Pages

24.4.11

Voor ek vergeet

'n Mens vergeet maklik van goedjies soos skollelade en skottelade en skollolade totdat sy gisteraand, in die kar, in die reën, oppad huis toe en, soos vir die volgende 23 jaar, ontevrede met die musiek wat ek aan het, vra of ek nie weer Katkos en Karolus kan insit nie.

So, laat ek die kort sitaat neffens die blogtitel gestand doen en twee dinge doen:  die skottolades aan die vergetelheid ontruk en, voor ek, voor ons vergeet, van katkos karolus vertel.

Klaradyn word nié groot in 'n vreeslik musieklike huis nie – die radio is nie aldag en heeldag aan nie, nog minder die CD-speler.

Wat myself betref hou ek daarvan om aktief te luister – en met aktiewe luister bedoel ek om op daardie oomblik net een ding te doen, en dit is om musiek te luister; musiek moenie vir my iets wees wat wit geraas in die agtergrond vorm nie, ek wil sit, fokus, en die musiek geniet.

Annieka is anders – sy het na 9 jaar van getroude lewe begin om die radio aan te wil sit (kry 'n mens iets soos musiekhongerte, klankhonger?) en dan kan sy vir goed 'n uur lank (ek vermoed heeldag, as ek nie hier is nie) die radio in die agtergrond aan hê.

As ek hier is, is dit egter hoogstens 'n uur of twee dan kan ek die geraas, waarna niemand behalwe ek lankal nie meer luister nie, in die speelkamer, waar niemand lankal meer is nie, die langer uitstaan nie, dan gaan sit ek dit af.

Sy kan ook so, met die musiek in die speelkamer as verre agtergrondmusiek; aan die slaap raak; ek glad nie – ek kan nie anders as om aktief te wil luister nie. Dan is sy al in droomland – en dit vir 'n middagslapie – dan lê ek nog oopoog en so wakker soos 'n akker en probeer uitmaak wat op die radio aangaan.

En as ek dan eers opgestaan het om dit te gaan afsit, het die aktiwiteit en veranderde bloedvloei die slaap nog verder weggejaag.

So dit is in ons huis min of meer, nee presies, soos dit met ligte is – daar is net twee mense wat dit aansit, en dan is daar net een mens wat dit afsit (en die een wat afsit is nié een van die twee aansit nie).

Klaradyn moes ook 6 word voor sy 'n radio in sowel haar ma as haar pa se motors leer ken het. Mamma se motorradio was buite werking van voor haar geboorte, en die een deel van Pappa se motorradio het Ouma Nooi ook al jare voor haar geboorte êrens verlê.

Maar toe bederf ek myself begin Desember-vakansie met 'n nuwe ding in die kar, en dit was skaars Tweede Nuwejaarsdag gewees, toe sit ons af om vir Mamma ook een te kry – ook iets wat CD’s en rekenaargeheuestafies kan akkommodeer.

Ai, en dis 'n lekkerte – ek het goed vyf jaar lank musiek in die motor bly mis en Annieka het ook maar net verder gekwyn.

Maar sedert Desember klim ons nie in die kar sonder musiek nie. (Stomme Annieka, wat Klaradyn soggens by Ouma gaan aflaai, was weliswaar die hele eerste kwartaal op Liefling se klankbaan vasgeval – bloot die gevolg van 'n klein dogtertjie se doodnormale besottenheid oor die fliek en die Van Jaarsveld-mannetjie.)

Ek het bykans daagliks die met die baie CD’s op ons rak gependel – en die inkopie-halfuur toe Annieka uiteindelik vir my 'n CD-houer vir die motor koop, een wat 36 CD’s kan vat, is toe mooi die inkopie-halfuur waarop ek, wat 'n ander rigting in die Mall as die girls ingeslaan het, vir myself ook een koop, een wat 72 CD’s kan neem.

Dit wil darem voorkom of Klaradyn 'n versameling, anders as slegs Liefling, saam met Mamma in die kar sal toelaat en het ons nou al amper die punt begin bereik waarop Annieka die 36-een vir haarself sal kan aanwend.

So kom die April-vakansie, toe maak ek my kassie bewend van opwinding goed vol – Klaradyn se musiekverwysingsraamwerk gaan goed uitgeberei word.

En dit is ook so.

Sy geniet alles – alles behalwe die Boeremusiek wat vir my 'n persoonlike terugslag en ramp is – ek het gehoop om 'n tweede mens, naas myself, in lewende lywe, te leer ken wat van Boeremusiek hou, maar helaas.

Ek het natuurlik genoeg CD’s in die motor gehad dat ons nie eers nodig had om dieselfde een twee keer te luister nie. En op 'n reënerige dag, toe ons ver suid gery het en oppad terug is, is dit net mooi die weer en stemming om aan Coenie de Villiers bekend gestel te word.

Coenie is straks bietjie swaargewig vir 'n sesjarige, maar dis die einde van die dag, die kind is moeg, die energievlakke laag, net miskien koop sy in. Ek het die twee uiteenlopende opnames wat hy seker 20 jaar uit mekaar van Karoonagte laat maak het, in die kar.

Ek en Annieka, Annieka wat Coenie sou wou getrou het as sy my nie leer ken het nie, sing lustig uit volle bors saam. En dis toe ons 'n rukkie later een van die minder kindervriendelike snitte tref, dat Klaradyn afhaak en vra:  “Kan ons weer Katkos en Karolus luister, Pappa.”

Daar was 'n oomblik doodse stilte in die kar, ek vermoed mooi op die oomblik dat die een snit uitgespeel het en daar so twee of drie sekondes is voor die aanvang van die volgende, en toe proes ek en Annieka tegelyk wat ons besef Katkos en Karolus is niks anders as daai, vir Klaradyn, gans onbekende “ruik jy Katbos en Kambro (as dit reën in die Klein Karoo)” is nie.

En toe vergeet ons daarvan, tot Klaradyn gisteraand, uitgekuier aan Trekklavier Treffers, tong-in-die-kies en spottend met haarself, vra of ek nie daai lieflike Katkos Kambrolus-liedjie wil insit nie.

