Pages

14.4.11

Ek het groot geword met die storie van die oom wat sy half jack agter in sy vrou se klerekas tussen haar onderklere weggesteek het – juis oor dit, so reg onder haar neus – by wyse van spreke, die enigste plek in die huis, die enigste plek op die hele werf was, waar sy nooit sy wegsteekdrank uitgesnuffel het nie.

So moes ek toe nou vir so ietsie meer as 'n maand iets vir Annieka ook wegsteek.

Agter in haar klerekas tussen die ondergoedjies of al haar slapies sou nie deug nie – die pakkie was te groot.

Tog was dit 'n klerekas wat ek op die ou einde gekies het, die een in die gastekamer waar sy somers haar wintersklere, en andersom, bêre.

En al vroetel sy gereeld daar, het sy niks te verloor in die reistas van my ma wat onder op die bodem van die kas staan nie. Want dis daar, in my ma se tas dat ek die keramiekbeeld wat ek vir haar verjaarsdag gekoop het, versteek tot ons terug is van vakansie.

Dis 'n groot verjaarsdag – een waarop die ene se 9 'n 0 word, en die tiene ook een meer word.

'n Groot verjaarsdag soos dié vra iets anders.

Ek sit af na 'n kunsgalery waar ek weet daar beeldjies is waarvan sy hou.

Ek hou nie van dit wat hulle het nie, dit wat ek in gedagte had nie, maar toe val my oog, en hart, en siel, en verstand, en beursie, en debietkaart, op 'n ander beeld – een wat dubbeld soveel kos as dit wat my reeds buitensporige groot begroting moontlik maak.

Maar ek kan nie anders nie.

Dis die beeld van 'n vrou, 'n gewone vrou, 'n ma, soos Annieka. Sy hou 'n hartjie in haar hand vas, 'n mens kan sien sy is moeg, afgemat en nie blymoedig nie – sy het 'n helse dag, of week, of maand agter die rug. Maar sy is regop, en agter by haar rug kom twee engelvlerke uit. En bo op haar kop is 'n ewe-keramiek stralekrans. Hierdie ma is 'n engel. Hierdie vrou, is 'n engel.

Hierdie vrou is die engel wat Annieka vir my en Klaradyn is.

Hierdie vrou is die Engel wat Annieka partykeer vergeet sy vir my en Klaradyn is.

Hierdie vrou is die Engel wat ek en Klaradyn so selde vir Annieka sê sy is.

So toe gee ek nie om of dit 'n mooi beeldjie is, of nie; ek gee nie om of hy onbekostigbaar duur is nie – die donderse beeld sê alles wat ek wil sê, alles wat Annieka nodig het om aan herinner te word. So toe koop ek die ding.  Met geld wat ek nie het nie.

Ander jare is daar twee en meer presente:  ietsies van Pa, en ietsies van Klaradyn.

Nie vanjaar nie. Ek en Klaradyn maak by die see vir Mamma iets van skulpies.

Vrydag toe is ons terug. Sondag verjaar Mamma. Sy is nog nie eers in die straat, Saterdagoggend op pad winkels toe nie, of Klaradyn kom vra om Mamma se present, waarvan ek haar by die see vertel het, te sien.

(Natuurlik, die oomblik toe ek haar vertel het wat dit is, en Mamma sluit by ons aan vanaf die badkamers, toe hol Klaradyn op haar af om te vertel wat sy vir haar verjaarsdag gaan kry – nie 'n beeld nie, want my kind het 'n sin vir humor – maar 'n ring!)

Ek maak toe maar met opwinding en bewing die present ook, en Klaradyn gee dit nie een kyk nie, sy gee dit nie eers en halwe kyk nie, sy trek dadelik los met:  “Maar Mamma gaan mos nie daarvan hou nie – ek gaan self vir haar iets anders maak.”

Ek is aan stukke.

Ek wonder skielik vir die eerste keer of Annieka wel daarvan gaan hou.

En Klaradyn is weg.

En ek gee nie om nie – wat my betref kan sy die heeldag stilspeletjie op haar eie speel.

Maar hier kom sy aan met 'n boksie en 'n foto. Sy wil iets daarmee vir Mamma maak.

En 'n uur later toe is dit wat jy daar bo gesien het, haar geskenk vir Mamma.

Ek dink dis lieflik. Ek weet nie of Annieka net maak of sy daarvan hou nie, maar sy noem dit ook lieflik.

Maandagaand tydens bedtyd laat val Klaradyn:  “Mamma oe en aa nie genoeg oor my present nie, Mamma oe en aa net oor Pappa se present.”

Wat nie waar is nie - toe Oom Hein kom inloer het, het Mamma trouens nie eers Pappa se present gewys nie, maar Klaradyn is aangesê om hare vir oom Hein te gaan haal dat hy kan sien. Haar slaaptydgesprekkie verklap bloot net hoe belangrik haar geskenkie aan Mamma vir Klaradyn is.

En dit alles, net sodat ek kan kyk of ek 'n foto op hierdie nuwe blog gelaai kan kry:



Klaradyn se skepping

Pappa en Klaradyn se skepping van skulpies

Pappa se Mamma-engel








12.4.11

All dressed up and nowhere to go? (2)

All dressed up and nowhere to go word toe, toe Mamma haar tweede slapie klaar geslaap het, all dressed up and everywhere EXCEPT THE BEACH to go. Nie vir die dag nie, vir die volgende twee dae!

Maar dis wat so lekker is van 'n vakansie by die see – dit kan maar reën, jy hóéf nie strand toe te gaan om te swem nie, daar is báie ander dinge wat jy kan doen.

