Pages

6.9.11

Die verjaarsdag ensomeer

Toe ek begin verlede week iets rondom Klaradyn se verjaarsdag soek om op my Ougoed-blog te pos, toe keer die volgende drie paragrawe uit verlede jaar se vertelling my, juis omdat ek myself nie wou herinner aan hoe gat dit ‘n jaar gelede vir my was om vir ‘n gesinsverjaarsdagete aan te sit, en dit met Judy nie soos altyd by ons nie, maar net om die draai in die ouetehuis nie:

“En toe tjank ek Sondag heerlik onder die tafelgebed wat ek Annieka gevra het sy my swaer moet vra om te doen:  dit was die eerste verjaarsdagete sonder Ouma Nooi.

Ek was Sondag daar om haar op te tel, maar ek het geweet dit sal ‘n onreg teenoor myself, teenoor my ma, en die ander gaste wees. Dit was Sondag twee dae dat ek gevoel het ek gaan kuier by ‘n vegetable. Miskien was dit twee af dae, ek sal vanmiddag sien; miskien gaan sy net baie vinnig, baie drasties agteruit.

Maar Ouma was daar, in die poeding (een van haar resepte) wat Annieka gemaak het, en toe ek die kouevleis in die bord pak en ek donder en plak dit nie sommer net op die bord nie, toe weet ek dis ook hoe my ma dit sou gedoen het.”

Nogal ironies, want twee dae later toe is die vrou nie eens meer in die ouetehuis nie.

Maar nee, ek sal lieg as ek sê dat my verjaarsdag in die skadu van Judy se dood gestaan het.

Ek regresseer na daardie kinderdae waarvan ek vroeë vertel het:  ek verbeel my ons afgestorwe geliefdes hou ons van iewers op 'n wolkie dop.

En dit sal beslis nie ons dierbare ou vrou se goedkeuring wegdra as ek toelaat om ons gesinnetjie se feesdag op te foeter met trane en dweep nie.

So ons het 'n heerlike dag gehad – wat afgeskop het met my gunsteling ontbytkos, en dit nogal in die bed:  Griekse Joghurt met heuning en kasjoeneute.

Wat dit lekkerder as enige vorige keer wat ek dit nog ooit geëet het, gemaak het, is die feit dat Klaradyn dit vir my voorberei het – alles, self.

Annieka is regtig die fynste van fynste fyn waarnemers as dit by die keuse van verjaarsdaggeskenke kom. Ek kan nie voorgee om iets te wil hê wat ek nie regtig wil hê nie, sy kom dit agter. Maar van oor 'n afstand van etlike rakke moes sy my lyftaal sowat 'n maand gelede fyn dopgehou het – want toe ek haar pakkie oopmaak, toe is dit die einste boeke waarin ek my verdiep het. (Die enigste rede waarom ek daardie dag nie roekeloos geraak en die goed gekoop het nie, was omdat dit Klaradyn se verjaarsdagmaand was en ek geweet het daar lê nog baie uitgawes voor.)

Van Klaradyn, iets van Russell Hobbs, vir die kombuis, waarsonder ek nie kan klaarkom nie.

Klaradyn het, sonder dat sy eintlik regtig weet wat dit is, voorgestel dat Annieka vir my 'n GPS aanskaf.

Annieka het versigtig navraag gedoen, maar eintlik het sy geweet wat my reaksie sou wees:  wat op deeske aarde moet ek met 'n GPS doen, daarsonder doen ek bloot net wat ek die laaste 40 doen.

Gelukkig het die kind se voorkeur getaan die oomblik toe hulle vir Oom Russell Hobbs in die winkels raakloop.

Toe skiet ons deur Hartbeespoortdam toe om daar by die Kaasplaas, op die walle van een van die Wilgerivier se sytakke 'n piekniek te geniet.

Aanvanklik sou ons die hele naweek veld toe gaan – Pilanesberg toe – dis soorts van tradisie oor my verjaarsdagnaweek, maar daarvan het toe nou niks gekom nie

Ja, dis opvallend hoeveel makliker die gedagtes na Judy spring, sonder om alleroorheersend te wees. Ons sal wegry by die Kaasplaas, en ek sal onthou dat ons hier regs is saam met Judy die keer toe ons na die plaas is waar ek my donskomberse laat herstop het.

Dis nou nogal 'n lang en hartseer storie, vir 'n sentimentalis soos ek. Ek sit met twee donskomberse van Oorle’ Ouma van Wyk (en dan praat ek al van my oorle’ ma, en vir jare al van my oorle’ ouma, juis omdat Ouma van Wyk so van oorle’ hierdie een en oorle’ daardie een gepraat het). Van oorle’ Ouma Moolman het ek ook vier gansdonskussings.

Ek wil Ouma se twee donskomberse saamvoeg in 'n duvet vir Klaradyn en dan kan ek sommer ander ouma se kussings bywerk.

By die skou loop ek toe die donkombersmense raak – ja hulle sal my help.

Ek en Annieka, Klaradyn, Ouma Nooi (my ma) en Ouma Wiesie (skoonma) skiet toe deur; ons maak dit 'n lieflike uitstappie met 'n besoek aan die Hartbeespoortdam-hoogtepunte.

Ai, en toe ek 'n maand later my donsduvet terug kry, toe het hulle van nege tiendes van my dons ontslae geraak en hulle nuwe dons bygesit – oor my dons glo platgeval en uitgewerk en te oud was.

