Pages

27.9.11

Ek het hom by die werk aan die werk gekry

Ek bedryf nou 'n sywurmboerdery vanuit my motor.

Klaradyn het drie van die goedjies present gekry. Haar eie boks met eiers het onder misterieuse omstandighede van die rak in die motorhuis, waar ek en sy dit self gesit en amper 'n jaar lank opgepas het, verdwyn. Laat ek dit eerder stel:  onder misterieuse omstandighede en veelseggende trekke om die mond van Annieka se kant af.

Die drie sywurms het my herinner aan die kennisgewing in 'n vol gepakte winkel, miskien het ek al daarna verwys: unattended children will be given espresso and a baby rabbit to take home.

Sonder 'n boom, stop ek nou elke oggend af in die straat en pluk 'n paar blare, maar oor ek die goed dan moet voer, is dit beter ek hou die wurms in die motor. Ek los selfs die venster op 'n gleufie oop en sorg dat ek nie parkeer as dit nie in die koelte is nie.

Toe laat val Jonathan Jansen gister (ook al meer as 'n week gelede, maar ek kom nou eers weer by hierdie, een van baie onvoltooide inskrywings op my rekenaar se hardeskyf, uit) op sy bladsy die volgende:  “Letters to my children #49: the best way to achieve a balanced , unselfish life is to have your own children.” (Ek verbeel myu hy trek al by #54)

Ek lê toe ook 'n eier maar practise toe mooitjies in die proses presies die teenoorgestelde van dit wat ek my leerders altyd preach. (Don’t do as I do, do as I tell you to do.) Werk ons rondom 'n brief aan die pers, waarsku ek hulle altyd daarteen om tog nie presies dieselfde kwyt te raak wat reeds in die berig/brief waarop hulle reageer, kwyt geraak is nie. Waarom sal die redakteur immers koerantspasie afstaan aan 'n skrywe wat onder die son niks nuut kwytraak nie.

Maar in die sosiale media is daar nie 'n redakteur wat redigeer en kortknip nie en my eiertjie sal tot wie weet wanneer daar bly:  “Hoe vreeslik waar is dit nie.”

Op daardie oomblik, toe ek sy opmerking lees, het ek net so sterk daarmee identifiseer, dat ek nie anders kon as om op die een manier te beaam nie. En my kommentaar was die beste waarmee ek op in daardie stadium en met die tyd tot my beskikking vorendag kon kom. Siestog.

Dit was natuurlik nie die eerste keer dat hierdie woorde my ore bereik het nie. Ek het dit al vantevore, by herhaling aangehoor, in ander woorde miskien, maar steeds dieselfde boodskap.

Hoe selfsugtig, selfgesentreerd, egosentries en egoïsties ek en Annieka voor Klaradyn alles, en dan bedoel ek ALLES, deurmekaar kom krap het, sal ek nie weet nie.

Maar dis 'n feit dat nóg ek, nóg Annieka ons vorige wederhelftes geskei het, voor ons met mekaar getrou het. En hoewel daar nie sprake van veelmannery en –wywery sprake kan wees nie, is ons al twee met derde partye in ons huwelik in.

Voor ons huwelik sou Annieka kon deurgaan as Mej. Annieka Hoërskool Staatspresident CR Swart en ek as Mnr. Hans Jurgens Moolman Menlopark. Na ons huwelik het sy bloot Mev. Annieka Moolman Menlopark geword, en ek het onveranderd gebly – 'n man verander mos nie van van nie.

Die huweliksbootjie waarin ek en sy beide met ons werk was, was wonderlike bootjies – die roete wat ons gevolg het, was ook sonder enige gevaar:  nêrens was daar rotse waarop die huwelik kon loop nie. En soos die Titanic kon die bootjie nie sink nie.

Anders as die Titanic, hét hy ook nie gesink nie.

Dis nou tot Merrieperd Klaradyn Moolman op 30 Augustus 2004 by ons aangesluit het.

Niks was daarna ooit weer dieselfde nie – die meeste daarvan natuurlik positief.

Behalwe dan nou enkele klein veranderinkies wat by die werksplek ingetree het.

