het Ma haar grimering gehou.
Nou om te grimeer het Ma hierdie leesbril van haar nodig gehad – om naby te kan sien. (En die hangkas was myle van ‘n venster en daar was ook nie ‘n lig naby of reg van agter om dinge makliker te maak nie!)
Maar nou kon Ma nie alles wat vrouens met hulle oë doen, aan háár oë doen, solank sy die bril op had nie – dan haal sy hom af sit hom op of tussen die panties neer.
En dis waar die nagmerrie begin – want nou kan sy by haar oog uitkom; sy kan net nie sien om iets aan die oog te doen nie.
Dan is sy so gefrustreerd as sy uiteindelik daar so soorts van klaar is, dat sy sommer net wegstap.
Ook eers ‘n uur, of langer, later dat sy weer haar leesbril nodig het, maar teen daardie tyd het daar al so baie gebeur, dat sy nie kan onthou waar sy die bril laas gehad het nie. En selfs staan sy met haar neus in die donker kas, sonder haar bril, sal sy hom nie sien nie, selfs al sou hy haar kon pik, was hy net ‘n slang.
Daarom dat, spoor Ma wél die bril op, sy hom nie raakgesién het nie, maar eerder raakgevát het.
Natuurlik het sy hom toe aan ‘n ketting om haar nek gedra, maar dit was nog erger – nou kon sy hom nie raaksien óf raakvat nie, sy moes wag tot iemand lostrek met:  “Maar my magtig, Judy, daar hang die bloody ding dan om jou nek!”
Maar ek het 1982 al matriek geskryf, ek is uit die huis uit, universiteit toe, weermag toe en het ‘n lewe, elders, begin. Toe vir baie jare daarom hoogstens een keer ‘n maand as ek, en later óns (eers ons twee en nog later ons drie) gaan kuier het.
Van die woonstel, na die huis, na die meenthuis... na die ouetehuis (eintlik maar hospitaal vir verswakte bejaardes). Na die Altzheimer-versorgingseenheid.
By die ouetehuis het Ma later nie meer regtig idee gehad waarvoor sy die bril had nie. Nou het sy orals saamgedra en in ander mense se kamers (of woonstelle op die terrein) vergeet. Partykeer is hy dae weg, ander kere weke. Dan is hy een oggend weer daar. En vra ek waar hy vandaan kom, dan kan sy nie onthou dat hy weg was nie, laat staan nog waar sy hom gekry het.
Die laaste keer wat ek haar by ‘n oogarts had, het die man gesê daar is soveel katerakte dis ‘n eintlik ‘n aardigheid, maar dit help nie hy opereer nie.
Later van tyd was ek nie seker of sy beter prentjies gekyk het met haar bril óp, of met haar bril áf nie. Ek het gevra en getoets. Maar sy kon my nie sê nie.
Ek het daarna opgesien om die verlamde in die rolstoel oogarts toe te neem. Maar ek het geweet ek moet dit doen. My gewete het my aangekla. As dit haar lewenskwaliteit enigsins kon verbeter kon ek die moeite nie ontsien nie. En ek wóú nog, ek hét beplan om ‘n afspraak te maak...
Toe ek klaar van haar liggaam afskeid geneem het en uitstap, het ek vervaard in die deur omgedraai om seker te maak dat Ma haar bril op het. Hy was daar, ek het om twee dae vroeër in haar kamer gaan haal en afgebring siekeboeg toe.
Maar natuurlik het sy toe nie meer ‘n bril nodig gehad nie, nie dié een, of enige van al die baie voor hom, wat soveel donderse kere soek was nie, en ek het hom saam met my opgeneem na haar kamer toe, waar ek die deur gaan sluit en die nuus oorgedra het dat die ou vrou nie sal terukom na hierdie kamer toe nie.
Op ‘n manier moes die bril en 47 jaar se herinneringe rondom hom, én die baie ander soos hy (ook nie net Judy s’n nie, maar ook háár ma s’n) in ‘n groen skoendoos beland het. ‘n Skoendoos wat sy en die arbeidsterapeut groen geverf het en met skoenlappers versier het.
Die vakansie soek ons die kragkabel van Ouma se radio wat ek so twee jaar voor haar dood vir haar gekoop het. Ek gaan krap in die garage waar die goed nog net so onaangeraak staan en ek maak die bliksems vervloekte groen boks oop. En daar lê die bril vir my en kyk. Saam met die twee of drie tissues wat ek die oggend vir haar gevat, en later weer saam met die bril opgeneem het kamer toe.
***
Toe ek uiteindelik dink ek is nou reg om uit die garage terug in die huis te gaan met die nuus dat ek nie die kragkabel gekry het nie, is ek die huis in.
Maar ek het my misgis, ek het hoogstens gedink ek is reg om die huis in te gaan.
Klaradyn het vir my ‘n kaartjie gemaak wat ek by my plek aan die etenstafel gekry het.
Ek wou dit nou inskandeer (aftas?) en hierdie stukkie onthou/gesels daarmee afsluit.
Maar hierdie kaartjie is nou soek, ons weet hy is gebêre, maar waar hy gebêre is, weet ons nie. Hy is tien teen een só gebêre (want dis nie ek wat hom gebêre het nie – as ek tog maar net wil leer om my goed te bêre) dat ek hom eers weer skielik, terloops, op sal spoor die dag as Klaradyn klaar op universiteit/in die buiteland/getroud sit.
En dan doen hy aan my en maak hy van my wat die elendige bril in sy ewe elendige groen boks aan my gedoen en van my gemaak het.
Want my lewe met die drie vrouens wat my lewe vul en gevul het, is ‘n wonderlik ryklik geseënde een – ek is ‘n gelukkige man.
Hopelik het ons voor dan al die radio se kragkabel gekry; dié is nog steeds soek.

