Pages

26.12.11

Kersfeesete-terugblik


En daar is die askar 'n rukkie gelede verby, sonder om ons gemors op te pik – dit terwyl die asblik al verlede week in Woensdag tot oorlopens toe vol was!

Gewoonlik kom die outjies in die aand, in die aand laat, so laat dat ons meestal al in die bed en aan die slaap is, as hulle hier verbykom.

Nie vandag op Tweede Kersdag nie, o, nee, vandag kom hulle ure voor hul normale tyd. So al asof ons Boxing Day hier by ons het, en hulle kom haal in die gees van hierdie tradisie wat lank nie meer deel van ons Kersfees is nie - as dit ooit was.

Iemand het gevra dat ek foto’s sal neem van die voltooide haashok.

Ek het helaas nog nie, selfs nie noudat dit lankal nie meer suiwer haashok is nie – die haashok het Oukersaand ook voëlhok geword en is nou twee Diamantduifies en twee Indiese Ringnekparakiete ryker.

Ai, dit was 'n spesiale vroegoggend-Kersoggend! Ek het hemel op aarde in my eie binnehof gehad; so in die geselskap van die vier geveerde vriende.

Ek was grootbek oor die Kersete, maar dit het uitgewerk presies soos beplan.

Ek spog graag:

Voorgereg – gevlegte aspersies


Dit was lekker om verplig te wees om jou voorgereg met jou vingers te móét eet. Toe ek die bordjies pak, dis nou toe die twee girls elk 'n pre-Christmas supper beauty sleep neem, gebeur dit dat ek twee ekstra bordjies pak; nie hieroor of daaroor nie, sommer omdat ek genoeg aspersies het, en met Judy in die gedagtes aan die sentimentele liedjie van die empty chair at the table gedink het:

There's a Broken Toy in the Stockin'
Hangin' there on the Christmas Tree
And a Story's told by a Star of Gold
And the Light on the Christmas Tree

Bless all the Angels up in Heaven
May they watch o'er him, oh so Tenderly
There's an Empty Chair At The Table
And a Light on the Christmas Tree

Heads Bowed in Prayer to ask His Blessing
For that One still so Dear to you and Me
There's an Empty Chair At The Table
And a Light on the Christmas Tree

En ook maar goed ek het, want toe ek en Klaars knap na 17:00 in die straat afhardloop – sy op haar nuwe rolskaatse en Pappa aan die hand om te keer vir val, kom die boodskap dat Oom Erik-hulle gou 'n draai kom maak.

Toe geniet hulle die twee ekstra voorgeregporsies saam met ons, voor hulle huis toe is om die honde en katte kos te gaan gee.

Die dure parmesaankaas was verruklik. Ek het die tralies bloot aangeklam met olyfolie, suurlemoensap en fyn knoffel, sout en peper – vingerleklekker.

Beestong

Dit was Phillip de Vos wat geskryf het:

“Die een ding wat my kan laat steier,
Is beestong in wynsous,” s
ê Dreyer.
Ek weier volstrek,
Wat kom uit 'n bek –
Gee my maar verkieslik 'n eier.”

Toe ek vir die eerste maal in my lewe beestong kook, toe dink ek weer aan hierdie man se woorde.

Al die resepte laat vir twee of drie ure kook, maar die Woolies-verpakking het dit duidelik gestel – 70 minute. Ek het al die ander ignoreer en my ore aan Woolies uitgeleen. Ek laat my nou wraggies nie vertel dat Woollies se beeste se tonge soveel sagter kan wees as die gemiddelde ander beeste se tonge nie – 70 minute is beslis lank genoeg.

Een van die resepte wou dat ek die tong se vel na slegs 15 minute se kooktyd aftrek, en dit dan verder kook tot die tong sag is. Dit maak vir my sin, want ek het gewonder, toe ek na 70 minute met die vel vroetel, hoeveel van my geurmiddels waarmee ek die water gegeur het, wel deur die tongvel in die vleis gaan sit het.

Ek het die gaarmaak en sny van die tong sonder Klaradyn se kleine ogies gemaak – ek is bevrees, as ons merrieperdjie op 7 sien waar daai lekker tong vandaan kom, sit sy nie weer haar mond daaraan nie, en dring voortaan aan op eier – sonder om te dink waaruit 'n eier, in teenstelling met 'n tong, wat uit 'n bek kom, kom.


Ek het nie die vaagste benul
waarom die ding skeef laai nie!


Die ligte kolle is roomkaas, room en peperwortelsous –eersteklas; die donker kolle is Peter Veldsman se rosyntjiesous waarvan ek die bestanddele gedeel het.

Ontbeende varkboudjie

Hierdie was kleintyd altyd Judy se bydrae tot die Kerstafel, so daardie stoel was sommer baie leeg toe ek hom gekerf en voorberei het. Ek het destyds geweet dit was die begin van die einde van Judy se brein toe ek haar Desember 2000 gevra het of sy vir ons die varkboud vir die Kerstafel sal voorberei.

Sy het by my en Annieka in die kamer ingekom – ek sien haar op die bed kom sit, soos Ouma van Wyk (haar ma) altyd op 'n bed kom sit het, en toe sê sy dat sy graag die varkboud sal maak – maar ons sal haar net moet help, want sy het dit nog nooit in haar lewe gedoen nie. Sy het nog 11 jaar vasgebyt.