O, ek was die hel in. Dit het vir my geensins oor die veerkrag van die dons gegaan nie, dit was die herinnering, die sentiment, die verlede wat ek vir Klaradyn wou bewaar. Hoeveel mense sal eendag kan sê dat hierdie duvet van haar oorspronklik haar twee ouma grootjies se donsbeddgoed was?

Maar so is daardie droom van my toe nou die drein af.

Meer nog toe ons vir Klaradyn eerder skaapwol in haar duvet moes kry – die kind het 'n allergiese reaksie op dons en word soggens siek wakker as sy aan te veel dons blootgestel is.

Ewentwel, was Judy nog in die lewe, sou ons besoek aan die gansboerdery nie deur my gedagtes geflits het nie, maar Sondag toe skiet dit deur my gedagtes toe ek opkyk Skeerpoort se rigting toe.

Die musiek in die motor neem my in 'n stadium terug universiteit toe. Toe onthou ek, wat ek andersins nooit sou onthou het nie, Marianne Faithfull se plaat uit my universiteitsdae en ek dink aan Ballad of Lucy Jordan. In daardie jare het die liedjie my al met deernis aan my ma herinner. Toe nou Sondag in die motor weer.

Veral na ek in aanloop tot die begrafenis by herhaling gedink het hoeveel beter sy verdien het as wat sy gekry het, hoeveel onvervulde drome, waarvan ek niks weet nie, daar miskien nie in haar is nie:

The morning sun touched lightly on the eyes of Lucy Jordan

In a white suburban bedroom in a white suburban town

As she lay there 'neath the covers dreaming of a thousand lovers

Till the world turned to orange and the room went spinning round.



At the age of thirty-seven she realised she'd never

Ride through Paris in a sports car with the warm wind in her hair.

So she let the phone keep ringing and she sat there softly singing

Little nursery rhymes she'd memorised in her daddy's easy chair.



Her husband, he's off to work and the kids are off to school,

And there are, oh, so many ways for her to spend the day.

She could clean the house for hours or rearrange the flowers

Or run naked through the shady street screaming all the way.



At the age of thirty-seven she realised she'd never

Ride through Paris in a sports car with the warm wind in her hair

So she let the phone keep ringing as she sat there softly singing

Pretty nursery rhymes she'd memorised in her daddy's easy chair.



The evening sun touched gently on the eyes of Lucy Jordan

On the roof top where she climbed when all the laughter grew too loud

And she bowed and curtsied to the man who reached and offered her his hand,

And he led her down to the long white car that waited past the crowd.



At the age of thirty-seven she knew she'd found forever

As she rode along through Paris with the warm wind in her hair ...



As ek gelukkig is, hoor ek hierdie liedjie nooit weer in my lewe nie.

Om van Lara’s Theme en Blue Spanish Eyes nie te praat nie.

Ek sal tien teen een aan die drink gaan as Lara se tema weer deur my kop moet gaan.

En die blou Spaanse ogies waarvoor sy so lief was het my tot twee jaar voor haar dood fassineer:

Haar peetkind se oudste trou. Ek en Annieka en Ouma Nooi en Klaradyn sit af berge toe vir die troue. Jac en Bev vlieg van die Kaap af vir die geselligheid. Die twee oues is Judy en haar oorle’ broer se vrou. Van Judy se brein is min oor, baie min. Voor ek haar vroegaand kamer toe neem om te gaan slaap, sit ons om die troue se kuiertafel en die orkes speel Blue Spanish Eyes.

My ma het die hele aand, op 81, nie een keer op die musiek reageer nie. Die oomblik toe haar gunsteling speel, lig sy die kop en deel met almal aan die tafel:  “Hoor net daar, is dit nie mooi nie!”

Dis wonderlik om wonderlike herinneringe te kan hê.
En aan die drink sal ek tog nou nooit eendag by die aanhoor daarvan gaan nie; aan die tjank wel.
Maar dit sal lieflike tjank wees.

En dis 'n voorreg. So baie mense het nie noodwendig wonderlike herinneringe waarvan die hart kan oorloop nie.

My skryf daarvan en gesels daaroor is niks anders as die koestering van hierdie mooi en goed nie.

4.9.11

23 Junie 2009

(Die ander goedjies sal ek op Ougoed pos, in loving memory of, maar hierdie het net so 100% gepas by my vertel van die begrafenisblomme, gister.)

Ons stop by die huis. Ek neem die asblik vanuit die straat agtertoe (Dinsdag is asblikdag) en laat val die drie plantjies tot heel onder in die drom. Dit eggo in die swart holte. In my gemoed. My gewete.

Nie ek of Annieka is goed met die versorging van huisplante nie. En plant ons dit in die tuin, krap die honde dit uit.

Vrydag bel my ma my, sy het vir ons vier waatlemoene wat ek moet kom optel. Sy laat ook twee boodskappe, waarin sy eerder met die antwoordmasjien in gesprek gaan as om ‘n boodskap te laat.

Ek vermoed ek ken die oorsprong van die derde ongedefinieerde boodskap.

Saterdag bel sy my en die waatlemoene het vier van die mooiste perskes geword wat sy nog ooit haar oë op gelê het.

Soos elke keer as sy bel en ek “Halo Judy,” wil sy weet hoe weet ek dis sy wat bel. Soos elke keer sê ek haar naam verskyn op die foon, en, soos elke keer, verstaan sy nie.

Sondag stop ons daar en tel vier lemoene op, netjies toegedraai in ‘n apteeksakkie.

Voor dit moet ons by herhaling binne die eerste vier minute hoor:  “Ag, en nou het ek niks om julle te gee nie!”