Toegegee, jy kan 'n Desember kom en in twee weke nie eers eenkeer regtig ordentlik geleentheid hê om by die strand en al sy aantrekkingskragte te kom nie, maar April is anders en behalwe dat tien dae se slegte weer uiters gering is, is daar minder mense, iets wat alles vir my meer leefbaar maak.

Kyk net hoe sluit ek die vorige skrywe af:  Ons wou nog so baie doen:  Mini Town, die slangpark, 'n pretpark, die krokodille, iets van die  Zoeloe-kultuur leer ken, die Maritieme museum op die hawe.

Dis dan met trots dat ek kan aankondig dat ons dit alles, én nog meer, gedoen en geniet het.

Ek was 4 jaar oud toe Mini Town in 1969 oopgemaak het. Ek glo daarom ook ek was 4 toe ek Mini Town vir die eerste, en tot vanjaar dan, die laaste keer, besoek het. Daarna het Pa Hans my elke keer net met 'n basta of ag nee wat daaraan herinner dat ek al daar was, en darem elke keer iets lekker, indien nie lekkerder nie, in die plek daarvan voorgestel.

En dis hoekom ek Klaradyn so graag by Mini Town wou uitbring:  ek het groot geword dat dit die tipe plek is waar 'n kind een maal in sy lewe op 'n vakansie móét uitkom. En dan is dit oor en verby. Ek het selfs doelbewus 'n foto geneem, sodat ek met 'n rein hart en skoon gewete sal kan sê:  “Been there, got the photo.”

Haai, en dan lyk dit my klaar dis een van daai goed waaroor kinders bestem is om anders as hul ouers te voel. Want, soos ek ook seker maar destyds, het Klaradyn reeds by herhaling frases soos die volgende laat val:  wanneer ons volgende keer weer by daardie klein dorpie en volgende jaar as ons by die miniatuur dorpie...

En toe ons eergister met haar daar instap, toe is ek so bly ons doen dit. As kind het ek dit nooit geweet nie, en selfs al het ek dit geweet, sou dit aan my geen verskil gemaak het nie, maar die Mini Town is eintlik 'n welsynsgedrewe projek.

Daar is regtig onder die son niks om oor te óéé of te ááá nie as jy 'n dag ouer as 7 is nie. Dis nou behalwe om jou kind dop te hou en elke oomblik wat sy geniet met soortgelyke genot gade te slaan.

En dan kan jy jou daaraan troos dat die geld wat jy uitgegee het om haar dop te kan hou darem vir 'n goeie saak gaan.

Klaradyn maak haarself toe ook die selfaangestelde toergids van die dorpie. Twee kindertjies pik na haar sin hopeloos te verward rond en sy spoor hulle in haar beste Engels aan om haar te volg – en kort voor lank hol die drie van hulle heerlik rond en joel en jil dat dit 'n aardigheid is.

Sy het seker agter gekom dat hulle swart is, want hoekom anders sou sy Engels praat. Of miskien het sy hulle Engels hoor praat en nie geregistreer hulle is swart nie.

En selfs al het sy geregistreer hulle is swart en sy wit, het dit nie vir een van die drie iets beteken nie.

Maar voor ons Mini Town toe is, het ons eers op die hawe by die Maritieme Museum gestop. En was dit nou 'n lieflike teleurstelling! 'n Teleurstelling omdat ek iets soos die een op Simonstad verwag het, en toe net drie ou has been skepe (waarvan twee ontoeganklik en gesluit vir herstelwerk is) gekry het.

Maar die een wat ons wel kon verken, het ons elke hoekie en draaitjie en kajuitjie en gaatjie van verken. Dis of daar 'n weet- en leergierige dier in Klaradyn wakker word, een wat nie gekeer kan word nie.

Dit lyk altyd so maklik in flieks. Glo my dit is nie in die werklike lewe (gewees?) nie:  ek het twee keer byna vasgesit in 'n tonnel teen 'n trapleer iewers heen, of iewers weg. En dit help ook nie ek praat Klaradyn bang met iets soos nee, jy kan nie daar af nie, dis donker en jy kan mos sien hulle wil nie ons mense daar hê nie, want sy my al klaar vooruit en hét lankal 'n lig, of luik wat lig deurlaat, opgespoor.

Ag, en toe ís ons nou op die hawe. Ag, en toe kan ek nie glo hulle bestaan nog in vandag se post-1994 dae onder dieselfde naam nie. En toe weet ek ook Skoolreisdienste soos ek dit as kind en jong onderwyser leer ken het, bestaan lankal (van 1994) nie meer nie – so Klaradyn sal nooit ooit in haar lewe, soos ek, en duisende ander wit Afrikaanse standerd 4’tjies, op 'n skooltoer  af kom Durban toe, en op die Sarie Marais kan ry nie.

Dis nou een ding waarteen my ouers vasgeskop het, 'n rit op die Sarie Marais. En as ek terugdink, reken ek nie hulle het nodig gehad om juis vreeslik vas te skop nie – ek sou nie knaend en temend gewees het oor so iets nie: 'n rit op die Sarie Marais was vanuit my perspektief iets wat seker onbekostigbaar duur moes gewees het, dis bloot net iets wat kindertjies soos ek en my broer nie beskore is nie.

Maar toe kom die standerd 4-skooltoer en ons klomp is op 'n hawetoer. (Kinders is darem maar vreemd, ek onthou tot vandag toe dat dit net 'n ondergeskikte “hawetoer” en nie 'n “diepsee toer” nie, was!)

