Pages

20.12.11

Bietjie baie bogtery


Elke kraai dink mos nou maar eenmaal dat sy eier die witste is.

Maande, soos in maande gelede, ek kan nie meer onthou hoekom nie, vertel ek vir Klaradyn wat die woord verguldbeteken. Ek verduidelik dat dit van goudaf kom, dat die geldeenheid gulden was en bla-bla-bla. Ek vind aansluiting by twee pare skoene wat sy rondom 18 maande gedra het wat ons, nie verguld het nie, maar verbrons het, en wys haar ook iets van haar ouma wat versilwer is.

Gister hardloop sy rond en vertel sy gaan haar geldjie verwas. Die nuutskepping van haar val my op. Ook vir haar ma. Maar toe ek sien wat sy doen, toe weet ek waar sy, maande na ons gesprek van destyds, aan die woord kom. Ek het potjies met kerswas in kookwater gegooi. Van die gesmelte was het bo op die water gaan dryf, en steek jy jou vinger (darem toe al effe afgekoel) in die water, dan bly daar 'n dun warm waslagie op jou vinger agter, 'n waslagie wat natuurlik dadelik verhard. Klaradyn is toe besig om talle goedjies van hierdie waslagie te voorsien – en gedagtig aan wat jy doen as jy iets verguld, verbrons of versilwer, dan is dit tog duidelik dat sy besig is om iets te verwas.

Sy het in haar leeftyd miskien drie keer Bernoldus Niemand se “Snor City” gehoor:

Dagsê liewe mense, ek is vandag jou gids, in Pretoria,
Ons is op soek vir net een skoon bolip, in Pretoria
Want dit is die stad met geen bolip glad dis Pretoria.

Bernoldus se opname het ek net op plaat, maar Johannes Kerkorrel het dit ook opgeneem, en dis via hom dat sy kontak met die liedjie gemaak het.

En terwyl ons gister Pretoria se strate op die maat van Anneli van Rooyen invaar sodat sy vir Mamma 'n Kerspakkie kan kies, laat val sy skielik dat Oom Johannes Kerkorrel nou maar Pretoria toe kan kom, hy sal 'n skoon bolip kry.

Ek het my baard gisteroggend vir die eerste keer in seker meer as 15 jaar afgeskeer.

Ek het vir lank gespot dat ek lus het om my baard af te skeer, maar nie kan waag om dit te doen nie, want netnou herken my dierbare ou moedertjie my nie as ek daar by haar instap nie.

Sy sou my natuurlik herken het, maar die moontlikheid was tog daar dat dit die bietjie brein wat sy teen die einde, te wyte aan Altzheimer se aftakelende siekte, oor had, net sou kon verwar het – en dit wou ek nie doen nie.

Toe die vrou ons ontval, was die laaste ding waaraan ek kon dink nou om my dreigement van 'n skoon ken en bolip uit te voer.

Toe dog ek hierdie vakansie (ons het 'n lang vakansie – so ek sal 'n ietsie weer in plek kan hê teen die tyd wat die skool weer begin) sal die ideale geleentheid wees om die verbasing op Klaradyn se gesig waar te neem as sy vir die eerste keer in haar lewe sien hoe haar pa sonder sy baard lyk.

Sy is Sondagaand na Oupa-hulle om daar oor te slaap. Ons is daar weg met my laaste woorde: “Ek sal opwag langs die foon – die oomblik as jy my wil bel om jou te kom haal omdat jy nie meer lekker kuier nie, moet jy net vir Ouma vra, dan bel jy my gou, en dan kom red ek jou.”

Daar het natuurlik niks van gekom nie.

En Maandagoggend, in die bad, toe besluit ek om die kind te verras.

Ek wou nie regtig nie. En ek wou regtig.

Dis soos om met 'n shatterproof-liniaal te speel. My generasie het die koms van shatterproof-liniale gesien. Vir eers het jy net bros plastiek liniale gekry wat baie gou gebreek het. En toe kom die wonder van die nuwe shatterproof– jy kon met hom speel, jy kon hom vou en buig en 'n amperse snaarinstrument van hom maak as jy hom met sy een helfte op die tafel vashou, en hard tik aan die ander helfte wat oor die tafelblad uitgesteek het. Die houttafel het dan soos 'n kitaar se klankkas gewerk en tril- en vibreergeluide die lug ingestuur.

Maar ook net tot op 'n punt. Dan hét die liniaal gebreek.

En so het ons dan nou al te onverskillig met hierdie goed gespeel om te kyk tot waar ons dit kan vat. En dan was ons elke keer vreeslik spyt as ons dit daardie knertsie te ver gevat het, en die ding eindig skielik stukkend in ons hande op.

So het ek toe ook in die bad gesit en net begin om my baard te trim en in 'n nuwe vorm in te kry –in 'n stadium had ek amper iets soos 'n bokkerige Jan Smuts-baardjie.

Maar toe “gly” my hand – en die snor moes af.

En kort voor lank was dit 'n uitgemaakte saak: die strepie wat nou hier oor my ken lê, kan lankal nie meer deurgaan as 'n baard nie. Toe groet ek dit ook maar.

Ek het destyds die baard gegroei omdat ek 'n dubbelken had wat ek wou verbloem.

Ek kan amptelik aankondig dat ek 15 jaar later nie meer 'n dubbelken het nie.

Daar hang nou drie of vier kenne, wat herinner aan die lelle van 'n kalkoen, teen my onderkaak af.

Maar erger as dit, is wat met my wange gebeur het – hulle het uitgesak en ek herinner eerder aan 'n boerboelerige Winston Churchill as 'n Griekse god met 'n blokkies ken.

Hierdie uitgesakte wange was 'n verrassing. Dis 'n sterk familietrek van my ma se kant. Uiteindelik kan 'n mens sien dat ek en my broer, wat 16 jaar ouer as ek is, inderdaad broers is. Sy wange het begin ontspan, en dis duidelik dat myne ook nie meer die stamina het om bo te bly nie – my baard het dit bloot net die laaste klompie jare weggesteek.

Annieka wat my nog net een keer, en vir 'n baie kort rukkie, selfs nog voor ons begin uitgaan het, sonder baard gesien het, is natuurlik geensins opgetrek met die kale kaak en ken nie – dis soos om met 'n vreemde man langs jou in die bed wakker te word.

Ek reken nou weer dat sy nou weet hoe dit van tyd tot tyd vir my moet voel om saans saam met 'n vreemde vrou in die bed te klim – vrouens kry mos soms die gier om iets aan hul hare se kleur, en hul kapsel se styl te doen. Dis elke keer vir my 'n skok op my gestel. Nou kry sy bloot net 'n bietjie van haar eie medisyne.

Die skoonouers wil spottenderwys weet of ek deur 'n middeljarekrisis of identiteitskrisis gaan.

Maar dit was die moeite werd.

Ek het Klaradyn by Ouma-hulle in die hoofslaapkamer vasgenael voor die televisie opgespoor.

Sy het vlugtig gegroet en toe weer dadelik op die televisie gefokus.

En toe iets vreemd geregistreer en vir 'n tweede keer moes kyk – 'n perfekte double take wat die beste komedieakteur haar dit nie na sal kan doen nie.

Behalwe om Bernoldus se liedjie oor die gebrek aan skoon bolippe in Pretoria in die herinnering te roep, is al wat sy kort-kort, tot laat gistermiddag nog, kwytraak: “Ek kan nie glo dat Pappa dit toe regtig gedoen het nie.”

Dit was lekker. Maar dis nou verby.

Ek het aan die agterkant van die ry gestaan toe haargroei-hormone uitgedeel is; op my kop, arms en bene sit ek met die sagste, dunste babadonsies denkbaar, en op my gesig kan ek nie eers 'n volbaard oorweeg nie – dit word al hoe yler hier na my ore toe – ek sou nooit met 'n lieflike stel lamb’s tjops bakkebaarde kon spog nie.

