Pages

16.8.11

In die motor by K se dramaklas

Hans het weer vanoggend sonder sy beursie in die motor geklim en werk toe gery.

Dis niks vreemd nie, dit gebeur gereeld.

Die probleem is net dat hy Klaradyn Dinsdae knap na skool moet optel om haar by betyds by die dramaklas te kry.

So Dinsdagmiddae ry hy tolpad – iets wat teen sy grein ingaan, iets wat hy ten alle koste vermy.

En partykeer letterlik “ten alle koste”, soos vanmiddag toe hy vir die hoeveelste keer bakhand langs die pad moes staan in die hoop dat 'n Barmhartige Samaritaan hom die R6-00 sal voorskiet.

Dit het verlede week amper gebeur, ek het die afwesigheid van die beursie in die motor betyds agtergekom – daar was nog 'n afrit in middestad toe.

Die probleem was net dat die tou in die linkerbaan wat daar wou afdraai, al 'n kilometer terug begin opdam het.

En as daar een ding is (een van die baie dinge is) wat my binne oomblikke in 'n ongekende padwoede in het, dan is dit wanneer ek, heel geduldig en wetsgehoorsaam, in die linkerbaan kruie om voor iewers af te draai, en 'n ongepoetse kom in die tregterbaan verby en wil voor my indruk.

En daar moet ek dit toe nou doen.

Dit was vir heter heter kole op die voorhoof, 'n groter verleentheid en bron tot skaamte, as om bakhand langs die tolhek te staan en bedel.

Ek het onbeholpe met my vingers die boodskap probeer oordra dat ek nie geld vir die tolhek nie. Na 'n ruk, weliswaar nadat die motors wat in my baan, die regter baan wat verby die afdraai beweeg, al agter my begin opdam het, het iemand my toe geleentheid gegee.

Die vorige keer wat dit gebeur het, was effe makliker – my beursie was nie by die huis nie, hy was bloot net dolleeg, en ek kon die leë beursie hier in die omgewing van die truspieëltjie rondswaai en skud om te kenne te gee dat hy opgedroog is.

Ek sal nie sommer so gaaf wees om iemand wat vinnig verby gery het tot voor en dan voor my wil inbeweeg, sommer help nie,  leë beursies en swaaiende hande ten spyt.

Maar iemand wat met leë hande voor die tolhek te staan gekom het, help ek dadelik.

Nie dat dit al ooit gebeur het nie. Dit voel vir my ek is die enigste mens met wie dit nog ooit gebeur het.

Dit sal vir my heerlik wees om 'n medereisiger te hulp te kan snel; die geleentheid doen hom egter bloot net nooit voor nie.

Vanmiddag, toe ek so in die ry al deur al my sakke is, onder die sitplek gefynkam het, my skootrekenaar uitgepak en sy sak uitgeskud het, flits daar 'n lawwe gedagte deur my kop: miskien aanvaar hulle my debietkaart.

My debietkaart wat by die huis in my beursie is.

In ons gesin was daar die bekende mededeling rondom hierdie onderwerp wat daarop neergekom het dat:  as sekere dele van Hans ook  nie aan hom vas was nie, het hy dit ook lankal iewers vergeet, laat lê of verloor.

So soek ek gemiddeld twee keer 'n dag my motorsleutels – en as ek die dag drie keer nodig het om die ryding in te span, dan soek ek sy sleutels 'n derde keer.

Ek soek my bril! En oor ek nie my bril op het nie, kan ek nie sien waar my bril is nie – dan moet die hele huis inspring en soek.

Dit laat my dink aan my dapper ouma wat op 75 een van die eerste mense was wat destyds met die koms van kontaklense, vir haar ook 'n stel kontaklense gekry het. Dan bel sy – sy het haar “ogie” verloor, ons moet kom soek.

En kom ons daar aan, dan is Ouma, die buurvrou én die dominee wat kom huisbesoek doen het, stert in die lug op hul knieë aan het fynkam van die 1970’s bont blaarpatroon mat.

O, en dan die vreugde as ons hom vind – meer as een keer was die ding op haar oogbal, maar nie naby die retina nie! (Is so iets moontlik? My gedagtes gaan nou baie ver terug, standerd 1 of 2 toe, Ouma het nog in die woonstel onder die dranksugtige orreliste wat al die jare 'n vuurwarm verhouding met die dominee gehad het, gebly.)

Maar dis 'n ander soek en vind waarheen my gedagtes vanmiddag met my loop:

So het 'n kollega van my een laat agtermiddag haar trouring in 'n veldjie langs die pad verloor. Dis 'n lang storie hoe hy van haar hand gekom het, en nie nou ter sprake nie. Feit bly staan, dit het donker geword, maar ligte en flitse ten spyt, later selfs metaalverklikkers wat by Tukkies geleen is ten spyt, kon hulle die ring nie kry nie.

Intussen maak die munisipaliteit twee keer skoon, brand af, spuit gif en gaan die gang wat normaalweg sy gang in voortstedelike oop erwe hul gang gaan, sy gang.

Agt maande later, en ek praat onder korreksie maar dit is moontlik dat dit na die afsterwe van haar man was, stap sy weer daar langs – daar is 'n padwedloop en sy en haar kinders hou die hardlopers dop – en sy kyk af, tel haar ring op (tientalle meters der meters van waar sy hom aanvanklik verloor het) en gaan huis toe.

As ek die vrou nie self geken het nie en ek nie geweet het dat sy onkreukbaar is nie, het ek die storie nie geglo nie, het dit my altevol veel herinner aan hierdie hengelstories van ouds waar die visterman se vals tande oor die rand van die skuit in die diepsee verloor, was nie, en later die vakansie 'n knewel uittrek – met niks anders as sy stel tande in die dierasie se buik nie.

Maar ek ken haar en weet sy sal nie eers aandik nie, wat nog te sê, lieg.

'n Beursie wat my baie na aan die hart lê, 'n beursie wat 'n Angolese vrou in 1987 vir my gemaak het, het ek tien jaar later, in 1997, tot my spyt, verloor.

In 2000, net voor ek by die betrokke skool waar ek toe in diens was, weg is, kom ek per toeval een middag in die tuin- en ander gereedskapstoor – en wat lê daar, oop en bloot, asof dit geweet het ek is op pad en dit staan solank gereed – my beursie, gemaak van UNITA kamoefleermateriaal wat Maria Mendes vir my gemaak het.

Of dit 'n arbeider, 'n koshuiskind of 'n skoolkind was, weet ek nie. En straks het ek dit bloot verloor. En gelukkig weer gevind.

