Pages

8.10.11

Holfontein-blues

Hou verby, hierdie het begin by die soogdiertjies op die vliegveld, dit het my gedagtes op loop gesit, en dit was eers vier bladsye later dat ek by die soogdiertjies op die plaas uitgekom het. 90% is nie vertel nie. Maar dit was die lekkerste blog-ervaring in maande, indien nie jare nie.



Ek kan getuig van buffels en olifante wat van die vliegveld afgejaag moet word voor die vliegtuig kan land. Vanmiddag op die eertydse JBM Hertzog is dit egter die rooistertmeerkatte wat al oor die aanloopbaan skarrel wat my aandag gevange hou.

Ek is lief vir die Vrystaat, ek het die mooiste herinneringe aan die Vrystaatse Vlakte-meerkatte, en dit is vir my sommer net lekker om hier te kan sit, en te weet ek is in die Rosestad.

Die feit dat die vlug sopas, op grond van tegniese redes nogal, met vyf en sewentig minute vertraag is, pla my nie eers nie – eerder betyds op die lughawe, as te laat.

My ma het my een mooi dag in haar pajamas op Jan Smuts afgelaai, oor die interkom was daar, in Afrikaans nog, 'n boodskap na passasier H J Moolman wat vlug-so-en-so van Johannesburg na Bloemfontein vertraag.

Sy het hopeloos verslaap en ek moes Bloem toe, na my peetouers vir die vakansie. Daar was letterlik nie tyd vir aantrek en bad en grimeer nie. Sy sou 'n kaftan oor haar klere gegooi het, my gegryp het en aan die hand, die koffer in die ander, motor toe gesleep het.

Ek weet regtig net van een keer wat my verslaap, laat geslaap het, en dit was daardie oggend.

Maar ons was betyds, die vliegtuig het amper vir my weggery, maar darem nie, en Oom Kobus het aan die ander kant vir my gewag en ons sou met sy nuwe Mercedes Holfontein toe, my peetouers se plaas buitekant Bultfontein, gery het.

As klein kind, en ook-nie-meer-so-klein-kind-nie, is en was Oom Kobus en Tannie Erica die beste, wonderlikste, hartlikste, dierbaarste mense ooit.

Ek het tot so twee of drie jaar gelede op bykans tweeweeklikse basis van hulle gedroom

Deesdae is dit net so tweemaandeliks want nadat ek Oom Kobus en twee van sy dogters een mooi dag op pad Kaap toe vir die eerste keer in jare weer gesien het, is dit of daar 'n rustigheid in my onderbewussyn gekom het.

En dan is dit nie dat ek met nagmerries geteister was nie, nee, geensins, dit was die heerlikste, lekkerste drome denkbaar.

Ek verbeel my ek het 'n ruk gelede vertel van myself, die Moolmans en die Van Rensburgs – Oom Kobus-hulle – almal doodgelukkig in die geel gastebadkamer op die plaas se bad. Ons was soos seekoeie in 'n poel, en al waarvan ek bewus was, was ons gesigte wat met die breedste van breë glimlagte bo die skuimborrels uitgesteek het. Dan het daar ook stoom uit die water opgestyg wat die spieëls toegewasem en die teëls so nat en glad gemaak het. het.

Ek sal wat wil gee om nog een maal in my lewe in daardie badkamer op daardie plaas te kan bad. Dit was gas wat die water warm gemaak het, en vir die tipe seuntjie wat ek was, was daar min dinge wat by die bekoring van daardie vlammetjie kon kersvashou. Ek sien hom, hier waar ek sit, weer in my geestesoog dans – 'n dapper ballerina op 'n donker verhogie met 'n spierwit proscenium.

Die badkamer het nie, soos alle badkamers, teëls gehad nie, daar was mat. Vandag weet ek dit was geplakte Marley teëls, en niks fancy nie, maar vir my was dit spesiaal en luuks en ongewoon.

Ek sluit tot vandag nie 'n toilet- of badkamerdeur agter my nie. My ma het, so, eendag in daardie badkamer vasgesit. Vir wat sy die deur agter haar gesluit het, sal ek nie weet nie, maar sy het. Dit was seker die eerste keer in jare dat die sleutel gedraai is, die stomme sleutel moes hom toe in so 'n toestand in geskrik het, dat hy daarna nie weer oop wou sluit nie.

Regs van die badkamer was die toilet. Ook die toilet het sy eie bekoring – dit was die enigste toilet wat ek geken het met tydskrifte in, Reader’s Digests. Daar was platiekpoppies met gehekelde uitskoprokkies oor toiletrolle getrek, ook. En klein seuntjies soos ek móés die ronde raam van die toilet o;plig as ons gepie-pie het – anders pie-pie ons die geel hekelwerk om die ring raak. Maar ons het nie omgegee nie – wintersmaande as dit vreeslik koud kon word in die Vrystaat, het daardie hekelwerk jou boude lekker warm gehou.

Naas die Reader’s Digests was daar goed met blokkiesraaisels ook. Dit was lank voor Die Huisgenoot blokkiesraaisels in had – maar ek was nog te klein om veel van blokkiesraaisels te kon weet. So of dit Afrikaans of Engels of wat dit was, sal ek nie weet nie.

Baie jare later, seker op hoërskool al, toe Die Huisgenoot al bygekom het en weekliks meer as een blokkiesraaisel in had, was dit Oom Kobus wat my geleer het om nooit, nooit, NOOIT, 'n blokkiesraaisel in pen in te vul nie – jy het altyd, wanneer dit te laat is, spyt. Ek is 47 en ek sal dit nie oorweeg om nie 'n blokkiesraaisel in potlood te voltooi nie.

Regs het die gang doodgeloop in Andries se kamer. Hy is seker so agt of nege of tien jaar ouer as ek, en dis in sy kamer, met die twee enkelbedjies wat ek geslaap het. Bedlampies met kegelvormige bedlampieskerms het aan hierdie enkelbedjies se kopstukke vasgeknyp.

Dit was lekker om die hooflig af te sit, een van hierdie lampies aan te sit en op so 'n wyse na die een muur te projekteer, dat jy diertjies en vorms met jou hande op die muur kom gooi.

My mooiste herinnering aan hierdie vertrek is egter die saggebreide rooijakklasvelletjies wat as bedmatjies gedien het. Dit was wonderliker as die boks met Dinky-toys, of die een met plastieksoldaatjies, wat ek uit Andries se kinderdae uit een van die kaste kon sleep.

Toe Ou-Oom-Anneries, die bywoner in die rolstoel wat in die buitekamer gebly en geëet het, eers dood is, is sy kamer vir Andries ingerig. Van toe af het ek maatjies saamgevra plaas toe, en dan was dit óns kamer.

