Pages

8.8.11

Kuierklets en lekker kos

Is ek en Annieka en Klaradyn nou darem nie Saterdagaand vrot bederf met 'n spesiale voorreg nie!
Meer as 10 jaar gelede het hierdie 6 vriende een aand saam gekuier, en ek lei af dit moes 'n heerlik gesellige geleentheid gewees het, want iewers deur die loop van die aand maak iemand toe die stelling wat neerkom op die volgende:  kom ons maak volgende maand weer so, maar ons kry 'n onderwerp of tema en elke paartjie is verantwoordelik vir óf die voorgereg, óf die hoofgereg, óf die nagereg.

En net daar het 'n tradisie ontstaan wat oor 10 jaar nog net enkele kere nie maandeliks by gehou is nie.

Na ons die voorreg had om een aand saam met hulle aan te sit, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit geensins  suiwer die geselskap en 'n voorliefde vir kos of kosmaak is wat die tradisie in stand hou nie, maar 'n gedeelde sin vir avontuur en kreatiwiteit.

Ek mag natuurlik verkeerd wees, ek was immers net enkele ure in die mense geselskap, maar ek is seker hierdie slotsom is nader aan die kol as die eerste gevolgtrekking waartoe ek voortydig en halsoorkop gekom het: 'n groepie mense verveeld met suburbia op soek na vermaak.

Dit moet die waaghals en avonturier in elkeen wees wat gevoed word deur die een basiese kernreël vir elke byeenkoms:  jy mag nie dis wat jy bring of kom maak al ooit van te vore (selfs nie eers skelm en in die geheim) op die proef gestel het nie.

Vandaar miskien ook die naam waaronder die lede na die byeenkomste verwys:  Trial  & Error-aande.

Ek, en baie van ons seker, het groot geword met die raad:  Jy sit nie kos aan mense voor as jy dit nie reeds van te vore by herhaling met sukses gemaak het nie.

En daarmee het ek vroeg in my volwasse lewe 'n probleem opgetel – hoeveel keer in jou lewe kry jy byvoorbeeld 12 Weskus-krewe present? Ek het nog net 2 keer. En die eerste keer het ek dit met vriende gedeel. Die tweede keer met dieselfde vriende.

Selfs iets wat vir my ouers 'n eenvoudige ding was, 'n skaapboud, is vir my 'n luukse. Koop ek die slag 'n Karoo-lam of kry ek een present (iets wat in my lewe nog net  4 keer gebeur het) dan sny ek tjops van die een boud en hou een heel. En dan is dit ek, Annieka en Klaradyn wat die boud een Sondag geniet en dan besluit wat ons 10 jaar vorentoe gaan doen as ons weer skaapboud het en hom dan vir vriende gaan voorsit nie. Nee, ons nooi summier twee ander en geniet die vleisie in ons midde.

Oor 10 jaar heen, het hierdie Trial & Error-vriende wonderlike selfvertroue gekry in die maak, bereiding en voorsit van kos. In 'n sin was elke item op Saterdagaand se bord 'n waagstuk, maar elke paartjie is daar in, en anderkant uit, met die grootste gemak denkbaar.

Daar is ook 'n reël oor wyn, maar oor my sak en persoonlike smaak my nog nooit toegelaat het om enige airs oor wyn te hê nie, kan ek nie onthou wat dit is nie: dieselfde soort wyn (soos Chenin Blanc) van 2 verskillende landgoede of kelders; of dieselfde landgoed se wyn, maar verskillende tipes. Ek is nie seker nie.

Vir my moet wyn vreeslik sleg wees, voor dit sleg is en laat ek myself toe om enige en elke wyn te geniet wat aan my voorgesit word.

Dan vermoed ek is daar reëls rondom begroting die slag as Paartjie A vir Paartjie B die ingrediënte moet koop waarmee Paartjie B as hulle opdaag die hoofgereg (of watter gereg ook al) moet optower. Want, ja, sulke aande is daar ook:  pak die inkopiesakke uit en toor iets vir ons op.

Jy hoef glad nie jou kos vooraf voor te berei nie, dit kan gedeeltelik berei (of selfs 100% in plek) daar aankom, dit maak nie saak nie. Word dit tyd vir voorgereg, dan verskoon die voorgereg-outjies hulle van die geselskap en gaan sonder hulle in die kombuis af.

Die kombuis is dan ook buite perke vir die ander, want dis die ander lieflike reël waarvan ek vergeet het:  niemand sê vir iemand wat hy of sy gaan voorsit nie – dit bly 'n wonderlike verassing tot die borde opgedra of die buffet voorgesit word.

Al wat myns gebrekkige insiens sleg is van die hele aangeleentheid is dat hulle in 10 jaar nie dag- of selfs net resepteboek gehou het van hul aande nie. Plakboek for that matter. Of 'n blog.

Want oor jare heen, het dit nie net by aande gebly nie, dit het naweke en ekskursies met onbekende en eksotiese bestemmings geword. Driegangmaaltye op die strand berei, driegangmaaltye sonder elektriese krag in 'n bouval  of ruïne, 600 vierkante meter lap wat jy geleen het om jou tema te verkonkretiseer. (Vandaar miskien ook my eerste gedagte dat ek my bevind midde 'n spul verveelde rykgatte wat nie weet wat om met hul tyd en geld te doen nie. Maar ek was verkeerd en het die pot mis gesit.)

Saterdagaand was die tema kuns. Jy kan blykbaar die tema interpreteer soos jy wil. Jy kon een van Walter Battiss se resepte gemaak het, jou voorgereg laat lyk het soos 'n kunswerk deur Jackson Pollock, dit op 'n pallet bedien het, met kleur gespeel het, of 'n eetbare beeldhouwerk daar aangebring het.

En dis wat ons voorgereg was, 'n tong-in-die-kies pops op jou bord, soortgelyk aan hierdie een wat 'n klompie jaar gelede plek-plek op die internet opgeduik het.



Ons Lolla se hoendervlerkies was heerlik gemarineer en die onderskeie wulpse ronde bolletjies het gespeel met onderskeidelik bloukaas en druiwe, en riccotta en olywe.

