Pages

4.9.11

23 Junie 2009

(Die ander goedjies sal ek op Ougoed pos, in loving memory of, maar hierdie het net so 100% gepas by my vertel van die begrafenisblomme, gister.)

Ons stop by die huis. Ek neem die asblik vanuit die straat agtertoe (Dinsdag is asblikdag) en laat val die drie plantjies tot heel onder in die drom. Dit eggo in die swart holte. In my gemoed. My gewete.

Nie ek of Annieka is goed met die versorging van huisplante nie. En plant ons dit in die tuin, krap die honde dit uit.

Vrydag bel my ma my, sy het vir ons vier waatlemoene wat ek moet kom optel. Sy laat ook twee boodskappe, waarin sy eerder met die antwoordmasjien in gesprek gaan as om ‘n boodskap te laat.

Ek vermoed ek ken die oorsprong van die derde ongedefinieerde boodskap.

Saterdag bel sy my en die waatlemoene het vier van die mooiste perskes geword wat sy nog ooit haar oë op gelê het.

Soos elke keer as sy bel en ek “Halo Judy,” wil sy weet hoe weet ek dis sy wat bel. Soos elke keer sê ek haar naam verskyn op die foon, en, soos elke keer, verstaan sy nie.

Sondag stop ons daar en tel vier lemoene op, netjies toegedraai in ‘n apteeksakkie.

Voor dit moet ons by herhaling binne die eerste vier minute hoor:  “Ag, en nou het ek niks om julle te gee nie!”

Met die sakkie in my hand soengroet ek en sy verwyt haarself:  “Nou moet ek julle leë hande hier wegstuur.”

Gister vertel ek haar hoe lekker die lemoene was en wonder, soos nou weer, vir ‘n oomblik waar dit is.

Terwyl sy en die girls aanstap hysbak toe laat val Oom Jack sy het die vorige aand haar nagklere aangetrek, maar toe weer uitgetrek en met ‘n wit broekpak in die bed geklim.

Vanmiddag wil ek haar en Klaradyn uitvat vir ‘n wafel, maar ek besef dis te koud om uit te gaan.

Dit is nie te koud om uit te gaan nie, maar sit jy heeldag in ‘n verhitte ouetehuis-versorgingseenheidkamer, en trek jy daarom somerspakkies aan, is dit.

Ek koop op pad drie nuwe potplante.

Die drie in die bak voor die venster is opgeblom, uitgeblom. (Eintlik uit gegroei en op, uit, klaar en gedaan, oppela  finish, verby, gegroei.)

Het sy hulle nie van die more tot die aand water gegee nie, was daar dalk hoop, maar die goed versuip letterlik.

Sy herinner my twee keer aan haar dankbaarheid dat ek die ou potplante vir my neem om in die tuin te loop plant. Sy onthou!

Sy vra twee keer, direk daarna, waar sy dan nou aan die nuwe plante kom. Van die weggee en uitdeel onthou sy, dis die ontváng en krý waarmee sy sukkel, wat haar ontgaan.

Sy vra dan ook besorg, en met ‘n hart wat oorloop, of ek dit het om so vir haar te kan gee. Ek sê nie vir haar nee Ma ek het nie, ek het dit met Ma se eie geld vir Ma gekoop nie. Sy verstaan lankal nie meer van kitsbanke en debietkaarte nie.

Die vrou by die kwekery verseker my hierdie nuwes is baie lief vir water. Ek hoop die vrou is reg.

Ma se liefde vir water gee, vir gee, vermoed ek, is groter as die plante se liefde om water te kry.

En plante gaan dood van te veel liefde.

Kinders, gelukkig nie.

3.9.11

2 September


Ek wil afstap van die dood – nie dat 'n mens, vermoed ek ten sterkste, ooit van 'n afgestorwe ouer soos Judy kan af- of wegstap nie – so nog net hierdie gesels, en een volgende enetjie wat wag om uitgeskryf te word.

Ek glo nie ek verbeel my nie, ek hét my ouma se geslag by herhaling hoor praat van 'n “mooie begrafenis.”

Nou wat “'n mooie begrafenis” vir daardie geslag, dertig of veertig jaar gelede was, sal ek nie weet nie.

Maar vir my, Hans Moolman was Judy (en om te dink dat as ek jonger was, hulle my nou in weeshuis sou moes laat opneem) se begrafenis gister, 'n mooie begrafenis gewees.

En indien nie mooi nie dan goed en reg en (hopelik) soos sy dit sou wou gehad het.

Begrafnis, in dertig of veertig jaar gelede se stoere Boere siening van 'n begrafenis, was dit dan nou ongelukkig ook nie gewees nie.

Dit was lewenslank die vrou se wens om veras te word – sy het in  jonger dae hopeloos te veel sirkusse vir begrafenisse bygewoon, te veel akelige herinneringe rondom oop grafte opgebou, selfs een beleef waar wenende naasbestaandes letterlik in die graf geval het.

So van ek my verstand het, het sy dit duidelik gemaak – sy sal hier op aarde met die grootste vrymoedigheid deur die vuur gaan, dan hoef sy dit nie daar anderkant te doen nie.

Daarom nie begrafnis nie, nie verassingsdiens in ‘n kapel by 'n krematorium soos met my pa nie, maar, in die woord van die dominee wat die diens waargeneem het, 'n dankdiens.

My ma, weet ek, sou nie daarvan gehou het dat ons uit die groot, koue, onpersoonlike, leë kerkgebou van haar afskeid neem nie. Nee, ek druk myself verkeerd uit – dis nie dat sy nie daarvan sou gehou het nie, sy sou dit bloot nie verkies het nie.

Ek het van Dinsdag, pas weg van die sterfbed, by AVBOB in die kantoor, gereken op hoogstens 30 mense by die afskeid, en ek was reg, op die kop, 30 het oulaas kom afskeid neem.

Dit was my opregte wens om van onder in die lieflike lentetuin wat nou van nuuts af aan weer mooi word, van haar afskeid te neem. Hoe baie het ons nie daar saam met haar gaan stap of eet nie. En elke keer, danksy die dementia, was dit opnuut, asof met 'n eerste kennismaking, vir haar pragtig.