Met die sakkie in my hand soengroet ek en sy verwyt haarself:  “Nou moet ek julle leë hande hier wegstuur.”

Gister vertel ek haar hoe lekker die lemoene was en wonder, soos nou weer, vir ‘n oomblik waar dit is.

Terwyl sy en die girls aanstap hysbak toe laat val Oom Jack sy het die vorige aand haar nagklere aangetrek, maar toe weer uitgetrek en met ‘n wit broekpak in die bed geklim.

Vanmiddag wil ek haar en Klaradyn uitvat vir ‘n wafel, maar ek besef dis te koud om uit te gaan.

Dit is nie te koud om uit te gaan nie, maar sit jy heeldag in ‘n verhitte ouetehuis-versorgingseenheidkamer, en trek jy daarom somerspakkies aan, is dit.

Ek koop op pad drie nuwe potplante.

Die drie in die bak voor die venster is opgeblom, uitgeblom. (Eintlik uit gegroei en op, uit, klaar en gedaan, oppela  finish, verby, gegroei.)

Het sy hulle nie van die more tot die aand water gegee nie, was daar dalk hoop, maar die goed versuip letterlik.

Sy herinner my twee keer aan haar dankbaarheid dat ek die ou potplante vir my neem om in die tuin te loop plant. Sy onthou!

Sy vra twee keer, direk daarna, waar sy dan nou aan die nuwe plante kom. Van die weggee en uitdeel onthou sy, dis die ontváng en krý waarmee sy sukkel, wat haar ontgaan.

Sy vra dan ook besorg, en met ‘n hart wat oorloop, of ek dit het om so vir haar te kan gee. Ek sê nie vir haar nee Ma ek het nie, ek het dit met Ma se eie geld vir Ma gekoop nie. Sy verstaan lankal nie meer van kitsbanke en debietkaarte nie.

Die vrou by die kwekery verseker my hierdie nuwes is baie lief vir water. Ek hoop die vrou is reg.

Ma se liefde vir water gee, vir gee, vermoed ek, is groter as die plante se liefde om water te kry.

En plante gaan dood van te veel liefde.

Kinders, gelukkig nie.

3.9.11

2 September


Ek wil afstap van die dood – nie dat 'n mens, vermoed ek ten sterkste, ooit van 'n afgestorwe ouer soos Judy kan af- of wegstap nie – so nog net hierdie gesels, en een volgende enetjie wat wag om uitgeskryf te word.

Ek glo nie ek verbeel my nie, ek hét my ouma se geslag by herhaling hoor praat van 'n “mooie begrafenis.”

Nou wat “'n mooie begrafenis” vir daardie geslag, dertig of veertig jaar gelede was, sal ek nie weet nie.

Maar vir my, Hans Moolman was Judy (en om te dink dat as ek jonger was, hulle my nou in weeshuis sou moes laat opneem) se begrafenis gister, 'n mooie begrafenis gewees.

En indien nie mooi nie dan goed en reg en (hopelik) soos sy dit sou wou gehad het.

Begrafnis, in dertig of veertig jaar gelede se stoere Boere siening van 'n begrafenis, was dit dan nou ongelukkig ook nie gewees nie.

Dit was lewenslank die vrou se wens om veras te word – sy het in  jonger dae hopeloos te veel sirkusse vir begrafenisse bygewoon, te veel akelige herinneringe rondom oop grafte opgebou, selfs een beleef waar wenende naasbestaandes letterlik in die graf geval het.

So van ek my verstand het, het sy dit duidelik gemaak – sy sal hier op aarde met die grootste vrymoedigheid deur die vuur gaan, dan hoef sy dit nie daar anderkant te doen nie.

Daarom nie begrafnis nie, nie verassingsdiens in ‘n kapel by 'n krematorium soos met my pa nie, maar, in die woord van die dominee wat die diens waargeneem het, 'n dankdiens.

My ma, weet ek, sou nie daarvan gehou het dat ons uit die groot, koue, onpersoonlike, leë kerkgebou van haar afskeid neem nie. Nee, ek druk myself verkeerd uit – dis nie dat sy nie daarvan sou gehou het nie, sy sou dit bloot nie verkies het nie.

Ek het van Dinsdag, pas weg van die sterfbed, by AVBOB in die kantoor, gereken op hoogstens 30 mense by die afskeid, en ek was reg, op die kop, 30 het oulaas kom afskeid neem.

Dit was my opregte wens om van onder in die lieflike lentetuin wat nou van nuuts af aan weer mooi word, van haar afskeid te neem. Hoe baie het ons nie daar saam met haar gaan stap of eet nie. En elke keer, danksy die dementia, was dit opnuut, asof met 'n eerste kennismaking, vir haar pragtig.

Ek weet met my hele hart my ma sou dit verkies het, daar’s genoeg bome en koelte en stoele, en was sy self daar, en hoogstens 7 jaar jonger, sou sy verkies het om op haar alie op die groen gras te sit. (Sy was baie lief vir die grond, en as ek aan my ma in ons sitkamer van my skooldae dink, dan is dit nie op 'n stoel wat ek haar sien sit nie, maar op die grond.)

So nie, dan kleiner en intiemer in vanuit die sitkamer waar die ou mensies dag na dag sitgemaak is.

Maar dit was dan nou nie moontlik nie. Ek vermoed die arme dominee word gereeld met sulke versoek oorval, want hy was dadelik gereed met 'n baie flou rede wat hy net so sterk as wat die verskoning flou was, oorgedra het.

En ek was nie lus vir stroomop swem nie, nie lus vir konflik, koppestamp of baklei nie.

