Pages

19.7.11

Die mag van die ongewoonte

Ek weet nie of dit aandagspan, konsentrasiespan of geheue is nie, maar myne van een van hierdie drie word stof in die oë geskop deur 'n goudvis in 'n te klein visbakkie.

En as dit nie dit is nie, dan is dit die holrug geryde gedagte dat 'n man nie daartoe gebore in staat is om twee dinge tegelyk te doen nie.

Maar dit is beslis nie dit nie, ek kan met groot sukses die televisie se afstandbeheer met die hand beman, terwyl ek heel behendig met die ander hand die natterige, vetterige stukkies biltong uit die bruin kardoes opdiep.

Miskien is dit dan eerder 'n geval dat ek nie aan twee goed op dieselfde tyd kan dink nie, veral nie as die een van nietige aard is, en die ander een 'n oplossing op al Suid-Afrika se maatskaplike, politieke, en ekonomiese probleme is nie.

Sien, ek sukkel om goedjies wat na 'n ruk tweede natuur is, te onthou as my gedagtes op ander plekke is.

Dit was op skool al 'n probleem. Ek sal 60 sekondes weg van die voordeur en af in die straat wees, op pad na pelle toe, dan kan ek om die dood nie onthou of ek die deur gesluit het nie. Dan draai ek om en gaan maak seker.

Ek praat onder korreksie, maar ek kan nie onthou dat ek ooit een keer weer voor die voordeur te staan gekom het, en dat die deur wel nie toegesluit was nie.

Vir 35 jaar nou al, sonder uitsondering,  was die deur nog elke keer gesluit.

Maar ek is nie bereid om die risiko te loop om nie om te draai en te gaan bevestig nie – netnou het ek berou.

Ek het sopas onthou ek het vergeet om vanoggend die yskas wat ek afgeskakel het, weer aan te skakel.

Dié onthou tref my nou, toe ek terug dink aan hoeveel keer ek nie al terug moes gaan om agter te kom dat ek toe wel nie vergeet het om die stoof af te sit nie. Vir die langpad hou ek van warm melk in die koffiefles se boeretroos; ek het al twee tolhekke verder, teruggedraai om vir 'n koue stoofplaat te staan te kom.

Ons yskas, op sy beurt, het die hebbelikheid om te gaan stilstaan, al is hy aangeskakel. Maar skakel jy hom vir 7 minute af, dan loop hy klopdisselboom as jy hom weer aanskakel. Dit gebeur so 4 keer 'n jaar en vanoggend het ek my verbeel hy is weer in een van sy katatoniese stilstande.

Toe skakel ek hom af.

5 minute later skakel ek hom toe weer aan; dit was laat en  ek was haastig.

Maar dit was 5 en nie 7 minute nie; die gevolg is ek moes hom weer afskakel.

En toe vergeet ek om hom 2 minute later weer aan te skakel.

En onthou dit eers, oomblikke gelede, 9 uur en 45 minute later.

Myle van die huis en die yskas af.

Dit terwyl al vanoggend se haas my net minder spoed gekos het.

Op skool het ek dit vir myself maklik gemaak: gaan ek uit en sluit ek die deur, dan doen ek iets wat herinner aan my interpretasie van die All Blacks se haka.

'n Minuut of twee-drie, vyf of ses later, wonder ek of ek die deur gesluit het, dan wonder ek dadelik nie meer nie – ek weet ek het, want ek onthou die haka.

Of die bollemakiesie.

Of die klap wat ek myself gegee het – deur die gesig, of op die sitvlak.

Dit moes 'n vreemde gesig gewees het, destyds: 'n seun wat op 'n Saterdagoggend die woonstel se deur sluit, die sleutel om sy nek hang en dan 'n Middeleeuse St Vitus-dans uitvoer.

Of afbuk en die deurmatjie soen.

Deesdae, maande nou al, is dit nie die kombuisdeur nie, dis 'n ander vergeet wat homself as gewoonte kom vestig het:  ek is soggens 'n huis van ons huis af, en dan wonder ek oor die motorhuisdeur – het ek hom toegemaak, ek kan nie doelbewus onthou dat ek die afstandbeheer gedruk, of die groot houtdeure voor my sien toeskuif het nie.

Daar is drie fietse, 'n sleepwa, die grassnyer, hout- en ander handwerkgereedskap. Die honde kan uitkom. Ramp op ramp op terugslag op verlies...

Maar dis maklik om te hanteer – ek skakel oor in trurat en kry gemoedsrus sodra ek die immer geslote motorhuisdeure voor my in die skemerdonker gewaar.

Ander kere tref die onsekerheid my eers halfpad stopstraat toe.

Dan maak ek 'n u-draai, kyk en ry verby – met 'n ander roete en hoek-om dat ek dan die dag begin.

Dit verbouereer die ander drawwers of pendelaars vroegoggend saam met my op straat, maar wat kan ek doen.

Nou, wintermaande, gebeur dit een of twee keer 'n week dat ek met my motorligte in nommer 25 se hoofslaapkamer inskyn as ek brieke aanslaan en 180 grade draai.

Ek het al gewonder hoekom vergeet ek om te kyk of ek die deur toemaak, maar ek onthou klokslag en uit gewoonte nou al, dat ek wel vergeet het om te kyk.

Miskien hou dit verband met die ewe elektroniese hek wat dreig om agter 'n mens in jou motor se kattebak toe te maak, as jy nie gou maak nie, wat my so op my agterent laat konsentreer, dat ek die koppenent nie registreer nie.

Aan die ander kant is dit straks suiwer oor my gedagtes elders is.

En dis die verdere geneukery met die u-draai-omdraai (soos vanoggend weer): draai ek eers by nommer 45 om, het ek, teen die tyd dat ek by ons huis, nommer 13, kom, lankal my gedagtes op 'n ander plek en golflengte – dan ry ek verby sonder om te kyk of die ellendige deur toe is.

Dan is dit een van twee dinge:  óf nog 'n drie-punt u-draai, óf dan maar om die blok ry.

Nege uit tien kere ry ek dan maar om die blok.

En as jy wonder of die ondenkbare al gebeur het, dit het – ek het een oggend drie keer (streng gesproke vier keer) verby ons gewese tuindiensman gery. Gewese, want ek het die vorige maand kennis gegee en hierdie was die eerste week wat hy hier stop en slegs die bure se tuin, en nie ons s'n ook nie, kant en wal takel.

Die eerste keer toe ek omdraai, toe dog hy eers ek wil hom iets sê, en hy staan so ewe my kant toe, maar ek ry verby hom, én verby my huis.

Wat hy gedink het, toe ek oomblikke later weer van onder in die straat opgery kom, weet ek nie – ek het so gekonsentreer om nie oogkontak te maak nie, dat ek so waar as wragtig weer vergeet het om te kyk hoe lyk die deur!

