Pages

5.1.12

Van viskoekies en 'n reënwoudpapegaai

Aan die een kant wil ek Annieka se piepie bottel en as naskeermiddel bemark, aan die anderkant wil ek vertel van die lekkerste viskoekies ooit, en dit alles terwyl ek nie weet wat om eerste te doen nie:  die legkaart wat wag, die video’s wat al moes terug wees.

Of sal ek gaan stort?

Van die viskoekies kan ek in elk geval net vertel, 'n resep kan ek nie gee nie – hoogstens enkele padpredikante.

Want die arme Klaradyn! Deon Meyer noem in die kookboek wat hy en sy vrou saamgeslaan het dat die lekkerste van die hele projek, die feit is dat hy uiteindelik sy ma se viskoekieresep het. Klaradyn sal so iets nooit kan sê nie – in haar gesin loop daar nie 'n viskoekieresep nie. Ons kry bloot viskoekies van dit wat daar ook al in die kombuis is.

Of omdat ek met ordentlike oorskiet vis in die yskas sit, snuffel ek deur die kookboeke om te kyk wat 'n mens alles kan doen om 'n viskoekie op jou bord te kry.

Dis hoe ek dit reg gekry het om gister, nadat ek eers 'n glas wyn in die hand had, kort voor lank met ses kookboeke op die kombuistafel oop, gesit het.

En toe op die ou einde in elk geval my eie kop gevolg het en gedoen het net wat ek wou, sonder dat ek dit ooit weer na sal kan doen.

Deon se storie oor sy ma se koekies, glo ek nie. Die resep vra vir 6 snye brood, maar is besonder spesifiek oor watter tipe brood dit moet wees. En daardie tipe brood het eers hoogstens twee jaar gelede, toe Mamma se Deon-kind al 'n goeie vyf en dertig jaar uit die huis uit is, op die mark gekom.

En hy laat dit klink of dit oor jare heen 'n ou familiegeheim en gesinsgunsteling was.

Miskien het die broodmaatskappy die foto’s of die glans buiteblad geborg. Ek sal nie weet nie.

Dit laat my nou onwillekeurig dink aan 'n grappie wat ek 'n goeie een en dertig jaar gelede, toe Hans-kind nog by Mamma-lief viskoekies aan huis geniet het, gehoor het. Dit kom daarop neer dat een van die Kardinale by die Pous wil weet hoe lank dit nog is voor die Kerk se kontrak met die Koringraad verstryk, want die Suikerraad het nou met so 'n lieflike aanbod gekom, dat daar in herdrukke voortaan “en gee ons vandag ons daaglikse suiker” sal kan staan.

Maar dit wat as Deon se mammie se viskoekieresep voorgehou word, is nie te versmaaie nie – sy het my geleer dat 'n mens naeltjies en koljander in viskoekies ook kan bywerk. Haar resep vra vir 'n kwart teelepel van elk. Ek kan my vir al die geld in die wêreld nie indink hoe enige resep, allermins nie een wat wegtrek met 750 gram se visvleis nie, vir 'n kwart teelepel van enige iets kan vra nie.

Vir 'n kwart teelepel doen ek nie die moeite om af te buk en in die kas te loop krap agter 'n teelepelmaat wat ek miskien nog in die laai oor het, oor dit destyds saam met die stelletjie moes gekom het, maar ek dit in geen jare gebruik het nie.

Ek gooi toe 'n gesonde teelepel, weliswaar darem nie een wat soos 'n Bybelse berg Ararat opgehoop is nie, van beide by.

En die fyn koljander herinner my toe aan die vars koljander wat ek in die yskas oor het. En ek laat my nou nie vertel dat 'n resep wat mans genoeg is om gemaalde koljander in te kry, nie lankal droog genoeg agter die ore is om 'n hand vol koljanderblare ook in te kry nie!

Want hulle het toe mos nou ons Checkers (of ons OK Bazaar, of so iets) teen 'n paar honderd duisend rand, straks 'n miljoen of meer – teen die koerse waarteen dinge deesdae gaan, van 'n verjongingskuur voorsien. En nou noem ek dit 'n verjongingskuur, dis eerder 'n volskaalse reïnkarnasie, 'n opwekking uit die dode in 'n totaal en al nuwe gedaante. Die ding was enkele maande net 'n dop, daar was van iets wat aan 'n kettingwinkel herinner, net mooi niks oor nie, en toe is daar een mooi dag baniere wat luidkeels aankondig Lazarus ontwaak net mooi die oggend wat ons vir die troue afvlieg Kaap toe.

En daar word die trippie af Kaap toe, toe nóg duurder, omdat ons uitmis op al die spesiale openingsaanbiedings ook!

Toe ons terug is van die Kaap, jy in waar nooit 'n enkele deur was nie. En waar vroeër die deur was, is nou net muur.

En soos so dikwels al van te vore in ons omgewing gebeur het, het die nuwe ontrimpelde botox-kettinghandelaar sy deure op, onder andere, ook 'n nuwe vars-vis-afdeling geopen.

Vars-vis-afdeling dan ook soos ons dit in die breër Pretoria-kettinghandel verstaan: vis wat, definitief wat tongvis betref, neerkom om onlangs ontdooide bevrore vis, maar darem heel interessante visse en dinge uit die see wat op sulke gestampte brokkies ys uitgepak word.

Wat meer dikwels in ons omgewing gebeur, is nie die oopmaak van vars-vis-toonbanke in kettingwinkels nie, maar enkele maande later, die toemaak en van die aardbol af verdwyn van daardie lankal-nie-meer-so-vars-vis-toonbanke. En dan is dit weer ses dagreise te perd vir my om ons gesin 'n varserige tongvissie op die bord te kry.

So toe ek hier knap na Nuwejaar vir die eerste keer in die nuwe winkel instap – watse haas kon ek nou hê, ons klaar die openingsaanbiedings verbeur – is ek dadelik spyt oor die R400-00 se garnale wat ek vroeër die oggend vir ons jaarlikse aandete-afspraak later die aand met baie goeie vriende aangekoop het.

Ek sou moes wag tot die volgende dag voor ek hul toonbank op die proef kon stel.

Gelukkig was die toonbank nog in die lewe toe ek twee dae later met nie te veel hoop in my oor daar instap nie, en is ons daar uit, nie met stokvis nie, maar koningklip, stewig in die hand geknyp. (Jy moet dit stewig in jou hand toeknyp – daardie bietjie vis in jou hand se prys het vroeër jare 'n hele mielieland tot jou plaas toegevoeg!)