Ek weet met my hele hart my ma sou dit verkies het, daar’s genoeg bome en koelte en stoele, en was sy self daar, en hoogstens 7 jaar jonger, sou sy verkies het om op haar alie op die groen gras te sit. (Sy was baie lief vir die grond, en as ek aan my ma in ons sitkamer van my skooldae dink, dan is dit nie op 'n stoel wat ek haar sien sit nie, maar op die grond.)

So nie, dan kleiner en intiemer in vanuit die sitkamer waar die ou mensies dag na dag sitgemaak is.

Maar dit was dan nou nie moontlik nie. Ek vermoed die arme dominee word gereeld met sulke versoek oorval, want hy was dadelik gereed met 'n baie flou rede wat hy net so sterk as wat die verskoning flou was, oorgedra het.

En ek was nie lus vir stroomop swem nie, nie lus vir konflik, koppestamp of baklei nie.

So toe neuk ons maar kerkgebou toe.

Daar het sagte orrelmusiek gespeel.

Ek sou, in herinnering aan my ma en ons laaste bykans 365 weeksoggende saam, eerder haar gunsteling musiek met diegene wat kom afskeid neem het, wou deel. (En darem nie In the Mood, wat by, was dit Spike Miligan,  se begrafnis gespeel het nie.)

Sy sou dit verkies het, maar toe luister ons maar orrel.

MAAR, en dis 'n groot MAAR, wat die res betref, glo en vermoed ek ten sterkste, sou Judy van alles gehou het.

Elke keer, my lewe lank, as iemand van die Kaap af kom, dan moes hulle vir haar 'n bos “Cape Select” bring – of daar so iets bestaan, weet ek nie, maar vir haar was dit 'n mengsel (selection) van Kaapse proteas, heide en wat daar ook al nog op die hange groei.

Toe Jac-hulle 'n hele klompie jare gelede af trek Kaap toe, toe was dit vir haar 'n heerlikte – as hy nie op die parade kan stop nie, dan sommer op die lughawe, maar vars bos Kaapse blomme was daar keer op keer in haar huis.

O, hel, en Judy kon blomme versorg. Sy het dit vir drie maande in die lewe gehou, en nes dit finaal verdroog is, was dit al weer tyd vir Jac om op te kom Rand toe, dan het sy weer blomme vir die volgende twee maande.

So dit was maklik:  “Boeta, jy moet voor jy kom vir ons net een ding doen, kry tog vir Ma 'n groot bos van daai blomme waarvan sy so baie gehou het, dan sit ons dit vir haar in die kerk.”

Judy het blomme vir troues gedoen, haar oudste seun s'n, en toe sy 72 was, op my troue ook.

So nee, sy sal ons nooit vergewe het, as ons blomme deur 'n bloemis laat doen het nie.

Ek het iewers in die baie vroeë tagtigerjare van die vorige eeu vir haar twee lieflike potte van David Schlapobersky en Felicity Potter se ateljee present gegee, so ons het die blomme toe na die beste van ons gebrekkige vermoë daarin staangemaak.

Tussen die huis en die kerk gooi ons toe die water uit. En by die kerk gekom, weet ek dat hierdie Kaapse bergblomme lag-lag tot more nog sonder enige water kan staan, sonder om iets oor te kom.

Maar toe stap ek maar 8 keer heen en weer met 'n klein gietertjie, eerder 'n keteltjie, want ek weet die ou vrou draai nie net in haar graf om nie, sy klim daar waar sy lê uit die yskas uit – as sy moet weet ek gee die blomme nie water nie.

Ek het seker drie jaar gelede al opgehou om vir haar potplante in die outehuiskamer aan te hou – met die dat sy nie kon onthou nie, het sy die stomme plante letterlik versuip deur die vyf of ses keer op 'n dag water te gee. Ek is daar oortuig van dat Judy selfs daarin sou kon slaag om 'n waterlelie te versuip van al die water en sorg.

So die blomme was, tot in die fynste besonderheid, soos Judy daarvan sou gehou het:  Kaaps, in haar blou en goud lieflingspotte, met water tot een vingerlit van bo af.

Na die begrafnisreëlings Donderdag klaar was, het ek gaan sit en sowat 60 kiekies uit haar foto-albums inskandeer. Dit het ek gevoeg by sowat 60 skyfies wat ek 'n ruk gelede vir my broer op rekenaar gekry het, sodat die mense kan sit en kýk ook, en nie net hoef te sit en luister nie.

My ma had 'n broertjie dood aan hierdie pers begrafnisbriefies van AVBOB, sulke hartseer pers blommetjies, waarmee die mense jare gelede huis toe gestuur is. Selfs toe my pa, drie jaar na hul egskeiding, na sy graf toe is, was sy ontsteld dat hulle daardie pers blommetjies by sy verassingsdiens gebruik het.

So dit was seker goed 25 jaar nou al, dat my ma geweet het watter foto eendag op haar begrafnisbrief gaan wees. Ons het dit jare lank vir mekaar gesê, en dit was nie drie maande gelede nie, toe spoor ek die foto weer op – en toe het ek hom gereed.

Die foto is einde 1986 geneem. By die see. Die see waar sy altyd gesê het ons eendag haar as moet gaan strooi. Sy het aan, dit wat sy vir jare haar lekkerste en mooiste uitrusting genoem het – 'n skel seventies kaftan, en sy sit op haar alie, kaalvoet op 'n rots.

As mede-eienares (saam met haar suster) van 'n rokkewinkel, moes sy ses dae van die week opdress werk toe. As sy saans oormoeg na 'n harde dag se werk by die huis kom, het sy dan een van haar kaftans aangetrek en begin kos maak. Later jare het sy dit oor haar baaikostuum gedra, en dis hoe ons haar in 1986 daarin op kamera vasgevang het.

So selfs die AVBOB-blaadjie, in plaas van die pers forget-me-nots, sou Judy se silent nod of aproval gekry het.

Had ons gewag tot Maandag, het ons definitief op 'n groter begrafenis kon reken.

Vir die berekeninge in my kop wou ek dit egter so gou as moontlik afgehandel kry en toe dit duidelik blyk dat die Kaap-familie op so kort kennisgewing daar kan wees, toe bespreek ons die diens vir Vrydag. So gebeur dit toe dat nie 'n enkele mens wat daar moet wees, nie daar kan wees nie, en het ons, presies soos Judy sou wou, 'n klein en intieme byeenkoms. Al drie neefs en enkele niggie, is toe vir die eerste keer sedert my broer se troue, in die middel sewentigs, weer gelyk by mekaar en op een foto!