Daarom dat ek dit vanoggend, terwyl die twee girls nog slaap gou kom aanteken, voor ons vergeet.

En hopelik is daar nie baie sulke goed wat hierdie komende week in my gedagtes gaan kom aanklop nie – ek wil my fabels weer iewers in die kuberruim gestoor en aangeteken kry.

Ek lees hoeka gister in Beeld van Max du Preez wat twee boeke se werk en drie boeke se magdom navorsingswerk verloor het, toe sy rekenaar gesteel is. Netnou verloor ek dit wat ek reeds vertaal het op soortgelyke wyse, of die rekenaar pak op. Daarom ook dat ek verkies om dit op 'n blog in bewaring te hou.

Die skakel is hier, dit neem jou na Afrifabels – 'n simpel naam ek weet, maar ek sien Donderdag in die CD-winkel daar is naas die Afri-Frans en Afri-Spaans nou ook 'n Afritaliaans uit. So die Afrifabels is vir my tegelyk Fabels in Afrikaans, en Fabels vir Afrika (juis oor ek, as ek al 500 van die wat ek wil vertaal, vertaal het, die goed na Afrika wil transponeer).

Onthou om op daardie hier in die vorige paragraaf te druk.

Maar, vir jou gerief, en ingeval jy vergeet het, druk sommer maar hier, of hier, dan neem ek jou deur na die fabels.


22.4.11

3 korteres oor 21 April

Een

Die afgelope vakansie ry ons deur Margate se strate. Toegegee, seker nie strate nie, maar straat, die een straat met die woonstelle, die hotel en dan die besighede links en regs. Ons ry deur Margate se straat en ek onthou einde standerd 4 (1976) se Margate-seevakansie.

Ek onthou haar naam was Yvette en die boek wat sy as Kerspresent gegee het, was Konsalik se Skerwe van die Ysterkruis. Sonja Herholdt, twee jaar terug was ons by haar in die klas, het opgetree in die teater wat later 'n fliek geword het en ons het gaan luister. Ek onthou ook die pretpark, die winkel waar ek my nuwe swembroek gekoop het en die apteek waar ek my ma se Kerspresent, 'n bottel A Rose is a Rose-reukwater, gekoop het.

Yvette het ek nooit weer gesien nie. Skerwe het ek steeds, met haar kaartjie voor in. Ek het nie die idee gekry die teater wat 'n fliek geword het, is nog steeds 'n fliek nie. Die swembroekwinkel verkoop steeds swembroeke, maar die apteek bestaan nie meer nie – nou ook nog 'n plek wat ontwerpersklere aan die skoolverlaters wat elke jaar daar toesak, verkoop.

A Rose is a Rose het 'n paar jaar daarna van die Suid-Afrikaanse mark verdwyn, en vir 'n ruk lank was daar niks vir Judy se Kersfees-, Moeders- of verjaarsdagpresente wat aan roos herinner nie. Toe kom Tea Rose, nie dieselfde nie, maar naby genoeg.

Tea Rose kry jy so ver ek die laaste twintig jaar weet net op een plek in Pretoria, ses dagreise te perd van waar ons bly.

Toe ek Woensdag daar staan, toe gee ek dit een kyk en sê vir die vrou om sommer 3 bottels op te lui. Ek kan dit in my klerekas bêre en dan hoef ek in twee jaar se tyd nie weer spesiaal al die pad uit te ry om daarvan in die hande te kry nie.

As dit nie was dat die goed gevaar loop om te verslaan nie, het ek sommer 5 gekoop, want Judy het 83 geword en om soggens 'n iets in haar nek en aan haar polse te spuit, gee my iets om te doen.

Voorsien ek dat sy gaan vasbyt tot 87? Nee, ek weet nie. Enige iets is moontlik. En op 83 hoef 'n mens mos nie te wag vir 'n verjaarsdag vir 'n spesiale bederfie nie – as die een op is, kan daar mos nie beter tyd as juis dán wees om 'n volgende oop te maak nie.

Twee

Mense sluit seker maar almal met verloop van jare goeie vriendskappe. Party vriendskappe seker beter as ander, sterker, en strek oor meer jare as ander.

Nie alle vriendskappe is noodwendig goed nie. Nie alle baie goeie vriende is noodwendig baie goeie mense, so goed soos engele, nie.

Hoe lank duur 'n lewenslange vriendskap?

Van Judy se vriende leef heelwat nog – baie natuurlik al oorlede.

Egter net twee vriende wat na vyftig jaar of langer nog die moeite ontsien om met haar vriende te probeer wees:  Oom Cas en Tannie en Marie.

Ja, vriende “probeer wees” want hoe is jy nou vriende met iemand wat amper twee jaar gelede al vergeet het wie jy is?

Hoe moeilik nie om vriende te wees met iemand wat, voor sy opgehou het om te weet jy is, vir drie jaar oor en oor dieselfde ding vir jou vertel het, as jy kom kuier, as julle saam met vakansie is?

Van ek my verstand het, is my ma-hulle bevriend met Oom Cas en Tannie Marie.

Ma-hulle dan eers my ma en my pa, en ons wat gereeld op Tannie Marie se ouers se plaas gaan kuier. Of was dit Oom Cas se ouers? Dis soveel jare gelede. Ek onthou selfs 'n buitetoilet.

Toe, na die egskeiding, was dit hulle by wie my ma smiddaes na skool kon laat bly oor sy nie wou hê dat ek alleen by die woonstel rondhang nie. Ek het 'n tweede huis, 'n tweede ouerpaar bygekry, boetie en 'n ouer sussie bygekry.

Na 14 jaar van alleen wees, toe trou sy Oom Jack, toe word Ma-hulle weer Judy én Jack. Hierdie keer nie klein Hansie wat by hulle intrek nie, maar Judy. Dis toe Oom Jack sy been breek en vier maande gehospitaliseer bly omdat die hegting na die eerste ontslag twee keer los gaan. Alleen en op haar eie kan my ma nie meer na haarself omsien nie – Sonsak, dan kom tel Tannie Marie vir Judy op en more oggend neem sy haar terug huis toe.