En oor ek toe nou besef dat Skoolreisdienste Klaradyn nooit op die Sarie Marais gaan kry nie, is dit dan darem seker nou my vaderlike plig om haar daarop te kry.

En ek is so trots op hulle dat hulle nog nie handel dryf onder 'n naam so Nelson’s Cruises of Ghandi’s Tours nie, dat ek nie anders kon as om hulle te wil ondersteun nie. (In retrospeksie besef ek natuurlik dat hulle bloot in sestiger- tot tagtigerjare soveel skoolkinders op Skoolreisdienste se toere uitgeneem het, dat daar vandag soveel Mammas en Pappas is wat dit, en hulle, onder die naam Sarie Marais onthou, dat hulle dit nie kan bekostig om van naam te verander nie – hulle sal al hul klandisie verloor.)

Klaradyn word toe die Jolly Rodger se boegbeeld – heel voor in die middel met die wind in haar hare. Ja, die Jolly Rodger (en verniet of ek kan onthou waar hulle hierdie naam gaan steel het – dit was die een of ander literêre boot, 'n seerowersboot as ek my dit nie mis het nie) want die boot se naam is toe nie Sarie Marais nie, bloot die besigheid wat die twee bote besit. (Soos met Mini Town registreer en onthou kinders nou maar een maal anders as grootmense, en andersom.)

Durban se Golden Mile lyk darem nie meer heeltemal soos die Lagos of Hillbrow wat dit 10 jaar gelede gelyk het nie, maar die golden mile wat dit in die apartheidsjare was, sal dit nooit ooit weer wees nie. Natuurlik is ons toe daar op en af, vanaf Addington Hospitaal (nog iets wat nooit weer iets van sy eertydse glorie sal smaak nie) tot bo uit waar die Slangpark al die jare was.

By die pretpark verlang ek onbeskaamd terug na my kinderdae en die verlede wat ek kon geniet.

Natuurlik onthou ek alles veel groter. Natuurlik mis ek die stampkarretjies. Natuurlik krimp my hart ineen by aanskoue van die nuwe swembaddens vir die kinders.

Ja, 'n hunkering na die verlede is dikwels eerder 'n verset in en opstand teen die veranderinge van die hede, maar dis nie so seer om 'n kind van Verwoerd te kon wees, wat ek mis nie, dis om kind te kan wees, wat ek mis. Ek wil dit kan beleef soos Klaradyn dit beleef, want soos sy dit beleef, is hoe ek dit beleef het. Onbevange. Onskuldig.

Dis hoekom ek die poele soek soos dit was, die pretritte en die spookasem. Dat dit nog kan lyk soos in my kinderdae.

Van my gunstelingpretrit, die een wat deur die water gegaan het, is net die bouval, die murasie, eerder die ruïne, op die noordpunt oor.

Iewers kon jy jou fortuin ook laat vertel het, het 'n tannie in 'n glasbal gekyk en jou toekoms voorspel. Miskien het sy kaarte gedeel, miskien die lyne in jou palms bestudeer, ek sal nie weet nie – dit was net vir grootmense en nie vir kindertjies nie.

Om met die sweefspoor langs in 'n kabelkarretjie te ry, was vir 'n oormoeg, oorgestimuleerde Klaradyn nie genoeg nie – sy vra vir nog 'n rit. Sy begin huil vir nog 'n rit.

En wat werk vir 6 jaar nou al as Klaradyn nie haar sin kry nie? Sy begin huil.

En wat werk vir 6 jaar nou as  Klaradyn nie haar sin kry nie en begin huil? Selfs King George en sy oudste dogter buig die knie en stem in.

En daar leer Klaradyn toe een van twee, hopelik altwee, lesse.

Die ding wat sy kies om op te ry is toe hopeloos te wild vir haar.

Sy skree die laaste driekwart van die rit – nie van genot nie, van vrees en angs en naar en histerie en wil-uitval-uit-die-karretjie!

Dis 'n naarheid. Amper letterlik.

Sy skree en snik en huil nog 'n goeie halfuur op pad huis toe.

Ek glo sy het geleer om af te bly van die goed.

Ek sal daarmee geen probleem hê as sy so 'n skrik weg het dat sy nooit ooit weer sommer op iets wat vinniger en wilder as 'n mallemeule se hobbelperdjie sal gaan nie.

Het sy enigsins van haar pa se bloed in haar, sal sy in elk geval agterkom die goed akkordeer nie met ons Moolmans nie – dis soos dit gelukkig met drank en te veel daarvan ook is: dit maak ons nie jolig die, nie vrolik of gesellig nie; dit maak ons dadelik hondsiek.

Die ander lessie waarop ek my hoop het, maar ek weet hy neem jare (dikwels 25 – en meer, as dit met jou goed gaan) is die een om maar te luister as 'n Mamma en 'n Pappa praat, nie net omdat hulle ouer as jy is nie, omdat hulle beter en van baie meer weet.

Ons was egter nog skaars by die suikerfabriek verby, toe is daar weer rus en vrede in die motor hoewel én Pappa, én Doggie steeds 'n hele entjie met 'n maag op 'n knop getrek van die naar, gesit het.

Die suikerfabriek is 'n ander heerlikte waarby ons nog nie gekom het nie – en ek weet nie of ons ooit sal nie. Maar in die laat sestigs, miskien baie vroeg sewentigs het my pa ons in die motor geboender en met ons afgesit Durban toe om, onder andere ook, 'n begeleide toer van die suikerfabriek te doen.