My crackling het, soos voorspel, geflop. Ek het aan die speel geraak met Klaradyn, en toe brand dit pikswart. En omdat ek Judy dit nie kan nadoen nie, het ek nie probeer nie. Hier wag ons nog vir skoonpa se skaapboud, wat die bord voltooi het.


Klaradyn het dit verder opge-zhoozsh (Hans het hoeka die tweede Zhoozsh-kookboek van Jeremy Mansfield en sy vrou by Oom Erik-hulle present gekry – twee jaar gelede was dit die eerste een) met vars koljander.

As Afrikaner het ek grootgeword dat daar net een ding by skaapboud is, en dit is kruisement. Ek het maar nou die anderdag eers die wondere van vars koljanderblare leer ken.

En toe ek gisteraand die boudjie met die vermenging van die twee kruie se geure geniet, toe besluit ek om nie weer die pad sonder vars koljander te loop nie.

Waarop kom ek vandag af? In die tweede Zhoozsh gee hulle 'n resep vir 'n pesto van koljander en kruisement, met knoffel, suurlemoensap en vars chilli daarby wat jy op skaaptjops aanbring.

Raai wat gaan die eerste resep uit my nuwe kookboek wees wat ek probeer?

Annieka het ook geswig voor 'n kookboek vir my, dis nou naas drie van Bill Bryson se boeke wat ek nog nie het nie, die een van Deon Meyer en sy vrou.

(Maggies! Dis Jeremy en sy vrou, Jacqui; Deon en sy vrou, Anita! Volgende, Annieka, is dit Eet saam met Hans en Ankie of beter nog – Pappa, Mamma en Klaars Kook!)

Eiervrug, tamatie en komkommer



Hierdie was my lekkerste van die drie slaaie. Ek hou van die komyn en gemaalde koljander daarin.

Koeskoes en pynappel met babaspinasie

Die dwars draai, sit vir my ore aan!

Daar was 'n misverstand rondom watter pynappel ons moes kry, blokkies of snippers – ons het die blokkies toe snippertjies gemaak. Saam met die neute en babaspinasie het dit vorentoe geproe.

Geroosterde soetrissie en feta met basilie



Met hierdie slaai het ek toe gegaan vir die prentjie (waarvan ek die resep nie kon kry nie) in plaas van die resep wat ek gehad het (maar nie 'n prentjie nie).

Dit was heerlik om die soetrissies oor die vlamme te skroei en te verwerk.

Tiramisu-trifle uit die 70’s

Natuurlik "pose" sy net,
ons is klaar met die poeding.

Ai, hierdie poeding bly 'n lekkerte. Klaradyn het heerlik gebou en geroom en versier met neute en kersies, en sommer tikkie groen kruisement ook. Ek was reg vir 'n bazaar-poeding se gevoel, maar sy het volstaan by wat on hier het.

Amper vergeet ek die kaasbord, aan die einde:

Hier is Klaradyn al in haar pajamas. Dit gaan egter nie om die pajamas of die kaasbord nie - let op die Kersgeskenk regs agter! Dis ook net 'n oupa wat 'n sewejarige van, nie een musiekinstrumenterige ding sal voorsien nie, maar TWEE - 'n kitaar, en daardie speeldoos met 'n ingeboude luidspreker ook.

Ek het genoem dat ons Oupa se present by Oupa-hulle moet laat bly, maar Oupa het so vasgeskop en walgeskop dat die ding toe hier by ons bly.

En soos wat die meeste Kersgeskenke teen Boxing Day klaar stukkend is, is dit toe nou nie die geval met hierdie een nie. Selfs sy baterye (nadat die goed al vanoggend 06:00 begin musiek maak het) hou nog.

En of dit nie genoeg is nie, ontdek ek vandag op die passasiersitplek die ekstra baterye wat Oupa saamgestuur het!

Ek is nie goed met foto's nie - hier's 'n sneppie van die tafel; maar dit gaan nie oor die tafel nie, ek wil spog met die silwer engeltjies wat Klaradyn self gemaak en silwer gespuitverf het.

Miskien moet ek tog 'n Pappa, Mamma en Klaars Kook oorweeg.

Ek het in maande nie foto's afgelaai nie. So kom ek toe nou af op ons wildspastei van iewers in Julie.



En vanaand, toe ek wil oorskiet kouevleis-en-slaai, toe is dit reënweer en die vrouens lus vir pannekoek! Kan jy dit nou glo! In die middel van die somer! Pannekoek!


24.12.11

Kersfees-spyskaart

Jare gelede bly ek in Duitsland oor by vriende van vriende se vriende.

Hoe ons daarby uitgekom het, weet ek nie (en hoe waar dit is, nog minder) maar die gasvrou maak toe die stelling dat die gemiddelde Duitser slegs twee keer 'n jaar by die kerk uitkom – oor Kersfees en dan weer tydens Pase.

Die gemiddelde wit Afrikaner, ja, slag my maar af, maar volgens my kan 'n Afrikaner bruin of selfs swart ook wees – die gemiddelde wit Afrikaner wil die Afrikaner net nie so definieer nie, en sorg op hul daarvoor dat geen Afrikaner wat nie noodwendig pikspierwit is nie, hom of haar onder geen omstandighede met die Afrikaner kan, of sal, of wil, identifiseer nie...

En daar het ek myself nou weer eens so sterk in die rede geval, dat geen wit Christen die sin se draad sal kan volg nie.