Links by die badkamer uit, was die twee meisies – altwee nog ouer as Andries – se kamer. Maar daarvan onthou ek eintlik net pienk, en miskien twee pienk donskomberse op elke bed. Seuntjies het daardie jare nie in dogtertjies se kamers gekom nie. En seuntjies my ouderdom het in elk geval niks in dogtertjies, hulle ouderdom, se kamers verloor nie.

Maar direk langs die dogters se kamer was die hoofslaapkamer. Na televisie die land ingekom het, kon ek wintersaande, terwyl die grootmense op die dorp gekuier of gedans het, dáár my aande in die bed deurbring.

Ek verbeel my amper dit is die enigste plek in die huis waar daar 'n televisie was.

Die meubels was embuia of Rhodesiese kiaat. Dit was die kamer met die mooiste ingeboude hangkaste denkbaar. Ek verbeel my egter vandag dit moes gewone bal-en-klou losstaande hangkaste gewees het – 'n hele spul. En toe ingeboude kaste die mode geword het, het Oom Kobus bloot 'n raam laat bou waarin die ou kaste se deure vasgeskroef is.

Ek weet as ek dit vandag moet sien, sal ek terugdeins. Vir my was dit destyds asembenemend mooi.

Iewers sou daar 'n spieëltafel ook wees, 'n triptiek van spieëls waarvan die buitenste twee kon verstel (Vir die vrou om haar hare te doen.). En op hierdie spieëltafel sal beslis iewers 'n glaspotjie met gekleurde ronde wattabolletjies staan.

Dan was daar die kamer(s) waar Ma en Pa geslaap het. Die een had Tretchikof se orgidee op die trap (blykbaar het die bruid dit op die kerk se trap laat val); die ander had 'n glas met 'n roos, in 'n nis, met die see in die agtergrond (ook van Tretchikof).

Hier het ek ook geslaap, móés ek slaap, of ek nou wou of nie. Maar nie saans nie, smiddaes. Bý Ma op die bed. Anders maak ek nie 'n oog toe nie. En juis in my gedwonge aan-die-slaap-gepiets middagslapies lê my allerwonderlikste drie herinneringe aan die plaas, die mense en daardie jare: die geluid van die bosduiwe in die peperbome, die geluid van die wind deur die peperbome, die geluid van die wind as dit klaar deur die peperbome getrek het en by die windpomp agter die huis uitkom.

Was ek ryk genoeg, en had ek die lewenstyl, het ek klanktoerusting gehuur om 'n opname van daardie windpomp te loop maak, nie enige ander windpomp nie, dáárdie een.

Ek is nie een wat sukkel om te gaan slaap nie, nooit nie, maar ek sal elke aand honderd maal lekkerder en rustiger aan die slaap raak as dit op die ritmiese, melodiese maat van daardie ou Climax is.

Annieka wil die reuk van babahondjies se asems bottel en in haar handsak ronddra; ek wil die plaas se geluide verpak en immer gereed hê. Drie ander geluide hierdie keer.

Eers die voordeur, regs van die houtkapstok met die jasse, hoede, pette en kieries. Nie die deur nie, die sifdeur: die kenmerkende kners van skarniere en dan die toeklap van houtraam op houtkosyn.

Dan die sydeur, vanaf die huis na die agterplaas. Dit was 'n glasdeur – nie deurskynglas nie, maar die laat vyftiger-/vroeg sestigerjare se riffelglas; nie in yster gemonteer nie, in hout. Ja, daar was die skril kners en kraak van die skarniere, maar die gerusstellende kenmerkende van hierdie deur was die vibrasie van die twee glaspanele in hul rame. Dis net buite hierdie deur wat die honde op die agterstoep gelê en wag het – en as die eerste geluid van die binnekant opgeklink het, het hulle stertswaaiend opgestaan en die uitgesien na waarheen hulle ook nou al met ons sou beweeg: die skuur, die kraal, die groente- en vrugteboord, die veld.

Daar was 'n kombuisdeur, maar die vrouens, die huis- en die kombuisvrouens, het daar in en uit beweeg; hierdie glas sydeur was Heathrow-lughawe, Germiston-stasie op hierdie werf waarna ek so terugverlang. Hierdie deur het, so ver ek onthou, nooit oopgehang soos die voordeur nie – ek onthou nie 'n sifdeur nie.

Die derde deur wat my met sonderlinge heimwee vul, had beslis nie 'n sifdeur nie. Hy, ook 'n glasdeur soos die ander gangdeur, is selde gebruik en ek verbeel my hy was bykans altyd gesluit. Hy het ook gekraak en gekners, maar vanweë die minder gebruik was die glaspanele nie so los nie. Hierdie deur is gebruik as jy vanuit die huis, motorhuis toe is, iets wat bitter selde gebeur het.

So as ek dan nou smiddaes by ma-hulle moet middagslapie vang, was die ore gespits vir die oop- en toemaak van die onderskeie deure, om die begin van nuwe opwinding vir die agtermiddag aan te dui.

Nou eers terug voordeur toe, kapstok toe, telefoon toe. Van Alberton af was dit 05252, en as hulle dan anderkant optel (ek hoor my ma en pa dit sê) was dit TWEE-DRIE-DUBBEL-TWEE-ASSEBLIEF. Op die plaas was dit dan TR-TR-TRR-TRR, twee kortes en twee langes. En daar was regtig 'n tweede gehoorstukkie vir saamluister, al kon jy nie saampraat nie.

En as ek van Boeremusiek hou (wat ek natuurlik doen) is dit oor hierdie deel van die huis dat ek daarvan hou. Iewers was 'n draadlosie wat al om die uur op die uur nuus gegee het, soggens die belangrike reënvalverslag, landbouradio... en dan Boeremusiekdeuntjies wat uitspel en verkondig dat dit goed gaan in die land, die saak is reg, God en die Afrikaner is in beheer.

Daar is vandag steeds niks wat vir my so gerusstellend is as die Kalfiewals nie. Op 'n Saterdagoggend. Ek sal in Pretoria op 'n Saterdagoggend in my motor klim en Builder’s Warehouse toe ry, net sodat ek Boeremusiektreffers in die CD-speler kan druk, en daaraan herinner word dat alles goed en wel is, die saak is reg.

Die sitkamer hou net positiewe herinneringe in:  teetyd, elke oggend; Oom Kobus se vingers saans oor die klavier se klawers in 'n koeterwaals syncopation, die grootmense wat om 'n klein tafeltjie brug speel terwyl ek die dans van die vlamme in die kaggel dophou.

Voor die kaggel is winteraande 'n toeknyp-draairooster hang gemaak. 'n Dik, lang, vet, vars gestopte rol Boerewors het dan rustig perfeksie gekry.