Die beursie is nou saam met 'n hele paar ander in 'n antieke skryftafel se heel klein laaitjie wat intussen soos 'n olifantbegraafplaas, die laaste rusplek van my ou en stukkende beursies geword het. Ek het hom verlede week weer in my hand gehou en toegelaat dat hy my gedagtes op ver paaie van lank gelede neem.

Waar my gedagtes egter vanoggend was, toe ek my huidige beursie moes saamsleep motor toe en skool toe, sal ek nie weet nie.


13.8.11

Pappa en dogtertjie stap

William Rowland het ‘n gedig geskryf wat hy Pappa en seuntjie stap  noem.
In my onderwysloopbaan is hierdie gedig 'n hele paar jaar lank vir die matrieks voorgeskryf.

Ek het nie 'n besonderse voorliefde vir die gedig nie; daar is ander Rowland-tekste, party minder bekend, ander nie, wat ek veel eerder saam met leerders ontsluit, en ontsluit het.

Maar die titel van die gedig, Pappa en seuntjie stap, het vir my, sedert ek en Klaradyn ook van tyd tot tyd begin saamstap het, so vreeslik mooi geword.

Ek betrap myself gereeld dat die woorde Pappa en dogtertjie stap, in eggo op Rowland se titel, deur my kop maal.

En ons hoef nie noodwendig te stap nie, allermins.

Maar ons kan stap ook.

Stap, soos in letterlik stap, maar stap, soos op 'n gedeelde lewenspad stap, ook – Klaradyn wat groter word, en groot word; ek wat ouer word, en eersdaags ook oud.

Pappa en dogtertjie stap, flits gereeld deur my gedagtes, juis op die oomblikke wat nie Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies is nie, maar tye wat afgesonder is vir slegs Pappa en Klaars.

Donderdagaand het ek en my kind so gestap. En Vrydagaand weer. Vanoggend ook.

En dit was heerlik. Elke oomblik.

Donderdag was die skool se opedag. Die aanloop het, aanvoelbaar in die Moolman-huishouding, einde Junie begin, spoed op begin tel in die Julie-vakansie en toe die laaste 4 weke in 'n monsteragtige weghol trein, een waaroor daar flieks gemaak word, ontaard.

Donderdag toe die klimaks. Maar ek bly nie op die slagveld agter om die oorwinning te vier nie, die oomblik toe ek my laaste woord in die tydsgleuf aan my uitgedeel gespreek het, toe soek ek Annieka op, vang haar ook waar sy gesprek voer met onbekende ouers, en ek wuif vir haar. Sy knik.

My wuif het kommunikeer ek gaan ons kind nou optel. Haar knik het haar dankbaarheid daarvoor uitgeroep en gevra dat ek tog mooi na haar moet kyk.

Na 'n week wat 'n week lank dis-nog-net-'n-week-en-dan-is-alles-weer-normaal was, tel ek haar toe half ses by Ouma-hulle op.

En soos met elke opedag die laaste ses jaar, ry ek en is ek spyt ek het nie die vorige aand kos gemaak nie – nie dat so iets in 6 jaar ooit moontlik was of kon wees nie.

Oormoeg, gedaan, pê, op, gatvol en sat, moet ek dan ry en gaan aandete maak.

Ek, soos die kinders dit stel, doen nie gemors- en kitskos by McDonalds of die kolonel se plek nie.

Maar Donderdag was ek net te moeg, toe draai ek links in plaas van regs by Oupa-hulle uit, ry die kitskosplekke die een na die ander verby, en gaan stop by 'n restourant.

Ook maar die derde keer in haar lewe dat Klaradyn en haar pa, so sonder haar ma gaan uiteet.

Vir my is dit heerlik. Die kos kan na hond proe, ek gee nie om nie. Want stap ek die restourant met my dogter aan my sy binne, swel ek van trots en is ek bang die knope spring oor my bors van my hemp af, soos die dag van haar geboorte.

Ek weet dit is vir haar ook spesiaal, so ek sal dit nooit goedkoop maak deur so iets te gereeld te doen nie.

Maar toe kom Vrydagmiddag.

Ons merrieperd gaan saam met die skool ysskaats want ons het genoeg geld met die fondsinsameling geïn dat sy kan saamgaan. Ek het natuurlik gevoel ons moet bylas en aanlas tot sy genoeg het om Sun City toe te kan gaan – maar daarvoor het Annieka 'n stokkie gesteek; nie oor die geld nie (al die geld op die kind se vorm het immers onder baie mense se name, uit haar sak gekom) maar oor sy nie Klaradyn op 'n bus Sun City toe sal sit nie.

En dan was ek ook dalk 'n bietjie voortvarend gewees met my aanvanklike doelwit wat die kind Sun City toe sou gestuur het, want Donderdagaand in die bed toe wonder ek of donkerbrille en 'n pienk hemp genoeg sal wees, en of ek my baard ook sal moet afskeer.

Ja, Klaradyn kan maar op die bus klim, sy móét, maar dit keer my nie skelm agter die bus aan te ry en oorkant die ysskaatsbaan by een van die vyf restourante wat ek deur die groot glas vensters 'n uitsig op die ys het, te gaan sit en die middag te verwyl nie.

Toe kom die SMS deur wat my herinner aan 'n vergadering waarvan ek in die aanloop tot die opedag lankal vergeet het, en Annieka moet alleen gaan.

Die oomblik toe ek egter na die vergadering in die motor klim, toe word dit nie Omie nie, maar, op dieselfde as wysie as die kinders in die bus: Pappa trap die petrol dat jy vinniger kan ry...

Ten spyte van die opedag waarvoor Annieka pa moes staan, het sy toe nog Vrydagaand (én Saterdagoggend) ander skoolpligplegingsverpligtinge ook aan.

So eintlik los ons mekaar net af, daar in die restourant waar ek Mamma Annieka agter 'n koue bord kos en halwe glas appelwyn opspoor.

Ek kon Donderdagaand darem saam met Klaradyn uiteet; 'n besorgde Mamma doen dit toe Vrydagmiddag alleen. Op haar eentjie sit sy daar, die tydskrifte om haar uitgepak. 'n Opera-verkyker om die verloop op die ysskaatsbaan te volg, is al wat ontbreek.

Ag siestog, en dit moes 'n lang middag gewees het, te oordeel aan die rekening wat 'n rukkie later kom – daar was voorgereg ook. Added extras én koffie.