Kyk, ek is mos vir jare een van daardie onderwysers gewees wat, as die skool in die eksamen vir drie weke 12:00 uitkom, ek vir drie weke by die skool sal bly tot 14:00 – dit terwyl die meeste personeel wat na 10:30 nie meer toesig het nie, teen 10:31 al kilometers in die straat af of in die koffiewinkels en malls was.

Ek verbeel my ek het in die eerste 18 jaar van onderwys MISKIEN een keer in skooltyd in my motor geklim en skelm afgery kafee toe om sigarette te koop. En ek het dit daarna nooit weer gedoen nie. Want ek was 'n wrak, natuurlik! Wat anders?

Sê nou hulle vang my uit! Sê nou ek kom iets oor en ek was nie by die skool nie. Sê nou die Engel van die Here kom om my te haal en hy kan nie by die hemelpoorte van my getuig dat hy my in die tuig aan die werk by my werk gekry het nie!

Dit kan mos nie.

En daar klim ek vanmiddag 13:20, enkele nanosekondes na die klok vir die aanvang van die laaste periode gelui het. in die motor en verlaat die skoolterrerin sonder om iewers toestemming te vra of kennis te gee van my voorneme om die skool voor die einde van die skooldag te verlaat.

Kolegas wat my goed ken, weet dit is geensins in my aard om so iets aan te vang nie, nie Hans nie, enige iemand anders.

En daar is net een rede voor:  Klaradyn.

Die hoof het na 18 maande, spottendergewys – and many a true word spoken in jest – genoem dat ek nie eers 'n skadu meer is van die arbeider wat ek was voor ek Pa geword het nie.

Maar Klaradyn het vir swemles gegaan en ek wou die juffrou uitkyk om self agter te kom of sy so oulik is soos wat almal sê.

Ek het toevallig die laaste periode nie klas gehad nie en besef dat ek by die les sal kan insit as ek my ry gou genoeg kry en daar val niks voor nie.

Ongelooflik hoe vinnig nie net ons vooropgestelde idees rondom ons werk nie, maar selfs ek en Annieka self, gekrimp het tot bykans niks na die geboorte van die merrieperd nie.

Dat so klein bondeltjie lewensvreugde so veel ruimte kan inneem. Daar is soveel toegewings wat 'n mens langs die pad maak (die groot badhanddoek, die laaste slukkie melk, die laaste R200-00, die eerste Japonica, noem maar op, die lys sal oor bladsye strek) dat 'n mens, onder aansporing van Jonathan Jansen, nie anders kan nie as om te dink:  “Liewe maggies, maar ek was 'n selfsugtige wese, ek en my dierbare vrou was van die selfsugtigste wesens denkbaar, voor die koms van ons kleinding.”

Ons kind is waarlik vir ons 'n seën.

En as die Engel van die dood my kom haal, laat hy nie meer eendag nodig het om te rappotrteer dat hy my aan die werk by my werk gekry het nie; mog hy eerder kan laat val dat hy my in bemoeienis met en gedagtig aan my geliefdes opgespoor het.

Nog een wat ek soos gisteraand s'n af moes jaag, maar hy lê nou al so lank dat ek een van die dae nie eers meer die hooftrekke van dit wat ek in gedagte had, sal kan aanvoel en onthou nie. Die hoofgedagtes, verbeel ek my, skemer steeds deur. En ek moet buitendien nou ry – as alles goed gaan het die goed begin spin; so nie, moet ek nog stop vir padkos langs die pad ook.

26.9.11

Kos is nie sommer net kos nie


Vir my sal kos nooit in der ewigheid sommer net kos wees nie. Met die beste wil op aarde sal dit nie sommer net kos kán wees nie – nie vir my nie, ook nie vir my broer nie.

Hoe lank my pa met my ma getroud was voor kos ook vir hom 'n ander gedaante aangeneem en nuwe betekenis gekry het, sal ek nie weet nie, maar dit hét.

En dan gaan dit nie daaroor dat Judy van die mans in haar lewe lekkerbekkige smulpape gemaak het nie, nee, geensins – Judy kon jou 'n appel in 'n bordjie met 'n messie en jammerlappie aangebied het, en dit was asof jy pas 'n geskenk van die gode ontvang het.

Jy kon weet sy het minstens drie of vier appels ondersoek en opgeweeg om die een wat na haar oordeel die geskikte een vir jou sal wees. Die gekose een is dan nie net gewas en gedroog nie, dit is blink gepoets op so 'n wyse dat jy dit reeds met jou oë kon begin geniet, selfs nog voor jou hand 'n mes, of jou mond 'n tand daaraan geslaan het.