6.1.12

Tyd van verhuising

Ek het gister getrek – nie ons nie, ek; nie uit die huis uit nie, na 'n ander klas toe.

So moes ek al 'n paar maal in my lewe trek.

Die eerste onthou ek soos gister. Dit was soos nou – oor 'n Desember-vakansie. En toe ek Januarie, twee dae of so voor die skool begin, in my nuwe klas inkom, is die stoele en tafels mooi gestapel, die vloere gepolitoer en die arbeiders het elke, elke maar elke, liewe plakkaat van my, de leste een wat ek soveel sorg van die ou klas se mure afgehaal en persoonlik na die nuwe klas aangedra het, oor die loop van die vakansie weggegooi.

Dit was die naaste wat ek nog ooit aan moord en gebarste are in my kop gekom het.

Enige onderwyser wat sy sout werd is (en skielik onthou ek waar hierdie uitdrukking vandaan kom) heg meer waarde aan, en het 'n groter trots in, sy of haar plakkate, as aan en in sy of haar lêers.

'n Liasseerstelsel het in my ganske onderwysloopbaan nog nooit vir my iets beteken nie, maar sonder my plakkate is ek net 'n stoffie, 'n skaduweetjie in ‘n klas.

Dan is ek ook een van daardie onderwysers, hulle is so skaars dat ek nog net een ander een van hulle teëgekom het, wat, is die betrokke klas se muurspasie beperk, selfs plakkate teen die dak opsit.

Ek het een naweek vriende se huis moes oppas en het helder kleure geneem, my deur die gees laat lei en deur Walter Battis laat inspireer, en self my eie plakkaatreeks rondom beeldspraak of stylfigure daargestel. Ek is al die pad deur na Pote se mediasentrum toe, dit was daardie jare die enigste plek waar jy sulke groot goed teen 'n bekostigbare prys kon laat doen, en het my plakkate, elke een, laat lamineer.

En toe gooi Johannes (ek sien hom ongeveer 20 jaar later steeds voor my staan, en as ek hom ooit weer moet raakloop, hoop ek daar is plasse water in die pad want ek sal doelbewus so ry dat ek hom drenknat agterlaat) hulle elkeen weg, nie 'n week gelede en ek kan dit uit die asblikke gaan red nie – aan die begin vakansie, die asblikke is al twee keer daarna weggery!

My huidige hoof en sy skoolbeleid (so omvangryk dat hulle al vir meer as 10 jaar nie eers meer die moeite doen om ons dit afgerol of gefotostateer in 'n lêer te laat inbind nie – dis op die skool se rekenaarstelsel toe- en vas- en op- en ingesluit, én -gemessel) maak 'n groot gewag van die feit dat ons onderwysers tog nie ou plakkate teen die mure moet hê nie – ons departementshoofde word elke twee jaar of so die skool en klasse ingestuur om tog toe te sien dat daar nie stokou vergeelde plakkate teen die onnies se mure is nie.

Ek roem my op 'n reeks muurversierings wat van circa 1993 dateer. 'n Vriendin van my gee my die einde van die vorige jaar 'n klein maar baie kleurvolle kalender wat pas klaar sy werk teen haar kantoormuur verrig het, present – elke prentjie, maak ek my hand voor my reguit en oop, pas in my hand, van vingerpunt tot palmbegin, so klein is dit.

Ek kry 'n toepaslike Spreuk van Langenhoven (elke Afrikaanse taalonderwyser, nee, elke onderwyser, wat sy sout werd is...) by elke prentjie en vra 'n lieflingsdogter met 'n mooi handskrif om te voltooi.