So toe neuk ons maar kerkgebou toe.

Daar het sagte orrelmusiek gespeel.

Ek sou, in herinnering aan my ma en ons laaste bykans 365 weeksoggende saam, eerder haar gunsteling musiek met diegene wat kom afskeid neem het, wou deel. (En darem nie In the Mood, wat by, was dit Spike Miligan,  se begrafnis gespeel het nie.)

Sy sou dit verkies het, maar toe luister ons maar orrel.

MAAR, en dis 'n groot MAAR, wat die res betref, glo en vermoed ek ten sterkste, sou Judy van alles gehou het.

Elke keer, my lewe lank, as iemand van die Kaap af kom, dan moes hulle vir haar 'n bos “Cape Select” bring – of daar so iets bestaan, weet ek nie, maar vir haar was dit 'n mengsel (selection) van Kaapse proteas, heide en wat daar ook al nog op die hange groei.

Toe Jac-hulle 'n hele klompie jare gelede af trek Kaap toe, toe was dit vir haar 'n heerlikte – as hy nie op die parade kan stop nie, dan sommer op die lughawe, maar vars bos Kaapse blomme was daar keer op keer in haar huis.

O, hel, en Judy kon blomme versorg. Sy het dit vir drie maande in die lewe gehou, en nes dit finaal verdroog is, was dit al weer tyd vir Jac om op te kom Rand toe, dan het sy weer blomme vir die volgende twee maande.

So dit was maklik:  “Boeta, jy moet voor jy kom vir ons net een ding doen, kry tog vir Ma 'n groot bos van daai blomme waarvan sy so baie gehou het, dan sit ons dit vir haar in die kerk.”

Judy het blomme vir troues gedoen, haar oudste seun s'n, en toe sy 72 was, op my troue ook.

So nee, sy sal ons nooit vergewe het, as ons blomme deur 'n bloemis laat doen het nie.

Ek het iewers in die baie vroeë tagtigerjare van die vorige eeu vir haar twee lieflike potte van David Schlapobersky en Felicity Potter se ateljee present gegee, so ons het die blomme toe na die beste van ons gebrekkige vermoë daarin staangemaak.

Tussen die huis en die kerk gooi ons toe die water uit. En by die kerk gekom, weet ek dat hierdie Kaapse bergblomme lag-lag tot more nog sonder enige water kan staan, sonder om iets oor te kom.

Maar toe stap ek maar 8 keer heen en weer met 'n klein gietertjie, eerder 'n keteltjie, want ek weet die ou vrou draai nie net in haar graf om nie, sy klim daar waar sy lê uit die yskas uit – as sy moet weet ek gee die blomme nie water nie.

Ek het seker drie jaar gelede al opgehou om vir haar potplante in die outehuiskamer aan te hou – met die dat sy nie kon onthou nie, het sy die stomme plante letterlik versuip deur die vyf of ses keer op 'n dag water te gee. Ek is daar oortuig van dat Judy selfs daarin sou kon slaag om 'n waterlelie te versuip van al die water en sorg.

So die blomme was, tot in die fynste besonderheid, soos Judy daarvan sou gehou het:  Kaaps, in haar blou en goud lieflingspotte, met water tot een vingerlit van bo af.

Na die begrafnisreëlings Donderdag klaar was, het ek gaan sit en sowat 60 kiekies uit haar foto-albums inskandeer. Dit het ek gevoeg by sowat 60 skyfies wat ek 'n ruk gelede vir my broer op rekenaar gekry het, sodat die mense kan sit en kýk ook, en nie net hoef te sit en luister nie.

My ma had 'n broertjie dood aan hierdie pers begrafnisbriefies van AVBOB, sulke hartseer pers blommetjies, waarmee die mense jare gelede huis toe gestuur is. Selfs toe my pa, drie jaar na hul egskeiding, na sy graf toe is, was sy ontsteld dat hulle daardie pers blommetjies by sy verassingsdiens gebruik het.

So dit was seker goed 25 jaar nou al, dat my ma geweet het watter foto eendag op haar begrafnisbrief gaan wees. Ons het dit jare lank vir mekaar gesê, en dit was nie drie maande gelede nie, toe spoor ek die foto weer op – en toe het ek hom gereed.

Die foto is einde 1986 geneem. By die see. Die see waar sy altyd gesê het ons eendag haar as moet gaan strooi. Sy het aan, dit wat sy vir jare haar lekkerste en mooiste uitrusting genoem het – 'n skel seventies kaftan, en sy sit op haar alie, kaalvoet op 'n rots.

As mede-eienares (saam met haar suster) van 'n rokkewinkel, moes sy ses dae van die week opdress werk toe. As sy saans oormoeg na 'n harde dag se werk by die huis kom, het sy dan een van haar kaftans aangetrek en begin kos maak. Later jare het sy dit oor haar baaikostuum gedra, en dis hoe ons haar in 1986 daarin op kamera vasgevang het.

So selfs die AVBOB-blaadjie, in plaas van die pers forget-me-nots, sou Judy se silent nod of aproval gekry het.

Had ons gewag tot Maandag, het ons definitief op 'n groter begrafenis kon reken.

Vir die berekeninge in my kop wou ek dit egter so gou as moontlik afgehandel kry en toe dit duidelik blyk dat die Kaap-familie op so kort kennisgewing daar kan wees, toe bespreek ons die diens vir Vrydag. So gebeur dit toe dat nie 'n enkele mens wat daar moet wees, nie daar kan wees nie, en het ons, presies soos Judy sou wou, 'n klein en intieme byeenkoms. Al drie neefs en enkele niggie, is toe vir die eerste keer sedert my broer se troue, in die middel sewentigs, weer gelyk by mekaar en op een foto!