So breed soos ek geglimlag het, toe Annieka Donderdagaand na ek Klaradyn klaar geëet het, by ons in die restourant aansluit, so breed glimlag Annieka toe ek Vrydagmiddag by haar aansluit.

Maar waarom agter die bus terugry, ons is dan nou in die Mall! Dit is immers Vrydag, die opedag is verby, so waarom sal ons dit nie vier nie?

Daar gaan fliek ek en Klaradyn toe, so op ons eie.

Nog iets wat ons slegs vir die derde maal sedert sy so begin word het dat sy kan fliek, doen. En waar ek gewoonlik aan die kant van die paadjie sit, dan sy en dan Mamma, laat ek háár toe om aan die paadjie te sit – haar koeldrank en springmielies langs haar op die grond.

Ek het, toe ek vir die kaartjies betaal, weliswaar nie net aan William Rowland se Pappa en seuntjie stap  gedink nie, maar ook aan Amanda Strydom. Jare gelede, voor 1994, borg die Spoorweë (al was hulle toe al Transnet en is dit daarom miskien knap ná 1994 gewees) 'n Amanda Strydom-fees in die Staatsteater. (Dan moes dit voor 1994 gewees het – ons had nog 'n Staatsteater). 'n Vriend van my is betrokke en hy deel kaartjies vir elkeen van die drie of vier verskillende vertonings na my kan toe uit. Ek onthou nog goed hoe geskok ek was oor hoe onbekostigbaar, onbetaalbaar, ondenkbaar duur die kaartjies, en dit vir 'n konsert waarin een mens sing, was:  R50-00.

Vrydagaand se fliekkaartjies, vir ons twee, was R98-00.

Maar ek knyp my oë toe en knoop die beursie oop:  Pappa en dogtertjie stap. En hulle stap regop, hand-aan-hand.

Vanoggend toe stap ons weer so 'n entjie saam – Voortrekkers toe, hierdie keer. Dis kentekendag en ons moet haar 07:30 op die terrein waar dit plaasvind, hê. Mamma trek aan die korste ent – terwyl ek sorg vir ontbyt, moet sy Klaradyn op en aangetrek, tande geborsel en hare gekam, tassie gepak en tekkies vasgemaak kry.

Ma kan terug klim in die bed – geseënde vrou is sy; ek kan saam met Klaradyn tot aan die ander kant van die stad ry – nog geseënder man is ek.

Ons luister musiek en sing. Ons moet onthou om dieselfde pad terug te ry – daar is 'n interessante boom wat sy my wil wys.

Ons is vanoggend weg met potlode, skêr en gom, ook internetprentjies van Batolomias Diaz wat ek iewers tyd voor gemaak het om op te soek en uit te druk.

Tel ek haar na afloop van alles weer op, is dit 'n plakkaat van die man, 'n collage met 'n karveel en 'n klipkruis van klei wat saamkom huis toe.

Die tannie wat die oggend aangebied het, het gedink sy gaan 'n nuwe generasie kinders aan Carike Keuzenkap se liedjie wat sy in 1988 tydens die feesjaar bekendgestel het leer, maar toe ken Klaradyn dit al oor haar pappa dit in die kar het. So toe sy inklim is die eerste wat sy vra:  “Wil Pappa nie bietjie vir ons die liedjie van Bartolomeu Diaz opsit nie, Pappa?”

Vanaand neem ek haar internet toe, om herbesoek aan die man te bring. Sy sien die standbeeld op Mosselbaai en sê dadelik dat dit waar die poskantoorboom is.

Lekker om met so 'n kind te kan stap.

9.8.11

Happy days are here again

Die aand van die dag waarop ek en Annieka destyds in ons huidige huis ingetrek het, het Ernie in ons lewens ingestap en vir lank sou ek nie kon sê watter man die grootste in my lewe was nie – my broer of Ernie.

Ek dink as jy Annieka by tye voor 'n keuse tussen my en die einste man moes plaas, sou ek tweede gekom het.

Want aand een, ons is nog nie eers 12 ure onder die nuwe dak nie, toe drup daar water deur die plafon op die vloer en ons bel die eiendomsagent om te hoor of sy iemand kan voorstel.

Sy stel Ernie voor en drie en veertig minute later is dit nie net water wat deur die plafon val nie, maar Ernie ook – en hy moet die volgende dag terug kom om plafon te vervang en te verf.

Maar ten spyte van hierdie, nie met die deur by die huis inval nie, maar met die voet deur die plafon val van hom, het Ernie so te sê vertroueling en vriend geword.

Ek het agt jaar gelede, daardie selfde aand wat hy die lekkende pyp heel en die plafon stukkend gemaak het, sy plakkertjie in die kragboks se deksel geplak sodat dit altyd bereikbaar kan wees. Tog, met die dat die nommer ook dadelik selfoon toe is, het ek dit maar selde daar gaan opsoek – en eintlik slegs as ek 'n nuwe selfoon gekry het sonder om my ou nommers op die simkaart te stoor.

Ernie het loodgieterwerk en algemene instandhouding gedoen, en of dit nou die swembad was wat aandag nodig had, of 'n dakwaaier wat tot gevolg kon hê dat ek verkool of die huis in vlamme opgaan, op Ernie kon altyd gereken word om eerlike en ordentlike werk te lewer.

Aan elektrisiteit waag ek nie my hande nie; vir ander instandhouding sien ek kans – mits ek die regte implemente en gereedskap het. Enige taak is maklik met die regte tools, maar sonder die regte tools sukkel selfs die opgeleide vakman.

My gereedskap is beperk tot hamers en enkele skroewedraaiers wat altyd soek is as ek dit nodig het.

Gevolglik het Ernie 'n sleutelrol in ons, ons huis, swembad en elektriese hek se lewens gespeel.

Toe val Ernie met sy agterwêreld, nie deur 'n plafon nie, maar in die botter: hy slaan vir hom 'n werk in die stad los en toe ek weer sy nommer op die selfoon slaan, toe antwoord iemand anders.

Dit neem my toe ook twee keer se uitroep voor ek 100% agter die kap van die byl kom en besef die outjies het my die eerste keer 'n rat voor die oë gedraai: Ernie het nie 'n kontrak wat hom die vorige keer 'n rukkie elders gehad het nie – hy het sy besigheid verkoop en gaan nooit ooit weer optel as ek die nommer wat ek vir hom het, skakel nie.

Ek bel toe vyf jaar later dieselfde eiendomsagent wat ek vanjaar agt jaar gelede gebel het:  wie beveel hulle aan.