Uit die sitkamer ook deurgang na die sonkamer, die sonnigste van sonnige sonkamers. Ek weet nie of daar iets soos 'n sonkamer is nie, en of dit suiwer deel van 'n Holfontein-idiolek uitmaak nie, maar aan die hand van hierdie kamer het ek groot geword met begrip van 'n sonkamer, presies soos mens praat van 'n slaapkamer of eetkamer.

Ironies genoeg, ook van agter die groot glasvensters in hierdie vertrek dat ek een winter my eerste kapok ooit sien neer stuif het grond toe.

Via die sonkamer, naas die voordeur, ook toegang tot die stoep. Hier is sawens vleis gebraai oor mieliestronkkole – die plaas se vee, die plaas se mielies. En met twee of drie trappies, af van die stoep, was die kweek, waar al die kleintjies wie se ouers die aand oorgery het om te kom kuier, moeg en opgespeel, op die naat van hul rûe gaan lê het om na die sterre te kyk. (Holfontein se naghemel is 'n bes bewaarde geheim, lek dit die dag uit skuif hulle Sutherland se sterrewag lock, stock and barrel soheentoe.)

Die eetkamer, met sy lieflike uitsig op dit wat ons die soutbos genoem het, is drie maaltye 'n dag, met lapservette en servetringe. My mooiste herinneringe, naas elke ontbyt wat ek hier genuttig het, elke middagete en elke aandete, is aan die plaas se eie groenmielies, die plaas se eie botter (afgerond in die botterbakkie soos in 'n hotel) en die spesiale kontrepsietjie waarmee die murg uit die plaas se skaapboud-been geskep is.

Hoe meer ek terugdink en skryf en nuwe herinneringe oproep, hoe meer is ek daarvan oortuig dat ek nie die nostalgiese, melancholiese mens wat ek vandag is, sou gewees het, as ek nooit in my lewe by die lang ry garingbome aan die linkerkant van die pad, by Holfontein se plaashek ingedraai het nie.

Holfontein definieer vir my nostalgie, melancholie, en alles wat mooi is van my kinderdae. En dan bedoel ek alles.

'n Tydmasjien hoef my nie terug te neem karavaanpark langs die see toe nie, ek wil nie weer my kleuter-kinderverjaarsdagpartytjies beleef nie, hou verby. Ook die Kaap, of ek op die stoep by die huis met my arms om Boela, my hond, geslaan.

Daardie tydmasjien moet my net optel en enige, enige plek op daardie plaas neersit.

En daar kan ek dan maar sterf. Op die een voorwaarde – julle los vir my daar, dat ek een kan word met die plek, soos die stomme Drummer Hodge wat uit Engeland hier op Suid-Afrikaanseb bodem kom sterf het.

Maar ek dwaal af, my gedagtes wil al met my buitentoe, veld toe, kraal en skuur toe, en ek kuier vandag in die huis, die hartklop van die lewe op die plaas.

Van die eetkamer af, beweeg ons kombuis toe. Koolstoof en gasstoof. Ons het maar min daar gekom. Jy het nooit nodig gehad om die warmte van die kombuis te gaan opsoek nie, die kaggel in die sitkamer, wanneer dit koud was, was altyd aan.

Maar ek sien Oom Kobus weer voor die stoof staan en eiers (die plaas se eiers) bak in medium diep vet of olie – hy het die gewoonte gehad om die heeltyd die vet oor die eier met 'n lepel te gooi, sodat die eier van bo en onder gaar word en nét reg uit sy pan in die bord beland. Maar eiers bak in die pan, is al wat ek hom ooit in die kombuis sien doen het, die kombuis was die vrouens se domein.

Tannie Erikas se heiligdom was egter die spens, wat toegesluit gehou is met 'n sleutel wat sy by haar gehou het. k was in my ganske lewe miskien drie of vier daar in (miskien was ek nie eers daar in nie, en het ek net nuuskierig by die poorte van die hemel ingeloer.

En al wat ek onthou is nette, wat soos 'n sambreel oop en toe vou, oor die oggend tee se soet dingetjie, of die middagkoffie se ander soet dingetjie. Daar was ook bottels ingelegde vrugte (en dan hoef ek nie sê van waar die vrugte gekom het nie).

Dit was van kleins af opvallend dat Tannie Erica groter gebou vir iemand wat nooit ooit tweede porsie van al haar lekkernye nuttig nie. Ek het hier op hoërskool tot die gevolgtrekking gekom dat sy al die tweede porsies wat sy kombuis toe stuur en in die spens toesluit, alleen geniet het in die middae wat ek op die probeer slaap het, en my eintlik net verlustig het in die klanke van die duiwe, die wind, die peperbome en die windpomp.

Op pad kombuis toe, uit die eetkamer, was daar twee deure wat ook altyd gesluit was. By die een deur was ek nooit in. (Miskien verbeel ek my selfs net dat daar twee deure was.) Oor die deur waar ek wel een of twee keer in was se sleutel, het Oom Kobus gewaak soos Tannie Erica en die spensdeur, en Cerberus en die toegang tot die onderwêreld.

Kartonne sigarette (Renbrandt van Rhyn – toe ek jare later begin rook het, was dit 'n tyd lank Renbrandt, om net een rede:  dit is wat Oom Kobus gerook het.), bottels Vaaljapie, die koeëls en gewere vir wanneer ons gaan jag, geld, die plaas se boekhouding... Hoe sal ek weet wat alles, ek stel my maar voor.

By die kombuisdeur uit, oor die stoep waar die hond by die huismense se gangdeur gewag het, was 'n vier, of vyf of ses buitegeboue met 'n wye stoep.

Van Oom Anneries se kamer het ek reeds vertel, dan was daar die vleiskamer(s), die stoorkamer, die pakkakmer. Hier waar die ys-en vrieskaste (gas natuurlik) gestaan het. Een van hulle was ook my skatkamer: die kamer met die rak waarop Tannie Erica en die dogters se fotoverhale gebêre is. Maar nie net die Saal 13’s en Jong Dokter Brand’s nie, ook Grensvegter Rocco de Wet, Ruiter in Swart en elke ander fotoverhaal wat ooit in die geskiedenis van Afrikaanse fotoverhale uitgegee is. Ek het hulle oor en oor gelees – by die huis kon Ma en Pa my verbied om die goed te lees, by Oom Kobus-hulle het ek dit eers skelm gedoen, maar later soveel selfvertroue gehad dat ek nie eers meer 'n front voorgehou het nie.