Natuurlik was my oë weer groter as my en Annieka en Klaradyn en Martha (wat vir ons was en stryk, en kombuis opruim waar ek gekook het as Annieka nie daar is nie) se gesamentlike mae. Daar het meer as genoeg oorgeskiet om vir een maal in jou lewe viskoekies van iets beters as twee blikkies pilchards in tamatiesous te maak.

Daarom dat ek, glas wyn in die hand, so deur al die kookboeke is. Dis verbasend hoeveel mense die twee of blikkies pilcahards in tamatiesous eenkant toe skuif en die smakelose, geurlose blikkies salm naderskuif.

Egter nie Deon se mammie nie – sy gebruik oorskiet vis en omskep dit in 'n nuwe dis – presies dit wat ek wil doen. Die geneuk is net, sy doen dit met ses snye ontwerpersbrood, en ek het nie eers styl ou gewone brood in die broodblik nie, wat nog te sê haar nuwerwetse heuning-gegeurde, hawermout-bestrooide en –verrykte, ontwerpersbrood met 'n laer as die gewone glukemiese lading en indeks!

En dan is daar nie 'n enkele mens (en glo my maar – ek is deur twee glasies wyn en veel meer as net die ses kookboeke wat op die rak agtergebly het teen die tyd wat Annieka daar aankom en histeries raak oor wat dan nou van kombuis geword het wat 'n uur gelede nog so netjies en skoon soos Martha dit gelos het, was) wat saam met die oorskietvis, enige vis, ontslae wil raak van al die halwe kannetjies room in die yskas nie.

Ek het poeding gemaak, Annieka het poeding gemaak, Annieka het tert gemaak, Iemand het room in plaas van karringmelk hier aangebring, en as ons nie dringend begin uitdun (omgewingsbewustes praat van cull) onder die halfklaar, halfleeg, halfvol kannetjies room in die yskas nie, sit ons kort voor lank met 'n omgewingskrisis in ons yskas.

So toe verryk ek ons viskoekies met room. Toe verdik ek ons viskoekies weer met kapokertappels. Toe balanseer ek die minder gesonde, meer lekker, room, uit met meer gesonde, minder lekker (maar vir my steeds heerlik) hawermout. Gedagtig ook aan Deon se mammie se spoggerige brood wat hawermout in plaas van allerhande saadjies oorgestrooi kry.

Toe raak ek ook ontslae van die sprietuie in die yskas.

Annieka het ook ingekoop – sy het nader gestap gekom met een van haar vroue tydskrifte, die Rooi Rose of Sarie Marais (hulle kan gerus maar amalgameer en uitkom met 'n baie dik Rooi Marais of Sarie Rose). Daarin is vandeesmaand 'n resep vir viskoekies met 'n korsie van broodkrummels in.

Ons het weliswaar nie eers broodkrummels in die huis nie.

Maar dis by hulle wat ek gelees het van die gerasperde suurlemoenskil in die beslag. Dis eintlik ook nie die beslag nie, maar die kors. Maar omdat my koekies toe nie 'n kors kry nie, toe moet die gerasperde skil maar in die beslag in gaan.

Hulle koekies kry gerasperde parmesaankaas ook.

Toe kry ons koekies ook. Ek sit hoeka met die 30 maande oue wig kaas wat ek teen koningklip en 'n plaas se prys vir die Kersete aangekoop het, in die yskas.

Gelukkig, saam met al die room, ook nou nie meer nie.

Saam met dit alles, alles wat nuut en vreemd en enig en individualisties in al die ander viskoekieresepte is. Al waarvan ek weggeskram het, was die Thaise viskoekieresepte en die een of ander konkoksie, ek verbeel my dit was Jeremy Mansfield, in Kambodja afgekyk.

Toe ons eet, toe swymel my vrou en ek sien hoe haar hele wese vermurwe – sy sal skottelgoed was en werkoppervlaktes skoonvee tot al die velle van haar hande af is, as sy tog net weer eendag sulke lekker viskoekies kan eet. Want dit was, soos sy tereg gesê het, die lekkerste viskoekies wat sy, én ek, én die Britse koningshuis sedert die ontstaan van die monargie iewers kort na die val van die Romeinse Ryk, nog ooit in ons dag des levens geëet het.

Maar soos wat my kos haar die skottelgoed en vuil werksoppervlates laat vergeef, spoor haar komplimente en lekker eet my weer aan om kos te maak. Dit sin vir my lekker om kos te maak, vir myself seker ook, maar daar is niks so lekker om kos vir iemand anders te maak nie. En as daardie iemande anders jou vrou en kind kan wees, is dit nog soveel lekkerder.

Ek aanbid partykeer die grond waarop Annieka loop. En dis ook hoekom haar 'n botteltjie naskeermiddel met haar naam op sal aanwend.

My ma het altyd van tannies wat hulle self verbeel hulle is die kat se snorbaarde vertel dat hulle dink hulle is so fancy dat hulle selfs hul eie piepie sal bottel en verkoop as parfuum.

En dis wat ek met Annieka sal doen.

Soos eergister weer.

Maar dan moet jy seker 'n vrou wees om 'n vrou te verstaan.

Klaradyn het toe nou vir 6 maande gehuil oor sy nie 'n kat het nie. En toe sy uiteindelik ophou huil oor sy nie meer kat het nie, begin sy die volgende ses maande huil oor sy nog nie konyne het nie.

Toe bou ek die hok en kry drie konyne waarvan ons die geslag nog nie kon bepaal nie. En as dit 'n Kerspresent was (wat dit nie was nie) dan was die Kerspresent knap na die Kersete al stukkend gewees.

Maar dit nou daar gelaat. Ek gee nie om nie, ek wil hase en konyne en ganse en eende en hoenders op die werf ook hê.

Die geneuk is net dat sy, toe ek en sy nou die dag regmaak om nog duifies en ander welluidende saadvretertjies vir ons voëlhok te gaan soek, groot-oog en met veel opwinding by die ontbyttafel aankom met al ses haar spaarbussies, ook die een waarin die tandemuis se tandegeld gebêre word.

Sy is daarvan oortuig dat sy genoeg geld opgespaar het om 'n reënwoudpapegaai te kan koop.(Reënwoudpapegaai is haar mooi woord vir 'n McCaw.)

En dis ook nie lank nie, toe huil sy letterlik.

My uitgangspunt is eenvoudig:  as 'n kind dan nou duidelik rede soek om te huil, dan moet jy die kind rede gee om te huil. Want vir 'n kind wat sommer net huil omdat huil, huil is en sy lus het om nou sonder enige goeie rede te wil huil oor 'n donderse papegaai, dan sal ek haar van 'n ordentlike rede, 'n veel beter een as 'n papegaai, voorsien om te huil.