Vir 'n louerige, blouerige eier-mayonnaise-broodjie op 'n verlepte kropslaai-blaartjie, met komplimente van die diensbare susters in die gemeente, sou Judy nie raaksien nie. Vir 'n koeksister ook nie, selfs nie oor haar dooie liggaam nie.

Toe poets ek een van haar gunsteling groot koperskinkborde, kry 'n tweede soortgelyke een in die gereedheidshouding en trakteer Judy se gaste op 'n ordentlike versnapering. Die vrou wat daarvoor pa gestaan het, dink miskien sy het twee skinkborde (op die ou einde vier) met 'n verskeidenheid soet en sout gepak, maar dit is geensins die geval nie – sy het voldoen aan dit wat my ma se heel laaste wens rondom haar eie begrafenis sou kon wees: stylvolle eetgoedjies, stylvol voortgesit.

Die dienende Marthas het my verseker hulle het glasbekers vir die suiwer appelsap wat ons voorgesit het, en toe sien ek hulle skink net so uit die bottels. Ek vergeef hulle, en hoop maar Judy het hulle nie raakgesien nie.

Ja, dis jammer dat die beeld wat ek as kind gehad het – die afgestorwenes wat vanuit die hemel almal se handel en wandel hier op aarde dophou, bestaan nie meer nie. Ek sou graag so daaraan wou dink, met 'n glimlaggende Judy wat alles met goedkeuring gadeslaan.

Ek kan my nie voorstel dat enige predikant veel beroepsbevrediging aan die hand van begrafnisdienste beleef nie, gewone preke, huwelike en selfs doopdienste, ja, maar nie sommer begrafenisse nie.

Maar ek mag verkeerd wees.

Die laaste drie ander begrafnisdienste, vanuit drie verskillende denominasies, wat ek bygewoon het, het nie een eens probeer om 'n element van troos ingebou te hê nie, eerder 'n oproep tot bekering en om nie van die kerk afvallig te raak nie.

Ek het trouens die idee begin kry dat die dominees baie bekommerd oor lidmaatgetalle en salarisse begin raak – die dat hulle die mense wat agterbly wil wakker skud met preke van bekering in plaas van troos.

En asof spesiaal bestel het die dominee, wat die boodskap betref,  ons nie voluit in hierdie slagyster ingestuur nie.

Die mooiste en grootste trooswoorde het egter vanuit 'n gans ander oord gekom.

Laat ek egter eers noem wat ek agter op die AVBOB-blaadjie aangebring het:

Dit sou 'n jammerte wees as soveel liefde tot niet moes gaan – 'n leeftyd van liefde leef egter, in die voorbeeld wat sy gestel het, voort in haar kinders, die seuns sowel as die skoondogters. En deur hulle, op hul beurt, weer verder voort in hul kinders, Marc, Joanne en Klaradyn. En eendag ook dié se kinders. So kan Judy en haar oorvloed liefde dan ook nie anders as om nog geslagte met ons te wees nie – sy gaan ook nie anders kan as om nog 'n vormende invloed te hê op agter-agterkleinkinders wat sy nooit geken het nie,  wat haar bestaan nooit eers sal vermoed nie.

En wat wag by die hek, later die dag toe ons twee broers vir die eerste keer uitry om moederloos saam te gaan uiteet:  die mooiste moewiese bos laggende bont lenteblomme in 'n pot staangemaak, so mals van kleur en geur en lewe dat jy teen sonsak steeds nodig het om jou donkerbril op te sit.

Annieka herken dadelik die handskrif, Klaradyn se graad 1-juffrou, ek sê dit kan onmoontlik nie wees nie. Maar by die lieflike ruiker, hierdie woorde, wat volgens my natuurlik toe nou duidelik getuig van presies dit wat ek wou tuisbring met die gedagte rondom 'n Judy wat dood is, maar voortleef in haar kinders: 

Alhoewel ek nie jul spesiale mamma en ouma geken het nie, weet ek iemand wat só 'n spesiale pappa vir Klarie, en man vir Annieka grootgemaak het, moes 'n formidabele mamma gewees het.

En so vind ek toe meer troos in hierdie vrou se woorde as wat enige dominee ooit in enige preek sou kon oordra.

En net soos wat sy my ma, en nie vir my besing nie, het ook my broer van haar gepraat toe hy in die kerk genoem het:

Thank you Hansie for visiting our mother every day. Having a chocolate with her, putting perfume on her, changing the pictures in her room, chatting to her. To make the last days of her life more enjoyable and worth living for. Hansie, I am sure she will miss you.

So vergeef my as ek dit 'n mooie begrafenis noem, maar vir my was dit een van die mooiste van mooie begrafenisse ooit.

***
En daar, met die bysleep van die juffrou se bos blomme, het ek toe nou die laaste gesels wat ek nog oor die dood wou aanknoop ook uitgeskryf. So ek is nader aan klaar met die dood as wat ek vermoed het. Miskien maak ek my skrywe aan die ouetehuisbestuur hier openbaar, ek weet nie.

Dankie aan elkeen wat tot hier vasgebyt het.

Oor Judy sal ek nog baie skryf – ek het haar lank hier weggehou, dis immers Pappa-Mamma-en-Klaars, maar miskien, noudat ek nie meer nodig het om te kla en hartseer te wees nie, kan ek weer, soos in die verlede, meer oor haar gesels.