Dan was daar 'n motorhuis met staanplek vir 'n rits motors, maar ek kan my nie onthou dat ek ooit binne in die motorhuis was nie. As ons daar aangekom het, het ons voor die huis gestop, die tasse is afgedra en iemand anders het die motor in die skuur gaan parkeer. Ry ons dorp toe, het Oom Kobus die motor voor die tyd uitgetrek.

Maar neffens die motorhuis was 'n buitegebou met drie of vier deure. Ek het letterlik sestien of sewentien geword voor ek een dag agter die kap van een van hierdie deure se byl gekom het: dit was soos die spens – nog een van Tannie Erica se wegsteekplekke. Dit was 'n voorraadstoorkamer. Ek het die idee gekry dis daar waar die groot sakke meel en suiker staan, en ook wat ook al op groot maat aangekoop is.

Die nuwe skuur, die kraal, die ou skuur waar die skaapvelle ingesout is, die soutbos, die populierboom, die pan, die dieper pan, die motorbegraafplaas of skrootwerf, die skooltjie, die jag, die koue, die fietsry oor die ganske plaas, is elkeen 'n hoofstuk op sy eie – en ek dink baie vinniger as wat ek met twee vinger kan tik - my gedagtes, wat so agteruit beweeg, beweeg voor my vingers uit en gaan kuier op plekkies van die verlede waar die vingers en die sleutelbord nooit by sal kom nie.

(Suiwer ter wille van myself – ek kan nie dink dat enige mens tot hier sal kan lees nie – moet ek neerskryf, sodat ek nie vergeet nie:  seep kook op agterplaas se binneplein, slagblok, melkkamer, tennishuisie, tennisbaan, dam cum tuinhuisie, hoenderhok...)

5.10.11

Gietvorms wat vorentoe vat


Toe Christa McAuliffe destyds (vandag ook al meer as 25 jaar gelede) 73 sekondes na die tiende lansering van Challenger-ruimtetuig haar dood ontmoet het, het hier in Suid-Afrika, waar daar nog altyd gespot was met onderwysers se karige salarisse in vergelyking met die werk wat hulle lewer, 'n eenvoudige ou grappie die ronde gedoen.

Presies hoe dit gegaan het, kan ek nie onthou nie, maar dit het daarop neergekom dat dit honderd persent te verstane is dat die Challenger, met die eerste onderwyser ooit in die ruimte aan boord, toe nooit by die ruimte sou uitkom nie – geen onderwyser kan ooit toegelaat word om sulke hoë hoogtes te bereik nie.

En vandag, die dag waarop onderwysersdag internasionaal gevier word, dink ek toe nou weer aan haar. Allermins nie aan die grappie nie – my selfbeeld as onderwyser maak dit vir my onmoontlik om met sulke grappies oor my professie te identifiseer; ek weet van beter en meer, ek weet welke hoogtes en diepste, buitenste, omvangrykste, ongebaande ruimtes 'n onderwyser binnedring. Nee, ek word herinner aan die woorde wat sy op haar bagasie en ruimtepak aangebring het:  “I touch the future – I teach.”

En dis presies wat ek nou vir 24 jaar al doen. Dis 'n ongelooflike voorreg wat my te beurt geval het.

Woorde waarvoor sy as ruimtevaarder, en nie as onderwyser nie, onthou word, is: “What are we doing here? We’re reaching for the stars.”

En dis wat ek as onderwyser ook doen, if not reaching fór the stars, then óút tó the stars.

Ek weet na 24 jaar nie hoeveel super novas ek aangeraak het nie, maar in 'n sin, iewers, is bykans elkeen, op sy of haar manier, 'n ster gewees.

Ek weet van 'n hele paar sterretjies wat ek aangeraak het, wat onderwysers geword het, nie onderwysers nie, onderwyssterre wat elkeen op hul beurt weer die toekoms aanraak. Maar daar is baie ander, baie ander waarvan ek nooit eers sal weet nie.

En natuurlik maak ons droog ook, en anders as dokters wat hul foutjies begrawe, stuur ons ons mislukkings die toekoms in.

Daarom dat ek elke onnie vandag weer eens wil herinner aan G.A. Watermeyer se lieflike opdrag.

En waar elkeen nie noodwendig meer sy sterk nasionalistiese sentimente deel nie – kyk daar verby, laat die man dan met onderysershart, en nie noodwendig jou Afrikanerhart nie, praat.

Hy praat met onderwysershart, én my Suid-Afrikaner-hart as hy skryf:

Gietvorms

Gietvorms van ons jeug, ons vra
dat julle skouers breed moet dra

jul bou met meer as staal of steen,
ons volkswees wentel om jul heen.

Aan julle is daar mag gegee
bo dié wat wet of vonnis smee:

mag van die liefde, mag van vrees,
mag oor die wording van die gees.

Bo die struktuur van been en bloed
staan jul gestaltes in die gloed

van ewigheid, wat om die mens
se innerlike wese grens;

agter bewussyn van die brein
skemer die siel se teerder grein.

Wat julle wond, word nooit meer heel,
wat julle sterk, staan stoer verseël

teen ruk van elke later wind
om rigting teen die son te vind ...

Gietvorms van ons jeug, ons vra
dat julle harte deernis dra;

jul bou met meer as staal of steen,
ons volkswees wentel om jul heen.

G.A. Watermeyer

Vir my 'n lekkerte om onderwysersdag 2011 in die geselskap van onderwysers deur te kan bring, nie waar nie, op Bloemfontein, by Grey Kollege, besig met verryking aanbied in die nuwe onderwysdinge wat die regering vir ons uitgedink het.

Vir baie lê dit soos 'n berg. Maar dan is daardie berg baie soos die lat wat voor die hoogspringatleet op 'n hoogte gelê het, wat hy nog nooit gespring het nie. En dis toe hy wou opgee en nie eers probeer nie, dat sy afrigter glo vir hom sou gesê het:  maar dis maklik, gooi net jou hart oor die lat en die res van jou liggaam sal volg.

Ek het hierdie staaltjie nou al aan soveel mense (en afrigters en vaders) toegedig gehoor dat ek feit lankal nie meer van fiksie kan onderskei nie.

Tog is en bly die tipe hart waarvan hier gepraat word, die hart wat 'n onderwyser nodig het, en elke goeie onderwyser het.

Beste onderwysersdag aan elke kollega.

4.10.11

Lekker stukkie onthou

Ek en Annieka kon met niks anders as Egypt-Air Europa toe vlieg nie, want as dit al is wat jy kan bekostig, dan is dit al wat jy kan bekostig.

Ons is met rugsakke, stewige stapskoene en 'n tweemantentjie over de waters.

Outjies wat kampeer, eet kampkos, so die gasstofie is ook in.