My invalshoek is dan ook simplisties en op die man af: “Jy het nou gehuil oor konyne, en nou dat jy konyne het, huil jy vir 'n papegaai! Waarvoor gaan snot en tjank en trane as jy die dag eers 'n R8 000-00-papegaai ook uit ons het!? 'n Fokken perd!”

Ek het dit darem nou nie heeltemal in daardie woorde gestel nie – ek verbeel my ek het heel beskaafd van 'n fokken ponie gepraat.

Maar ek het ook nie. Gelukkig nie.

Want voor ek die hele oggend, die hele dag, die eerste helfte van Januarie bederf het, beredder Annieka die situasie:  “Dis gaaf Sussie, doen nou net vir Mamma 'n gunsie en neem my spesiale handsakboekie en baie spesiale pen, wat jy nie moet weggooi nie, hoor! saam, en dan skryf jy vir Mamma neer hoeveel kos die papegaaie.”

En daar is Klaradyn stil, tjoepstil. Em orals waar ons stap (ons is na vier plekke met vogels) het sy soos wafferse joernalis of speurder die notisieboekie en pen in die hand, en sy neem inderdaad die pryse af.

Maar dis maklik om te onthou – die goedkoopste was R6 800 en die duurste was R8 600.

Jy kon my egter aan tafel al met 'n slap snoek omslaan.

My vrou het die insident wat tyd en plek gesoek het om te gebeur, afgeweer en op 'n irrasionele manier, ver onder en bo my vuurmaakplek, totaal ontlont.

Ek kon dit nie glo nie.

Ek het haar dit bewonder, en ek bewonder haar dit steeds.

Maar ek vermoed steeds dat jy 'n vrou moet wees om so met ander vroue te kan werk.

Dit sit beslis nie pappas en mans se broeke om vrouens dit na te wil doen nie.

So Annieka my liewe vrou, ek sal aanhou om my op te hou met dinge so prekêr soos viskoekies; hanteer jy net vir ons situasies van globale omvang en belang – soos die tranerige een rondom 'n reënwoudpapegaai.


3.1.12

'n Lewensreis na die bron van alles

'n Skool en universiteitsvriendin, wat ek na universiteit nog net een keer en wel op ons twintigjaarreünie raakgeloop het, konfronteer my einde verlede jaar met hierdie foto van 'n linodruk wat ek in matriek moes gemaak het:


Dis 'n gedig van Uys Krige wat dan nou duidelik sedert skooldae tot my spreek.

Tien jaar later was dit steeds die geval.

Na meer as drie maande in Europa met rugsak en tent kom ons op Sorrento en daar verkoop hulle die mooiste teëltjies wat jou huis se naam of jou lewensmotto uit kan spel. Ek wou iets soos hier onder bou, maar daarvoor was my rugsak reeds hopeloos te vol en te swaar. En op 'n begroting van R100-00 'n dag, kon ek dit geensins bekostig nie.



Toe koop ek maar teëls vir die eerste drie woorde. Behalwe nou vir die son-metafoor wat in die slag bly, is dit immers die essensie van dit wat die man se woorde aan my kommunikeer.

Dit was nie dieselfde en het soos hierdie gevoel, maar dit was darem iets:



Ek het dit nie in 'n muur ingemessel nie, maar op 'n plank geplak en teen 'n buitemuur van my destydse verblyf hang gemaak.

Ek dink dit het sewe uur gehang toe verloor daardie jaar se hoofseun sy balans op sy fiets, leun teen die muur met sy hand en volle gewig... en breek die naambord wat ek al die pad vanaf die Amalfi-kus in 'n rugsak saamgedra het tot hier.

Nog tien jaar later, toe ek op Facebook registreer. vra die internettoepassing my, terwyl ek my profiel opstel, wat my gunsteling aanhaling is. As die meeste mense soos ek is, dink ek nie iemand lees ooit 'n ander mens se profiel nie. Tog het ek al by herhaling mense gehad wat my vra waar ek aan daardie aanhaling kom.

So, ja, vir meer as dertig jaar dan nou al, het ek 'n ding met daardie woorde, of dan nou my interpretasie van daardie woorde.

As jy my nou ooit moet vra wie ek is, waar ek vandaan kom en waarheen ek op pad is, dan was dit nog altyd my antwoord en, vermoed ek ten sterkste, sal dit ook altyd my antwoord wees.

Die woorde “na die bron” impliseer vir my 'n reis, 'n lewensreis, 'n op pad iewers heen, op pad na die bron van dit alles toe.

Maar ook nie suiwer 'n op pad na die bron nie, maar 'n op pad terug na die bron toe. Die woorde maak melding van “na die bron van alles.”

Ek is deel van daardie alles en het daarom my oorsprong by daardie bron, ek is van daardie een bron, ek is nié 'n ander dam se eend nie.

Ek kom van die bron, en is op pad bron toe.

Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

Jy was van ewigheid aan en sal tot ewigheid aan wees.

Behalwe vir die “na die bron” is daar nog die onvoltooide deelwoord “beurende” wat vir my op 'n durende reis, of dan nou beweging op pad iewers heen dui.

Die woord impliseer ook vir my dat dit nie 'n al te maklike reis is nie – daar word gebeur, gestu, gedu. (Maak dit dan maar gestoei.)

Ek is egter nie net 'n reisiger nie, ek dwaal en dool nie, ek is 'n pelgrim op reis. 'n Man (of net sowel 'n muis) met 'n missie.

Die goue verlang gee ook vir my te kenne dat ek terug verlang, terug gaan, terug keer – 'n mens kan immers net verlang na iets wat jy reeds geken het.

My hart kan beswaarlik na die Boland verlang, as my hart nog nooit die Boland leer ken het nie.

As een van Verwoerd se kinders – ek is in 1964 in 'n wit Afrikaanse huisgesin gebore – identifiseer ek ook ten sterkste met die idee van 'n enkele skeppergod – die (enkele) bron van alles, die son.

Is daar in vandag se tyd en dae nog iets of iemand, geloofsoortuigings of mense waarvoor 'n mens die woord politeïs sou kon inspan? Ek weet nie, ek glo nie. Maar dan is my kennis van die huidige wêreldgodsdienste (maak dit eerder wêreldgeloofsoortuigings omdat nie alle gelowe noodwendig plek inruim vir iets soos 'n god nie) uiters beperk.