Wat ek my wil verstout om te sê, is dat die gemiddelde Afrikaner, vermoed ek, straks selfs die gemiddelde Suid-Afrikaner, as ek my dit nie mis het nie, deesdae dalkies nog steeds meer in die Kerk kom as die gemiddelde Duitser, maar dat daar min nasies en mense en volkies en gemeenskappe is (behalwe miskien die Britte en die Yanks) wat oor Kersfees so kan kosmaak en kook soos ons.

Baie rondom Kersfees is besig om te verander. Baie rondom die Afrikaner is besig om te verander. Ek kan my byvoorbeeld nie voorstel dat die volgende sinne wat 'n artikel in Beeld vroeër hierdie week afgesluit het, so min soos selfs net vyftien jaar gelede in die gemiddelde Afrikaanse koerant plek sou kry nie, en tog staan dit vanjaar daar:

“Christene glo dat die Koning van die heelal, God self, met Kersfees gebore is as ’n klein, menslike babatjie. Vir baie moderne mense klink dit ongeloofwaardig. Vir Christene is dit egter ’n kernpunt van die geloof.”

Wat egter dieselfde gebly het, hoe modern ons dan nou ook al geword het, is die ete en drinke rondom Kersfees.

'n Vriendin vra gister dat ek sal skryf oor ons naweek se spyskaart, en toe ek klaar het, besef ek ons Kersfees is dalk nie meer die Christusfees wat dit veertig jaar gelede was nie, dis gelukkig nie die geldmaak geskenkefees wat die geldmag daarvan wil maak nie, maar dis waaragtig steeds die eetfees wat dit al vir donkiesjare is.

Hier volg wat ek op haar versoek saamgeslaan het:

Oukersaand is ons en die ander kinders by die twee oues. Kersdag is die oues by ons. Ook nie Kersdag nie, Kersdag-laatagtermiddag met die oog op aandete.

Kersdag is tradisioneel kouevleis en slaaie.

Dit was seker jare gelede die koue left overs van Oukersaand met slaai, maar ons kook deesdae twee keer en het left overs om ons deur te hou tot knap voor Oujaar. Dan kook ons weer. Maar na Nuwejaar is ons gelukkig klaar uithangkos-gemaak tot die eerste verjaarsdag in Maart en Moedersdag in Mei.

Kersdag se koue skaapboud is so 'n sterk tradisie dat die twee oues gesê het ons hoef nie vanjaar boud te kry nie – hulle maak vanjaar lamsboud vir Oukersaand en sal sommer 'n tweede een gereed kry vir Kersdag.

Maar voor ons by die koue boud kan uitkom, het ons skielik eers voorgereg ook bygekry, nie omdat ons dit beplan het nie, bloot omdat ek ten duurste 'n blok 30 maande oue parmesaankaas aangekoop het.

Ons hét 'n inkopielys saamgestel waarop beslis nie 30 maande oue parmesaan aangebring is nie – maar toe kuier ons so lekker tydens die tradisionele Last-minute-Christmas-shopping-ontbyt, dat ons die kosaankope moet afjaag – ons skeur die aankopielys in twee, gryp elkeen 'n trollie en vaar die rakke in.

Maar ek is deur soveel resepte op soek na slaaie wat tog net nie 'n tradisionele mengel- gerasperde wortel- of ertappelslaai is nie, dat ek toe meer as dit wat op my lysie is, begin inpak.

En toe, voor die kase – wat ek by die kase loop soek het, weet ek nie – val ek toe vas by hierdie ingevoerde 30 maande oue wig parmesaankaas, en die kaas roep nie net uit om ingelaai te word nie, dit klim sommer vanself in my trollie.

By die huis gekom is daar niks, maar absoluut niks onder die resepte wat om parmesaankaas vra nie.


Toe kry ons 'n voorgereg by – 'n klassieke ou bekende, maar, by the looks of it, aangebied met hoogs feestelike flair.


Ek google nie resepte nie – ek google die prentjies van die kos wat ek wil maak, en as dit lekker lyk, gaan ek in en ondersoek die resep, of probeer dit sommer sonder resep namaak.


En dis hoe onshierby uitgekom het.

Met die ekonomie wat so sleg is en niemand wat af is see toe nie, was die tou by Woolies so lank dat dit al met die vleisrak af gegaan het. En terwyl ek toe nou so langs die vleisrak staan en luier op pad betaalpunt toe, kyk ek die beestong uit, en die beestong kyk my uit – en ek besluit om vir die eerste keer in my lewe koue beestong voor te berei.


En omdat dit totaal overdadig sal wees om 4 vleise oor Kersfees te hê, ruil die vriendelike beestong toe plek met die filet wat in die trollie was.

Ek gaan hierdie (omdat dit so mooi op 'n bord kan lyk) as vertrekpunt gebruik, maar omdat vroulief mal is oor iets soets saam met haar tong, gaan ek ook Peter Veldsman se rosyntjiesous uit Kos wat ons ken saamslaan:

½ koppie bruinsuiker
2 teelepels mosterdpoeier
2 eetlepels mielieblom aangemaak met 2 eetlepels suurlemoensap
1 lemoen en suurlemoen se gerasperde skil
1 koppie druiwesap
½koppie pitlose rosyne
sout, peper en rooipeper

En dan kry jy dit alles saam in 'n lekker sousie.

Die varkboud probeer ek nou al tien jaar elke jaar glasuur soos my ma dit haar hele lewe lank gedoen het. Vanjaar het ek opgegee – ek het by Woolies gekoop.