Op daardie punt had ek niks om te verloor nie, toe maak ek maar 'n tweede u-draai vir die oggend, glimlag vir die tuinman en maak seker die deur is toe.

Natuurlik was die deur toe.

Hoe dan anders.

En mog ek nooit daar kom en die deur is nie toe nie, want dan, so waar as wat padda manel dra, raak ek paranoïes.

18.7.11

Uit 'n rooskleurige bloute


Immer dawerend, nimmer fluisterend, of soos ek al in Engels gehoor het, not with a whimper, but with a bang.

Dís die begin van ‘n nuwe kwartaal, of dit nou begin van die jaar, halfpad die jaar in (soos nou) of iewers tussenin is.

En teen 20 voor 7 het ek al my eerste fout gemaak!

Nee, nie eerste nie, tweede! Ek het ons kos by die huis gelos!

Enige dag wat jy moeite doen om kos vir by die werk voor te berei en jy vergeet dit, is erg, maar as dit die eerste dag van 'n nuwe kwartaal is, is dit tien maal erger. Jou liggaam is in 3 weke gewoond gemaak om te eet en te peusel. Oor Klaradyn moet ontbyt, het ons saam met haar ontbyt, middagete het ons almal iets genuttig. Dan is daar nog die ietsie te happe saam met die oggendtee en die agtermiddagkoffie.

Die gevolg is dat skielik net niks (as die skool weer begin) 'n ontsettende skok op die gestel is.

En toe stap ek 20 voor 7 by die skool se kombuis in om vir my koffie te maak.

En agter my vra 'n jong onbekende waar die kookwater is.

En ek dink hoe voorbarig studente darem nie deesdae is nie – in my dae het ons verleë buite gewag, in die kombuis sou jy jou voete nooit gesit het nie, en daar was selfs skole waar die studente nie eers in die personeelkamer toegelaat is nie, nie voor skool nie, ook nie gedurende pouses nie.

En hier is dit 'n uur voor die skool begin, die meeste onderwysers is nog nie eers hier nie, en hierdie jong studentjie maak al vir haarself koffie. Weet hulle nie van teefonds betaal en sulke dinge nie.

Ek antwoord kortaf en stap uit.

Ja, ek stap uit en wil skuldig voel – ek het die stomme student nie juis rede gegee om welkom te voel nie, ek kon darem bietjie hartliker oorgekom het.

Ek troos my daaraan dat sy darem al heel tuis voel vir 'n nuweling, sy hét immers ingestap en vir haarself kom koffie maak.

Tydens sy verwelkoming trakteer die hoof ons op sy nuutste insig:  dis eintlik nie geloof, hoop en liefde nie, maar geloof, hoop en liefdadigheid.

Ek dink weer aan die ou grompot wat ek 20 minute gelede in die kombuis was.

Toe verwelkom die hoof, na sy breë en algemene verwelkoming, in besonder die nuwe leerkrag, 'n oudleerling van 'n klompie jare gelede, wat vandag by ons aansluit in die wiskundeklas.

Dit is toe ook so, my student is toe al die tyd die nuwe onderwyseres.

En hoe meer ek na haar kyk, hoe meer besef ek sy is duidelik te oud om as jong student deur te gaan. Die geneuk is net die feit dat sy duidelik in haar gees nie 'n dag ouer as 'n eerstejaarstudent is nie, en ek kan sommer sien ek gaan van hierdie girl hou.

So pouse gaan soek ek haar toe maar op en bely my negatiewe gedagtes van vroegoggend. Ek doen ook my bes om haar welkom te laat voel.

Die ander rede, besef ek toe, waarom ek eintlik instinktief van hierdie vrou hou, is omdat sy my aan Antoinette Pienaar herinner. Die meeste mense vandag ken Antoinette Pienaar as 'n vrou in die Karoo wat met bossies dokter, maar ek onthou haar uit die dae toe sy nog gesing het.

Ek het een jaar drie keer in een week na die vrou gaan luister. Dit was in 'n baie klein gesellige teatertjie, Die Teaterhuisie.

Sy het my aand 2 al herken as die man van aand 1.

Aand 3 het sy benoud gelyk toe sy my weer sien – sy het seker gereken hier is 'n bewonderaar met 'n ongesonde bewondering, sy moet op haar pasoppens klim, want netnou kom hier 'n lelike ding.

Haai, en die volgende jaar toe sy weer in Pretoria kom optree, toe maak ek vir haar 'n vegetariese pastadis vir haar verjaarsdag.

(Ek het dan nou amptelik twee aan sprake tot roem waarop ek my kan beroep:  ek het vir Ockie Vermeulen skoolgehou, en vir Antoinette Pienaar pasta gemaak. Dis in elk geval meer as wat hulle kan sê, hulle het, onderskeidelik elkeen net een enkele claim to fame:  Hans Moolman het die een Afrikaans geleer, en die ander gevoed.)

***

Natuurlik is ek nie klaar gemerk nie – ek het amper, maar ek kon nie. Ek kan nie my vakansie sleg maak deur skoolwerk nie, terwyl ek skool en werk lekkerder maak deur my vakansie slegter te maak met merkwerk nie. Vakansie moet lekker wees. Werk moet sleg wees. Nie anders om nie.

So, ja, ek het nog 'n gesonde stapel opstelle.  Die enigste rede hoekom ek trouens nou hier kan sit en tik, is omdat dit voor die kommandokamers van Klaradyn se Voortrekkerkommando is en ek nie 'n rooi pen in die motor het nie. Was dit nie die geval nie en ek had 'n pen byderhand, het ek beslis gemerk.

Ek sóú natuurlik in die uur van die kunsklas gemerk het, maar toe SMS Annieka dat sy e-pos gekry het wat laat weet die kinders moet vanmiddag in uniform spankamers toe gaan.

Ag, ek was so bly, toe kon ek huis toe ry en het nie verplig gevoel om te merk nie/en het nie rede gehad om skuldig te voel omdat ek 'n uur lank niks sit en merk nie.

Ja, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde; hoe meer die tyd aanstap, bly ons stil staan waar ons nog altyd was.

Maar dis juis daardie vertroudheid wat 'n nuwe kwartaal so lekker maak. Ek is 'n slaaf van roetine en patroon – daar is vir my dinge so lekker.

En ek het toe al die tyd nie die kos by die huis vergeet nie = ek het dit bloot nie kon vat nie omdat Annieka dit reeds geneem het. Toe ek pouse rasend by haar instorm, toe buk sy glimlaggend af en bring die pakkies te voorskyn.

Dinge begin in plek, in ou vertroude plekke, val.

Toe ek en Klaars by die kunsklas wegry, gaan stop ek dadelik by die vulstasie waar ek altyd tussen kuns en Voortrekkers stop.