En oor ek nie seker was of ons Suid-Afrikaanse gasbotteltjies in die vreemde beskikbaar was nie, het ek ook 'n hele spul ekstra gasbotteltjies in al wat sakkie, en tussen al wat onderbroek of kous was, weggepak gehad.

Synde in die onderwys met 'n eksamen agter die rug die dag toe die skole sluit, moes alle vraestelle voor ons vertrek klaar gemerk wees.

Dit het tot gevolg gehad dat ons ons rugsakke 'n hele week voor ons au revoir klaar gepak en in die gereedheidshouding in die gastekamer staan moes maak.

Op die lughawe gekom, is dit duidelik – geen gasbottels op 'n vliegtuig nie. Ek skroef af (want die stofie moet saam – daar’s nie geld om in vreemde eenhede, met 'n swak wisselkoers, piksplinternuwe gasstofies te wil staan en koop nie.

Ek krap ook tussen die onderklere op soek na die spaar gasbottels.

Maar dis 'n week nadat ons alles gepak en staan gemaak het, en behalwe dat ons nie kan onthou waar ons orals van die goed ingeprop het nie, kan ons nie eers onthou hóéveel van die goed tussen die twee rugsakke versprei is nie.

Die heeltyd knaag dit in my, maar ons sit af Wimpy toe om oulaas saam met vroulief se ouers 'n koffietjie te drink.

En my koppie was nog nie koud nie, om die waarheid te sê, die koppie was nog nie eers leeg nie, toe weet ek – daar is iewers in ons bagasie nog 'n gasbottel.

Ek en Annieka hol af na daar waar ons die rugsakke gegroet het, maar dis te laat - die vervoerbaan het dit lankal na iewers geslurp waar ons nie meer daarby kan uitkom nie.

Ons kry herhaaldelik die versekering dat ons nie bekommerd hoef te wees nie – die tasse word aan metaalverklikkers blootgestel wat die gasbottels, sou daar wees, beslis sal opspoor.

Ek wonder in die tussentyd natuurlik hoekom gasbottels verbode sou wees...

... en kom tot die gevolgtrekking dat hoogte bo seespieël die vark in die verhaal moet wees – so hoog in die lug neem die druk in die botteltjies dalk so toe, dat dit sommer summier in die bagasieruim ontplof. Hierdie ontploffing ruk 'n gat in die romp van die vliegtuig, en na die bagasie uitgevlieg het, word ons passasiers ook, soos in die fliek Airport ’79, die lug ingesuig – dis nou ás ons nie almal klaar met die eerste aanvanklike ontploffing van die bottel, die ewigheid ingestuur is nie.

'n Tweede en selfs 'n derde beampte in uniform verseker ons egter dat ons maar kan ontspan en die vlug moet geniet – ons veiligheid is in hul bekwame hande en die grondpersoneel sou die sakke lankal van enige gasbottels, as daar wel was, gestroop het.

Behalwe dat ons nie duur lugrederye kon bekostig nie, kon ons ook nie van duur reisburo’s se dienste gebruik maak nie.

Ons reisburo het ons verseker ons het nie visums vir Egipte nodig nie – ons is in transito en sal toegelaat word om die ses ure wat ons vir 'n aansluitingsvlug moet wag, in Kaïro se waglokaal deur te bring.

Wat ons, en hulle, egter nie geweet het nie, was dat Egipte se toerismebedryf 'n vreeslike knou toegedien is deur die een of ander toersite-aanval van 'n ekstremistegroep. Om hul beeld te probeer herstel, het hul departement van  buitelandse (miskien is dit binnelandse) sake, geld bewillig om al wat transito-reisiger is, op 'n gratis stadstoer te trakteer.

Al wat kombi-bestuurder is, kon hom uitgee as toergids, dan laai hulle jou in die kombi, prop jou 'n heerlike mango-drankie in die hand en vat jou Cheops toe, papirusfabriek toe, en na die een of ander parfumerie toe.

En aan die einde van die dag betaal die regering jou per toeristekop wat jy aan Kaïro se vreesaanjaende stedelike verkeer, en burgerlik-totaal-en-al-ongehoorsame-verkeersoortreders, uitgelewer het.

So gebeur dit toe dat die entrepreneurs wat gereed gestaan het vir vlug so-en-so-vanaf-Johannesburg se transito-reisigers my en Annieka onder geen omstandighede in die lughawe se waglokaal wou hou nie. Hulle wou ons summier in een van hul onpadvaardige omgeboude paneelwaentjies prop sodat ons foto’s van die tannie sonder haar neus kan neem, hopelik ook 'n geldjie op ʼn parfuumpie uitgee en met 'n papirusprentjie styf opgerol in ons reistasse verder gaan. En dan beskaam die hoop nie dat ons straks 'n volgende keer van Kairo 'n oornagstop maak nie.

So desperaat was hulle, dat hulle, omdat hulle ons nie sonder visums langs die normale kanale by die deur uit en in die motor kon kry nie, hulle besluit het om ons letterlik by 'n sydeur uit te smokkel.

En so korrup is die beamptes, dat hulle dit toegelaat het.

Al wat ons moes doen was om ons paspoorte vir die een of ander Ahmed (elke tweede, derde Egiptenaar, vermoed ek, is 'n Ahmed) te gee. Ons kan dit dan later weer by die een of ander kantoor optel.

Ek was 'n wrak – tien minute later was ek en my vrou twee paspoortlose onwettige immigrante in 'n vreemde land. Hulle kon, vir al wat ek weet, van Annieka 'n seksslaaf maak, my inspan om matte te weef – en ons kan niks doen nie, want ons is identiteitloos en onwettig in 'n Afrika-land.

Die paneelwaentjie laai ons egter later weer voor die lughawe af, maar nee hulle stap nie saam nie, ons moet net by daardie hoofingang ingaan en iewers op regterkant sal ons 'n kantoortjie kry met ons paspoorte. “Just ask for Ahmed.”

Die lughawegebou (noudat ons by die hoofingang  in plaas van die klandestiene obskure sydeurtjie ingaan) herinner aan 'n baie besige Oosterse mark waarvan 'n mens in die avonture van Sinbad die seevaarder lees – net 100 maal besiger.

Teen alle verwagting in, is daar inderdaad 'n kantoortjie op regterkant wat vaagweg herinner aan die kantoortjie wat Ahmed 1 ons in die paneelwa van vertel het.

Net jammer hierdie kantoortjie is onbeman.

Net jammer hierdie kantoortjie is 20 minute later steeds onbeman sonder enige Ahmed. En ons vlug gaan vertrek.