Maar ons oond is somehowstukkend – en dis nou te gou om te sê hoe die boud gaan uitkom.


Ek is nie lus vir 'n span nooddienswerkers van die plaaslike elektrisiën in die huis nie –dan was die oond lankal reg.


So ons kook vanjaar sonder oond.


Gelukkig het ons 'n Weber en 'n Jetmaster op die werf.

Dan is daar die drie slaaie (wat ek al gedeel het).

Ek het drie vertrekpunte opgespoor. Maar wat hierdie webwerwe so lekker maak, is die feit dat hulle soortgelyke resepte ook voorstel. Ek lees en bekyk dan alles, en doen op die ou einde bloot soos die gees my lei.

Soetrissieslaai - wat hierdie een opwindend gaan maak is die feit dat die foto nie by die resep pas nie. Ons het die resep op die inkopielys gehad, en ek het alles wat ek van die foto onthou het, ook gekoop. So watter een van die twee slaaie dit gaan wees, weet ek nie.

Eiervrugslaai - dit lyk nie so mooi nie, maar so geurig. As dit nie tot 'n mens spreek nie, is daar talle variasies op die prentjies onder die resep.

Koeskoesslaai - die meer bekende koeskoesslaaie is almal onder hierdie slaai, maar hierdie behoort 'n baie aangename verandering en variasie te wees.
Vanjaar is die eerste Kersfees sonder my ma. So om haar in die herinnering te roep – die varkboud gaan dit duidelik nie doen nie – gaan ek haar kwasi-tiramisu-kwasi-trifle uit die jare 70 van die vorige eeu, lank voor tiramisu hier by ons aangekom het, maak.

Sy het die vingerbeskuitjies, soos vir tiramisu, in koffie gedoop – eintlik koffie en 'n stewige skeut koffielikeur.

Dan 'n laag lekker stywe custard(custard – eintlik sommer net kastirt in propperse Afrikaans – klink darem net sedert kinderdae soveel lekkerder as die vaal en vervelige vla)

Hieroor sprinkel jy gekapte neute en opgesnyde glansvrugte (of wat jy ook al in die yskas het – klein stukkies gemmer is net so lekker)

Dan weer vingerbeskuitjies, vla en kougoedjies, vingerbeskuitjies en laastens, nie vla nie, maar styfgeklopte room.

En dan kan jy dit heel bo so kommen maak soos jy wil – ek gaan sewejarige klein Klaradyn kry om dit te doen, en knowing her gaan ons kersies en sjokolade vermicelli en thousands& thousands en gekapte neute en kruisement blare uit die tuin kry. Maar wat maak dit saak – dis Kersfees en dit moet 'n kindertjie-Kersfees ook kan wees.

Om ons deur te vat ounag toe, is daar 'n baie geurige, baie beleëkaasbord met konfyt en beskuitjies.

Daar was hierdie belaglike duur ingevoerde kaasbord, iets soos R200-00 verbeel ek my. Daar is nie 'n manier dat ek R200-00 vir 'n kaasbord betaal nie, toe stel ek my eie kaasbord saam.


Had ek tog maar die kaasbord gekoop. Twee winkels verder, toe het ek ver verby R200-00 aan hopeloos te veel kaas spandeer.


Gelukkig is 1 Januarie op sy lekkerste met net verskillende kase, brode en beskuitjies.


23.12.11

Krismis-melankolieklikheid


Die Desembervakansie voor ek skool toe is, 1970 – as my somme reg is, het ons Kersfees en Nuwejaar by vriende van my pa-hulle op 'n plaas in die Douglas-omgewing deurgebring.

Hierdie vakansie hou meer as 40 jaar later steeds enkele baie helder en kosbare herinneringe in.

Maar dit hang ook af hoe jy kosbaar interpreteer – die een is kosbaar omdat ek baie en hoë waarde daaraan heg; die ander is kosbaar omdat dit 'n duur gekogte herinnering is.

Nou klink dit of daar net twee herinneringe is, en dis verkeerd – daar is baie.

Kom ek sê dan maar eerder dat die Desembervakansie voor ek skool toe is, een is wat ek nooit sal vergeet nie. Dis die eerste en enigste keer dat ek met Oujaarsaand vuurwerke buite op die werf beleef het. Die stoepstoele is van onder die stoep uitgedra en op die kweek staan gemaak. Daar het ons gaan sit – die grootmense op die stoele, ons op die gras – en die oom het die goed en die lonte gemaak brand.

Toe kry ek masels en is in 'n kamer waarvan die gordyne om die een of ander rede dig gehou is, opgesluit. Dit was so 'n siekbed dat ek 'n week of wat laat vir graad 1 was. Pa-hulle het die vakansie verleng en ons is nie terug Rand toe, voor ek nie gesond was nie.

Die les waarvoor ek duur betaal het, hou verband met my Kerspresente.

Voor ek siek geword en in die donker siekekamer afgesonder is, het ons gesin in ons karavaan wat langs die huis getrek was, geslaap – daar was ander familie en vriende ook op die plaas saamgetrek, 'n fees van kleuters en kleintjies my ouderdom.

Wat ek daardie jaar vir Kersfees gekry het, kan ek nie onthou nie. Ek weet wel dat my ma dit, nog nie toegedraai nie, op die boonste bed in die karavaan onder haar kniekombersie met blou en groen blokkies weggesit het om toe te draai.