As dit van my afgehang het, het ek nooit in my lewe geskeer nie, maar oor ek net met sulke opslag-kolletjies hier teen die wange bene op sit, moet ek daar skeer.

Maar tussen nou en wanneer die skole begin, gaan ek met 'n lieflike vuil gevreet bly sit.

Te lekker.





Ek sou wou uitwei oor hoeke sterk opinies my kind het, kom dit by die keuse van 'n Kersgeskenk vir Mamma, ek sou wou vertel van die lieflike dag wat ons gister rondom die aankoop van die present had, maar dis mos nou maar hoe dit met jou vrou is – die dag as jy wil hê sy moet jou aanlyn dagboek lees, dan kom sy in geen weke daarby uit nie; die oomblik wat jy wil dat sy nie 'n oog gooi nie, trek sy 'n beker koffie nader en klim agter die rekenaarskerm in.

Snorcity se woorde kon ek hier opspoor.

James Phillips sing sy Bernoldus Niemand-liedjie op Youtube maar meer aanskoulik, omdat dit 'n hele video is, is Thys Nywerheid se opname, baie jare later, van die man se gespot met die Pretoria van 1986.

18.12.11

Sondag 18 Desember

'n Mens doen dit nie sommer nie, en as jy dit doen, bly jy tjoepstil daaroor.

Maar ek het dit nou gedoen, dit was heerlik, en dan is dit met my nou maar een maal hoe dit met my is: wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

Miskien moet ek hierdie uitdrukking eerder aanpas om my soos 'n handskoen te pas:  wat die maag van vol is, loop die mond van oor.

Ek maak miskien een keer 'n jaar 'n skaapboud gaar, en dit is om Kersdag koue skyfies skaapboud met korreltjies sout op te kan eet.

En toe breek die oond Saterdagaand.

Ek het hom op 220 grade aangehad om ons vis gaar te maak – sommer 'n boksie bevrore vis. Ek het vars spinasie en murgpampoentjies in die yskas gereed gehad, omdat ek uitgehonger is vir lekker kookkos. Maar toe beland ek Klaradyn agtermiddag in die swembad en swem so lekker dat ek hier teen sesuur uit die swembad vir Annieka in die huis roep om die oond op 220 grade stel, ons gaan vis eet, daar is nie 'n manier dat ek nou uit die swembad gaan klim om te kook nie.

Sy murmureer – ons het seker al drie keer vis gehad vandat ons Donderdag uit die Kaap hier aangekom het, en nou wil ek weer vis gaarmaak. Maar die vis is in en ek slaan gou vir ons 'n slaaitjie saam. Dis die allermooiste mengelslaai wat ek in 'n platterige bord uitpak – groen blare, groen en wit komkommer, spierwit soet skyfies uie, bloedrooi kersietamaties, liggroen avokado en die helderste, mooiste geelste, soeter as soetste geel soetrissie.

Maar toe ek die vis uit die oond kry om dit na 15 minute om te draai, is dit nie goudbruin gebak soos ek verwag nie. Ek draai dit maar om en plaas dit terug vir die laaste 5 minute.

Ons kom dan toe ook 5 minute later agter dat die oond dood soos 'n mossie is. Ek dog eers dit het iets met die sekerings te doen, ek verwissel die goed, maar die oond bly dood. ('n Sekering, vir die van ons wat dit vergeet het, of nog nooit geweet het nie, is die eintlike Afrikaanse naam vir fuse.)

Ek maak my partykeer skuldig aan sulke goed. Soos vandag in die winkel toe ek Klaradyn vra om op die uitkyk te wees vir die kruisementsous. 'n Wildvreemde vrou wys toe daarna op die rak en sê dat ek seker die mint jelly bedoel en dat sy dit ook nie as kruisementsous op sal kan spoor nie.

Want ja, selfs 'n stukkende oond kon my nie van stryk bring nie – terwyl ek gisteraand ons vissie in 'n pan gaar kry (wat Annieka, wat nooit met die oond werk nie en my al moes bel om te vra hoe om die ding aan te kry, met die oond gedoen het, hoe sy hom aan, en toe weer af, gekry het, weet ek nie, en wil ek ook nie weet nie) noem ek dat ons dan maar skaapboud buite in die braaier gaar gaan kry. Kom wat wil, breek wat wil, skaapboud gaan ons eet.

En ook nie my skuld nie, my broer en skoonsus se skuld. Ek en Boeta is een laat agtermiddag winkels toe en met twee lamsboude in die hand terug huis toe. Hy en sy vrou is meesterkokke en ons aandete daardie aand het my inspireer om sommer net vir sommer, in plaas van 'n spesiale geleentheid, lamsboud gaar te maak.

Ek het geweet ons kan nie Sondagaand gesinsete hê nie, want Klaarskind gaan by Ouma-hulle oorslaap. So toe Annieka geluide maak van strate toe gaan, toe hou ek my doof. Foeter ons eers saam met haar winkels toe, kom ons nooit betyds terug om kos te kan maak nie.

Sy is toe ook skaars hier weg, toe spring Pappa en Klaars in die ander motor en gaan koop kos.

Ek onthou dat my pa 'n hele skaap vir R20-00 gekoop het.

Daar is ek toe nou vanoggend uit en betaal meer as 11 maal daardie R20-00 van destyds, en dit net vir 'n lammetjie boudjie.

Maar ek doen dit met 'n oop gemoed, dit gebeur nie aldag en heeldag nie.

Daarmee saam sit ek ongeskilde aartappeltjies en die lekkerste maar lekkerste salotte wat Woolworths volgens die sakkie al die pad van Frankryk die land ingebring het.

By die spinasie het ek net fetakaas in klein blokkies ingesit – Klaradyn se spinasie was skelmpies uit die bord opgeëet nog voor ek my bord kos opgeskep had.

As murgpampoentjies nie bedoel was om murgsag bedien te word nie, sou hulle dit nie murgpampoentjies nie, maar iets soos knars- of kraakpampoentjies genoem het. Ons s'n was murgsag sonder om papsag te wees. Daarby het ek 'n baie ligte witsousie gemaak – geen kaas, net vetvrye melk en poeier wat Ina Paarman en haar span saamgeslaan het.

Met die lamsboud wat nog net 15 minute moet gaan, en daarby die bietjie rustyd en asemskep wat die ding gegun moet word, begin my gewete my pla dat ons al hierdie kos vir net ons drie gemaak het. Maar dis ook nou al oor 12:00 op 'n Sondagmiddag. Ons bel, maar almal antwoord vanuit ander provinsies. Skoonpa-hulle, wat om die draai inkopies doen, het ongelukkig pas van die ontbyttafel opgestaan en wys die uitnodiging ook van die hand.

Met die dat die gasbraaier na die boudjie kon omsien, en nie ek nie, het ek en Klaradyn ons gebesig met dit wat Klaradyn as “'n aktiwiteit” aan haar Ma beskryf het. Ons het neffens die braaier begin met 'n verwerasie maar opgeëindig met 'n morserige beeldhousessie van lieflik boetseerbare sagte kerswas.

Mamma het die limiet wat die bank op een dag se gelduitgee plaas, spoedig bereik en haar by ons aangesluit. En toe “wees” of “is” ons ou gesinnetjie net lekker saam tot opskeptyd.

Dit was een van daardie tydjies onder lapa wat Annieka my sal bederf met die lieflike woorde soos:  “Ek is lief vir jou my man.” Een van daardie dae wat ons net weer eens en opnuut besef dat daar niks so lekker soos 'n vakansie by ons huis, hierdie tyd van die jaar, in Pretoria, is nie.

Ander tye vat ek graag die pad, maar nie Desember nie.

Kookkos in die somer onder die lapa is lekker as jy dit geensins stomend warm bedien nie – en dis wat ons gedoen het, teen kamertemperatuur, of dan nou eerder Pretoria-se-hoogsomer-Desembermaand-lapa-temperatuur.