Ek sluit Klaradyn, sig- nee spoegafstand van die kasregister af, toe in die motor, en gaan koop vir haar 'n Vanielje gegeurde melkie. Soos ek altyd doen.

En ek wonder toe of dit gaan doen. Maar my kind stel my nie teleur nie:  na haar eerste twee slukkies draai sy die prop op en skud die botteltjie dat die skuim so staan. Verbasend hoe vreeslik daardie vanielje-melkies skuim as jy hulle skud. As 'n mens dit skud soos Klaradyn hare altyd skud.

Ja, ook Klaradyn is iemand wat haar geborge voel in vertroudheid, patroon en roetine.

Die kwartaal het afgeskop, immer dawerend – en wat 'n lekkerte is dit nie!

Gister se einde-van-die-vakansie-blues, was nie regtig blues nie, so oor vandag s'n ook nie enigsins blues is nie, gaan ek dit met vrymoedigheid begin-van-die-kwartaal-bloutes noem.

As daar in die hogere lettere iets soos digterlike vryheid is, kan daar immers in die lagere geselsies iets soos dagboekhouerlike vryheid ook wees.

Begin-van-die-kwartaal-rosekleur miskien.

'n Rooskleurige bloute?

Einde-van-die-vakansie-blues


Ek wou, op aanbeveling van goeie vriende, iewers deur die loop van die vakansie 'n draai by die Maropeng-Wieg-van-die-Mensdom–museums maak.

Ek en Klaars het ge-Google en gekyk en met opwinding, afwagting gebou.

Maar toe ek uitwerk dit gaan R500-00 wees, en dan het ons nog nie daar gekom of nat of droog oor ons lippe gehad nie, was dit reeds te laat in die vakansie – ons het klaar geld op ander lekker uitgegee, hierdie lekker moet wag.

Dis jammer. Maar ook lekker, want nou het ons iets om na uit te sien.

Vandag is toe nou die laaste dag van die vakansie. En ons moet dit spesiaal maak.

Om 'n onderwyser-ouerpaar te wees, hou nadele in, maar hope wonderlike voordele ook: om saam met jou kind, om saam met jou ouers vakansie te kan hou, is seker die wonderlikste van almal.

Ek kan verstaan dat daar ouers is wat vakansies, dikwels spottenderwys, dikwels nie, om wens – dis dalk werkende ouers met kinders wat by die huis, oumas en oupas, sorgsentrums en somtyds sommer net op straat, rondhang. Of straks is dit mammas wat nie werk nie, vakansies daarom nie waardeer nie en reken die kinders se vakansies maak inbreuk op hul persoonlike tyd en ruimte.

Ek en Annieka kan vakansies egter behoorlik na waarde ag en is maar te dankbaar vir die heerlike Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd wat ons gegun word.

So, ja, die laaste dag moet aangegryp word met iets spesiaal wat gebeur.

09:30, toe die laaste slapende in die huis uiteindelik ontwaak, toe weet ek: Klaradyn wou die Nagmaal-Sondag voor die skool gesluit het, museum toe gaan. Vermoedelik die Transvaal-Museum wat jonk en oud deesdae onder 'n ander naam inlig, opvoed en vermaak.

Ons het gesê dat dit sommer bog is, ons kan wag tot die vakansie.

Sy het een of twee keer gevra, ek het verduidelik van die duur toegangskaartjies (dis darem Maropeng én die grotte – twee-in-een) en dit daar gelos.

Maar daar is mos meer as net een museum om te kan besoek.

Sy was al drie keer by die Transvaal-Museum. Sy sal dit weer en weer en weer geniet, maar voor ons nie ons verwysingsraamwerk met die ander museums uitgebrei het nie, sal 'n herbesoek maar moet wag.

Ek oorweeg die kunsmuseum – sy was baie klein toe ons laas daar was. Sy het dit destyds baie geniet, ons het stories gemaak oor die skilderye en beelde, die mense en dinge wat uitgebeeld word name gegee en in die geheel gesien, 'n baie lekker tyd gehad.

Miskien as ons terug kom, want ons gaan vandag na die Nasionale Kultuur Historiese Museum toe. Ek en Annieka was seker so 8 na 10 jaar gelede daar. My onthou is dat dit 'n museum met lieflike materiaal en verwysingsveld is, maar dat die uitstallings destyds nie vreeslik stimulerend was nie.

Straks sien dit vandag anders daar uit, die inhoud sal Klaradyn darem boei – dit vat nie veel om haar brein in hoogste versnelling en rat te kry nie. En as dit nie is wat ons hoop dit is nie, dan is besoek aan die kunsmuseum nog altyd daar om die dag op 'n hoogtepunt af te sluit.

Maar ek was verniet bang – Klaradyn het met die intrapslag begin oe en aa. Die antieke klei-artefakte, met die intrapslag, die rotsgravures van die San, net daarna, en eintlik sommer alles is met 'n gesonde sin vir verwondering ingedrink.

Ek weet van so drie of vier keer wat my ouers, later my ma, met my, of met my en 'n maatjie, van Alberton deurgekom het Pretoria toe, en dan was dit museumdag. Ander kere is ons weer Johannesburg toe!  Te heerlik. Vakansies was dit met Durban en Pietermaritzburg dieselfde.

Ek onthou egter nie 'n besoek aan die Kultuur-Historiese museum nie. En tog is dit die museum met meer as 5 000 000 items agter sy naam. Die mense praat van die Mummie-museum. As kind was ek egter beslis nie daar nie. (Toe moes die museum nog in die rigting van die Dieretuin of Marabastad gewees het, vandag is dit in die gebou van die ou tyronk wat toe later die SA-Munt, voor dit uitgeskuif het Johannesburg se kant toe, geword het.) Ek onthou ek en my ma en my beste maatjie, Riaan, het so laat as om en by standerd 8 nog so 'n Pretoria-besoek meegemaak. Ek onthou ons het daardie dag nie by alles uitgekom waar ons wou uitkom nie. Maar hoe sal ek nou weet waarop ons uitgemis het.

Maar miskien, net miskien, was dit die Kultuur-Historiese Museum.

Ek is van vermoede die mummie was 'n hoogtepunt.

Ons het knap voor die vakansie 'n lieflike internet-leerervaring rondom mummies gehad. Kliek gerus hier om na die BBC se spesifieke Geskiedenis-vir-Kinders-bladsy geneem te word. Toe neem ek die begin van die vakansie 'n dokumentêr oor Antieke Egipte uit en daarin word alles wat ons by die BBC geleer het, op 'n ander manier oorvertel en tuisgebring – ons volg selfs 'n eietydse mummifisering op 'n afgestorwene wat dit wat na sy dood oorgebly het vir navorsing rondom mummifisering geskenk het.