Vir 'n louerige, blouerige eier-mayonnaise-broodjie op 'n verlepte kropslaai-blaartjie, met komplimente van die diensbare susters in die gemeente, sou Judy nie raaksien nie. Vir 'n koeksister ook nie, selfs nie oor haar dooie liggaam nie.

Toe poets ek een van haar gunsteling groot koperskinkborde, kry 'n tweede soortgelyke een in die gereedheidshouding en trakteer Judy se gaste op 'n ordentlike versnapering. Die vrou wat daarvoor pa gestaan het, dink miskien sy het twee skinkborde (op die ou einde vier) met 'n verskeidenheid soet en sout gepak, maar dit is geensins die geval nie – sy het voldoen aan dit wat my ma se heel laaste wens rondom haar eie begrafenis sou kon wees: stylvolle eetgoedjies, stylvol voortgesit.

Die dienende Marthas het my verseker hulle het glasbekers vir die suiwer appelsap wat ons voorgesit het, en toe sien ek hulle skink net so uit die bottels. Ek vergeef hulle, en hoop maar Judy het hulle nie raakgesien nie.

Ja, dis jammer dat die beeld wat ek as kind gehad het – die afgestorwenes wat vanuit die hemel almal se handel en wandel hier op aarde dophou, bestaan nie meer nie. Ek sou graag so daaraan wou dink, met 'n glimlaggende Judy wat alles met goedkeuring gadeslaan.

Ek kan my nie voorstel dat enige predikant veel beroepsbevrediging aan die hand van begrafnisdienste beleef nie, gewone preke, huwelike en selfs doopdienste, ja, maar nie sommer begrafenisse nie.

Maar ek mag verkeerd wees.

Die laaste drie ander begrafnisdienste, vanuit drie verskillende denominasies, wat ek bygewoon het, het nie een eens probeer om 'n element van troos ingebou te hê nie, eerder 'n oproep tot bekering en om nie van die kerk afvallig te raak nie.

Ek het trouens die idee begin kry dat die dominees baie bekommerd oor lidmaatgetalle en salarisse begin raak – die dat hulle die mense wat agterbly wil wakker skud met preke van bekering in plaas van troos.

En asof spesiaal bestel het die dominee, wat die boodskap betref,  ons nie voluit in hierdie slagyster ingestuur nie.

Die mooiste en grootste trooswoorde het egter vanuit 'n gans ander oord gekom.

Laat ek egter eers noem wat ek agter op die AVBOB-blaadjie aangebring het:

Dit sou 'n jammerte wees as soveel liefde tot niet moes gaan – 'n leeftyd van liefde leef egter, in die voorbeeld wat sy gestel het, voort in haar kinders, die seuns sowel as die skoondogters. En deur hulle, op hul beurt, weer verder voort in hul kinders, Marc, Joanne en Klaradyn. En eendag ook dié se kinders. So kan Judy en haar oorvloed liefde dan ook nie anders as om nog geslagte met ons te wees nie – sy gaan ook nie anders kan as om nog 'n vormende invloed te hê op agter-agterkleinkinders wat sy nooit geken het nie,  wat haar bestaan nooit eers sal vermoed nie.

En wat wag by die hek, later die dag toe ons twee broers vir die eerste keer uitry om moederloos saam te gaan uiteet:  die mooiste moewiese bos laggende bont lenteblomme in 'n pot staangemaak, so mals van kleur en geur en lewe dat jy teen sonsak steeds nodig het om jou donkerbril op te sit.

Annieka herken dadelik die handskrif, Klaradyn se graad 1-juffrou, ek sê dit kan onmoontlik nie wees nie. Maar by die lieflike ruiker, hierdie woorde, wat volgens my natuurlik toe nou duidelik getuig van presies dit wat ek wou tuisbring met die gedagte rondom 'n Judy wat dood is, maar voortleef in haar kinders: 

Alhoewel ek nie jul spesiale mamma en ouma geken het nie, weet ek iemand wat só 'n spesiale pappa vir Klarie, en man vir Annieka grootgemaak het, moes 'n formidabele mamma gewees het.

En so vind ek toe meer troos in hierdie vrou se woorde as wat enige dominee ooit in enige preek sou kon oordra.

En net soos wat sy my ma, en nie vir my besing nie, het ook my broer van haar gepraat toe hy in die kerk genoem het:

Thank you Hansie for visiting our mother every day. Having a chocolate with her, putting perfume on her, changing the pictures in her room, chatting to her. To make the last days of her life more enjoyable and worth living for. Hansie, I am sure she will miss you.

So vergeef my as ek dit 'n mooie begrafenis noem, maar vir my was dit een van die mooiste van mooie begrafenisse ooit.

***
En daar, met die bysleep van die juffrou se bos blomme, het ek toe nou die laaste gesels wat ek nog oor die dood wou aanknoop ook uitgeskryf. So ek is nader aan klaar met die dood as wat ek vermoed het. Miskien maak ek my skrywe aan die ouetehuisbestuur hier openbaar, ek weet nie.

Dankie aan elkeen wat tot hier vasgebyt het.

Oor Judy sal ek nog baie skryf – ek het haar lank hier weggehou, dis immers Pappa-Mamma-en-Klaars, maar miskien, noudat ek nie meer nodig het om te kla en hartseer te wees nie, kan ek weer, soos in die verlede, meer oor haar gesels.

2.9.11

DIE DANK- EN ENKELE ANDER WOORDE

Die groot Afrikaanse digter, NP van Wyk Louw, het op sy dag – miskien in 'n ander konteks as by die afsterwe van 'n geliefde moeder en mens – van die liefde gesê:

ons weet nie, ons weet nie, ons weet nie – ons weet nie hoe diep die liefde lê nie, die wat sê, die weet nie; die wat weet, die sê nie.

En hy was reg:  die wat sê, weet nie; en die wat, soos ek en Jac en elkeen van Judy se naasbestaandes, geliefdes, vriende en vriendinne, wéét – wat weet hoe diep 'n vrou se liefde kan lê, wat weet hoe diep 'n moeder se liefde kan lê vir haar twee seuns en die ander kinders wat hulle tot haar lewe toevoeg, sê nie, het nie nodig om te sê nie, want, soos in Judy se geval, was haar hele lewe, haar hele siel en wese, vir hoeveel jaar nie nou al nie, 'n lewende getuie daarvan gewees.