Dan ook die regte messie.

En om alles af te rond, dan die nat jammerlappie.

Dan praat ek nie van 'n muwwerige smetterige vadoek vol van drie weke se vuil skottelgoed en skottelgoedwater nie – ek praat van 'n kraakvars jammerlappie.

Ek mis dit seker al ses of sewe jaar, ek lieg, seker amper agt jaar. Maar ek mis dit die afgelope 3 weke meer.

Kosmaak was nie sommer kosmaak (moer in 'n pot en sit 'n deksel op nie) nie; kosmaak was liefdesdiens en offervaardigheid by uitnemendheid.

Sy sou geen, maar geen, moeite ontsien nie.

Sy sou geen, maar geen, kortpaaie neem nie.

Met haar kos, hoe nederig en beskeie, hoe rojaal en overdadig ook al, het sy kommunikeer:  ek is lief vir jou, jy is vir my spesiaal, dit is vir my een groot voorreg en vreugde om hierdie vir jou voor te sit en met jou te kan deel.

Sy sou twee dae na mekaar om 03:00 opstaan om in die kombuis doenig te wees – hoe ouer sy geword het, hoe langer kon dit neem.

Na 75 kon sy haarself siek en doodmoeg kosmaak. Dan kom ons op 'n Sondag daaraan en dan is Judy nie 'n skaduwee van wat sy kan wees nie – dan weet ons sy het twee of drie dae aanmekaar gekook.

In die laaste jaar voor hulle ouetehuis se versorgingseenheid toe is, het ons doelbewus nie laat weet as ons kom nie, vir Oom Jack gevra om dit geheim te hou – sodat ons lekker met die ou vrou kon kuier en meer van haar kon hê.

En wanneer dit sommer pot luck was wat jy by haar geniet het, was dit met soveel liefde berei en voorgesit dat ook dít vir konings geskik was.

En wat Judy met haar kos suggereer het (haar liefde en jou spesiaal wees) het sy met die voorsit en bediening uitgespel – haar lewe lank. Tot sy nie meer kon nie. Al wou sy. En het sy steeds probeer.

Blomme, servette, silwer gepoleer. Nie die tweede beste skottel nie, die beste. Die tafeldoek gestryk.

Ag, en nou het ek en Jac baie daarvan in ons, dit wat nie in die gene aan ons oorgedra is nie, is met verloop van amper vyftig en amper sestig jaar se langdurige blootstelling aan ons afgesmeer. En dit sit.

Vergeet die bediening en voorsit, dis bloot goeie maniere – ek praat veral van die feit dat kosmaak veel meer as sommer net kosmaak is – dis offer, dis gee van jouself, dis sê: ek is lief vir jou, jy is vir my spesiaal, hier, neem my, maak met my wat jy wil ek is joune.

Dis liefdesbetuiging aan jou wederhelf, jou kind en elke kraai wat kom inloer.

Daar is vir my niks so lekker om soggens Klaradyn se kospakkie te maak nie. Ek is soms na 20 minute skoon moeg en uitgeput gekommunikeer aan net een ding – ek is lief vir jou my kind.

En omdat 'n mens nie van liefde en water alleen kan leef nie, moet ek vir my en Annieka ook soggens iets saamslaan.

Maar omdat ek soveel kommunikasie in my kospakkies pomp, kom daar periodiek 'n geneuk – daar is oggende wat ek nie kospakkie wíl maak nie.

Of ek begin van 17:00 af voorberei en gesels aan 'n heerlike aandete. Dan gooi Klaradyn die kar om deur dwars of sommer net oormoeg te wees. Dan wil ek nie meer kosmaak nie, dan wil ek die kos nie voorsit of selfs my mond daaraan slaan nie.

Dis dan, soggens om 'n kospakkie, of saans om die etenstafel dat ek dan versoeningswoorde in my kos moet lê. Natuurlik wil ek nie altyd nie. Natuurlik is dit nie altyd maklik nie.

Maar wat ek in woorde nie kan uitdruk nie, kon 'n porsie kos nog altyd oordra, selfs 'n appel in 'n bordjie met 'n messie.