Hoofgereg het gespeel met die elemente van kuns:  kleur, vorm, ritme, balans en tekstuur, en toe nog een bygevoeg – smaak. Maar vir my het dit dadelik aan Christo Coetzee herinner. Hierdie man het in 'n stadium 'n reeks van sy skilderye toegeverf, en aangesien ons lamstjoppies in 'n degie toegemaak en gevorm is, het sy kunswerke van destyds dadelik by my opgekom. Rösti het vir tekstuur gesorg en die groentepakkie op 'n vet bruin sampioen, kompleet met kwasstreep en spatsel roomsous, vir kleur.

Nagereg was 'n vrugterangskikking met doopsousies van onderskeidelik bruin en wit sjokolade. 'n Fees vir die oog. En die tong.

Ek het vir die derde keer hande geklap, soos vir ballet of opera as die gordyn oplig en daar nog niks gebeur het nie - suiwer vir die mooi.



Ons het heerlik geëet, maar net so lekker gekuier ook.

Ek weet dis nege uit tien kere nie die kos wat so lekker is nie, maar die geselskap wat die kos so lekker maak.

Saterdagaand was miskien 'n uitsondering:  én die kos, én die geselskap het gesorg vir 'n kuier om nog lank te onthou.

7.8.11

Hierdie spoor ek nou onder "drafts" op

“Mamma, ek is gebore vir die verhoog!”

So ‘n snipgat!

Maar dit word erger, erg genoeg om daaroor skaam en bekommerd te wees, want die aand aan tafel toe ek ‘n glasie wyn vir my en Annieka aandra, vra sy vermetel:  “En die ster vir die dag, kry sy nie ook iets om te drink nie.”

Maar, laat ek dadelik ter verdediging sê, dit was met ‘n tong so diep in die kies dat die wange skoon bol gestaan het en haar oë helderder as die melkweg van pure ondeundheid geblink het.

(Ag siestog, toe bring die aanstellerigheid haar nêrens – ek het vergeet om melk om te koop en daar was skaars ‘n katspoegie.)

Ek is nie seker wie die meeste opgetrek is met Klaradyn se TWEE A++’e in die kunswedstryd nie – sy of haar ma nie.

As sy kon, het Klaradyn met die medaljes om haar nek gaan slaap – sy het laas die hamster so gevroetelvertroetel toe ons dié ‘n ruk gelede gekoop het.

En ma, wat oorloop van genoegdoening, kan nie uitgepraat raak oor die “klas van haar eie” waarin Klaradyn meegeding het nie. Chalk vs. Cheese, Shakespeare vs. Verna Vels.

En wie die meeste rede tot dankbaarheid het, is vir my ook nie ‘n uitgemaakte saak nie:

Annieka wat verlede moes toekyk hoe die punt van haar hart op die verhoog verlep soos ‘n tulp sonder water?

Of die tulp sonder water haarself, wat na verlede jaar se kunswedstryd gesê het sy gaan so iets nooit in haar lewe nooit as nimmerste nooit-ooit weer doen nie.

En dan is alles nie wie se skuld nie – myne.

Klaradyn kom die dag by die huis aan met hierdie gedig wat sy op die kunswedstryd gaan doen.

En sy sê hom vir my op, en dis lief en dierbaar, maar daar is baie wat haar met die gedig sal kan doen. Ek kan nie wag om in te spring en gestalte te gee aan ‘n wonderlike vertolking deur ‘n graad O-leerling nie.

Maar, nee, moet ek hoor, die juffrou by die skool het hulle gesê om dit so te doen – en dis duidelik dat Juffrou se woord wet is, wat sal pappa wat way back in die oertyd die toekenning vir die beste dramastudent in die departement ontvang het, nou van vertolkingskuns weet.

So toe los ek dit. Ons oefen, maar ons oefen soos Juffrou sê.

En Juffrou was nie verkeerd nie, ons kon net baie daarop bou en uitbrei. Iets wat al die ander mammas en pappas gaan doen het.

So Klaradyn doen toe nie so goed soos al die ander maatjies nie, en sy besluit sy gaan dit nooit in haar lewe doen nie.

Dis nou tot ons hierdie jaar na ‘n tannie gaan wat elokusie aanbied. En nee, dis nie elokusie nie, maar as ons dit dramaklasse genoem het, het Klaradyn sweerlik nie gegaan nie.

Sy geniet elke oomblik en toe die briefie kom wat uitvra na kunswedstryd, toe is dit asof verlede jaar nooit plaasgevind het nie.

Ons het geoefen, pa het probeer help, ma het probeer help; Klaradyn het egter partykeers selfs beter as die dramajuffrou ook geweet – so dis net met moeite en ysere selfdissipline dat ek (of Mamma) nie vandag skuldig staan aan kuikenmoord nie.

Ek was bang mêrrempie doen dit outomaties, sonder enige spanning hoegenaamd (dead give away van iemand  wat nie ‘n ware kunstenaar is nie, selfs al is hulle meesters van hul vak).

Maar gelukkig, vertel Mamma, was die meisie gesond senuweeagtig.

En toe geniet sy dit. (Pa is nie gepla oor prestasie nie, solank die kind dit geniet het, kan sy ‘n B of C ook maar kry.)

En die geniet van die kind, stoot haar toe in ‘n goeie prestasie in.

En daar is almal gelukkig.

Dag twee van die fees, toe kry die groep-item ook ‘n A++, maar voor dit klink of A++ die gemiddeld is, dit is nie. Daar is maar min kindertjies wat geleentheid het om vir hulle ‘n medalje te kan gaan koop.

Miskien neem ons volgende jaar weer deel. Ek hoop so, maar ek sal dit nie afdwing nie.

Ek dink egter Klaradyn is nou soos ‘n roofdier wat bloed geruik het, sy sal die spoor nooit los nie en vir lank terugkom vir nog.

‘n Verdere miskien, net miskien, wie weet, miskien laat sy my volgende jaar toe om haar meer te help.

Sal dit nie lekker wees nie!

Wat 'n teleurstelling!