Daarom hoef nóg ek, nóg Jac, nóg enige ander een hier, vandag op te staan om iets meer oor Judy, haar lewe en haar dood te sê:  dit wat oor Judy gesê hóéf te word, wat oor haar gesê móét word, is aan een en elkeen hier teenwoordig, deeglik en goed en helder en duidelik bekend. Daar is nie 'n enkele goeie eienskap van die lief en dierbare ou vrou en moeder, wie lewe – en dood - ons vandag vier, waaraan enige een vandag hier, herinner hoef te word nie.

Ses jaar terug, toe ons laas gekyk het, was meer as 40% van Judy se breinvolume nie meer met haar nie – dit het afgesterf, weggeval, en dit wat oor was het aan 'n rosyntjie in 'n ekstra groot okkerneutdop herinner. En ten spyte daarvan het ek die laaste week by herhaling agtergekom, hoe die personeel wat nou maar eers 'n jaar met haar werk, kan getuig van een en elkeen van daardie wonderlike eienskappe van my ma waaraan nie een van ons vandag hier herinner hoef te word nie.

So vergeef haar twee seuns as hulle nie vandag opstaan om hierdie vrou wat hulle ontval het se lof te besing nie – hulle hele lewe lank, solank as wat elkeen van hulle kan onthou, het Judy se ganske bestaan van die lof wat haar toekom, getuig. Die voorbeeld wat haar liefde en lewe was, kan nie en gaan nie in Afrikaans of enige ander taal raakgevat, vasgevat of opgesom kan word nie.

En dan is dit oor ons wéét, oor ons dít weet, oor elkeen van ons só góéd wéét, dat ons nie nodig het om te sê nie.

Hansie en Jacie (Hans en Jac?) is beide goeie sprekers – Hans het die toespraak wat hy 13 jaar gelede afgesteek het toe Judy 70 geword het tussen Judy se goed gaan uitkrap, dit was 11 getikte folio’s. Maar waarom kom met groot omhaal van woorde? Dis nie nodig nie. Elkeen van ons weet. En die wat nie weet nie, het nie nodig om te weet nie.

(Boonop het Jac nog nooit daarvan gehou om met sy emosie op sy mou te koop te loop nie, en sal Hans homself tien teen een te veel tjank om 'n sin uit te spreek, so die begrafnisgangers moet maar net verlief neem met hierdie brief.)

As ek dit reg kon kry om 'n foto-oorsig van 120 oomblikke in Judy se lewe vertoon te kry, roep ek dit as getuie. Hoe het die Engelsman ons dit nie geleer nie:  een prentjie vertel meer as wat 'n duisend woorde kan.

***

Vir hoeveel jare nie, as Judy ons verwag vir ete, het sy nie douvoordag opgestaan, die kamer- en kombuisdeur agter haar toegetrek en begin voorberei nie.

So miskien is dit geneties – wat sy nie aan die hand van die voorbeeld wat sy voorgeleef het aan haar kinders kon oordra nie, het die gene op hulle oorgeplant.

Waarom anders dan 03:00 in die oggend, op die oggend van Judy se dankdiens, agter die rekenaar inskuif en aan die gesels gaan?

Maar ook oor ek nie anders kán nie.

Waar elke oomblik van Judy se lewe, elke klein en onbenullige herinnering, haar liefdevolle lewe huldig en ter ere sing, het ek en Jac net hierdie oomblik om ons dank te betuig teenoor elkeen teenwoordig. Elkeen wat hier is, met die uitsondering van die gesin oor wie se lewenspad hierdie stopstraat en belangrike kruising gekom het, het uit hul pad moes gaan om hier te wees, of hier 'n rol te speel.

En daarvoor sê ons dankie. Dit beteken vir ons, en vir die herinnering rondom Judy waaraan ons steeds bou, baie.

En juis ook oor elkeen uit sy of haar pad moes gaan (al is dit seker maklik om die roete net vir so 'n kort oomblik vir Judy aan te pas) dat ons nie kan uitsonder en by die naam kan noem nie. Elkeen verdien dit om uitgesonder te word, om in die besonder uitgesonder te word.

Egter met trane van dankbaarheid in my oë dat ek, nie 'n mens of mense nie, maar 'n spesifieke dank, in die besonder, wil uitsonder:  vir net meer as 'n jaar nou het my hart elke keer oopgebars as ek bewus geword het daarvan dat iemand die moeite gedoen het om my ma te kom besoek.

Dit het vir my baie beteken. Maar vir haar nog meer. Veel meer as wat die besoekers ooit kan vermoed. My opregte wens is dat elkeen van julle by die hand geneem, en reguit opgeneem word hemel toe. Want julle verdien dit.

Judy het maklik uit haar pad gegaan vir 'n ander, ek dink partykeer sy het bykans haar hele lewe op 'n ander pad geplaas as wat sy noodwendig sou wou, juis in belang van haar twee kinders – om die beste vir hulle moontlik te maak, en nie 'n las vir hulle te wees nie. Sy het haarself geoffer, geheel en al.

Ek het agter op AVBOB se briefie iets probeer oordra van waarom dit vir haar kinders so maklik is om vir haar lief te wees: sy het aan ons die voorbeeld gestel, en daardie voorbeeld leef voort in ons.

Haar eie ma, Ouma van Wyk, is 1986 oorlede. Vir goed twee of drie jaar voor hierdie ou vrou se afsterwe het my ma elke dag, óf voor sy die winkel oopgesluit het, óf na sy die winkel toegesluit het, elke dag van haar werksweek van 6 dae, by haar ma ingeloer.

Dan vind die mense dit vreemd as ek soggens knap na 06:00 by Judy instap. Dan is dit vir ons Moolmans glad nie vreemd nie. Ons is niks anders gewoond nie, dis die voorbeeld wat lewenslank vir ons voorgeleef is.

Daarom ook dat ek praat van voortleef. In ons en deur ons.

Vir baie van ons het die verhouding met Judy nou tot 'n einde gekom. Vir ander, wat gelukkig genoeg is, duur die verhouding voort, en het daar bloot net 'n nuwe fase aangebreek.