Maar Krige se gedig is glad nie waarom ek hierdie gesels aanknoop nie, glad nie dit wat my vingers die grootste strooi aan die uitryg agter die rekenaar het nie; eerder een van die lieflike wense en in die besonder een van die mooiste sinne wat ek in 'n lang tyd gelees het:

"Laat ons onse stok vat en onse staf, en op onse Here se voetspoor aanstap na die Son...."

Dit het via 'n penvriendin se e-pos in my in-mandjie en in my lewe beland.

Ja, is dit nie wonderlik nie – ek, Hans Moolman, het iets soos 'n penvriend. Sedert laerskool was dit 'n romantiese begeerte van my wat nooit realiseer het nie.

In 1987 op die grens gewikkel (beurende) in die oorlog wat Jannie Geldenhuis en sy tydgenote vir my generasie uitgedink het, het een of ander klein plattelandse dorpie se beginner laerskoolonderwyseres dit goed gedink om haar klassie elkeen 'n briefie aan 'n troepie-dopeie op die grens te laat skryf.

Dit was vir my wonderlik – uiteindelik – 'n penvriend! Nou weliswaar nie van iemand oorsee nie, maar darem!

Hierdie vriendskap het ook net vier of vyf briewe lank geduur, toe is dit, soos enige een sou kon voorsien het, op die rotse.

Maar vandag het ek, na baie jare, uiteindelik iets soos 'n penvriend, weliswaar steeds nie op 'n eksotiese bestemming in die buiteland nie, maar, soos die kraai vlieg, nie 10 kilometer van waar ek bly nie.

Ons internet- e-pos-boodskappe gaan maak tien teen een darem elkeen eers iewers in Indië 'n draai voor dit in die elektroniese posbusse neerstryk.

En dié vriendin kom rui my toe op met:  "Laat ons onse stok vat en onse staf, en op onse Here se voetspoor aanstap na die Son..."

Ortodokse fundamentalisme sal nie my interpretasie van Krige se gedig deel nie.

Soos ek, na ek haar van die akuuttekens in één beurende drang en één goue verlang bewus probeer maak het, aan my penvriendin verduidelik het:

Vir my kommunikeer die woorde, onder andere, ook, dat alle mense se stap, ook alle gelowe en ongelowe en dogmas en gedekonstrueerde dogmas se stap, alles wat hier op aarde lewe en kan stap - ook die eensellige plant se stap, maar net 'n stap (in die aanhaling met die stok en die staf), 'n beurende drang en goue verlang (in Krige se woorde) na die Son, na God, na die bron van alle krag en lewe, is.

Waar sy aan die woorde kom, weet ek nie, ek sal nog uitvind.

Dit herinner aan Adam Small, maar ek dink nie dis uit sy pen nie - dan sou ek dit herken het.

Dit herinner, wat styl, maar ook inhoud en boodskap betref, eerder aan Hans du Plessis, en iets in die Griekwa-Afrikaans waarvoor hy so lief is.

Waar ons almal hierdie tyd van die jaar oorval is met versies en wense en aanhalings - party so oppervlakkig om van te kots - het hierdie woorde my aangegryp.

Dit spoor my sommer aan na die opruiendste van opruiende woorde wat hulle toe ooit destyds in die Bybel opgeneem het:  “...maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Josua 24:15)


Ek bly egter steeds die mening toegedaan dat, in ag genome die verskille, Josua en sy destydse volgelinge, die outjies hierdie kant, daardie kant, duskant én oorkant die Eufraat, ook die Amoriete en elke denkbare vorm van –teïs (a- ingesluit), ons almal, op dieselfde pad was, en is, elkeen beurend en stoeiend, op pad na die bron van alles – die son: één beurende drang, één goue verlang.

Ook die amoeba en die ligeen.

Daarom ook, daarom juis:



En geniet dit, die reis, medepelgrims wat elkeen besig is om 'n eie lewensreis te voltooi.

En as jy dan nou opsluit liewerster in Boeddha se skaduwee wil loop sit, misgun ek jou die oase ook nie.

As jy jou lokke ineen wil vleg met die van 'n Hare Krishna, is jy net so welkom.

Ek sal selfs terug staan dat jy verby kan gaan.

En wat Uys Krige van dit alles te sê het, sal ek nie weet nie.

Op 25 het ek ook al die antwoorde gehad.

Vandag probeer ek nie eens meer om die enkele vrae wat ek nog kan onthou, te verstaan nie.

En hoe mis ek nie nou, op hierdie punt, nie my ma nie. Sy sou gesê het, en sy is reg: “Agge nee man, Oubaas, kry nou end, ek rúik mos sommer wat jy nou daar praat.”

En dis nie suiwer my skuld nie, ook nie slegs maar my  penvriendin of enkel alleen die een wat einde verlede jaar die foto van die linodruk (na al die jare het ek daardie lino en sy tydgenote steeds in die kunskas) aangestuur het nie, nee: 

Ek het daardie teëltjies van Amalfi al Julie-maand aan honderde stukke gebreek, ook 'n stukkende antieke blompot en 'n goedkoop blou bord van my ma wat jare gelede aan skerwe van die muur geval het. My vakansieprojek is 'n mosaiek-tafelblad, rond soos die son, maar blou soos die Amalfi-kus van Capri en Sorrento. En soos ek totter en terugdink gaan my gedagtes op loop...

1.1.12

Die lieflike flop van 'n Oujaarsaandpoeding

  

As ek dan nou soos Janus van ouds hier vroeg in sy maand vorentoe en terug kyk, dan is die eerste waarteen ek vaskyk, kyk ek terug, ons poeding van Oujaarsaand. En kyk ek vorentoe, is dit hoogstens tot by die volgende geleentheid wanneer ons weer hierdie poeding kan maak.

En as dit dan nou nie die Oujaarsaandpoeding is nie, is dit Annieka se Klein Oujaarspoeding (soos in Klein Saterdag wat Woensdag is) van 30 Desember.

Nog voor ek mooi van die boek Kom Eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer geweet het, was dit in die nuus, verbeel ek my, oor die een of ander beste vrouetydskrif in Afrikaans (of in die land) gekla het oor kopieregskending of plagiaat of so iets.

Ek weet nie mooi wat nie.

En toe het iemand vir iemand omverskoning gevra of mooi broodjies gebak en ek het gedink dat die hele storie die wonderlikste bemarking denkbaar vir die boek is.

Nie dat Annieka iets hiervan geweet het, toe sy die boek as Kerspresent vir my gekoop het nie – sy het bloot by my gehoor van die bestaan van die boek en summier uitgery om dit te gaan koop.

Die eerste wat sy toe wil maak is 'n dekadente Karamelvlapoeding.