Ek sal lewenslank 'n kind bly – daarom kinderlik, maar ongelukkig ook kinderagtig.

Ek dink nie ek was in 10 jaar so kinderlik/kinderagtig ongelukkig soos vandag nie, soos op hierdie oomblik nie.

Ek is die hel in vir myself.

Ek is die hel in vir my vrou.

Ek is die hel in vir die bestuur van die Brooklyn teater.

En niks, niks maar niks, absoluut niks, sal my beter laat voel nie.

Want dis te laat – met water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.

En hierdie water wat verby is, vloei al die pad België toe – dis nie soos brood wat jy vandag op die water werp en dan keer dit volgende jaar na jou terug nie.

Hoekom ek vir myself kwaad is, kan ek nie hier aan die groot klok hang nie.

Hoekom ek vir Annieka kwaad is, nog minder.

Dan moet Brooklyn teater maar die sondebok verklaar word. Dit is immers altyd maklik en lekkerder en beter om die skuld op 'n ander te pak. So dan doen ek dit ook nou.

Iewers in Europa het ek donkiesjare gelede een aand 'n sigeunervrou viool hoor speel op straat. Toegegee, dit was nie 'n sigeunerin nie, maar 'n platsak musiekstudent wat sigeunermusiek op haar viool uitgespeel en die soel somer naglug ingestuur het.

Om nóg meer geld van verbygangers te kry, het sy haar golwende bruin hare los gedra, was sy kaalvoet en in 'n bruin romp en baadjie geklee.

Dis amper 20 jaar later, maar ek onthou dit soos gister en gebruik lawwe woorde soos “soel somer naglug” omdat ek daardie nag verlief geraak het – op die vrou wat haar in haar musiek inleef, én op haar musiek.

Verdomp of ek kan onthou watter stad of land dit was. Dit was ongelukkig nie Hongarye of in die Tsjeggiese Republiek nie – sou dit nie lieflik gewees het as dit was nie, maar ek weet vir 'n feit ek was nie gelukkig genoeg om my hart in Boedapest of Praag, of iewers naby Bohemië te verloor nie.

Ek verbeel my ongelukkig dit was in smerige Parys, wat natuurlik die hele gebeurlikheid nou van sy romantiek stroop.

Iets daarvan het my ore daarna in München by Karlstor en Karlsplatz  beleef, my oë ongelukkig nooit weer nie.

Ook toe ek en Annieka jare later saam daar is, kon ek nie wag om te sien en te hoor wat ons in die voetgangersone gaan raakloop nie.

Soortgelyk, baie dieselfde, maar presies dieselfde – ongelukkig nooit nie.

Ek was ingestel op sigeunermusiek, daardie jare.

Enkele weke voor ek die eerste keer met rugsak Europa toe is, sit ek die middag na skool in my klas en die allermooiste vioolklanke kom by die venster ingeswem.

Die skool had 'n baie bedrywige musieksentrum in daardie jare, en om smiddaes op die maat van verskillende instrumente jou dagtaak af te handel, was niks vreemds nie.

Hierdie betrokke middag was egter anders, die musiek het jou onmiddellik aan die hart gegryp en dit was duidelik nie die werk van 'n skolier nie.

Ek het opgestaan en agter die klank aangestap tot ek by Mnr. Silvius, die sentrum se vioolonderwyser, uitgekom het. 'n Leerder had nie opgedaag vir klas nie, en hy het die lestyd gebruik om self te oefen aan dit wat hy besig was om in te studeer:  die Spaanse komponis, Pablo de Sarasate, se Sigeunerweisen.

Hy het my toegelaat om by hom te sit en ek het die klanke ingedrink.

Op 'n stukkie papier is die naam van die musiek en die komponis toe 'n paar weke later in my rugsak saam.

In Berlyn toe, waar ek vir my die opname daarvan deur Anne-Sophie Mutter aanskaf. (Luister gerus hoe Sarasate homself die eerste en vierde bewegings van sy musiek interpreteer met 'n opname van 1904, of hoor wat maak Mutter met die volledige stuk.)

So ja, om 'n lang storie wat oor amper twintig jaar strek, kort te maak:  ek was vreeslik opgewonde toe ek sien die Suid-Afrikaans gebore violis, Gina Beukes, is hierdie naweek onder die vaandel van Salon Musiek in die Brooklyn Teater.

Met geld wat ek nie het nie, gaan koop ek toe vir ons twee kaartjies. Ons laai Klaradyn by Ouma af, en sit af teater toe.

Ek is in vervoering...

En dis my eie skuld.

Die vrou is besig met 'n baie tegniese stuk musiek op haar altviool, die naam ken ek nie – toe ek 'n program wou koop, toe is al die programme ongelukkig reeds uitverkoop  – maar  ek herken dit dadelik van ander opnames by die huis.

Ek verkyk, nee ek verwonder my, aan die werking van die vrou se arm en gewrigte terwyl sy besig  is en wonder hoe fiks/moeg sy nie moet wees nie.

Toe kom die konsert tot 'n einde, hulle gooi die deure oop en ons stap uit.

Ek sê vir Annieka, knap nadat ek in vervoering was oor die musikant se stamina, dat sy seker, soos Nataniël wat ook alles in sy konsert insit, letterlik, fisies nie die krag het vir 'n toegif nie.

Maar ons is haastig, Oupa het twee nagte deurnag gewerk en ons wil Klaradyn voor middagslapie gaan optel.

Dit is vir my vreemd dat die hek waar ons ingekom het gesluit is, maar na hulle die vorige keer wat ons by die teater was, 'n motor gesteel het, verbaas dit my toe ek verder dink en onthou , ook nie.

Ons is haastig en ek ry by die boonste hek uit.

20 sekondes later, af in die straat en weer verby die teater, sien ek niemand is buite nie – dis letterlik ons en twee ander motors wat vertrek het.

Ek sê vir Annieka daar is niemand buitekant nie, ek en sy het nou met die begin van pouse weggery.

By die stopstraat sê ek dit weer – die musici het ook nie met 'n afskeidsgebaar ons applous aan die einde van die laaste item, ontvang nie.