Dan noem ek kosmaak danksy Judy ook 'n offer, en 'n opoffering.

Niks illustreer dit beter as die druiwe en sjokolade van die afgelope week of wat nie.

Daar is druiwe op die rak, alles ten duurste ingevoer uit die buiteland. Vir myself sal ek dit nooit koop nie. Vir Annieka ook nie. Vir Klaradyn wel.

Dan betaal ek R36-00 vir 'n tros druiwe wat my ander tyd van die jaar R6-30 sal kos. Dan kry Klaradyn elke korrel daarvan in haar kosblik (gewas en drooggeskud en in mini-trossies geknip).

En ek weet, as die tros klaar is, nie hoe dit proe nie, want ek het my lippe nie aan 'n enkele een geslaan nie.

Dis simpel, ek weet, maar dis vir Klaradyn – Klaradyn is spesiaal en haar druiwe is spesiaal.

Van die moeilikste, oor die kort termyn, rondom die dierbare ou vrou se afsterwe was dan,  soortgelyk aan Klaradyn se druiwe, die omgaan met haar sjokolade.

Ek het 'n kissie met 'n sleutel bo in haar kas gehou – hom het ek vol gehou met sjokolade en elke oggend vir haar twee gegee om te eet. Ek het ook 'n paar sjokies in 'n bakkie langs haar bed gehou – sodat die verpleegpersoneel dit kon opslurp en ek my verbeel my ma eet dit en dink aan haar kinders en geliefdes.

Dit was nie sommer enige sjokolade nie – haar gunsteling, Ferrero Rocher, kon ek weliswaar nie meer gee nie – dit het 'n neut in die middel waarin sy kon verstik, en fyn splintertjies neut wat in die voue  van die maagwand kon gemors veroorsaak.

Toe verander ek dit na hierdie peperduur Lindt-bolle/balle wat aan Kersfeesboom-balle herinner.

Daarvan het ek nooit in die bakkies langs die bed gesit nie – dit was Judy s'n en nie vir die verpleegpersoneel en verpleegpersoneelhulp nie.

En oor ek nie aldag en heeldag in die winkels rondhang nie, en die kissie waarin ek dit weggesluit gehou het, soos 'n groterige ydelheidstassie gelyk het, het ek lag-lag drie bokse van die goed daarin aangehou...

...sonder om ooit self 'n enkele een daarvan te eet.

Dis nou met die uitsondering van die een keer wat ek een geneem het omdat Klaradyn nie een wou neem voor ek nie ook saam met haar een eet nie.

Donderdagoggend voor haar dood, toe eet ons heerlik Lindt. (“Nee dankie, Ma, nie vir my nie, ek het nou net  gehad.” “Nee dankie, Ma, nie vir my nie, ek het nounet ontbyt gehad.”

Kuier ek in die siekeboeg waarin sy die Sondag opgeneem is, gaan ek eers kamer toe en bring 'n Lindt-bol of twee saam, vir haar en die ou Tannie wat langs haar lê.

Die aand voor haar dood, voer ek haar 'n bol met my gebruiklike woorde van die (voor-)laaste twee of drie weke:  “Eet tog maar 'n ietsie soets my ou vrou – die lewe is bitter genoeg.”

En toe gaan staan en sterf sy en los my met goed 24 van die bolle nog in die houte kissie.

Ek het vir Annieka gesê ek gaan dit weggooi – ek sien nie kans om dit te eet nie.

Maar ek is te suinig en my ingebore/oorgeërfde vrekkigheid laat my nie toe nie.

Ek het gedeel. Klaradyn het saans met storietyd gekry.

Miskien is daar nog in die antieke koekiehouer waarin ek dit oorgepak en langs my bed gesit het. Ek het lanklaas geloer.

Ek het self ook een of twee gehad.

Maklik was dit nie.

En ek het elke keer aan het tjanke gegaan.

Maar 'n lekker huil, was dit gewees, 'n hartseer huil, 'n huil wat jy nie omgee om te huil nie – want dis 'n huil wat sê ons is lief vir jou, jy is vir ons spesiaal. En hoe kan ons jou mis, as jy steeds met ons is.

Dat ek na die naweek nog in die lewe is, is suiwer genade. Die drie van ons is na die Gauteng Good Food & Wine Show)(of is dit Expo) toe.