Maar daar wonder sy toe nou wat presies die 5 blokke karamellekkers is waarna die resep vra.

Gedagtig aan die afkyk-klag maak ek 'n grap en sê dat ons bloot die naam van die poeding moet Google en dan sal ons tien teen een agter die kap van die byl kom.

Google verander toe my karamelvlapoeding na karamel vla poeding, en, so waaragtig, die eerste waarop ek afkom, is, woord vir woord, die resep wat Annieka uit die boek voorlees terwyl ek dit op die webblad volg.

Daar is een uitsondering, waar die kookboek niks in hakies langs 5 blokke karamellekkers het nie, het my webwerf fudge in hakies.

Ek kan dit nou daar laat en die mense laat wonder wie by wie afgeskryf het.

Die Mat Joubert-speurtog wat ek van stapel gestuur het, het my tot die slotsom laat kom dat Deon Meyer die resep iewers in 2010 op die MNET-kosrubriekprogram, ROER, gedeel het. Vandaar het iemand dit op die internet geplaas, waar ek dit toe gekry het, en Deon het dit bloot later in sy boek opgeneem.

Die Klein Oujaarspoeding (Deon en Anita noem dit Karamelvlapoeding, iemand anders noem dit Deon se karamelpoeding) is laag af op hierdie bladsy beskikbaar.

Ons het weliswaar in 'n stadium 'n haselneut op die individuele porsies left-overs wat ons geskep het, geplak – net sodat ons kan sê dat dit 'n gesonde resep is, dit het dan neute in.

En dan, ek kan nie wag dat iemand ons oornooi en vra dat ons 'n poeding moet saambring nie, is die 2011 Oujaarsaandpoeding wat ek en Annieka by gebrek aan 'n oond Oujaarsdag by haar ouers gaan maak het.

Iemand, wat die aaklige gewoonte had om nie voor in boeke te skryf as hulle dit as presente weggee nie, het iewers in die laat tagtiger jare van die vorige eeu (dit klink altyd so dramaties, en kan selfs nóg langer terug in die verlede klink:  in die laat tagtiger jare van die vorige millennium se laaste eeu) vir Judy 'n kookboek gegee wat sy nooit, nie een enkele keer nie, gebruik het nie.

Die boek was vir haar hopeloos te groot (36.3 x 25.7 x 3.8 cm) en te swaar (2 kg) en te lomp (256 pp) en te fancy – ek dink nie eers sy het ooit in die boek rondgeblaai nie. Sy kon dit ook op geen rak van haar staanmaak nie, dis 'n folioboek en hopeloos te hoog.

Of dalk het sy, tien teen een, soos ek my ma geken het, nie van die mens gehou wat vir haar die boek present gegee het nie, die geskenk as pretensieus gesien en bloot geweier om iets daarmee te doen te hê.

As ek net kan onthou wie die boek vir haar gegee het! Ek weet dat, kom ek op die naam, dit iemand sal wees vir wie die dierbare ou moeder van my en my broer nie juis veel ooghare had nie.

Dit moes 'n bloody duur boek vir daardie jare gewees het. Jy kan hom vandag hier teen net onder die £60 van amazon.co.uk bestel, maar dan het jy hulle nog nie betaal om die ding vir jou in Suid-Afrika te kry nie.

Collectable Cookbooks - Rare, Pre-Owned, Hard to Find and Out of Print Books het teen $31 ook 'n kopie beskikbaar.

(As jy net een maal hierdie vrou se bolognese sous gemaak het, dit neem jou vier ure, slaan jy nie weer jou lippe aan enige ander bolognese nie.) 

Ewenwel, toe ek einde 1988 huis opsit, gee Judy my 'n nuwe Huisgenoot se wenresepte en sê ek sal haar 'n guns doen as ek daardie groot, swaar, simpel kookboek uit haar huis na my huis toe ook vat.

O, en ek jubel. Ek blaai en kyk en lees en kwyl deur kookboeke soos 'n tienerseun deur 'n girly-magazine.

En daar wil ek Annieka en haar gesin 6 of 8 jaar later met 'n poeding beïndruk, en ek besluit op Valerie Childs se Chruncy Chocolate Meringue Cake uit haar Favourite Food-kookboek.

Julle, ek moes regtig desperaat vrou gesoek gewees het, want as daar een ding is wat ek NIE MAAK NIE, dan is dit meringue.

Maar die poeding was heerlik, heerlik verby, trouens, so heerlik, dat die jongeling wat bietjie later my swaer sou word, verlede week Oukersaand, 'n verdere 12 of 14 jaar later, uit die bloute vra of die Moolmans tog nie asseblief daardie poeding van destyds vir oujaarsaand by hulle wil maak nie.

En daar sit ek en Annieka toe Saterdag af na 'n geleende kombuis om die ding by gebrek aan 'n werkende oond saam te slaan.

En daar kan niks fout met my swaer se smaak wees nie – toe ek 'n prentjiesoektog van die boek op Google van stapel stuur, kry ek net twee foto’s van die boek se binnekant, en een van die foto’s het ons Chruncy Chocolate Meringue Cake op.



Dis die een regs, aan die voete van die cherubs (as iemand nog enigsins kon gewonder het).

Skoonma het haar vinger in 'n bak gehad wat ons vir Klaars gegee het om skoon te eet en haar uitroep was:  “Genade, hier sal 'n mens kan agterkom hoe dit moet voel om van lekkerte dood te gaan!”

Later het ek haar die lieflike woorde “kragdadig soet” hoor besig.

Die poeding sal ons egter nóg as Chruncy Chocolate Meringue Cake, nóg as Oujaarsaandpoeding onthou, vir ons is dit Daai lekker poeding wat lekker is al flop jy hom ook hóé.

Want dit is so, jy kan die ding opbreek, rasper, in 'n voedselverwerker versap, dit maak nie saak nie – in enige vorm is dit wat jy saamgooi, ongelooflik lekker.

Ek en Annieka het Oujaarsdag die volgende foute gemaak, en die poeding was steeds 'n reuse sukses:

1.  Ons het die geklopte meringue nie op waspapier uitgeskep nie, maar probeer wegkom met Spray 'n Cook – dit het vasgebrand

2.  Ons het die meringue nie in die koekpanne gebak nie, maar slegs op die uithaalbare bodems – die taai spul het afgeloop in die oond in, en dan weet ons almal hoe kan brandende suiker stink en rook!