Elkeen van die 6 goed wat in die familiebrief genoem is, verdien om oor bladsye heen uitgebrei te word:

1.    As daar net een ding oor haar gesê kan word, dan is dit dat sy haar lewe veil had vir haar dierbares.

2.    Sy is van liefde vir haar twee seuns aanmekaargesit gewees – tot op die einde en letterlik solank sy by haar positiewe was, daarvan kan ons getuig.

3.    Haar waarde wás, en ís, en blý, vér bo die van korale (of enige ander vrou wat uit die slothoofstuk van die Spreukeskrywer se boek stap.)

4.    Sy was enduit 'n dame, in elke sin van die woord.

5.    Dit was lewenslank, en tot ons elkeen eendag ons koppe neerlê, niks anders nie as 'n ongelooflike voorreg en, tot oorlopens toe, strome van onverdiende seën gewees.

6.    En as ons net ‘n duisend woorde rondom haar oor het, sal ons dit alles gebruik om haar onbaatsugtige en offervaardige liefde te besing, tot elkeen van daardie woorde op is.

Maar weer eens waarom uitbrei en aan 'n nog groter klok probeer hang as die een waaraan Judy se hele lewe en wandel dit reeds sonder vertoon en veel omhaal van woorde gehang het?

Die wat sê weet nie, die wat weet sê nie, hoef nie te sê nie.

Elke oud-Albertonner met wie ek die afgelope twee dae gepraat het, getuig egter, sonder dat hulle van mekaar weet, van presies dieselfde, en net een ding:  Judy se ongelooflike en onbeskryflike liefde vir haar kinders.

Daarom dat ek slegs op punt 2 kortliks wil uitbrei, daar was nie plek voor op die AVBOB-brief nie:

Woensdag toe sy dood is, was sy, gelukkig vir ons altwee, verdoof en aan die slaap – daarsonder sou dit 'n vreeslike sterfbed vir ons beide gewees het; ek is die mediese wetenskap dank verskuldig.

Dinsdagaand het ek egter 'n nog wonderliker voorreg gehad om vir twee ure vir oulaas in haar baie angstige en onsamehangende geselskap deur te bring. Dit was vir haar hel en sy was baie gefrustreerd, juis omdat die taalsentrum van haar brein so gedegenereer was dat sy geensins suksesvol kon kommunikeer dit wat sy wou kommunikeer nie.

Ek sê toe vir haar om woorde te los, en haar liefde met 'n glimlag te kommunikeer. Ek sal haar reaksie, haar poging tot 'n glimlag, tot ek die dag my kop neerlê, nooit kan vergeet nie.

In my poging om haar rustig te probeer kry, maak ek toe maar of ek slaap, daar in die stoel. En dis toe dat daardie arteritis-handjie tussen die tralies van die bed deurkom en uitreik om my te streel. En vir goed 'n uur lank, is dit wat sy gedoen het, oor my been, my hand, later selfs my gesig, my baard en my hare. Sy het selfs die trane uit my oë probeer afvee en wegvee.

Verstaan daarom waarom ek getuig dat sy van liefde aanmekaargesit was en van 'n moederhart se moederliefde, letterlik tot op die einde en solank sy by haar positiewe was.

Maar dis hoe ons haar leer ken het, en hoe ons haar sal onthou. Dis vir ons geensins vreemd nie.

Ons harte is stukkend geruk en aan flarde, ons harte loop oor van emosie – maar dis vir ons 'n voorreg en seën om te kan huil oor die afsterwe van ons geliefde moeder.

Sy het immers haar hele lewe so geleef dat die wat agterbly nie anders sal kan as om haar te mis nie.

Ons is haar dit ewig dankbaar en sou dit nie anders wou gehad het nie.

Ons dank háár daarvoor.

En ons is bly dat ons hierdie dank kon deel met elkeen wat vandag hier is.



Liefdegroete

1.9.11

30/31 Augustus


As ek 'n dogtertjie was, wat 7 geword het, soos Klaradyn gister, dink ek dat ek 'n dogtertjie sou wees wat kan terugkyk op 'n heerlike verjaarsdag.

Met 'n mamma soos Mamma Annieka spring so verjaarsdag sommer vroeg in. Ligte geselsies rondom die onderwerp dateer uit April; ernstige geselsies skop Junie in.

Vanaf begin Julie is alles in plek en gefinaliseer – ons wag net vir die aftelling om om en by 15 Augustus te begin.

Vanjaar was dit vroeg duidelik:  ons gaan nie vanjaar 'n groot partytjie hê nie.

Dit het toe dadelik Klaradyn en 'n maatjie by die dieretuin geword.

Die maatjie het met verloop van tyd 'n –s bygekry.

En toe ons weer sien, toe vang Klaradyn ons met die een waarmee ons haar 'n klompie jare gevang het: op 4 kon sy vier maatjies kry, op 5 was dit vyf.

So sewe van hulle is toe Saterdag dieretuin toe. Met nie minder nie vyf oppassers.

Ons gesin kuier gereeld in die dieretuin en ek het spoedig tot die gevolgtrekking gekom dat 'n besoek aan die dieretuin darem baie lekkerder is in 'n groepie maatjies wat pouses saamspeel, as saam met 'n ma en 'n pa.

Die gholfkaretjies is vir twee ure ingespan, toe het ons op die gras plat geval vir 'n piekniek.

Na die piekniek wou die oues omval vir 'n slapie, maar die jonges het begin wegkruipertjie, hardlopertjie, en rondhol-in-elke-denbare-rigting-tjie begin speel. En skielik was vyf oppassers te min om 'n ordentlike ogie oor sewe graad eentjies te hou.

Maar hulle het dit geniet. Soos ek dit het, het die een maatjie dit so geniet dat sy die gesin die volgende dag weer daar had.

'n Ander, wat saam met my gery het toe ons huis toe is, het laat val dat sy wonder wat die kanse is dat hulle die volgende dag na kerk weer daar 'n draai kan gaan maak.

Ons merrieperd het soos 'n ou uitgeputte karperd op die bed neergeslaan en aan die slaap geval.

Van Sondag se kolwyntjies het ek reeds vertel.

Maandag kry ons toe nou die klaspartytjie se pakkies in plek. 'n Koeldrankie en lekkertjies met biltong en droë wors vir 'n lekker afwisseling. En dan nou die kolwyntjies.

Maandagoggend toe word die meisiekind wakker gesing deur Mamma en Pappa.

Tannie Bev sing oomblikke later uit Kampsbaai oor die foon vir haar Engels.