Gewoonlik is ek gaande oor kruisement – ek het die jellie gehad én 'n sousie van vars kruisement saamgeslaan. Maar hierdie boudjie van ons het so geurig uit die Jetmaster-gasbraaier gekom dat ek nie eers haastig was om die kruisement nader te trek nie.

Klaradyn het naas haar groente ook die salotuie geniet, en selfs Annieka het 'n tweede porsie daarvan met die woorde jy weet ek doen nie juis uie nie maar gee tog maar daar vir my nog 'n skeppie asseblief, aangevra.

Ek weet 'n mens maak nie sommer 'n lamsboud vir twee en 'n halwe volwassenes gaar nie, maar ek het dit gedoen, en ek sal dit weer doen.

Poeding moes natuurlik wag vir later, baie later – na 'n middagslapie en langer as 'n uur en 'n half se balpret en speletjies in die swembad:  daar is darem maar onder hierdie son niks so lekker soos 'n lekker spanspek nie. Saam met dit was daar prima lietsjies en 'n net-so-prima veselperske.

Dis 'n voorreg en lankal nie meer 'n reg van almal om sulke lekker gesinstyd en kos te kan geniet.

Geleenthede en dae soos hierdie maak my dankbaar.

Wat die maag, maar veral die hart, van vol is, mag die mond maar van oorloop.

'n Vakansie is daar om in te werk

Iewers, ek weet nie wanneer, waar of hoe nie, het hase ter sprake gekom.

Miskien was dit iewers in Januarie toe ons die kat moes weggee omdat Klaradyn se allergiese reaksie op die dierbare dierasie haar hele menswees negatief affekteer het, haar wakker, haar slaap, haar speel en haar skoolwerk.

My gesonde verstand sê vir my 'n kind wat allergies op katte reageer, tien teen een ook allergies op konyne gaan reageer.

Maar ek is bereid om dit te probeer.

Ek sou hoenders, eende, makoue, poue en 'n swaan of twee ook op die werf wou hê.

En as hase blyk om 'n nee-nee te wees, sal ek hierdie ander groterige knaagdiere ook probeer – marmotte.

Al wat ek ooit gehad het was 'n foksterriër en twee Indiese ringnekparakiete.

Annieka het 'n hele ark (met uitsondering van miskien rotte en muise, verbeel ek my) gehad.

Klaradyn moet dieselfde as haar Ma kan geniet. (En alles wat haar pa nie kon geniet nie – en nog meer.) Dit terwyl sy nou vanuit die staanspoor op katte uit moet mis!

Daar was die vakansie op die een of ander televisiekanaal wat op diere fokus, 'n insetsel oor 'n haarlose kat. Hierdie program het die kind wys gemaak dat mense met 'n allergiese reaksie op katte minder sensitief vir hierdie katte is.

Ek het gaan loer en miskien is my teorie oor 'n reaksie op konyne wat soortgelyk aan die van katte gaan wees, verkeerd. Dit blyk dat die mens nie 'n reaksie op die fisiese haar het nie, maar 'n ensiem wat op die haar agterbly as die kat hom- of haarself skoongelek het dit word op die haar droog en val as vlokkie af, of saam met die haar as die kat sy hare verloor.

Die Siberiese kat, ten spyte van 'n digte pels, soos ook die Balinese ras, het lae vlakke van hierdie ensiem. Ander rasse, soos die Rexe, het weer korter hare – met minder vlokkies wat gedroog agterbly. Dan is daar ook die, soos die Orientals en Javaanse katte, met langer hare, maar soveel minder daarvan, dié sonder 'n dubbellaag pels, dat die probleem van 'n allergiese reaksie aansienlik krimp. En dan die haarlose Sphynx.

Maar sodra 'n kat se ras 'n naam aan hom gekoppel het en nie in 'n boks onder 'n snelwegoorbrug opgetel word nie, kos hy die helfte van my maand se salaris. Die helfte wat ek bereid is om te betaal, al kan ek dit nie bekostig nie, omdat 'n kat in die huis vir my 'n onnoembare waardetoevoeging tot enige huis en lewenstyl is, omdat Annieka 'n kat mis, en omdat Klaradyn 'n kat so vreeslik mis.

Ek het nou twee telers opgespoor wat ons genooi het om te kom kuier, dat ons kan sien hoe die kind reageer.

Die enkele teler van die Siberiese kat in Suid-Afrika sit egter in die Kaap.

Ons sal maar sien.

Maar intussen is dit ons en die hase.

Iewers, ek sê dit weer, het dit gekom dat Pappa die einde van die jaar 'n haashok sal bou. Dit het sommer net deel van die gegewe geword – hoewel my vrou dit natuurlik nou ten sterkste ontken en te kenne wil gee ek is die een wat die gedagte inisieer het.

Ons het in 'n stadium wel 'n effense gedragsprobleempie opgetel, niks om oor huis toe te skryf nie, en ek het gereken vir wat moet die kind sommer net 'n haashok kry – sy kan mos vir die ding moet wérk. Dis toe dat ek die gedagte aan 'n wollerige knaagdier as wortel voor die neus gehou het – verbeter jou gedrag en jy kry die haashok (wat jy in elk geval sou kry, omdat ek nou al van Julie-maand moet hoor dat ek vir jou een gaan bou.)

Nou kyk, 'n hok sal ek bou – vir wat weet ek ook nie, konyne word deesdae as huisdiere aangehou soos katte – maar om 'n hok aan te lê, en dit net vir konyne, daarvoor sien ek nie kans nie! Die hok moet groot genoeg wees dat ek nie skuldig sal voel om 'n konyn of twee daarin te huisves nie, maar dit moet ook ruim genoeg wees om voëltjies in te hou.

Toe ons die vakansie op Knysna by World of Birds 'n draai maak, toe weet ek presies op welke wyse ek my hok aanmekaar gaan timmer. Om een teen R3 000 te koop, is buite die kwessie – ek sukkel eerder self 'n week lank en kry hom eiehandig teen R3 700 mankoliek op die been.

Die hok is halfpad gebou. Daar lê nog groot werk voor, maar ons is amper oor die hond se stert.

Hase sal sy kry.

Ons moet dan nou net wag tot Septembermaand wanneer Pappa miskien weer 'n geldjie het, dan sit hy vir hom 'n paar voëltjies ook in.

Dis nou as ons nie dan af ry Kaap toe om 'n ou Siberiese klein katjie op te gaan tel nie.

Maar dis nog lank, en my werk ver van klaar. Laat ek die mymer en speel met woorde laat en teruglim in die tuig.

16.12.11

Arm was ek gister, en nou is ek ryk, nou skatryk


En om te dink dat ek vanjaar my derde wynplaas sou kon gekoop het, as ek net die geld wat ek die laaste vyf of ses aan restaurantkos op Klaradyn gemors het, eerder vas belê en toe in eiendom omgesit het.

Die eerste keer toe  ek en Annieka met haar by 'n eetplek ingestap het, het ons met die uitstap vir mekaar gesê dat dit regtig 'n  vermorsing van geld is om vir haar iets te bestel – ons gaan in die toekoms beslis nie vir haar afsonderlik iets uit die kombuis aanvra nie.

Ons het dit die tweede en derde en vierde keer ook vir mekaar gesê.

En as ons dit nie vir mekaar gesê het nie, het ons dit vir onsself gesê.

So ook, vyf of ses jaar later, die tweede, derde en vierde keer die pasafgelope vakansie wat ons met haar by 'n eetplek ingestap het.

En tussenin?

Te veel keer om op te noem, óf om te onthou.

Die eerste keer is ons met haar Wimpy toe, die een in Hatfield.

Dit was vir my so 'n volwasse, verantwoordelike, grootmens-ding om te doen – jy neem jou kind saam met jou in 'n restourant in, jy bestel vir haar wat sy wil hê.