3.  Ons het die goed te laag in die oond gesit – toe brand dit aan en na ons die verbrande meringue van die bodems losgeskraap het, moes ons die verbrande onderste helfte afkrap en wegkrap

4.  Ons het room wat nie in die yskas was nie styf probeer klop – dit het nie styf genoeg geword nie

5.  Toe het ons die lae gepak sonder dat die sjokoladesous genoeg afgekoel was – die sawwe room het nog sawwer geword en die drie lae het nie bo op mekaar gebly nie, maar soos drie van die Olimpiese Spele se ringe langs en oor mekaar gaan lê, en tóé stokstyf in die yskas gaan staan en word.

Ek het regtig nie gedink dit kan vir twee mense moontlik wees om 'n poeding so op te foeter nie, maar ons het.

En steeds was die vorige keer wat ek so 'n lekker poeding geëet het, die vorige keer wat ek en Annieka die poeding, enige iets tussen 12 en 14 jaar gelede gemaak het.

En dis maklik – jy kan selfs die meringue maar flop, dit smaak steeds lekker:

Jy maak drie koekpangrootte meringues van 6 eierwitte, 350 g strooisuiker en ongeveer 100 g se gekapte haselneute (of okkerneute of pekanneute – enige neut behalwe grondboontjies, wat natuurlik nie eers neute nie, maar boontjies, is). Na sowat 35 minute in 'n matige oond (180 grade C) is perfek.

Dan maak jy 'n sjokoladesousie van so nagenoeg 275 g sjokolade en so min of meer 150 of 160 ml room en laat dit afkoel.

Die res van die kannetjie room, en nog so bietjie, klop jy goed styf. (Die resep vra vir 350 ml room, waarvan jy 160 ml vir die sous gebruik en die res styf klop.)

En as alles koud is, dan smeer jy sjokoladesous op die onderste twee meringues, jy werk geklopte room op, en bedek die twee lae dan met die derde meringue. Laastens rond jy alles af met nog gekapte neute vir versiering.

It is not only to die for, it is also to die from.

Om seker te maak Valerie Childs dagvaar jou nie omdat jy haar poeding maak nie, mors jy nie die ekstra room nie, nee, jy werk dit in by die blikkie gekookte kondensmelk wat oorgebly het van Klein Oujaarsaand se Karamelvlapoeding van Deon Meyer en 'n ander tannie op die internet.

En dan het jy drie lae tussen die meringues:  karamel, sjokolade, en geklopte room.

Geniet dit (met of sonder die karamel).

Hans Moolman II se annual New Year's address to the nation

('n Baie beter een is die Koningin se jaarlikse Kersfees-boodskap, dis hier beskikbaar en die moeite werd om te volg, selfs al is jy nie 'n hanskakie nie - of, soos ek, 'n hans Hans, maar nie 'n kakie nie.)

Annieka se oupa had blykbaar die gewoonte om 'n prys te wil toeken aan die een wat eerste nodig had om die nuwe jaartal in 'n datum aan te teken.

Ek vermoed die eerste een om 'n tjek of 'n brief met die datum daarby te skryf. Of straks 'n dagboekinskrywing of logboek of reënvalverslag (die man was immers 'n boer) of so iets.

Ek het maar met 'n halwe oor geluister, die een wat 100% by was, was Klaradyn, want sy het dadelik belangstellend gevra watse prys die wenner gekry het – as daar iets te wen is, neem sy deel.

Die eerste wat toe nou vanoggend, die eerste dag van Jannewarie, deur my gedagtes gaan toe ek wakker word, is: “Watter prys het ek vir Jan Opperman, my skoolhoof van 1996, omdat hy dan nou duidelik die eerste persoon is van wie ek met sekerheid kan sê dat ek die Nuwejaar in van hom gedroom het.”

Waar en hoe die man in my droom ingeval het, weet ek nie.

Daar was gisteraand 'n Nuwejaarswens van my huidige skoolhoof.

Maar dié het ek, saam met al die ander, nie eers gelees toe ek by die foon uitkom voor ons in die bed geklim het nie.

Met die dat Annieka en Klaradyn vakansietye heeltyd by my is en die ouetehuis my in elk geval nooit weer in nood sal hoef te bel om dalk iets oor Judy aan my oor te moet dra nie, leef ek en my selfoon regtig nie naby mekaar nie – ek los hom, sy battery afgeloop, in die motor, of iewers elders waar hy my nie kan pla nie.

Ek verpes die blote gedagte daaraan dat 'n telefoon nie meer aan 'n adres gekoppel is nie, aan 'n instrument iewers op 'n lessenaar in 'n studeerkamer of op 'n kassie langs 'n bed in 'n slaapkamer nie, maar aan 'n mens, 'n mens van vel en bloed en been. Ek verpes daarom ook die gedagte dat 'n sterfling nie meer van 'n ding soos 'n telefoon kan wegkom nie. Die nosie van 'n telefoon (en die werk en die buitewêreld) waarvan jy kan wegkom as jy met vakansie gaan, bestaan van 1993 nie meer nie – jy dra die donderse ding in die strandsak saam met jou af see toe as jy gaan swem.

Nie ek nie – as ek nie vrou en kind en kraai gehad het nie, dan had ek waaragtig nie iets soos 'n selfoon nie – ek het my foon hoogstens gistermiddag laat by 'n battery-opwekker uitgekry vir ingeval my broer miskien die lawwe gedagte in sy kop sou kry om sy broer te wil bel as hy daaraan herinner word dat hierdie die eerste Nuwejaar in sy lewe is wat hy, op twee of drie of vier en sestig, as weeskind instap.

Maar óf hy het nie aan sy oorlede mammie gedink nie, óf hy het, maar dit het hom nie genoeg geraak dat hy summier behoefte getoon het om met sy boetie in kontak te kom nie. (Ek kon hom ook nie bel nie – my lugtyd is verstreke, ek kan nie eers 'n dankie SMS op al die mooi boodskappe wat ek gekry het nie.)

Maar, ja, ek hét gisteraand met my selfoon, daardie onwegdoenbare ergernis, in hand, my huidige hoof vir 'n vlietende oomblik voor ons gaan slaap het, in my gedagtes gehad.

Maar in my droom het ek op 'n fiets (eintlik 'n uni-cycle of eenwielfiets soos in die sirkus) na oud-hoof, Jan Opperman, se vorige skool – die een waar hy onderhoof was, voor hy hoof by ons geword het – gery.

En dit om 'n dagboek van Annieka, wat sy by hom vergeet het, op te tel.

Speke, of spykers, of drade (ek dink die drade van die voëlhok wat my bene gekrap het toe ek Klaars se hok gebou het, en my bene Oujaarsaand vreeslik laat jeuk en rowe krap het) het my bene in my droom laat bloei, en dit was met rooi gevlekte broekspype dat ek in Joost van der Westhuizen se ou hoërskool se gange afgestap het op soek na die skoolhoof wat al meer as 20 jaar gelde uit die diens van die onderwysdepartement getree het.