2.9.11

DIE DANK- EN ENKELE ANDER WOORDE

Die groot Afrikaanse digter, NP van Wyk Louw, het op sy dag – miskien in 'n ander konteks as by die afsterwe van 'n geliefde moeder en mens – van die liefde gesê:

ons weet nie, ons weet nie, ons weet nie – ons weet nie hoe diep die liefde lê nie, die wat sê, die weet nie; die wat weet, die sê nie.

En hy was reg:  die wat sê, weet nie; en die wat, soos ek en Jac en elkeen van Judy se naasbestaandes, geliefdes, vriende en vriendinne, wéét – wat weet hoe diep 'n vrou se liefde kan lê, wat weet hoe diep 'n moeder se liefde kan lê vir haar twee seuns en die ander kinders wat hulle tot haar lewe toevoeg, sê nie, het nie nodig om te sê nie, want, soos in Judy se geval, was haar hele lewe, haar hele siel en wese, vir hoeveel jaar nie nou al nie, 'n lewende getuie daarvan gewees.

Daarom hoef nóg ek, nóg Jac, nóg enige ander een hier, vandag op te staan om iets meer oor Judy, haar lewe en haar dood te sê:  dit wat oor Judy gesê hóéf te word, wat oor haar gesê móét word, is aan een en elkeen hier teenwoordig, deeglik en goed en helder en duidelik bekend. Daar is nie 'n enkele goeie eienskap van die lief en dierbare ou vrou en moeder, wie lewe – en dood - ons vandag vier, waaraan enige een vandag hier, herinner hoef te word nie.

Ses jaar terug, toe ons laas gekyk het, was meer as 40% van Judy se breinvolume nie meer met haar nie – dit het afgesterf, weggeval, en dit wat oor was het aan 'n rosyntjie in 'n ekstra groot okkerneutdop herinner. En ten spyte daarvan het ek die laaste week by herhaling agtergekom, hoe die personeel wat nou maar eers 'n jaar met haar werk, kan getuig van een en elkeen van daardie wonderlike eienskappe van my ma waaraan nie een van ons vandag hier herinner hoef te word nie.

So vergeef haar twee seuns as hulle nie vandag opstaan om hierdie vrou wat hulle ontval het se lof te besing nie – hulle hele lewe lank, solank as wat elkeen van hulle kan onthou, het Judy se ganske bestaan van die lof wat haar toekom, getuig. Die voorbeeld wat haar liefde en lewe was, kan nie en gaan nie in Afrikaans of enige ander taal raakgevat, vasgevat of opgesom kan word nie.

En dan is dit oor ons wéét, oor ons dít weet, oor elkeen van ons só góéd wéét, dat ons nie nodig het om te sê nie.

Hansie en Jacie (Hans en Jac?) is beide goeie sprekers – Hans het die toespraak wat hy 13 jaar gelede afgesteek het toe Judy 70 geword het tussen Judy se goed gaan uitkrap, dit was 11 getikte folio’s. Maar waarom kom met groot omhaal van woorde? Dis nie nodig nie. Elkeen van ons weet. En die wat nie weet nie, het nie nodig om te weet nie.

(Boonop het Jac nog nooit daarvan gehou om met sy emosie op sy mou te koop te loop nie, en sal Hans homself tien teen een te veel tjank om 'n sin uit te spreek, so die begrafnisgangers moet maar net verlief neem met hierdie brief.)

As ek dit reg kon kry om 'n foto-oorsig van 120 oomblikke in Judy se lewe vertoon te kry, roep ek dit as getuie. Hoe het die Engelsman ons dit nie geleer nie:  een prentjie vertel meer as wat 'n duisend woorde kan.

***

Vir hoeveel jare nie, as Judy ons verwag vir ete, het sy nie douvoordag opgestaan, die kamer- en kombuisdeur agter haar toegetrek en begin voorberei nie.

So miskien is dit geneties – wat sy nie aan die hand van die voorbeeld wat sy voorgeleef het aan haar kinders kon oordra nie, het die gene op hulle oorgeplant.

Waarom anders dan 03:00 in die oggend, op die oggend van Judy se dankdiens, agter die rekenaar inskuif en aan die gesels gaan?

Maar ook oor ek nie anders kán nie.

Waar elke oomblik van Judy se lewe, elke klein en onbenullige herinnering, haar liefdevolle lewe huldig en ter ere sing, het ek en Jac net hierdie oomblik om ons dank te betuig teenoor elkeen teenwoordig. Elkeen wat hier is, met die uitsondering van die gesin oor wie se lewenspad hierdie stopstraat en belangrike kruising gekom het, het uit hul pad moes gaan om hier te wees, of hier 'n rol te speel.

En daarvoor sê ons dankie. Dit beteken vir ons, en vir die herinnering rondom Judy waaraan ons steeds bou, baie.

En juis ook oor elkeen uit sy of haar pad moes gaan (al is dit seker maklik om die roete net vir so 'n kort oomblik vir Judy aan te pas) dat ons nie kan uitsonder en by die naam kan noem nie. Elkeen verdien dit om uitgesonder te word, om in die besonder uitgesonder te word.

Egter met trane van dankbaarheid in my oë dat ek, nie 'n mens of mense nie, maar 'n spesifieke dank, in die besonder, wil uitsonder:  vir net meer as 'n jaar nou het my hart elke keer oopgebars as ek bewus geword het daarvan dat iemand die moeite gedoen het om my ma te kom besoek.