Ek stap toe maar soos 'n skelm daar in, en daar, op 'n tafel, waar enige een in kan stap en dit steel, lê my en Annieka se paspoorte. Toe daar tien minute later steeds geen Ahmed is nie, en ek kan hoor hoe jaag ons vliegtuigenjin se revolusies op, toe steek ek my hand uit om die goed op te tel. Ek hoor al hoe gaan die alarms af, die oomblik as ek aan dit vat, ek voel al hoe sluit die koue staal van dien boeie om my polse, maar niks gebeur nie, en oomblikke later hol ek Annieka met ons gesteelde paspoorte vertreksaal toe.

Die volgende stop, voor Berlyn, is Frankfurt, maar geen aansluiting of iets nie, suiwer om enkele passasiers af te laai, en ander op te tel.

'n Halfuur word later 'n driekwartier, en ons styg steeds nie op nie. Die volgende oomblik laat hulle ons almal uitklim – ook die outjies wat nounet opgeklim het.

Ek sterf 'n duisend dode – die Duitsers het die gasbottels opgespoor en passasiers Moolman en Moolman gaan binnekort arresteer word vir stedelike terreur of aviasie-terrorisme.

Wat toe nie die geval is nie – ek vermoed Europese/Duitse lugvaartowerhede het net gesê so kan dit nie aangaan nie, hierdie vliegtuig is totaal en al onlugwaardig en van Duitse bodem styg hy nie weer op nie.

Lufthansa se outjies sal betaal om ons met luukse toerbus in Berlyn te kry, want op die wieke van Egiptiese vlerke sal dit nie wees nie.

Die een ding wat ek weet van die campingplatz waar ek en Annieka ons tentpenne moet gaan inslaan, is die feit dat hulle een ding baie duidelik gestel het:  geen  nuwe kampeerders na 21:00 die aand nie.

En dis meer as vyf ure met die bus Berlyn toe, selfs al het ons drie ure gelede al op die bus geklim, sal ons die aandklokreël nie maak nie.

Nee, vertel Ahmed 16 my, op Berlyn-lughawe gekom, moet ek net Egypt-Air se hulptoonbank kontak, Ahmed 17 sal na my omsien.

En ek glo hom. Ook vir Ahmed 18 wat, toe die luukse toerbus drie ure later opdaag om ons op te tel, die boodskap herhaal.

Heathrow slaap dalk nooit nie, maar toe ons knap na 12 die nag op Berlyn-lughawe stop, toe slaap die hele lughawe en elke denk- en ondenkbare Ahmed in 'n 600 km radius.

En toe ek weer sien, toe is Ahmed 17 van die bus ook weg, toe is ek en Annieka en ons twee rugsakke al teken van lewe om ons.

Waar en hoe ons die note in munte omskep het, weet ek nie, maar die vierde slaapplek wat ek bel is 01:00 nog wakker en laat weet sy wag op ons.

Na 01:00 in die nag is die moltreine in stad toe nie so gereeld nie, en toe ek en Annieka uiteindelik halfpad in stad toe is, toe begin die bloemin moltrein met ons reverse, terug lughawe toe.

Annieka begin huil en wil haar pa bel, nie om ons te kom help nie, maar om haar te kom haal.

Dronk Duitse jeugdiges met gate en ringe en dinge op plekke waar ek nie gedink het 'n mens gate en ringe en dinge kan hê nie, kry ons uiteindelik op die regte spoor en lyn

(Dankie tog Annieka, kan Duits praat.)

Ons stap iets voor 03:00 by die oorgewig sersantmajoor van 'n gastehuismatrone/-moeder in, stokflou en doodmoeg.

En wat is die eerste wat beide ek en Annieka raakvat, sy op soek na haar tandeborsel, ek op soek na my campingplatz-besprekingsvorm? 'n Spaar gasbottel, wat anders?





Naskrif:  Waarom nou hierdie staaltjie oorvertel? Ek is passasier in 'n luukse toerbus (overgesetsynde 28-seater taxi op steroïdes) tussen Pretoria en Bloemfontein. Ek is mos lief vir die Vrystaat, en toe ek om my kyk en die mooi omgewing indrink, toe onthou ek ons rit deur die Duitse platteland tussen Frankfurt en Berlyn. Annieka het kort voor lank langs my gelê en slaap, maar ek het elke oomblik geniet.

En so opspraakwekkend soos ons eerste dag en nag was, net so opspraakwekkend was ons laaste dag – behalwe dat ek en my vrou dit misgeloop het en benewens die tekens die laaste aand, eers die volgende dag op die lughawe en in die lug, via die Duitse koerante, van die volle omvang daarvan bewus geword het.

Ons is in München en om ons toer af te sluit sit ons ses dagreise te perd (danksy drie stedelike vervoerstelsel niks meer as 'n uur nie) uit na die oudste en eerste bierbrouery in Duitsland, gevestig in niks anders nie as 'n Middeleeuse Katolieke klooster vir monnike nie.

Toe die trein ons ounag terug op ons stasie aflaai en ons die kilometer of wat kampeerterrein toe stap, val die blare en takke en selfs stompe langs die pad ons op, maar die reent is duidelik iets van die verlede en ek en my vrou stap heerlik en gesels tot by die park – dit voel soos gister.

Daar aangekom, hang klere en slaapsakke en tente aan wasgoeddrade en oor bosse en aan takke – die ablusieblokke is gevul met nat en bedremmelde toeriste wat op die grond en letterlik in die toilette op die grond probeer slaap, Daar was 'n verwoestende storm en bykans almal se bykans alles is óf papnat óf verwoes óf so weggewaai dat hulle dit tot op daardie stadium nog nie kon opspoor nie.

Maar hoe ken jy 'n tweemantent wat 'n Suid-Afrikaner soos Hans op vreemde bodem staangemaak het. Hy staan met elke tentpen en tou intakt. Die veselglas- of plastiekgeraamte was weliswaar stukkend geruk deur die natuur, maar daarvan het ek en Annieka eers bewus geword die volgende oggend toe ons opbreek.

Maar dis eers aan die hand van die koerante wat hulle in die lug versprei, dat ons bewus word van die tornado, met bome ontwortel en mense dood, wat Berlyn die aand, terwyl ons in die buitewyke in 'n kerklike biertuin gesit en kuier het, getref het.


Many a true word spoken in jest

Tennessee Williams het op sy dag 'n drama geskryf wat begin met die woorde (iets soos):  Hierdie huis is leeg nou, vroeër was lewe hier.

Miskien is dit mense wat vroeër daar was, en nie lewe nie. Ek is nie meer seker nie, dis immers ses en twintig jaar gelede dat ek dit laas vir 'n kort ruk op baie gereelde basis gehoor het. Ek was in my derde jaar op universiteit en Williams se Vieux Carrè was ons derdejaars-toneelkundeproduksie.