Ek wil omdraai, maar doen dit toe om verskeie redes ,teen my eie beter wete en gesonde verstand, nie.

Ek kry voor die tweede robot nog 10 bewyse waarom dit beslis die aanvang van pouse, en nie die einde van die konsert nie, was.

Maar ek, ek wat agter die stuur sit, draai nie om en ry terug nie.

By die huis gekom was ek reg:  dit was pouse – ek het die itemlys op die internet gaan opsoek.

Ons het die hoogtepunt, die klimaks van die tweede helfte by ons verby laat gaan.

Ek blameer nie myself omdat ek na my vrou geluister het nie.

Ek blameer nie my vrou omdat sy oortuig was die konsert was verby nie – ek blameer Salon Musiek omdat hulle hopeloos te min programme laat druk het.

(Wat natuurlik belaglik is, maar dit laat my minstens beter voel.)

En dis verby.

Vir altyd.

Die feit dat ek dit nou hier verwoord het , laat my ook hoogstens net marginaal beter voel.

En as dit nie Salon Musiek se min programme was nie, was dit my eie toedoen.

(Dis letterlik waar die uitdrukking sondebok vandaan kom: die ou Jode het hul sondes op simboliese wyse op 'n bok gelaai, en die dan by die stadspoorte uit, die woestyn in, gejaag. Vang die leeus die bok, of kom hy om van honger en dors, dan het hulle sondes wat hulle op sy rug gelaai het, ook te sterwe gekom - die onskuldige word blameer en as skuldige voorgehou.)

Miskien moet ek hierdie sommer vir hulle, en vir Gina Beukes stuur.

Want as ek nie vir myself lag nie, moet ek huil, en daarvoor sien ek waaragtig nie nou nog ook kans nie.

6.8.11

Net om te noem ek leef nog

In al die laat nagte op universiteit, dis nou laat nagte van haarde eerlike werk en studie, nie kuier en kattemaai nie, had ek nooit ooit, nie een keer nie, die ervaring om oor die tikmasjien aan die slaap te raak nie.
Ja, dit was enkele jare voor die koms van 'n persoonlike rekenaar – myne was 'n Olympus, 'n lieflike dingetjie waaragter ek ure der ure spandeer het. (As jou handskrif enigsins trek op myne, dan tik jy eerder as skryf, maar ook ure der ure omdat ek nooit leer tik het nie en vandag steeds met twee vingers oor die weg moet kom.) Die masjien is nog hier iewers in sy swart tassie – waarvoor sal geen mens weet nie.

Ander studente kon altyd met veel vermaak vertel van hoe hulle op die tikmasjien aan die slaap geval het, hoe die toetse, stafies en pennetjies letterlike in-druk op hul wange gelaat het; ek kon van niks soortgelyks getuig nie – ek het nooit eers in die bed met 'n studiehandboek in die hand aan die slaap geval nie, wat nog te sê agter 'n lessenaar.

Haai, en toe hierdie week, amper 30 jaar later, word ek in die stoel, oor die skootrekenaar wakker, en my dokument van twee bladsye het 'n tabel met kolomme in wat oor sewe en veertig bladsye strek – iewers moes iets in die aan wegdommel en aan die slaap val geval of vasgesteek het. Gelukkig kon ek alles wat ek nie wou hê nie ongedaan maak met die druk van die regte toetse.

Ag, en daar is ek so trots op my “prestasie”, na al hierdie jare. En of dit van laat en harde werk is, en of dit sommer van ouderdom is, sal ek vandag nie weet nie – ek wil egter 'n harde week, met 'n nog harder een wat voorlê, die lang naweek ten spyt, voorhou.

Eintlik 'n druk eerste vier weke van hierdie kwartaal:  week een was vraestelle en merkwerk wat die vakansie agterwee gebly het, week twee toe is dit rapporte en opbou na 'n energie-intensiewe agtuur lange funksie met 300 ouers en kinders van ander skole, week drie oueraand en opbou tot die skool se opedag, en week vier, wat net drie dae lank is, het opedag op dag 2. Tussendeur kunswedstryd Klaradyn, verjaar twee maatjies, hou ek fotodag by die skool en probeer ek aan die redakteur van die jaarblad speel ook.

En dan probeer ek nog skool hou ook.

So dis met kleur en geur dat ek Donderdagoggend vertel hoe ek 02:00 opgestaan het om te werk aan 'n aanbieding wat Annieka vir die opedag beplan. Ek kry oe-en-aa’s van simpatieke bewondering en laat geriefhalwe na om te noem dat ek teen 02:00 al uitgeslaap was omdat ek 20:00 die vorige aand by Klaradyn oor die aandstorie aan die slaap geval het, en toe ek dáár wakker word, summier oorgestap het na die dubbelbed in die hoofslaapkamer en verder geslaap het.

Dis dan toe ook hierdie vroeg begin van Donderdagoggend wat my teen Donderdagnag rondom twaalfuur oor die rekenaar aan die slaap had. In daardie stadium sit ek toe egter met die skool se weeklikse blaadjie aan die ouers wat uitgelê moet kom, so toe ek daar wakker word en gaan slaap, was dit met die wekker wat vir 04:00 gestel word, sodat ek kan klaar maak voor opstaantyd om 05:00.

En daar dan die rede waarom ek so stil is.

Waarby ek nie kon uitkom nie, waaroor ek spyt is, is om te vertel van my frustrasie en woede rondom die ouetehuis. (What’s new?)

Oor dit so stink aan die piepie as 'n mens uit die hysbak klim en afstap in die gang, en dit net met moeite is dat een daarin slaag om nie te walg as 'n mens daar aankom nie, koop ek vir die ou vrou se kamer van hierdie botteltjies vol olie, waarin jy dan 'n paar poreuse stokkies steek. Die stokkies absorbeer die olie en die verdamping daarvan stel die lieflikste geur in die vertrek vry.

Ek het nie 'n probleem met die piepie nie – twee uit elke drie inwoners op die vloer, vermoed ek, dra doeke. En in die winter hou ons almal maar die vensters toe. So dis te verstane dat dit aan ouetehuis sal ruik as 'n mens daar instap.