En toe, vandag, 'n regte egte mummie!

Ek onthou nog goed hoe opgewonde ek was toe ek my eerste mummies gesien het – dit was as groot man in die Britse Museum in Londen, maar nogtans.

Die huidige uitstallings is strate beter as wat ek van 10 jaar gelede onthou. Gemeet aan Europese museums is dit beslis nie kindervriendelik nie, maar gemeet aan die gemiddelde museum uit my kinderdae is dit van hoogstaande gehalte.

Daar is plek-plek tekens van agteruitgang, maar niks vergeleke met dit wat by die ou Transvaal Museum besig is om te gebeur nie. (Maar miskien het hulle begin opknap, ons was seker twee of drie jaar laas daar.)

Op pad terug het Klaradyn nog kans gesien vir Paul Kruger se huis, maar dit doen ons 'n volgende keer.

Na meer as twee ure tussen die kultuur-historiese items, het ons by die kunsmuseum ook verby gery en eerder gestop vir iets by Harrie se Pannekoeke.

Dit was 'n lekker dag.

Dit was 'n lekker vakansie.

NS:  Hoe ek kan onthou van 'n dag in Pretoria meer as 30 jaar gelede? My vriend, wat ek my nog al die jare verbeel net so oud soos ek is, was 'n jaar voor my in die skool. En hierdie dag het my ma heeltyd op hom gereken vir aanwysings en raad en inligting. Sy het hom ge-Boetie voor en ge-Boetie agter. En ek was natuurlik jaloers. Ons het in 'n stadium verdwaal ook.

Riaan, onthou jy? En onthou jy die "Boetie"?




17.7.11

Ouetehuisbesoek

Ons het gister met die onbekende agterpad tussen Potchefstroom en Klerksdorp gery. Ongelooflik dat ek in al hierdie jare nie bewus was van die bestaan van hierdie pad nie. Dit was grasgroen Bosveld, links en regs van die pad, en ook nie grasgroen nie, maar neongroen – die gras en stamme en takke en blare was alles verskillende skakerings van hierdie helder neongroen. 'n Opvallende helder neongroen soos mens net in storieboeke kry.
Ek was baie opgewonde oor die roete want die natuurskoon het my iets gegee om te skryf; ek het aan die kunsjuffrou en haar tweelingsussie, wat saam met ons in die motor was, genoem dat ek sommer gisteraand nog my gewaarwordings in 'n blog-inskrywing gaan verwoord.

Die pad wat ons gery het bring jou by Klerklsdorp-dam en die munisipale swembaddens uit. Ons het om die een of ander rede in en deur die swembad gestap en ek moes keer dat my trui nie nat word nie.

Uit by ontvangs, aan die linkerkant, het die damontspanningsoord se vervalle chalets gelê: murasies, ruïnes, 'n een elk, holoogskedels met die verbeelde vlerkgeklap van uile.

En toe word ek wakker. Want wat 'n lieflike droom was dit nie!

En nou skryf ek inderdaad, soos in my droom voorspel, van die mooi stuk pad wat ons gery het.

Omdat ek eerder oor my droom en dit wat in my onderbewussyn aangaan, skryf, as om te wil skryf oor dit wat ek gistermiddag met my bewussyn beleef het:

Ek kom midoggend by my ma aan, nie douvoordag soos die gebruik is nie want ek wil die apteek betaal.

Sy en vier ander tannies word soggens nie in hul kamers aangehou nie, maar sit gemaak in die sitkamer/eetkamer/woonkamer/voorkamer/lykshuis.

Ek sien oor 'n afstand my ma is nie lekker nie en my ore tel op hoe sy gefrustreerd en na aan trane hulp van die tannie links van haar smeek.

Eenkant by 'n tafel sit 5 oppassers/verpleegpersoneel/assistente en kuier, en gesels, en selfone gebruik. Maar ek vermoed hulle is, in elk geval vir die uur wat ek toe daar sit, op tee (of sloerstaking) want hulle verpleeg, assisteer op pas geensins op nie.

My ma is bly om my te sien, en val my dadelik lastig met dit waarmee sy die tannie langs haar konfronteer het.

Sy soek hulp met die tafels. Wat presies dit is, kan sy nie verwoord nie, haar frustrasievlak en ongeduld is ongelukkig reeds te hoog gejaag.

Maar gaan sit jy langs my ma en kyk na die toneel waarna sy dagin en daguit moet kyk, die tafel en opgestapelde plastiekstoele, en ken jy my ma soos haar kinders haar ken, sal jy dadelik weet wat pla: daar is drie tafeldoeke oor die tafel en die een wil skewer afhang as die ander, die tafel homself staan skeef, die plastiek tafelblommerangskikkinkie kort drie jaar lank al aandag en is nie gesentreer nie, én die plastiekstoele is opgestapel en nie by die tafel staangemaak nie.

Iemand anders sal dit nie raaksien nie, maar konfronteer nou 'n presiese mens soos my ma met so 'n tafereel, dan jeuk sy binne minute om dit reg te stel en uit te sorteer soos haar estetiese kop en oog dikteer.

Die gejeuk sit gou om in 'n gekrap, en twee, drie ure later (hoe lank sit sy nou al daar? sit sy elke dag daar) is sy een bol magtelose frustrasie. Magtelose frustrasie omdat sy nie meer oor die taal beskik om haar gevoelens te verwoord nie, en mateloos gefrustreerd omdat sy verlam is.

Sy is in 'n rolstoel oor hulle die gebruik had om haar 05:00 soggens daar sit te maak vir die dag, alleen. En met 'n mank been het sy toe vergeet van die mankte in die been en een oggend op probeer staan, geval en haar heup gebreek. Sy het gebulk soos 'n bees toe die oppassers/verpleegpersoneel/assistente by haar kom, maar dit was te laat – sy het nog nooit weer geloop nie, en sal nooit weer loop nie.

Ek sê ook nou sy was die oggend alleen in die sitkamer/eetkamer/woonkamer/voorkamer/lykshuis, maar dis maar wat hulle my vertel het – vir al wat ek weet was daar, soos vandag, ses mense saam met haar, eenkant, besig met 'n teetyd/gesels/kuier/telefoonoproepe/sloerstaak of wat ook al.

In die tyd wat ek by my ma sit, sukkel 'n ander tannie goed 40 minute om haar skoene aan te kry. Maar hulle reken seker dit hou die ou vrou besig want hulle laat haar so. Ek het dit vir haar aangetrek toe ek loop. Miskien het sy dit dadelik weer uitgetrek.

Hulle gaan my ma elke dag, tot en met haar dood (uitgesluit die dae wat sy siek of in die hospitaal is) op daardie selfde plek, in daardie selfde stoel sit maak. En bykans elke dag sal die tafel haar frustreer, sal sy die stoele wil instoot, die ruiker wil regruk en die tafeldoeke haaks probeer kry.