Dit het vir my baie beteken. Maar vir haar nog meer. Veel meer as wat die besoekers ooit kan vermoed. My opregte wens is dat elkeen van julle by die hand geneem, en reguit opgeneem word hemel toe. Want julle verdien dit.

Judy het maklik uit haar pad gegaan vir 'n ander, ek dink partykeer sy het bykans haar hele lewe op 'n ander pad geplaas as wat sy noodwendig sou wou, juis in belang van haar twee kinders – om die beste vir hulle moontlik te maak, en nie 'n las vir hulle te wees nie. Sy het haarself geoffer, geheel en al.

Ek het agter op AVBOB se briefie iets probeer oordra van waarom dit vir haar kinders so maklik is om vir haar lief te wees: sy het aan ons die voorbeeld gestel, en daardie voorbeeld leef voort in ons.

Haar eie ma, Ouma van Wyk, is 1986 oorlede. Vir goed twee of drie jaar voor hierdie ou vrou se afsterwe het my ma elke dag, óf voor sy die winkel oopgesluit het, óf na sy die winkel toegesluit het, elke dag van haar werksweek van 6 dae, by haar ma ingeloer.

Dan vind die mense dit vreemd as ek soggens knap na 06:00 by Judy instap. Dan is dit vir ons Moolmans glad nie vreemd nie. Ons is niks anders gewoond nie, dis die voorbeeld wat lewenslank vir ons voorgeleef is.

Daarom ook dat ek praat van voortleef. In ons en deur ons.

Vir baie van ons het die verhouding met Judy nou tot 'n einde gekom. Vir ander, wat gelukkig genoeg is, duur die verhouding voort, en het daar bloot net 'n nuwe fase aangebreek.

Elkeen van die 6 goed wat in die familiebrief genoem is, verdien om oor bladsye heen uitgebrei te word:

1.    As daar net een ding oor haar gesê kan word, dan is dit dat sy haar lewe veil had vir haar dierbares.

2.    Sy is van liefde vir haar twee seuns aanmekaargesit gewees – tot op die einde en letterlik solank sy by haar positiewe was, daarvan kan ons getuig.

3.    Haar waarde wás, en ís, en blý, vér bo die van korale (of enige ander vrou wat uit die slothoofstuk van die Spreukeskrywer se boek stap.)

4.    Sy was enduit 'n dame, in elke sin van die woord.

5.    Dit was lewenslank, en tot ons elkeen eendag ons koppe neerlê, niks anders nie as 'n ongelooflike voorreg en, tot oorlopens toe, strome van onverdiende seën gewees.

6.    En as ons net ‘n duisend woorde rondom haar oor het, sal ons dit alles gebruik om haar onbaatsugtige en offervaardige liefde te besing, tot elkeen van daardie woorde op is.

Maar weer eens waarom uitbrei en aan 'n nog groter klok probeer hang as die een waaraan Judy se hele lewe en wandel dit reeds sonder vertoon en veel omhaal van woorde gehang het?

Die wat sê weet nie, die wat weet sê nie, hoef nie te sê nie.

Elke oud-Albertonner met wie ek die afgelope twee dae gepraat het, getuig egter, sonder dat hulle van mekaar weet, van presies dieselfde, en net een ding:  Judy se ongelooflike en onbeskryflike liefde vir haar kinders.

Daarom dat ek slegs op punt 2 kortliks wil uitbrei, daar was nie plek voor op die AVBOB-brief nie:

Woensdag toe sy dood is, was sy, gelukkig vir ons altwee, verdoof en aan die slaap – daarsonder sou dit 'n vreeslike sterfbed vir ons beide gewees het; ek is die mediese wetenskap dank verskuldig.

Dinsdagaand het ek egter 'n nog wonderliker voorreg gehad om vir twee ure vir oulaas in haar baie angstige en onsamehangende geselskap deur te bring. Dit was vir haar hel en sy was baie gefrustreerd, juis omdat die taalsentrum van haar brein so gedegenereer was dat sy geensins suksesvol kon kommunikeer dit wat sy wou kommunikeer nie.

Ek sê toe vir haar om woorde te los, en haar liefde met 'n glimlag te kommunikeer. Ek sal haar reaksie, haar poging tot 'n glimlag, tot ek die dag my kop neerlê, nooit kan vergeet nie.

In my poging om haar rustig te probeer kry, maak ek toe maar of ek slaap, daar in die stoel. En dis toe dat daardie arteritis-handjie tussen die tralies van die bed deurkom en uitreik om my te streel. En vir goed 'n uur lank, is dit wat sy gedoen het, oor my been, my hand, later selfs my gesig, my baard en my hare. Sy het selfs die trane uit my oë probeer afvee en wegvee.

Verstaan daarom waarom ek getuig dat sy van liefde aanmekaargesit was en van 'n moederhart se moederliefde, letterlik tot op die einde en solank sy by haar positiewe was.

Maar dis hoe ons haar leer ken het, en hoe ons haar sal onthou. Dis vir ons geensins vreemd nie.

Ons harte is stukkend geruk en aan flarde, ons harte loop oor van emosie – maar dis vir ons 'n voorreg en seën om te kan huil oor die afsterwe van ons geliefde moeder.

Sy het immers haar hele lewe so geleef dat die wat agterbly nie anders sal kan as om haar te mis nie.

Ons is haar dit ewig dankbaar en sou dit nie anders wou gehad het nie.

Ons dank háár daarvoor.

En ons is bly dat ons hierdie dank kon deel met elkeen wat vandag hier is.