Die inwoners ruik dit tien teen een nie – jou neus raak mos gewoond aan die geure – maar vir my ma, en wie ook al daar by haar kamer instap, moet dit elke keer egter 'n lekker ervaring wees om die lieflike aroma van die frangipani op te tel.

Dit kan natuurlik deurgaan as walglik soet ook, maar Judy het nog altyd van soet frangipani of roos gehou, so ek weet sy is gelukkig daarmee.

Annieka het dieselfde tyd as my ma, 'n botteltjie van die olie gekry – en hare is nog half. My ma s'n moes ek egter so twee weke gelede al vervang.

Ek het destyds dadelik opgetel toe iemand deur die loop van die nag, of toe my ma in die eetsaal was, ingekom het en goed die helfte van die botteltjie se inhoud vir hom of haarself uitgedra het.

So toe nou die anderdag weer in die omgewing van 'n Body Shop was, toe vul ek die dierbare ou vrou se lyfrom en –botters aan en kry sommer 'n nuwe botteltjie van die frangipani-olie.

En dit was nie vier dae nie, toe verdamp die botteltjie, oornag, in die middel van die winter, met meer as 'n derde, amper 'n helfte. Of iemand het ingestap en hom- of haarself daaraan gehelp.

Ek was die duiwel in, die hel in, eintlik de moer in, en is na die susters om te noem dat een so waar as waaragtig weer onder die goed ingeklim en daarvan gevat het.

Dit was iemand op daardie nag se nagskof, of die vorige dag se dagskof, maklik om hulle te konfronteer.

Maar jy kan nie kla nie, mag nie kla nie, durf nie kla nie. Die skuldige gaan nie vasgetrek word nie, en my ma gaan dit ontgeld.

Oom Jack het, voor sy dood ook al meer as 'n jaar gelede, hom so gewip vir die werkers wat snags inkom en hulle eetgoed so steel.

Hy het strikke gestel, hy het bewys kon lewer, en hy het gekla.

En toe ontgeld hulle (hy en my ma) dit met die bad, en was, en aandra, en aantrek en algemene versorging.

Toe gee hy op.

Dis die klas van ding waaroor Carte Blache en Special Assignment verslag lewer.

Maar in belang van my ma, het ek by Oom Jack geleer, dit help nie om geraas te maak nie, jy verloor die baba saam met die badwater.

Dan praat ek nie van die klere wat wegraak nie. Haar tande wat hulle uithaal en nie terugsit nie.

Ek wil nie met 'n enkele mens (met die uitsondering van my ma en die ander pasiënte wat se koppe hulle een en elk ook verlaat het, of in die proses is om afskeid te neem) vriendelik en gaaf wees as ek daar aankom nie. Ek wil nie.

En nou moet ek huigel.

Maar met die ou vrou self, gaan dit baie goed (onder omstandighede). Onveranderd.

En die winter het mos maar die geneigdheid om te gaaf te wees met die ou mensies nie. Hierdie winter het my brose moeder egter sagkens behandel en gespaar; ek is dankbaar, baie dankbaar.

Maar dat hulle van my sal hoor, die dag as hulle nie meer iets aan haar kan aandoen nie, is 'n feit soos 'n koei.

Ek het al gedink om 'n televisiekamera in die kamer te sit wat alles 24 uur lank monitor.

Ek sal egter steeds nie my keel kan skoonmaak nie – daar is nog gange en eetsale en badkamers wat herinner aan die gaskamers op Auschwitz.

So in belang van Judy laat ek dit daar.

31.7.11

En skielik is jy oud

In aansluiting by die vorige inskrywing waarin ek vertel het van my kindertydse bewuswording oor grootword en die uurglas wat loop, kan ek nie nalaat om twee skokke wat my in 2011 in hierdie verband getref het, te noem nie.

In 2001 kom dit met ompaaie en vanuit vreemde oorde tot my dat daar in 2002 reünie gehou gaan word.

Dat dit die matriekklas van 1982 is, wat 20 jaar later reünie hou, pla my geensins, ek is maar al te bly dat daar saamgetrek word. My generasie het mos grootgeword met die gedagte dat dit die hoofseuns en –dogters van die betrokke jaargroep se verantwoordelikheid is om die siele weer opgespoor en in een kraal te kry.

Maar 10 jaar en 1992 het gekom en gegaan sonder enige woord uit die rigting van ons hoofleiers.

En in 2001 het sommiges ook al lank genoeg gewag – hulle spring toe self in en sit oor afstand heen skouer aan die wiel om ons bymekaar te kry.

En wat 'n lekkerte!

Behalwe vir die enkeles wat saam met my op die PUK gaan studeer het, het ek 'n een en 'n elk vir die eerste keer sedert skooldae weer gesien.

Net so lekker, indien nie lekkerder nie, was die samekoms van ons standerd 3-klas wat in 1975 by Sonja Herholdt klas gekry het.

Die hele naweek was vir 'n baie positiewe ervaring. Ek het geensins oud gevoel nie, slegs volwasse, groot, in die fleur van my lewe.

En dit het nie gepla nie.

Wat gepla het, was 'n gewaarwording verlede naweek, toe ek weer op 'n 20-jaar reünie was.

Dit was my 1991-matrieks wat onder leiding van hul hoofdogter vir die tweede tienjaarlikse reünie bymekaar gekom het.

Ek woon geen ander reünies van oudleerlinge by nie, maar as ek op 97 nog in die lewe is, sal ek sorg dat ek by hierdie klasgroep se sestigjaar-reünie ook is. En is hoofdogter dan al oorlede en die res te sleg om die betrokke reünie te reël, dan kry ék die reünie self in plek, so lief is ek vir hierdie, en my 1990-klas, se matriekgroep.

Dit is seker met elke onderwyser so – die 1990-matriek was my eerste matriekklas, die 1991-matrieks weer die eerste outjies wat ek van standerd 8 tot in matriek onder my vlerk geneem het.

Ek was jonk, hulle was oud; dis vanselfsprekend dat daar na hulle matriekjaar sonderlinge vriendskappe gesluit is, wat vandag nog staan en verdiep.