En sy het vir my gesê om die middag nie in die karavaan te gaan krap nie, my geskenk is uitgehaal en sy moet skêr en selotape in die huis kry, om dit nog toe te draai.

Sy het natuurlik nie gesê dat dit op die boonste bed onder die blokkieskombers weggesteek is nie – dis bloot net waar klein Hansie sy geskenkpakkie opgespoor het, die oomblik toe die grootmense hul gatte in die een of ander rigting gedraai het.

Dit was net nie dieselfde nie.

Ek kan my voorstel dat ek baie hard gemaak het of ek verras was toe ek uiteindelik daardie aand die pakkie kry, tien teen een té hard, want ek onthou soos gister dat my ma en pa my daardie aand aangepraat het en gevra het of ek nou my les geleer het om nie doelbewus 'n geskenk se verrassing te bederf deur vooraf te loer nie.

En ek het, baie deeglik.

Dis nou veertig jaar later en nog nooit weer, al is die geleentheid daar – soos vanjaar weer met die feit dat ek presies weet waar Annieka my pakkie wegsteek – het ek aan die versoeking toegegee nie. Ek wil amper so ver gaan om te sê dat die geleentheid nie eers meer enige versoeking vir my inhou nie = vir veertig jaar nou al nie meer nie. In Afrikaans sê ons geleentheid gee geneentheid; maar dis geensins waar wat Hans, met die baie en groot dele Klein Hansie wat nog in opgesluit is, betref nie.

Omdat ons die karavaan eintlik net slaapkamer was – ons het in die huis, op die stoep, op die werf en langs die rivier gekuier – is die tent natuurlik nie opgeslaan nie; dit was net die karavaan met sy afdakkie van seil wat voor aangeheg was. Onder hierdie afdakkie of “stoepie” is twee kampeerstoele en 'n klein opvoutafeltjie staangemaak.

En op daardie opvoutafeltjie het daardie jaar, vir die eerste keer, uitgepak gestaan, die einste klein Kersboompie waarna ek nou kyk as ek my oë van die skerm en toetse op die sleutelbord lig.

Oor ons nooit 'n Kersfees by die huis deurgebring het nie – ek onthou letterlik nie 'n enkele Kersfees in my geboortehuis waar ons tot einde standerd 2 gebly het nie – en my ouers nie 'n Kersboomtradisie vir my as kind kon begin nie, het my ma daardie jaar begin om elke jaar 'n Kersboompie wat nie eers 'n liniaal se lengte hoog is nie, saam te neem in die karavaan.

Vir die boompie is ons al die pad Johannesburg toe, Jacoby’s toe. Jacoby’s – die naam sê vandag vir my dat dit 'n Joodse onderneming moes gewees het – was 'n lieflike geskenke- en breekwarewinkel waar ons elke jaar rondom Kersfees 'n draai gemaak het.

Eintlik was die winkel, met 'n stel trappe op, op die eerste vloer. Onder was 'n ander deel, miskien gans 'n ander besigheid, waar jy die lekkerste sjokolade, lekkergoed en ander lekkernye kon koop.

Hierdie jaar het ons dan ook nie net met die Kersfeesboombie teruggekom nie – my ma sou onder by die lekkergoed ook 'n draai gemaak het en vir die mense op die plaas 'n gekenkeboks sjokolade (dit was nog die jare van sjokoladebokse met die mooiste chocolate box-prentjies van hondjies of katjies of buitelandse natuurtonele op) of geskenkeblik pepermente of humbugs gekoop het.

En ek het sedertdien nog nooit 'n enkele Kersfees sonder daardie Kersboompie gehad nie.

Dis 'n music box-Kersboompie (ek is somehow te min van 'n taalpuris om van 'n speeldoos-/musiekdoos-Kersboom te praat) daarby, en wen jy hom op, dan vermaak hy jou met Jingle Bells.

Dit het my as kind baie keer, baie lank besig gehou – en daardie deel van kindwees wat deur dié boompie en sy klank vermaak kon word, het ek veertig jaar later, gelukkig, steeds nie afgesterf nie.

Maar ek is 40 jaar ouer en my belewenis van die boompie het baie verander – dis nou al jare dat hy saam met die vreugde ook die lekkerste, warmste trane saam met die lekkerste, warmste, mooiste herinneringe bring.

Saam met die kindwees wat ek nie afgesterf het, bring die boompie ook alles wat afgesterf het, alles wat ek afgesterf het, alles wat my afgesterf het, alles wat ek afgesterf het maar ook nie volledig afgesterf het of wil afsterf nie, alles wat my afgesterf het maar ek nie afgestorwe van wil wees nie, terug. En in 40 jaar is dit vir 'n nostalgiese melankool soos ek, nogal baie.

Nee, daar is natuurlik nie 'n persoonsnaam soos melankool/melanchool nie, maar ek kan nie aan 'n beter een dink om my te beskryf nie. Ek hou ook van die kontaminasie van mankoliek en melankolies om melankoliek te vorm – ag, ek is vandag sommer net skoon melankoliek.

Ander jare is ek vroeg om die boompie uit te bring – sitkamer toe, eetkamer toe, of sommer op die kassie langs my bed.

Ek is ook nie haastig om hom te bêre nie.

Verlede jaar moes ek hom 'n facelift, 'n revamp en amperse total makeover gee.