Ek sê bykans elke dag, want dis nie die eerste keer dat ek oordag by my ma aankom waar sy sit nie – dit het al gebeur dat ek daar kom, dan vertel sy hoe mooi die tafel is, dan staan die stoele soos soldate ingestoot.

Maar nege uit die tien kere wat ek daar kom, dan soek sy, soos gister weer, my hulp sodat sy die prentjie mooi kan afrond en -werk.

En tien uit die tien kere wat helder oordag daar aankom, dan sit die versorgers/oppassers/assisitente/verpleërs wat betaal word om daar te sit, daar.

Ek probeer my ma se aandag weglei en gaan haal 'n eetdingetjie uit die kas, waar ek dit toe- en weggesluit hou.

Ek tel 15 leë hangers in haar kas. Sy is presies 'n jaar in die kamer. Kom ons gestel die klere wat sy aan het, kom van 2 hangers af. Is die ander 13 hangers se klere alles in die was?

Toe ek my ma verlede jaar uit die vorige kamer, waar ek haar drie jaar vroeër ingetrek het, uitgetrek het, was dit net so opvallend hoeveel leë klerehangers daar was, iets in die 30, naby 40.

Dit klink na baie, maar my ma het haar eie rokkewinkel gehad, klere was haar lewe.

Wat word van die klere? Wat het geword van die klere?

Ek kan aangaan, uitbrei. Maar ek sal nie.

Net die vroeër  die week skryf ek in 'n bloginskrywing oor die vakansie, 'n gesels wat ek aangeknoop maar nooit voltooi of gepos het nie die volgende:

Ek het soggens vroeg gemerk, 'n uur of wat van 03:00 of 04:00 af, en dan oudergewoonte 06:00 se kant gery om 'n draai by die ouetehuis te gaan maak.

Dis belaglik, ek weet, maar waar die werk my ander kere daarvan weerhou om 10:00 besoek af te lê, weerhou die huis en die gesin en die lekker van 'n vakansie my nou daarvan om soggens of smiddags in te loer.

Die eintlike rede is dat dit bloot lekkerder vir ons altwee is om vroegoggend te kuier – sy is dan alleen in haar kamer en nie in die sitkamer tussen die ander oues van dae nie.

Ja, ek kan dat hulle haar bloot in die rolstoel te en met haar kamer toe gaan, maar is dit goed of lekker vir 'n oumensliggaam om so baie rondgedra en opgelig te word.

Soggens het ons ons eie ritueel:  gordyne, musiek, sjokolade, parfuumpie, prente ruil teen die muur, gesels, iets om te lees (deur te blaai) as ek groet.

Dis baie lekkerder as om ten aanskoue van die vloer se ooms en tannies te moet kuier, as om die verpleegpersoneel te kry om haar te lig.

So nie suiwer in eie en die gesin se belang dat ek vakansies steeds in die gewone voorskoolroetine bly nie, dis die goeie belang van ons twee se kuiertjie wat voorop staan.

En nou weet ek waarom ek die inskrywing nie voltooi het nie, waarom ek dit nie kon pos nie:  ek het gelieg.

Ek het vergeet, versuim om te sê, die eintlike rede hoekom ek dit verkies om soggens vroeg by die dierbare ou vrou te kuier, is die feit dat ek soggens nie konfronteer word met die klas van versorging en behandeling waaraan die verswakte oues van dae soms uitgelewer word nie.

Soggens om 06:30 kan ek daar uitstap en myself verbeel dit gaan goed met my ma, sy is gelukkig.

Stap ek soggens later of laat agtermiddag daar uit, dan is dit elke keer met kommer en frustrasie in my binneste.

Gelukkig vergeet sy gou. Vanmiddag het sy vanoggend se frustrasie en trane vergeet. Vanmiddag sorg vir sy eie trane en frustrasie. Wat sy vanaand gelukkig weer vergeet het.

Eintlik draai ek 'n rat voor my eie oë.

Maar ek verkies ons vroegoggend-kuiertjies.

8.7.11

Sonde met die honde

Ek het reeds van my grootste verleentheid in die onderwys vertel.

Gister het ek, danksy Annieka, my ander grootste verleentheid, hierdie keer buite die onderwys, vrygespring.

Danksy Annieka, ja, maar ook te wyte aan. Ek wou nie in daardie stadium 'n derde hond hê nie, twee of drie of vier jaar later, ja, maar nie tóé nie.

En oor dit makliker is om Tafelberg manalleen op sy kop te keer, as om manalleen 'n vrou wat reeds haar kop op 'n ding gesit het, daarvan weg te keer, kry ons toe die hond.

So kry ons gisteraand, drie of vier jaar later, gaste. Hulle is weg. Ons slaap. Lankal. Ek word daarvan nie wakker nie, maar van Annieka wat langs my sê:  “Daar stamp een iets van die rak af.”

Ek wonder nie watter hond dit is nie, ek wéét. Annieka weet ook. Ons wonder in  stilte watter bord of skottel of bak of ding dit kan wees waarvan die skerwe nou agter 'n smaak of geur oor die vloer gelek word.

Die honde het toegang tot die kombuis van die huis en vandat die jongste van die drie ouderdom bereik het waarop sy hoog en groot genoeg was om die rak by te kom, het ons geleer om niks binne bereik van die teef te los nie. Ek het die antieke kombuistafel uit Annieka se voorgeslag met 40 cm moes verhoog, die kombuisstoele met kroegstoele moes vervang – hierdie hond klim op die tafel en as daar niks te ase is nie, blý sy daar lê om te slaap – sy glo vir vier jaar nou al dat sy iets sal oorkom as sy nie met haar gat iewers in die lug slaap nie, of dit nou op 'n tafel, 'n stoel, 'n drom, 'n kruiwa of Klaradyn se klein plastiek kindertafeltjie buite by die agterdeur is.

So een maal elke ses maande verslap ons natuurlik ons waaksaamheid rondom die rak so 'n aks, maar word dan spoedig daaraan herinner: 'n pond botter, 'n blok kaas, 'n pakkie koekies, 'n kardoes  met biltong of droë wors... Die hond het 'n jaar terug glads 'n boks rottegif opgevreet – en verdomp niks daarvan oorgekom nie.

Nou na hierdie hond wat die bord of bak of ding...

Nee, ek het nagelaat om te noem ons kan ook nie meer sommer enige kombuisasblik hê nie. Daarin kan ons ook nie sommer meer enige iets gooi nie. Die asblik kan ook nie meer op enige plek in die kombuis staan nie, nog minder op enige manier gedraai wees. Of dié betrokke hand wat ek nie wou gehad het nie, wat ek geweet het ons nie tóé, op daardie vroeë stadium vir Klaradyn moes aanskaf nie, is gat oor kop in die asblik ook in. En nie lank nie, of alles lê oor die kombuisvloer gestrooi.