Toe ek Jan Opperman uiteindelik opgespoor het – in daardie stadium het hy baie aan Jack Parrow, die seerowerkakter wat Johny Depp vir ie Pirates of the Carribean-flieks geskep het, herinner – kon hy die dagboek nie opspoor nie en ek is onverrigtersake en bebloed daar weg.

Gelukkig het goeie vriendin en kollega, Marieta, ook vroeg voor skool na dié skool gekom om Annieka se dagboek vir haar op te kom tel; toe kon ek my eenwielfiets in haar motor se kattebak laai en saam met haar werk toe ry.

Maar voor ek dit kon doen, toe word ek wakker en wonder oor Jan Opperman se prys - oor hy toe mos nou die eerste een is waarvan ek in die nuwe jaar gedroom het.

Behalwe vir die konneksie met my huidige skoolhoof (aan die hand van die selfoonboodskap) is die enigste ander raakpunt met 'n skoolhoof (weliswaar steeds nie Jan Opperman nie) die vrou met die grys hare, gister in Spar. Ek het hierdie vrou gesien, en geweet ek ken haar. Vir 'n oomblik het ek gedink dis 'n tannie van Alberton wat ek laas in 1979 gesien het, maar dit sou beteken het dat sy in 32 jaar nie 'n dag ouer geword het nie – en so iets is nie moontlik nie. As sy daardie jare 'n konserwatief geskatte 70 was, dan moet sy nou 102 wees – en daardie vrou saam met my in Spar is beslis nie 102 nie, sy lyk trouens jonger as 70.

Maar die vrou, haar hare, haar gesig en haar lyftaal het my bly pla.

Ek het my gedagtes, baie later gisteraand, toe sy my steeds pla, stil probeer maak met die slotsom dat sy Wouter Kirstein, 'n ander vorige skool se ander vorige skoolhoof se vrou kon gewees het.

Ek het duidelik nie daarin geslaag om my gedagtes rondom die vrou stil te kry nie, want toe droom ek vanoggend van nog 'n ander vorige skoolhoof.

Die ontstellendste van dit alles is die feit dat ek nie sommer uit die droom geword het nie – nee, ek is 'n baie ligte slaper, en het myself uit die droom wakker GESNORK!

Is dit nie vreeslik nie! Behalwe dat ek deesdae in die middel van die nodig het om uit die bed uit op te staan (en dan is dit nie om my sleutels te kry en huis toe te gaan nie, maar om te gaan pie-pie) snork ek myself nou die afgelope ruk van tyd tot tyd  nog wakker ook.

En dan gaan pie-pie ek maar. Want netnou is ek wel gelukkig genoeg om weer aan die slaap te kan raak, en dan slaap ek net, en dan word ek weer wakker – daardie keer om te gaan pie-pie. Daar is nie 'n manier nie. Dan slaan ek eerder twee vlieë met een klap van 'n windmeul dood.

Maar toe ek vanoggend eers klaar gesnork en klaar gepie-pie en klaar droompryse as oudskoolhoofde uitgedeel het, toe was daar van weer aan die slaap raak, geen sprake nie.

Lees kan ek nie lees nie – daarvoor moet ek lig aansit – en van al my snork slaap Annieka klaar onrustig, ek wil haar nie verder pla nie. Die lig sal my vrou dadelik pikwakker hê – en ek wil nie die nuwe jaar ingaan met 'n bemoerde vroulief nie.

Dit was erg genoeg om die ou jaar met 'n bemoerde vroulief uit te moes gaan (stukkende oonde en sulke goed, maar dis ou koeie en ek hou in elk geval nie boek van die kwaad nie).

In die bed bly kan ek ook nie – dan skarrel en vroetel ek haar binne 10 minute pikwakker, en ek sal dalk gewild wees as ek dit 08:00 met 'n warm koppie koffie langs die bed neergesit, doen – maar nié as ek dit met koue voete en skuwe hakskene om 03:55 doen nie.

Veral nie na ons gisternag vir ure lê en luister het na drie histeriese patryshonde wat in sirkels al om die huis hardloop op soek na die oorsprong van al die vuurwerke, sis-, klap-, kunsmatige donderweer- en weerliggeluide om en oor die huis nie.

Ja, ons gebede vir 'n drie-uur-lange deurdringende Hoëveldse donderstorm rondom middernag is toe nie hierdie jaar bewaarheid nie.

Die vorige twee jaar is wel deeglik ag op daardie gebede van ons geslaan – maar om almal rondom Nuwejaar gelukkig te hou was die aand van 1 Januarie toe windstil en lieflik – toe klap en skiet en steek almal alles wat hulle nie die vorige aand kon skiet en klap en aan die brand steek nie.

Toe kom lees ek maar die koerant op die internet – net om agter te kom dis Sondag en daar is geen nuwe nuus by Beeld nie – nie eers nuwe lesersbriewe nie.

Toe knoop ek maar hierdie geselsie met my aanlyndagboek aan.

Behalwe vir die wakker snork, en die middernag-pie-pie, en die oujaarsaand-21:00-al-aan-die-slaap-val-voor-die-TV, was ek gister op grond van 'n gans ander rede ook heeldag bewus van ouer word, oudword, jare wat aanstap.

Hier in standerd 6 of 7 of 8 was ek by 'n maatjie se ouer boetie se tienerpartytjie en die allervreeslikste, allerwildste, aller-rock-&-roll-ste, aller-van-die-duiwelste (alias my ouma wat toe nog geleef het – en vir haar was alles wat jy nie in 'n kerk gekry of in 'n kerk kon doen nie, van die duiwel) liedjie waarop ons hierdie aan gedans het, was Great Balls of Fire.

Ek onthou hoe nat gesweet ons ons ledemate rondgeswaai en rondgeruk en uit lit uit rondgerol het – te allervreeslik, dit het aan 'n Middeleeuse St Vitus-dans, die soort waarvoor jy daarna op die brandstapel sou sterf, herinner.

En as ek die liedjie vandag luister, dan klink dit nie eers na iets waarop 'n mens los dans nie, eerder iets vir 'n lekker rustige binneboud-langarm-skoffel.

Ons kuier eergister by 'n universiteitsvriend van my – en die fout wat ons nou al vir jare maak, is om net een keer 'n jaar, rondom Nuwejaar, saam te kuier; elke keer, die enigste kere wat ons mekaar sien, is wanneer ons mekaar vir 'n jaar lank nie gesien het nie... en gevolglik 'n hele jaar ouer geword het.