Ons was by Salt Rock, toe Salt Rock nog 'n gehuggie in die middel van nêrens, êrens en Natalse kusbos was, die maatjies van die karavaan langsaan wat ons al jare elke jaar daar ontmoet, het saamgekom.
Ek het die eerste keer in my lewe met molasse te doen gekry en onthou tot vandag toe nog dat ek letterlik narerig begin voel het van die drukkende, swaar,  soet reuk wat die hele plek vol gehang het.

'n Paar jaar later weer. Toe ek op die standerd 4-toer saam met skoolreisdienste daarheen is, hoe dan anders?

Maar of hulle nog toere het, weet ek nie.

En wíl ek my kind siek maak van ‘n mollassige soet siek reuk? Ek glo nie.

11.4.11

All dressed up and nowhere to go (1)


Iewers verlede week by die see - suiwer dagboek, so hou gerus verby. Maar dis lekker vakansieherinneringe. More kom nommer 2 in die reeks, en daar is nog 'n 3 ook. En 'n 4 wat ek nog moet skryf.

Hier sit ek nou soos die opskrif  dit uitspel. By wyse van spreke natuurlik en seker dan maar eerder  all up, and nowhere to go on the wings of my thoughts.

Ek is een van daai mense wat nie 02:00 in die nag moet wakker word nie, want of dit nou 01:30 of 02:30 of 05:05 is, ek is dadelik pikhelderwakker en verklaar myself uitgeslaap.

Dit was so toe ek 7 was. En dis 40 jaar later steeds die geval.

Die laaste klompie jare het ek geleer om darem met my eie kop te smokkel. Ek het agtergekom, maak ek nie my oë oop nie (want dan is dit in klaar verby) en ek hoor nog nie enige voëls nie, is daar 'n geringe kans dat ek weer aan die slaap raak terwyl ek lê en wag vir die eerste voëls om te ontwaak.

As daar natuurlik net die geringste aanduiding van 'n op-en-wakker gevleuelde iewers in 'n boom is, dan is ek onmiddellik wakker en so goed as op.

Dit werk natuurlik net tot vroeg in Maart, want teen daardie tyd word dit so laat lig, dat die voëls so laat begin sing, dat dit nie lank is nie, of ons Moolmans is al al drie by die huis uit en op pad skool toe – dan slaap die geveerde vriende steeds.

Vanoggend, dit kon gisternag of selfs gisteraand laat gewees het, is ek en Annieka saam op en uit om water af te slaan, maar ek word gelukkig weer aan die slaap.

Tot ek wakker word van die bure se gesels.

Hulle baba, verlede jaar hierdie tyd was hy nog baie ferm deel van 'n hoogswanger en hoogsongemaklike jong mamma-op-karavaanvakansie-by-die-see, het my twee keer knap na 03:00 wakker gehuil.

Die eerste keer het sy geskree my egter laat verbeel ek hoor 'n groep skoolkinders onder op die strand joel. En die speelding, of trooster, wat Mamma of Pappa ingespan het om kleinding te troos, was vir my weer die Meneer of Juffrou, in beheer van die groep, se fluitjie.

So toe is ek 'n aks na 03:00 van pure nuuskierigheid  op en uit om die gedoente op die strand gade te slaan. Toe is dit piknagdonker, en toe ek eers op en uit is, eien ek dit as die bure se baba. En toe ek kort daarna 'n selfoon opgespoor het om te registreer dit 03:07, was dit lankal verby – my dag by die see het begin.

Dit help ook nie ek gaan lê weer nie, slaap sal ek nie slaap nie, skarrel sal ek wel skarrel en dan is dit nie lank nie dan het ek almal in die tent wakker geskarrel, iets wat én in Klaradyn se geval, én in Annieka se geval 'n moewiese probleem is.

Ten eerste is Klaradyn al meer en meer soos ek, as sy wakker is, is sy nie halfpad deur die slaap en die mis en die weer nie, sy is wakker met 'n hoofletter –W en 'n uitroepteken aan die einde daarby: Wakker!

En Annieka is die teenoorgestelde. Sy kan 07:00 semiwakker word en verder voort sluimer tot 07:45, en dan weer lag-lag wegdommel in die newels van wakker en slaap tegelyk, tot iewers na 08:00.

So met 'n wakker Pappa, en 'n ewe wakker doggie wat wil carpe diem die oomblik as sy haar oë oopmaak, en 'n Mamma wat liefs nie gepla wil word tot die son haar nie teen 09:00 uit die tent broei nie, sit ons kort voor lank met 'n klein oorloggie op hande as ek enige een van die twee teen 03:30 wakker geskarrel het.

Maar vanoggend was dit nie die flinke skoolgroep en ewe flinke Meneer of Juffrou, overgesetsynde die bure se baba en trooster, wat my wakker had nie, dit was die bure – die pa, die oupa en die ouma wat ek elkeen duidelik kon onderskei.

En hulle is soggens laat eers op – ek het al baie keer my tweede koppie koffie agter die blad, die son het al enige iets na 06:00 sy kop op die horison begin uitsteek, dan kom die eerstes eers verby gestap ablusieblok toe. (En ek vermoed dis nie oor hulle so laat/baie slaap nie, maar so kort/min – die baba!)

So toe ek hulle eers hoor, toe weet ek dis laat, dit voel trouens vir my asof ek vanoggend verslaap het - hoe is dit moontlik!

Ek lê toe sommer vir die lekker 5 minuutjies in en oorweeg dit selfs om die dames te wek dat ons langs die strand kan gaan stap.

Gelukkig doen ek dit nie, want toe ek buite kom, toe is dit nog pikker as pikste nag donker, en van die bure is daar niks nie. Soos in letterlik niks nie. Beide tente en karavane en motors is weg – in die flou lig van die karavaanpark-nagliggie langs die pad onderskei ek net die twee leë groen staanplekke.