En nou dat Klaradyn stadig maar seker groot en oud en selfstandig genoeg word vir die wonder van 'n babahondjie van haar eie, is hier nie plek en geld en ruimte vir 'n vierde op hond op hierdie erf van ons nie; mis sy uit op 'n ervaring wat ek weet vir 'n kind soos haar ontsettend verrykend sou wees.

As ek kon het ek die hond dierebeskermingsvereniging toe geneem en daar gelos. As mense nog soheentoe gaan om diere te kry, kry hierdie hond dieselfde dag as sy daar aanland nog 'n nuwe eienaar. Sy is, so ver dit patryshonde betref, een van die mooistes wat die natuur nog ooit opgelewer het. Dis eintlik jammer 'n neem nie meer foto’s van mooi honde en sit dit op sjokoladebokse en koekblikke nie, want dan het ons nog stinkryk geword uit die hond uit. Annieka sou die onderwys bedank het en as die hond se agent en bemarker opgetree het. Kort voor lank sou die span uitgebrei moes word, en ook ek sal die onderwys moes verlaat.

Maar, helaas, hulle sit nie meer foto’s van honde op die bokse en goeters nie. En nee, ek sal die hond nooit in my dag des lewens dierbeskermingsvereniging toe neem, of van ontslae probeer raak nie. Die dag wat jy 'n dier in die oë kyk en hom 'n naam gee, so het my pa my geleer, word daardie dier joune en is hy jou verantwoordelikheid.

Nou na hierdie hond wat die bord of bak of ding heelnag oor die vloer lek, kan ek ook nie heelnag luister nie; ek is op, af met die alarm en af in die gang.

Dit is toe ook so en niemand anders nie. Gelukkig ook nie 'n opskepskottel of groot opdienbord wat gebreek het nie, maar 'n gewone eetbord wat aan skerwe lê.

Ek boender die hond by die hondedeur wat ek in die kombuisdeur gemaak het uit, en sit 'n stoel voor die flap dat sy nie kan inkom nie. Vannag slaap sy buite in die koue en mis uit op die sagtheid en warmte van die beddegoed wat wintersaande saans in die kombuis op die honde wag. (Ongelooflik hoe kleinlik en domonnosel 'n groot en slim, kwansuis “volwasse” mens soos ek, nie kan wees nie!)

Ek oordryf as ek sê Annieka het my vier keer wakker gemaak, sy het my drie keer wakker gemaak. Die eerste keer toe die aasdier toegeslaan het, die tweede keer toe die aasdier van buite begin blaf het om in te kom, en die derde keer toe die twee wat binne was aan die deur begin krap het om buite te kom.

Iewers by ronde twee of drie impliseer sy ek moet opstaan en die hondeflap weer oop flerts. Ek laat weet dat as ek weer uit die bed opstaan dit slegs sal wees om 'n graaf of pik of vurk in die motorhuis te gaan sodat ek die teef se kop vir kan paneelklop.

Nóg iets wat ek natuurlik nie in my het om te doen nie – ek is daarvoor hopeloos te veel van 'n sissie. En selfs al wás ek die tipe mens wat 'n hond se breins met 'n tuingraaf kon inslaan, sou ek dit steeds gisteraand nie kon doen nie. Ek sou dit nie gisteraand kón doen nie, want wás ek die tipe mens gebore in staat tot so iets, hét ek dit lankal, drie jaar gelede al, gedoen!

Ek het nog iets nagelaat om te noem: sý is die een wat nie daarvan hou om haar voete af te gee aan nat gras nie – as die gras natgereën is, los sy haar bolle op die plaveisel in die binnehof. As dit die nag reën as sy nood het, los sy haar bolle trouens vir ons ín die kombuis.

Gedagtig aan my twee honde wat nou in die kombuis opgesluit is, is ek vanoggend vroeg op om hulle te ontset – hierdie twee sal beide eerder knyp as om voor hul eie voordeur en in die kombuis te ontlas. En wat tref ek daar aan – al drie honde, warm en knus in die beddegoed! Die merrieperd het mooitjies deur loop van die nag die flap oop forseer, die stoel wat ek daarvoor geplaas het, geskuif en ingekom.

Nou, by die grootste verleentheid buite die onderwys, trouens enige verleentheid, het ek nog nie uitgekom nie. Ons verwag die naweek mense vir ete – daardie gewraakte hond se ewe gewraakte bord moet vervang word. En oor die een poedingbakkie ook al lank 'n kerfie weg het, sit ons af na die verskaffer waar ons drie of vier jaar gelede die eetservies aangeskaf het.

Ek onthou dit soos gister, 'n nuwe eetservies aanskaf is nie iets wat jy al om die anderdag doen nie. Ons het in daardie stadium nog onthaal met die Liebermans stel waaruit ons gesin geëet het toe ek iets in die veertig jaar gelede my verstand begin kry het. Natuurlik het daarvan uitgebreek, maar oor al die jare heen, kon jy dit vervang – oor meer as veertig jaar heen.

Maar drie jaar gelede toe voel ek groot en volwasse genoeg dat dit tyd geword het vir Annieka om haar eie stel aan te kan koop – Pappa speel Kersfeesvader en sal betaal.

Dit was net mooi die tyd dat almal wit verskrik geraak het, en ons raak toe ook wit verskrik.

My ewe wit verskrikte skoonsus wat in daardie stadium pas 'n stel afgetrap het met wit borde wat sy nie kon aanvul toe sy wou nie, die verskaffer voer die betrokke stel nie meer in nie, het ons op ons hoede en ons loop van gerespekteerde leweransier tot gerespekteerde leweransier voor ons uiteindelik by die gerespekteerdste van gerespekteerde leweransies vassteek om 'n besluit te moet neem.

En ek sê weer dat ek dit soos gister onthou – ons moes op die einde kies tussen die spitterwit of die afwit van 'n betrokke gerekende en jarelange gevestigde fabrikant. En oor almal so spitterwit verskrik was daardie tyd, kies ek en vroulief toe die spitterwit.

En toe ons gister daar instap, toe is dit afwit waarvan jy kyk, maar van spitterwit is daar in die hele winkel geen sprake nie. Die eerste assistent, voor ek haar vervreem en sy ons verlaat het, noem dat die betrokke afwit maar die afwit is van die huidige besending van oorsee.

Die tweede assistent, wat ons ook verlaat het, wil my toe vertel dat die betrokke fabrikant vir jare nou al slegs die betrokke afwit lewer, sy weet trouens nie eers van die bestaan van die spitterwit nie.