Oom Jack is uit die hospitaal ouetehuis toe, Pretoria toe en my ma saam met hom. Kort daarna het Oom Cas-hulle ook Pretoria toe getrek en die twee pare vriende, die een paar heelwat jare jonger as die ander, was weer op dieselfde dorp.

Soos op Alberton het hulle steeds jaarliks saam vakansie gehou. Die twee oues kan nie meer bestuur nie, maar Cas en Marie bestuur en die vier van hulle ry die land vol.

Na Oom Jack se dood, ook amper 'n jaar gelede, die skuif na 'n enkelkamer, en toe die heupbreuk wat haar in 'n rolstoel los, het my ma in minder as 'n maand vyftien jaar ouer en twintig jaar agteruit gegaan.

Oom Cas self lank op sy rug – maar in die gees nog net so sterk soos al die jare.

En kom ek soggens voor skool by Judy, van tyd tot tyd 'n vreemde bossie blomme in 'n vreemde potjie langs haar bed, dan weet ek – Tannie Marie.

En toe Woensdagaand, 21:30, toe kry ek die volgende SMS:  Sjoe lifi dit is mos verjaarsdag more. Het gedink om 10 bietjie te kuier by Judy. Het julle enige reëlings met haar. Lekker slaap. X

Donderdagaand, toe Annieka en Klaradyn saamgaan om te kuier, toe is daar 'n vreemde pakkie wat nie 06:00 toe ek voor skool daar was, daar was nie.

Maar dit help nie ek vra nie, dit help twee of drie jaar al nie meer ek vra nie.

Drie

Of so het ek gedink.

Nee, so weet ek.

Maar weet 'n mens ooit 100% reg?

Want van Woensdag se SMS na die een Donderdag terwyl ek klas gee.

Ek het graad 8’s in die klas – nie vir Afrikaans nie, vir Drama. Ek is aan het verduidelik op 'n PowerPoint-aanbieding wat skrik vir niks.

Met arms wuiwend en strekkend na iets regs bo in die hoek van die skerm, gaan die selfoon aan’t kloek om te kenne te gee daar is 'n boodskap in die posbus.

Terwyl die kinders die opdrag waarmee my vraag op die skerm hulle konfronteer het, voltooi, lees ek gou die boodskap.

En toe gaan ons aan na die volgende opdrag – hulle moet neerskryf wanneer laas die karakter wat hulle besig is om in hulle verbeelding en op papier te skep in die koerant was. En hoekom.

Maar voor ek kon aangaan moes ek net eers die les opnderbreek:
Kinders julle is nou al 8 jaar op skool. Julle het seker al 'n juffrou een of ander tyd voor julle sien huil. Het julle al 'n juffrou sien huil? Bykans almal knik instemmend. Ek glo nie julle het al ooit 'n meneer in die klas sien huil nie, en ek dink nie julle sal ooit nie, maar ek wil hê julle moet weet ek byt nou op my lippe om nie voor julle te huil nie.

En ek vertel hulle van die verlamde ou Alzheimer-tannie wat vanoggend 83 geword het, en haar seun wat vir haar winterspantoffels en 'n botteltjie reukwater geneem het – welwetende dat sy teen die tyd wat hy by die skool kom nie eers meer gaan weet dat haar seun vanoggend by haar was, of dat dit haar verjaarsdag is nie.

Toe lees ek ook vir hulle my skoonma se SMS:  Gedink sal lekker wees om te hoor Judy het vir my vertel haar seun het vanoggend vir haar die pantoffels gebring.X

Ek kon dit die glo nie, ek kan so iets amper twee jaar al nie glo nie – en was dit nie komende van my skoonma nie hét ek dit nooit geglo nie.

Hoe sal ons ooit weet wat in daardie deurmekaar stil stukkie kop van Judy Moolman aangaan.

Ja, Moolman, nie Steyl nie.

Die personeel sê, vra hulle haar wie sy is, dan antwoord sy Judy Moolman.

Maar dan was sy darem vir 41 van daardie 83 jaar Moolman en is dit eers die laaste 23 jaar dat sy Steyl is.

Ek weet sy het 'n lekker dag gehad. Met my twee keer daar. Met Marie, straks Marie én Cas, daar, én dan nog Ma Louise ook, kon dit nie anders as om 'n lekker dag te gewees het nie.

Ek het 50 kolwyntjies en 50 kaaskoekies ook afgelaai die oggend. Genoeg vir die inwoners op die vloer, die nagpersoneel, die dagpersoneel en die ander skof dagpersoneel. So daar was nog partytjie ook.

Ek glo dit was ‘n spesiale dag.

Geluk, nogmaals jou liewe ou vrou.

21.4.11

Dankbaarheid tot stof

Laat ek ook nou vandag 'n woord waarvan ek nie die vaagste benul het wat dit beteken nie gebruik asof ek presies weet waarvan ek praat:  My kind het 'n bogemiddelde sosiale IK.

Ek het vroeër vandag by Annieka in haar kantoor ingestap gekom met hom:  “Dis oor ons kind so 'n hoë sosiale IK het, dat sulke dinge gebeur wat gebeur.”

Maar moenie dat die selfvertroue waarmee ek die woord rondgooi jou mislei om te dink ek weet waarvan ek praat nie. Vyf jaar terug het ek nie eers geweet van iets soos 'n sosiale IK nie. Toe duik dit kort-kort agter elke bos op, maar ek weet steeds daarvan soveel as 'n kat van saffraan.

Verlede jaar, in die uur se wag by Klaradyn se kunsklas, wanneer ek nie merkwerk had nie, het ek van tyd tot tyd een van Kobus Neethling se boeke wat daar op 'n rak was, nadergetrek en gelees. Dié boek het my toe 'n nadere kennismaking met die verskillende IK’s wat nou se dae onderskei word, gebied.

Maar dis ook al 'n jaar gelede, en “sosiale IK” was hoogstens 'n paragrafie of wat.

Tog is ek oortuig van my kind se bogemiddelde hoë sosiale IK en gebeur die dinge wat gebeur juis oor daai einste hoë sosiale IK.