Raai watter goedjies, van die letterlik bykans 'n honderd wondergom-geplakte en geduimdrukte goedjies in my klas, het ek vandag, heel eerste, met die grootste sorg, van die aansteekbord losgemaak? Die twaalf het oor die jare heen al agt geword, ek moes van 'n treffer ontslae raak, maar daar gaan nie 'n jaar verby dat ek die leerders nie bewus maak van, onder andere, “dis van te veel mooiweer dat die woestyn onvrugbaar is” en “die sonskyn sal jou nie beskadig omdat jy jou reënjas en sambreel verniet saamgeneem het nie.” En wat van “pasop vir 'n kortpad wat dikwels so kort is dat dit 'n ompad word,” (of iets in dier voege)?

En toe bring ek ook vandag besoek aan Ernst van Heerden se Aan die verhuisingsmanne:

Dra sagies, vriende,
Want sierpotte en erdewerk,
Keurborde en fyn glas
Sluit ’n hele lewe
Met sy drome
En verlangens in;

Dra saggies, mededraers,
Want die drag,
Van veerbed,
Tafels,lessenaar,
Druk teen die bors
Se dun skelet;

Dra sagies, regters
Want die oordeel
Oor my klein bedryf
Lê vasgevang
In prente, boeke
En ’n eie ou gemakstoel;

Dra sagies, Gode,
Want die hart se porselein
Is broos en tot veel seer
En kwesbaarheid geneig:
Die kratte van ’n lewe
Kan so maklik breek

Maar gelukkig was dit ‘n anderste, meer letterlike verhuising as waarvan daar hier sprake is. Tog ook met meer as genoeg raakpunte toe ek Judy eers moes afhaal, oprol en saamtrek.

Sy kon regtig mooi skryf – as sy 'n tjek en die teenstrokie ingevul het, dan was dit mooi om te aanskou en iets om huis toe oor te skryf.

Had ek tog maar haar hand geërf, dan was dit nie nodig nie, maar toe moet ek mos nou opsluit op my pa en sy dronk krapstrepies trek.

Ek het dat Judy oor die jare heen seker so tien kalenders se plakkate vir my skryf.

Die eerste keer was knap na die arbeider die hele stapel plakkate wat ek met groot versigtigheid op die onderwyserslessenaar plaas gemaak het, oor die vakansie weg gaan staan en gooi het.

Die laaste keer was sy al diep in die sewentig en ek het destyds met 'n skok besef dat die hap wat ek haar nou wil laat afbyt, inderdaad vir haar te groot geword het.

Die heel laaste mooi-mooi wat Judy vir my geskryf het was toe ek haar voor in 'n boekie wat ek kamma-kamma van Ouma Nooi vir Klaradyn gekoop het, laat skryf het...

O, die sorg, die omsigtigheid, die versigtigheid. Jy skryf nie sommer voor in 'n boek nie – jy het 'n liniaal nodig, om reguit te skryf, 'n potlood, skerpmaker en wisser – sy het nooit van 'n uitveër gepraat nie – en dan die ink- of viltpen, vir aan die heel einde.

Maar miskien sal ek self beter deur my oë begin sien as ek ophou om haar nou die heeltyd hier in my geestesoog te wil sien, en gou eers vertel waar ek dink die uitdrukking om jou sout werd te wees vandaan kom.

Ja, nie net het sout (sal) en salaris (salarium) dieselfde oorsprong nie, maar wil dit voorkom asof selfs soldaat (sal dare) sy begin aan dieselfde basis te danke het. Dis Plinius (die ouer een van die twee bekendes) wat ons op die spoor (of dan nou dwaalspoor) bring om iewers voor 79 nC reeds te wil reken dat Romeinse soldate in sout vir hul dienste betaal is. Daarom, as jy jou sout werd is, verdien jy uit en uit die salaris wat jou toekom.

(Dis nou behalwe as jy 'n onderwyser van Hans Moolman se kaliber is – dan verdien jy eintlik baie meer sout as die bietjie wat die keiser jou gee, sommer sewe sakke se sout, vir al die sakke sout wat jy saam met die kinders opeet.)

Maar ek was by Judy.

Ek het al van baie reekse ontslae moes raak – die son verbleik die goed, dit verrinneweer en raak so gaar gesteek van die duimdrukkers en spelde dat 'n mens later nie nóg kleiner kan sny aan die goed nie. (Ja, ek raak gou uitgekuier met hoe die goed in die klas opgesit is, ek hou daarvan om die goed elke ses maande of so te “verhang.”

En dan het dit al ook gebeur dat die onderwerp wat deur 'n betrokke plakkaat aangespreek word, bloot uit die sillabus weggeval het. So het hele reekse al letterlik uitgedien geraak.

Op die oomblik het ek nog twee reekse in my besit wat die ou vrou vir my geskryf het – beeldspraak en stylfigure.

Ek het vroeër twee ander reekse op die onderwerp gehad, maar dit was verwarrend.