Ek is lankal opgeklits, 'n verleentheid vir my vrou, die ganse Afrikanerdom, wit ras en eintlik sommer die hele mensdom. Annieka bied aan om buite met Klaradyn te wag. Nee, ek jok, Klaradyn vra haar ma om maar kleiwerster buite met haar te gaan wag.

Maar daarvoor steek ek 'n stokkie – die derde assistent wat ek rondjaag, het aangebied om die invoerders te gaan bel en ons sal nou weet wat gaan vir wat.

Sy kom toe met die verdoemende nuus dat die stel net in die betrokke afwit, en niks anders nie, beskikbaar is.

As ek 'n vrou was, en een met 'n skril stem, het die plek se kristalglase aan skerwe gespat, maar gelukkig is ek 'n man, en die glase bly heel.

Ons kies toe 'n wit bord van 'n ander fabriek, in die hoop dat dit nie sal uitstaan soos 'n puisie op 'n vark se rug nie. Wat die poedingbakkie betref, moes ons maar die afwit neem – daar is geen spitterwit poedingbakkie in dieselfde of soortgelyke vorm nie.

Drie dames, naas nou die drie wat ek reeds vervreem het, by die betaaltoonbank lyk vir my soos 'n bestuurder van die een of ander aard en ek maak 'n punt daarvan om aan al drie te noem dat ek my wit stel gaan inbring sodat hulle kan sien wat hulle drie jaar gelede aan my verkoop het onder die voorwendsel dat my agterkleinkinders nog eendag borde van die betrokke stel sal kan vervang.

Annieka paai in die kar, maar ek bly opgeklits en word met elke kilometer nader aan die huis net nóg en meer en weer kwater vir die ellendige hond wat nou alleen vir hierdie dilemma van ons verantwoordelik is.

Natuurlik pas die wit bord van 'n ander stel toe nie naastenby by ons stel nie, die vorm is dieselfde, die grootte verskil.

Maar dis nog niks – die afwit poedingbakkie pas perfek!

En al onthou ek dit soos gister, onthou ek duidelik verkeerd!

Ek het verniet al my poppe uit die pram gegooi. Ons kon maar een van die ander borde gekoop het.

Annieka gaan die middag weer in daardie betrokke rigting, haarkapper en die een of ander skoonheids- en gesigsbehandeling. Sy trek vir haar ander klere aan en sê dat die mense haar hopelik na haar algehele gedaanteverandering nie sal herken nie.

Wat toe natuurlik nie die geval is nie. Toe sy haar voet by die deur insit, kom vra twee van die drie dames agter die betaaltoonbank haar of sy nou haar stel ingebring het vir hulle om te inspekteer.

My arme, arme vrou. Wat sy gemompel het, is ek nie seker nie, maar sy het hier aangekom met 'n bord wat perfek pas.

Ek sal my eie gesig eers oor vier jaar weer in die winkel kan wys, en ook slegs as ek my baard afgeskeer, my hare gekleur en 25 kilogram afgeskud, óf aangesit, het.

Ek sou dit nie gemaak het nie, my vrou het my, my grootste verleentheid buite die onderwys gespaar.

En die volgende moet ek seker nie kwyt raak nie, ek het genoeg gesê om myself in 'n slegte lig te plaas by mense wat my en my tong-in-die-kies manier van oorvertel nie ken nie. Maar laat ek dit maar doen.

Oor alles nou so gelukkig eindig, en ek so skuldig teenoor almal voel, van my vrou, via die drie winkelassistente, die drie bestuurders, dwarsdeur tot by al drie honde, wil ek dit toe nou opmaak. En omdat dit die maklikste by die honde is, kies ek toe die honde om dit teenoor op te maak.

Ek sny vir elkeen drie herdersnye brood. En oor daar baie, oorlopens toe baie, van die vleissous van gisteraand oorgebly het (hoeka die vleis en sous wat die een hond so in die moeilikheid had) maak ek dit toe spesiaal vir hulle louwarm en verdrink elke sny brood daarin.

Waarin ek dit vir die honde opgedien het?

Nee, moet liewers nie vra nie...

...maar ek het dit na die tyd, voor ek dit gewas en afgedroog het, eers met kookwater uit die ketel skoon- en afgespoel.


7.7.11

Een van baie, min dinge

Daar is baie dinge waarvoor (of is dit waarvan?) ek sê: “Daar is vir my min dinge so lekker soos...”

Party van die min dinge wat so volop is, hou verband met smake; ander met emosies, party is tasbaar; ander suiwer belewenis of ervaring.

Nou een van hierdie baie, min dinge van my wat my lekkerte tot my binneste gee, is as iemand 'n tweede porsie neem van dit wat ek voorberei en voorgesit het.

Jy hoef nie vir my  te sê dat die kos lekker is nie; jy kan ook maar, so veel keer as wat jy wil – voor jy nie 'n tweede porsie geneem het nie, glo ek nie 'n woord wat jy sê nie.

Die teendeel is ook waar – neem 'n tweede porsie, dit hoef natuurlik net 'n skeppie of happie, en nie noodwendig ‘n volle porsie te wees nie, en jy hoef oor die kos nie 'n enkele woord te rep nie – jy het my reeds alles uitgespel wat daar moontlik genoem kon word.

En as jy met jou tweede porsie kommunikeer het dat jy bykans sterf van die honger en selfs nog van my slegte kos sal eet om jou lewe te red (in plaas van Maggies Hans, maar dit smaak nou vir jou vorentoe!) maak dit ook nie saak nie – jou opskepaksie, en allermins nie jou gedagtes nie, vlei my.

Dit maak die lewe vir 'n mens soos ek wat in sommige opsigte, partykeers nogals soorts van ordentlik kan wees, redelik moeilik – ek sal 'n tweede porsie van die onaangenaamste dis neem, net om die gasheer, gasvrou of een agter die kospotte te vlei. Maar dis my fout, oor ek redeneer almal voel en redeneer oor kosmaak soos ek.

Kosmaak is vir my 'n liefdesdiens, elke greintjie bemoeienis wat ek in kosmaak insit wil kommunikeer: jy is vir my belangrik en spesiaal, daarom belê ek van my tyd en energie in jou. (Dikwels ook nie net tyd en energie nie, maar deesdae geld ook.)

Ek weet nie of die mense vir wie ek kosmaak, my gebaar noodwendig as sodanig interpreteer nie, ek loop normaalweg nie so met my gedagtes en motiewe op die mou rond soos nou hier nie. Dis na ek Annieka meer as sewentien jaar ken, dat ek vanaand vir die eerste keer aan haar bely het:  “Daar is vir my min dinge so lekker soos wanneer mense 'n tweede skeppie van my kos neem.”