Dis my babas, my kinders.

En toe tref dit my soos 'n uitklophou tussen die oë en in die maag:  my kinders, wat in my oë altyd my kinders sal bly, is vandag al so oud en gevestig, so groot en volwasse, so in (en ook al weer halfpad uit) hul fleur, as wat ek destyds in 2002 was, en gevoel het.

Dit kan nie wees nie.

En al voel ek nie 'n dag ouer as in 2002 nie, besef ek toe dat ek intussen oud moes geword het.

Dis soos om 'n mes in jou maag te kry, en die een wat daardie mes in jou gedruk het, wikkel daai mes, en draai hom rond.

Louter hel.

En dan is dit ook seker hoeka meer as 'n maand dat ek so vreeslik oud voel. (Miskien het ek al daarvan vertel – miskien het ek al van die reünie ook vertel, ek weet nie... ek kan nie onthou nie... ek word oud)

Sien, ek het 'n jong kollega in die Afrikaanse departement, 'n skrander meneer wat verlede jaar by ons aangesluit het. Maar dit was nie sy eerste jaar in die onderwyser nie, hy hét al elders skoolgehou, toe sy honneurs gedoen, en tóé eers by ons aangesluit. So 'n rou groentjie is hy geensins.

En eendag sit ons in die personeelkamer om 'n tafel en 'n koppie tee en gesels. Ek weet nie hoekom of hoe dit gekom het nie, maar my ouderdom kom ter sprake, en die volgende oomblik hoor ek dit: “Sjoe, jy is ouer as my ma en pa.”

Toe hulle my 'n halfuur of wat later met vlugsout weer bygekry het, laat val 'n ander beginnerkollega, wat verlede jaar vir 6 maande in my klas geproef het dat haar ouers en ek ook ewe oud is...

Ek kan dit steeds nie glo nie.

My skool- en universiteitsvriende se kinders begin nou matriek verlaat, die res is op hoërskool (en dan is daar 'n paar wat, soos ek, ook met enigstes of jongstes in die laerskool-gradeklasse sit).

En so erg soos dit vir my was, so erg soos dit vir my vir maklik 'n maand was, so het dié gewaarwording verlede week tot nietigheid gekrimp, toe ek 'n veel groter skok/mes/lem/dolk/vuishou/karateskop gekry het:  as my kind sou oud was soos my kollega, dan beteken dit ek sou, die jaar toe Klaradyn gebore is, 'n kind universiteit toe moes stuur.

Dalk 'n kind, wat soos my kollega, ook honneurs wil doen.

Ek kan my nie indink waar ek oor 12 jaar geld vandaan gaan kry om 'n kind universiteit toe te stuur nie – ek kan my geensins indink hoe ek 6 jaar gelede 'n kind universiteit toe sou kon stuur nie. Met geld wat waar was?

So ja, dat ek 'n ou man is, pla my geensins meer nie – so lank as wat jou gesondheid dit toelaat, is jy in elk geval net so oud soos jy besluit om te voel, wat my nou pla, is dat ek oud én sonder geld is.

En om sonder geld te wees, het my nog nooit gepla nie, maar om sonder geld vir my kind te wees, is wat pla.

Tog vertel die wat weet, dat ek my verniet bekommer, ouers vind glo weë en omweë.

Mog dit so wees en nie sommer net ouvroustories nie.


30.7.11

En skielik is jy groot

Ek het bewus geword van hoe vinnig, so sonder dat jy dit agterkom, die tyd verbygaan en jy groot word, die dag toe ek my eerste belydenisklas in 1983 bygewoon het.

Ons het Sondagskool in die kerk gehad, daar was nie klaskamers soos baie van deesdae se kerke het nie. Elke klas het twee rye banke gehad met 'n bank of wat oop voor die volgende klassie sit. Van links voor, die graad 1’s, tot agter en weer in die middel af tot voor, en dan weer van regs voor tot regs agter waar die laaste standerd 8-klas gesit het.

Al die standerd 9’s was op die galery, agter by die orrel.

En die groot kinders, die heel groot kinders, die standerd 10’s, het elke Sondag, van my eerste Sondag in 1971, met die gang afgestap en verdwyn waar die ouderlinge en diakens soggens uitgekom het.

Ek het geweet as jy die dag groot is, gaan jy deur daardie deure, iewers heen – maar waarheen het ek nie geweet nie. Waarheen het ek vir 11 jaar nie geweet nie.

Vir 11 jaar kon ek nie wag om in die belydenisklas (belydenis is iets wat jy doen as jy groot is) te kom nie – net om uiteindelik my nuuskierigheid oor waarheen daardie grotes verdwyn, bevredig te kry nie.

Dit was 'n antiklimaks, al die jare later, toe ek die eerste keer, uit-ein-de-lik, die geleentheid kry om by daardie deur, deur te beweeg – ons is met 'n trap op na so 'n pakkamer toe en daar was stoele waar ons graad 12’s vergader het. Daar het bokse met goeters, seker Bybels en Psalm en Gesangeboeke, rondgestaan, daar was nie juis vensters nie, en iewers was 'n trap (amper soos die van 'n windpomp of rugbyveld se spreilig) op na wat ek vermoed het die kerkklok moes gewees het.

Maar dit is 28 jaar later alles baie vaag en straks onthou ek verkeerd, verbeel ek my goed.

Wat ek egter onthou of dit gister was, is hoe ek nie kon glo dat ek so ongemerk, so sonder dat ek enigsins daarvan bewus was, so vinnig, so groot geword het nie.

Dit het soos die vorige Sondag gevoel wat ek die eerste keer in die kerk agtergebly het vir Sondagskool – daar was 'n algemene verwelkoming, die klasse is ingedeel, name is uitgeroep, en toe het die heel groot kinders met die gang af beweeg en deur daardie deur, waardeur ek nou net vroeër (maar 11 jaar later) beweeg het, verdwyn.

Dit was wonderlik. Dit was net so vreeslik as wat dit wonderlik was. Dit het my gegryp. Dit het my geruk.