En omdat jy dit haat om kos te mors en dan maar eerder 'n asblik van jou maag maak, eet jy vyftien minute later die oorgrootte meerderheid van die kos waaraan sy nie geraak het nie, op; speel Mamma Russiese roulette met haar bloedsuikervlakke deur die groot glas sjokolademelkskommel, waaraan die kind skaars haar mond geslaan het, in haar slukpyp af te jaag.

Die eerste keer wat ons met haar gaan uiteet het, lank voordat sy self kon eet, was die dag waarop sy presies sewe weke oud was. O, dit was 'n mylpaal in onse lewens! Ons het die outydse, amper ouwêreldse nosie gehandhaaf dat 'n kind nie sy of haar voorkop of voet by die huis mag uitsit voor die eerste sewe weke nie verby is nie.

Dis met groot onwilligheid dat ons haar vir haar weeklikse nageboorte-ondersoeke na die tannie van die voorgeboortelike klasse geneem het. Toe dié vrou op vyf weke voorstel ons gaan trakteer onsself op 'n koppie koffie en koek in die een of ander winkelsentrum, kon ek en Annieka (veilig terug in die motor) nie uitgepraat raak oor hoe onverantwoordelik hierdie vrou is nie.

Die een of ander kultuur waarvan ek op die hoogste gesag verneem het, het die wonderlike gebruik om hul pasgebore babas vir die eerste 49 nie een keer met moederaarde kennis te laat maak nie. Vir die eerste 49 dae word die kind letterlik op die arms gedra – en dan nie noodwendig suiwer die arms van die ma nie, maar die arms en hande van die moeders en vrouens in die gemeenskap.

Ek dink dit moet baie gelukkige babas wees wat so opgelewer, en van die een hand na die ander oorgelewer, word.

Dag 49 ken ons Klaradyn toe lankal die aarde, maar nie juis die buitekant van die huis en 'n tuin nie. Toe trek haar ma en pa die stoute skoene aan om haar mooi aan te trek en hulself te bederf deur saam met haar by Die Dros in Hatfield te gaan eet.

Natuurlik moes die kamera saam – ek verbeel my ons het selfs die kelner ingespan om 'n gesinsfoto of twee te neem. Kyk en vandag na daardie foto’s, val nie net ons trots (dis of die knope oor my bors steeds van my hemp afspring) my op nie, maar eerstens, en die meeste, hoe jeugdig ek en my vrou gelyk het. Ek het nog nie enkele grys baardhaartjie nie – vandag soek ons 'n ietsie swart en kan ek nie eers meer praat van 'n sout-en-peper-baardjie nie, dis suiwer sout – Annieka is soveel anders mooi en gelukkig as wat sy vandag se dae mooi en gelukkig is.

Ek het vroeërvanjaar, in die wintervakansie nogal, bygestaan hoe 'n jong mamma haar vyf weke oue baba in 'n skottel in 'n karavaan bad, 'n haardroër wat eenkant op sy eie blaas sorg vir bietjie hitte, omdat sy en haar kind saam met haar ma gaan kamp het – Pappa ry naweke deur van die huis en die werk af.

Ek het besef ons het ons kind beslis nie skade aangedoen nie, ons het dinge bloot vir onsself baie moeilik gemaak.

Maar kyk net waar trek ek al – ek was by die wynplaas wat ek kon koop, en hier is ek op die punt om te vertel van die sonkolletjie in die huis waar ons die kind se vitamine –k-tellings opgejaag het. Is dit vitamine –k, ek kan nie eers onthou nie? Daardie vitamien wat optel as die kind in die son kom, die een wat keer dat 'n baba geelsug word.

Aan speelgoed het ons ook gemors. Ek dink hier aan 'n plastiek swaai en glyplankie wat ons ten duurste met Ouma Nooi se eerste verjaarsdag se verjaarsdag-geldjies gekoop het. Ek het vandag 'n lieflike foto waar my ma op sewe of agt of nege en sewentig Klaradyn in die ding swaai, maar dis ook al. Ek twyfel of Klaradyn in haar leeftyd vir vier ure op die ding was, toe staan hy stof  en vergader teen 'n muur op die werf.

Ons vervang hom toe, twee jaar later, met 'n volwaardige klimraam van staal, vyftien keer duurder. Ek twyfel of dit 'n gemis sou gewees het, as ons hom nie in ons kind se lewe en in ons tuin gehad het nie.

En dan is daar 'n hele paar Kers- en verjaarsdagpresente waaraan ek kan dink wat eerder in 'n paar morg wingerdlote belê kon word.

Die enigste speelgoed wat uit en uit en deur en deur die moeite en die geld werd was en is, was en is die fluweel- en streelsagte, wollerige, pelserige, speelgoed, waarvan Klaradyn só baie het.

Hier waar ek nou sit en werk, kyk ek af op 'n hele werpsel van die goed wat sy gister, dadelik, toe ons terug van die Kaap hier aangekom het, bymekaar gekry en mee begin speel het.

Ander kinders het miskien een gunsteling soft toy (soos die Engelsman hierdie opgestopte speelgoed noem). Nie Klaradyn nie – elkeen is spesiaal, elkeen is 'n gunsteling. Wat opgestopte speelgoed betref, het Klaradyn regtig 'n hart soos 'n hotel – daar is plek vir baie.

As dit nie was dat sy om die beurt met elkeen gespeel het nie, het ek lankal dat sy en haar ma (ek weet nie watter een van die twee die ergste is nie) briek aandraai.

Ek jok so bietjie, noudat ek mooi daaroor nadink – daar was miskien tog wel so iets van 'n gunsteling-gunsteling-sagte-speelding. Tiertjie was sy naam, Tiertjie het met 'n moerse ompad van Duitsland hier aangekom. Tiertjie was my kind se hart se punt. Tiertjie het baie weggeraak, maar dit was altyd tydelik. Dan is hy by Ouma vergeet, dan onder 'n passasiersitplek iewers, dan kom hy uit 'n skoenboks of blik waar hy lê-gemaak en vergeet is.

Maar nou is Tiertjie al meer as twee jaar weg, sommer propperlies en goed en ordentlik weg, skoonveldweg.

Ons vermoed een van die honde het die ding gaan begrawe. Die oudste teef dra die geringste sagte speelding van Klaradyn wat sy dalk mag opspoor, na haar slaapplek toe (en as sy nie 'n speelding kry wat rondlê nie, dan 'n kledingstuk of selfs 'n skoen). Sy kou nie die ding nie, sy hou die ding, seker maar suiwer vir vertroosting, net by haar, tussen haar voete of by haar neus. Sussa sou hom beslis nie begrawe het nie. Maar Sussa se boeta, Boeta, sou hom by Sussa af kon geneem het, en hý hét die hebbelikheid om die speelgoed en skoene te gaan begrawe.

Ongelukkig/gelukkig is Boeta nie vreeslik oorspronklik in sy keuse van plekke in die tuin waar hy sy loot gaan begrawe nie – hy kies regtig net een baie klein plekkie uit. Baie keer begrawe hy dit ook nie, hy laat dit net sagkens daar lê. En as hy dit begrawe, is dit ook nooit diep en toe nie – daar steek altyd 'n arm of 'n been of 'n sool uit.

Ons het al Boeta se lappie aarde omgespit en oopgeskoffel, maar niks gekry nie.

Ons beplan al van Julie af aan die moeder van alle opruimings in die motorhuis – een waarvoor ons 'n vullisverwyderingshouer, die grootste wat daar is, spesiaal deur die munisipaliteit laat aflaai. Miskien, net miskien, krap ons die ding dan iewers uit 'n boks of sak uit. Maar die prognose lyk nie te goed nie. Miskien sal ons Tiertjie, sonder dat ons ooit sy liggaamlike oorskot gekry het, na dese amptelik dood moet verklaar.

Die R200 waarmee Ouma en Oupa die meisiekind toe Kaap toe gestuur het, die R200 waarvoor ons toe die laaste dag inpiekel Waterfront toe, word toe amper na vyf minute by die eerste speelgoedwinkel geblaas. En toe, tien minute later, weer amper by die tweede winkel. En die derde. En die vierde.