Kos is mos nie sommer net kos nie, en as daar iewers 'n ophef van kos gemaak word, wil ek daar wees en my eie opheffingswerk doen.

Ek het vir die duur van die tyd wat ons daar was gepeusel, deurmekaar gepeusel.

Met padkos in die motor is ons al die pad van Johannesburg af terug Pretoria toe.

En toe het die besoek aan die kosgedoente my so inspireer dat ek vir ons drie 'n kleinerige filet berei het – nie dat hy so klein was nie, ons het Sondag nog oorskiet verwerk en geniet.

En die hoofbestanddeel, naas die beeshaas, a’la Judy Moolman, niks anders as room nie.

Ja, ongelukkig glo ek, nes my oorle ma, dat daar niks onder die son is, wat nie strate beter smaak met, nie 'n eetlepel of 'n skeut nie, maar 'n hele kannetjie room (of twee). Of dit nou bredie, biltong, vrugte, vleis, poetoepap of polenta is.

Want as jy gedink het ons Moolmans gaan op in die maak en voorsit van kos, dan het jy ons nog nie beleef as ons wegval en daardie kos, selfs al is dit 'n blink gevryfde appel, begin geniet vir wat dit is nie – 'n boodskap van liefde en gee en deel.

(Jammer ek moes aframmel en afjaag hier na die einde nie, maar die girls is klaar gebad en ons gaan nou eet. Bon apetit.)

Goed waaraan ek gedink het terwyl ek hier getik het - die meeste daarvan in Klaradyn se Voortrekker-uur - het ek al uitgesels. Ek het dit opgespoor en hier gepos.

En was ons aandete spesiaal - Klaradyn aard na haar pa/ouma. Ons het op 'n Maandagaand 'n "binnenshuise piekniek" op komberse in Klaradyn se kamer gehad. Sy het aangedra (en ons moes afdra) maar dit was heerlik gesellig.

Die drie van ons het laas so lekker op ons agteralies in haar kamer gesit en kuier, toe sy sommer nog 'n baba was - sy kon nog nie eers loop nie.

21.9.11

Kwartaal 3 se gedugte gedigte-program


Ek is baie lief vir skoolhou en die kinders vir wie ek skool hou. Partykeer kry ek die kinders egter meer jammer as wat ek vir hulle lief is, juis oor hulle met iemand soos ek opgeskeep moet sit.

Die kwartaal staan einde se kant toe en ek kyk terug op 'n wonderlike kwartaal van poësie, 'n kwartaal waarin ek die leerders uitgedaag het om talle grense te versit.

Maar ek kry hulle steeds jammer: net gister is ek by 'n handboekuitstalling oor die handboeke vir die nuwe interpretasie van die sillabus wat volgende jaar in aanvang neem. Ek maak 'n punt daarvan om te kyk na die gedigte wat in die boeke aangespreek word en kort-kort, gister, val dit my op dat die handboeke van my verwag om gedigte met die graad 10’s te doen waaraan ons die leerders in graad 8 al bloot- en bekendgestel het.

Maar terug na hierdie kwartaal en die leerders se gedigte – ons het die hele kwartaal in die Karoo gekuier, sommer vir drie gedigte op dieselfde dorp.

Ons het weggeval met twee Beaufort-Wes gedigte, so 40 na 50 jaar uit mekaar geskep. Die eerste was
NPVWL se Karoo-dorp: someraand.

Karoo-dorp: Someraand

Die laat-middag het room geword
en treine wat ver fluit
en ’n wit-bont klaas-skáwagter
wat wag-hou op ’n kluit

en rook uit die lokasie rook
en by die dorpsdam sing
en mense in tennisbroekies loop
die koper skemer in

dóér op die nasionale pad
loop motortjies onhoorbaar, hoog;
Oum-Appie-Slagkraal se ou fiets
kom staan, vanself, moeg, voor die oog.

Tant’-Tolie-met-die-kanker kom
sit op die bordienghuis se stoep:
vanaand gaan hoor ons nog hoe sy
Die Here en die uile roep.

Daarna loer ons in by Gert Vlok Nel se herinneringe wat op dieselfde dorp afspeel – en ek maak seker die kinders luister na Gert wat sy eie liedjie sing, en nie na ander weergawes wat die kinders beter ken nie. Ook wil ek die leerders bekend stel aan een van die meer vryer vrye verse wat ons in Afrikaans kry.