So kry ek toe 'n gawe elektrisiën wat vir Spoornet werk en eers na werk in sy vrye tyd met ander se elektriese probleme sukkel. Na twee jaar kom ek toe ook agter hy is iemand wat 'n motor, duurder as my en my buurman se huis saam, bestuur.

Wat die dreine en pype betref, was dit braakland.

Ek en die tuinier het twee insidente hanteer. Met wisselende sukses.

In die een kant van die binnehof het 'n waterpyp gelek. Ek en 'n wonderlike arbeider het die takie aangepak. Ek moes twee keer terug om die korrekte koppelings te kry, en toe moes ek nog 'n derde keer terug oor 'n oepsie met die mes wat my vakman gehad het.

Toe 'n tweede pyp, etlike meter van die eerste, twee jaar later begin lek, toe sien ek nie kans vir weer 'n keer vier keer winkels toe en terug nie. Gelukkig het ek toe 'n nuwe tuinier, en een met 'n effense anderse aanslag as die vorige – ons bind die gat toe op met ‘n fiets se binneband. So maklik soos val uit 'n boom.

En toe hou die kombuis se warm kraan een mooi dag so 'n rukkie gelede net op om te loop. Met 'n emmer uit die badkamer dat ons nou al twee maande skottelgoedwater aandra.

Ek wou nog Julie-vakansie iemand uitkry, maar dis mos maar hoe dit is – voor jy jou oë kan uitvee, is die vakansie om en verby.

Intussen sluit 'n druppende kraan elders, ook by ons aan.

Maar nie een van die takies regverdig 'n boereverneuker wat ek oornooi om my in te kom doen nie. Ek moet eintlik net oorstap na my buurman – hy sal raad hê.

Maar dan is dit mos nou maar een maal hoe dit ook met hierdie tipe ding is – voor jy “Lood-die-loodgieter” kan sê, is die naweek ook al om en wie pla ook nou jou buurman op 'n Sondag met so iets.

En so sou ek nog kon vasbyt en uithou tot Desember, indien nie April 2012 nie.

Maar Woensdag gaan ons skool toe en aan die binnehof is dit duidelik dat dit moes gereën het, want daar is so 'n natterige plassie aan die voet van die een potplant.

Woensdagagtermiddag het hierdie plassie nie slegs nie opgedroog nie, dit het sommer baard, en hardebaard daarby, gekry en 'n allemintige plas geword.

Donderdagoggend toe weet ek:  my en Abel en die fiets se binnebandkontrepsie het die gees gegee.

Vrydag toe kry ons die duikbrille en paddavoete in die gereedheidshouding in die binnehof – ingeval van nood.

Saterdag sleep ek toe maar langtand so 'n plaaslike advertensiebladjie nader.

Maar ek vererg my – dis veronderstel om “plaaslik” te wees, maar elke telefoonnommer wat nie 'n selfoon is nie, verklap dat my plaaslike gemeenskapsloodgieter in 'n ander tydsone as ons bly en werk – dit gaan my R500-00 aan reiskoste kos net om hulle hier te kry, en dan het hulle nie 'n bobbejaanspanner van die bakkie afgehaal nie.

Die ander spel weer duidelik tussen die lyne uit dat jy hulle nie met 'n oog sal sien nie – hulle gaan iemand hier aflaai of 'n span uitstuur.

Daarvoor sien ek ook nie kans nie.

Aan die ander kant is dit ook al met Klaradyn se opblaasbootjie dat ons tussen die motorhuis en die kombuisdeur werk toe pendel en terug.

Toe kom ek af op 'n man wat homself as nutsman uitgee.

En sommer oor die foon weet ek al dat ek van die man gaan hou.

Hy was vanmiddag hier.

Ek jubel.

Annieka jubel.

Ek het eerlikwaar nie gedink 'n mens kry nog sulke eerlike goeie werkers in die man se bedryf nie.

Die lekkende pyp is heel, en die plaveisel wat ek gewoonlik later weer moet lê, moet ek glo net so los – hy kom dit self doen.

Die druppende kraan sal in jare nie weer sulke streke uithaal nie.

Die halsstarrige warmwaterkraan wat ons badkamer toe en terug had met emmers warm water is deeglik in die bek geruk en ek voorsien ook nie dat hy sommer gou weer sal sukkel nie.

Die man is selfs in die dak in met 'n ongemaklikheid by die geyser.

Ek het 'n swart kokipen gesoek en die man se telefoonnommer op wyle Ernie se plakker geskryf. Ernie kan wat my nou betref, maar emigreer for all I care.

Op my selfoon het ek 'n nuwe kontak:  Nutsman Manie.

Enige iemand in Pretoria Moot-omgewing wat behoefte het aan 'n nutsman – kontak my gerus, ek het iemand wat ek met groot vrymoedigheid kan aanbeveel.

8.8.11

Kuierklets en lekker kos

Is ek en Annieka en Klaradyn nou darem nie Saterdagaand vrot bederf met 'n spesiale voorreg nie!
Meer as 10 jaar gelede het hierdie 6 vriende een aand saam gekuier, en ek lei af dit moes 'n heerlik gesellige geleentheid gewees het, want iewers deur die loop van die aand maak iemand toe die stelling wat neerkom op die volgende:  kom ons maak volgende maand weer so, maar ons kry 'n onderwerp of tema en elke paartjie is verantwoordelik vir óf die voorgereg, óf die hoofgereg, óf die nagereg.

En net daar het 'n tradisie ontstaan wat oor 10 jaar nog net enkele kere nie maandeliks by gehou is nie.

Na ons die voorreg had om een aand saam met hulle aan te sit, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit geensins  suiwer die geselskap en 'n voorliefde vir kos of kosmaak is wat die tradisie in stand hou nie, maar 'n gedeelde sin vir avontuur en kreatiwiteit.

Ek mag natuurlik verkeerd wees, ek was immers net enkele ure in die mense geselskap, maar ek is seker hierdie slotsom is nader aan die kol as die eerste gevolgtrekking waartoe ek voortydig en halsoorkop gekom het: 'n groepie mense verveeld met suburbia op soek na vermaak.

Dit moet die waaghals en avonturier in elkeen wees wat gevoed word deur die een basiese kernreël vir elke byeenkoms:  jy mag nie dis wat jy bring of kom maak al ooit van te vore (selfs nie eers skelm en in die geheim) op die proef gestel het nie.

Vandaar miskien ook die naam waaronder die lede na die byeenkomste verwys:  Trial  & Error-aande.