Maar toe loop ons 'n Build-a-Bear-winkel raak. Ons is later, net om seker te maak, terug na die eerste vier plekke, maar Klaradyn se kop was opgemaak – sy gaan haar geldjie op 'n sagte speelding uitgee.

'n Kollega by die skool het my twee jaar gelede van die winkel vertel, en ek en Klaradyn is die eerste dag van die Kersvakansie vir 'n Pappa-en-dogtertjie-uitstappie soheentoe. Jy kies die vel (die dop, die buitenste) teen 'n aardige onaardse bedrag natuurlik. Dan kies jy vir 'n ding 'n hart, en stembande, en dan stop jy hom self op, so styf of troetelsag soos jy hom wil hê.

Ander bedorwe rykgatdogterjies kies dan nog 'n paar uitrustings en modebykomstighede vir hul poppe (skoene, brille, duikbrille, rolskaatse, branderplanke, baaikostuums, slaapklere, balrokke, krone, pels- en ander jasse) maar Klaradyn is altyd tevrede met hoogstens een, miskien twee, ekstras.

Ek sê ook nou altyd, want ons het die volgende Kersfees weer gegaan. Daardie keer het Mamma saamgegaan om in die opwinding te deel. Toe was dit 'n wit hond met pienk harte, soos 'n foksterriër se kolle, oor sy lyf gespasieer – bid jou dit aan:  'n wit hond oortrek met pienk harte! Die vorige keer was dit 'n apie.

Ons probeer ons bes om die kind self te laat kies, en nie namens haar nie. Dit raak moeilik as die kind haar hart op 'n wit hond met pienk harte vir kolle sit, maar ons byt vas. Want dan het ons al op die harde, en duur, manier geleer dat Klaradyn klere wat óns, en nie sy nie, kies, bloot net weier om te dra. En die kind moet leer om haar eie besluite neem en die gevolge daarvan te dra. Ons sal nie willens en wetens toelaat dat sy haar kop stamp nie, ons sal rig en stuur, sonder om noodwendig ons roete af te dwing, en raad gee, voor- en nadele uitwys. Maar die keuse is hare.

Vanjaar het die kind se keuse toevallig geval op iets wat haar ma en haar pa welgeval.

Ek was so verlig oor die kind se keuse dat ek summier sou pa-staan vir 'n bykomstigheid, maar Ma het toe klaar haar beursie aangebied. En ek wou nie inmeng nie, toe staan ek maar terug.

En ek het teen daardie tyd al op drie geleenthede, vroeër die dag, my beursie baie diep, en wyd, en groot oopgegaap in belang van die kind.

Want, ja, dit is 'n feit – ons sou soveel ryker kon gewees het, sonder ons kinders, maar tegelykertyd ook soveel ontelbaar, onhaalbaar, onbetaalbaar armder.


14.12.11

'n Heen-en-weertjie Kaap toe en weer terug


Vandag breek ons kort Kaap-vakansietjie se laaste dag dan ook aan.

Ons het veel meer van ‘n vakansie gehad as wat ons aanvanklik beplan het. Ons het afgekom vir ‘n troue, nie vir ‘n vakansie nie. En met Klaradyn se oumagrootjie wat op 93 lank reeds baie ernstig siek in die hospitaal is, het ons geweet die fokus gaan suiwer die klink van huw’liksklokkies en dan die amperse kluit-klap op die kis wees.

Die klokke het luidkeels gebeier en die klap van kluite op ‘n kis is deur ‘n baie sterk ouma afgeweer – met ons laaste besoek aan haar, kon ons nie glo dis dieselfde mens wat ons vier dae vantevore so op die grens van die ewigheid gesien het nie.

Met die huwelikspaar in veilig in Frankryk en die sieke ewe veilig in die hande van die fisioterapeut (om Ouma letterlik weer op die been te kry) het Pappa, Mamma en Klaars hier van Sondag en Maandagmiddag af ‘n lieflike vakansie uitgepak.

Ons is Sondag planetarium en die aangrensende Suid-Afrikaanse museum toe. By die nasionale galery en Bertram-huis kon ons helaas nie ook uitkom nie. Laasgenoemde het tans ‘n uitstalling wat fokus op die Bleek-versameling se San-artefakte, iets wat Klaradyn ontsettend sal geniet – haar gunsteling koffietafelboek was vir maande ‘n boek oor die San wat ‘n oudleerling my een jaar gegee het.

Maandag moes ons lughawe toe om een van die Europese huweliksgaste weg te sien. Met die dat die lughawe reeds halfpad na Ouma toe was, is ons weer daar aan. En met die dat Ouma toe weer reeds meer as halfpad Stellenbosch toe was, skiet ons toe die laaste entjie eikestad toe.

Iets op die terras by die Lanzerac sou lekker gewees het, maar ons het gekom vir die Dorpsmuseum se vier huise, toe geniet ons maar iets in een van die land se oudste taphuise in Dorpstraat net om die draai van ons museumbesoekpunte.

Gister is ons Houtbaai toe. Toe ons na ‘n hele oggend in die geselskap van letterlik duisende geveerde vriende by die bekende World of Birds (en ek glo hulle as hulle hulself as die grootste voëlpark in Afrika bemark) wegry, sê ek vir Klaradyn: “En dan moet jy weet, Klaradyn, ons het nie hierheen gekom suiwer om jou te bring nie, Mamma en Pappa het hierheen gekom voor jou geboorte, en selfs as jy nie daar was nie, sou ons vandag steeds hierheen gekom het.”

Op die heel verste punt van Houtbaai-hawe, aan die voet van Kabonkelberg, is ‘n klein vis-en-skyfies-eetplek, hulle vis-en-skyfies, die lekkerste vis-en-skyfies in die land, sal op enige ander plek, selfs enige ander plek in Houtbaai-hawe, nie so lekker proe soos daar op die verste punt, en weg van al die toeriste op die voorpunt, nie.

Die weer het ons gelukkig nie toegelaat om daar tussen die rotse met ons hande te gaan sit en eet nie, toe skiet ons maar deur Chapmanspiek-hotel toe – vir hul immergewilde calamari.

Eers moes ek ‘n hoogspersoonlike tradisie wat ek as klein seuntjie in die sestigerjare van die vorige eeu leer ken het, en nou as groot man steeds privaat en op my eie in stand probeer hou, voortsit. My pa se broer, Oom Frans, het al die jare, van voor my geboorte selfs, tot en met sy dood ‘n klompie jare gelede, in die Kaap gebly. Hulle het nie gereeld nie, hoogstens een keer elke drie of vier of vyf jaar, afgekom Rand toe – eintlik ook maar net vir troues of begrafnisse en so aan.

En elke keer, soos in élke keer, ‘n iédere en elke keer, het hy, sonder énige uitsondering, óóit, vir ons ‘n gerookte snoek uit die Kaap gebring. Met die motor, met die trein, met die vliegtuig, dit maak nie saak hoe hy by sy broer op Alberton gekom het nie, daar was elke keer ‘n snoek.

Ek hoor my ma of pa oor die telefoon (daar was mos altyd ‘n oor-en-weer gebellery voor die vertrek, om finale reëlings en die geskatte tyd van aankoms te kommunikeer) sê-vra dat hy asseblief tog nie ‘n vars snoek moet vergeet nie.

Vir my gesin is vars snoek geensins wat ander mense onder vars snoek verstaan nie – vir hulle is vars snoek ‘n snoek wat nie ingesout of gerook is nie; vir my kan vars snoek ‘n pekelsoutsnoek of ‘n eikehout-gerookte gerooktesnoek ook wees – vars vir ons is ‘n snoek wat vars uit die Kaap by ons aankom, nie een van die droë en bevrore goedjies van verdagte oorsprong en herkoms wat ons aan die Rand te koop kry nie.

Dis daarom vir my onmoontlik om van hieraf terug te gaan huis toe, sonder ‘n vars snoek.