En as dit nie dit is nie, dan is my kind se nerwe maar net baie dun, is sy liggeraak en vreeslik fyngevoellig, trek sy haar dinge vreeslik aan, en allerhande ander sulke en soortgelyke dinge.

Maar dis nie dit nie; dis haar sosiale IK.

Ek en Annieka het in 1994 ontmoet, ons is 11 jaar getroud; sy weet steeds nie wanneer ek kwaad is en wanneer ek aansit nie, wanneer ek ontsteld is en wanneer ek bloot aandik nie. Klaradyn was 3 dan lag sy vir my geraas, en speel saam, terwyl Annieka haar uit die voete maak om onder my toorn uit te kom. En elke keer is Annieka vies dat sy die een is wat nie kon onderskei nie.

En dan lê daar nie fout by Annieka nie, nee, dis net Klaradyn wat so presies en raak tussen die lyne kan lees, my lyftaal en elke nuanse in my stem juis en op die man af kan onderskei, Klaradyn wat heer geen rat voor die oë laat draai nie.

Dis bloody moeilik vir 'n pa, om nie te kan aandik of voorgee voor sy kind nie – hy kan ook nie net maak of hy kwaad is nie, sý weet wat is wat, en wat nie.

Behalwe dat ek nie kan voorgee sonder dat sy nie onderskei nie, kan ek ook nie wegsteek nie, of dit nou trane en of dit nou jubel is.

Ons drie kuier Sondagagtermiddag by my ma. Hulle groet en ek stoot haar terug sitkamer toe. Klaars laat val toe by Annieka:  “Hy kan my so ontstel as hy so huil.”

Ek het g'n gehuil nie. My stem het nie eers gebewe nie, het miskien 'n breukdeel van 'n sekonde 'n infleksie gehad, maar dis al. Maar ja, my hart hét geruk. En Klaradyn hét dit opgetel.

Gister het haar kosblik vol van die skool af teruggekom.

Sy het vir die eerste keer haar naskool-klere en skoolskoene in die klas gelos.

By die huis gekom het sy dadelik buite gaan speel, hardop met haarself.

Eers na badtyd, by Mamma, kom dit uit. Nie 'n baie lekker dag gewees nie. Kinders hoof toe. Skuldiges op kamera vasgelê. Kos gesteel. Kinders sê dis sy. Hulle mag nie daaroor praat nie.

En baie trane.

Soveel trane dat dit moeilik is om die kloutjie by die oor te bring.

Dis egter duidelik dat sy nie in die moeilikheid is of iets verkeerds gedoen het nie.

Sy is vroeg van haar kamer na ons kamer.

Toe ek om en by 23:00 gaan inkruip toe sit sy oopoog kiersregop op die bed.

Tussen 23:30 en 05:00 skop sy my kort-kort wakker, hoor ek haar kners, en is dit of sy in haar praat slaap.

05:00 toe is sy wakker – ons maak haar gewoonlik 05:55 wakker.

Annieka het dit verwag, maar nie uitgespreek of met my gedeel nie. Dit is egter toe so:  net toe die skoolvergadering vir ons moet begin, lui die foon en dis Ouma:  “Klaradyn huil en wil nie skool toe nie – iets van gister, en diefstal en kameras en kinders na die hoof toe.

Ja, daar is gesteel. OK. seker nie gesteel nie – 'n kind se tjips deur 'n ander skelmpies gevat. En ook nie eerste keer dat dit gebeur nie. Ook nie die eerste keer dat die betrokke maatjie se kos gesteel is nie.

Met behulp van die televisiekamera in die klas is die ongelukkige nemer vasgetrek. (Ja, as die nemer gelukkig was sou hy nooit geneem het nie.)

Ag, seker 'n lang en hartseer storie maar ek vra nie uit nie, maar kinders toe uitgeroep hoof toe.
En toe die skapies ter slagting terug in die klas kom wil almal weet wat gebeur het.

En natuurlik wou Juffrou dit nie oop gooi vir bespreking nie – sy verklaar die saak afgehandel.

Ek ken ook nie die hele storie nie, ek vra nie uit nie, maar nee, Klaradyn se naam was nie eens naby enige skerm om gevaarligte te laat flikker nie – sy was sedert verlede week in Vrydag toe die eerste wiele al begin rol het, niks anders as stille waarnemer nie.

Maar Klaradyn kan dit nie dood leef nie:  sy is een met die slagoffer; sy is een met die nemer/steler/dief. Dan is daar ook nog 'n Horus Oog, 'n Derde Oog, 'n Big Brother in die vorm van 'n kamera in die klas. Dis verskriklik. Alles is vreeslik, te allerallesverskriklik.

En nee, dit was nie lekker nie. Sy wil vanoggend nie skool nie.

En nie sommer net 'n geit nie, want dit kry ons ook.

Daar is dalk baie en ander redes waarom sy nie vandag wou skool toe, maar wat my betref is dit die emosionele intelligensie, die sosiale IK dit wat agter die kap van die byl lê.

En dat sy ontsteld was, is niks, nie 'n faktor nie, gemeet teen 'n Mamma en Pappa wat sit met 'n seuntjie of dogtertjie wat in graad 1 genoop was, gedryf is, om van 'n ander te neem, dit wat hom of haar nie toekom nie.

Ja, ek laat my nie vertel 'n graad 1 kind vat vir niks en sonder rede sommer net van ander nie.

Ons het, haar geite ten spyt, dan tog stof tot dankbaarheid en dankbaarheid tot stof.

Vir eers en tot op datum want die koring is groen.

En uit suiwer genade, natuurlik. Niks anders nie.

En anders as sosiale IK of emosionele intelligensie, is dít, genade, iets wat ek lankal, en al baie van, tot oorlopens toe baie van, leer ken het.

19.4.11

joie de vivre

Ek wonder of ek al ooit 'n jaar sedert ek in 1989 begin skoolhou het, nié by die jaarblad betrokke was nie!

Woensdag is hoeka weer fotodag – 'n nagmerriedag vir sommige personeel; 'n soete droom vir die meeste kinders.