Sy kry is seëlringetjie met KLARIE daarop graveer van die ouerpaar.

Met Ouma Nooi (langs wie se sterfbed ek nou hierdie sit en tik om my gedagtes rustig te hou) se debietkaart het ek drie storieboeke gekoop. En sy het dit ook gekry.

Ons het maar dat Annieka voor in skryf(...  )

Ag, siestog, want toe sterf my ma twee minute later, maar meer daaroor later.

By Ouma Wiesie gekom, na die lekker wakkerword, wag daar toe knap na 06:00 'n tros ballonne by die voorhek om die herdenking van die kind se geboortedag luidkeels in skel kleure aan te kondig.

En etlike meters verder, by die voordeur hang “HAPPY BIRTHDAY” uitgespel.

By daardie huis lyk dit of Kersvader se slee met 'n eerste besending Kersfees 2011-geskenke op pad Noordpool toe, gebreek het – boeke en poppe en poprokke en nog boeke. En nog.

En dit alles tussen 06:00 en 07:00

'n Bietjie later is Pa by die skool om die kosmandjie af te laai. Verjaarsdagmaatjies kom in gewone kleure skool toe, en ek hou haar lank van die hek af dop. 'n Gelukkige blondekop in pienk wat hol en jol en elke oomblik geniet.

Ek het, toe die juffrou by die klas aansluit knap voor die klok lui. 18 hande om te help dra. 18 hande vir een skinkbord, en nog 18 hande vir die boks met eetpakkies. Hoe hulle nie oor mekaar geval het nie, hoe hulle alles in een stuk uiteindelik tussen die tafel en stoele deur, agter in die klas gekry het, weet ek nie en is suiwer genade.

Die verdere verloop ken ek nie, maar alle boodskappe dui daarop dat dit 'n lieflike klaspartytjie was.

Na skool kom kuier Tannie Esme met haar tradisionele verjaarsdagkoek – vanjaar 'n groot 7 met dolfyne.

Liezel van oorkant die straat kom sluit by ons aan en huispartytjie saam.

Toe bring Petri sy blom, en nou het ons 'n huis vol mense met stemme en gelag en vrolike speel.

Met die laaste van ons gaste weg, is ons deur na Ouma en Oupa vir 'n gesinsete met Oom Erik en Tannie Nettie wat by ons aansluit.

Die kind val in die kar aan die slaap, voor 20:00 op pad huis toe.

En toe weer oor die storie wat Mamma lees.

Maar daarvan moet Mamma my vertel, ek het dadelik deurgeskiet na Ouma Nooi toe om te sien hoe dit daar gaan.

En afskeid te neem, sou dit toe nou gister 13:30 blyk, want by haar positiewe het sy my nie weer, en ek haar nie weer, gesien nie.

Nou het ek nie meer drie vrouens om my lewe te oorheers nie, maar net twee.

En dit sal steeds een vet lekkerte wees en bly.