En al kan ek volgens my broer my vars gerookte snoek dwars oor die hele Kaap te koop kry, hou ek daarvan om my snoek op Houtbaai te koop, daar waar ek dit nou al sedert ek die eerste keer self Kaap toe gekom het, koop.

Daar is ‘n ander tradisie ook gewees, ‘n lieflike tradisie wat oor net soveel jare gestrek het, maar dit het einde Augustus, begin September tot ‘n einde gekom, en ek sien nie kans om dit lewendig te hou nie. Op die lughawe, maar vandat jy dit nie meer so maklik op die lughawe kon kry nie, in Adderley straat dan, voor jy vertrek, koop jy vir Ma ‘n bos Kaapse blomme, Cape Select het ons dit genoem, fynbos en proteas vir die vrou.

Die goed hou van nature lank, maar onder Judy Moolman se sorgsame hande het die goed onnatuurlik lank gehou – partykeer het my broer al weer vir ‘n tweede keer kom kuier, dan is die vorige besoek se Cape select nog in die lewe in een van Judy se potte. (En moenie dink sy het die goed laat droog word soos baie mense doen nie – die goed droog mooi, maar nie my ma nie, sy sou nooit dooie blomme in een van haar potte aangehou het nie – dit versamel net stof.)

Na ‘n laatmiddagslapie vir die twee meisies, en ‘n verdere hoofstuk of twee in my leesboek (A short history of nearly everything deur Bill Bryson) is ons gisteraand deur na my broer-hulle se gunsteling pizzeria in Seepunt.

Van die kilogramme wat ek voor die troue verloor het, het ek seker weer een of twee in die bestek van ‘n week opgetel, maar ek is nie bekommerd nie – eerstens het ek nie ‘n obsessie om gewig te verloor nie, tweedens weet ek dat ek steeds  nie so ongesond eet soos ek vantevore geëet het nie, en derdens weet ek dat ek nie in my ou patroon van eet teruggeval (terug verval?) het nie, ons sal spoedig weer op die smalle weg wees.

Werk die weer saam (die prognose is nie te goed nie) vat ons Klaradyn op met Tafelberg vandag.

So nie, sal ons maar sien. Sy het ‘n geldjie by Ouma en Oupa gekry – dit sal ‘n skande wees om terug te ry Menlyn toe om dit daar te gaan spandeer, miskien moet ons strate toe, winkels toe, ons sal sien.

Ek sien nie regtig kans vir al die Gautengers nie, dit gaan trouens heerlik wees om terug in Gauteng, weg van die Gautengers, te wees.

Dis egter nie my oorspronklike gedagtes hierdie nie – in die lugredery se tydskrif op die vliegtuig was daar ‘n oulike advertensie wat neergekom het op: Get away from Gauteng this Christmas, by not going to the Cape this year but staying in Gauteng.

Of so iets.

Volgende jaar, wanneer ek dit ter wille van Klaradyn met die trein wil doen, maak ons hopelik weer so.

12.12.11

10 Desember 2011


So is ons meisiekind toe nou gister blomme- of strooimeisie op haar niggie se troue.

Klaradyn se niggie is ‘n goeie dertig jaar ouer as sy.

Daarom ook maar goed dat ons in begin van die een-en-twintigste eeu, en nie honderde jare gelede nie, leef – anders sou die kind nooit strooimeisie kon wees nie.

Jare gelede het die Romeinse Reg tien getuies by ‘n huwelikseremonie geverg. Hul teenwoordigheid moes bose geeste, wat glo daarvoor bekend was dat hulle by sulke seremonies uitgehang het, ore aansit. Dis ook hoekom die strooimeisies en –jonkers soos die bruid en bruidegom uitgevat moes wees – die bose geeste moes nie kon onderskei wie dit is wat gaan trou nie; het hulle geweet kon hulle die bruidspaar glo teister.


Ander verklarings vir die ontstaan van die gebruik beweeg weg van die geesteswêreld en sluit by die doodaardse aan: die meisies en jonkers, steeds min of meer van dieselfde ouderdom en geklee soos die bruidspaar, moes ‘n skild om en tussen hulle vorm, sodat die bruid byvoorbeeld nie aangeval en haar bruidskat gesteel kon word nie.

Dan is daar ook diegene wat, getrou aan die tradisie, die oorsprong daarvan in die Bybel gaan soek. En dit daar vind. (Soek en jy sal vind.) En wel in die gedaante van Ragel en Lea se slavinne wat saam met hierdie twee dames by Jakob aangesluit het (Genesis 29:24 en 46:18).

Van my lekkerste kleintydherinneringe hou verband met troues.

Klaradyn het ‘n ervaring gehad wat haar lewenslank gaan bybly.

Oktober al het sy saam met haar Tannie Beverly klere en skoene aangepas. (Met ‘n niggie wat 30 jaar ouer as sy is, is dit seker nie vreemd dat haar tannie, aan haar pa se kant, net ‘n paar jaar jonger as haar ouma, aan haar ma se kant, is nie.)

En tussen Oktober en 10 Desember was al wat sy kon doen, om uit te sien na die groot dag.

Vrydagaand het ons gesukkel om haar aan die slaap gekry, en Saterdagoggend was die eerste wat sy te sê had, selfs nog voor sy haar oë ordentelik oopgemaak het:  “Vandag is die groot dag, né Mamma!”

Gelukkig vir haar was dit nie sommer ‘n troue met koeksisters en melktertjies nie, nee, dit was ‘n spoggerige affêre vanuit die voorste gestoeltes.

Die huweliksbevestiging was vanuit die Presbeteriaanse kerk teen die Kompanjiestuin en vandaar het ons sommer oorgestap na die Mount Nelson-hotel vir die onthaal.

Fotobron
Maar eers moes Sussie se hare gedoen word. Dan moes sy vir die effek ook ‘n bietjie, al is dit net ‘n knertsie, kleur bykry. Die haarkapper, grimeerder en hul assistant het een van die hotelkamers betrek en ons moes Klarie enige tyd na 13:00 daar hê.

Ons besluit toe op 14:00, sodat ons meisiekind darem eers so soorts van ‘n middagslapie – noem dit maar ‘n beauty sleep – in kan kry. Maar met beauty het dit niks te doen gehad; ons wou die kind uitgerus vir die aand hê, ons het geweet sy gaan die agtermiddag en aand, getrou aan haar aard, in hoogste versnelling teen allehoogste revolusies deurbring.

Dit was ‘n fout, ‘n groot fout, want daar hou hulle haar so lank besig met borsels en krultange (selfs ‘n krultangetjie vir die oogwimpers) dat ons eers 15:35 weer terug by die huis is om aan te trek. Dit laat ons toe met 25 minuutjies om Mamma aangetrek en gegrimeer te kry, om Pappa in sy spoggerige pak klere, wat hy spesiaal moes huur, uitgevat te kry. Want 16:00 moes ons streng gesproke terug by die hotel wees vir die strooimeisies om hul rokke aan te trek.

Toe ek en Annieka en Klaradyn teen 16:13 vanaf onder in Kampsbaai oor Kloof Nek en af in Tamboerskloof voortsnel, laat val Annieka dat sy daarvan oortuig is dat sy die enigste vrou op die troue gaan wees wat nie spesiaal ‘n haar-, voete- en naelsafspraak vir die okasie gehad het nie. En ek dink sy was reg.

Daar aangekom het die oom wat help maak het aan die trourok die meisietjies op die hande gedra en selfs van die fynste hangertjies vir om die halse voorsien – ‘n geskenkie, hoor ek later, van haar peetma, Tannie Bev.

Pa en Ma stap toe kerk toe; die meisietjies word aangery in ‘n spoggerige motor.

Daar aangekom het almal toe net oë vir die stralende bruid – wat volgens heersende mode enkele minute laat was. Wat van my kind geword het, en hoe sy haar gedra het (as sy haar enigsins gedra het) weet ek nie; ons was van die laastes om die kerk in te stap en het bykans heelagter plek ingeneem.