Egter nie die amptelike foto’s wat my nou agter die sleutelbord het nie; wel die impromptu foto’s. Daarmee bedoel ek nou die ongeposeerde nie-amptelike kiekies en snêppies wat die leerders en onnies uit hul eie voorlê om iewers opgeneem en in die een of ander vorm, meesal 'n collage, verewig te word.

Daardie foto’s is nou al jare my nagmerrie. Ek het eerder 'n volle week lank elke dag amptelike fotodag voor ek een keer begin smeek en soebat en lek en omkoop vir informele foto’s!

Dis verniet of jy die kinders so ver kan kry om dit vir jou te bring. Almal is gewillig. Almal het vreeslik baie, vreeslik oulike foto’s – maar almal vergeet daarvan die oomblik wat hulle jou nie meer in die oë kyk nie.

Toe ek tien of elf jaar gelede die jaarblad oorneem hier waar ek nou is, noem die atletiekorganiseerder dat hy vreeslik bly is daar is nuwe bloed in die redakteurstoel, hy kan my atletiekaksiefoto’s in die vorige jaarblad wys – van kinders wat al drie jaar gelede klaar gemaak het met matriek. En dan kan hy my lieflike foto’s wys wat al vier jaar in 'n ry, elke jaar, iewers in die een of ander collage opduik.

Aanvanklik het ek gedink dis 'n skande, maar die oomblik toe ek aan eie bas voel hoe 'n gesukkel dit is om foto’s uit die kinders te kry, het ek tog begin verstaan.

Ek het 'n oog vir 'n treffende foto – die geneuk is net dit gebeur dat ek hierdie lieflike foto’s plaas en dan is dit atlete van ander skole, elke denkbare ander skool onder die son behalwe ons s'n, wat ek opblaas.

Of die lieflike drie waar die seun se gesig so mooi saamwerk om dit 'n meesterlike foto te maak, is die wendrie van die opponente; die betrokke wedstryd (of sal ek eerder sê – nederlaag) 'n nederlaag wat enige getroue rygbyondersteuner nooit in menseheugenis sal vergeet nie.

Dit gebeur ook male sonder tal dat ek 'n foto kies en dan is die dramatiese in die foto, dit wat maak dat ek die foto aangrypend vind, nie ons wat hulle plettervat nie, maar anders om. Ek het een jaar, na die rugbyorganiseerder my minder geskikte keuses aan my uitgewys het, vir die ontwerper gevra of ons nie maar die opponente se ligte hemde, donker kan inkleur dat dit lyk soos ons nie – en dan photo shop ons ons eie span terug in die kleure van die vyand.

Sy wou nie daarvoor val nie, maar in 2002 of 2003 het ek wel 'n simpel kind op seker 6 foto’s moes “uitvee”. Die mak mielie (eintlik sommer 'n simpel seuntjie) het homself vir die snaaksigheid op al wat foto is, ingewerk. Ek verbeel my die kind was daardie jaar in elke graad 10-klas, met die uitsondering nou van C, E en H.

Ek het hom sleg gesê en uitgevreet dat die see hom nie kan skoon was nie, en toe het ek sy pa gebel en my woede vir die kind op die stomme man projekteer.

Hoe die fotograwe dit nie agtergekom het nie, weet ek nie, hoe die meneer wat destyds die fotodae hanteer het, dit nie agtergekom het nie, weet ek nie. Maar ek en die ontwerper hom digitaal toe só verwyder (hy was lank en elke keer in die heel agterste ry) dat hy op die ou einde nie op 'n enkele foto meer was nie – nie sy klas, rugby- of atletiekspan nie.

Mors met my, dan mors ek met jou.

Die grootste frustrasie deesdae met die informele aksiefoto’s, kry jy dit wel in die hande, is die feit dat jy dan letterlik 789 toerfoto’s van 'n enkele toer kry. Ek lieg nie! Dis die reine heilige waarheid. Hulle klim op die bus of vliegtuig met 'n digitale kamera en gedra hulle soos 'n wafferse Sjinese toeris – of dit nou beweeg en of dit nie beweeg nie, hulle neem dit af, van onder, van bo en van die kant. 789 foto’s dan ook as dit eerder 'n naweekkamp as toer was = 'n volwaardige toer, byvoorbeeld oorsee, lewer lag-lag 2000 foto’s wat hulle dan met verloop van 'n halfuur op jou rekenaar kom aflaai. En dan verwag hulle dat jy daardeur sal gaan en die beste 20 uitkies, sodat die ontwerper later, miskien, drie van die 20/2000 kies.

Dan het ek 'n ma wat seker al agt jaar by netbal betrokke is. Sy rig nie net af nie maar toer, lyk dit my, ook met die kinders. En dit wil my voorkom dis ampers half 'n gegewe dat die een of ander ouderdomsgroep waarby sy betrokke is, standaard, elke jaar, see toe gaan.

Hierdie moeder neem ook lieflike foto’s, as redakteur van die jaarblad kon ek nog elke jaar op haar reken vir lieflike foto’s. Die laaste vyf of ses jaar kry ek dan ook elke jaar, en ek vermoed dis van haar, 'n lieflike foto van die mooiste netbalmeisies op die strand. Maar nie sommer enige foto nie, 'n jubelende foto vol joie de vivre: die meisies is opgelyn en dan spring hulle uitgelate in die lug, die arms soos die waaiende palms van Egipte, die bene na agter opgetrek.

Elke jaar is dit vir my die mooiste foto. Ek het hom selfs al een jaar gekry waar hulle blykbaar nagelaat het om die tradisionele foto op 'n sonskyndag te neem; toe moes hulle, laaste dag, in bewolkte weer, met reën op die horison, die foto neem.

Ek is elke jaar gereed om die foto op te blaas en oor die voorblad te gooi, maar word elke jaar tot versigtigheid gemaan deur die om my.

So raai waarmee besig ek my toe nou die laaste oggend op die strand?

En dan is dit 'n digitale kamera – ek het gaan tel, nie minder nie as 36. Van voor, van agter, en van die kant.