Vanjaar het ek moes wag tot ek sterk genoeg gevoel het om hom uit te bring. Ek het hom lankal uit die kas gehaal, hy het vir my gestaan en kyk vir seker twee weke, maar ek moes krag kry om hom en die lieflike gedagtes en herinneringe wat hy bring af te kan stof.

Gister het ek besef, as ek moet wag tot ek die innerlike krag en sterkte daarvoor het, gaan ek nie vanjaar, vir die eerste keer in veertig jaar, Kersfees saam met my boompie hê nie – en daarvoor sien ek ook nie kans nie. So toe kry ek dit gisteraand in 'n gemoedelike tydjie saam met Annieka in plek.

Ek het nog nie kans gesien nie om hom op te wen en uit luister nie.

Maar dan hoef ek ook nie – Rome is nie in een dag gebou nie.

Ek weet in elk geval hoe hy klink.

En op Lief-klein Klaradyn kan altyd gereken word – sy sal hom wel iewers tussen nou en oppaktyd vir ons aan die speel kry, dan blink ons altwee se oë alte lekker – op twee verskillende en trouens wyduiteenlopende maniere.

22.12.11

Los gedagtes opgebind, toegebind en afgebind


Annieka en Klaradyn totter vanmiddag met die Kersboom en Klaradyn verwoord met effense ongedurigheid 'n ietsie wat haar opreg pla, 'n effense ongelukkigheid, iets wat krap:  “Die Kersboom was nog nooit so kort nie, wat het dan nou skielik met hom gebeur?”

As jy vir my gesê het dat so iets moontlik is, het ek jou nie geglo nie. As jy my dit vir die waarheid oorvertel het, sou ek dit miskien nie hardop gesê het nie, maar ek sou beslis gedink het dat jy lieg.

En hier, vanmiddag, kom dit uit my eie kind se mond!

Ek is onmiddellik na my kindertyd verplaas en in die gedagtes 1969 toe, Bee Gees toe:

When I was small and Christmas trees were tall
We used to love while others used to play
Don't ask me why, but time has passed us by
Someone else moved in from far away

Now we are tall and Christmas trees are small
And you don't ask the time of day
But you and I, our love will never die
But guess we'll cry come first of May

The apple tree that grew for you and me
I watched the apples falling one by one
And I recall the moment of them all
The day I kissed your cheek and you were gone

Now we are tall and Christmas trees are small
And you don't ask the time of day
But you and I, our love will never die
But guess we'll cry come first of May

When I was small and Christmas trees were tall
Do, do, do, do, do, do, do, do, do
Don't ask me why, but time has passed us by
Someone else moved in from far away.

Ek soek nou al jare na 'n gedig van Stephan Bouwer wat ek in 1984 of ’85 laas gehoor het. Dit verwoord iets soortgelyks, op 'n eie oorspronklike manier die dilemma van dit wat Klaradyn verwoord het, iets wat die Bee Gees ook destyds aangeraak het.

Die gedig, wat nie in een van Bouwer se twee bundels opgeneem is nie, maar iewers in 'n Tydskrif vir Letterkunde, of iets soortgelyks, verskyn het, het die titel:  Weer op Ouma Pollie se plaas. Die stem in die gedig spandeer weer 'n Kersfees op sy Ouma Pollie se plaas. Elke strofe sluit af met die woorde:  Kersfees is nie meer dieselfde nie. In die slotstrofe kom die stem egter tot insig, en verbreek die patroon van die vorige strofes met 'n veelseggende variasie:  Kersfees, én ek, is nie meer dieselfde nie.

Dit is 'n gedig wat ek graag oor my leerders se pad wil bring, maar verniet of ek dit kan opspoor.

Ek google gereeld, soos vanaand weer die grepe uit die teks wat ek onthou, maar verniet, geen mens wil dit plaas nie.

In my internet-speurtogte na die gedig het ek selfs al uitgevind dat dit einste Stephan Bouwer was wat in die tagtiger jare, en hoe baie keer het ek nie daar verby gery nie, teen 'n muur teenoor die destydse SAUK die volgende bekende graffiti aangebring het:  Hezkiël 2:13: God weet, so kan dit nie aangaan nie!

Daar is trouens min wat ek jou nie van Stephan Bouwer kan vertel nie – ek het byvoorbeeld in 'n stadium Afrikaans gegee in dieselfde klas waar hy in matriek Afrikaans gekry het – maar presies hoe hy sy grootword en die krimp van Kersbome in sy gedig oor Ouma Pollie se plaas, verwoord het, kan ek jou nie sê nie.

En kyk waar loop my gedagtes nie met my nie! Ek was laas by my kind wat onder my oë, en die honderde klippe wat ons al op haar kop geplaas het om dit te keer, groot word.

Nadat my oë wou-wou trane begin skiet (sommer oor my kind groot word, oor die tyd van die jaar, oor alles en alles wat hierdie jaar gebeur het, oor Kersbome ook eentyd vir my groot was) sit ek toe dadelik af om te kyk of ek nie oor die internet 'n opname van die liedjie waarvan ek Klaradyn sopas met groot opgewondenheid vertel het, kan opspoor nie.

Dit het die rekenaar 0.26 van 'n sekonde geneem om my te oortuig dat ek wel iets vir Klaradyn sal kry om na te luister, ongeveer 121 000 om presies te wees.

Die treffer is wat my betref klassiek – Klaradyn se reaksie het van die melodie se tydloosheid getuig. Sy het summier daarvan gehou.