Ek, en baie van ons seker, het groot geword met die raad:  Jy sit nie kos aan mense voor as jy dit nie reeds van te vore by herhaling met sukses gemaak het nie.

En daarmee het ek vroeg in my volwasse lewe 'n probleem opgetel – hoeveel keer in jou lewe kry jy byvoorbeeld 12 Weskus-krewe present? Ek het nog net 2 keer. En die eerste keer het ek dit met vriende gedeel. Die tweede keer met dieselfde vriende.

Selfs iets wat vir my ouers 'n eenvoudige ding was, 'n skaapboud, is vir my 'n luukse. Koop ek die slag 'n Karoo-lam of kry ek een present (iets wat in my lewe nog net  4 keer gebeur het) dan sny ek tjops van die een boud en hou een heel. En dan is dit ek, Annieka en Klaradyn wat die boud een Sondag geniet en dan besluit wat ons 10 jaar vorentoe gaan doen as ons weer skaapboud het en hom dan vir vriende gaan voorsit nie. Nee, ons nooi summier twee ander en geniet die vleisie in ons midde.

Oor 10 jaar heen, het hierdie Trial & Error-vriende wonderlike selfvertroue gekry in die maak, bereiding en voorsit van kos. In 'n sin was elke item op Saterdagaand se bord 'n waagstuk, maar elke paartjie is daar in, en anderkant uit, met die grootste gemak denkbaar.

Daar is ook 'n reël oor wyn, maar oor my sak en persoonlike smaak my nog nooit toegelaat het om enige airs oor wyn te hê nie, kan ek nie onthou wat dit is nie: dieselfde soort wyn (soos Chenin Blanc) van 2 verskillende landgoede of kelders; of dieselfde landgoed se wyn, maar verskillende tipes. Ek is nie seker nie.

Vir my moet wyn vreeslik sleg wees, voor dit sleg is en laat ek myself toe om enige en elke wyn te geniet wat aan my voorgesit word.

Dan vermoed ek is daar reëls rondom begroting die slag as Paartjie A vir Paartjie B die ingrediënte moet koop waarmee Paartjie B as hulle opdaag die hoofgereg (of watter gereg ook al) moet optower. Want, ja, sulke aande is daar ook:  pak die inkopiesakke uit en toor iets vir ons op.

Jy hoef glad nie jou kos vooraf voor te berei nie, dit kan gedeeltelik berei (of selfs 100% in plek) daar aankom, dit maak nie saak nie. Word dit tyd vir voorgereg, dan verskoon die voorgereg-outjies hulle van die geselskap en gaan sonder hulle in die kombuis af.

Die kombuis is dan ook buite perke vir die ander, want dis die ander lieflike reël waarvan ek vergeet het:  niemand sê vir iemand wat hy of sy gaan voorsit nie – dit bly 'n wonderlike verassing tot die borde opgedra of die buffet voorgesit word.

Al wat myns gebrekkige insiens sleg is van die hele aangeleentheid is dat hulle in 10 jaar nie dag- of selfs net resepteboek gehou het van hul aande nie. Plakboek for that matter. Of 'n blog.

Want oor jare heen, het dit nie net by aande gebly nie, dit het naweke en ekskursies met onbekende en eksotiese bestemmings geword. Driegangmaaltye op die strand berei, driegangmaaltye sonder elektriese krag in 'n bouval  of ruïne, 600 vierkante meter lap wat jy geleen het om jou tema te verkonkretiseer. (Vandaar miskien ook my eerste gedagte dat ek my bevind midde 'n spul verveelde rykgatte wat nie weet wat om met hul tyd en geld te doen nie. Maar ek was verkeerd en het die pot mis gesit.)

Saterdagaand was die tema kuns. Jy kan blykbaar die tema interpreteer soos jy wil. Jy kon een van Walter Battiss se resepte gemaak het, jou voorgereg laat lyk het soos 'n kunswerk deur Jackson Pollock, dit op 'n pallet bedien het, met kleur gespeel het, of 'n eetbare beeldhouwerk daar aangebring het.

En dis wat ons voorgereg was, 'n tong-in-die-kies pops op jou bord, soortgelyk aan hierdie een wat 'n klompie jaar gelede plek-plek op die internet opgeduik het.



Ons Lolla se hoendervlerkies was heerlik gemarineer en die onderskeie wulpse ronde bolletjies het gespeel met onderskeidelik bloukaas en druiwe, en riccotta en olywe.

Hoofgereg het gespeel met die elemente van kuns:  kleur, vorm, ritme, balans en tekstuur, en toe nog een bygevoeg – smaak. Maar vir my het dit dadelik aan Christo Coetzee herinner. Hierdie man het in 'n stadium 'n reeks van sy skilderye toegeverf, en aangesien ons lamstjoppies in 'n degie toegemaak en gevorm is, het sy kunswerke van destyds dadelik by my opgekom. Rösti het vir tekstuur gesorg en die groentepakkie op 'n vet bruin sampioen, kompleet met kwasstreep en spatsel roomsous, vir kleur.

Nagereg was 'n vrugterangskikking met doopsousies van onderskeidelik bruin en wit sjokolade. 'n Fees vir die oog. En die tong.

Ek het vir die derde keer hande geklap, soos vir ballet of opera as die gordyn oplig en daar nog niks gebeur het nie - suiwer vir die mooi.



Ons het heerlik geëet, maar net so lekker gekuier ook.

Ek weet dis nege uit tien kere nie die kos wat so lekker is nie, maar die geselskap wat die kos so lekker maak.

Saterdagaand was miskien 'n uitsondering:  én die kos, én die geselskap het gesorg vir 'n kuier om nog lank te onthou.

7.8.11

Hierdie spoor ek nou onder "drafts" op

“Mamma, ek is gebore vir die verhoog!”

So ‘n snipgat!

Maar dit word erger, erg genoeg om daaroor skaam en bekommerd te wees, want die aand aan tafel toe ek ‘n glasie wyn vir my en Annieka aandra, vra sy vermetel:  “En die ster vir die dag, kry sy nie ook iets om te drink nie.”

Maar, laat ek dadelik ter verdediging sê, dit was met ‘n tong so diep in die kies dat die wange skoon bol gestaan het en haar oë helderder as die melkweg van pure ondeundheid geblink het.

(Ag siestog, toe bring die aanstellerigheid haar nêrens – ek het vergeet om melk om te koop en daar was skaars ‘n katspoegie.)

Ek is nie seker wie die meeste opgetrek is met Klaradyn se TWEE A++’e in die kunswedstryd nie – sy of haar ma nie.