Naskrif:  Ek weet nie eers of ek dit reg spel nie, laat staan nog te sê uitspreek, maar nie verniet dat ek die Franse joie de vivre hier bo aan die foto’s toedig nie. Want neem Klaradyn nie die wind uit my en Annieka, beide, se seile nie, toe sy dié dag, op 6, afhaak met:  “Mamma, ek en Pappa het vandag joie de vivre foto’s geneem.

Ja, ek gebruik die uitdrukking. En ja, ek sou dit aan haar verduidelik het nie. Maar dis nie so baie dat ek dit gebruik nie, en dit moes maande gelede gewees dat ek die betekenis aan haar ontsluit het.

Maar, ja, kinders is sponse, tabula rasa’s, piksplinternuwe rekenaars wat geprogrammeer word.

18.4.11

Om te stop of nie te stop nie

Ons het toe nou vandag die een van die stopstraat getref. Daar is baie van die stopstraat. Die een wat ons vandag getref het is die een wat wys dat as jy een maal oor 'n stopstraat ry sonder om te stop en jy word nie gevang en beboet nie, beteken dit nie almal kan nou maar ry en stopstrate ignoreer nie, nie eers jy nie – ‘n stopstraat is 'n stopstraat en daar’s 'n wet wat jy sê jy moet daar stop.

Ek het, om my punt te bewys, selfs twee stopstrate op pad kerk toe ignoreer en gewys ek word nie gevang nie, maar ook probeer uitwys wat kan gebeur as al die motoriste nie sou stop nie.

En dit alles as gevolg van die spa-partytjie waar die meisies was.

Ook nie 'n spa-partytjie soos in 'n Barbie- of Lion King-temapartytjie nie, maar 'n partytjie wat 'n besoek aan 'n spa insluit.

Soos ek dit het is nege of tien girls hier in 'n spul motors na die een of ander dagspa toe.

Klaradyn vertel van 'n rugmassering wat dan o, so heerlik was. As sy verjaar wil sy hê dat sy en ek en haar ma by 'n spa sal inboek om bederf te word. En nee, sy is nie snaaks nie, sy is ernstig. En net so in touch with my femenine side wat ek is, net so totaal out of touch is ek as dit kom by selfs net naskeerlaventel en harekam.

Dan loop sy ook te koop met komkommer op die oë.

En dan die manikuur.

En dan is dit ook nou dié manikuur wat my vanoggend oor twee stopstrate had.

Ek sê ook nou manikuur maar al wat ek daarvan sien is tien pienk naeltjies – so 'n bling-bling pienk wat vir Klaradyn al te wonderlik is.

Gister al laat val sy by my dat sy Maandag so wil skool toe. Ek sê dat sy wel met die naels mag Sondagskool toe, maar so skool toe gaan, is buite die kwessie.

En geen haan kraai nie. Dis nou tot vanoggend, Sondagoggend, knap na 08:30.

Ek is lankal op, maar die twee girls is stewig in droomland.

En toe die hanegekraai – ook nie hanegekraai nie, eerder die geteem van 'n kat in 'n kattekoor. Ek gaan vra wat dit is met die gesanik en getjank die oomblik dat 'n prinsessie haar oë oopmaak. En ek kry by Mamma die antwoord dat die groot ongelukkigheid verband met hou met die feit dat die prinses met haar gepolitoerde naels wil skool toe.

Haai, en as ek 'n dogtertjie was, en ek was 6, en ek het pas my eerste besoek aan 'n dagspa gehad, sou ek ook met my Bollywood-pienk naels wou klas toe.

Mamma Annieka maak ook geen geheim daarvan dat ook sy presies verstaan hoe Klaradyn voel nie, en dat sy selfs, soos Klaradyn, soos Pappa, ook met pienk naels sou wou skool toe gaan.

Maar dit kan nie – dis teen die skool se reëls in.

En dis toe dat ek besef hoe ontsettend vreeslik dit moet wees om 'n laerskool juffrou te wees wat ons word kermend konfronteer met die volgende:  “Maar Joekie het eendag met geverfde toonnaels by die skool aangekom, en Juffrou het niks gedoen nie!”

Arme Juffrou! Sy het tien teen een nie eens 'n oog op Joekie se tone gelê nie, maar op die een of ander manier het 'n hele klas se dogtertjies daarvan bewus geraak – en nou sit ons in 18 verskillende huishoudings met dogtertjies wat tot die slotsom gekom het dat dit aanvaarbaar is om die reëls te verbreek en met geverfde naels skool toe te kom – bloot oor Juffrou niks gesê het nie.

Ek het Joekie verlede jaar tydens skoolure op die vooraand van die graad 0-afsluitingskonsert gesien en dit verbaas my geensins dat sy met geverfde toonnaels skool toe kom nie. Ek sê ook ek het haar gesien, ek het haar nie gesien nie, maar sal die bos hare wat in krullers groter as toiletrolle opgerol was en so opgetert skool toe gestuur is, in my ganske lewe nooit vergeet nie.

En oor dié kind met toonnaels vol cutex skool toe gekom het en skotvry sonder enige vorm van aanmaning of straf daarvan afgekom het, wil Klaradyn nou met blinkers op haar naels skool toe.

Ek is nie iemand wat reëls klakkeloos en blindelings navolg en eerbiedig nie – as dit nie vir my sin maak nie, bevraagteken ek dit, en ek daag dit uit.

Agter enige skoolreël wat sê dat graad 1- dogters nie met geverfde naels mag skool toe kom nie, gooi ek egter my volle gewig in.

Want om my kind met geverfde naels skool toe stuur sal ek nooit nie. Ook nie Annieka nie.

En Klaradyn weet van die skoolreël, sy het daarmee trouens nie 'n probleem nie. Sy kan net nie verstaan hoekom ons by die reël wil hou as ander maatjies se mammas en pappas dit nie doen nie, en daarmee wegkom.

En dis op hierdie punt dat ek my toe maar tot die stopstraat wend. As Joekie eenmalig kon wegkom sonder straf, beteken dit nie die reël is van die baan af nie, beteken dit nie almal kan nou doen wat hulle wil nie.

Ek wil dit nog verder vat: as ons jou toelaat om die reëls te verbreek dan maak ons jou groot, dan programmeer ons jou, dat dit o.k. is om eendag reëls te verbreek.