En dit was omdat ek daardie sonderlinge lekkerte van my, vanaand meer as een keer ervaar het.

Ek het gaan beesstert koop, van 'n plaas in die Vrede-distrik, OVS. Die boer en sy vrou ry elke Saterdagoggend deur  Pretoria toe om 'n middelman uit te sny en hulle vleis by die Boeremark, ook Irene-mark as dit Irene-mark is, van die hand te sit.

Ek het weer my boeke geraadpleeg – sommer vir die lekker. Ek het die internet deurkruis. En op die volgende interessante resep afgekom wat ek woordeliks aanhaal:

Romeinse Resepte
Beesstert
Velletri

2 uur en 15 minute

Bestanddele vir 4 persone:

1 kg koei se stert
seldery, uie, wortel, knoffel
olyfolie, sout
peper, pietersielie
½ koppie rooiwyn
gr tamatiesous. 300


Voorbereiding en gaarmaak:
Die vleis in 'n pan te kleur met: olie en gekapte ui, seldery, wortel, knoffel en pietersielie, fyngekap. Pas sout en peper. Wanneer die vleis bruin pour 1 / 2 glas rooi wyn wanneer dit verdamp voeg die tamatiesous. Altyd voeg water by en kook oor lae hitte met die deksel vir sowat 2 uur tot die sous dik.

Ek kan net divve bon'appetito

Waar ek daaraan gekom het, kan ek steeds nie 100% aflei nie – ek lei af dis die een of ander Italiaanse vraag-en-antwoord-werf (enige een vra, en enige een antwoord). Maar die outjies span Google se vertaalfunksie baie intensief in – hul werf is in iets soos 27 tale beskikbaar, en toe ek beesstert begin soek, toe spoeg die soekenjins die Afrikaanse vertaling van hul werf uit.

Of, wie ook al die resep geplaas het, by die Romeinse Apicius gaan kers opsteek het, weet ek nie, dis moontlik.

Maar na ek orals lig gaan haal het, waar ek lig wou kry, het ek my beesstert reg en gereed gekry.

Dit moes dag lank staan, dat die vet ordentlik kan stol en ek dit kan aflig.

Natuurlik het ek dit oordoen, en toe ek die eindresultaat so kyk, toe weet ek, ons gaan drie dae hieraan eet. En my gesin hou nou van na mekaar dieselfde kos eet nie, ongelukkig ook nie van kos wat lank in die yskas gestaan het nie.

Toe glimlag ek, want nou kan ek iemand oornooi om met ons te kom deel. My hart neem 'n besluit en ek bel: “As dit nie te koud is om uit te kom nie, wil julle nie vanaand by ons kom inval vir 'n vroeë aandete nie? Ek het lekker kos gemaak en soek iemand om dit saam mee te geniet.”

En die saak is reg, die kind se naam is Wit Willem.

Dis jarelange baie goeie vriende, so ek is reg vir slegs die vleis, sy sous en mieliegruis, bykosse is nie nodig nie – dis die geselskap wat bepaal hoe lekker geëet word, nie die kos of variasie daaraan nie: brood en botter en jam en konfyt, word 'n koningsmaal saam met Pat en Ina.

Annieka is lus vir groente. Ek besluit op haar gunsteling, patats, en my gunsteling, groenboontjies op die boeremanier gaargemaak met ertappels, ui, tamatie en nie die stukkie spek nie. (Hierdie manier van doen, kom ek toe agter, herinner darem baie aan die verskillende soorte Hollandse stamppot wat in die stamland opgekook word – Google gerus eendag die woord stamppot en kyk by watter lekker kos kom jy uit.)

En toe kook ek so lekker dat ek vieruur besluit dis tyd en weer vir my oorlede Ouma van Wyk se sagopoeding – as sy nie gebel het om te sê sy het vir ons 'n hoendertjie gaargemaak wat my ma kom optel nie, dan was dit 'n sagopoeding wat gereed gestaan het. 'n Vinnige, maklike sagopoeding het Ouma gemaak, die dooier is in die sago in, die wit is styfgeklop bo-op gebak, en tussen die wit en die res, was die dun lagie appelkooskonfyt. Maar sagopoeding was hy nie sonder die kaneelstokkie wat iewers astrant sy kop uitgesteek het nie.

En nadat elkeen 'n tweede porsie had, met skeppies van alles op die tafel, het elkeen waaragtig nog 'n soet of sout proppie, na gelang van elkeen se smaak en voorkeur, gehad. 'n Sout proppie, so het ek groot geword, is daardie klein sout happie, sommer net 'n lekseltjie, net so vir die lekker, na die nagereg geniet is. Ek geniet myne meesal as ek afdek, op pad kombuis toe, 'n velletjie hoender, knypie boudvleis of teelepeltjie groente. Maar hier bedoel ek 'n derde skeppie, net so ietsie, na die tweede porsie.

My beker het oorgeloop.

Ek wens ek kon dit, soos die huis waarin ek groot geword het, elke week doen, partykeer op groot en overdadige maat, ander kere in kleiner en beskeie maat. My ouers sou iemand bel en sê:  “Wil jy nie vanaand by ons kom pot luck neem nie.” En dan eet ons, wat die kospotte ook al oplewer.

Ook van my ma wat ek hierdie ding rondom die tweede porsie het. Maar ek en sy het dikwels konflik daaroor gehad. Ek het talle maaltye die idee gekry sy geniet haar eie kos nie – sy het verplig gevoel om op haar manier die goeie gasvrou te probeer speel, so haar aandag was nooit haar bord nie, maar die ander s'n. En die oomblik as jy klaar het en jou vurk neersit, dan vra sy wat sy jou nog van kan aangee. En ek kon nie ontspan by die gedagte dat my ma met valkoë dophou hoe ek eet nie.

Daarom dat ek uit beginsel bykans nooit 'n tweede porsie aanbied of forseer nie.

As ek lekker eet, wil ek nie lekker eet en ooreet tot lekker nie meer lekker is nie, want dan is lekker nie meer lekker nie.

In Annieka se familie is daar 'n kok wat, soos ek en my ma, genot daaruit put as die vir wie hy die kos voorberei het, dit geniet. Daarom eet hy nie noodwendig saam nie, hy sit saam en kuier saam en geniet saam, maar eers teen die einde, as hy op sy gelukkigste is en weet sy gaste het heerlik geëet, sal hy vir homself opskep. En hy doen dit op so 'n manier dat geen mens ongemaklik voel nie.

Ek hou van kuier, en van kuier om 'n tafel die meeste.

Naskrif:  ek het nou weer gaan loer by die Italiaanse plek wat beesstert vir my op Afrikaans uitgespoeg het. Hier is die skakel Il Pazzicomio Ek het gaan loer by die "Vandag se posts", dit lyk nou eerder na bloggemeenskap.