As sy kon, het Klaradyn met die medaljes om haar nek gaan slaap – sy het laas die hamster so gevroetelvertroetel toe ons dié ‘n ruk gelede gekoop het.

En ma, wat oorloop van genoegdoening, kan nie uitgepraat raak oor die “klas van haar eie” waarin Klaradyn meegeding het nie. Chalk vs. Cheese, Shakespeare vs. Verna Vels.

En wie die meeste rede tot dankbaarheid het, is vir my ook nie ‘n uitgemaakte saak nie:

Annieka wat verlede moes toekyk hoe die punt van haar hart op die verhoog verlep soos ‘n tulp sonder water?

Of die tulp sonder water haarself, wat na verlede jaar se kunswedstryd gesê het sy gaan so iets nooit in haar lewe nooit as nimmerste nooit-ooit weer doen nie.

En dan is alles nie wie se skuld nie – myne.

Klaradyn kom die dag by die huis aan met hierdie gedig wat sy op die kunswedstryd gaan doen.

En sy sê hom vir my op, en dis lief en dierbaar, maar daar is baie wat haar met die gedig sal kan doen. Ek kan nie wag om in te spring en gestalte te gee aan ‘n wonderlike vertolking deur ‘n graad O-leerling nie.

Maar, nee, moet ek hoor, die juffrou by die skool het hulle gesê om dit so te doen – en dis duidelik dat Juffrou se woord wet is, wat sal pappa wat way back in die oertyd die toekenning vir die beste dramastudent in die departement ontvang het, nou van vertolkingskuns weet.

So toe los ek dit. Ons oefen, maar ons oefen soos Juffrou sê.

En Juffrou was nie verkeerd nie, ons kon net baie daarop bou en uitbrei. Iets wat al die ander mammas en pappas gaan doen het.

So Klaradyn doen toe nie so goed soos al die ander maatjies nie, en sy besluit sy gaan dit nooit in haar lewe doen nie.

Dis nou tot ons hierdie jaar na ‘n tannie gaan wat elokusie aanbied. En nee, dis nie elokusie nie, maar as ons dit dramaklasse genoem het, het Klaradyn sweerlik nie gegaan nie.

Sy geniet elke oomblik en toe die briefie kom wat uitvra na kunswedstryd, toe is dit asof verlede jaar nooit plaasgevind het nie.

Ons het geoefen, pa het probeer help, ma het probeer help; Klaradyn het egter partykeers selfs beter as die dramajuffrou ook geweet – so dis net met moeite en ysere selfdissipline dat ek (of Mamma) nie vandag skuldig staan aan kuikenmoord nie.

Ek was bang mêrrempie doen dit outomaties, sonder enige spanning hoegenaamd (dead give away van iemand  wat nie ‘n ware kunstenaar is nie, selfs al is hulle meesters van hul vak).

Maar gelukkig, vertel Mamma, was die meisie gesond senuweeagtig.

En toe geniet sy dit. (Pa is nie gepla oor prestasie nie, solank die kind dit geniet het, kan sy ‘n B of C ook maar kry.)

En die geniet van die kind, stoot haar toe in ‘n goeie prestasie in.

En daar is almal gelukkig.

Dag twee van die fees, toe kry die groep-item ook ‘n A++, maar voor dit klink of A++ die gemiddeld is, dit is nie. Daar is maar min kindertjies wat geleentheid het om vir hulle ‘n medalje te kan gaan koop.

Miskien neem ons volgende jaar weer deel. Ek hoop so, maar ek sal dit nie afdwing nie.

Ek dink egter Klaradyn is nou soos ‘n roofdier wat bloed geruik het, sy sal die spoor nooit los nie en vir lank terugkom vir nog.

‘n Verdere miskien, net miskien, wie weet, miskien laat sy my volgende jaar toe om haar meer te help.

Sal dit nie lekker wees nie!

Wat 'n teleurstelling!

Ek sal lewenslank 'n kind bly – daarom kinderlik, maar ongelukkig ook kinderagtig.

Ek dink nie ek was in 10 jaar so kinderlik/kinderagtig ongelukkig soos vandag nie, soos op hierdie oomblik nie.

Ek is die hel in vir myself.

Ek is die hel in vir my vrou.

Ek is die hel in vir die bestuur van die Brooklyn teater.

En niks, niks maar niks, absoluut niks, sal my beter laat voel nie.

Want dis te laat – met water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.

En hierdie water wat verby is, vloei al die pad België toe – dis nie soos brood wat jy vandag op die water werp en dan keer dit volgende jaar na jou terug nie.

Hoekom ek vir myself kwaad is, kan ek nie hier aan die groot klok hang nie.

Hoekom ek vir Annieka kwaad is, nog minder.

Dan moet Brooklyn teater maar die sondebok verklaar word. Dit is immers altyd maklik en lekkerder en beter om die skuld op 'n ander te pak. So dan doen ek dit ook nou.

Iewers in Europa het ek donkiesjare gelede een aand 'n sigeunervrou viool hoor speel op straat. Toegegee, dit was nie 'n sigeunerin nie, maar 'n platsak musiekstudent wat sigeunermusiek op haar viool uitgespeel en die soel somer naglug ingestuur het.

Om nóg meer geld van verbygangers te kry, het sy haar golwende bruin hare los gedra, was sy kaalvoet en in 'n bruin romp en baadjie geklee.

Dis amper 20 jaar later, maar ek onthou dit soos gister en gebruik lawwe woorde soos “soel somer naglug” omdat ek daardie nag verlief geraak het – op die vrou wat haar in haar musiek inleef, én op haar musiek.

Verdomp of ek kan onthou watter stad of land dit was. Dit was ongelukkig nie Hongarye of in die Tsjeggiese Republiek nie – sou dit nie lieflik gewees het as dit was nie, maar ek weet vir 'n feit ek was nie gelukkig genoeg om my hart in Boedapest of Praag, of iewers naby Bohemië te verloor nie.

Ek verbeel my ongelukkig dit was in smerige Parys, wat natuurlik die hele gebeurlikheid nou van sy romantiek stroop.

Iets daarvan het my ore daarna in München by Karlstor en Karlsplatz  beleef, my oë ongelukkig nooit weer nie.

Ook toe ek en Annieka jare later saam daar is, kon ek nie wag om te sien en te hoor wat ons in die voetgangersone gaan raakloop nie.

Soortgelyk, baie dieselfde, maar presies dieselfde – ongelukkig nooit nie.

Ek was ingestel op sigeunermusiek, daardie jare.