Maar ek doen dit nie, want netnou gaan vertel Klaradyn vir Joekie dat ek reken haar Mamma en Pappa is 'n slegte Mamma en Pappa wat hul dogtertjie verkeerd groot maak.

Iets moes egter iewers inslag gevind het, wat toe ek rondom aandete gaan vra of ek maar kan skep, spoor ek vir Mamma met die naellakverwyderaar in haar hand op die bad se rand in die badkamer op. Egter nie haar eie naels wat sy daarmee en 'n watte bykom nie; wel Klaradyn se pienk spatseltjies wat soos skapies der slagting deur die asetoon uitgedoof, verdoof en verdof word.

Grootword is nie lekker nie. Kinders groot maak, ook nie altyd nie.

Ag, en dan is ek mos maar lief vir fabels. Vergeef my. Die hele gebeure en ons hantering van die saak herinner my dan ook aan die volgende fabel van Esopus en ek is bly dat ek Annieka wel opgetree het soos ons het:

A boy who was carrying his teacher's writing tablet stole it and brought it triumphantly home to his mother who received the stolen goods with much delight. Next, the boy stole a piece of clothing, and by degrees he became a habitual criminal. As the boy grew older and became an adult, he stole items of greater and greater value. Time passed and the man was finally caught in the act and taken off to court where he was condemned to death: woe betide the trade of the thief! His mother stood behind him, weeping as she shouted, 'My son, what has become of you?' He said to his mother, 'Come closer, mother, and I will give you a final kiss.' She went up to him, and all of a sudden he bit her nose, tugging at it with his teeth until he cut it clean off. Then he said to her, 'Mother, if only you had beaten me at the very beginning when I brought you the writing tablet, then I would not have been condemned to death!'
Die lessie wat aan die einde van een van die twee klassieke, antieke Griekse tekste wat ons van hierdie fabel het, uitgespel word, kom neer op: 
This is what the story tells us: if you are wise, you will tear out vice by the roots, in other words, at the very beginning of sinfulness and other wickedness, so that the severing of the root will cause the branches to wither away.
In die ander vorm is dit egter nie die ma se neus wat afgebyt word nie, maar haar oor. Hierdie weergawe werk vir my beter omdat ons dan die suggestie kan kry dat hy haar sy woorde in die oor fluister, en toe oorgaan tot die monsteragtige verwyt:
A BOY stole a lesson-book from one of his schoolfellows and took it home to his Mother. She not only abstained from beating him, but encouraged him. He next time stole a cloak and brought it to her, and she again commended him. The Youth, advanced to adulthood, proceeded to steal things of still greater value. At last he was caught in the very act, and having his hands bound behind him, was led away to the place of public execution. His Mother followed in the crowd and violently beat her breast in sorrow, whereupon the young man said, 'I wish to say something to my Mother in her ear.' She came close to him, and he quickly seized her ear with his teeth and bit it off. The Mother upbraided him as an unnatural child, whereon he replied, 'Ah! If you had beaten me when I first stole and brought to you that lesson-book, I should not have come to this, nor have been thus led to a disgraceful death.'
'n Derde variasie en verwerking – lankal nie meer klassiek nie, vertel die storie só:
A Schoolboy stole a horn-book from one of his schoolfellows, and brought it home to his mother. Instead of chastising him, she rather encouraged him in the deed. In course of time the boy, now grown into a man, began to steal things of greater value, until, at last, being caught in the very act, he was brought to the Judge and sentenced to be hung. As he was being led to the scaffold, the mother bowed herself to the ground with grief. A neighbor seeing her thus, said to her: "It is too late for you to moan and sob now. If you had been as much grieved when he committed his first theft, you would have corrected him in time, and thus have saved yourself this sorrowful day."
Nip evil in the bud.

16.4.11

Hou koers


Weliswaar nie kaalvoet en oor die Drakensberge nie, maar in die nuwe netbaltekkies deur Mayville se strate - dit is wat ons Voortrekkertjie daardie aand beleef het.

Dit was die jaarlikse fakkelloop waarvoor ons spesiaal haar Voortrekker-uniform moes aanskaf.

En met die kentekens en dinge is dit mos 'n gedoente wat enige graad 1’tjie opgewonde kan hê. Daar word allerhande lappies en wapentjies aangekoop, daar word gemeet en gepas en met spelde vasgesteek nadat die korrekte uitleg van 'n kaart afgekyk en nageboots is – te heerlik.

Oupa en Ouma, wat nog Mamma en oom Erik se khaki onthou, vra waar die uniform is toe ek met 'n gesellige skelrooi gholfhempie en byderwetse blou onderbaadjie daar aankom, maar tye het verander en dis niks anders nie as jeans wat die kleintjies moet aanskaf om hul uitrusting te voltooi nie.

Klaradyn wat week drie al kennis gemaak het met hoe die klere lyk, noem haar onderbaadjie nie eers 'n  onderbaadjie nie, maar haar “jas-gedoente”, so groot en belangrik is dit vanuit haar verwysingsraamwerk.

Ons het lekker gestap, en na afloop van die stap ook lekker saamgesing en erediens gehou.

Bg. was elders verlede kwartaal, maar ek het vandag eers op die foto’s afgekom en toe eers onthou ek het destyds iets op skrif gesit.

Na 'n volle kwartaal het Klaradyn nog elke Voortrekkerbyeenkoms, met uitsondering van die twee parades, geniet.

Hierdie komende kwartaal gaan ons nou vir ons eerste kenteken.

As sesjarige snap sy nog nie veel van homofone en homonieme nie. So as ek van die Voortrekkers praat, soos dikwels die vakansie in Natal gebeur het en ek praat van Retief en sy tydgenote, dink sy ek praat van hulle groep kinders wat Maandagaande vergader – dan pik sy verward rond.

Ek sal maar weer die boekie rondom die Voortrekkergeskiedenis wat 'n jaar of wat gelede aangeskaf het moet opspoor. Of sy iets daarvan op skool gaan leer, sal net die tyd leer.