Ek het gisteraand my kop met hierdie woorde wat daarin rondmaal, op die kussing neergelê, en vanoggend, toe ek my oë oopmaak, toe is dit weer die somber gedagtes waarmee ek my dag begin.

Selfs my gedagtes rondom die mag van die gewoonte, én die ongewoonte, het by hierdie toneelteks hul begin:  dit is naamlik in hierdie toneelproduksie dat ek vir die eerste keer begin rook het, iets wat, met enkele kortstondige onderbrekings elke vyf of ses jaar, vyf en twintig jaar sou duur – tot ek een Saterdagoggend verlede jaar in November my laaste sigaret ooit gerook het.

En of dit die mag van die gewoonte, of die mag van verslawing was, sal ek nie weet nie – maar dat ek eerstehandse ondervinding van hierdie mag het, is 'n feit.

Egter die mag van die ongewoonte waarin ek sedert Saterdag vasgevang is:

Ek gaan slaap selfs doelbewus aan Annieka se kant van die bed, nie net aan haar kant van die bed nie, selfs op haar twee harde kussings!

Is dit wat elf jaar van getroude lewe aan jou doen?

In elf jaar het ek nog nie een nag alleen by my eie huis geslaap nie – vanaand gaan my derde aand wees.

Vanoggend in die bad toe mis ek die stroopsoet (eintlik sleg van soet) koffie wat sy oggend na oggend op die rand vir my neersit.

En dat ek so sleg geword het!

Sondagmiddagete iewers na twee-uur was drie snye brood. En dan praat ek nie van 'n gourmet toebroodjie afgerond met 'n yskoue glas witwyn nie; ook nie eers van iets met grondboontjiebotter en konfyt op nie – ek praat van drie snye brood met botter op, dis al.

Nagereg was die kaas wat ek gebring het, maar te sleg was om op die brood te sit.

En dan hoef ek seker nie te noem dat aandete drie snye brood was nie. Met botter, wat anders?

Maandag se ontbyt was 'n hamburgerpastei van die vulstasie. En 'n liter melk.

En onthou, ék maak die kos in die huis – dis nie 'n geval dat Annieka my bederf en kos maak nie, en nou mis ek die kospotte van my vrou nie, geensins.

Ek het net so sleg geword – ek oorweeg dit nie meer om vir myself kos te maak nie.

Vanmiddag, toe ek 'n uitnodiging vir ete ontvang, toe aanvaar ek dit sonder enige grasie en met 'n oorhaastige ywer wat 'n blinde met 'n stok sal kan registreer.

Dan is sy hier weg sonder om te kyk of daar genoeg toiletpapier is. Ek wil haar Kaap toe bel en vra waar die ekstra toiletpapier gebêre word. Nee, ek wil haar bel en vra om vir toiletpapier te bring. (Gelukkig vertrek ons môreaand Bloemfontein toe, so wat hier is sal hou tot dan.)

Gelukkig, egter om veel meer redes as suiwer die skaarste aan witgoud, vertrek ons môreaand Bloemfontein toe:

Hierdie huis is leeg nou. Dit voel soos jare wat hier nie mense in hom was. Ek hoor dakbalke snags kraak. Ek is bewus van vertroostende geluid van die voëls wat af in die gang, in die kombuis op hul stokkies hul vere reg skik en skud.

Die mooiste, en mees vertroostende geluid, selfs meer as die van die budgies, is die geluid van die drie honde wat soggens opstaan en hul lywe skud dat hul pelse so om hul lywe tol – die oomblik as hulle hoor ek ontset die alarm in die kamer.

Ek het vergeet hoe die lief die honde vir my is, vergeet dat 'n man se hond sy enigste en beste vriend is.

Die musiek in die kar is tranetrekkers: die allerweemoedigste kombinasie van kerkorrel en konsertina.

Ek het voor die eerste stopstraat begin tjank op die maat van Nearer my God to thee. (En dit terwyl Nearer my God to thee een van die meer blymoedige snitte op die CD is!)

Miskien het ek gehuil oor die handdoek wat vanoggend, toe ek klaar in die bad was, nie in die badkamer was nie. En ek kon nie vir Annieka of Klaradyn roep om vir my een te bring nie.

Ek het selfs, nou dat Annieka nie hier is om daaroor te kla nie, nie my bondeltjie vuil klere net so op die grond langs die bad in die badkamer gelos nie – ek het gestap en dit in die wasbalie gegooi.

Ek slaap môreaand in Bloemfontein, Woensdagaand in die Kaap en Donderdagaand in Durban, maar ek gaan nie nou pak nie. Ek sal dit more doen.

Ek sal 05:00 as die wekker afgaan (of 04:00 of 03:00 as die balke my wakker kraak en ek 'n halfuur later steeds oopoog na die dak staar) opstaan, 'n reistas in die garage gaan soek, en begin pak.

Ek sal 'n warmte oor my hart voel spoel as ek hoor die honde hulleself reg skud om my te begroet.

Ek onderneem selfs om môreoggend vir myself 'n koppie koffie te maak. Ek vermoed ek sal, ter wille van die gewoonte en in tere herinnering aan my vrou wat daai tyd nog in die Kaap lê en slaap, twee opgehoopte teelepels suiker ingooi.

Maar nie nou nie, nie vanaand nie – ek gaan nie eers koffie maak nie.

Ek gaan nou in die koue onpersoonlike bed klim, en ek gaan iets doen wat ek nooit doen nie – ek gaan, na ek myself in die fetusposisie opgekrul het, my kop onder die komberse toetrek.

Ek kan op hierdie oomblik aan niks lekkerders dink om te doen nie.

Op hierdie oomblik is dit die lekkerste ding om te kan doen.

2.10.11

'n Hart loop oor


Daar is toe nou vandeesmaand meer trane as verlede maand hierdie tyd en is dit amper soos met dood in die familie, net bietjie erger.
Die eerste aand in ons getroude lewe wat ek en Annieka nie onder dieselfde dak, in dieselfde kamer en dieselfde bed ons koppe op die kussings neergelê het nie, was die nag voor Klaradyn se geboorte.
En is dit nie ironies nie? Om ons kind, die kroon van ons verhouding, in die lewe te bring, moet ons die verhouding in 'n sekere sin skaad deur vir die eerste keer in hoeveel jaar nie myle uit mekaar te gaan slaap.
Ek sal dit in my lewe nooit vergeet nie – hier moet ek my vrou die aand 19:00 by 'n hospitaal inboek sodat hulle haar in gereedheid kan bring vir die geboorte. Dit terwyl ek die volgende drie nagte wel by haar en Klaradyn in die hospitaal deurgebring het – ek het vir ons 'n gesinsuite bespreek. Hierdie betrokke nag was egter 'n perd (kamer) van 'n ander kleur.
In retrospeksie was die klein opoffering in ruil vir klein Klaradyn wel die moeite werd en het ons baie meer gewen as wat ons verloor het, maar tot hierdie insig kan slegs gekom word wanneer jy ses of sewe jaar later terugkyk.
En dan is dit ook seker een groot vet lieg; dis eerder ses of sewe weke, en nie maande of jare, indien nie ses of sewe ure nie, later.
So, dat ons gesinnetjie redelik geheg aan mekaar is, is 'n feit, iets wat afgeskop het met 'n bemoeisieke pappa in 'n hospitaalkamer.
Vier of vyf jaar sou verby gaan voor die tweede en derde geleenthede hulself voorgedoen het wat my en die girls in verskillende provinsies in die bed had – my werk het my twee keer in Bloemfontein, Durban en die Kaap gehad. Een keer ook elders in die res van die land vir 'n nag of wat.
Daarna het ek selfs die stoute skoene aangetrek om op twee geleenthede vir 'n nag op die manspersoneel se mannekampe of –naweke te gaan.