Enkele weke voor ek die eerste keer met rugsak Europa toe is, sit ek die middag na skool in my klas en die allermooiste vioolklanke kom by die venster ingeswem.

Die skool had 'n baie bedrywige musieksentrum in daardie jare, en om smiddaes op die maat van verskillende instrumente jou dagtaak af te handel, was niks vreemds nie.

Hierdie betrokke middag was egter anders, die musiek het jou onmiddellik aan die hart gegryp en dit was duidelik nie die werk van 'n skolier nie.

Ek het opgestaan en agter die klank aangestap tot ek by Mnr. Silvius, die sentrum se vioolonderwyser, uitgekom het. 'n Leerder had nie opgedaag vir klas nie, en hy het die lestyd gebruik om self te oefen aan dit wat hy besig was om in te studeer:  die Spaanse komponis, Pablo de Sarasate, se Sigeunerweisen.

Hy het my toegelaat om by hom te sit en ek het die klanke ingedrink.

Op 'n stukkie papier is die naam van die musiek en die komponis toe 'n paar weke later in my rugsak saam.

In Berlyn toe, waar ek vir my die opname daarvan deur Anne-Sophie Mutter aanskaf. (Luister gerus hoe Sarasate homself die eerste en vierde bewegings van sy musiek interpreteer met 'n opname van 1904, of hoor wat maak Mutter met die volledige stuk.)

So ja, om 'n lang storie wat oor amper twintig jaar strek, kort te maak:  ek was vreeslik opgewonde toe ek sien die Suid-Afrikaans gebore violis, Gina Beukes, is hierdie naweek onder die vaandel van Salon Musiek in die Brooklyn Teater.

Met geld wat ek nie het nie, gaan koop ek toe vir ons twee kaartjies. Ons laai Klaradyn by Ouma af, en sit af teater toe.

Ek is in vervoering...

En dis my eie skuld.

Die vrou is besig met 'n baie tegniese stuk musiek op haar altviool, die naam ken ek nie – toe ek 'n program wou koop, toe is al die programme ongelukkig reeds uitverkoop  – maar  ek herken dit dadelik van ander opnames by die huis.

Ek verkyk, nee ek verwonder my, aan die werking van die vrou se arm en gewrigte terwyl sy besig  is en wonder hoe fiks/moeg sy nie moet wees nie.

Toe kom die konsert tot 'n einde, hulle gooi die deure oop en ons stap uit.

Ek sê vir Annieka, knap nadat ek in vervoering was oor die musikant se stamina, dat sy seker, soos Nataniël wat ook alles in sy konsert insit, letterlik, fisies nie die krag het vir 'n toegif nie.

Maar ons is haastig, Oupa het twee nagte deurnag gewerk en ons wil Klaradyn voor middagslapie gaan optel.

Dit is vir my vreemd dat die hek waar ons ingekom het gesluit is, maar na hulle die vorige keer wat ons by die teater was, 'n motor gesteel het, verbaas dit my toe ek verder dink en onthou , ook nie.

Ons is haastig en ek ry by die boonste hek uit.

20 sekondes later, af in die straat en weer verby die teater, sien ek niemand is buite nie – dis letterlik ons en twee ander motors wat vertrek het.

Ek sê vir Annieka daar is niemand buitekant nie, ek en sy het nou met die begin van pouse weggery.

By die stopstraat sê ek dit weer – die musici het ook nie met 'n afskeidsgebaar ons applous aan die einde van die laaste item, ontvang nie.

Ek wil omdraai, maar doen dit toe om verskeie redes ,teen my eie beter wete en gesonde verstand, nie.

Ek kry voor die tweede robot nog 10 bewyse waarom dit beslis die aanvang van pouse, en nie die einde van die konsert nie, was.

Maar ek, ek wat agter die stuur sit, draai nie om en ry terug nie.

By die huis gekom was ek reg:  dit was pouse – ek het die itemlys op die internet gaan opsoek.

Ons het die hoogtepunt, die klimaks van die tweede helfte by ons verby laat gaan.

Ek blameer nie myself omdat ek na my vrou geluister het nie.

Ek blameer nie my vrou omdat sy oortuig was die konsert was verby nie – ek blameer Salon Musiek omdat hulle hopeloos te min programme laat druk het.

(Wat natuurlik belaglik is, maar dit laat my minstens beter voel.)

En dis verby.

Vir altyd.

Die feit dat ek dit nou hier verwoord het , laat my ook hoogstens net marginaal beter voel.

En as dit nie Salon Musiek se min programme was nie, was dit my eie toedoen.

(Dis letterlik waar die uitdrukking sondebok vandaan kom: die ou Jode het hul sondes op simboliese wyse op 'n bok gelaai, en die dan by die stadspoorte uit, die woestyn in, gejaag. Vang die leeus die bok, of kom hy om van honger en dors, dan het hulle sondes wat hulle op sy rug gelaai het, ook te sterwe gekom - die onskuldige word blameer en as skuldige voorgehou.)

Miskien moet ek hierdie sommer vir hulle, en vir Gina Beukes stuur.

Want as ek nie vir myself lag nie, moet ek huil, en daarvoor sien ek waaragtig nie nou nog ook kans nie.

6.8.11

Net om te noem ek leef nog

In al die laat nagte op universiteit, dis nou laat nagte van haarde eerlike werk en studie, nie kuier en kattemaai nie, had ek nooit ooit, nie een keer nie, die ervaring om oor die tikmasjien aan die slaap te raak nie.
Ja, dit was enkele jare voor die koms van 'n persoonlike rekenaar – myne was 'n Olympus, 'n lieflike dingetjie waaragter ek ure der ure spandeer het. (As jou handskrif enigsins trek op myne, dan tik jy eerder as skryf, maar ook ure der ure omdat ek nooit leer tik het nie en vandag steeds met twee vingers oor die weg moet kom.) Die masjien is nog hier iewers in sy swart tassie – waarvoor sal geen mens weet nie.

Ander studente kon altyd met veel vermaak vertel van hoe hulle op die tikmasjien aan die slaap geval het, hoe die toetse, stafies en pennetjies letterlike in-druk op hul wange gelaat het; ek kon van niks soortgelyks getuig nie – ek het nooit eers in die bed met 'n studiehandboek in die hand aan die slaap geval nie, wat nog te sê agter 'n lessenaar.