Ek onthou ook dat ek van die deuntjie gehou het, lank voordat ek die vaagste idee gehad het waaroor die liriek gaan.

En dan is ek iemand wat nie sterk gefokus op enige liriek nie – ek het op universiteit nog steeds nie geweet waaroor die liedjie gaan nie, ek het, om die waarheid te sê, vandag eers agter die kap van die liedjie se byl gekom, toe ek twee karaoke-video’s op Youtube opspoor en ek en Klaradyn dit met oorgawe saam begin sing.

(Sy klim pens en pootjies op my skoot en sê verskonend:  “Ek kan nou maar een maal nie van 'n mens se skoot afbly nie, jammer Pappa. En ek wens stilweg die Kersbome wil reusagtig groot bly.)

Ons kyk en luister seker na drie Bee Gee-opnames van die liedjie. Die interessantste was om die broers dit in 1969 te sien sing, en dan weer dertig jaar later, tydens 'n opname wat hier in Suid-Afrika gemaak is.

Die klanke (en beelde by 'n video-opname) spreek toe so tot my kind, dat sy self skoon bewoë raak.

Wat is dit, so al asof die oë se wassers hierdie tyd van die jaar uitgewerk is.

Ons ry vanmiddag verkeerd en moet verby die ouetehuis waar ek my ma gegroet het verby ry.

En niemand kom iets agter nie, dis nou tot Engelbert Humperdinck oor die motorradio, asof vooraf bestem en met onnabootsbare tydsberekening, Blue Spanish eyes, (Judy se gunsteling, naas Somewhere my Love, uit Dr. Chivago) begin sing.

Dit laat my opnuut wens dat ek nog uit die dae toe Kersfeesbome so groot soos lewensgetroue en –grootte dennebome was, die gedagtebeeld van afgestorwenes wat van bo uit die hemel op ons neerkyk, kon huisves. Die vertroostende kinderbeeld wat ek gehad het van die dooies wat van bo op ons afkyk, byvoorbeeld Judy wat liefdevol oor my toesig hou en, belangrikste van alles, steeds van my liefde en ons almal se gemis aan haar bewus is, bring helaas nie meer troos nie, ek sukkels selfs om dit in die geestesoog op te roep.

Maar dis hoe my pa, na sy dood destyds, op my afgekyk het.

En ek het daarin troos gevind.

Maar toe het ek gewonder of my pa eendag by ons, my, my ma en my broer en ons gesinne gaan aansluit, en of hy by sy eerste vrou in die koor gaan inval.

Toe het ek ook dieselfde oor my ma gewonder – in die hemel luier (en kuier) sy dalk saam met haar eerste man.

Hierna, nog voor die patertjies my ander dinge in die kop kon praat, het ek besef dat ek nie hoef te worry nie – my pa sal die hemelpoorte, as alles wat hulle te vertelle het, waar is, nooit sien nie.

En as my ma aanhou soos sy aanhou, sal sy ook nooit by Petrus met die sleutel ingenooi en verwelkom word nie.

Tog sou dit vir my lieflik wees as sy vanuit die hemel wat ons as kind iewers daar bo, ver, gesien het, stille getuie kon wees van die entjie pad wat ons vandag verby haar sterfhuis gery het.

Dit sou vir my soveel lekkerder gewees het as die spieël waardeur ons nou kyk, die een waarvan Paulus die Korintiërs vertel het, effens minder dof was.

Die gedig wat ek graag met leerders deel wat hierby aanklank vind, ken ek so goed, dat ek dit uit die kop kan opsê (maar my kommas en hoofletters val dalk op ander plekke as waar Lina Spies dit oorspronklik had):

Die kind en die wolf

God was in die begin ‘n wegkruipplek:
tasbaar soos die beertjie in my arms,
naby en seker soos die baksteenmuur
en ek die wyse varkie klein en veilig binne
terwyl die wolf vergeefs sy asem
deur die skoorsteen blaas.

Maar later was my huis van klei en
eindelik heeltemal van strooi:
die mense met hul ou gesigte
het ges
ê daar is geen wolf nie
en kinders wat aan wolwe glo,
is nie vir Jesus lief nie.

En nou, Here, het ek wys geword soos hulle
en in die donker is ek nooit meer bang nie.
Laat tog die wolf weer deur die skoorsteen blaas.

Ek kyk vandag met ander oë na die gedig, as toe ek 'n kind was en die gedig tóé reeds tot my gespreek het.

Gedagtes in die gedig verwoord, gedagtes uit een van haar eerste digbundels (indien nie haar eerste digbundel nie – maar ek is nie 'n kenner nie) is steeds in haar latere (en miskien selfs laaste, tot op datum) digbundels.

Die ander gedagte van vandag wat moet uitkom, terwyl ek dit dan nou so oor gedigte en lirieke het, hou dan verband met 'n baie ou volksliedjie:

Saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen!
My mamma roei die skuitjie,
my pappa blaas die fluitjie,
my boetie draai die orreltjie,
saai die waatlemoen!

Almal het seker nie 'n ding met 'n waatlemoen nie, maar ek het.

En uit wat Klaradyn vandag kwytgeraak het, en die manier waarop sy dit kwytgeraak het, vermoed ek sy gaan ook eendag 'n ding met 'n waatlemoen hê, as sy dit nie reeds lankal het nie.