15.4.11

All dressed up and nowhere to go (3)

Dag vier van slegte weer was hondsleg van hondslegte weer.

Geen kiesa, motreën of misweer nie, maar propperse reënweer wat jou binnenshuis hou.

Of dan nou binne die tent? 

Nog nooit gesien nie!

Uiteindelik het ek geleentheid om ons deur te vat na The Valley Of A Thousand Hills. Ek dreig al hoe lank, maar elke keer haak ons iewers elders vas.

Ek vermoed nou al vir meer as 40 jaar dat 'n mens eintlik na hierdie duisendvoudig-heuwelagtige vallei moet gaan op 'n mooiweersdag – juis om die heuwel op heuwel te kan sien, en nie suiwer op en af te ry nie. Maar in meer as 40 jaar was dit my nog nooit beskore nie.

Sonskyndae, vir ons Vaalpense, is strand- en seedae.

Dit was altyd op 'n gure (of natuurlik ongure) dag, dat Ma of Pa sou noem:  “Miskien moet ons deurry in die rigting van The Valley Of A Thousand Hills.” En dan skiet ons deur, suiwer vir die lekker, en die mooi.

Hoe die landskap op 'n oopgetrekte sonnige dag lyk, weet ek nie, maar op 'n mistige, nat, bewolkte dag, is en bly dit een van die mooiste moois in ons land; iets wat ek Annieka en Klaradyn wil wys.

Ons besoek pheZulu wat vreeslik wyd bemark word.

Ek onthou as kind dat jy op 'n Sondag na iewers in Johannesburg of die myne kon uitry en dat het Zoeloes hul danse gedans, die myners hul myndanse gedoen. Maar self was ons nooit daar nie. PheZulu sal Klaradyn geleentheid bied om kontak te maak met dit wat aan buitelandse toeriste as Zoeloe-kultuur opgedis word.

Ons is net betyds vir die 11:00 vertoning.

Klaradyn geniet elke oomblik.

Gelukkig is sy en haar ma in die toilette as ek die hele toneelgeselskap na afloop van die konsert in hul sweaters en jeans met ipods en selfone sien afstap huis toe. Die volgende vertoning is immers eers 14:30.

Met die dat die slangpark by Mini Town ook al 'n geruime rukkie gelede plek moes maak vir parkeerplek, is ek bly oor pheZulu se slange.

Die krokodilplaas wat ek sou wou besoek, kry ek nou al twee jaar nie, maar daar is ook heelwat krokodille en ons het 'n heerlike tydjie daar, en langs die pad waar jy elke kilometer, of dikwels selfs elke paar honderd meter, kan aftrek vir die een of ander  stalletjie, winkeltjie of  mark.

Terug by die kamp begin dit eers weer reën toe die kruisskyf reeds van die kole en die gnochi met kaassous in die borde is.

Ons klim in die bed met die opregte hoop dat die volgende dag 'n sonskyn stranddag gaan wees.

Helaas toe nie.

Wél 'n swemdag, maar nét ás jy nié die lieflike dae op die strand gehad het, wat ons drie reeds gehad het nie.

Ons is egter hopeloos te veel bederf om die strand in sulke weer aan te pak.

Annieka vra tyd vir 'n uur agter die rekenaar om skoolwerk te kan doen; ek en Klaradyn gee haar twee en 'n half as ons deurskiet dorp toe om by die bank uit te kom – ek moet Ma Judy se ouetehuis-huurgeld oorbetaal. Ek moes dit al twee dae gelede gedoen het, maar elke keer reis ons te lekker, en dis eers om die braaivleisvuur dat ek twee aande nou al skielik uitroep:  “Ek het nie my ma se huur betaal nie!”

Na besoek aan die bank, stap ons in die motreën deur die winkeltjies en Sussa score 'n lieflike rokkie van Pappa.

Toe is ons goed honger en gereed vir ontbyt. En dis toe ons in Scottburgh se Wimpy wat oor die see uitkyk, dat ek besef daar is inderdaad mense wat in hierdie slegte weer swem. (Nie dat ons nie presies dieselfde sou doen, was ons nie so bederf nie.)

Ons pik Mamma 'n ruk later op en skiet met haar af in die rigting van Ramsgate.

Ons begin al plek-plek aftrek hier van Hibberdene af, maar ons draaipunt is die Teahouse of the Blue Lagoon.

'n Vakansie by die see is nie 'n vakansie by die see sonder 'n besoek aan die Teahouse of the Blue Lagoon nie.

Die plek is natuurlik al vir 20 jaar nie meer die Teahouse of the Blue Lagoon nie, maar as dit vir die eerste 27 jaar van jou lewe die Teahouse of the Blue Lagoon was, dan sal dit tot en met jou dood die Teahouse of the Blue Lagoon bly.

Ons gaan eet ons tradisionele Belgiese wafel by die Teahouse of the Blue Lagoon wat deesdae onder 'n ander naam bestaan. The Waffle House, of so iets.

Toe is dit stop-stop terug. 

Ons klim nie anderkant Hibberdene op die snelweg nie, maar bly op die streekspad wat ons aan lieflike omgewing blootstel.

Dit reën en die wind waai soos hy in dae nie gewaai het nie, toe ons by die kampeerplek kom.

Gelukkig is nie een van ons vreeslik honger nie – die laatagtermiddag se wafel.

Dis met 2-minute noodles dat ons in die bed klim.

Ek is 23:00 op en uit en die eerste wat ek jubel is die baie sterre wat ek die eerste keer in baie nagte sien.

02:00 is dit steeds 'n helder sterrehemel wat my groet.

05:00 word ek weer wakker, dis oop en kaal, ek sien uit na lieflike sonsopkoms, en kom sit agter die rekenaar om die oggend en die tyd te geniet.

Klaradyn sluit 06:00 by my aan. Sy teken verder aan Mamma se verjaarsdagkaartjie. (Sondag)
Dis 07:00 en daar is Mamma ook nou wakker.

Ons is vandag 11 jaar getroud. Ek wou haar 02:00 daaraan herinner , maar het nie.

Ek gaan nou.

Dit gaan 'n lieflike laaste dag by die see wees.