Ek spoor 'n selfoon op, Klaradyn wikkel gevaarlik sterk op haar matras:  dis 04:09.

Toe sit ek maar die ketel aan en gaan kry die rekenaar:  all up and nowhere to go.

Met my gedagtes ook nie – daar is niks dringend in my gemoed wat aanklop of hamer om uitgeskryf en vertel te word nie.

Dit alles oor ons in twee dae so bloedweinig gedoen het.

Saterdag was ons sleg, sommer hondsleg.

So sleg dat ons nie eens een keer enige een van ons 6 voete op die strand gesit het nie.

Ek en Klaradyn het darem agtemiddag 'n flou swemmetjie in die swembad deurgewerk – maar dit was bloot omdat ons moreel daartoe verplig gevoel het. Vir die res van die dag was ons óf in die 5m2  tent op die matrasse, of onder die 5m2 skadu op ons stoele.

Dit was heerlik! Ek het PG du Plessis se Fees van die ongenooides gelees, Annieka het gelees, en Klaradyn het geteken en gespeel en boeke deurgeblaai.

Middagete was die oggend se koffie se beskuit wat ons nie gehad het nie – ons het die oggend dadelik gepap-en-melk.

Aandete, het ek hier van 15:00 besef, gaan 'n probleem word. Met die uitsondering van drie pakkies 2 minute noodles niks, letterlik niks, om vir aandete te geniet nie – nie eers beskuit en koffie nie, want ons het die beskuit met middagete gesweep.

16:00 het ek geweet ek moet my gat lig en Pick & Pay toe voor hy toemaak. 17:00 was ek spyt ek het dit nie 15:00 gedoen nie. Maar teen 18:00 het ek almal in die motor geboender en ons het gaan uiteet.

Vir gister het ek vooraf 'n bewolkte reënerige dag afgewens – 'n mens wil nie Durban toe op 'n lekker dag nie, want dan mors jy tyd wat jy in die see kon deurbring. En ja, toe ek my kop die oggend by die tent uitsteek was dit duidelik – die son gaan vandag nie een keer skyn nie. En hy het nie.

Toe spandeer ons die hele oggend by die Umgeni River Bird Park – na 27 jaar steeds elke keer 'n belewenis.

Toe wag ons vir twee ure, wat meer soos drie ure gevoel het (en miskien selfs drie ure was) dat Pappa 'n doktor kan sien om te bevestig dat hy nie 'n kwaadaardige gewas op die brein ontwikkel nie maar wel vir 8 dae nou al slegs sinushoofpyn het. (Omie Doktor sê die pyn sal eers weggaan as ek die einde van die vakansie die rook en roet van Gauteng se PWV-gebied binnery – ek moet daarmee vrede maak.)

En toe tref ons die winkels. In besonder die boekwinkels.

Ons betrap Klaradyn dat sy eerder 'n uur lank aan 'n piepie sal knyp en deur die boeke sal blaai en kyk, as om toilet toe te gaan. Selfs al gaan, eers ek, en toe Annieka toilet toe – en dit terwyl ons uit die staanspoor weet die kind sit met 'n nood.

Ons wou nog so baie doen:  Mini Town, die slangpark, 'n pretpark, die krokodille, iets van die  Zoeloe-kultuur leer ken, die Maritieme museum op die hawe.

Maar helaas.

Die wolke lê dig, maar nie diep of dik nie.

Ek is nie van vermoede ons gaan vandag weer die pad vat nie.

Dit moet dan maar wag tot later, volgende keer. Volgende jaar miskien.

10.4.11

Kopf schmerzt (so twee weke gelede)

Hoe die Duitsers dit spel, weet ek nie, maar kopf schmerzt klink net meer na 'n kopseer as iets soos die Afrikaanse hoofpyn.

Veral vandag. Maar as daar iets is wat ek nie sommer kry nie, eintlik glad nie kry nie, dan is dit hoofpyn.

Gemiddeld hoogstens een keer elke ses of sewe jaar gryp ek dan 'n aspirien en kort voor lank is alles weer klopdisselboom.

Maar so ongeveer ses of sewe jaar gelede sit ek weer met een, en hierdie keer is dit anders.

Oor ek so min van die goed kry, is dit moeilik om te onthou hoe die vorige een gevoel het, maar met hierdie een weet ek dadelik – hy is van 'n ander kaliber as al die voriges: ek voel my hartklop in my kop, en die Disprin wat ek periode 2 by die tannie in die kantoor kry, het teen pouse nog niks gedoen nie.

Pouse is dit of ek nie links en regs wil kyk nie, asof ek geensins wil af buk om my skoene vas te maak nie, laat staan nog vinnig opstaan as die klok lui.

Ek kry toe ook iets sterkers by 'n kollega wat daarvoor bekend is dat sy 'n hoofpyn wat vir niks skrik nie en vir nog minder ooit terugstaan, kan uitpak.

En na 'n ruk toe is die seer minder – oorweeg ek dit selfs om op te staan en rond te beweeg terwyl ek klas gee.

Teen die einde van die dag hou ek skool op 'n hondegaloppie.

Maar agtermiddag, toe is hy terug soos Wilson se kat waarvan Carike Keuzenkamp as jong meisie so baie oor die radio gesing het.

Gelukkig had die meesterbouer van hoofpyne my twee van haar pille gegee, en ek sluk hom ook weg.

Maar die kat kom weer, glo vir my dis waar – die anderdagmore was die kat weer daar!