En Dinsdagaand het ek weer iets daarvan beleef, en as ek nie weer iets daarvan beleef het nie, het ek ten minste weer daaraan gedink – nie dat ek aan grootword en tyd wat verbygaan en –vlieg dink, sonder om nie aan kindertydse belewenis in die Sondagskool te dink nie.

Die ateljee waar Klaradyn, graad 1, dramaklas neem, het ateljeekonsert gehou. Dit kom daarop neer dat elke groepklas  die groepitem wat hulle vir die kunswedstryd voorberei het, kom lewer. Elke kind kan dan ook 'n individuele wat hy of sy gereed het, lewer.

Die driekwartier voor  die konsert was hel – dit wat my gewoonlik 20 minute neem, neem toe in spitsverkeer 'n volle 45 minute en ons stap 'n volle minuut voor die konsert ‘n aanvang neem, daar in.

Die skool het Annieka die aand van ons gesteel en dis net ek en Klaradyn. Ek kan nie wag dat ons ons sit kan kry en ek vir ons die piekniekmandjie met vars brood en sop kan uitkry nie. Ek het selfs snytjies piesangbrood en warm vla in 'n fles vir nagereg.

Maar nee, ek had dit verkeerd, Klaradyn kondig aan dat sy en al die kleintjies heel voor, met hul neuse letterlik op die kerksaal se verhoog, moet gaan sit.

En dit is toe ook so – heel voor sit al die graad 0’e, 1’s en 2’s.

Die konsert het 18:00 begin en ons is iets voor 21:00 daar uit. Klaradyn se groepitem was so 2 minute, en ek weet nie of haar individuele gediggie 1 minuut was nie, so ek het baie tyd gehad om kind van heel agter in die saal (onthou ons was laat en het op nommer 199 daar ingestap gekom) dop te hou.

En vir 'n Pappa is dit lekker, sommer baie lekker.

Soos wat die aand se program verloop, het die kunstenaars natuurlik al hoe ouer, groter, vaardiger, beter, wonderliker geword.

Die algehele verwondering en vervoering van die graad 3’s se item. het net aangegroei en aangegroei tot dit klimaks bereik het in item 50 op die program – die senior klas se groepitem. Dis doodmoeg, maar laggend en met groot oë, dat sy na afloop van die konsert haar sitplek verlaat en na my gehardloop kom.

Ek het haar gedurende die groot kinders se item, nie net sien lag nie, maar ook hoor lag, en die eerste wat sy my, met groot bewondering vir die groot kinders, vertel, is hoe snaaks die een betrokke moment was.

Sy kon nie uitgepraat raak nie, soos 'n draaiorrel.

En ek weet sy voel oor daardie groepitem van die groot kinders, soos ek gevoel het oor die groot kinders wat by die geheime deur uitbeweeg het.

Ek wou hier teen 19:30 opstaan, Klaradyn kry, en huis toe gaan.

Ek wou. Maar ek kon nie. Niemand wat sy dogter, en haar genot van die aand, dopgehou het, sou dit regkry nie. En hoe later dit word, hoe meer het sy dit net geniet, hoe groter het haar mond oopgesak, tot haar onderkaak laterhand op haar knieë bly lê het.

Miskien is drama iets wat sy tot Graad 12 doen. Miskien is sy volgende jaar weer by die konsert. Haar belewenis sal nie veel anders wees nie.

En elke jaar sal sy wag vir die hoogtepunt – die groot kinders se items.

En eendag, kort voor lank, sal sy self een van die groot kinders wees wat die program vir die aand afsluit.

En miskien sal sy dan soos haar pa, op 'n ander manier aan die hand van 'n ander uurglas besef het, stilstaan en besef dat die tyd gevlieg het, en sy oornag groot geword het.

Wonderlik. Vreeslik. En verskriklik.

28.7.11

Droogtegety verby

Wat die datum is, weet ek nie. Wanneer laas ek geblog het, weet ek nog minder. (Ek klets my klets in die rekenaar se woordverwerkingsprogram en laai dit in blitsbesoeke aan die kuberruim, so ek kan ook nie nóú kyk om uit te vind wanneer laas ek iets gepos het nie – daarvoor moet ek eers die internet koppel.)

En presies wanneer laas ek geblog het, maak ook nie saak nie – vir een wat homself aanvanklik voorgeneem het om sy brein van Maandag tot Vrydag 'n tyd lank agter die sleutelbord in rat te hou, is en bly dit baie lank terug.

Gereelde lesers sal weet dis nie in my aard om sommer net stil te raak nie – ek praat partykeer twak, maar praat sal ek praat. Dis oor ek eintlik my grysstof gimnasium toe neem om te help keer dat dit wat nie moet roes nie, nie vasroes nie.

Vir my eie sieleheil skakel ek ook af agter die rekenaar – daarom ook dat ek nie kyk of ek tyd krý om 'n gesels aan te knoop nie, ek máák tyd.

So as daar die dag groot en langdurige droogte kom, is daar altyd 'n goeie rede voor: vakansie, vraestelle, die skool se jaarblad.

Verlede week het gemerk. Saterdag was reünie. Hierdie week was dit Klaradyn se kunswedstryd, Voortrekkers, Dramaklas, Kunsklas, Laerskole koorfeeste, rapporte, en ek het net regtig tyd om te vat en te blog nie, al wil ek hóé graag en al versink goedjies wat ek wou aanteken om te onthou midde die druk program vinnig in die vergetelheid.

Iemand wat ek nie ken nie, bel die vorige week en vra of ek 'n stemopname vir 'n kleuterskool, wat ek ook nie ken nie, sal kom maak. En wat sê ek? Ek sê ja.

Maar die goeie wat jy vir ander doen, kom na jou toe terug. Ek kry onverwags uit onverwagte oord 'n lieflike geskenk – ek moet  onthou om mooi dankie te sê. Maar dis twee dae later en nog geen kuiken het gepiep, wat nog te sê, 'n haan gekraai, nie.

Dis egter seker alles goeterstes waarvan 'n sesjarige geen benul het nie.

Vroeër die week noem sy dat sy Vrydag 'n brood moet skool toe neem – dis sop-en-brood-dag in die klas, en hulle is hoeka besig met winter as tema. Daar is ook 'n briefie in die verband.