30.8.11

Klaars-kind se kolwyntjies

Judy het dit altyd so maklik laat lyk.
En miskien was dit. Sy had 'n voltydse inwonende bediende en sy was 'n huisvrou, niks meer nie – sy het nie tussendeur moes skoolhou, jaarblaaie versorg, landswye onderwys-opleidingsessies uitwerk, interskole vasvrakompetisies beman en vakvergaderings waarby 27 skole betrokke is, verwoord en aanbied nie.
Ook nie sommer net huisvrou nie, tuisteskepper in elke sin van die woord was sy gewees, so al asof sy uit die slothoofstuk van die Spreukeskrywer se boek ontsnap het:  'n vrou se waarde is ver bo die van korale...
En álles wat daarop volg.
En meer.
En nou probeer ek haar dit 40 jaar later nadoen.
Juis oor ek dit as kind so geniet het: pens en pootjies op die werksoppervlakte, kort-kort met vinger in die mengbak, maar nooit te veel nie, hoor – 'n mens kry glo omgekrapte maag van die rou deeg.
En as die rou meel en eiers jou nie onderkry nie, dan sal die happe en lekke en stroopsoet vingers vol botterversiersuiker wat sy aangemaak het spoedig met jou gestel afreken.
Volgens my is daar ongelukkig nou maar een maal twee goed wat jy nie met 'n kolwyntjie doen nie:  jy koop hom nie, jy bak hom self; en jy noem hom nie 'n cup cake nie, maar 'n kolwyntjie, want dis wat hy is.
Druk van Annieka, druk van einste Judy wat die naweek gehospitaliseer is, druk van die werk, druk trouens van elke aard en vorm (buiten nou finansiële druk natuurlik) had my egter Sondag by die enigste tuisnywerheid in Pretoria waarvan ek weet wat op Sondag oop is, met die woorde:  “Sal ek Maandag drie dosyn cup cakes by julle kan optel?” (Dit help nie ek praat van kolwyntjies nie – die meisie agter die toonbank sal bloot laat val dat hulle dit nie aanhou nie; hulle het nie 'n dranklisensie nie.)
Maar is ek nie bly toe sy sê dis 'n saak van onmoontlikheid om op 'n Maandag op 30 cup cakes te wil reken nie. Die vroegste wat dit inkom, miskien, as ek gelukkig is, is Maandag middag, laat.
Ek spring met 'n huppel in my stap in die motor en kondig aan dat ons ons eie kolwyntjies gaan bak.
Ek en Klaradyn bak darem seker nou al vier jaar so twee keer elke jaar vir die maats kolwyntjies, so waarom nie hierdie naweek weer nie.
(En waarom nie weer nie, is eintlik eenvoudig:  Klaradyn help vir 10 minute en verloor belangstelling. Pa sweet drie ure later steeds om die goed versier te kry, en dit terwyl die kombuis ‘n verdere drie ure later steeds soos drie dae voor die skepping lyk.)
Pasella se blou kookboek wat in die koekblik gekom het se kolwyntjies is 'n treffer, maar na vier jaar is dit nie meer 'n uitdaging nie. (Eintlik het ek dit nou al op ses verskillende maniere laat flop, ek sien nie kans om dit op 'n sewende manier ook nog te flop nie.)
Nee, ek koop nie klaar bereide boksies kits-goeterstes waarby jy net olie en eiers moet gooi nie – dis vir slegte mammas en lui huisvrouens; jy bak kolwyntjies soos Judy dit 40 jaar gelede, toe klein Hansie 7 geword het, sou gedoen het.
Noudat Klaradyn, 40 jaar later, op haar beurt 7 word.
Ek besluit op 'n grondboontjiebotter-kolwyntjie.
As ek die resep so kyk, vertel ek myself dit het genoeg vette in dat ek dit maar Sondag kan bak en dit teen Dinsdag nog vorentoe sal kan smaak.
Dis 30 kinders. En Juffrou. En Juffrou Melinda van verlede jaar en die hoof.
Van wanneer af die hoof ook nou 'n koekie moet kry sal ek nie weet nie – dit herinner my altevol veel aan gatkruip, maar Annieka onthou dat sy ook in graad 1 'n suigstokkie vir die hoof geneem het.
Ai, waar is die dae? As jy verjaar stuur Ma jou skool toe met 'n sak suigstokkies en jy deel dit onder die kinders uit!
Dis 33. 36 as daar 3 ekstra vir die wis en die onwis is.
Ek moet die resep dus een en 'n halwe keer aanmaak, want die basis maak 24.
Fout nommer 1:  Die resep maak 24 mikro-kolwyntjies wat pas in papierdoppies wat lyk of dit vir sjokolade bedoel is.
Fout nommer 2, omdat jy reuse doppies het, kom in wanneer jy die beslag wat jy dubbel aangemaak het, vir dubbeld die tyd in die oond het – juis oordat jou doppies twee of drie keer groter is.
Dis te lank en die eerste baksel kom droog en hard om die boudjies uit die oond.
Maar lank voor hierdie fout, kom fout nommer 3:  Terwyl ek dink aan die mense op die plaas  wat tyd en jare gelede elke eier eers in 'n piering gebreek het, vir ingeval daar fout is, breek ek my eier oor die klitser se mengbak en gooi dit in.
En nee, daar is niks fout met die eier nie (die beslag gaan nie asblik toe nie, nie hiérdie beslag nie, nóg nie) dis net:  die laaste eier se dop se een helfte val om die een of ander rede (ek sien dit alles natuurlik in stadige aksie gebeur) in die beslag en word deur die hoëspoed elektriese klitser ingeslurp en opgebreek, maar ongelukkig nie so intens verpulp dat ek nie nodig het om die rol van all the king’s horses and all the king’s men te speel nie: ek pik halfuurlank eierdoppe met 'n vurk uit die beslag en stuur dit oond toe.
Vir te lank.
Toe dit bruin om die boude uitkom besluit ek om die beslag eerder 4 keer in plaas van 3 keer aan te maak.
Dis toe wat Fout 4 insluip en die 3 spanjoele tien minute later die beslag uit hul waterbak opslurp:  ek gooi twee koppies, in plaas van twee derdekoppies melk by die suiker en regte egte botter wat ek tot lig en romerig geklits het.
Ek begin weer van voor terwyl die honde my ewig dankbaar bly.
Maar intussen het ek 'n krisis op hande. Annieka het 45 minute gelede laat val sy gaan gou winkel toe om selotape te koop. Met die winkel net om die eerste draai, drie minute se stap, is dit hoogstens 10 minute uit en tuis.
45 minute word nou al 'n uur en sy is nog nie tuis nie. En sy antwoord nie haar foon nie. En ek wil nie vir Klaradyn ontstel met die woorde  dat ons nou na haar ma moet gaan soek, want sy is weg, nie.
Ek bel later my skoonpa en stuur hom strate in om sy dogter te gaan soek. Ek hou Klaradyn rustig en maak solank weer die beslag dubbeld aan. (Dit help nie ek maak 36 van die goed nie, 48 sal beter wees – die goed moet nog versier word en ek is gewoond om 'n hele paar in daardie proses af te skryf. 'n Speling van 3 is net te min.)
Maar met my gedagtes by my vrou, vergeet ek van die grondboontjiebotter in die beslag.
En fout nommer hoeveel is dit nie nou al nie!
Fout nommer volgende breek aan by die versiersuiker – my laaste koppie versiersuiker (van 4) is toe nie versiersuiker nie, maar strooisuiker.
(Ek klits die versiersuiker dat die stomme klitser rook uitslaan, maar verniet of die suiker wil smelt, soos ek wil hê dit moet smelt – of is dit oplos?)
My koekversier-kontrepsie van plastiek het die jongste hond opgekou – ek is aangewese op 'n outydse wit piping bag en daar pêrel die sweet toe oor my voorkop en peul die versiersuiker orals, behalwe by die buis se bek, uit.
Dit was fout nommer 7:  met die dat ek ekstra bros grondboontjiebotter in die versiering gebruik het, verstop die brokkies grondbone die buis se bek – en as dit nie weier om te spuit nie, stroooooom dit weer by die bek uit as jy ten einde laaste die verstopping met al die krag in jou hande aan die hand van heimlich-maneuver, op die koekie, die skinkbord, jou vingers en die vloer het.
Maar 7 is nie verniet die volmaakte getal nie.
Hierdie 7 terugslae besorg my, in die woorde van Annieka aan Klaradyn:  “Jy moet hierdie kolwyntjies van Pappa kom proe, my skat – dis die lekkerste kolwyntjies wat ek nog ooit in my hele lewe geëet het.”
En ek glo haar, want vir my is dit die lekkerste kolwyntjies wat ek en Klaradyn nog ooit saam, aanmekaargeslaan het.
Ek glo jy kan maar enige kolwyntjieresep wat suiker, botter, eier, vanilla essens, melk en van hierdie meel wat klaar bakpoeier by het, neem. Dan maak jy die botter net minder, so met die helfte, en alles wat jy minder maak, vul jy weer aan met sagte, romerige grondboontjiebotter.
Jy moet die suiker en botter klop, tot lig en romerig – maar ek is 'n man en het nie tipe geduld wat dit verg nie; ek kry alles natter met die eier en dan los die suiker vinniger op.
20 minute by 160 grade. (Of tot die goed met 'n vengeance terugspring as jy daarop tik.)
Die versiering is dan doodgewone outydse botterversiering, maar jy doen weer eens dieselfde met die botter – jy vat weg en vermeerder net weer met bros grondboontjiebotter. Hoe brosser, hoe beter, maar onthou net om ‘n met ‘n dik spuit te versier – anders gaan jy sukkel.
Strooi dan met gekapte geroosterde grondboontjies en geniet.