En nou skrik ek – 'n hoofpyn binne 24 uur na die vorige is ongehoord – die vorige keer wat ek hoofpyn had was iewers in die vroeë negentigs, én dít was van te veel sjampanje!

So ja, 'n mens gaan nie Doktor toe as jy hoofpyn het nie, maar dis presies wat ek doen – ek stap die middag met 'n kloppende kopseer by my jarelange doktor in.

Vir 'n Indiese prinsie, een vir wie alles gedoen word, is dit trauma as hy die dag self sy eie skoene moet vasmaak, vir my, wat nooit hoofpyn kry nie, is hierdie klas van hoofpyn die ergste nog op my lewenspad en beslis iets wat aandag verdien.

Die man laat neem plate van my gesig en dit bevestig wat hy vermoed het nadat hy netnou aan my gesig gedruk en geklop het – my sinusse is verstop en die kopseer wat ek het is sinushoofpyn – niks om bekommerd oor te wees nie.

Hy gee 'n pil, ek drink twee of drie keer van die goed, en toe is die saak weer van vooraf aan reg.

So drie of vier jaar later (weliswaar nie die normale ses of sewe nie) steek die ding weer kop uit – maar ek herken dit dadelik as sinus en weet wat om te doen – die botteltjie pilletjies van laas is nog net 'n jaar of wat verslaan, ek neem sommer weer daarvan. En twee of drie keer se sluk daarvan, toe is alles reg.

Soos ek egter nou hier sit en tik, eggo elke tik van my vingers oor die sleutelbord se toetse deur my kop, voel dit of my harsings agter my oë en deur my neus- en oorkanale gepers word.

Ergste van alles is – dit het Sondag begin. Vandag is Saterdag, ses dae later.

Sondag het ek gewag dat dit vanself oorgaan. Dit het nie.

Maandag het ek begin drink aan die laaste van die botteltjie van die pille wat Annieka saamgebring het see toe.

Maar daar was ook net drie in, en die hoofpyn 'n kat met nege lewens.

Dinsdag toe gaan ek apteek toe.

Maar wat die vrou my gee, verlig die simptome, die hoofpyn, tydelik – dit neem 'n uur om in te skop, verdoof die pyn vir sowat die helfte van 'n uur, en dan moet jy weer twee en 'n half uur wag voor jy weer 'n pil kan sluk, en eers weer 'n verdere uur moet pyn verduur voor die 30 minute van verlossing.

So gaan dit Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Vrydag.

En dis nie of ek andersins las van my neus het nie – Annieka pomp my met iets wat sy Klaradyn injaag oor die kind, nes haar pa, chronies met 'n neus sit wat doen wat voete eerder moet doen. (Gelukkig darem nie andersom ook nie, want dan het ons gesit met neuse wat loop én voete wat ruik!)

Verder is hier so spuiterasie ook waarmee ek die neus kan doktor, maar doen ek dit, kom ek elke keer opnuut agter dat my neus so droog soos 'n kleios se sweetgate is – die doepa beland elke keer dadelik, via my neus, reguit in my keel.

Vrydagmiddag kan ek egter regtig ook nie meer en langer voortsukkel met die gemors van die apsteekster nie, en ek val weer in die pad, hierdie keer na 'n ander apteek.

Maar toe ek die samestelling van hierdie oom se aanbeveling vergelyk met die samestelling van die vorige tannie se aanbeveling, is dit presies dieselfde, net in verskillende verhoudings. En dan 'n R30-00 prysverskil en –verhoging!

Maar ek sluk maar. Die slegte nuus is dat hierdie pille sesuurliks, en nie vieruurliks nie, geneem moet word.

Goeie nuus is dat daar 'n clear in die naam is. En ek interpreteer dit as opklaar – my sinusse gaan opklaar as ek hierdie goedjies sluk.

Maar any other rose by any other name would wither as soon as all the others – die naam is duidelik net 'n goedkoop bemarkingsfoefie (waarvoor duur betaal word).

Maar/En toe praat Annieka gisteraand met haar ma en vertel van my hoofpyn.

Ek hoor Annieka se reaksie is: “Nee, ek sal hom dít maar liewers nie sê nie.”

Ek besluit om nie uit te vra nie.

Maar ons is almal mense, ons weet hoe dit is – Annieka kan nie wag vir die geleentheid om te laat val dat haar ma genoem het dat die seewater my sinus gaan vererger nie.

En daarmee is ek bed toe.

Daarmee, en met 'n kloppende hoofpyn lê ek toe nou wakker tot 22:30 (wanneer die 6 ure van 16:30 af om is en ek weer 'n pil kan sluk) om my pil te sluk.

Wanneer ek, en óf ek enigsins, ingesluimer het, weet ek nie, want van 01:30 lê ek weer met 'n kloppende hoofpyn wakker en wag vir 03:30 om weer 'n pil te kan drink. (En hulle sê jy mag nie die medisyne vir langer as 7 dae neem sonder om jou doktor te raadpleeg nie!)

Maar hier iewers in die middel van die baie nagtelike ure wat ek wakker was, bring ek toe Skoonma se opmerking by een van my opmerkings vroeër die dag aan Annieka uit:  “Snorkels is nie gemaak vir mans met snorre nie!”

Sy, wat glad nie snorkel nie, wil toe weet hoekom nie, en ek vertel haar:  “Die water syfer die heeltyd rondom jou bolip by die duikbril in.”