Haai, en toe hierdie week, amper 30 jaar later, word ek in die stoel, oor die skootrekenaar wakker, en my dokument van twee bladsye het 'n tabel met kolomme in wat oor sewe en veertig bladsye strek – iewers moes iets in die aan wegdommel en aan die slaap val geval of vasgesteek het. Gelukkig kon ek alles wat ek nie wou hê nie ongedaan maak met die druk van die regte toetse.

Ag, en daar is ek so trots op my “prestasie”, na al hierdie jare. En of dit van laat en harde werk is, en of dit sommer van ouderdom is, sal ek vandag nie weet nie – ek wil egter 'n harde week, met 'n nog harder een wat voorlê, die lang naweek ten spyt, voorhou.

Eintlik 'n druk eerste vier weke van hierdie kwartaal:  week een was vraestelle en merkwerk wat die vakansie agterwee gebly het, week twee toe is dit rapporte en opbou na 'n energie-intensiewe agtuur lange funksie met 300 ouers en kinders van ander skole, week drie oueraand en opbou tot die skool se opedag, en week vier, wat net drie dae lank is, het opedag op dag 2. Tussendeur kunswedstryd Klaradyn, verjaar twee maatjies, hou ek fotodag by die skool en probeer ek aan die redakteur van die jaarblad speel ook.

En dan probeer ek nog skool hou ook.

So dis met kleur en geur dat ek Donderdagoggend vertel hoe ek 02:00 opgestaan het om te werk aan 'n aanbieding wat Annieka vir die opedag beplan. Ek kry oe-en-aa’s van simpatieke bewondering en laat geriefhalwe na om te noem dat ek teen 02:00 al uitgeslaap was omdat ek 20:00 die vorige aand by Klaradyn oor die aandstorie aan die slaap geval het, en toe ek dáár wakker word, summier oorgestap het na die dubbelbed in die hoofslaapkamer en verder geslaap het.

Dis dan toe ook hierdie vroeg begin van Donderdagoggend wat my teen Donderdagnag rondom twaalfuur oor die rekenaar aan die slaap had. In daardie stadium sit ek toe egter met die skool se weeklikse blaadjie aan die ouers wat uitgelê moet kom, so toe ek daar wakker word en gaan slaap, was dit met die wekker wat vir 04:00 gestel word, sodat ek kan klaar maak voor opstaantyd om 05:00.

En daar dan die rede waarom ek so stil is.

Waarby ek nie kon uitkom nie, waaroor ek spyt is, is om te vertel van my frustrasie en woede rondom die ouetehuis. (What’s new?)

Oor dit so stink aan die piepie as 'n mens uit die hysbak klim en afstap in die gang, en dit net met moeite is dat een daarin slaag om nie te walg as 'n mens daar aankom nie, koop ek vir die ou vrou se kamer van hierdie botteltjies vol olie, waarin jy dan 'n paar poreuse stokkies steek. Die stokkies absorbeer die olie en die verdamping daarvan stel die lieflikste geur in die vertrek vry.

Ek het nie 'n probleem met die piepie nie – twee uit elke drie inwoners op die vloer, vermoed ek, dra doeke. En in die winter hou ons almal maar die vensters toe. So dis te verstane dat dit aan ouetehuis sal ruik as 'n mens daar instap.

Die inwoners ruik dit tien teen een nie – jou neus raak mos gewoond aan die geure – maar vir my ma, en wie ook al daar by haar kamer instap, moet dit elke keer egter 'n lekker ervaring wees om die lieflike aroma van die frangipani op te tel.

Dit kan natuurlik deurgaan as walglik soet ook, maar Judy het nog altyd van soet frangipani of roos gehou, so ek weet sy is gelukkig daarmee.

Annieka het dieselfde tyd as my ma, 'n botteltjie van die olie gekry – en hare is nog half. My ma s'n moes ek egter so twee weke gelede al vervang.

Ek het destyds dadelik opgetel toe iemand deur die loop van die nag, of toe my ma in die eetsaal was, ingekom het en goed die helfte van die botteltjie se inhoud vir hom of haarself uitgedra het.

So toe nou die anderdag weer in die omgewing van 'n Body Shop was, toe vul ek die dierbare ou vrou se lyfrom en –botters aan en kry sommer 'n nuwe botteltjie van die frangipani-olie.

En dit was nie vier dae nie, toe verdamp die botteltjie, oornag, in die middel van die winter, met meer as 'n derde, amper 'n helfte. Of iemand het ingestap en hom- of haarself daaraan gehelp.

Ek was die duiwel in, die hel in, eintlik de moer in, en is na die susters om te noem dat een so waar as waaragtig weer onder die goed ingeklim en daarvan gevat het.

Dit was iemand op daardie nag se nagskof, of die vorige dag se dagskof, maklik om hulle te konfronteer.

Maar jy kan nie kla nie, mag nie kla nie, durf nie kla nie. Die skuldige gaan nie vasgetrek word nie, en my ma gaan dit ontgeld.

Oom Jack het, voor sy dood ook al meer as 'n jaar gelede, hom so gewip vir die werkers wat snags inkom en hulle eetgoed so steel.

Hy het strikke gestel, hy het bewys kon lewer, en hy het gekla.

En toe ontgeld hulle (hy en my ma) dit met die bad, en was, en aandra, en aantrek en algemene versorging.

Toe gee hy op.

Dis die klas van ding waaroor Carte Blache en Special Assignment verslag lewer.

Maar in belang van my ma, het ek by Oom Jack geleer, dit help nie om geraas te maak nie, jy verloor die baba saam met die badwater.

Dan praat ek nie van die klere wat wegraak nie. Haar tande wat hulle uithaal en nie terugsit nie.

Ek wil nie met 'n enkele mens (met die uitsondering van my ma en die ander pasiënte wat se koppe hulle een en elk ook verlaat het, of in die proses is om afskeid te neem) vriendelik en gaaf wees as ek daar aankom nie. Ek wil nie.

En nou moet ek huigel.

Maar met die ou vrou self, gaan dit baie goed (onder omstandighede). Onveranderd.

En die winter het mos maar die geneigdheid om te gaaf te wees met die ou mensies nie. Hierdie winter het my brose moeder egter sagkens behandel en gespaar; ek is dankbaar, baie dankbaar.

Maar dat hulle van my sal hoor, die dag as hulle nie meer iets aan haar kan aandoen nie, is 'n feit soos 'n koei.

Ek het al gedink om 'n televisiekamera in die kamer te sit wat alles 24 uur lank monitor.

Ek sal egter steeds nie my keel kan skoonmaak nie – daar is nog gange en eetsale en badkamers wat herinner aan die gaskamers op Auschwitz.

So in belang van Judy laat ek dit daar.