Liefdegroete

1.9.11

30/31 Augustus


As ek 'n dogtertjie was, wat 7 geword het, soos Klaradyn gister, dink ek dat ek 'n dogtertjie sou wees wat kan terugkyk op 'n heerlike verjaarsdag.

Met 'n mamma soos Mamma Annieka spring so verjaarsdag sommer vroeg in. Ligte geselsies rondom die onderwerp dateer uit April; ernstige geselsies skop Junie in.

Vanaf begin Julie is alles in plek en gefinaliseer – ons wag net vir die aftelling om om en by 15 Augustus te begin.

Vanjaar was dit vroeg duidelik:  ons gaan nie vanjaar 'n groot partytjie hê nie.

Dit het toe dadelik Klaradyn en 'n maatjie by die dieretuin geword.

Die maatjie het met verloop van tyd 'n –s bygekry.

En toe ons weer sien, toe vang Klaradyn ons met die een waarmee ons haar 'n klompie jare gevang het: op 4 kon sy vier maatjies kry, op 5 was dit vyf.

So sewe van hulle is toe Saterdag dieretuin toe. Met nie minder nie vyf oppassers.

Ons gesin kuier gereeld in die dieretuin en ek het spoedig tot die gevolgtrekking gekom dat 'n besoek aan die dieretuin darem baie lekkerder is in 'n groepie maatjies wat pouses saamspeel, as saam met 'n ma en 'n pa.

Die gholfkaretjies is vir twee ure ingespan, toe het ons op die gras plat geval vir 'n piekniek.

Na die piekniek wou die oues omval vir 'n slapie, maar die jonges het begin wegkruipertjie, hardlopertjie, en rondhol-in-elke-denbare-rigting-tjie begin speel. En skielik was vyf oppassers te min om 'n ordentlike ogie oor sewe graad eentjies te hou.

Maar hulle het dit geniet. Soos ek dit het, het die een maatjie dit so geniet dat sy die gesin die volgende dag weer daar had.

'n Ander, wat saam met my gery het toe ons huis toe is, het laat val dat sy wonder wat die kanse is dat hulle die volgende dag na kerk weer daar 'n draai kan gaan maak.

Ons merrieperd het soos 'n ou uitgeputte karperd op die bed neergeslaan en aan die slaap geval.

Van Sondag se kolwyntjies het ek reeds vertel.

Maandag kry ons toe nou die klaspartytjie se pakkies in plek. 'n Koeldrankie en lekkertjies met biltong en droë wors vir 'n lekker afwisseling. En dan nou die kolwyntjies.

Maandagoggend toe word die meisiekind wakker gesing deur Mamma en Pappa.

Tannie Bev sing oomblikke later uit Kampsbaai oor die foon vir haar Engels.

Sy kry is seëlringetjie met KLARIE daarop graveer van die ouerpaar.

Met Ouma Nooi (langs wie se sterfbed ek nou hierdie sit en tik om my gedagtes rustig te hou) se debietkaart het ek drie storieboeke gekoop. En sy het dit ook gekry.

Ons het maar dat Annieka voor in skryf(...  )

Ag, siestog, want toe sterf my ma twee minute later, maar meer daaroor later.

By Ouma Wiesie gekom, na die lekker wakkerword, wag daar toe knap na 06:00 'n tros ballonne by die voorhek om die herdenking van die kind se geboortedag luidkeels in skel kleure aan te kondig.

En etlike meters verder, by die voordeur hang “HAPPY BIRTHDAY” uitgespel.

By daardie huis lyk dit of Kersvader se slee met 'n eerste besending Kersfees 2011-geskenke op pad Noordpool toe, gebreek het – boeke en poppe en poprokke en nog boeke. En nog.

En dit alles tussen 06:00 en 07:00

'n Bietjie later is Pa by die skool om die kosmandjie af te laai. Verjaarsdagmaatjies kom in gewone kleure skool toe, en ek hou haar lank van die hek af dop. 'n Gelukkige blondekop in pienk wat hol en jol en elke oomblik geniet.

Ek het, toe die juffrou by die klas aansluit knap voor die klok lui. 18 hande om te help dra. 18 hande vir een skinkbord, en nog 18 hande vir die boks met eetpakkies. Hoe hulle nie oor mekaar geval het nie, hoe hulle alles in een stuk uiteindelik tussen die tafel en stoele deur, agter in die klas gekry het, weet ek nie en is suiwer genade.

Die verdere verloop ken ek nie, maar alle boodskappe dui daarop dat dit 'n lieflike klaspartytjie was.

Na skool kom kuier Tannie Esme met haar tradisionele verjaarsdagkoek – vanjaar 'n groot 7 met dolfyne.

Liezel van oorkant die straat kom sluit by ons aan en huispartytjie saam.

Toe bring Petri sy blom, en nou het ons 'n huis vol mense met stemme en gelag en vrolike speel.

Met die laaste van ons gaste weg, is ons deur na Ouma en Oupa vir 'n gesinsete met Oom Erik en Tannie Nettie wat by ons aansluit.

Die kind val in die kar aan die slaap, voor 20:00 op pad huis toe.

En toe weer oor die storie wat Mamma lees.

Maar daarvan moet Mamma my vertel, ek het dadelik deurgeskiet na Ouma Nooi toe om te sien hoe dit daar gaan.

En afskeid te neem, sou dit toe nou gister 13:30 blyk, want by haar positiewe het sy my nie weer, en ek haar nie weer, gesien nie.

Nou het ek nie meer drie vrouens om my lewe te oorheers nie, maar net twee.

En dit sal steeds een vet lekkerte wees en bly.