Beautiful in Beaufort-Wes

En jy was beautiful in Beaufort-Wes en ek was so verskrik en verskriklik lief vir jou en jy het op grafte en op treine en op Ford Fairlane se agterseats gevry en nou is jy en jou man both computer analysts en laas winter you tried to clip above your wrists en nou skryf jy vir my jy kan nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets vir jouself doen nie, nooit ooit weer vir my soen nie

En mooi mooi mooi was jou woorde ook terwyl jy menthol sigarette rook en daai sweet sweet dinge vir my se terwyl jy sweet sweet in my arms le en die presiese woorde het ek presies vergeet ek onthou net die rook en die sweet in Beaufort-Wes en jou kaal liggaam onder 'n cool summer cotton dress nie meer slaap nie, nie meer lag nie nie meer iets vir mekaar doen nie nooit ooit weer vir jou soen nie

En dis miskien soos 'n storie uit die Huisgenoot, maar jy't een aand skielik vir my weggestoot en in die rear view mirror jou gesig gekyk en gese 'miskien moet ek gelukkiger lyk' daardie aand kon ek nie aan die slaap raak nie en het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf en soos 'n roeiboot in die rivier afdryf ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets ooit reg doen nie, nooit ooit weer vir jou soen nie

En die laaste herinnering waaroor ek sing is die nag toe ek en jy die melktrein aan en aan in die nag in ry tot anderkant die ding dong gong van die breakfast waiter in die gang verby en dit was my wake-up call my lief jy't gese wees asseblief lief vir my maar ek het gedroom ons het in Beaufort-Wes gaan woon en ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer so iets doen nie,
nooit ooit weer vir jou soen nie

Toe word die kinders aan intertekstualiteit bekendgestel. Pieter Hugo tree in een van sy gedigte lieflik in gesprek met beide hierdie gedigte, en toe ontmoet die leerders hierdie man, wat ook in 'n stadium op Beaufort-Wes gewoon het, en sy gedigte:

My Beaufort-Wes – Pieter Hugo

I Vir NPvWL

ek bly daar waar
die laatmiddag nog room word
maar treine wat ver fluit
ongehoord in ou gedigte hoort

ek bly daar waar
die nasionale pad dag en nag dreun
en Gert Vlok Nel se ou fiets
soms verbyknerp vanself moeg voor my oog

ek bly daar waar prossies
sit op die bordienghuis se stoep
vanaand gaan hoor ons nog hoe
die lorriedrywers vir hul toet

II Vir Gert

my Beaufort-Wes is net
‘n verstopping op die N1

dis nie i beautiful plek waar treine eensydig
verbyswiesj na i liedjie vir koos nie
nee nee nee nie dit nie glad nie dit nie gert

my Beaufort-Wes is ‘n on-onderbroke lorriestoet wat
stop en ry en draai en toet en
exhaust brake en tjips en
diesel en meisies koop en
nagdeur op en af grom sodat
ek nie eers meer so half
wakker half iewers innie nag
ou moeë windpompe
hoenders of donkies gots is
daar nog iets wat so uit
dieptes gans verlore klink nee nie meer kan hoor nie

nie eers meer i treinerige trein kan hoor nie gert

ons Beaufort-Wes is net
‘n verstopping op die N1

Sommige verwysings in hierdie gedig verwag egter van die leser 'n wyer kennisname van Gert Vlok Nel se gedigte. Toe staan ons stil by die volgende gedig van hierdie man wat op sy beurt ook weer met NPVWL se oorspronklike gedig in gesprek tree:

die dag toe hulle vir Donkie Viviers

jou ma is dood.
by die skool.
het hy sy tas.
sy kop.
gespoeg.
& geskreeu.
& afgehol oor die groen velde van die rugby.
die totempale.
die busstoor, die hut van die vermoorde opsigter.
die xhosa-grassnyer, briljant & kru, dormant.
(sy vrou bo in die linnekamer, dom & sku, verreken.)
die wagtende ouers in motorige motors, latent.
die intriges op baisiekels, berekend.
verby bomerige bome.
toe verby my (& toe verby jou).
verby die gedig.
deur die na buite toe oop hek.
verby elsa wat haar eerste maandstonde in die biologieklas.
af in die lig straat.
verby die regop grafte.
daai een wat oos kyk.
die wat wes.
bo-oor huise strate poskantoor kerk.
die laaste stasie op die planeet, beaufort-wes.
inner inner in die skemer in.
tot in sy peperboomste peperboom.
in sy agteryardste agteryard.
& die laatmiddag het chroom geword.
& trein wat ysig fluit.