Wat ek nie vir haar sê nie, is dat hierdie water aan die binnekant van jou bril dan die heeltyd in jou neus inloop nie, en dat hierdie soutwater so 'n neus nogal kan brand nie. Met jou kop die heeltyd so onderstebo drywend op die water, en die manier waarop jy hom partykeer hou om iets te sien, of 'n vis te volg, gebeur dit dat die soutwater sommer in die een of ander neusgang in afvloei en dit voel éérs aardig.

En toe lê ek tot vanoggend wakker en reken ek het nie sinus nie, my sinusse is bloot vol soutwater, minstens twee ure elke dag se gesnorkel se soutwater.

Ek hoop my teorie is reg. Ek gaan nou vir twee dae nie snorkel nie, ook nie Annieka se neusopdroog-medisyne drink nie. Ek is oortuig dat alles gaan regkom.

En as dit wel opklaar, sal ek maar weer begin snorkel en met die hoofpyn saamleef.

Dis eers weer 'n jaar voor ek opnuut kan begin snorkel, 'n jaar sonder hoofpyn – laat ek dan maar die laaste week in silence suffer.

Of my baard afskeer.

Post Script

Dit was die Saterdag. Die Sondag is ek Dokter toe om te hoor of ek nie dalk een of ander gewas groei nie. Die Dokter sê mense wat geneig is tot allergiese reaksies reageer dikwels so op die alledaagse huismyte in Natal se lugdruk en humiditeit.  Hy sê ek gaan hoofpyn hê tot ons teruggaan  Gauteng toe.

Dis vandag 'n week later.

Ons is al 3 dae terug in die rook en roet van die PWV-gebied.

Ek het nog steeds hoofpyn, as ek nie hoofpynpille drink nie.

15 dae van hoofpyn is nie normaal nie.

Sal hierdie week na my jarelange dokter gaan.

1.4.11

Die pad af see toe (wat die Taljaners gebou het)

Annieka hou niks van die eerste trek, Pretoria tot Heidelberg, nie – sy reken jy ry en jy ry laterhand al 'n uur, maar dis steeds of jy nêrens kom nie – jy bly maar al om Johannesburg rond. Dit is dan ook die eerste van die baie stukke pad wat sy verkies om om te slaap.

Foeter jy op noordkus  toe, is daar straks geleentheid om af te draai voor jy Durban tref, maar suidkus toe, al is dit hoe ver af, is daar nie afdraai nie, jy móét tot op Durban en dan regs af.

As kind was daardie trek, Durban tot sê maar Margate, vir my die ergste – jy is by die see, maar jy is nog lank nie daar nie. Jou roomys, deur die eerste die see te sien, het jy verdien, maar dis nog 'n helse ent se ry voor jy hom met jou tone in die sand kan geniet.

(As mens in ag neem dat ons, toe ek kind was, op Alberton weggetrek het, en ek 40 km verder, op Heidelberg al met 'n klaende, knaende stygende infleksie gevra het “hoe ver nog” sal jy miskien verstaan hoekom die stuk pad tussen Durban en Margate my geknak en oor die rand gestuur het.)

Later jare, en vandag nog steeds, is dit egter die Pietermaritzburg-na-Durban-been van die pad, eintlik al hier van Mooirivier af, wat my onder kry.

Dis 'n slegte stuk pad om te ry, of dit nou veertig jaar gelede met slegs een baan in beide rigtings was, en of dit nou vandag met drie bane in elke rigting is. Behalwe vir die afdraande, die konstante bottelnek van trokke en die talle gevaarlike draaie bly dit voorts 'n feit dat hulle nou al vir veertig jaar onophoudelik en ononderbroke sukkel om twee bane, ses bane te kry – so daar is altyd iewers 'n opeenhoping of 'n vernouing met twee bane wat een word.

Ook altyd iewers 'n trok wat op loop gegaan het, en as hy nie op loop gegaan het nie, het hy, of een van die waens wat hy met hom saam sleep, van die pad gegaan.

Met niks van bogenoemde het ek egter 'n probleem nie – dis iets anders, iets gans anders.

Miskien is dit die mis en die reën – dit voel vir my ek het nog nooit daar gery, dit maak nie saak watter tyd van die dag of die jaar nie, sonder dat dit nié plek-plek toegemis of aan die kiesa was nie.

Maar suiwer die mis en reën kan dit ook nie wees nie; miskien hou dit verband met die skielike afdaal seespieël en –vlak toe wat iets aan ons Moolmans se emosies doen.

Eers was dit altyd net ek en my broer en my ma wat afgekom het see toe, met die karavaan. Dan, na 'n week of twee, het my pa sy prokureurskantoor gesluit en by ons aangesluit.

Later met my broer én my pa uit die huis uit – die een lankal klaar met skool, die ander met 'n ander vrou – was dit net ek en my ma.

Nou of dit voor die egskeiding was, of daarna, sal ek vandag nou al lankal nie meer weet nie, maar dit het toe gebeur dat ons die ent pad tussen Pietermaritzburg en Durban tref, met my ma, die bestuurder, die enigste een wat wakker is in die kar. En of dit die mis en die weer was, sal ons nie weet nie, maar daar begin my ma glo, sonder enige oënskynlike rede, vreeslik, ontsettend, geweldig hartseer voel – hartseer tot verby die rand van trane, hartseer dat sy veertig kilometer lank, tot onder, snot, snik, trane en tjank.

En toe, elke keer daarna, ry ons af see toe, tussen Pietermaritzburg en Durban, dan vertel my ma ons almal van die een keer, jare gelede, dat sy af bestuur het see toe en toe onverklaarbaar so vreeslik aan die huil gegaan het toe sy dié stuk pad getref het.