Dis seker nou al drie jaar, as dit nie vier is nie, dat sy, elke keer as sy dit in die winkels begin gewaar, vra dat ons weer waatlemoen sal koop. In die begin kons sy nie eers die woord van die vorige jaar toe dit in die winkels was, onthou nie; dan vra sy bloot of ons dan nie maar weer een van daai (dan wys sy na die waatlemoen) kan kry nie.

Baie dinge vul met my met nostalgie, maar min dinge doen dit so goed soos 'n waatlemoen.

'n Waatlemoen hou vir my die lekkerste kindertydherinneringe in.

'n Waatlemoen sê vir my dit gaan goed, Pa, en ooms soos Oom Giel, die NG-kerk en die Nasionale Party, Pretoria, is in beheer. (Ek sê weer, kindertydherinneringe, uit en deur die oë van 'n kind.)

Wat Nagmaal, brood en wyn, vir party doen om die Christus-gesin te bind, doen die deel en sny van 'n waatlemoen vir my, om vriende, familie en 'n gesin te bind.

Ons het waatlemoen op Sondagagtermiddag aangesny. By die huis as ons vriende oor had, by Ma-hulle se vriende op Pretoria, by die familie op Brits op die plaas, by my peetouers op hulle plaas buite Bultfontein.

Dis op hoogsomer Sondagagtermiddae, wanneer jy nie na ete kon gaan slaap het nie (daar is mense wat kom kuier het, of ons is die mense wat kom kuier het) lank na etenstyd, as die kos al gaan lê, net voor vertrek, gesny.

En soos wat die man van die huis die voorsnywerk met die skaapboud of die hoender, tydens die middagmaal gedoen het, doen hy ook nou die voorsnywerk met die waatlemoen. Dis hoe dit hoort.

Vriend Riaan het later jare gesê dat ons 'n speenvarkie gaan slag, as ons by hulle kuier en die tyd van die Sondagmiddag waarop ons oorbeweeg na die ritueel van die waatlemoen het aangebreek.

En nou is daar mos twee maniere van 'n waatlemoen sny: in ringe wat halwe sirkels word, en almal kry van alles; of in halfmaanskywe (vir die kinders) met die grootmense wat die kroon kry.

Vandag noem ek laasgenoemde manier, die manier van die ooms, van my pa, die NG-kerk en die Nasionale Party.

Dit was ongelukkig die manier waarop 'n waatlemoen destyds gesny is.

Dis by my beginselsaak om dit nie so te doen nie.

Daardie jare het kinders altyd laaste kos gekry, behalwe as dit by waatlemoen gekom het – dan moes ons eerste in die tou kom val om die tweederangse skywe uit die pad te kry sodat die grootmense (as daar min was), die mans (as daar baie mense was) die stroopsoet kroon met sy lieflike tekstuur kon kry. Dis nou ons, en die wat soos ons was:  die swartes, die van ander politieke partye en kerkverbande, die andersdenkendes en sommer enige een wat nie reg in die regte boksie gepas het nie.

Ek koop hoogstens een keer 'n jaar 'n hele waatlemoen – ons is net nie meer so gereeld soveel mense saam dat meer as 'n helfte nie terug yskas toe moet gaan nie.

Vanmiddag het ek met 'n kwart by die huis aangekom.

Toe ons klaar ge-oe en ge-aa het (“dis die lekkerste waatlemoen nog hierdie seisoen” komende van my én Klaradyn – en dit terwyl dit ons eerste waatlemoen vir die seisoen was) vra Klaradyn wanneer ek dan nou weer 'n hele waatlemoen gaan koop.

Nee, blyk dit op navraag, sy wil weer waatlemoen hê wat sulke halfmaanskywe gesny word.

En toe kry ek lag – ons is nooit so baie om ons waatlemoen nie – en ek weet my kind wat kleintyd (anders as ek wat moes wag tot ek al geskeer het) al geproe het hoe proe 'n waatlemoen se kroon, het hierdie versoek na halfmaanskywe, suiwer om ook die stukkie kroon, wat agterbly as die skyf uitgebreek word, te kry.

En saam met die binneste lag, toe ook weer die binnetoe huil: my ma en Oom Jack het waatlemoen tog so geniet, in die ou huis, die nuwe huis, die ouetehuis en later selfs die Altzheimer-versorginsgeenheid waarnatoe ek vir my ma stukkies waatlemoen aangedra het en haar gevoer het.

Soos hulle opgewonde kon raak oor 'n skyfie Kerskoek, hierdie tyd van die jaar, presies so, het hulle opgewonde geraak oor 'n stukkie koue waatlemoen.

Ek onthou nog toe my ma nie omgegee het om waatlemoenpitte te eet nie.

Ek onthou toe sy begin het om dit versigtig, een vir een, uit te krap. Soos ook Oom Jack.

En dan onthou ek ook die dae wat ek dit vir haar gedoen het.

Soos ek sê, sommer oor my kind groot word, oor die tyd van die jaar, oor alles en alles wat hierdie jaar gebeur het, oor Kersbome ook eentyd vir my groot was. Oor die NG- en NP-afkortings wat genadiglik nie meer in beheer is nie. Oor waatlemoen en oor Kersfeeskoek ook.

Naskrif: 

Ek weet ek het al oor waatlemoen en hoe ek daaroor voel gesels. Ek kon amper nie glo hoe ek dit meer as 'n jaar gelede verwoord het, toe ek dit weer opgespoor het nie. Ek het my gedagtes van destyds summier onder Tweedepouse gaan spoeg en plak. Lees gerus hier.