Die eerste wat toe deur my gedagtes gaan, die oomblik toe ek my vriend wat ek twee maande na ons matriekeksamen leer ken het, sien, is:  “O, my magtig, dan het jy nie net oud geword nie, maar nog gewig ook opgetel.”

Die tweede wat deur my gedagtes gaan, is dat ek eintlik in 'n spieël kyk – hy sien dieselfde (en erger en meer) in my raak en dink tien teen dieselfde.

Ek vermoed dan nou ook dat ons vriendskap na 29 jaar die punt bereik het waar ons nooit ooit weer, nie eers een keer 'n jaar, of selfs vyf jaar, by mekaar gaan kuier nie – dis te erg om op so 'n wrede wyse aan jou eie sterflikheid herinner te word.

Ons sal hoogstens een maal elke twee jaar missed calls op mekaar se selfone registreer – want oor die telefoon kommunikeer sal ons ook nie kan nie – daar is min dinge wat ouderdom, ek lieg, nie ouderdom nie, maar oud word, oud en der dagen sat oud word, so vinnig verklap soos bloot 'n tweejaarlikse gesprek met 'n baie goeie en getroue vriend of vriendin.

So vir solank ons rekenaars voortaan nog mekaar se e-posadresse wedersyds in hul rekenaargeheues gaan stoor (ons eie geheues lankal nie meer daartoe in staat om iets so kompleks soos 'n e-posadres te onthou nie) sal ons, vermoed ek, hoogstens elke dan en wan aan die hand van die rekenaar se in-bus met mekaar kommunikeer.

Ewenwel, die man gee ons toe huis toe, musiek om na te luister – ure se musiek uit die 80’s.

Nog 'n dead give away, nè – jy raak nostalgies oor twee en drie dekades gelede se musiek!

En ek luister na hierdie dekadente wilde popmusiek van destyds, en al wat ek wil doen is om my vrou, iewers onder die maanlig op 'n stoep, in die arms te neem en op die maat van die musiek rustig met haar te close dance.

Close dance soos in die laaste uur of wat van skooldae se garage partytjies.

Nou is ons net groot en oud en volwasse – ons sal eintlik maar net in mekaar se arms wieg, haar kop op my skouer, maanlig op die water.

Die wyse waarop onrustige musiek met verloop van tyd rustig word, was nog altyd vir my 'n barometer van oud word. Great Balls of Fire het dit eerste vir my gedoen. Toe die musiek wat ek as regisseur in studenteproduksie gebruik het om die hoofkarakter in die drama tot die hel te verdoem. Toe ek die teks 10 jaar later met skoolkinders opvoer, toe doen ek vreeslik baie moeite om dieselfde musiek weer op te spoor het. En toe ek die musiek uiteindelik weer in die hande het, toe klink dit rustiger as die tipe liedjies wat ons in daardie tyd op begrafnis-eredienste gesing het.

En toe nou weer die afgelope naweek se herkennismaking met die wonderlike musiek uit die eighties.

Dis wat oud word en ouer word is – her-ervarings van die verlede is nie bloot meer 'n her-ervaring nie, maar 'n totaal en gans en al piksplinternuwe ervaring – die musiek het dieselfde gebly – dis immers geblikte klank – maar jý ervaar dit anders omdat jy die een is wat nie stilgestaan het nie.

Ons is na al die jare weer terug op Ouma Pollie se plaas (in aansluiting by 'n Pappa-Mamma-en-Klaars-inskrywing van vroeër verlede week) en Kersfees is nie meer dieselfde nie – Kersfees, én óns, is nie meer dieselfde nie.

Dit alles bring my uit by die boodskap wat Klaradyn se graad O-onderwyseres gisteraand vir ons stuur:

From all of us here @ Sterkfontein mental hospital – we wish you a very happy Easter & a prosperous 1983. We miss u all.

En dan is dit ook nie net julle almal of u all wat ons mis nie, maar al meer en meer ons goeie ou selwerse ook daarby.

Die meeste van alles en almal wat ek vanoggend mis, nie my mammie nie – sy is, saliger gedagtenis, doodveilig in 'n kissie in die kassie langs my bed – maar my en Annieka se liefiekind.

Die twee oues, en Annieka wat by die sameswering aan moes gesluit het, het dit toe in die kop gekry dat ons kind die Oujaar by hulle moet uitsien en dan brunch ons vandag by hulle.

Ek het lus en verander daardie brunch in 'n dou-voor-dag-hanekraai-vroegoggend-ontbyt.

Ek heg hoegenaamd geen maar geen emosionele of simboliese betekenis aan Ou- en Nuwejaar nie, maar tog voel ek, heel paganisties, dat dit nou moeilikheid soek is om 'n gesin op so 'n nag soos Oujaarsnag in twee te wil skeur.

En dís éintlik die rede hoekom ek die selfoon gistermiddag aan die dood ontruk het – netnou wil my kind knap na middernag bel om haar te kom haal en na veiligheid te bring, en dan antwoord ek nie die foon nie omdat ek die ding nie terug in die lewe gekry het nie.

Maar dis verniet – die merrieperd het weer, soos altyd, haar gate uit by Ouma en Oupa geniet, en nie eers een keer aan ons gedink nie, wat nog te sê behoefte getoon om ons te wil bel.

Maar wag, ek moet afsluit, kyk net waar stap die tyd met ons – dis ook al amper 06:00, al amper 2 Januarie, en tyd vir 'n ligte Nuwejaars-brunch by my skoonouers aan huis.

Mag elkeen wat oor wederhelf of kind beskik, of, soos ek, gelukkig genoeg is om én oor wederhelf én oor kind te beskik, vanjaar by hul wederhelf en/of kind(ers) uitkom.

En as jy besonders gelukkig is om, anders as ek en my broer wat vanjaar wees gelaat is, nog 'n ouer ook te hê – sorg dat jy by hom of haar, of hulle, ook uitkom – dis alles voorreg en goed wat ons nie gegee is nie, maar geleen is.

Onthou, en ek is so geneig om dit te vergeet, skoonouers is ook ouers, daar is niks vuil aan hulle nie. (Dankie Ma, dankie Pa.)

Pas jou geliefdes mooi op, kyk goed na hulle en versorg met liefde – dan sál 2012 'n verruklike jaar wees, maak nie saak wát ons tref nie – nie eens 'n ander planeet wat uit sy baan geruk is, of die een of ander Mayan- (Majaanse, Maiaanse, Maja-die-By-se?) kalender nie.