KWV het elke jaar 'n kalender van hoogstaande gehalte aangestuur. Die een jaar was dit Irma Stern, die ander jaar Maggie Loubser. En toe span ek hierdie twee Suid-Afrikaanse ekspressioniste in om die beeldspraak en stylfigure in die sillabus te dek.

Maar ek maak dit deurmekaar – eintlik omdat daar meer stylfigure as voorbeelde van beeldspraak is – en Tannie Maggie dek van altwee, én Irma se oeuvre  spreek beide aan. En my oog sal my nie toelaat om van Maggie Loubser se goed tussen Irma Stern se goed (en andersom) te hang, net om beeldspraak by beeldspraak en stylfigure by stylfigure te kry nie.

Toe doen ons dit twee jaar later oor – soort by soort en kunstenaar by kunstenaar.

En dan wil die hoof en sy skoolbeleid hê dat ek hiervan ontslae moet raak! Daar is nie 'n manier nie! Ek sal eendag aftree met een of twee van daardie plakkate teen my mure.

Gelukkig weet ek darem daardie plakkate is nie die tipe plakkate waarna die beleid verwys nie.

Toe Judy nie meer vir my kon skryf nie, het ek my eie begin maak. Maar dit was minder suksesvol.

Ek het nou nog, seker al tien jaar, die laaste KWV-kalender – Vader Claerhout – ongebruik en opgerol in die kas.

En ek vermoed, nee, ek weet dit nou al – iemand gaan na my dood die kaste moet opruim en daarvan ontslae moet raak, want ek sal dit lewenslank hou, met die gedagte dat ek nog eendag 'n plakkaatreeks daar rondom gaan skep.

Na die minder suksesvolle eie eksperimente met plakkate, het ek die wonders van die digitale eeu aangegryp. Die probleem is net dat dit onbekostigbaar duur is om 12 of meer A1-, of selfs A2-pkakkate in volkleur uit druk. En dann het jy dit nog nie laat lamineer nie!

Die A3-reekse wat ek in my klas het, is lieflik (trouens meesterlik daarby) maar dis net te klein om 100% effektief en van waarde te wees.

Dis heerlik om die goed uit dink:  jy soek vir jou 'n spul mooi prentjies en dan dink jy sinnetjies by elkeen uit wat sal pas by die opskrif wat jy die prentjie van voorsien het.

Of jy werk andersom:  jy kry jou woorde in die gereedheid (opskrif/onderwerp en ondersteunende sin) en dan gaan soek jy prentjie wat daarby aanpas.

Met die dat ek nou al 'n plakkaat (dikwels meer as een) vir bykans elke ding in die stelwerk-, letterkunde- en taalleersillabus het, het dit lankal nóg makliker geword: jy kry 'n mooi prentjie en soek 'n mooi aanhaling daarby, of jy kry 'n spul mooi aanhalings en dan soek jy bypassende prentjies.

Te lekker, en al te kreatief! Ek het al die punt bereik dat ek plakkate vir kollegas uitdink, vir presente saamslaan, en wens ander kontrakteer my om die plakkate te ontwerp, dan druk hulle dit uit en laat dit self lamineer.

Die klas waarin ek die laaste drie of vier jaar was, was heerlik – dit had nie 'n enkele venster nie en ek het, met die uitsondering van 'n deur en 'n wit bord, vier vol mure gehad om toe te plak! Wat 'n fees!

Die klas waarin ek ingaan, het vensters links en regs, en dan skryf ek bykans die hele voorste muur af aan 'n ingeboude kas, 'n witbord, 'n groen swartbord, én 'n ander belaglikheid wat muurspasie opvreet.

As ek alles wil oordra wat ek in my klas had, dan moet ek dak, en selfs vloer toe óók gaan -  en dit nog voor ek iets nuuts vir die nuwe klas gekry het! En dit sal nie deug nie.

Nou fokus ek maar op gordyne om iets te hê om na uit te sien.

Ek weet wat ek soek:  Nataniël en sy Kaalkop het sulke lieflike materiaal met nog liefliker Afrikaanse woorde op! Sal dit nie wonderlik wees nie! 'n Afrikaanse klas met die mooiste poëtiesste woorde. In die mooiste lettertipe daarby!

Ek dink nie eers ek sal 'n runner vir my tafel kan bekostig nie.

En mans doen nie juis tafeldoeke nie – ek en my lewenstyl die minste van almal.

Miskien dan maar 'n enkele wit servetjie met 'n Afrikaanse woordjie of wat op.

Dan hang ek dit voor in my klas, onder die bord, aan daardie spykertjie, die een waaraan party onderwysers voorste jare gelede hulle geel stoflappe gehang het.

Net vir die effek.

Ek sien uit na my nuwe klas en om uiteindelik weer tussen my kollegas te wees.

Al gaan ek die baie mure (en lugversorging om op te maak vir die gebrek aan vensters) en Annieka in die kantoor net langs my klas, baie mis.