Met Klaradyn weet 'n mens ook nooit nie – sy het ons al goed laat aanry skool toe, iets soos sop én brood, en dan hoor ons later dit was eintlik nét 'n boksie cup-a-soup gewees, vir die arbeiders; die kos het maar net te min vir Klaradyn geklink, toe besluit sy om ons uit haar eie op te kommandeer vir brood ook.

So die brood wat sy skool toe moet neem, interpreteer ek apokrief en met 'n knippie sout – en selfs as dit so is, het ek steeds jare se stof tot dankbaarheid – ek sou pa moes kon staan vir 'n pot sop!

En dit terwyl dit Vrydag die tweede belangrikste dag, die tweede besigste dag, in Annieka se werksjaar, in 'n skool se bestaansjaar is.

En toe doen my kind dit aan my.

Na ek gister donker by die huis gekom het, agter die rekenaar aan die slaap geval het en tot na 24:00 voorberei het aan 'n les wat ek vandag vir die eerste maal in my onderwysloopbaan moes aanbied, is ek agtermiddag 17:30 nog by die skool. Die selfoon se herinneringsnota wat my moet aanspoor om na die kassie langs die bed te stap en 'n cholesterolpil te drink, het in die klas afgegaan.

Oor ek nie selfoonopvangs in my klas het nie, kom ek eers in die motor, op pad huis toe, agter Annieka het 'n hele paar keer geskakel sonder dat ek daarvan bewus was.

Sy het selfs 'n boodskap gelos – iets wat sy sommer doen nie. Dis egter ook maar net 'n baie bekommerde, bel my baie dringend wat in my oor opklink.

Ek is bekommerd dat dit verband hou met die rapporte. Ek moes my klas se rapporte die vorige aand teken en van sinvolle boodskappies voorsien. Maar toe sit ek vas met die skool se weeklikse nuusbrief wat uitgelê en versorg moes word, toe met die nuwe les oor “kwellings, kwessies en ander sake” (my eie allitererende vertaling vir issues and causes) vir die graad8-dramaleerders. Tussendeur berei ek nog voor aan hierdie tweede grootste datum op die skooljaar se besige kalender.

00:30 val my oë toe – ek besluit om vanoggend nié by my ma te stop nie, maar 06:00 reguit deur te skiet skool toe en my skoolwerk klaar te maak – nóg iets wat net met die grootste uitsondering in die middel van die kwartaal, in die middel van die week gebeur.

Natuurlik vergeet ek heeltemal van die rapporte, hoor eers weer vanoggend daarvan, en toe ek die toetsperiode instap om dit te doen, toe is die rapporte nie waar nie... by die huis!

Wel, ek hoop die heel dag dis by die huis, want waar dit sal wees as dit nie daar is nie, kan ek nie weet nie.

So toe die boodskap opklink – toe vertel ek myself dis oor die rapporte – Annieka kry dit seker nergens nie.

Maar ek het die pot heeltemal mis gesit: Mamma laat weet, Klaradyn het laat weet dat sy wat Klaradyn is, vir Juffrou laat weet het dat ek, haar pappa, vir die klas 'n pot tamatiesop sal voorberei.

Vir 'n breukdeel van 'n sekonde wil ek iets oorkom, wil ek omdraai en ry en ry en ry tot die motor sonder petrol gaan staan, en more oggend, daar waar hy gaan staan het, kyk hoe die son opkom.

Maar toe ek die foon aflui, spoel daar 'n tevredenheid oor my, 'n trotse tevredenheid oor my, 'n geluksaligheid en 'n dankbaarheid.

My kind het gesê:  “My pappa sal vir ons sop maak (julle ander kan ontspan)”

My kind kón gesê het:  “Ag nee wat, julle – dit help nie ek vra my ouers nie – hulle sál nie vir ons sop maak nie; nie net oor hulle nie wíl nie, maar ook oor hulle te kak sleg is om dit te maak.”

Dan het ek haar mond met seep uitgespoel en met peper gegooi – dat sy kan leer om nie so lelik te praat nie.

Maar natuurlik, en gelukkig, is dit nie wat sy gesê het nie; sy het gesê:  “Mý pappa sal vir ons sop maak.”

Ek oorweeg Woolworths – maar Woolworths is duur. Ons het Dinsdag Woolworths sop gekoop oor ek sop konsert toe moes vat, maar ek met die rapporte doenig was, terwyl Annieka Klaradyn agter buitemuurs aangery het – ons mekaar vir 10 minute gesien het en ek toe met Klaradyn kunswedstrydkonsert is, en Annieka na 'n adjunkhoofverpligting van haar eie.

Ek oorweeg twee pakkies sop – dan maak ek dit melk aan in plaas van met water, dalk proe dit lekker.

Maar dalk proe dit nie lekker nie. En ek gee nie om wat die ander kinders en die juffrou van die sop dink nie, ek gee om wat my kind van die sop gedink – sý het vertroue in haar pa gestel; hy mag haar nie teleurstel nie.

Maar tamatiesop! Nou!

Ek besluit op hoender en sampioene.

Vir die eerste keer in die 10 jaar wat ek daar koop, het ons kruidenier nie hoenderfilette of ontbeende ietsies nie. Ek wil alles oornag in die prutpot gooi en daarvan vergeet – maar ek wil nie more oggend met karkas en bene sukkel nie.

So toe improviseer ek:

Twee gaar hoenders (dan kan ons hoendermayonaise-broodjies vir aandete eet)
Drie pakkies knopiesampioene
500 ml room
Regte egte Ina Paarman vloeibare hoenderekstrak

Op 'n manier sal ek dit na iets kan laat proe.

Klaradyn het fluks gehelp.

Vir drie minute.

En toe gaan bad.

Van oornag in die prutpot is daar met die gare hoender ook nou nie meer sprake nie.

Daarom dat ek nou hier tik – ek het die selfoon se afteltydhouer gestel vir 3 ure; ingeval ek aan die slaap raak.

Maar ek gee nie om nie, nou krý ek ten minste tyd om te blog.