19.8.11

Dis heerlike lentetyd

Dan word dit nou weer daardie tyd van die jaar – die Moolmans vier Lentedag mos reeds op 30 Augustus, die dag waarop Klaradyn met 'n kreet (wat, sou dit later blyk, toe nooit 'n kreet was nie, maar, getrou aan haar aard, eerder 'n moewiese gejuig) in ons lewens ingestap het.

Dit voel soos gister; en hier staan ons al, haasbek, op die vooraand van 7.

Kyk jy na foto’s van my en Annieka, ek of Annieka, dan sien jy dat dit straks soos gister vóél, maar laat ons nou nie doekies omruil om geheimpies daarvan probeer maak nie – dit lýk beslis nie soos gister nie. Trouens en inteendeel.

My baard, waar die knope in die hospitaal van my hemp af spring – so swel my bors van trots, is nog pikgiet- pure swart. Vandag kan ek nie eens meer, soos twee jaar gelede nog, praat van ‘n sout-en-peper-baard nie, van selfs net 'n knypie of 'n grypie peper is daar ongelukkig nie eens meer sprake nie – dis spierwitgrys.

Maar die ou foto’s van daardie dae hou ook hul voordele in:  ek raak elke dag weer opnuut verlief op die mooi jong vrou wat langs my op die foto’s pryk – te lekker.

So kom ek af op 'n foto van seker so drie jaar voor ons troue en ek wil dit summier klas toe neem en daar staan maak tussen die kiekies van Klaradyn wat jare later sou kom. Ek en Annieka is op 'n boot op die Kariba-meer. Dis nou tot ek verby my vrou se bloesende jeugdige rooikop-gelaat en donker baard staar, en vaskyk in die bier in my hand, die Mandela-hemp aan my lyf en pers bandana op my kop. Die kinders sal hulself oop kraak van die lag, die hoof sal knak, en waar sit ek dan?

En had ek en Annieka tog maar net minder van die veld, van Kariba en die res van Afrika in ons, dan het ons ook nou rondom Barbie, Bratz of Hannah Montana 'n partytjie gereël, maar, nee, ons het die kind mos van kleintyd af 'n liefde vir diere en die natuur ingegee – nou foeter ons oor twee Saterdae dieretuin toe met 'n sestal maatjies.

Kyk, vanjaar gaan ons mos nou klein – 'n mens kan nie elke jaar 'n groot partytjie hê nie. Vanjaar is klein en dan kan volgende jaar weer groter.

En dis toe waar Klaradyn aan die dieretuin kom. Ek was bang sy bestel weer 'n muishond-koek, soos op 3 die geval was, maar tot op datum is vreemde karnivore nog nie op die wenslys wat koeke betref nie.

Die wenslys het egter wat maatjies betref uitgesit, geswel en loop dit nou 'n paar dae al die gevaar om uit sy nate uit te bars. Die gedagte was Mamma, Pappa, Klaars en twee maatjies – almal op een gholfkarretjie. En dan piekniek ons iewers onder 'n boom.

Die twee maatjies het egter verdubbel en vier geword. Hierdie vier het spoedig aangegroei tot ses en wil dit my nou voorkom ek sal nie een, of twee, gholfkarretjies moet huur nie – ons het 3 nodig. Gelukkig is daar 'n derde bestuurder, want toe die kinders aangroei, toe moet die mense wat kan oppas en uitkyk ook toeneem.

Vir my die lekkerste tot op datum rondom die partytjie, is die uitnodigingskaartjies – die kind wil toe mos nou vanjaar opsluit haar eie kaartjies teken en maak.

Ek kan nou nie meer alles onthou nie:  kameelperd, leeu, komodo-draak, anakonda, pikkewyne, nog 'n basilisk-reptielerige iets onder gloeilampe asof in 'n broeikas, bokke.

Ek wou die kaartjies nog skandeer. En ek kon, want ons het dit al drie weke gelede afgehandel. Daar is gespoeg en geplak en uitgeknip en ge-als. Riffelkarton, bruinpapier en iets ligs om op te teken.

Maar toe haak ons aand na aand elders vas, sonder om by die skrýf van die kaartjies uit te kom, want skryf wil die mêrrempie haar eie kaartjies skryf ook. Daar word kort-kort groot beloftes gemaak, van ma én dogter se kant af, maar net mooi niks wil realiseer nie.

Toe ek die idee kry dat die volgende wat gaan kom niks anders as telefoonoproepe gaan wees nie (ek bel om te hoor of jou kind nie more saam met Klaradyn dieretuin toe wil gaan nie) toe sit ek my voet neer – hierdie kaartjies kom vanaand klaar, dit gaan more skool toe en maatjies toe.

O, wee, en daar is die 6 kaartjies toe te veel vir 'n klein dogtertjie. Die trane sit vlak en die moeg, hoog.

Toe raak hulle probleem, my probleem en ek moet die skandeerder koppel. Maar die eerste poging is op bruinpapier en sonder kleurdrukker, lyk dit in skakerings van grys nie mooi nie.

Klaradyn doen oor op wit, Mamma brei uit met haar boodskappie en ek skandeer; ons almal help met die inplak – dit word laat en ons is haastig.

Só haastig dat die eerste Mamma gister bel:  “Ja, ons sal vreeslik graag wil kom, maar sê ons nou net... ons weet alles wat ons moet weet, én meer, behalwe wánneer die partytjie is: wanneer ís hierdie partytjie?

Ja, met die tweede oorskryf van Klaradyn (die bruinpapier na wit) het dele van die boodskap weggeval, en Mamma het dit vergeet om dit by haar boodskappie in te voeg!

Dankie tog dis net 6 maatjies en 18 nie. Ons leef in die een-en-twintigste eeu, so waarom nie alles afhandel en beklink met 'n SMS nie.

Hou saam met duimvas dit reën nie oor twee weke nie – ons hét verlede week drie reënbuie én op 'n kol ook hael gehad. Ek onthou 'n 28 Februarie so agt jaar gelede waarop swartryp bykans ons hele tuin uitgewis het.

Maar ek weet dit sal goed gaan, selfs al is dit koud of reën dit – Klaradyn pak wat sy doen, nie met ‘n kreet aan nie, maar 'n gejuig, en haar teenwoordigheid sal enige ongure element van die natuur so vinnig ontuis en onwelkom laat voel, dat dié sommer gou voet in die wind sal slaan.