Daar is seker niemand wat minder van 'n vrou se onverklaarbare huil verstaan as 'n jong seuntjie nie, maar ek was later al klaar met skool en universiteit en die weermag en selfs gevestig as onderwyser, dan ry ek die twee oues af na hul vakansiewoonstel op Ramsgate, dan verstaan ek steeds nie as sy vertel van haar skielike spontane huil tussen NP en ND nie.

Dis trouens eers nog 'n verdere tien later met twee vrouens in my eie huis, dat ek besef het seuntjies leer nie om as mans meer te verstaan van vrouens se huil nie; hulle leer dit jaarliks trouens net al minder en minder, en later nóg minder, verstaan.

Die geneuk is net, kom ek toe agter toe ek eers op my eie en sonder Judy in die motor afry see toe, die tranedal af in die dal by Pietermaritzburg, is oor al die jare so in my kop ingeprent dat ek ampers moreel verplig voel om uit empatie, simpatie en 'n goeie skeut familie-groepsdruk, ook te wil tjank.

En dis hoeka vir my of ek die krane deesdae makliker en lekkerder oopdraai as in die verlede.

Maar ons luister David Kramer en die manne van die Royal Hotel, Blokkies Joubert, Johny and the Jets en Biscuits en Diamonds nie sommer die ding wat jou aan die huil sal kry nie.

Wat jy waar kry!

Daar loop my hart die paaie terug tot 1985 toe ek die man die eerste keer in die Mark Teater lewendig gehoor het. Ek halt, voor die tragiese dood van Taliep Petersen en sy shows met David wat ons ook Mark toe laat ry het, ook op Oudtshoorn waar ek en Annieka iewers in die negentigs na hom geluister het.

En dit was juis so 'n bevrydende oomblik vir my. Dis daar waar ek vrede gemaak het met lekkende, druppende en lopende krane; daar waar ek my omring bevind het van vier groot en sterk en uitgevrete mans, ooms, plaasboere een en elk, wat onbeskaamd gesit en huil het na die man Skipskop vir ons gesing het.

Skipskop kom van sy langspeler Baboondogs, die een album wat die Afrikaner destyds nié opgeslurp het nie, miskien oor dit té polities, té Engels na sy mening was.

Ons moes toe wag tot Sonja Herholdt die liedjie opneem, en ander na haar. Maar niemand kan hom sing soos die hart en siel en gemoed wat die liedjie oorspronklik geskryf het nie, die neweteks, die gedagtes wat die woorde vergesel, kom van binne – dit gryp mens aan die hart en ruk daai hart met 'n moerse pluk los uit die veiligheid van sy groef.

En toe maak ek die fout om vir Klaradyn te vertel dat een van David Kramer se konserte die eerste lewendige musiekkonsert was wat sy nog ooit bygewoon het, en dat sy dit vreeslik geniet het. Iets wat, al is dit die reine heilige waarheid, ook 'n volslae leuen is.

Klaarsie was toe nog nie eers gebore nie, 'n hoogswanger Annieka en Hans het die konsert saam met Pat en Ina bygewoon. En Klaradyn moes dit óf baie geniet het, óf hoogs traumaties bevind het, want sy het in haar ma se buik aan die skop gegaan soos nog nooit te vore nie – dit was kompleet of sy 'n baarmoederlike riel gedans het.

Dis dan toe nou ook met die aanvoorwerk van al dié tere gedagtes dat ons Skipskop te gemoed loop.

Maar  Skipskop  is 'n vulletjie, miskien 'n 3 gemeet op die Richterskaal van my emosie, dit word toe opgevolg met die mees onbekende, maar ook heel mooiste  liriek ooit uit die pen van David Kramer:  Prisoners of war.

Hy sing daarin van die pad wat die Italiaanse krygsgevangenes gebou het, maak 'n draai in my eie tyd se bosoorlog en eindig op met die gedagte dat ons almal op die ou einde op die een of ander manier oorlogsgevangenes  geword het en is.

En dis al wat ek nodig had om my oor die rand en anderkant verby te kry. Ek het Pinetown in trane ontmoet, en ek het hom in die lekkerste van lekkerste trane gegroet. Annieka en Klaradyn het heerlik vir my gelag. En ek het saam gelag. Want hoe sal hulle weet van 'n bosoorlog-krygsgevangene wees? En hoe sal hulle weet van my inisiasie in 'n ou Moolman-tradisie rondom die pad af see toe, tussen Pietermaritzburg en Durban? 

Die liriek het ek opgespoor by David Kramer se webwerf. Ek glo nie hy sal omgee as ek dit met julle deel nie. Dis nog mooier as hy dit sing:

Prisoners of war (klassic kramer 1996)
The Italians built the road
that bumped down to the sea
to the old beach house
near the river mouth. It was 1943
and they cracked the rocks with fire
and they sweated and they swore
and the sun beat down like in Italy
on these prisoners of war.

My father fought in Egypt
he was twenty-five years old
where the days were white
and hot as hell and the nights
were black and cold
with the Allies they fought for freedom
against Rommel and the Afrika Korp
until a bomb exploded & all his dreams
became prisoners of war.

Every summer we went down
to the house at the lagoon
every summer I turned brown
and played war games in the dunes
every summer our new regime
passed another law
as the boat sailed for Robben Island
with more prisoners of war

I came back from Angola. It was 1975
my heart was hard
and my mind was scarred
I'd forgotten how to cry
wearing civvies for the first time
just trying to be me
I walked the road the Italians built
that leads down to the sea
and the question I was asking was:
what were we fighting for?
Cause in the end we had all become
prisoners of war