Klaradyn se enigste verwysing na ‘n troue was die huweliksbevestiging van Prins William en Kate ses of sewe maande gelede. En daar is sy toe nou in die hande van twee ouer meisietjies wat nie een ‘n enkele woord Afrikaans kan praat nie. Gelukkig verstaan Klaradyn Engels en het sy selfs met my, die oomblik toe ons hier in die Kaap by die Engelse familie aanmeld, begin Engels praat. Sy het ook reeds amper ‘n dag saam met twee seuntjiemaatjies vanuit New York deurgebring. En waar die eerste aand se gesprekke van haar kant af, beperk was tot frases en aanhalings uit die Engelse flieks wat sy gereeld kyk, kons sy haarself ‘n dag of wat later darem al met redelike gemak handhaaf.

Sy het haar rol goed verstaan en net so goed vertolk. Ek sal in my dag des levens nie vergeet met hoeveel delikate toeweiding sy uit haar eie gehelp het om die bruid se sleep agter haar in die troukar te kry nie.

By die hotel aangekom is ons eers in die hoteltuin op versnaperings en ‘n ietsie te drinke trakteer terwyl die bruidspaar enkele foto’s met Tafelberg teen die agtergrond gaan neem het.



Waar is dae uit 1899 toe die hotel op 6 Maart geopen is en jy direk vanaf die hawe met koets deur die Kompanjiestuin by die hotelhekke ingery het.



Honderde, nee, ek is seker, letterlik duisende, rose en honderde lelies en nog meer honderde orgideë wat al die pad vanaf Japan ingevlieg is, het die ou balsaal van die hotel versier. Ek kon verstaan dat die bloemis en sy enkele assistent deurnag gewerk het om alles so keurig te kry. (Om elke lelie te kastreer, vir ingeval die stuifmeel aan iemand se uitrusting afgee, sou my ‘n hele tydjie geneem het – gee my dan maar eerder ‘n nuwe seisoen se lammertjies op die plaas en ‘n hele spul rekkies daarby.)

Die bruid ken ek van sy ‘n pasgebore baba was, sy is bekend vir haar gulle gasvryheid, en die kinders op die troue se ontvangs en versorging (gewoonlik word hulle mos nie eers meer toegelaat nie) was beslis deur haar persoonlik in plek gekry.

Terwyl Mamma en Pappa toegelaat het om deur ‘n Pimm’s en salm uit die mees noordelike waters ververs te word, het die kleintjies elk ‘n kardoesie met versnaperings in die hande gestop gekry.

Wat die kindertjies by die kindertjietafel te ete had, weet ek nie. Dit was beslis nie dieselfde Ceasar’s-slaai vir voorgereg met ‘n keuse tussen bief en vis vir hoofgereg nie – ek weet daar is heerlike ertappelskyfies by betrokke gewees, en ek weet dat sy heerlik geëet het.

Een van my mees afgeronde vriendinne praat altyd van die tradisionele troukakkies as sy verwys na die gehekelde swane of boksies met troukoek wat jare gelede so gewild was. Geen tradisionele huwelikspoefies om saam te neem huis toe op hiérdie troue egter nie. Nee, ons herinnering aan die huweliksbevestiging is opgesluit, eerstens, in ‘n poskaart met vier foto’s wat die gaste self in ‘n fotohokkie kon laat neem. (‘n Eietydse variasie op en weergawe van die ID photo booths wat ‘n mens op straat kry – die soort waarin verliefde paartjies gewoonlik lawwe foto’s van hulself laat neem om ‘n lekker aandjie saam te onthou.)

Aanvanklik het die kinders daarop toegesak (en Klaradyn was een van hul grootste – gelukkig darem nie hul heel grootste nie – ondersteuners) maar hulle is spoedig deur die volwassenes verdring. Met allerhande rekwisiete in ‘n fantasiekis, kon jy lekker laf en verspot wees. Ek, wat op my beste altyd redelik stoïsyns is, het in ‘n stadium ‘n groen pruik, en my vrou ‘n bloue, opgehad.

Ek het so daarna uitgesien om darem ook met Klaradyn ‘n draai op die dansbaan te kan maak – maar teen 23:00 was Sussie uit soos ‘n kers – van moeg en in die oortreffende trap die aand geniet. Sy het haar op ‘n bankie onder Pappa se baadjie opgekrul en in droomland verder troue gehou.

Ons is teen 24:00, na heerlike kaas en beskuitjies, en ‘n keuse van twee troukoeke (die een meer konvensioneel, die ander heelwat minder) huis toe.

En met die dat die bruidegom en sy familie reeds vir geslagte in die bosboubedryf op Knysna is, word ons toe van ‘n sny- en kerfplank uit Knysna-hout, ook ‘n roerbraailepel uit dieselfde hout gesny, voorsien. Dit sal ons nog jare aan die heerlike troue herinner.

Klaradyn, op haar beurt en aan die anderkant, het ‘n magdom beelde en oomblikke en ervarings in haar geheubank opgesluit gekry, beelde en oomblikke en ervarings wat haar vir nog baie jare gaan bybly.

(Miskien laai ek later foto's van ons meisiekind en die groot dag wat sy saam met die bruid gedeel het - ek sal nog sien.)




2.12.11

Happy days are here again

My gemoedstoestand is vanoggend danksy 'n misverstand tussen my en Annieka vir die eerste keer in seker drie weke die hoogte ingeskiet. Ek het selfs my ontbytpap op die hout Amerikaanse swaaibankie wat ek 'n klompie jare gelede aanmekaar getimmer het, gaan geniet. Ek het die motorradio se CD geruil – ek luister nou 'n verruklike jazz-kombinasie van orrel en saksofoon uit die jare sewentig.

En dit oor Ankie my vra om Klaars se sonbrandroom in die kassie in die badkamer te gaan haal. Nie “op die rakkie” of “op die kassie nie,” – 'n besliste “in die kassie.”

Die gastebadkamer het nie kassies nie, net rakkies en ek word gelaat met die hoofbadkamer wat wel 'n kassie het waarin ek kan krap.

Nou van my kleintyd af is ek mal daaroor om in kassies te krap – so het ek 'n diamant wat my pa-hulle in hulle hoofslaapkamer se badkamer se badkamerkassie versteek het, verlore laat gaan. So het ek ook Ouma van Wyk een dag in trane gehad – ek het op 'n toegeplakte boksie onder in 'n groter boks onder in haar hangkas afgekom – 'n propperse warderobe was dit gewees, jare voor die koms van ingeboude kaste.

En toe ek die deeglik verseelde boksie oop het en op haar afstap met die lokkie hare, enkele foto’tjies (sneppies soos Ouma van snap(shot)s gepraat het) en briefies in oumens van daardie jare se oumenshandskrif, blyk dit ek staan met Ouma se sustertjie, wat dood is toe hulle altwee nog laerskoolkinders was, se lokkie in my hand.

Daai boksie sou my bybly. En vir Ouma. Sy moes met hom getrek het, eers na die ander woonstel toe, toe ouetehuiswoonstel toe, en toe ook ouetehuiskamer toe. Want toe Ouma einde ’86 oorlede is, was hierdie boksie, tien teen een nog net soos ek dit 15 jaar vantevore gelos het – nou net met 'n rits bros rekkies toegebind – tussen die laaste paar goedjies wat van 'n leeftyd oorgebly, in haar kamer.

Ek het die boksie nou 25 jaar, onaangeraak in 'n antieke lessenaar uit my pa se kant van die familie.

Ook van Ouma van Wyk is die kassies-langs-die-bed, links en regs van my en Annieka. Dis seker bedkassie en nie kassie-langs-die-bed nie, maar ek het nou maar een maal groot geword met kassie-langs-die-bed. “Bêre dit in die kassie-langs-die-bed.” “Kyk bietjie in my kassie-langs-die-bed of dit nie daar is nie.” “Jy moet jou kassie-langs-die-bed opruim, Oubaas.” Ek hoor my ma. Maar ook einste Ouma van Wyk: “Krap tog daar in my kassie-langs-die-bed en kyk of daar nie 'n los geldjie vir jou is nie, Toklok.”