En al slaap ek partykeer deesdae gereeld op die matjie langs die bed, of as dit baie sleg gaan, saam met die honde op die matjie voor die voordeur, is dit darem ten minste nog in die onmiddellike omgewing van my lief en dierbare vrou en kind.
Maar toe word ek gister graswewenaar vir een, twee, drie, vier, vyf, sés nagte.
Ons is nou halfpad met die eerste een, en hier sit ek en tik terwyl die res van die land slaap.
Annieka sien vir weke nou uit na die eerste ordentlike reënbui van die seisoen, en toe hy uiteindelik rondom 02:00 op ons uitsak, het hy my dadelik só wakker dat ek sonder 'n lyf in die bed om teen aan te lé, beslis nie weer sal slaap nie.

En daar mis sy hom nou, want sy sit in die Kaap.
Enige iets na 02:00, met die donderweer beslis, sou Klaradyn ook by ons aangesluit het – ek dink ek kan die nagte waarsonder ons soggens met Klaradyn, wat iewers deur die loop van die nag by ons aangesluit het, wakker word, op een of twee hande tel.
En die oomblik wat hierdie gebruik van my kind my begin pla, dan hoor ek weer ons vriendin vertel hoe sy wat sal wil gee as haar jongste seun tog net nog een maal so in die nag by haar en haar man kan aansluit, hoe sy nooit spyt sal wees dat hulle dit toegelaat het nie, dan sien ek weer haar wit hande, krampagtig uit lang swart moue, om 'n kinderkissie vou, met haar man nog in die hospitaal – en dan skuif ek op, lig die komberse, en maak plek vir Klaradyn tussen my en Annieka.
Toe kom die nuus, iewers vroeër in die jaar, dat Pappa die Oktober-vakansie weg van die huis gaan wees met werk.
En dit wat Mei-maand soos 'n week geklink en gevoel het, word toe op die ou einde, streng gesproke, net drie nagte weg van die huis af.
Maar teen daardie tyd het ons lankal begin uitsien na die week waarin Mamma en Klaars saam met Oums en Oups afvlieg Kaap toe om vir Ouma-Kapie, ook al in die negentigs, te gaan kuier.
Toe D-dag toe nou uiteindelik gister aanbreek, was die –d van daardie dag darem toe nou vir jou 'n vreeslike groot en dik vet swart hoofletter gewees.
Vir ons almal het die gedagte aan ses nagte van bed en tafel geskei, skielik vreeslik lank begin voel.
Saam met Klaradyn het ek skelm vir Mamma 'n liefdesgeskenkpakkie ingesluit, en saam met Mamma het ek vir Klaradyn, weliswaar nie 'n presentepakkie vir elke dag nie, maar darem 'n persoonlike liefdesbriefie vir elke dag.
As kinders se leesvaardigheid,. iewers deur die loop van graad 1, eers met mening inskop, het ons agtergekom, is daar vir hulle niks lekkerder as om te lees nie. Die laaste ruk kry Klaradyn elke dag 'n persoonlike liegfdesboodskappie van Mamma en Pappa wat ek in haar kosblik sit, om te lees.
Gister verander ek dit met die oog op die maandelange weeklange vakansie na briefies, nie van Pappa én Mamma nie, maar bloot van Pappa:
Pappas se dogters is soos blomme – dit maak die hele wêreld mooi lyk en lekker ruik en goed voel.
Soos 'n roos tussen 'n land vol baie dorings, so is my dogter vir my.
Sonder 'n dogter soos Klaradyn, was my lewe leeg.
Hierdie pappa se grootste skat is sy dogter, Klaradyn.
Die grootste geskenk wat liewe Mamma my ooit gegee het, was klein Klaradyn.
Klaradyn kan dalk eendag te groot word vir my skoot, maar sy sal nooit te groot wees vir my hart nie.
Hiervan weet of vermoed die kind hopelik niks.
Maar sy weet van Mamma se pakkie in haar tas. (Het sy nie ses keer vir Mamma gesê dat daar nie meer plek vir 'n enkele ding in haar tas – veral nie heel onder in haar tas – is nie? Het sy nie ses keer genoem dat Mamma regtig nie nodig het om haar tas nog een enkele keer oop te maak nie?)
So iewers in die laaste uur voordat Ouma en Oupa hier gestop het om hulle op te tel, het Klaradyn in 'n onbewaakte minuut of wat, die hartjie hier bo vir haar pappa gemaak.
En daar stuur sy vir my en haar ma totaal oor die rand toe sy dit onder die vrugtebak uithaal, my om die bene gryp en die kaartjie vir my gee.
Ek het op 'n vorige geleentheid agtergekom dat die woorde marry me please vir haar die hoogste en suiwerste uitdrukking van die hoogste en suiwerste vorm van liefde is. En toe kry ek dit gister weer.
Daarom dat ek die waarheid praat, elke woord bedoel en nie 'n enkele een lieg nie as ek sê:  Pappas se dogters is soos blomme – dit maak die hele wêreld mooi lyk en lekker ruik en goed voel. Soos 'n roos tussen 'n land vol baie dorings, so is my dogter vir my. Sonder 'n dogter soos Klaradyn, was my lewe leeg. Hierdie pappa se grootste skat is sy dogter, Klaradyn. Die grootste geskenk wat liewe Mamma my gegee het, was klein Klaradyn. Klaradyn kan dalk eendag te groot word vir my skoot, maar sy sal nooit te groot wees vir my hart nie.
Met 'n Annieka wat van tyd tot nog steeds ons stoele in gevaar sit om haar op my skoot tuis te kom maak, weet ek in elk geval nie of my skoot ooit te klein gaan word vir én my vrou én my kind nie, wat nog te sê my hart.