'n Mens kan egter nie jou kinders op intertekstualiteit wil wys, as jy nie jou kinders by die volgende Oudtshoorn/KKNK-gedig van Lou-Ann Stone uitgebring het nie:

Karoo-dorp: herfsaand      - Lou-Ann Stone
       na ‘n gedig van N.P. van Wyk Louw

Die laatmiddag het dronk geword
en uit tente gil dit luid
en ‘n wit-bruin rassevoorval
word uit die kroeg gesmyt

en rook uit braaivleisvure rook,
en by die dorpstadion sing
en mense in rugbybroekies loop
die rumoerende skemer in.

Dóér op die geraasplaas
loop die gemoedere hoog,
Ou-Appie-Vuiste is wéér in die koerant:
“Bekende swaai appels by die oog.”

Tant’-Tollie-met-die-kunsstreep
koop skilderye op die stoep,
vanaand praat die uile by die Boekeparadys,
Terwyl ‘n backtrack oor die koppies roep.

En omdat ons toe nou al so lank op die platteland en in die Karoo kuier, besluit ek toe om daar te bly met die volgende twee gedigte:

‘n blik op ‘n dorp - Pieter Hugo

die dorpie se vaal hoofstraat
sug stowwerig toe ‘n warm wind roer

en ‘n koeldrankblikkie so luierig
tinketing in die straat af begin rol

blikkeblinkabling verby die kraamsuster
se afgeleefde ou karretjie tingelingkelingting

verby die skool waar die verveelde kinders
amper aandagtig grinnik vir die tinkeblinkerinkink

verby kantore winkels kerk hotel al vinniger
tingtingtingtingketing die wind nou met rukke nukkerig

rakelings tingbliksing verby die regteragterwiel
van die lykswa wat statig-stadig in trurat straatin draai

gatoorkopoorkopoorkop tenketankatenketankateng
in die stofstorm bultaf dorpuit die ewige bliksemse vlakte in

En:

hoe om ’n dorp te verf

begin by die posbusse –
massiewe gholfballe, skoene, pampoene
geskakeer met fyn skadu’s van roes
verf dan die skoolbusse
skeur die banke en skryf op die dak
woorde wat rym met“oes” en “ak”
(onthou om spelfoute te maak)
skets die skoolmure na aan mekaar
om drome in te perk en daar te bewaar
teken dan ’n tandlose vrou by die drankwinkel-till
’n skoolrok by die kliniek in ’n ry vir die pil
’n beroofde bejaarde wat op ’n sypaadjie bewe
’n horlosie op ’n kerktoring sonder ’n sewe
’n kind wat rook agter ’n stegie se muur
en bergies wat baklei langs ’n uitgebrande vuur
laat alles dan verbleik en verweer
spoeg op die sypaadjies
boor gate in die teer
en herhaal
’n paar honderd maal
Herhaal

Annie Klopper

Naas Gert Vlok Nel en NPVWL se gedigte, kom al die ander gedigte uit 'n bundel wat verlede jaar verskyn het, Nuwe Stemme 4. Lees gerus meer oor hierdie bundel by, Tafelberg, die uitgewers van die boek.
Dit was vir my heerlik, dit het my ontsettend baie vreugde verskaf, om my leerders aan sommige van nuutste stemme en jongste gedigte in Afrikaans bloot te kon stel.

En dit alles te danke aan 'n verjaarsdagpresent (die digbundel) wat ek verlede jaar by die departementshoof van Engels en goeie vriendin van my, Annieka en Klaradyn, as geskenk gekry het.

So as die kinders vir my vies is oor die gedigte wat ons doen – min weet hulle dis nie op my nie, maar die Engelse juffrou, wat hulle hul gramstrorigheid moet uithaal!

Die enigste troos wat 'n onderwyser het, bly egter: iewers het dit aan iemand, al is dit net een kind, 'n verskil gemaak. En as dit het, is dit genoeg.