Dit was 1985 en ek was op universiteit, en as ek loop dan prop Ouma skelmpies 'n silwer 20c in my hand:  “Gaan koop tog vir jou 'n roomysie, Toklok.”

“As ek leef en die Here spaar my,” dan trek ek, en as ons gelukkig is ek én Annieka, eendag ouetehuis toe met daardie twee bal-en-klou kassie-langs-die-bed van Ouma van Wyk. (Hoeka Ouma van Wyk wat altyd gepraat het van “as-ek-leef-en-die-Here-spaar-my.)

Daardie kassies het seker vir die eerste 10 jaar nog na Ouma geruik. Poeier (Ouma het dit talc genoem), katjiepoetjie-olie en ander Lennon’s medisyne, oliekolonie... onmiskenbaar Ouma.

Onder in die kas-gedeelte was Ouma se Bybels, skryfblok en pen (in 'n netjiese leerportefeulje), ook ander boeke, en bokse met Kersfees- en verjaarsdagkaartjies.

Die laaikassie was egter soos wat my gereeld haar eie handsak beskryf het – erger en deurmekaarder as 'n hoer se handsak. Hier was sneesdoekies (van lap natuurlik), botteltjies en seker 15 jaar sneppies van die agterkleinkinders wat die kleinkinders van oor die hele land aangestuur het.

Ook Ouma se naelskêrtjie, en haar toonnaelknipper.

Hierdie toonnaelknipper herinner aan die blink instrumente wat snydokters gebruik, die duurste van die soort wat ek nog te sien gekry het, was goedkoop namaaksels van hierdie sjirurgiese staal tipe skêre en knippers.

Sy was al in die ouetehuiswoonstel (na 1977) toe sy my eendag die vreemde storie van hierdie toonnaelknipper vertel het:

Ouma-hulle het as jong getroudes op George ryk Duitsers vir bure gehad. Maar hulle pak toe mooi eendag op om terug na die vaderland te gaan. Sak en pak kon dit ook nie gewees het nie, want baie van die goed het hulle net so gelos – op die sypaadjie, soos met indertydse boxing day die geval was.

En Ouma-hulle (jy moes hoor hoe Ouma vertel het van vuurmaakhout soek, buite die dorp, met 'n kind op haar rug; of hoe sy meelsakkies laag vir laag vasgestik het, en dít oorgetrek het om 'n baba- en kinderkombersie van te maak) het gaan krap... en op die toonnaelknipper afgekom.

Vandag deins ons weg by die gedagte aan die gebruik van buurman se toonnaelknipper wat hy op die sypaadjie gelos het, maar ek dink nie dit sou in 1935 vreemd oorgekom het nie.

Dit was toe ook al veertig jaar later en die ding was nog so skerp en effektief soos toe Ouma-hulle die ding tussen die trekrommel opgetel het – ek het met daardie skêr in Ouma se kassie-langs-die-bed grootgeword van solank terug ek kan onthou.

En toe die kassies trek, toe trek die skêr saam. En 'n hoedetas, laslappiekombers, gehekelde kombers, melkbeker, vintage rasper, en, en, en, en...

So van ek in 1989 huisopgesit het, in een van my kassies-langs-die-bed se laaitjie, ook Ouma van Wyk se Duitse sjirurgiese instrument wat toonnaels knip.

Ek verbeel my dit was Uys Krige wat so mooi geskryf het oor die intimiteit van toonnaelsknip. Een van die vreemdste metafore rondom 'n sekelmaan wat ek in Afrikaans teëgekom het (dit kan Theunis Engelbrecht of miskien 'n vroeë Johan de Lange wees) stel dit gelyk aan 'n afgeknipte toonnael wat aan die naghemel raak.

Ek sal nou nooit sê dat ek liries raak oor die versorging van my voete nie, maar dit is vir my 'n baie spesiale en hoogs private ritueel, een van die eie-ste van eie tydjies wat ek het.

En toe word alles deurmekaar gekrap toe Ouma van Wyk se toonnaelskêr so vyf of ses jaar in ons huwelik in wegraak. Dis nie iets wat ek op 'n ander plek kan gaan soek nie, dis nie iets wat ek op 'n ander plek kon gebêre het nie – ek versorg my voete met my sitvlak op die bed, liefs in die sonlig wat by die venster instroom, of in die intimiteit van die bedlampie.

Ek het kort-kort verwyte geslinger, ek het seker drie of vier nuwe toonnaelknippers gekoop (ook ten duurste 'n minderwaardige namaaksel van iets wat vaagweg die vorm van my verlore staatmaker het), maar dit was net nooit dieselfde nie.

Ek het selfs gedink my vrou het die ding doelbewus weggegooi. Vrouens doen sulke goed. En as hulle dit met mans se gunstelinghemde en –broeke kan doen, wat keer hulle om dit met mans se gunstelingtoonnaelknippers te doen?

Ek mis nie versorgde voete nie, ek mis daardie spesiale stil oomblikke van versonke wees, nie net in jou voete nie, maar ook jou verlede, jou ma s'n, jou ouma s'n, jou oupa en sommer jou hele familie s’n.

En toe vanoggend toe kry ek nie die sonbrandroom in die badkamerkassie nie. Ek kan sommer met die eerste oogopslag sien dis nie daar nie.

Maar nou help dit nie ek sê ek kry dit nie, dan haal ek myself net my vrou se onguns op die hart en om die hals. Sy sê hoeka ek kan nie soek nie en ek kyk teen my eie ooglede vas.

Sp toe gaan ek nou maar af op my knieë en totter daar in die vreemde kas rond – om die tyd om te kry tot sy instorm en sê:  “Ag, laat ek dit tog net soek, ek weet nie vir wat vra ek jou nog om iets vir my te soek nie!” (Goed soek kom 'n lang en swaar pad in ons huwelik.)

Dit terwyl ek weet sy gaan instorm en die ellendige sonbrandroom tien teen een onder my neus oppik. (Werk dit nie maar altyd so nie?)

Egter nie hierdie keer nie, nee, “in die kassie” was toe al die tyd “op die rakkie” en 'n misverstand had my in die verkeerde badkamer.

Maar ek gee nie om nie.

Knap na ek 'n verslaande bottel van daardie goed wat jy aansit as jy klaar en te veel gesonbrand het, aftersun of so iets, opgespoor het, kry ek toe agter in 'n hoek, onder 'n gastehanddoek of twee, Oorle’ Ouma van Wyk se  toonnaelskêr!

Toe ek die meisies afgesien het, het ek kamer toe gegaan, my skoolskoene uitgetrek, my kouse ook.

Ek het heen en weer geswaai en ons geveerde vriende uitgeluister terwyl ek my ontbytpap geniet het; in die motor het ek ander musiek ingesit, die mooiste blymoedigste jazz denkbaar.

Toe my buurvrou in die klas langs my uitvra na die huppel in my stap, toe sê ek met 'n uitroepteken dat ek my toonnaels geknip het. En los haar met 'n vraagteken.

 ***

In München het ek een keer in 'n winkeltjie ingestap wat spesialiseer in kamme, borsels en alle ander haarkapperybenodigdhede. Stel jou voor – 'n winkel gespesialiseer om barbiere, haarkappers en gewone sterflinge van kamme en borsels te voorsien.

Aangesien ek my gunstelinghaarborsel 'n klompie jare vantevore in Duitsland gekoop het, ook die borsel waarmee ek sedert 1994 skeerskuim opklits, het ek daar en dan vir my die allerspesiaalste van spesiale kamme gekoop – een wat van hout gemaak is. Met Duitse vakmanskap en presisie.

Ek wonder seker nou sewe jaar wat van hom kon geword het.

Ek sien uit na my en Annieka se volgende misverstand.